Quantcast
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

UJ-pryse 2016: Commendatio oor Roela Hattingh se Kamee

 

Image may be NSFW.
Clik here to view.

Roela Hattingh, (c) UJ

Lees watter boeke het die kortlys van die UJ-pryse 2016 gehaal

Lees ook: 'n Resensie van Kamee

Lees ook: Die commendatio oor Soos familie deur Ena Jansen


’n Welkome stem in die woestyn: Commendatio gelewer tydens die oorhandiging van die UJ-debuutprys aan Roela Hattingh se Kamee

Universiteit van Johannesburg, 14 Mei 2016.

Tydens ʼn naspeur van Afrikaanse kortverhaalpublikasies sedert 2012 is een gegewe baie duidelik: die Afrikaanse kortverhaal beleef tans maer jare. Hoewel hierdie droë wit seisoen ingelei word deur De Vries se sewende en hersiene uitgawe van Die Afrikaanse Kortverhaalboek – wat dien as kanon van die Afrikaanse kortverhaalskat – is dit opvallend dat daar die afgelope paar jaar geweldig min kortverhaalbundels verskyn het.

Hoewel NB-uitgewers se Human & Rousseau gedurende hierdie tyd met die ontwikkelingsprojek Nuwe Stories begin het waar jong, ongepubliseerde skrywers in altesaam drie bundels opgeneem is, is dit veral die klein getal nuwe stemme wat tot die Afrikaanse kortkuns toegetree het wat kommerwekkend is: Slegs vyf solo-kortverhaaldebute het die afgelope vier jaar verskyn.

Boonop is die oorgrote meerderheid kortverhaalbundels wat sedert 2012 verskyn het bloemlesings volgens ʼn spesifieke tema, heruitgawes, of ʼn keur uit ʼn skrywer se ouer verhale. Kortverhaalpioniers soos Abraham de Vries en Rachelle Greeff lewer wel gedurende hierdie tyd elkeen ʼn bundel met nuwe kortverhale, maar selfs dit geskied na ʼn kortprosa-stilte van onderskeidelik vier en nege jaar.

Hierdie somber prentjie is ʼn aanduiding dat die Afrikaanse kortverhaal besig is om aan die spreekwoordelike agterspeen te suig. Juis daarom is die verskyning van ʼn nuwe Afrikaanse kortverhaalbundel – en in die besonder ʼn debuut – so ʼn groot gebeurtenis; des te meer wanneer hierdie bundel op grond van literêre kwaliteit en vernuftige skrywerstegniek gunstig deur kritici en literatore ontvang word. Die besluit om so ʼn bundel met ʼn debuutprys te bekroon, met die bedoeling om erkenning aan ʼn nuwe, opwindende stem te gee, dien dan tegelykertyd ook as aansporingsprys – ʼn literêre poging om die voortbestaan en lewenskragtigheid van die kortverhaalgenre aan te moedig. Roela Hattingh se Kamee is nie net ʼn belangrike toevoeging tot die Afrikaanse kortverhaalskat nie, maar as welkome stem in die woestyn, ʼn waardige ontvanger van die UJ-debuutprys.

Volgens Karin Cattell, een van hierdie jaar se beoordelaars, bevat Kamee kortverhale van durende waarde, en is die bundel ʼn indrukwekkende debuut wat ʼn daadwerklike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer. Nog ʼn beoordelaar, Corina van der Spoel, meen dat Hattingh hier ʼn versameling uitsonderlike verhale bymekaargesit het, met elkeen wat op ʼn ander manier aangrypend is. Sy loof Hattingh dat die verhale nooit in nostalgie of sentiment verval nie, maar dat Hattingh met ʼn sekure hand die stories op die presiese plek stuur waar sy dit wil hê, sonder om dit te oorspeel.

Op die agterblad van die bundel besing Henning Snyman die verhale lof vanweë egtheid van woord en gegewe, wat volgens hom geen foefies of truuks nodig het nie. Vir Snyman sluit Hattingh se verhale by ʼn tradisie van skrywers soos Elise Muller en Henriette Grové aan. In haar Tydskrif vir Letterkunde-resensie, beskryf Adéle Nel (2016) Kamee as ʼn verdienstelike bydrae tot die kortverhaalgenre, met van die verhale wat volgens haar ʼn plek in die volgende uitgawe van die kanonieke Die Afrikaanse kortverhaalboek verdien. In sy resensie op LitNet skryf Thys Human (2015) dat Hattingh met Kamee ʼn besonder belowende debuut as kortverhaalskrywer maak, en dat dit ʼn kortverhaaldebuut is om oor opgewonde te raak.

Hattingh se debuutkortverhaalbundel bevat 23 verhale waarvan 19 deel was van haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van Henning Pieterse.

