Kyk ook 'n video van die bekendstelling van Die taal van been
Titel: Die taal van been
Skrywer: Heilna du Plooy
Uitgewer: Litera Publikasies
ISBN: 9781920188511
Om dit wat verborge is te lees: Die taal van been deur Heilna du Plooy
"Ons kan 'n skedel lees. Hy praat met ons in sy eie taal."
'n Vroulike akademikus en skilder in haar middel-vyftigerjare, Carolien du Plessis, sit in haar woonkamer en lees koerant en kyk "met die een oog" na 'n joernaalprogram op die televisie. Uit die weergawe van haar oppervlakkige waarnemings kan die leser tog aflei dat Carolien se fokus dié is van 'n kritiese waarnemer wat dieper as die oppervlak kyk en wat veral op vlakke en kleure ingestel is. Uit én die koerantberigte wat sy lees én die program word die aktuele sosiopolitieke situasie betrek en blyk trouens dat Suid-Afrika 'n land is waarin misdaad hoogty vier.
Een van die onderdele van die program is 'n insetsel oor die rekonstruksie van 'n skedel. 'n Kenner van die forensiese patologie, kaptein Pieter de Klerk, verduidelik die moeisame proses om eers die skedel te reinig van alles wat aanhangsel is totdat net die been oorbly. Daarna word die skedel weer ewe moeisaam gerekonstrueer totdat dit menslike kontoere vertoon en by wyse van spreke as teken heenwys na die afwesige mens. Vervolgens toon De Klerk aan die kyker so 'n gerekonstrueerde skedel. Dit is die reste van iemand wat 'n slagoffer van 'n misdaad was, maar wat nooit geïdentifiseer kon word nie. Die soektog na die identiteit van so 'n skedel is inderwaarheid 'n speurtog. Wanneer 'n mens so met 'n skedel besig is, raak jy egter bewus "van jou eie skedel onder jou eie gesig" (bl 13); dus jou eie sterflikheid.
Al die bogenoemde motiewe speel later in die roman 'n belangrike rol.
Carolien merk met verbystering dat die opgeboude skedel sprekend lyk na 'n man wat sy 15 jaar tevore vlugtig ontmoet het. Sy wil daardie tyd liefs nie onthou nie, vanweë die onrussituasie in Suid-Afrika in die negentigerjare, omdat sy toe in 'n bestaanskrisis was, 'n gespanne verhouding met haar man gehad het én 'n besondere, hoewel kortstondige verhouding met die man wat sy glo sy herken, Jean, gehad het (bl 20). Oor die presiese aard daarvan het sy haar man ook nooit vertel nie en hy het dalk vermoed dat daar "dinge" gebeur het "wat hy nie wil weet nie" (20). Daardie nag droom Carolien opeens weer van die destydse traumatiese gebeure waarin 'n vrou gedood word in 'n mislukte aanslag op Jean se lewe. Nou word die twee ingekeepte vooraftekste waarmee die roman begin ook duideliker: die eerste is die feitelike weergawe van die gebeure wat in die droom afspeel en die tweede is 'n beskrywing van 'n man wat skynbaar as sluipmoordenaar verantwoordelik was vir die aanslag. Aan die einde van die roman is daar weer so 'n gemarkeerde teks wat die geheim van Jean se dood onthul, hoewel die leser dit reeds vroeg vermoed.
Carolien het vir Jean nooit teruggesien nie en die verdere verloop van sy lewe bly vir haar wel verhul. Wanneer die inligting waaroor die leser enersyds en die karakter of verteller andersyds verskil, ontstaan 'n situasie van spanning wat gewoonlik een is van 'n raaisel of 'n dreiging. In die roman word dit dikwels knap hanteer. Dit noop die leser om aan te hou lees ten spyte daarvan dat die speurtog stadig verloop. Weens hierdie raaisel bel Carolien die televisie-omroeper, Amanda Louw, om meer uit te vind oor die skedel en die plek en omstandighede van die vonds. So begin sy met haar eie speurtog na Jean se lotgevalle, maar ook na 'n moontlike verklaring vir aspekte van haar eie verlede.
