Die grafiese kunstenaar en musikant Willem Samuel het pas sy eerste EP, Langafstand, uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Baie geluk met die uitreiking van jou debuut-EP, Langafstand. Die tunes is van die eerste noot van "Ek mis jou" af meesleurend en treffend. Hoe het jy te werk gegaan met die samestelling van die EP in terme van die snitversameling? Met ander woorde, het jy die ses snitte spesifiek geskryf met ’n storie of goue draad in gedagte, of was dit ’n geval van ses liedere kies uit die oeuvre tot dusver? Hoe sou jy die belangrikheid van die snitkeuse en die volgorde daarvan beskryf, en watter soort ervaring hoop jy bring dit tuis by die luisteraar wat begin tot einde luister?
Langafstand was oorspronklik ’n verjaardaggeskenk vir my vrou: al die liedjies wat ek vir haar geskryf het oor ’n vyfjaartydperk, die meeste van hulle toe ons ver weg van mekaar was. Ek dog toe dit sou nice wees om hulle op te neem en vir haar te gee as ’n geskenk. Ek dink daar was omtrent tien songs op en ek het hulle kronologies georden, en “Mis jou” was die eerste track.
Toe ZAP Records my in 2015 nader om ’n EP uit te bring, wou ek nuwe goed opneem, maar ek het nie die geld gehad nie. So toe het ek die beste tracks uit die liefdes-CD gevat om Langafstand te maak.
So, die songs hang almal conceptually saam, maar hulle is op verskillende tye geskryf. "Mis jou" is in 2006 gekryf, na ’n break-up. Ek dink "Sonskyn" was die laaste song ... 2012. Maar die EP is nie kronologies nie. Ek wou wel hê dat die album vloei. Omdat die songs nooit as “treffers” geskryf is nie, is die meeste van hulle redelik eenvoudig. Dis beter om aan hulle te dink as sketse, eerder as liedjies. Momente in tyd, vasgevang in klank.
Dis belangrik dat mens na Langafstand luister as ’n geheel, eerder as snit vir snit.
Die songs het daardie interessante kombinasie van ’n relatief ''lo-fi'' algemene klank, maar met komplekse onderliggende “soundscaping”', oorvleuelende melodieë (in instrumentwerk en sang) en harmonieë. Hoe gaan jy te werk daarmee om hierdie kontras daar te stel? Trouens, hoe werk die skryfproses aan jou kant – vandat die eerste woord en akkoord neergeskryf word tot jy voel die lied is nou "reg" soos hy is?
Langafstand se songs is almal geskryf op acoustic guitar en dus is hulle redelik eenvoudig en ek wou dit ook sou hou. Maw, ek wou nie dat die liedjies hulself voorgee as iets wat hulle nie is nie. Dit was belangrik vir my om “eerlik” te wees met die materiaal and to present it as lo-fi, because it was. Ek het alles self in my kamer opgeneem in 2012 – so, they are what they are en ek wou hulle presies as dit represent.
Dit voel soms of daar deesdae geen einde is aan die digitale editing proses nie en ek het myself gedwing om net goed by te sit wat nodig was. “Mis jou” het net daai orrel gekort, terwyl "Tweedimensioneel" ’n rhythm section gekort het. "Sonskyn", die laaste song, was my eerste opname van daai song, en was my demo take, en toe klink dit vir my fine en so ... daai song bly toe net so.
Nog oor die "soundscaping": veral op ’n snit soos "Snare" hoor ’n mens daardie elemente duidelik, asof ’n skoot Sigur Ros bots met The Shins en Iron & Wine (as ’n mens dit nou in terme van ''invloedklanke'' moet stel). In hoe ’n mate het jy self op daardie produksie-elemente besluit en hoeveel was spanwerk met ’n vervaardiger of ’n tweede oor? Hoeveel daarvan is vooraf beplan – asof jy dit eers in jou kop hoor en dit dan laat uitspeel – en hoeveel daarvan is eksperimentering tot jy afkom op die regte gevoel? Watter soort prosesse werk vir jou die beste in hierdie opsig?
