Titel: Tienerhart 1: Hartklop
Skrywer: Cecilia Steyn
Uitgewer: Human & Rousseau, 2016
ISBN: 9780798171557
Cecilia Steyn is die ma van twee seuns en woon in Klerksdorp. Sy werk as die tak-administreerder van HealthPharm. Op die dapper ouderdom van 40 waag sy in 2014, onder die mentorskap van haar broer en bekende skrywer, Fanie Viljoen, die eerste keer haar hand aan die skryfkuns en is haar eerste jeugromans vir publikasie aanvaar. Die teikenmark is 15-18 jariges, maar die uitgewers voorspel dat die boeke ook in volwasse lesers se smaak sal val.
Hartklop vertel die verhaal van Megan, wat vir die Desembervakansie by haar ma op Paternoster kuier. Haar pa en ma is geskei en Megan woon by haar pa in Johannesburg, terwyl haar ma ’n restaurant op Paternoster gekoop het en die sorgelose lewe aan die Weskus geniet.
Maar Megan se broer, Stefan, kom ook vir die vakansie huis toe en bring sy beste vriend, Dewald, saam. Dewald maak al jare lank haar knieë lam – “elke keer as sy hom sien, voel haar binnegoed soos iets wat so pas deur ’n wasmasjien se spinsiklus verinneweer is”.
Megan is in matriek; Stefan en Dewald op universiteit en sy weet hulle slaan meisies se voete onder hulle uit. Veral Dewald is ’n regte haan onder die henne. Stefan is die tipiese oorbeskermende broer wat nooit sal toelaat dat daar iets tussen haar en Dewald gebeur nie. En boonop is sy ook nie seker of Dewald iets vir haar voel nie.
Die boek is interessant ingedeel met hoofstukke waar Megan en Dewald om die beurt aan die woord is. Dewald is op sy beurt net so betower deur Megan, wat “vir die grootste gedeelte van sy hoërskoollewe die hoofrol in sy drome gespeel het”. Eers was sy net sy beste pel se kleinsus, maar dis onmiskenbaar hoe sy in ’n pragtige jong meisie ontwikkel het. Die storie kry ’n lekker kinkel as daar ook ander manlike belangstelling in Megan ontstaan.
En net wanneer dinge rooskleurig begin draai, is Dewald se jaloerse eks in die prentjie en dinge neem ’n onverwagte wending.
Die boek is ’n tipiese mallemeule van tienerliefde, die hartstog wat so hoog kan brand en net so vinnig kan afkoel deur onbenullige gebeure.
Ai, hoe ongekompliseerd is dinge eintlik as jy jonk is – maar dit neem ervaring en baie water onder die brug om dit te besef!
Dis ’n lekkerlees-verhaal en soos die uitgewer tereg voorspel, hou dit jou vasgevang tot die laaste bladsy. Die skrywer gee genoeg twyfel of die hoofkarakters bymekaar sal uitkom en of Megan dalk eerder met die aantreklike Estian en Dewald dalk met die redelike onbeskaamde Nina gaan afhaak.
Die skrywer het goeie insig in hoe deurmekaar tieners se koppe kan wees en haar gebruik van hul spreektaal is goed, maar dit voel tog of sy soms sukkel om haar volwasse stem uit hul dialoog te hou – asof sy dinge soos ’n grootmens beredeneer en uitdruk, hoewel dit ’n jong stem is wat die woorde uiter.
Twee klippies in die skoen wat lesers dalk ook sal opval: Byna 95 persent van die 165 bladsye is gewy aan die hofmakery; die onsekerheid of hul liefde beantwoord sal word; die eerste paar afsprake; die romanse en die vrees dat Stefan hulle sal uitvang. Dis amper te lank uitgerek om op ’n moontlike dramatiese wending te dui. Die klimaks in die boek wat alles ontbloot en as waterskeiding dien, is skaars 20 bladsye lank. Die aksies van Dewald se eks en haar helper is ook baie onwaarskynlik.
Indien die skrywer daardie roete wou volg, moet dit meer oortuigend gedoen word met meer kleiner leidrade en langer uitspeel, óf iets wat minder dramaties ingespan word. Tieners het nie groot gebeure soos ontvoering of aanranding nodig om hul liefde “nietig te verklaar” of om “vir altyd hartgebroke te wees” nie. Hul hormone sorg vir genoeg drama.
Die tweede irritasie was met die “inbreker” by Megan se ma se kamervenster. Sy en Dewald besef dis nie ’n inbreker nie, maar die nuwe man in haar ma se lewe. Hulle kan selfs Stefan herken wat staan en klop, maar kan nie die man “wat besig is om sy broek aan te trek” eien nie. Dis heel moontlik gedoen om spanning op te bou oor wie die nuwe liefde is, maar is ongeloofwaardig.
Die klein irritasies ter syde: Dis ’n lekker boek met ligte vermaak en ek kan my indink dat lesers gou hul hande op die opvolge sal wil lê. In Tienerharte 2: Hartbreker, spat die vonke tussen Stefan en Ciska en in Tienerharte 3: Hartedief, ontmoet Lisa Estian.
Hartklop is ook as e-publikasie (ISBN 9780798171564), en mobi-publikasie (ISBN 9780798171571) beskikbaar.
The post Resensie: Hartklop deur Cecilia Steyn appeared first on LitNet.