Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Terugvoer op Konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch

$
0
0

http://www.akademie.co.za/

Die Konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch verskyn hier.

Inleiding

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se hoofdoelstelling is die bevordering van die gehalte van wetenskapsbeoefening in Suid-Afrika deur middel van Afrikaans. Daarom is die terugvoer veral gefokus op die wyse waarop hierdie voorgestelde Taalbeleid die hoë funksies van Afrikaans, naamlik dié van akademiese, tegniese, onderrig- en wetenskapstaal sal bevorder. Daarnaas sal daar ook aandag gegee word aan of die Taalbeleid werklik meertaligheid sonder uitsluiting bevorder. Oral waar daar kommentaar gelewer word op die voorkeur- en verstekwaarde wat aan Engels verleen word, word daar geïmpliseer dat daar van meertaligheid nie veel sprake is nie. Oor die algemeen lyk dit asof isiXhosa heeltemal afgeskeep word.

Daar moet ook melding gemaak word van die swak Afrikaans waarin die Konseptaalbeleid aan die algemene publiek beskikbaar gestel is: Dit kom voor asof dit 'n afgejaagde vertaalpoging was en ongelukkig moes ons dikwels na die Engelse teks (kennelik die bronteks) verwys om meer helderheid te kry oor wat presies bedoel word. Reeds hier kry die Afrikaanssprekende die idee dat hulle afgeskeep word en dat die Afrikaanse teks minderwaardig hanteer is.

Vervolgens sal daar op spesifieke dele van die Taalbeleid gefokus word.

Die kern van die Beleid

Volgens die Beleid verbind die US "onsself tot die bevordering van Afrikaans, Engels en isiXhosa op voorgraadse vlak". Dit blyk ongelukkig nêrens uit die res van die dokument nie, deurdat daar telkens voorbehoude ingebou word bv "waar dit pedagogies verantwoordbaar is"; "waar die fakulteit se personeel die taalkundige vaardighede het om dit te kan doen"; "Dit sal afhanklik wees van die vermoëns van die dosente en onderrigassistent"; ensovoorts. Dit lyk dus asof Afrikaans en isiXhosa se gebruik aan die noodlot oorgelaat word. Ten opsigte van isiXhosa word daar nêrens in die dokument enige vaste onderneming gegee nie. Indien meertaligheid die US se erns is, sal hulle sorg dra daarvoor dat al drie tale op gelyke basis hanteer word en dat dit nie net lippediens is nie. Dit lyk asof die res van die Taalbeleid hierdie kern weerspreek en die positiewe toegevoegde waarde van meertaligheid ondermyn word.

Die SAAWK stel dus voor dat al hierdie voorbehoude geskrap word en dat daar spesifieke maatreëls gelys word om meertaligheid te laat slaag: vertaal- en tolkdiens, aanwending van ITK, aanstel van Afrikaanse en isiXhosa assistente, opstel van vakterminologiese woordeboeke, beskikbaarstelling van spesiale fondse vir Taalbevordering, ensovoorts.

Die meertalige konteks

P2: Die US skep geleenthede vir die bevordering van institusionele en individuele meertaligheid:

Dis alles goed en wel, maar die beleid kan meer spesifiek wees om meer effek aan meertaligheid te gee. Geen melding word gemaak van HOE hierdie geleenthede geskep gaan word nie. Deur proaktiewe maatreëls te noem, sal die voorbehoude nie telkens hoef te klink nie.

P3: Die indeling van die drie paragrawe volgens taal: Engels, Afrikaans en isiXhosa:

Geen van die inligting hier word op feite gegrond nie.

Engels is die enigste taal wat hier in die konteks van onderrigtaal beskryf word wanneer daar gesê word dit is die "belangrikste onderrigtaal op skoolvlak".

Afrikaans word beskryf as "een van die amptelike Suid-Afrikaanse tale wat wyd in die Wes-Kaap beoefen word". Afrikaans is verreweg die belangrikste taal in die Wes-Kaap en is net so belangrik as Engels as onderrigtaal op skoolvlak. Dit is juis om hierdie rede dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US voortgesit moet word. Daar word verder geskryf dat die US "verbind bly tot die handhawing van die status van Afrikaans …".  Wat is die huidige status van Afrikaans wat gehandhaaf moet word? Hier moet eerder onderneem word dat Afrikaans op geen manier as onderrig- en institusionele taal (verder) afgeskaal sal word nie. Hierdie dokument is egter deurspek van vaaghede en wollerige stellings en dit kom voor asof spesifieke onder­nemings doelbewus vermy word.

P4: Beleidsbeginsels 6(h):

"By die implementering van die Taalbeleid sal daar rekening met die beskikbaarheid van personeel en hulpbronne gehou word."

Afgesien daarvan dat dit weer eens 'n voorbeeld van die talle voorbehoude is, hoort so 'n stelling nie in enige beleid nie. Indien meertaligheid as uitgangspunt in die beleid ingeskryf word, moet daar gesorg word vir die nodige personeel en hulpbronne indien 'n oudit sou aantoon daar is nie voldoende personeel en hulpbronne nie.

P4 en 5: Beleidsbepalings:

Die SAAWK wil dit baie sterk teen van hierdie bepalings uitspreek.