Om dit nog verder narratologies te kompliseer, verskyn gedeeltes uit Isak Dineson (Karen Blixen) se kortverhaal "The Old Chevalier" (in haar bundel Seven Gothic Tales, 1934) aan die begin van elke hoofstuk. Ek gee hiervan 'n kriptiese opsomming, met eers die hoofstuk en daarna die bladsynommer in die Dinesen-verhaal: 1: 69; 2: 69; 3: 100/101; 4: 71; 5: 71; 6: 76/77; 7: 77; 8: 77; 9: 77; 10: 85: 11: 79: 12: 71; 13: 82: 14: 91; 15: 90; 16: 88; 17: 89; 18: 90; 19: 99; 20: 94/95; 21: 95 en 22: 101. Uit hierdie opname blyk dit dat die aanhalings nie bloot chronologies is nie, maar gekies word as inleidende skakels met, of "stemvurk" vir, dit wat volg. Hoewel die aansluitings soms besonder vernuftig en passend is (bv hoofstuk 18 ) is die hele prosedure ook nie vry te spreek van 'n mate van manipulering nie.
Deur die procedé word wel gesuggereer dat daar raakpunte tussen Du Plooy se roman en die verhaal van Dinesen bestaan. Dit is ook inderdaad die geval. Die duidelikste parallelle is 'n moordaanslag, 'n verdwene geliefde, die representasie van 'n skedel wat by die verteller die gevoel van herkenning wek en die verloop van 15 jaar (in die verhaal tussen die vertelling en die sien van die skedel by 'n vriend). Die belangrikste ooreenkoms lê egter in die vlugtige ontmoeting van twee onbekendes, wat onmeetlike passie en aangetrokkenheid tot gevolg kan hê. Voort is 'n belangrike tema dié van feminisme: volgens die verteller in die Dinesen-verhaal is die werklik interessante vroue hulle wat hulle losmaak van die geykte verwagtinge van die gemeenskap en by implikasie daarteen rebelleer. Vroue, beweer hy, word in wese aangetrek deur die heksesabbat of -ritueel. Soos sal blyk, is daar ook by Carolien 'n opstandigheid en rebelsheid.
Die tweede storievlak is van 15 jaar tevore. Carolien is in haar veertigerjare, gelukkig getroud met ‘n regsgeleerde, Frans, met twee kinders en ‘n vervullende werk as tydelike universiteitsdosent in kunsgeskiedenis. Haar harmoniese bestaan kom skielik tot ‘n einde weens twee verwante traumatiese gebeurtenisse: sy verloor haar werk op onverwagte wyse as slagoffer van rasionalisasie en regstellende aksie én sy raak teen haar wil betrek by die genoemde aanslag op die voormalige anti-apartheid-aktivis, Jean. Nadat sy haar werk verloor het, voel sy ontredderd en ‘n vriendin wat Kaap toe verhuis, leen haar 'n bykans leë woonstel waar sy bedags die hele dag probeer om weer te skilder en iets van haar kreatiewe self te herwin. Haar vaste besluit om in afsondering in 'n gevaarlike deel van die stad alleen te gaan werk stuit op onbegrip én weerstand van haar rasionele man. Ten spyte van sy teenkanting en die toenemende verwydering tussen hulle volhard sy met haar besluit. Daarin toon sy haar as een van die vroue (na wie verwys word in die Blixen-verhaal) wat in opstand kom teen konvensies. Hierdie emansipasie met sterk feministiese trekke berei die pad vir haar (emosionele) ontrouheid.
