Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Regsalmanak: Protes en brandstigting

$
0
0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Foto: www.youtube.com


Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"

Miskien is dit tog nie so onvanpas om ‘n rubriek oor ‘n baie ernstige saak met ‘n grappie te begin nie: Twee omies sit op ‘n bankie in Seepunt en geniet die milddadige wintersonnetjie. Hul het pas kennis gemaak. Die een vertel hy was die eienaar van ‘n klerefabriek in Port Elizabeth. ‘n Paar maande vantevore was daar ‘n vernietigende brand en die versekeraars het toe aan hom die opsie gebied: óf hul sou die fabriek herbou óf aan hom die versekeringsgeld uitbetaal. Na ‘n “nag se worsteling” het hy toe maar die geld geneem en in Seepunt kom aftree, vertel die ou jakkals.

“Wat ‘n toeval!” kom dit van die ander omie. Hy het óók ‘n klerefabriek gehad, maar dié was in Durban. ‘n Paar maande tevore is sy fabriek deur ‘n skielike oorstroming verwoes en ook in sy geval was daar die keuse tussen herbou of uitbetaling. Ook hy het ‘n nag lank geworstel en toe maar die geld aanvaar en – jou werklikwaar! – ook in Seepunt kom aftree.

Na ‘n wyle se stilte draai die eerste omie – daai een wie se fabriek deur ‘n brand vernietig is – na sy nuutgevonde vriend. Met ‘n erge frons op die voorkop vra hy agter ‘n bakhand: “Hoe begin ‘n mens ‘n oorstroming?”

Suid-Afrika is die afgelope paar maande opnuut geruk deur talle voorvalle van vernietigende brandstigting wat die land miljarde rand uit die sak jaag. Onthou jy nog die skade op sekere universiteitskampusse? Dit strek van die visekanselier by die Universiteit van Kaapstad se kantoor wat aan die brand gesteek is en die waardevolle skilderye wat terselfdertyd tot as verbrand is, tot die vernietiging van geboue by Noordwes se Mahikeng- en Vanderbijlpark-kampusse.

En dan is daar die onlangse tragiese verwoesting van minstens 25 skole in Limpopo weens die Vuwani-afbakeningsgeskil, en verlede week se voorvalle van brandstigting by Grabouw waartydens munisipale geboue verwoes is. Vergeet ook nie Pretoria se wonderskone Herbert Baker-stasiegebou wat ‘n paar jaar gelede in ‘n brand verwoes is net omdat ‘n bepaalde trein na die smaak van sekere pendelaars nie betyds was nie.

By die skryf hiervan lyk dit nie of daar ‘n einde aan die hierdie epidemie in sig is nie.

Die gemeenregtelike misdryf brandstigting word in die strafreg as ‘n besondere verskynsel van die omvattende misdryf opsetlike saakbeskadiging beskou. Die elemente van die misdryf brandstigting is die wederregtelike, opsetlike aan die brand steek van die onroerende eiendom van ‘n ander, gepleeg met die oogmerk om die eienaar skade te berokken. Om iemand se weiveld aan die brand te steek met die oog daarop om hom skade te berokken sal dus ook brandstigting daarstel.

Wanneer roerende eiendom – soos motorvoertuie en treine – aan die brand gesteek word, is dit nie brandstigting in die egte sin van die woord nie. Dit word regtens beskou as ‘n – weliswaar ernstige – voorval van opsetlike saakbeskadiging. Dit lyk egter vir my of die gemenereg ons in dié opsig in die steek laat, want dikwels is die vernietiging van roerende eiendom in die moderne tyd waarin ons leef, ingrypender as die vernietiging van onroerende eiendom. Ek keer aan die einde van hierdie rubriek terug na hierdie punt.

As ons in die grappie hier bo sou aanneem dat die omie van die Baai self maar een aand sy ou klerefabriekie aan die brand gaan steek het, was dit mos nie brandstigting soos ek dit hier bo omskryf het nie? Immers: ‘n element van dié misdryf is dat dit iemand anders se eiendom moet behels.

In die gemenereg was daar vir lank onduidelikheid hieroor, maar reeds in 1921 het die appèlhof beslis dat waar iemand sy eie onroerende eiendom afbrand met die doel om iemand anders te benadeel, dit wel die misdryf brandstigting daarstel.[i]

Reg geraai: die “iemand anders” wat in die klerefabriekvoorbeeld ter sprake is, is die versekeraar van die gebou. In so ‘n geval is die afbrand van jou eie gebou wel brandstigting[ii] (soveel te meer as die brand ook nog na aanliggende eiendomme versprei).

Wat hierna volg, is my persoonlike menings. Beskou dit asseblief as sodanig.

