In 2010 het LitNet die volgende vraag aan LitNet Akademies-geledere gestel:
As Suid-Afrika op sy/haar rug op die praatbank sou lê en sy/haar vreugdes en/of pyne sou uitspreek, wat sou jy aanhoor? Dalk prewel die land geheimenisse teenoor jou. Dalk is hy/sy bekommerd oor misdaad. Of droogte. Dalk ly hy/sy aan depressie. Dalk is hy/sy op haar einde. Of ’n uitbundige puber. Wat pla ons komplekse land?
Zandra Bezuidenhout het geantwoord:
Suid-Afrika lê op die pynbank en sy braak. Ek hoor haar aan terwyl sy stik aan die viesigheid wat by haar strot, neus en ore uitkom; aan alles wat sy altyd teruggesluk het ter wille van skynordentlikheid – en behendig ook, want dis hoe sy gepekel is, oor geslagte heen, as pure biltongland.
Luister na haar stotterspraak uit haar diepste gedermte: “Ek is op van maak of dit oukei is met my en my vodderige volk. Want ek is tot kotsens toe naar van die soort mense wat ons is: kuddes wat ons eie skaapagtigheid nie ken nie, omdat ons nooit geleer is om te dink en te delf nie. Ons is ’n banale nasie van napraters, gerieflik lui en tevrede met ons kleinburgerlike bestaan, waar ons soos parasiete aan hierdie suidhoek vassit. Weet van niks. Stel belang in niks. Veilig verskans in sepies, vetetjies, praatjies, gedoentetjies. ’n Wêreld gaan aan ons verby terwyl ons aanslof in ons crocs, volgevreet aan middelmatigheid, reisende na Sun City of Mauritius … die einders van ons bestaan.
“My binneste brul oor my mense wat die verskil tussen 7de Laan en snert nie ken nie; wat geen ander verwysingspunt as Idols, snoekbraai of die balle van die Blou Bulle het nie. So bang vir ’n boek en ’n boekwinkel soos ’n non vir ’n bakkapel. Wat koerante as ’n luukse beskou, en skryf gelykstel aan die pons van ’n SMS. Wat geen ingeligte gesprek of stewige argument kan voer nie. Waar selfs ‘geleerdes’ se wêreld eindig tussen die diefwering en die vibracrete-muur. Eendimensioneel tot in hul ingroeitoonnaels, al pryk die gradefoto’s op die kaggelrak.
“Hoe het my land so versadig geraak van spookasem, in die waan dat kreatiwiteit begin en eindig by laslappies, en desnoods ’n pragstuk van ’n kwilt vir die basaar. Ons tooi ons tieners in walglike kokarre vir die matriekafskeid, huur lang motors om die japsnoete in stoete aan te ry; stuur hulle universiteit toe vir fuifpartye en beloof hulle ’n bruilof in oranje organza met stringe feetjieliggies. Ons kook uit glansboeke, dek tafels volgens temas, kuier voor Kersfees by kamers vol geskenke. Ons bou bomas, binnebraaie en jacuzzi’s. En ons tjank oor die lewenskoste. Tog gaan die honger van die armes ons nie aan nie. Hulle nood is nie ons nood nie. Ons vra wat soek hulle hier – maar wat ons hier soek, kom in ons harte nie op nie.
“O my mense, julle breine blaas borrels. Julle verdien om te vergaan, want aan volledige menswees het julle niks. Kennis is vir julle ’n vermoeienis; gedigte ’n onbegryplike gruwel. Die domeine van die gees interesseer julle nie, en julle skedels ratel. Julle verdien om te verstik aan julle brandewyn en Coke; om te verskroei soos sosaties wat in rookkolomme opgaan.
“My braking sal bedaar die dag as julle behae skep in die verwondering aan alles wat werklik van waarde is, van ver en van naby; en wanneer julle daaroor begin nadink, skryf en sing – so spontaan as wat julle bring en braai. Die dag as julle jul grense versit, jul ontdekkings met mekaar deel in boeke en briewe, in verf en klip, in die vlerkgeruis van viole. Want julle moet die vlug van die denke leer ken om in die groot heelmaak te groei.
“Daardie dag sal my klaaglied stil word; wanneer my land se oë van wysheid straal, en alles begin heg deur die blink antenna van die verbeelding.”
Toe het haar mond ontspan, die laaste bitter uitgespuug, en ek het haar lippe met ’n gehekelde jammerlappie afgespons.
- Eerste publikasie: 11.2010
- Bronadres
- As Suid-Afrika nou teenoor jou kon uitpraat, wat sal hy/sy sê? Stuur jou brief aan webvoet@litnet.co.za.
- Lees verdere bydraes uit die LitNet-argief.
The post SA op die praatbank: My land se mond praat pront appeared first on LitNet.