Lees ook: Die commendatio oor Soos familie deur Ena Jansen
Lees ook: Die commendatio oor Roela Hattingh se Kamee
Baie dankie vir almal wat hier is - omdat julle ook dink die UJ-pryse is ’n wonderlike inisiatief, en veral omdat sommige van julle spesifiek hier is omdat een van die twee pragtige UJ-pryse vanjaar myne is.
Ek wil begin om ’n paar mense te bedank: eerstens ’n absoluut fantastiese keurpaneel bestaande uit Karen de Wet, Frederick Botha, Marius Crous, Marné Pienaar, Alwyn Roux, Ilse Salzwedel, Karen Cattell en Corina van der Spoel.
Baie dankie ook Ingrid Waldeck vir jou reëlings wat dit vir my én Pamela moontlik maak om vanaand saam hier te wees.
Dan ’n groot woord van dank aan die mense wat Soos familie se waarde raakgesien het sodat dit presies ’n jaar gelede hoegenaamd kon verskyn. Julle het ook die publikasie van die herdruk met die trotse goue plakkertjie "Wenner UJ-prys 2016" laasweek moontlik gemaak. My dank ook aan Nicol Stassen en sy fantastiese Protea-span: Hanli Deysel wat gesorg het dat dit so ’n mooi boek is, Kristel de Weerd wat help persklaar maak het en veral ook my redakteur, Amelia de Vaal, wat in Portland, Ohio woon.
So baie mense het deur die jare vandat my navorsing in Wits se William Cullen-biblioteek begin het, gehelp om my geïnspireerd te hou en van onderdak te voorsien. Dankie vir almal met wie ek die afgelope jare ervarings en stories kon uitruil, wat by boekbekendstellings entoesiasties gereageer het, wat my genooi het om by leeskringe te kom praat, wat saam met my gaan soek het na die skildery van Annie Mavata in die Pretoriase Kunsmuseum en aan almal wat die prys vanaand saam met my wil vier.
Onlangs het ’n Nederlandse kritikus geskryf: "Goede non-fictie behoort tot de literatuur: ook al is er geen jota aan verzonnen." Volgens die kritikus kan goeie niefiksie net soos ’n goeie roman ’n soektog wees wat die grense van die ek oorskry. Dit kan ’n mentaliteitsverandering teweeg bring en kan die leser ánders na bekende dinge laat kyk.
Die keurpaneel vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk het vanjaar drie niefiksieboeke en twee romans vir die kortlys gekies. Dat julle my boek as wenner gekies het, ’n niefiksieboek waarin geen jota versin is nie, was vir my oorstelpende nuus. Dat julle selfs baie dieselfde kriterium as die Nederlandse kritikus hanteer, het my verras en verskriklik bly gemaak. Julle skryf immers oor Soos familie, en ek haal aan uit die kort keurverslag waarin die nuus van die pryswenners bekend gemaak is, dat Soos familie "die Afrikaanse letterkunde sowel as die leser se bewussyn verryk, verruim en verdiep". Dankie vir die oop gemoed waarmee julle Soos familie gelees het en gehoor het wat ek probeer sê. Dit het jare van lees gekos, van soek, van keuses maak, van kombinasies vind om die so bekende Suid-Afrikaanse verhaal wat ek wou vertel so effektief en toeganklik moontlik oor te dra.
Dat ek vanaand hierdie prys ontvang, beskou ek as ’n eerbetoon aan die vroue oor wie die boek gaan. Dis ’n eerbetoon aan al die vroue wat in weerwil van baie spanning tog hul kanse aangryp en in Johannesburg huiswerk doen. Dis ’n eerbetoon aan die vroue wat oor die drumpels van wit mense genooi word; in die eerste instansie omdat hulle werkkrag so gewens is, maar óók omdat hulle sulke belangrike vertrouenspersone is vir baie wit kinders, gesinne en alleenlopers. Dat hierdie verhouding uiters ambivalent is, dat daar voortdurend onderhandel moet word, besef ek steeds. Dis ’n verhaal met ’n lang geskiedenis.