Omdat die CD oorspronklik vir een mens bedoel was, was daar geen denke aan dat die songs soos enigiets moes klink nie en kon ek elke liedjie op sy meriete vat en sound effects bysit soos ek gevoel het die song kort dit. Daar is ’n “dirtiness” aan Langafstand wat ek baie van hou en dis omdat dit vry van enige voordenke was oor wat “mense” gaan sê, want ek het nooit gedink dit gaan uitgereik word nie. So, ek het fun gehad en goed bygesit soos ek wou, en sommer dinge ingelos wat gewoonlik sal deurgaan as ’n “fout”. Daar's ’n eerlikheid wat ek vasgevang het en ek dink dis belangrik om raak te hoor as jy die songs wil geniet.
"Snare" was maklik, want, die song gaan oor guitar snare, so, om daai lead guitar in te gebring het was altyd deel van die plan. Maar jy kan nooit rêrig predict hoe dit gaan klink op die ou end nie en ek moet sê daai song is seker my gunsteling. It doesn't try to go anywhere, it doesn't build up to something, it just is. ’n Klankgedagte.
Tegnologie kan vandag dinge so “skoon” maak. Als is te polished. Te produced. Ou opnames van dekades terug amaze my altyd van hoe rou hulle was, en steeds oor die dekades bly werk. En ek dink dis omdat daai opnames die “immediacy” van die oomblik vasgevang het. Ek hoop daar is iets van daai in Langafstand.
Jy woon deesdae in Londen en sover ek verstaan is jy tydelik terug in Suid-Afrika. Dis dan interessant dat jy gekies het om jou eerste EP in Afrikaans uit te reik. Moes jy wik en weeg oor of jy dit in Afrikaans of Engels gaan doen, of hoeveel daarvan was ’n ooglopende, natuurlike besluit? Sal jy graag met die EP wil toer in Suid-Afrika, of hoe beskou jy jou betrokkenheid by die bemarking en verspreiding daarvan vir die Afrikaanse musiekmark, of is dit agtergrondoorwegings daai?
Ek het al verskeie kere goed in Engels geskryf en dis net iets wat nooit rêrig vir my gewerk het nie. Ek druk myself eenvoudig net natuurlik in Afrikaans uit. Ek kan ook beter hoor as iets in Afrikaans sleg klink as in Engels. Maar dis ’n persoonlike keuse, eerder as ’n “ek rock in my taal” nasionalistiese tipe kak. Dis in fact vir my baie meer aantreklik om te sing in ’n taal en kultuur wat besig is om uit te sterf. Dis mos cooler?
Dis ook vir my nice om ten minste met musiek in Afrikaans te werk, want my comics en die res van my lewe is oordonderend Engels. So ... dis ’n lekker persoonlike plek wat Afrikaans inneem in my kreatiwiteit en dit voel vir my gepas.
Ek wil dinge doen op my manier. Veral met musiek. Ek het vir jare in bands gespeel waar ander mense vir my gesê het wat om te speel, hoe ek moet aantrek en waar ek moet wees op naweke. En dan moet jy gaan gigs speel in sulke voos vuil plekke waar al wat daar is om te doen is om te drink. Daai scene was nie goed vir my nie. So, ek probeer ’n ander benadering om musiek te beoefen op ’n manier wat nie self-destructive gaan wees nie.
Gepraat van die Afrikaanse musiektoneel – jy was vir ’n ruk betrokke by ’n paar bands so om en by die tyd toe MK afgeskop het. Dinge het natuurlik baie verander sedertdien. Hoe beskou jy (op ’n afstand) die toestand van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiektoneel en als wat daarmee gepaard gaan? Hoe beskou jy die plek van jou musiek – en soortgelyke meer intieme, ''understated'' musiek – daarin?
