die bome reusagtig soos ons was
Hilda Smits
Protea Boekwinkel
ISBN: 9781485306405
Hilda Smits is al sedert 2009 'n gereelde wenner van die poësie-afdeling van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse nasionale BSV-skryfwedstryd waarvan die posstukke gedeeltelik deur NALN geadministreer word, 'n skryfwedstryd wat al sedert 1979 bestaan en deesdae geborg word deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat.
Onlangse beoordelaars van die poësie-afdeling was die digters Gilbert Gibson en Dave Lubbe. Hulle het Hilda elke jaar wat sy deelgeneem het anoniem as algehele poësiewenner aangewys.
Haar wengedigte het in die BSV-publikasies Inkvars 2009 ("terugblik"), Inkvars 2011 ("die nag se honger kakebeen kraak oop") en Inkvars 2014 ("dit is moeilik") verskyn. Die eerste twee jaar het Hilda uit Londen en die laaste jaar uit Nashville in die VSA deelgeneem. Inkvars word jaarliks geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland Zuid Afrika en bevat al die betrokke jaar se weninskrywings wat uit ongeveer 1000 inskrywings jaarliks vanoor die hele land aangewys word en gewild is onder stelwerkonderwysers omdat die publikasie ook beoordelaarsverslae bevat.
Hilda A Smits debuteer met die bome reusagtig soos ons was, Protea Boekehuis (2016). Sy besoek Bloemfontein spoedig vir 'n bekendstelling van haar bundel.
Hierdie bekendstellingsgeleentheid vind plaas op Saterdag, 9 Mei 2016 om 9:00 in die NALN-ouditorium (parkering uit Elizabethstraat). Dis 'n gesamentlike projek van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, NALN en die Vriende van NALN.
Die digter en BSV-beoordelaar, Gilbert Gibson, sal in gesprek tree met Hilda Smits en sy sal self van haar gedigte voorlees en agterna boeke teken. Protea Boeke sal ook van haar debuut en ander digters se digbundels tydens die geleentheid te koop aanbied.
Tydens teetyd is aanwesiges ook welkom om die gewilde NALN-kelderboekemark vir spotgoedkoop tweedehandse boeke te besoek, of deur die museum, wat die Afrikaans letterkunde in sy geheel as tema het, te wandel. Die publiek, BSV-lede en Vriende van NALN wat die geleentheid wil bywoon, kan bevestig by Corlietha Swart (BSV-voorsitter) by micos@telkomsa.net of by Annelien Diedericks (NALN) by vriendevannaln@gmail.com.
The post Bekendstellingsgeleentheid van Hilda Smits se die bome reusagtig soos ons was by NALN appeared first on LitNet.