Jan Terlouw: Oorlogswinter (vertaal deur Daniel Hugo)
Protea Boekhuis, 2015 (die oorspronklike Nederlandse uitgawe het in 1972 verskyn)
ISBN: 9781485302346
Ek sal nie ’n oorlog oorleef nie, daarvan is ek baie seker. My pasifisme voer ek terug na 1979, toe ek in standerd 7 in Engels die gedig “Dulce et decorum est” van Wilfred Owen bestudeer het. Hoe meer ek lees en fliek, hoe meer besef ek dat oorlog een van die verskriklikste dinge is wat die mens doen, in so ‘n mate dat ek boeke en flieks oor oorlog in die reël vermy.
Maar ek skryf nie nou ’n anti-oorlog-essay nie, maar wel ’n resensie oor Jan Terlouw se jeugverhaal Oorlogswinter. Tog is my agtergrond, soos voorgestel in die vorige paragraaf, relevant, want ek vermoed dat dit my ’n ideale leser van Terlouw se teks maak. Ook Terlouw se werk – soos alle goeie jeuglektuur – is nie slegs vir jeugdige lesers bedoel nie.
Soos baie ander Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners was my eerste kennismaking met Terlouw sy allegorie vir kinders, Koning van Katoren. Hiermee het hy derduisende lesers bekoor met sy subtiele gebruik van strukture uit sprokies en legendes, terwyl hy die sosiopolitiek van die tyd (1971) deurtastend gesatiriseer het. (Onthou julle nog die skuiwende kerke van Ekumene, om nou maar een voorbeeld te noem?)
Terlouw het ’n opvolg geskryf, Soektog in Katoren, wat in 2007 verskyn het. Hoewel die satire en allegoriese elemente in die tweede boek dalk te doelbewus is, bied die ontknoping ’n perspektief op die sosiale verantwoordelikheid vir oorlogsgeweld wat my asem weggeslaan het.
Oorlogswinter staan in terme van tyd nader aan Koning, maar sluit baie direk aan by die siening van oorlog wat in Soektog aangetref word. Die verhaal speel in Nederland af tydens die laaste winter van die Tweede Wêreldoorlog, die sogenaamde hongerwinter. Die vyftienjarige Michiel van Beusekom wil graag aktief en formeel deelneem aan die weerstand teen die Duitse besetting, maar is nog te jonk. Op klein maniere raak hy egter wel betrokke, soos deur ’n brief te gaan aflewer, en soos die maande verbygaan, groei sy deelname soos wat hy meer volwasse gemaak word deur sy ervarings.
Aan die begin van die oorlog (Michiel was toe pas 11) het alles prettig en lekker gelyk terwyl die Nederlandse soldate te perd deur die dorp ry en met die inwoners skerts. In daardie stadium het hy gewens die oorlog duur lank. Gou het hy sy fout agtergekom. Soos die tyd verloop, kom die oorlog al nader aan sy eie lewe: nie alleen kennisse en mede-inwoners verloor geliefdes nie, ook Michiel se eie gesin word só geraak.
Maar pleks van moed opgee, word hy net meer en meer vasberade om te doen wat hy kan sonder om ander mense in gevaar te stel. Wanneer ’n Duitse soldaat hulle gesin ’n groot guns bewys, wil hy dit byna nie glo of aanvaar nie: die vyand kan maar net sleg wees!
Dat die lewe egter meer kompleks is, nie slegs swart-en-wit nie, word vir Michiel al duideliker: die idee van verantwoordelikheid groei by hom en laat hom dikwels sy eie optrede bevraagteken. Dit is juis hierdeur dat sy volwassenheid groei. Verder leer hy veel omtrent mense, omtrent persepsies wat soms verkeerd is, omtrent lojaliteit en betroubaarheid.
Terlouw teken die omstandighede met goedgekose besonderhede. So word die gesin Van Beusekom dikwels besoek deur terloopse kennisse en verlangse familie omdat hulle uit die stede loop om op die platteland kos te soek, en voor agtuur saans van die paaie moet af wees. Die plattelandse Nederlanders beskou dit as deel van hul bydrae tot die oorlogspoging om hierdie mense te huisves en ’n bietjie kos te gee. Michiel help ook almal wat hy kan, maak nie saak hoe gering nie. Hy neem byvoorbeeld ’n bejaarde man se waentjiewiel na die wamaker om reg te maak; so ontferm hy hom oor ’n 78-jarige wat vir sy dogter en kleinkinders aartappels oor kilometers heen aandra.
Die oorlog in Nederland was nou miskien nie op dieselfde vlak as byvoorbeeld die beleg van Stalingrad nie. Maar dan moet ’n mens die gesegde onthou dat as 1 000 mense sterf, is dit statistiek; as een persoon sterf, is dit ’n tragedie. Die kleiner en groter tragedies wat die Nederlanders meegemaak het, die spanning oor reëls en onredelike strafmaatreëls, die gebrek aan kos en toerusting, die onreg en die verontmensliking van die besetting, dit alles word duidelik uit Terlouw se verhaal en skep die beeld van die niemilitêre Nederlanders se ervaring van die oorlog. En dit is ewe sleg as dié van ’n soldaat wat in ’n veldslag vasgevang word, selfs al is dit dramaties anders.
Daniel Hugo se vertaling lees gemaklik. Hy vang ook Terlouw se humor goed vas, byvoorbeeld in die ongrammatikale Afrikaans wat in die Engelse karakter se mond gelê word. Soos met soveel van Hugo se ander vertalings moet ’n mens ook in hierdie geval dankbaar wees dat hierdie verhaal in Afrikaans beskikbaar is. Enersyds is Nederlands vir baie Afrikaanssprekendes moeilik leesbaar; andersyds is dit moeilik en duur om Nederlandse boeke in die hande te kry.
Dra Terlouw sy ideologiese hart aan die slot té eksplisiet op die mou? Dalk wel. Maar kyk gerus na hoeveel boeke oor historiese oorloë geskryf word (ek laat hier buite rekening wat alles in fantasiewêrelde en die ruimtes van wetenskapfiksie plaasvind) – die wanhopige vraag is: Léér die mens dan nie?! Die lys in die slothoofstuk kan minstens verdriedubbel word met voorbeelde uit die 44 jaar sedert die eerste verskyning van Oorlogswinter. Is daar enige boek, veral fiksie, wat oorlog as ’n goeie idee uitbeeld? (Ek het nog nooit PJ O’Rourke se essays in Give war a chance gelees nie, maar vermoed ’n satiriese instelling by hierdie tydskrifjoernalis.)
Dít is dalk die belangrikste rede waarom soveel mense as moontlik – en bowenal jong lesers – Oorlogswinter moet lees: stories is kragtige hulpmiddels om mense se perspektief op die wêreld te beïnvloed, en net dalk dra Terlouw en sy ontroerende verhaal daartoe by dat ons van oorlog ontslae sal raak. Maar wat ’n stryd sal dit nie wees nie!
The post Boekresensie: Oorlogswinter deur Jan Terlouw appeared first on LitNet.