Ek is very much op die periferie op die oomblik, maar ek hou dinge noukeurig dop in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en bedink nog waar ek sal inpas. Of wil inpas. Party mense operate heeltemal buite die radar, soos Riku Lätti, en daar is iets cools daaraan. (Weet nie hoe hy oor dit voel nie? Maar ek rate Radio Lava as die beste Afrikaanse album van die laaste tien jaar. Dit en Swanesang).
Die SA music scene is ’n tawwe industry en dit lyk asof die meeste mense ’n verskeidenheid van rolle moet inneem om ’n bestaan te maak uit dit. Ek weet nie van bands wat net musiek maak nie. Niemand is deesdae net die bassist of singer nie. Jy speel in jou band, jy skiet musiekvideo's, jy hanteer die merchandise ensovoorts. En ek praat nou van suksesvolle bands. Kyk maar na Karen Zoid. Sy't ’n TV show! Dit lyk asof mense meer moet doen as net musiek om te kan survive.
So, jy moet ’n entrepreneur wees en ek weet nie hoeveel space daar dan is vir ouens wat met hul musiek wil experiment nie. Kan jy bekostig om understated te wees? Is daar plek vir rêrige alternatiewe Afrikaans? (Alternative soos in KOBUS! alternative.)
Jy het ook ’n ''graphic novel'', Mengelmoes, uitgereik saam met die EP. As ’n mens kyk na die voorskoublaaie wat op die web beskikbaar is, blyk dit ’n heerlike, effens siniese, tong-in-die-kies terugblik te wees op die vormingsjare soos jy dit beleef het. Is daar vir jou ’n soort “gesprek” wat plaasvind tussen die ''graphic novel'' en die meer melankoliese EP? Of staan hulle vir jou onafhanklik en apart van mekaar? Hoe verskil die wyses waarop jy jouself uitdruk in verskillende mediums en wat voel vir jou meer natuurlik, as ’n mens hoeveelheid ervaring buite rekening laat?
Langafstand is weirdly genoeg ’n continuation van Mengelmoes, as jy kronologies kyk. Ek sal mense wat al die comic gelees het aanraai om die EP te luister. Hulle is vir seker verbind aan mekaar – my comics/kuns en musiek. Soos ek my omstandighede sal teken, sal ek oor hulle sing, en so word verskillende dele van die storie op verskillende maniere ingekleur.
Soos hier bo genoem, was jy by ’n rits bands betrokke oor die jare, en as grafiese ontwerper het jy ook al meerdermale jou stempel afgedruk. Enige spesifieke hoogtepunte wat vir jou uitstaan in dié onderskeie bedrywe? Enige agter-die-skerms-stories wat mense nie sommer glo wanneer jy dit oorvertel nie? Enige punte waarop jy met die terugkyk wens jy't eerder in ’n ander rigting beweeg?
Nee, ek dink nie so oor die lewe nie. Ek het op sekere tye van my lewe besluite gemaak gebaseer op wat ek toe geweet het en toe geglo het. Dit was tóé reg. Nou, pretty stupid.
Maar ek hou van waar ek nou is. Kuns en comics is vir my ’n stabiele lewenswyse en die musiek kan net baat daarby.
Weird storie? Ek was saam met Hunter Kennedy in ’n band vir een glorious middag in 2002 by die art party in die kunsdepartement se quad in Stellenbosch. Snake was ook daar en daar was baie punch. Ons het vir almal by die paartie begin vertel dat ons saam in ’n band is, met die naam “Draad Trek vir Jesus”. Dit was lekker om die kunsstudente te skok.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Willem Samuel, in so verre jy dit kan beheer?
Ek wil die musiek en comics ultimately kombineer. Maar dit beteken dat al twee mediums van hoë gehalte moet wees. Ek is confident oor my kuns, en nou met die goeie reaksies op Langafstand is ek nou lus om die musiek ’n goeie go te gee, en om iets te maak wat ek weet baie mense na gaan luister.
Wat is die sin van die lewe?
Sukses. En sukses is dankbaarheid.
The post Willem Samuel: "Dis beter om aan die songs te dink as sketse" appeared first on LitNet.