Wat is die “normaal” van ’n protesaksie, soos wat Grabouw nou belewe? Dis die ritmiese woer-woer van helikopters. Dis die knal van skote, gepaardgaande met die dieper, dowwer plof van petrolbomme wat lanseer word. Dis die sensasie van traangas wat brand in jou neus en op jou tong. Dis die bitter reuk van brandende bande en geskroeide teer. Dis die ontploffing van gasbottels. Dis die aangesig van borrelende swart wolke wat die blou lug skend, en die wete dat dit nog ’n vernietigde gebou beteken. Dis die gespanne uitdrukkings op elke gesig wat jy teëkom, die gevoel van beklemming elke keer as ’n voertuig met skreeuende bande aangejaag kom. Dis die onsekerheid waarmee mense saans gaan slaap, skoene en klere reg langs die bed ingeval jy vinnig weer moet opspring en aantrek. Dis die visie van polisiebeamptes met haelgewere oor die skouer, skilde gereed gelig, hul gesigte versper deur beskermende helms. Dis die geluid van rigiede voorwerpe wat kontak maak met sagte vlees.
Daar is niks normaal omtrent ’n dorp wat protesteer en in konflik kom met dié in gesag nie.
Daar is veral niks normaal daaraan wanneer die protesteerders ’n paar weke tevore in hulle honderde aangery en op die dorp afgelaai is, in ’n beboste gebied, met geen water, geen sanitasie, geen dienste en absoluut geen voorsiening vir menslike habitasie nie. Die area waar hulle afgelaai was, is naby die N2 en ver van enigiets anders. Binne dae het die gebied ’n naam gehad: Blikkiesdorp, of Silvertown, na aanleiding van die materiaal waarvan die hokke gemaak is.
Die konflik was feitlik onmiddellik, toe die nuwe intrekkers water en elektrisiteit begin steel het van die inwoners van ’n laekostebehuisingsarea aan die ander kant van die pad.
Enige inwoner van Grabouw wat Somerset-Wes of Kaapstad toe wil gaan, moet verby Blikkiesdorp ry. Toe ek op 6 April daar verby ry, op pad lughawe toe, was daar twee hokke en die pale ingekap vir ’n verdere twee hokke. Toe ek op 12 April van daardie reis terugkeer, was daar miskien tien hokke. Op 17 April het ek weer op reis gegaan. Toe ek op 24 April terugkeer, het ek met skok ’n dorp met honderde huise, meer as 1 000 inwoners en selfs ’n winkel aangetref. Sedertdien het daar elke dag net meer mense ingetrek.
Daar was reg van die begin ontevredenheid van die inwoners van Grabouw. Daar was kommer oor die nabyheid van die nedersetting aan die N2, en die moontlike gevaar indien daar klippe na motoriste gegooi sou word. Daar was ontevredenheid van gevestigde inwoners wat alreeds jare op ’n behuisingswaglys is, omdat hulle gevrees het die nuwe intrekkers gaan met geweld aanspraak maak op huise.
Beide daardie vrese is intussen bewaarheid. Die N2 is sedert Maandagaand gesluit, omdat die protesteerders versperrings in die pad geplaas en motoriste met klippe bestook het. In samesprekings met die polisie het die protesteerders, onder aansporing van Andile Lili, hy van die lughawe “poo”-protes, aangedring daarop dat daar water en elektrisiteit aangelê moet word na Blikkiesdorp. Indien dit nie gebeur nie, dreig hulle om die Eskom-kragsentrale aan die oorkant van die N2, wat die bystandkragreservoir vir die hele Suid-Afrika is, aan die brand te steek. In effek dreig hulle om die hele land gevange te hou.
Op daardie stadium het hulle alreeds die splinternuwe geboue en voertuie van die verkeersdepartement en toetssentrum afgebrand en al die toerusting gestroop. In onderhoude wat die protesteerders toegestaan het aan beide TV en nuusblaaie, word daar beweer dat hulle lank reeds wag op behuising. ’n Woordvoerder van die Sekhona-groep het ook hulle steun aan die protesteerders toegesê.
