Irrational Man
Draaiboek en regie: Woody Allen
Spelers: Joaquin Phoenix, Emma Stone, Parker Posey, Jamie Blackley
Woody Allen is een van die filmmakers wie se flieks ek altyd gaan kyk, want selfs ’n gemiddelde Allen (soos Scoop, 2006 en Magic in the Moonlight, 2014) is beter as die meeste ander flieks op ons kringloop. Irrational Man is gelukkig in die klas van Matchpoint (2005).
Abe Lucas (Joaquin Phoenix) is ’n filosofiedosent op pad na sy nuwe werk aan ’n klein universiteitskollege in Newport, Rhode Island. Hy beleef nie eens ’n eksistensiële krisis nie – die lewe het reeds vir hom alle sin verloor, ten spyte van akademiese sukses en (relatiewe) bekendheid. Ná ’n groot persoonlike verlies het hy in alle opsigte sy libido verloor, en dis net slukke enkelmoutwhiskey uit ’n heupfles wat hom aan die gang hou.
In een van Abe se klasse is Jill Pollard (Emma Stone), ’n skerpsinnige student met ’n liefhebbende kêrel (Jamie Blackley). Hulle raak vriende. Sy raak verlief op hom. Tot hier lyk die storie heel voorspelbaar, maar ’n volkome toevallige ontmoeting (onthou dat “die willekeurigheid van die lewe” een van die vrae is waarmee die filosofie worstel) stuur dinge in ’n heel ander rigting. Enige verdere inligting sal te veel van die fliek verklap, maar dis op te som deur te sê dat slim uiteindelik sy baas vang.
Deel van Woody Allen se briljantheid is dat hy perfekte keuses maak wat akteurs betref. Wie anders as Phoenix sou die afgeleefde filosoof kon uitbeeld, wie anders as Stone die slim student met die romantiese ingesteldheid? (Van Stone gepraat, ná Birdman is dit nogmaals opvallend hoe sy nie ’n duim terugstaan vir ’n ouer en meer ervare akteur nie.)
Hierdie moordmisterie word hoog aanbeveel vir nie net Allen-bewonderaars nie. Enigeen wat ’n belangstelling in filosofie het, moet dit beslis gaan geniet – en die heerlike jazzklankbaan daarby!
Sterre: 4
The post Filmresensie: Irrational Man appeared first on LitNet.