Die titel van die bundel is tweeledig: dit verwys eerstens na die juwelierswareitem, tradisioneel ʼn vroueprofiel, wat in reliëf op ʼn ovaalvormige edelsteen gegraveer word sodat die agtergrond ʼn verskillende kleur as die verhoogde beeld het. Hierdie woordverklaring vind neerslag in die knap titelverhaal waar die verteller ʼn kamee van haar gestorwe moeder laat maak. Tweedens verwys “kamee” na ʼn kort letterkundige bydrae waarin gepoog word om iets in fyn en sterk besonderhede voor te stel: ʼn akkurate verwysing na Hattingh se debuut waarmee sy met haar fyn waarnemingsvermoë en skerp visuele ingesteldheid ʼn betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse kortverhaalkuns maak.

Hattingh se bundel word as ’t ware ʼn kamee van die lewe, met uiteenlopende karakters, verteenwoordigend van Suid-Afrika se demografie, wat in die verhale uitgebeeld word. Telkens val die fokus op interessante vrouekarakters, met die vroulike perspektief, belewenis en ervarings wat sentraal staan, eerder as suiwer feministiese denke wat weergegee word. Die verhale beskik oor uiteenlopende tematiek, maar dit is veral verlange, verlies en die broosheid van die mens wat ʼn goue draad deur die bundel span. Hattingh se kreatiewe jukstaponering van oënskynlik onversoenbare dinge, asook die geslaagde wyse waarop sy eerder insinueer en suggereer, is deurgaans opmerklik. Dit is telkens tydens die verhale se slotgedeelte waar Hattingh daarin slaag om die leser emosioneel te oorrompel, deur nie soseer ʼn klassieke dramatiese struktuur te volg nie, maar eerder te steun op ʼn verrassende, abrupte en dikwels onderbeklemtoonde slot – tipies van die moderne kortverhaal.

Die openingsverhaal “Alibi” is naas die titelverhaal een van die spilverhale in die bundel. Hierdie verhaal dien as aanklag teen sosiale media, met die verbrokkeling van ʼn huwelik wat toegeskryf word aan ʼn gebrek aan kommunikasie: ʼn resultaat van die beperking wat sosiale media op verbruikers plaas weens die limiet op woordgebruik. Met die stem van die vrou wat sterk in die bundel figureer, is ʼn sleutelverhaal in hierdie verband “Swem”, waar ʼn Moslemvrou probeer ontvlug van haar geloof se onderdrukking – ʼn bevestiging dat Hattingh eerder op die afwysiging van oorheersing fokus ten einde die vrouekarakters ʼn gees van onafhanklikheid te laat bereik.

“Land van die lotuseters”, wat fokus op Sjinese seksuele fetisj, is met sy onverwagte verhaalontknoping ʼn unieke en selfs ontstellende toevoeging tot die diasporaliteratuur in Afrikaans. Die egtheid van verhaalgegewens word versterk deur Hattingh se deeglike navorsing oor verskeie onderwerpe wat op spontane wyse by die verhaalgebeure betrek word. Dit word veral gesien in die onthutsende en meervlakkige “Honger”, wat fokus op die omstrede tatoeëermetode van selfverminking, waarin kommentaar gelewer word op seksualiteit met vleis as metafoor.

Die wraakmotief kom in verskeie verhale na vore en staan sentraal in twee ander sleutelverhale, “So lief soos sout” en “Take-away”, waarin die stem van die wraaknemende vrou sterk belig word en die tema van verlies op komplekse wyse met ʼn persoonlike oorwinning gepaardgaan.

Die twee laaste verhale in die bundel, “Congratulations. You’ve won! Do you want to start again?” en “Werk”, bevat outobiografiese elemente waarin daar in beide ʼn besinning oor die skryfproses plaasvind.

Hattingh eksperimenteer ook met die kortkortverhaal waarvan daar ses in die bundel is, met veral “Voorspel”, “Jinx” en “Vakansietog” wat die leser beïndruk en ontroer. Tipies van veral hierdie drie verhale is die kenmerkende verontrustende aard en onvoltooidheid wat vir ʼn blywende subteks sorg.

Die verhale in Hattingh se Kamee bewys dat die Afrikaanse kortverhaalkuns, ondanks die metaforiese maer jare, allermins gehalte en tegniek prysgee. Met Kamee voeg Hattingh nie alleen haar nuwe en opwindende skrywerstem tot die Afrikaanse kortverhaalkuns nie, maar lewer sy ʼn broodnodige letterkundige bydrae – ʼn baken van hoop.

 

Frederick J Botha

Verwysings

 

Human, Thys. 2015. Boekresensie: Kamee deur Roela Hattingh. LitNet, 21 Des. http://www.litnet.co.za/boekresensie-kamee-deur-roela-hattingh/.

Nel, Adéle. 2016. Kamee. Tydskrif vir Letterkunde, 53(1): 258-260.

The post UJ-pryse 2016: Commendatio oor Roela Hattingh se Kamee appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>