Op 'n middag klop 'n wildvreemde man by haar woonstel aan op soek na die sleutel van die buurwoonstel waar hy vir 'n tyd sal tuisgaan. Dit is goedgunstiglik aan hom beskikbaar gestel deur 'n ou vriendin, Marion, wat ook by die struggle betrokke was, maar anders as hy aktivis bly en nie ontnugterd oor die uitkoms is nie (kyk ook bl 123). Carolien verwys hom na die woonstelopsigter, wat die woonstel vir hom oopsluit, maar dan sterf deur 'n skoot – 'n valstrik wat kennelik bedoel was vir Jean. Hy besef dadelik dat sy ou vriendin medepligtig was én besef ook dat sy lewe in gevaar is. Daarom neem hy skuiling in Carolien se woonstel. Sy neem hom teen haar sin in beskerming in haar tydelike verblyf en in die loop van enkele dae ontwikkel hulle verhouding in so ‘n mate dat hy haar toestemming gee om hom te teken – selfs sy gesig – en dat daar ook fisieke toenadering plaasvind (111 en 156–8).
Hierdie lewensjaar raak Carolien se “wasteland”, ‘n "droë wit seisoen" van verwydering van haar man en van selfondersoek.
Na die vertrek van Jean en ‘n oorsese besoek word die verhouding met haar man herstel, ook omdat haar eie poging om weer skeppend as skilder te wees – na 'n moeisame verloop – tog eindelik suksesvol is. In die primêre storievlak word sy in haar geborge en tevrede toestand opeens gedwing om haar verlede onder oë te neem en, soos by die klei-rekonstruksie van die skedel, herkonstruerend te “lees”. Sy besef dat haar stilswye oor die gebeure van 15 jaar gelede ‘n vorm van verraad is teenoor haar man en besluit om oop kaarte te speel. Daarom besluit sy om alles wat gebeur het, neer te skrywe in die vorm van ‘n narratief. Wat belangrik is, is dat sy nooit die volle verhaal aan haar man vertel nie (151–4) en dat hy die tekeninge van Jean "gewis nog nooit gesien het nie" (176). Al wat sy van hulle intieme samesyn vertel, is dat die man "daar rondgesit en deur die boeke geblaai [het]” (153). Sy wonder egter "wat hy weet en wat hy vermoed".
Voorts is dit ook belangrik om te onthou dat Du Plooy ‘n studie oor Etienne Leroux se roman 18-44 voltooi het en ook in hierdie roman eksplisiet na die Leroux-roman verwys (89). Soos die knolskrywer, mnr Y, in Etienne Leroux se magistrale roman aan die einde van 18-44 sy rug keer op wat was en 'n nuwe fase van kreatiwiteit betree, vernietig Carolien haar narratief (192) en "begin sy 'n nuwe skildery" waarin sy die essensie van vorm en kleur vasvang. Waarin niks meer verborge is nie. So kom sy in die reine met haar verlede en sy geheime en begin met 'n nuwe lewensfase én 'n nuwe dimensie in haar verhouding met haar man. Sodat sy selfs nou hom ook op die doek kan vaslê.
Hierdie hele proses van konfrontasie met die verlede deur 'n narratief is bekend in die literatuur – ook in die Afrikaanse letterkunde. Een van die bekendste Afrikaanse romans waarin dit gebeur, is die genoemde 18-44. Dit is 'n roman waarin ‘n subtiele metanarratiewe spel gespeel word: mnr Y worstel met sy eie verlede, sy eie verraad, sy roman, én probeer om sin te maak van sy eie persoonlike geskiedenis én dié gewelddadige geskiedenis van sy eie tyd. Selfontleding word, by wyse van spreke, gekaats teen die agtergrond van die aktuele geskiedenis. Baie soos Du Plooy ook die traumatiese geskiedenis van Carolien situeer in 'n traumatiese oorgangstyd in Suid-Afrika waarin prysgawe voorop staan: van werk, sekerhede, veiligheid en geborgenheid (kyk bv ble 117/118). Wanneer die negentigerjare en die moeisame geboorte van die "Nuwe Suid-Afrika" voor die gees geroep word, dink mens veral aan geweld en aan die destydse (nuwe) verskrikking, vigs. In Du Plooy se roman speel beide 'n groot rol: Carolien word deel van 'n moordaanslag (97), haar bure se familie word slagoffers van geweld (62) en emigreer (84), en haar huishulp se dogter sterf aan vigs (185, 187).