Eerstens word daar by 7.1(a) gesê "die US is verbind tot die doelgerigte steun van die akademiese toepassing van al twee tale in die volle leerervaring van studente …".  Afgesien daarvan dat isiXhosa nou uit die prentjie verdwyn het, word daar nie voorsiening gemaak vir Afrikaans naas Engels in die volle leerervaring nie.

By 7.1(b)(i) word daar hoofsaaklik na voorlesings verwys waar die P-opsie klink en die studente volgens taalgebruik in twee groepe verdeel word. Daarteenoor verwys die D-opsie, (7.1(b)(ii)) oftewel die meertaligheid wat dubbelmediumonderrig veronderstel, eerder na aanvullende gefasiliteerde leergeleenthede. Indien voorlesings teenoor voorlesings gestel word, blyk dit dat daar naas die parallelmediumopsie veel eerder 'n E-opsie (eentalig Engelse opsie) gestel word.

Dubbelmediumonderrig sou beteken dat sowel Afrikaans as Engels in die voorlesings gebruik word. Tolking sou ook hier gebruik kon word.

Om op te som: Klousule (b)(ii) bots na ons mening met klousule (a)(i), want al twee tale word nie gesteun in die volle leerervaring van studente nie. Voorts is daar geen sprake van dubbel­medium nie, maar eerder 'n verskanste vorm van 'n eentalige Engelse medium.

'n Verdere vraag ontstaan oor die wyse waarop Afrikaans (en isiXhosa) in die fasiliterings­geleenthede buite die voorlesing hanteer sal word. Dit is nie duidelik op watter wyse die tutors met die nodige vaktaal toegerus sal word om die geleenthede te hanteer nie, want die voorlesings geskied hoofsaaklik in Engels in die hooflesings. Dit is onvoorstelbaar om te glo dat waar 'n vak slegs voorgraads (hoofsaaklik 1ste- en 2dejaarsvlak) in die P-opsie (met die talle voorbehoude daarteen) aangebied word, die vaktaal in Afrikaans minstens volgehou sal word, wat nog te sê van uitgebou word. Dit spreek vanself dat die posisie vir isiXhosa nog meer benard is.

Punt 7.1(b)(v): "Die vraestelle vir eksamens, belangrike toetse en soortgelyke assesserings is in Afrikaans en Engels beskikbaar."  Hier word niks gesê oor die taal waarin die student die vraestel mag beantwoord nie. Vreemd genoeg word hier ook geen voorbehoud gegee oor wat sou gebeur indien die dosent nie Afrikaans magtig is nie.

Punt 7.1(b)(h) is sinneloos en behoort geskrap te word.

p7: Taalbeplanning en bevordering van meertaligheid:

Punt 7.5(a) verwys daarna dat elke fakulteit en steundiensafdeling hulle eie Taalimplemen­teringsplan vir hulle konteks kan ontwerp. Dit laat die vraag ontstaan waarom die Universiteit dan hoegenaamd 'n Taalbeleid moet opstel.  Logieserwys moet fakulteite en steundiensafdelings hulle aan die Universiteit se stukke onderwerp. Afgesien van alle ander voorbehoude wat reeds in die dokument ingebou is, bied hierdie paragraaf die grootste ontsnaproete. Die insentiewe vir meertaligheid wat genoem word in punt 7.5(b) moet eerder behoorlik uitgespel word om toe te sien dat fakulteite en steundienste hulle hoegenaamd aan meertaligheid sal steur of hou.

Afsluiting

Ons wil afsluit deur Danie Marais uit die By van 16 April 2016 aan te haal:

"As Afrikaans aan alle universiteite val, gaan Afrikaanse skole waarskynlik ook ver-Engels en dit sal 'n tragedie wees, want moedertaalonderrig is bewysbaar akademies superieur."

Tans kom studente nog op Stellenbosch aan wat op grond van hulle Afrikaanse onderrig op skool, reeds oor 'n gevorderde vlak van meertaligheid beskik. SAAWK sou wou sien dat studente hulle meertaligheid danksy die US verder ontwikkel en dat dit nie as gevolg van die US verskraal nie.

Afrikaans is tans 'n uitgebreide wetenskapstaal met uitgebreide literatuur vir die meeste vakke wat aan hoër instellings gedoseer en bestudeer word. Dit is moeilik om te sien hoe Afrikaans op hierdie vlak volgehou en uitgebou kan word, indien dit slegs as ondersteuningsbasis vir voorgraadse studente deur tutors gebruik word of slegs vir 1ste en 2dejaarstudente in parallelmediumlesings.

'n Verdere kwelling van die SAAWK is dat die posisie van isiXhosa in hierdie dokument heeltemal afgeskaal word en dat daar nêrens enige vaste onderneming tov die ontwikkeling hiervan gegee word nie.

Die SAAWK besef die geweldige druk waaronder die US hierdie beleidsdokument moes opstel, maar iets so wesenlik belangriks soos die Taalbeleid van die US kan nie binne so 'n kort tydjie afgejaag word nie. Dit blyk duidelik uit die ondeurdagte dokument met weersprekings en vaag­hede wat as konsep aan die publiek voorgehou is.

Die vlag van Meertaligheid sonder Uitsluiting dek ongelukkig nie die lading van Engelse eentaligheid wat deurgaans in die dokument geïmpliseer word nie.

Dionē Prinsloo: Hoof Uitvoerende Beampte, Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 

The post Terugvoer op Konseptaalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!