  1. As mense ongelukkig voel oor gebrekkige dienslewering, die afbakening van munisipaliteite (ten spyte daarvan dat dit die sanksie van ‘n hof geniet), treindienste wat nie betyds is nie – noem maar op – is dit hul goeie reg om daaroor protes aan te teken. Maar om waardevolle geboue, treine, polisietoerusting, vragmotors, motors, paaie, verkeersligte, snelweë – ag, die lys het g’n einde nie – in opsetlike brande te verwoes, gaan my verstand te bowe. Na my persoonlike oordeel is brandstigting seker die mees primitiewe vorm van openbare protes.
  1. Die geskiedenis vertel vir ons van juis so ‘n vorm van openbare protes wat vernietigende gevolge vir die protesmakers ingehou het. Die koms van die Britse setlaars aan die Oos-Kaap het gelei tot bloedige konflikte tussen die inheemse Xhosa-stamme en die inkommers.

Jy ken die geskiedenis. Volgens oorlewering[iii] het ‘n Xhosa-tienderjarige met die naam Nogqawuse, saam met ‘n maatjie op ‘n dag in 1856 water gaan skep by ‘n helder poel naby die mond van die Gxarharivier. Terug by haar kraal het sy ‘n boodskap gehad: die voorvadergeeste beveel aan dat die Xhosas al hul vee en oeste vernietig, in ruil waarvoor die voorvadergeeste die Britse setlaars in die see sou werp. Daarná sou die voorvadergeeste vir hul ‘n utopiese ondermaanse bestaan verseker.

Oplaas het opperhoof Sarhili ‘n bevel uitgereik ten gevolge waarvan tussen 300 000 tot 400 000 stuks vee doodgemaak is. Insgelyk is alle oeste vernietig. Die uiteinde van hierdie emosiegedrewe veldtog was verbysterend: die bevolking in die streek het van 105 000 siele na 27 000 verminder – gewoon as gevolg van hongersnood.

  1. Die hedendaagse vernietiging – onder meer deur brandstigting – van haas onvervangbare infrastruktuur herinner my aan hierdie tragiese verhaal uit die Xhosas se geskiedenis. Die geskiedenis het ‘n wrang manier om homself te herhaal. En wat ‘n onvermengde tragedie en verlies is dit nie!
  1. Die Staat het magtige wapens tot sy beskikking om met brandstigters se galle te werk. Ek merk nie dat daar in Wet 105 van 1997 ‘n minimum straf vir brandstigting voorgeskryf word nie; dit is in die diskresie van die hof, en ek kan my voorstel dat ‘n hof by geleentheid ‘n oortreder swaar sal straf.

Ek is nie ‘n strafregdeskundige nie; nog minder het ek intieme kennis van die wel en wee van die Nasionale Vervolgingsgesag, maar dit lyk vir my asof by name ‘n brandstigter onder bepaalde omstandighede vervolg kan word kragtens die Wet op Beskerming van Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste- en Verwante Aktiwiteite.[iv]

Dié wet omskryf onder meer (in lompe taal wat so kenmerkend van wetsopstellers is) die begrip terroriste-aktiwiteit soos volg:

                                “(a) enige handeling, binne of buite die Republiek gepleeg, wat–

  • die sistematiese, herhaalde of arbitrêre gebruik van geweld deur middel van enige wyse of metode behels;

[...]

(v) die vernietiging van of omvangryke skade aan enige eiendom, natuurlike hulpbron, of die omgewing of omgewings- of kulturele erfenis, hetsy openbaar of privaat, veroorsaak; [...]”

Ensovoorts. Die omskrywing is besonder wyd – wyd genoeg om na my beskeie oordeel ook brandstigting tydens protesoptrede in te sluit.

Ook ter sake is die strafbepaling: ‘n persoon wat aan ‘n “terroriste-aktiwiteit”, soos omskryf, skuldig bevind word, kan onder bepaalde omstandighede lewenslange gevangenisstraf opgelê word.

Die Wysigingswet op Strafregtelike Aangeleenthede[v] is reeds deur die President onderteken, maar moet nog by wyse van proklamasie in die Staatskoerant in werking gestel word (moenie vir my vra wat die oponthoud is nie).

Die aanhef van die Wet verwys na die Handves van Regte in die Grondwet wat “sekere regte waarborg en die reg op vryheid en sekerheid van die persoon verskans”. Dit plaas ‘n plig op die Staat om sulke regte te beskerm, word erken.

Daar word gewys op die belangrikheid van noodsaaklike infrastruktuur in die voorsiening van basiese dienste aan die publiek; dat sodanige infrastruktuur toenemend deur misdaad bedreig word met “skadelike gevolge vir die lewensbestaan, welstand, daaglikse bedrywighede en ekonomiese aktiwiteit van die publiek indien basiese dienste nie voorsien kan word nie weens verlies, skade of ontwrigting veroorsaak deur misdrywe wat met noodsaaklike infrastruktuur verband hou”.