Leroux se mnr Y probeer nie net om sy eie verminkte psige te "repareer" deur sy konfrontasie met die verlede nie; hy probeer inderwaarheid om van 'n knolskrywer te ontwikkel in een wat nie meer tweedegraadse vleis as keursnitte probeer verpak nie. Aan die einde van Leroux se aangrypende roman neem mnr Y hom voor om nou 'n roman te skrywe – in feite dit wat die leser pas gelees het. Ook Du Plooy se Carolien skryf 'n narratief ter wille van helderheid (en psigiese heling), maar sy vernietig dit. Tog vorm dit ook deel van die roman wat die leser onder oë kry.
Leroux se roman is al herhaaldelik "metanarratief" genoem, 'n begrip waaroor byvoorbeeld Linda Hutcheon (1984) gesaghebbend geskryf het. 'n Metaroman is 'n roman oor die [skryf van 'n ] roman en bevat dikwels 'n ek-verteller wat al skrywend kommentaar oor die skryfproses lewer. Interessant is die opmerking van Van Gorp (2007:288) dat metanarratiewe kommentaar, "momenten van zelfproblematisering in de roman", veral voorkom in wat genoem word "crisisperiodes", soos die historiese tydperk waarin Du Plooy se roman gesitueer is, beslis is. Ook Du Plooy se roman staan bol van metanarratiewe kommentaar (oa op bl 35: “Hoe vind ‘n mens ‘n beginpunt in die gang van sake […], hoe kry ek 'n lyn of enige soort samehang in al die triviale dinge ..., hoe skryf ‘n mens oor wat jy nie verstaan nie?” (36). "Maar alles begin iewers. Hier begin ek met die eerste woord", 82: "Ek het geweet ... as dit iets wil wees" en "Die uitkoms is selfs minder belangrik as die proses want daar waar die maker aan die werk is, daar gebeur die groei", 171).
Die taal van been is die “bekende literator, digter en kunstenaar” (soos dit op die blakerteks staan), Heilna du Plooy, se debuutroman. Waarskynlik word hierdie feite nie om dowe neute genoem nie: nie net is die hoofpersoon van die roman (ook) ‘n vroulike akademikus en skilder nie, maar die hele kwessie van geskiedskrywing en representasie – kernbegrippe in die heersende akademiese literêre diskoers – staan hier sentraal. Voorts “lees” beide die skilder en die digter dit wat ons werklikheid noem en omskep dit in kleure en klanke. In hierdie roman is een van die belangrikste storiemotiewe ook die “lees” van ‘n skedel; daarom in die titel die woorde “die taal van been”. Want die skedel is in semiotiese terme die teken (of spoor) wat heenwys na ‘n mens wat ontglippend en afwesig is, soos betekenis trouens ook gesien word in die moderne poststrukturalistiese literêre teorie.
NP Van Wyk Louw (1961:126) het oor Etienne Leroux se debuutroman, Die eerste lewe van Colet, opgemerk dat vir ‘n roman wat in die realistiese tradisie wou staan, “die verhaal erg los [is] van elke moontlike ekonomiese groeigrond; dis ‘n soort vry-blywende rykmanswêreld: niemand behalwe die meid en die onderwyseres skyn iets soos werk te hê, of geldelike kommer, of bemoei hom met die stoflike”. Die stelwyse en die meriete daarvan daargelaat; wat Louw as ‘n gebrek sinjaleer, is die feit dat die roman nie ingebed is in ‘n oortuigende “werklikheid” nie; dit funksioneer bloot as dekor.