Nadat ek eers die Kaapse geskiedenis van slawerny bespreek, maak Soos familie ’n groot sprong binneland toe. Van hoofstuk 3 af is Soos familie veral ‘n Johannesburg-storie. Dit vertel die migrasiegeskiedenis van vroue uit die Oos-Kaap stad toe tydens die twintigste eeu, en tegelykertyd is dit die verhaal van hierdie vroue se werkgewers. Soos familie wil vroue wat so dikwels vergeet word op die voorgrond stel, mense wat meestal met die agterplaas en die agterdeur vereenselwig word. Dis ’n storie van die verstrengeling van klas, gender, ras en ruimte in Suid-Afrika.
Meer as die helfte van Soos familie gaan oor Johannesburgse stories. Ek het gaan tel. Om presies te wees: 22 Johannesburgse verhale en romans word intensief in Soos familie bespreek in die konteks van die tyd en buurt waarin dit afspeeel.
So vertel Johanna Masilela in Vukani Makhosikazi oor haar eerste werk in Mayfair in die 1930's, Elisabeth Eybers beskryf die "idilliese tyd" in die 1950's toe Amos en Tabita vir haar in Emmarentia gewerk het, Chris van Wyk vertel oor Shirley, Goodness en Mercy in Newclare, Riverlea en Coronationville in die 1960's, Rian Malan skryf oor Miriam en Piet in Linden, ook in die 1960's. Mark Gevisser se bydrae is oor Bettinah in Sandton. Dan is daar Nadine Gordimer se roman July’s People wat iewers in ’n revolusionêre toekoms in die 1970's afspeel.
’n Anonieme kollektief vroue se fotoverhaal Tula Baba speel in Orange Grove af in die 1980's. Koos Prinsloo vertel die storie van die interaksie tussen Rut Naudé en Katrien Mmtabho Mokoena in Parkwood in 1984. ’n Hele paar stories speel in die 1990's af: Barbara Fölscher se aangrypende verhaal oor Liesbet in Parktown, Eben Venter oor KC Mhaga in een van die noordelike voorstede, en Jo-Anne Richards oor Beauty en Anna in Melville.
Stories van ná 2000 word vertel deur onder andere Zakes Mda oor Aunt Magda in Roodepoort, Kopano Matlwa oor Ou-Virginia en Gogo in een of ander gated village, terwyl Zukiswa Wanner ’n verhaal vertel oor die wit vrou Marita wat in The Madams by Thandi in Lombardy-Oos werk.
En dis maar ’n paar van die Johannesburgse stories wat ek aangryp om ‘n verhaal van afstand en verbintenis te vertel met die huiswerker as spilfiguur, as tolk en ambivalente kontakpersoon tussen wit en swart, ryk en arm, stad en platteland.
Ek sou hierdie boek nie kon geskryf het as ek nie self in Johannesburg gewoon het en so intens in die stad se geskiedenis en die verhale van skrywers oor die stad begin belangstel het nie. Ook die feit dat ek self werkgewer van ’n huiswerker was, is van groot belang.
Daarom wil ek afsluit deur die een persoon te bedank wat my sekerlik die meeste geïnspireer het om die boek hoegenaamd te kon bedink: Cecilia Nomahobe Magadlela, wat ’n kwarteeu lank op Donderdae in my huis in Tolipstraat hier naby op die grens tussen Melville en Westdene gewerk het.
Sy is een van die duisende Oos-Kaapse vroue wat om den brode Johannesburg toe gemigreer het, "with just a little bag" onder die arm om haar eie heil te soek, maar ook om te ontvlug aan ’n opgelegde huwelik. Sy is in die stad getroud met London Banda, ’n Malawiese tuinier wat ongelukkig al in 1997 aan ‘n hartaanval oorlede is.
