Vir professor Anton van Niekerk
Filosofie
Stellenbosch Universiteit
Geagte prof Van Niekerk
Dankie vir u besadigde en redelike repliek op my skrywe gerig aan die rektor van u universiteit. Dis ten minste nie die woeste armswaaiery van die Rioolstorter met die Kopdoek daar uit die noorde nie. Ek het ook nie anders verwag nie: al weet ek niks van u gedigte nie, is dit darem nie heeltemal waar dat ek u denke nie respekteer nie. Ek aanvaar eweneens u bereidwilligheid om ter goeder trou in gesprek te tree oor die aard en die toekoms van Afrikaans aan die universiteit.
Ek is bly ons stem saam oor die onvervangbare lewenswaarde van Afrikaans – ál ons Afrikaanse tale, en so ook enige ander taal, want dit gaan oor die oopmaak van die kop en die hart, die aanwins van meertaligheid en die praktyke van omvorming. (Terloops, hoe kry u dit reg om saam te lewe met die holruggeryde en holle cliché van “transformasie”?) En veral die inheemse tale. Omdat die harttaal die unieke vormgewing van ons herinneringe en ons verbeeldingsvermoëns en skeppingsdrang vergestalt. Omdat dit ons toegang is tot die universele (die etos) van menswees.
Vergun my om enkele punte in u skrywe uit te lig en daarop te reageer. U sou ook nie anders verwag het nie. Vergewe my sommer by voorbaat as ek ’n draai maak by die stalle waarvan u (ek gebruik voortaan “u” in die generiese meervoudsin) nou die hekke probeer sluit nadat die perde verhonger is (soos lesers van u repliek daarop wys), voor hulle na die Eersterivier gelei is met die belofte van water en waar daar sedertdien gepoog word om hulle te versuip in die naam van pragmatisme.
Daniel Hugo skryf tereg dat “pragmatisme” ’n eng, oppervlakkige, gelykmakende ideologie is.
Elders is daar reeds gepleit vir ’n diepgaande besinning oor die funksie van universiteite – universele instellings, maar tog voortvloeiende uit Westerse teologies-filosofiese tradisies – in die Suid-Afrikaanse konteks, waar die konsep herbesoek sou moes word teen die agtergrond van Afrika se behoeftes en moontlikhede. Dit sal egter nie gebeur nie, want dit sit nie in Suid-Afrika se Hoër Onderwys-broek nie. Moet ons dan nie ten minste probeer sorg dat die kind wat empiries ontstaan het, en in Stellenbosch Kombuistalig was, nie saam met die badwater van politieke gedienstigheid weggesmyt word nie?
Indien dit so sou wees dat daar nie meer voldoende aanvraag vir Afrikaans by u Kakiebosch Universiteit is nie (Hermann Giliomee se tabelle weerlê hierdie drogpersepsie oortuigend – maar ons weet mos almal hoe mens deur die vrae reg te plooi by die antwoorde kan uitkom wat mens wil hoor) – hoe het dit gebeur?
Vergun my om die metafore so effens te versit – “digters” dink nou eenmaal in vergelykings: u ideologie van pragmatisme herinner my aan die fris kêrel wat sy ma en pa vermoor het en nou by die hof pleit om vonnisversagting uit hoofde van die feit dat hy ’n weeskind is …
In alle opregtheid dink ek dat u voorgestelde praktyk (bepaal deur die besluitnemers aan die universiteit, in oorleg met geselekteerde drukgroepe, sommige van hulle studente) die voortsetting is van die sogenaamde “bevrydingsbeweging” se behoudende, selfs reaksionêre beleid wat al lank ontluister is elders – te wete, ’n dirigisme in diens van ’n totaliserende en hegemonistiese projek. Te lande word dit die Nasionale Demokratiese Revolusie genoem (hoe verkneukel Orwell hom nie!), maar dis slegs ’n Stalinistiese “kultuur” uit die ou doos wat lankal leeg gesteel is.
Dit is miskien nie u persoonlike oorweging nie. As ek vir ’n oomblik my sterk partydige renons in “Stellenbosch” mag laat sien soos ’n onderrok: ek sou reken dis baie van u se hartewens om realistiese, fasiliterende idiote te wees in diens van historiese skuldedelging, met ’n traan van nostalgie vir die vervloë tyd van die boereplaas, die gansveer en die kleindorpsaand. Die gevolg daarvan is die daarstelling van ’n kaste van ootmoedige ivoortoringmandaryne wat skynbaar nie wegskram van intellektuele en doodgewone ongerymdhede nie. Dis tog hoe ons driebeenvolkie is: die een voet keurig geskoen in geveinsheid, die ander in sentimentalisme, en die “middelbeen” van verterende eiebelang wat ons probeer wegsteek.
Ek glo die oneerlikheid waarmee daar omgegaan word met basiese feite en statistiek, die valse manipulering van tendense om dan by voorafbepaalde konklusies uit te kom, die vernedering dat u instelling herhaaldelik deur hofbesluite gedwing moet word om woord te hou … dat al hierdie dinge gaan maak dat selfs die Baälsgod van Bestuur nie sal kan verseker dat die universiteit die internasionale aansien wat deur ’n Angel-Saksiese wêreldorde van kapitalisme geborg word, sal kan bereik en behou nie.
Want sien u: al dra ’n aap nou ook ’n goue ring, bly hy maar ’n kommin boereverneuker.
Dis die één ding wat my kamerade in die Vryheidsbeweging my geleer het: Wat laat jou dink dat jy mý respek waardig kan wees net omdat jy jou eie mense verraai het? Eens ’n oorloper altyd ’n oorloper.
Wat veronderstel dat ons tot ’n gedeelde begrip kan kom oor wat met “eie mense” bedoel word.
Wat my betref: hulle teen wie daar gediskrimineer word omdat hulle te arm is om aanvaar te word aan die hedonistiese universiteit wat net ingestel is op die voortsetting van sy “meerderwaardigheid”. Hulle, nou al hoe meer, wat gegroei het uit die kreolisering van wortelskiet; hulle in wie die voorsate se tale vervloei het in één uiting van baie tonge om die oorgange en die ruimteskepping van beweging te mag sing.
Ek is seker, geagte professor Van Niekerk, dat dit die begin van ’n lang gesprek is.
Hoogagtend
Breyten Breytenbach
US-taalbeleid: Ope brief aan Breyten Breytenbach
Anton van Niekerk "Die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word." |
'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid
Breyten Breytenbach "Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?" |
The post US-taalbeleid: Breyten Breytenbach reageer op Anton van Niekerk se brief appeared first on LitNet.