Dieselfde beswaar sou ook kon geld vir die realistiese kader waarbinne die storie van Du Plooy geplaas word. Die twee kinders is kwalik meer as figurante en die leser sien of hoor hulle nooit nie; hulle word nie oortuigende karakters nie, soos trouens ook nie enige karakter buiten Frans, die verteller se man, en die enigmatiese Jean nie. Amanda Louw, Pieter de Klerk en Marion kom nooit uit die verf as mense van vlees en bloed nie. Ook die taalgebruik van karakters kom nie oor as baie "realisties" nie: al die karakters praat keurige Afrikaans en jy soek verniet na sleurtaal (selfs by die televisie-omroeper, polisieman of voormalige politieke aktivis). Geen enkele karakter gebruik ooit 'n kragwoord nie; selfs nie tydens hoogspanning nie. Selfs die klein seuntjie dreig om die kinders wat sy vriendin afknou, "sommer [te] klap" en hulle sleg te sê (!), en selfs as Frans woedend is, soek jy verniet na 'n "bliksem", om nie eers van die f-woord te praat nie.
Verwant hieraan is die wyse waarop lang gedeeltes van Carolien en Frans se lewe bloot in enkele paragrawe opgesom word. Hoewel hierdie bepaalde "verhaalritme" spruit uit die feit dat op kerngedeeltes gefokus word, het dit tot gevolg dat hierdie opsommende gedeeltes van hulle huwelik, hulle kinders, ens veel eerder "telling" as "showing" is. Op dieselfde wyse "hoor" jy van geweld, maar jy ervaar die benouende negentigerjare op 'n afstand. Ook die verhouding tussen Frans en Carolien word weliswaar beskryf, maar dit geskied opsommend en selfs afstandelik; byna behoedsaam: "Ons het deur al die maande van my werkery in die ateljee normaal liefde bly maak [sic] volgens die patrone waaraan ons gewoond was. Wel miskien meer tegnies as spontaan, maar nogtans." Die leser ervaar nooit werklike emosie – ook seksueel – tussen hulle nie. Een van die kerngedeeltes in die roman is die "verhouding" met Jean, mét aanhalingstekens, want wat presies die aard daarvan was, word ook verhul. Dat daar 'n wedersydse aantrekkingskrag is, word duidelik verwoord en haar toenadering word ook voorberei deurdat die verwydering tussen haar en haar man sorgvuldig beskrywe word. Kyk na die volgende: "Sy kon nie help om te dink hoe 'n aantreklike man dit is nie" (96); "Wat 'n helder mens was haar eerste gedagte ..." (138); en "Maar sy het geweet haar ontwrigte gedagtes was nie by Frans of selfs by haar kinders nie" (146).
Du Plooy is 'n gesoute literator wat al gesaghebbend geskrywe het oor die narratologie en duidelik goed weet om spanning te bewerkstellig deur die gebruik van 'n uitsteltegniek waardeur kernepisodes wat vroeg in die storie plaasvind, na laat in die verhaal of diskoers te skuif. Die belangrikste een is bepaald die romantiese afskeidsaandete (156), voorafgegaan deur die vaslê van Jean (174–6). Of daar ooit seks plaasgevind het, word aan die leser se verbeelding oorgelaat. Hy sit sy hande om haar en wil haar op 'n "spesiale manier [...] dankie sê" (156); sy bring die aand saam met hom deur en nie net was die geur van sy vel en hare in haar neus nie, maar "die tekstuur van sy rug en skouers in haar vingerpunte en sy kon steeds sy skurwe kuit onder haar voet voel" (156). Boonop is hulle "half verleë vir mekaar" (158) – alles aanduidings van seksuele omgang, omdat hulle die vorige keer toe hulle die nag platonies in mekaar se arms deurgebring het (111/112), geen ongemak ervaar het nie. In Dinesen se verhaal waarna reeds verwys is, bring die geliefdes 'n nag van passie deur, waarna die vrou ('n prostituut) die man verlaat en in wese verraad pleeg deur die gesimuleerde passie. In Du Plooy se roman voel die vrou ook dat sy verraad gepleeg het (ook teenoor haar man) en verraai sy ook vir Jean deurdat sy eintlik van hom vergeet. Hierdie "verraad" wreek hom na my gevoel later en verklaar Carolien se bykans obsessiewe poging om die waarheid oor sy lot te wete te kom, maar in werklikheid ook haar eie beweegredes van destyds te begryp.
