Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Die probleem met die verset teen die US se taalbeleid

$
0
0

Het julle die nuusberigte en TV-dekking oor die studente-optogte, kompleet met plakkate waar die behoud van Afrikaans by Maties bepleit word, gesien? Of die sit-ins op die Rooi Plein en in die rektor se kantoor, waar studente in hulle getalle opgeruk het? Die derduisende ouers wat soos een man saamstaan en weier om studenterekeninge te vereffen totdat hulle die versekering het dat hulle kinders in Afrikaans onderrig sal word, en sodoende die universiteit finansieel tot hulle knieë dwing? Wat van Afrikaanse nywerheidsleiers wat aanbied om die universiteit se kostes te dra, of wat massiewe beurse wat die Rhodes-beurs beskaamd laat staan, uitloof vir studente om net hier te bly en in Afrikaans verder te studeer? Of om in Nederland of Suriname of België te studeer, op voorwaarde dat die inhoud van hulle kursus op een of ander manier die hoër funksie van Afrikaans moet bevorder? Of wat van dosente wat weier om klas te gee totdat daar aan hulle verset gehoor gegee is?

Nee?

Ek ook nie, want dit het nie gebeur nie.

Dit sál ook nie gebeur nie.

Die rede hoekom dit nie gebeur nie, is baie eenvoudig. Die huidige studente aan die universiteit, die persone wat die mees direk en onmiddellik geraak sal word deur enige veranderinge in die taalbeleid, verkies dat die beleid verander. Wit en swart. Afrikaans en Engels. Daar's veel waaroor hulle aktivisties is, die behoud van Afrikaans as medium van onderrig is bloot net nie een van die goed waaroor hulle tob nie. Kyk na die protes teen verkragtingskultuur, of enige van die #MustFall-bewegings. Die argument dat hulle nie weet wat goed is vir hulle nie, of dat hulle nie die gevolge verstaan van toegewings oor taalbeleid, gaan bloot nie op nie. Hulle weet goed wat hulle wil hê.

Studente wat enigsins ’n toekoms in die internasionale arena in gedagte het, sit met een oog op ’n Rhodes-beurs en die ander op verdere studie aan Harvard, Oxford, Yale, Princeton, Brown en ander universiteite waar behendigheid in Afrikaans hulle ewe veel sal help as ’n prehensiele stert om aan takke mee te swaai.

Dis verder vir my baie interessant dat die luidste kommentaar die afgelope ruk gekom het van persone wie nie een alumni van Stellenbosch is nie. Natuurlik is enigeen geregtig daarop om hulle mening te lug, en indien dit so entertaining gedoen word soos die bekgeveg/vete/sitkom tussen Breyten Breytenbach en Piet Croucamp, met kameeverskynings deur ’n paar ander, gaan dit natuurlik in die media uitgebeeld word as Die Antwoord. Mense wat wel aan Stellenbosch studeer het, onder wie van die voorste regsdenkers en morele gesag van ons tyd, bly egter ver weg van die geskarrel. Van die voorste akteurs, skrywers, politici, besigheidsmense, akademici, en so aan en so voort, het aan Stellenbosch studeer. Hulle kom nie vorentoe om te veg vir die behoud van die taal nie. Ek vermoed dat, soos ek, baie van hulle gemengde gevoelens en ’n mate van ongemak het wanneer daar verwys word na die behoud van die kultuur en tradisie van Stellenbosch.

Die US Woordfees, normaalweg ’n viering van Afrikaanse skryfwerk, het hierdie jaar ook Engelse boeke en besprekings gehad, asook veel meer ander kunsvorme. Dit was so suksesvol dat dit seer sekerlik volgende jaar op groter skaal gerepliseer sal word. Wie wil in elk geval Franschhoek toe gaan, of Grahamstad, as jy soortgelyke produksies kan sien, en ten minste sommiges is in Afrikaans? As daar enige kritiek was oor die verandering in formaat, was dit seker in die briewekolom van Die Burger. My indruk was dat die gewone feesganger die verandering met ope arms verwelkom.