Dit laat verskeie vrae by my ontstaan. Ek weet dat daai mense nie inboorlinge van Grabouw is nie. Ek sal inderwaarheid verbaas wees as ek moet uitvind dat enige van hulle langer as hoogstens ’n maand in die dorp is. Hoekom het hulle Grabouw uitgekies? Wie het die beweging van die mense georkestreer? Wie finansier die aankoop van die hokke? Ek verstaan dat een hok teen ongeveer R2 500 verkoop. Mense kom na bewering vanaf die Oos-Kaap, asook Sir Lowry’s Pass en Khayelitsha. Hoekom sal hulle kies om te kom na ’n dorp wat nie die nodige infrastruktuur het om die bestaande bevolking te dien nie, ’n dorp wat vir hul ongeskoolde en halfgeskoolde arbeid slegs seisoenale werk kan aanbied?
Die algemene opinie is dat dit deel van ’n politieke komplot is om die DA-beheerde munisipaliteit te destabiliseer, sodat die ANC kan oorneem na die volgende verkiesing, wat geskeduleer is vir Augustus hierdie jaar.
Die politieke retoriek hierdie week is dat daar rassespanning is, dat swart en bruin teen mekaar veg, en dat die ANC die kampvegters vir vrede en versoening is. Daar word gerugte versprei dat die DA die mense hierheen gebring het. Dit maak nie sin nie. Hoekom sal die DA sy eie munisipaliteit destabiliseer? Wat is die moontlike end game daarmee?
En as die DA die meesterbrein agter die hele plan is, wat maak Lili en die Sekhona-groep hier? Ek vind dit baie moeilik om te glo dat hulle kop in een mus met die DA sal wees.
Dat hulle wel hier is, laat natuurlik ander vrae opkom oor die manier waarop politiek en aktivisme deesdae bedryf word. Is Lili ’n rent-an-activist, beskikbaar vir wie ook al die meeste betaal? Is hy deel van ’n georkestreerde groep wat van dorp tot dorp gaan en munisipaliteite destabiliseer? Kan ons verwag om binnekort een of ander #MustFall-aktivis ook in ons dorp te sien?
Die groep word geskilder as ’n leierlose groep, elkeen met sy eie persoonlike redes hoekom hy toevallig spesifiek nou na spesifiek hierdie dorp gekom het. Moet ek regtig glo dat meer as 1 000 mense van verskillende gebiede net skielik binne ’n kwessie van weke die dringende behoefte gekry het om te trek na ’n dorp waar hulle niemand ken en waar daar geen werk of ander rede vir hulle is om daar te wees nie?
Moet ek regtig glo dat hierdie leierlose groep op hulle eie op die idee gekom het om munisipale eiendom, skole en nasionale hulpbronne vir vernietiging te teiken? En dat Lili en ander toevallig op die toneel was? Regtig?
Is dit nie meer waarskynlik dat ’n groep of groepe wat voordeel sal trek uit ’n dorp in warboel, agter die skerms sit en toutjies trek nie? Is dit nie meer waarskynlik dat ’n groep wat onder druk is kort voor die verkiesing, die aandag van hulle eie interne krisisse wil aftrek deur eksterne krisisse te skep nie?
Die enigste verloorders, elke keer, is die mense. Ek is seker daarvan die oorgrote meerderheid van die mense van Blikkiesdorp is ’n beter lewe belowe. Dis hoekom hulle getrek het. Dis hoekom hulle in die bos, sonder ablusie, sonder water, sonder elektrisiteit, kom woon het. Hulle kon nie voorsien het dat hulle as pionne in ’n politieke spel gebruik sou word nie.
Wie ook al mense so sinies en gewetenloos kan gebruik, verdien nie ons stem nie.
Blikkiesdorp se mense verdien beter. Grabouw se mense verdien beter.
Ons mense verdien beter.
- Foto's is onder kopiereg van David Morris en is geplaas met sy toestemming.
The post #Grabouwprotes appeared first on LitNet.