Aan die einde van 2014 het sy afgetree en is terug na die twee liggroen rondawelhuise wat al jare lank in haar familie se besit is en die nuwe geel huis wat sy self laat bou het. Die huise is teen so ’n tipiese Transkeiheuwel naby Cofimvaba in die distrik Queenstown. Laasjaar het Pamela en ek vir haar gaan kuier. Dit was baie duidelik dat sy gelukkig is daar.
Toe ek hoor van die prys, wou ek dadelik planne maak sodat sy ook vanaand hier kon wees. Ek wil immers ’n gedeelte van die prysgeld aan haar gee. ’n Ander gedeelte gaan na SADSAWU, die vakbond vir huiswerkers onder voorsitterskap van Myrtle Witbooi. Die grootste deel hou ek vir ’n uitgebreide landsreis.
Op die internet het ek al gekyk hoeveel Cecilia se reis Johannesburg toe sou kos sodat ek solank ekstra geld by haar pensioengeld kon voeg: R740 retoer. Sy sou by haar dogter Rachel kon bly in haar woonstel in Newtown, naby die Markteater. Die bus vertrek halfdrie in die middag van Cofimvaba en kom dan ongeveer halfdrie in die oggend in Johannesburg aan. Toe ek haar bel om die plan aan haar voor te lê, was ek verbaas om te hoor hoe terughoudend sy was. Uiteindelik sê sy: "My darling, I will do it for you, but you know, I hate Johannesburg."
Ek het geskrik, maar ons het afgespreek dat sy sou kom. Tog het dit my ontstel en weer laat nadink. Enkele ure later het ek weer gebel en gesê Pamela en ek dink sy dalk dan maar liewer nié kom nie; ons sal weer vir háár gaan kuier. Haar verligting was duidelik hoorbaar; dít was ’n beter plan.
Selfs al het ek geweet dat sy tydens haar verblyf in Johannesburg dikwels onder baie spanning geleef en voortdurend met die Oos-Kaap verbonde gebly het, het ek haar die woord "hate" nóóit eerder hoor sê nie, nóóit het ek vermoed dat dit vir haar so moeilik was om in Johannesburg te woon nie. Sy het immers nooit in ’n township gewoon nie, altyd in Melville. Maar uiteraard altyd op iemand anders se erf: jare lank by die woonkompleks Klein Geluk en later by Room with a View. Altyd afhanklik van ander se welwillendheid. ’n Hele paar van julle hier het Cecilia deur die jare ontmoet, haar leer ken as ’n vrolike, empatiese vrou. Ons was almal haar "darlings".
Die telefoongesprek het my laat besef hoe dikwels sy uit pure oorlewingsdrang miskien ook dikwels diplomaties en strategies was, iets wat ek nooit regtig besef het nie. Die slotparagraaf van my boek lui:
My soektog na uitbeeldings van huiswerkers was, behalwe ’n historiese onderneming om te luister en kennis op te doen, veral ook ’n proses van selfondersoek. Nooit kan jy sensitief genoeg wees vir die kompleksiteit van skryf en praat oor "die ander" nie, juis wanneer jy dit doen binne die skynbaar vertroulike, maar noodwendig afstandelike "soos familie"-domein.
Alison Light beskryf dit só in Mrs Woolf and the Servants: "The figure of the servant takes us inside history but also into ourselves."
Soos familie is ’n boek oor Suid-Afrika, maar in sy hart is dit ’n boek oor Johannesburg. Oor vroue soos Nomahobe Cecilia Magadlelea en hulle dikwels veels te niksvermoedende werkgewers wat deur middel van die opteken en lees van ware én literêre stories tog kan probeer om iets meer te verstaan van die verstrengeldheid van ons almal se lewens.
Baie dankie aan die Universiteit van Johannesburg dat julle vanjaar julle belangrike prys toeken aan Soos familie, dat julle Soos familie en sy verhaal wat onder meer so spesifiek oor Johannesburgse mense gaan respekteer en vereer.
The post UJ-pryse 2016: Ena Jansen se dankwoord by die ontvangs van die 2016 UJ-prys appeared first on LitNet.