Ek het in April redelik baie gereis, na uiteenlopende plekke waar ek as buitestander met ’n vars, kritiese blik kon kyk na ons Suid-Afrikaners se verhouding met Afrikaans. In Amsterdam het ek gepraat met Nederlanders wat passievol is oor Afrikaans, oor ons ryk woordeskat en ons vermoë om nuwe woorde te vorm, oor hoe jonk, uitdrukkingsvol en lewenskragtig ons taal is.

’n Paar dae nadat ek terug gekom het, was ek in die Noord-Kaap op PEN Afrikaans se Trippel-7-projek. Hier het ek ervaar hoedat Tswana-sprekers met trots na Afrikaans verwys as hulle taal, en na hulself as Afrikaners. Ek kon net in verwondering saam lag toe twee deelnemers in ons program speels maar tog ernstig begin stry oor die belangrikheid daarvan om die taal reg te praat.

Ek het gesit en geluister hoe mense van dwarsoor die kleurspektrum en opvoedingsvlakke heen saam opgewonde raak daaroor om stories te vertel in Afrikaans, net soos wat die Nederlanders opgewonde daaroor was om stories aan te hoor in Afrikaans.

Dít is die toekoms van Afrikaans.

Wanneer was die laaste keer dat ons Afrikaanse woorde vertroetel het, geluister het na hoe mooi die taal op die tong en die oor val, en nie krampagtig probeer vashou het aan 'n kultuur en 'n leefwyse wat vervreemdend is nie? Wanneer was die laaste keer dat ons saam vreugde kon vind in speel met woorde, soos wat die sewe woordkunstenaars op die toer elke dag kon doen?

Ons is besig om verliese te ly op twee vlakke. Ons is besig om polities te verloor deurdat ons te hard vashou aan iets wat eintlik nie meer bestaan nie. En ons is besig om ons vreugde en ons genot in die taal wat ons praat, te verloor, ’n veel meer kritieke verlies na my mening.

Hoekom het die destydse anti-apartheidsverset geslaag? Want dié wat dit aan eie bas gevoel het, het protesteer. Al die protes en sanksies van oorsee sou min gedoen het as swart en bruin mense nie geweier het om verder onderdruk te word nie. Ons sien nie dieselfde verset onder Afrikaanssprekendes nie. Die stilswye kan seker ten minste gedeeltelik toegeskryf word daaraan dat Afrikaanssprekendes hulle skaam vir die geskiedenis waaraan Afrikaans so swaar dra. Dalk is hulle moeg daarvoor om die heeltyd voor die kop gegooi te word dat dit hulle skuld is dat die taal in die penarie is waarin ons onsself bevind.

Of dalk is hulle net so gewoond daaraan dat alles in plek val omdat hulle sê dit moet, dat ander, meer effektiewe maniere van verset nog nooit ontgin was nie.

Daar is veel wat gedoen kan word, en dit word nie gedoen nie. En terwyl ons sit en ginnegaap, is die venster waarbinne iets gedoen kan word, besig om te krimp. Hoekom is Stellenbosch die enigste kampus wat hoegenaamd nog ’n mate van Afrikaans aanbied? Hoe het dit gebeur dat die ander voorheen Afrikaanse kampusse sonder veel geveg verengels het? Want elke liewe keer nog het dié wat in ’n posisie is om iets te doen, te lank geaarsel en die tekens verkeerd gelees. Dis die pad wat Stellenbosch besig is om te loop, en die futlose protes van middeljarige mans gaan dit nie vir studente meer relevant maak nie.

Die tyd vir praat is verby, terwyl Afrikaanses nog sit en wroeg oor petisies.

Die tyd vir intellektuele masturbasie en amusante woordspeletjies is verby.

Dóén iets. Hou ’n optog. Reël ’n sit-in. Gebruik getalle om druk uit te oefen.

Of gaan lê in die hoekie en wag om die dinosourusse te join.

The post Die probleem met die verset teen die US se taalbeleid appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>