Lees ook 'n onderhoud met Amy Jephta
Lees ook 'n resensie van Kristalvlakte
Kristalvlakte: Tertius Kapp gesels met Naomi Meyer
Tertius, wat was jou rol en betrokkenheid by die Suidoosterfees se Kristalvlakte?
Kristalvlakte is die eindproduk van 'n veel langer proses, die Suidoosterfees se teksontwikkelingsprojek. Die totstandkoming daarvan is 'n lang storie, maar kortliks het Koos Bekker opdrag gegee om 'n droom wat Jakes Gerwel gehad het, uit te voer, naamlik 'n verplasing van Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder na die Kaapse Vlakte. Toevallig het ek en Niël Rademan (hoof van die Suidoosterfees) rondom dieselfde tyd gesels oor teksontwikkeling, en daar was duidelik hier 'n geleentheid om iets konstruktiefs te doen. So middel-laasjaar rond is daar begin om voorstelle aan te vra van skrywers, regisseurs en akteurs, vir hoe hulle die teks sou verwerk. Hieruit is tien gekies waarmee verder gegaan is na ‘n volgende ronde – meer uitgebreide ontwikkeling is gedoen en ‘n paar tonele is geskryf. Hieruit is vyf gekies vir nog verdere ontwikkeling, en daaruit is een skrywer gekies wat die toneelstuk sou skryf. Dit was natuurlik Amy Jephta.
Ek wou nie die titel “mentor” aan my rol koppel nie, aangesien daar ervare teatermense en gevestigde skrywers onder die deelnemers was. Daarom het ek en Niël besluit om te praat van “teksfasiliteerder”, wat eintlik ‘n akkurate beskrywing is van wat ek gedoen het: die ou wat die proses van teksontwikkeling lei en dit so maklik as moontlik probeer maak vir almal. Dit wil sê terugvoering gee, verwysings aanbied wat hopelik help, as klankbord en eerste leser op te tree, en so aan – sonder om enigsins die skrywer se outonomie aan te tas.
Vertel asseblief die storie van Kristalvlakte in ‘n paar sinne, of vertel die titel dalk reeds die storie?
Die storie wentel rondom die hoofkarakter, Priscilla. Sy is ‘n afstammeling van die karretjiemense (dus ‘n plattelandse herkoms) wat haar op die Kaapse Vlakte bevind, waar sy vir haar en haar drie kinders (Ephraim, Kaaskop en Trien) ‘n lewe aanmekaar probeer smous deur tweedehandse ware te verkoop. Maar haar posisie, soos in die oorspronklike, is uiters ambivalent: sy is afhanklik van die bendeoorlog en dwelmhandel, want dit is die dwelmverslaafdes wat besittings goedkoop aan haar verkoop. Mense ken seker Mutter Courage und ihre Kinder, waarop die teks losweg gebaseer is, dus kan mens maar vertel: haar aandadigheid kos haar op die ou end alles, behalwe die smouskarretjie waaraan sy so desperaat vasklou.
Hoe het Kristalvlakte uit Mutter Courage ontwikkel? Wat is eenders, wat is anders in vergelyking met die oorspronklike stuk?
Die basiese struktuur is dieselfde, en enigiemand wat die oorspronklike ken, sal dit ook herken in die stuk. Mens kan dalk sê die verhouding is soortgelyk aan dié tussen West Side Story en Romeo and Juliet. Kristalvlakte staan heeltemal vas op eie voete – die verwysing na Mutter Courage verryk die verhaal, maar is nie nodig om dit te waardeer of verstaan nie. Kristalvlakte is byvoorbeeld baie korter as Mutter Courage (wat meestal so tussen twee en ‘n half tot drie ure loop). Nog ‘n interessante verskil is dat Mutter Courage in ‘n verre verlede afspeel, tydens die Dertigjarige Oorlog van die 17de eeu, terwyl Kristalvlakte lees soos vandag se koerantopskrifte. Dit bring ‘n interessante verskuiwing mee, en ‘n meer ingewikkelde verhouding met die werklikheid.
Moeder Moed en haar kinders was ‘n ander vertaling wat besoekers van Afrikaanse kunstefeeste dalk sal herken. Hoe verskil die Moeder Moed-weergawe van Kristalvlakte? Wat is eenders, wat is anders?
Moeder Moed is, soos jy sê, ‘n vertaling van Mutter Courage. Dit is ook geredigeer, maar dit bied min of meer die oorspronklike aan, in ‘n ongeïdentifiseerde ruimte wat min of meer lyk op Europa, met dieselfde karakters. So is die Kok byvoorbeeld steeds die Kok in Moeder Moed. In Kristalvlakte is hy nou Kroegman, die eienaar van ‘n smokkie (sjebien), en alhoewel sy dramatiese funksie soortgelyk is, is hy heeltemal ‘n ander karakter. Dieselfde geld vir ander karakters, tonele en gebeure – Kristalvlakte is met ‘n redelik vrye hand aangepas, maar is steeds herkenbaar ‘n Mutter Courage-verhaal.
As jy self op die Kristalvlakte woon, waarom dit gaan besoek as jy net ‘n aand lank ‘n show wil gaan sien en wil wegkom van dit alles? Anders gestel: vir wie is Kristalvlakte geskryf?
Dit is ‘n idee wat mens baie hoor: dat mense wat in moeilike omstandighede in Suid-Afrika woon, nie ook op ‘n kulturele of kunstige vlak daarmee te doen wil hê nie. Ek vind dit ten beste verkeerd, ten slegste neerbuigend – asof mense van die Vlakte nie kuns wat na hulle eie werklikheid verwys, kan of wil waardeer nie. (As mens dit so stel, lyk dit belaglik.)
Natuurlik is daar sepies en soortgelyke genres wat ontsnappingsbehoeftes bevredig. Maar jy kan dit nie vergelyk met die ervaring van iemand wat herkenbare (en niestereotiepe) karakters uit sy of haar eie omgewing op ‘n verhoog sien nie. Daar is ‘n realness wat intree as die wêreld daar buite saampraat met wat op die verhoog gebeur. Ja, ons kan Othello kyk en dit om ‘n draai interpreteer vir ons eie konteks. Maar ons kan ook direk uit ons eie, unieke omgewing put. In hierdie geval is dit ‘n harde een, en dit kom sterk deur in die stuk.
Aan die ander kant is Kristalvlakte nie so eenvoudig soos aktivistiese teater nie – dit wil nie vir jou een enkele boodskap oordra nie, dit wil die verbeelding in ‘n posisie plaas om op nuwe maniere te dink oor ‘n sosiale probleem of verskynsel. En dit is presies wat Brecht met sy teater wou regkry.
- Kristalvlakte het by die Suidoosterfees 2016 gespeel
The post Kristalvlakte: Onderhoud met Tertius Kapp appeared first on LitNet.