Terug by die vraag of daar ooit seks plaasgevind het: dit bly derhalwe 'n onopgeloste raaisel in hierdie speurverhaal. 'n Mens sou kon aanvoer dat dit 'n doelbewuste verswyging van die hoofkarakter (uit wie se fokus alles vertel word) is, omdat sy die gebeure as traumaties ervaar. Dit is trouens tekenend van die hoofkarakter (selfs wanneer sy as ek-verteller optree) dat sy uiters rasioneel en eerlik probeer wees, maar tog wegskram van eerlike selfondersoek wat nie "altyd vrolik" was nie: “[W]anneer my greep op myself verslap, het dit vir my gevoel asof die ondergrond van my lewe [...] onstabiel geraak het" (72). Die ek-verteller raak eintlik net wanneer sy die landskap fokaliseer volkome eerlik. Dan gaan dit in feite nie om die landskap as outonome entiteit nie, maar oor die wyse waarop die fokaliseerder alles in terme van die pikturale sien. Kleure oorheers5, soos in die beskrywing op bl 45: "groot bosse en helder kleur ... blink en swart ... swart gepoleerde teëls ... witgeverfde houtstoele met bont kussings ... 'n warm en kleurvolle wêreld"; en ook op bl 180:
Die son was al onder en die hele toneel was in 'n sagte oranje lig gehul. Die misslierte hier en daar oor die water en die blink water self het die oranje gloed opgevang op verskillende maniere [...] Dat daar in die noordelike lande meer blou en grys in die lig, in die berge en bome is, het my opnuut opgeval. Die son se kleur is daar koeler, asof die geel en rooi skakerings uitgewas is. Vandaar die sagte oranje van die laat son [...] In Afrika is daar altyd geel in die lig, tot in die laaste rooi as die son al weg is. Selfs in die lug en bome is daar altyd tinte van geel en rooi en bruin. Daarom is die bome roeserig en die lug byna persblou.
Naas kleure word daar ook gefokus op verhoudings, vlakke en lyne wat alles “geskik” word tot woordskilderye. Die volgende paragraaf op bl 45, met sy opeenstapelings van deiktiese aanduidings, is 'n sprekende voorbeeld:
Carolien moes van die tweede oggend af begin oefen. Sy het van die vaal huisie af weggestap met die son op haar skouers en kop en met die musieksak in haar hand – onder die wildevyeboom uit, verby die wynbome [...] en tussen die lemoenboorde deur. Al met die grondpad af, deur die driffie met die spoelsand in dik riwwe oor die pad se loopvlak, verby die swart skool waar die kinders nie toe vakansie gehad het nie en waar hulle haar oor die draad heen nuuskierig aangekyk het.
Kyk bl 180.
Die hele tema van skilderskap neem 'n belangrike rol in die roman in en daar word op talle plekke (oa op ble 88–90) uitvoerig geskryf oor die probleme van teken of skilder. Daar word ook poëtikaal besin oor die funksie van kuns in 'n land vol politieke geweld – kyk die tweegesprek tussen Carolien en Jean op ble 116/117:
Is dit nou so erg om te voel jy moet jou heil op jou eie manier soek? Selfs Antjie Krog het al daaroor geskryf en gevra of dit regverdigbaar is om “woordtresse te koord” of so-iets as die land brand, maar ek meen, sy skryf nog altyd. En mense begryp ander kante van ons werklikheid omdat hulle lees wat sy skryf [...].