Iemand wat daaraan skuldig bevind word dat hy wederregtelik en opsetlik aan noodsaaklike infrastruktuur gepeuter, dit beskadig of vernietig het, kan gevangenisstraf van tot 30 jaar opgelê word. In die geval van 'n regspersoon soos beoog in artikel 332(2) van die Strafproseswet, 1977, kan 'n boete van hoogstens R100 miljoen opgelê word. (Klaarblyklik is dié bepaling ook op politieke partye van toepassing.[vi])

Dit lyk met die eerste oogopslag na ‘n reusesprong vorentoe, maar daar is ‘n ernstige tekortkominge in die woordomskrywingsartikel:

Basiese diens word omskryf as “'n diens, deur die openbare of privaatsektor voorsien, wat verband hou met energie, vervoer, water, sanitasie en kommunikasie, inmenging waarmee die lewensbestaan, welstand, daaglikse bedrywighede of ekonomiese aktiwiteit van die publiek kan benadeel”.

Niks méér nie as bloot energie, vervoer, water, sanitasie en kommunikasie.

Koperdrade is klaarblyklik belangriker as klinieke en skole.

Noodsaaklike infrastruktuur word op sy beurt omskryf as “enige installasie, struktuur, fasiliteit of stelsel, hetsy in openbare of privaat besit, ten opsigte waarvan verlies, skade of 'n gepeuter met die voorsiening of verspreiding van 'n basiese diens aan die publiek kan inmeng”.

Weer eens niks meer as ’n “basiese diens”, soos hier bo omskryf nie.

Dit lyk vir my asof dit maar gaan sukkel om ‘n protesteerder ingevolge dié wet te vervolg indien hy byvoorbeeld ‘n skool, kliniek, munisipale kantoor en dies meer sou afbrand. Daarvoor is die omskrywings van basiese diens en noodsaaklike infrastruktuur net eenvoudig te eng.

Hopelik sal die wetgewer weer hierna kyk.

Ek wonder ook of die gemeenregtelike omskrywing van brandstigting – wat beperk word tot onroerende eiendom – nie uitgebrei moet word om ook die vernietiging van roerende eiendom (soos voertuie en treine) in te sluit nie. As etlike treinwaens in een voorval aan die brand gesteek en vernietig word – soos al op die Kaapstadse stasie gebeur het – is die gepaardgaande skade en ontwrigting enorm en vir seker gróter as wanneer, byvoorbeeld, ‘n kleinerige gebou aan die brand gesteek word.

Om die misdryf brandstigting tot onroerende eiendom te beperk, soos wat ons dit uit die Romeins-Hollandse been van ons gemenereg oorgeërf het – is klaarblyklik ontoereikend vir die onstuimige tye waarin ons tans leef.

Énige vorm van brandstigting met die oogmerk om iemand daardeur skade te berokken of te verontrief behoort as ‘n misdryf aangemerk te word. Dit sluit die alewige brand van motorbande op paaie as ‘n vorm van protes in. Die belangrike N2 tussen Grabouw en die Strand is byvoorbeeld onlangs vir etlike dae gesluit – onder meer omdat die brand van motorbande as ‘n vorm van protesaantekening dit vir motoriste gevaarlik gemaak het om daar te ry.

  1. Wat nou nodig is, is die politieke wil om die epidemie van brandstigting in ons land vir goed hok te slaan. Ek vind dit bemoedigend dat die premier van Gauteng, David Makhura, op 13 Mei 2016 verklaar het dat infrastruktuur wat in Gautengse gemeenskappe vernietig is, nie deur ons land se rykste provinsie herstel sal word nie – al het dit tot gevolg dat noodsaaklike dienste (soos provinsiale klinieke) nou nie kan funksioneer nie.

Luidens ‘n Netwerk24-berig[vii] het die premier gesê die vernietiging van infrastruktuur hou gemeenskappe terug omdat dit die beperkte hulpbronne wat gebruik moet word om die gemeenskap te ontwikkel, verder onder druk plaas. “Geen frustrasie regverdig die afbrand van skole nie,” het Makhura gesê. “Die verwoesting van 24 skole in Vuwani is ’n tragedie in ’n demokrasie. Naby aan ’n miljard rand is uitgebrand. Bring vir my die brandstigters,” was sy troefkaart, “dan praat ons weer.”

So ‘n bek moet jêm kry.

[i] R v Mavos, 1921 AD 19. Sien ook Hoctor, Shannon: The nature of the crime of arson in South Africa (Fundamina (Pretoria) vol 19 n 2 Pretoria, Feb 2013).

[ii] Vir ‘n bespreking van ‘n hofsaak hieroor, gaan na http://www.litnet.co.za/2014-brandstigting.

[iii] Wikipedia: https://fr.wikipedia.org/wiki/Nongqawuse.

[iv] Wet 33 van 2004.

[v] Wet 18 van 2015.

[vi] O’Regan, Kate (regter, konstitusionele hof, 1994–2009): Political parties: the missing link in our  constitution? Lesing, Kaapstad, 27 Augustus 2010.

[vii] Mailovich, Claudi: Gauteng sal niks vervang wat afgebrand is, sê premier (Netwerk24-berig, 13 Mei 2016).

The post Regsalmanak: Protes en brandstigting appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>