‘n Mens kan seker ook jou kunswerke gebruik of foute in die samelewing uit te wys. Daar is tog kunstenaars wat kommentaar lewer, op die gemeenskap of die politiek, of wat ook al? [...]
En waarom skilder jy? Dit is 'n onttrekking, of ontvlugting, of hoe? [...]
Alle vorme van vrugbaarheid is geldig, dink sy. Vir my is dit noodsaaklik. Dit laat nuwe ontstaan, dis groei. Dis beweging. Wat mens ook al doen, jy moet vooruitgang moontlik maak, of dit nou fisies of geestelik is. En soek na vooruitgang. Voortdurend.
Holdheim (1987:36) het van die speurverhaal gesê dat dit in wese epistemologies is: dit is 'n uitgebreide metafoor van die proses van begryp (verstehen), 'n narratiewe weergawe van die hermeneutiese problematiek, die proses van interpretasie en van begryp. En hierdie problematiek staan nie net in die wysbegeerte (van veral die 18de eeu) sentraal nie, maar ook in eietydse literatuurteorieë (kyk ook Van Coller 2009:1–8). Daarmee word ook reeds gesê dat Du Plooy se oënskynlik toeganklike roman, wat duidelik genologies verwant is aan die liefdes- en speurverhaal, onder sy oppervlak dieper lae verberg. Die "oppervlak" is inderdaad 'n metafoor wat op verskeie vlakke werksaam is in die roman. Kyk jy dieper as die skedel, vind jy die mens; ondersoek jy verskynsels soos vigs, regstellende aksie of geweldsmisdade, is daar altyd 'n ondergrond waarteen jy dit as 't ware moet "lees" en begryp, en kyk jy dieper as die oppervlak van hierdie roman, vind jy weggesteekte lae betenisse. Hierdie "historiese rekonstruksie" van Carolien is dus tegelykertyd 'n herkonstruksie van haar eie verlede én van die historiese tydperk waarin die traumatiese gebeure afgespeel het.
Carolien se eie speurtog vind sy pendant in die leser se speurtog én in die soeke na die waarheid oor Mozart se skedel wat as ingebedde storie in die roman funksioneer. Hierdie oënskynlik oop teks is in wese ook postmodernisties weens die doelbewuste "mixing" van "hoë en lae" vorme van kultuur, soos die liefdes- en speurverhaal met die hermeneuties-epistemologiese narratief. Hutcheon (1988:4, 39, 45 en 93) het opgemerk dat die postmodernistiese teks obsessioneel belangstel in die verlede, maar dat dit nooit 'n blote nostalgiese terughunkering is nie. Ook in die geval van Carolien is die konfrontasie met haar eie verlede 'n onthutsende konfrontasie.
Du Plooy se roman is in die geheel geoordeel 'n besonderse debuut: intelligent, wars van mooiskrywery; leesbaar én herkoubaar.
HP van Coller
Universiteit van die Vrystaat
Bibliografie
Dinesen, Isak, 1934. The Old Chevalier. Seven Gothic Tales. Covent Garden, Londen: Putnam.
Holdheim, W. Wolfgang. 1987. Reflecties over de detective-verhaal. De Vlaamse Gids, 7(1):23–37.
Hutcheon, Linda. 1984 [1980]. Narcissistic narrative. The metafictional paradox. Waterloo, Ontario: Wilfred Laurier University Press.
—. 1988. A poetics of postmodernism. History, theory, fiction. New York: Routledge.
Van Coller, H.P. 2009. Tussenstand. Literêre Opstelle. Pretoria: Van Schaik.
Van Gorp, H, D Delabastita en R Ghesquiere. 2007. Lexicon van literaire termen. Mechelen: Wolters, Plantijn.
The post LitNet Akademies-resensie-essay: Die taal van been deur Heilna du Plooy appeared first on LitNet.