Anthony Pym het verlede week ‘n lesing op Stellenbosch gelewer met die titel: The role of translation in language policy.
Hy is ‘n interessante persoon, gebore in Perth Australië en tans professor in Vertaalkunde aan die Rovira i Virgili Universiteit in Tarragona, Spanje. Die amptelike taal van die universiteit is Katalonies, maar Spaans en Engels word ook gebruik. Hy is president van die Europese Vereniging van Vertaalkunde en ook buitengewone professor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Hy word beskou as een van die huidige rigtinggewers in die vertaalkunde en is minstens vyf tale magtig.
Die volledige lesing kan hier gevolg word:
Pym het aan die begin sy belange as buitengewone professor aan US en ook as vertaler verklaar. Hy wou dus nie kommentaar op die taalkwessie by US lewer nie, maar het wel verwys na sy ondervinding in ander en vaagweg soortgelyke situasies. In Spanje word, benewens Spaans (die lingua franca) ook Katalonies, Baskies en Gallisisies gepraat. Hy het veral gewag gemaak van die opkoms van die Baskiese taal. Waar dit in 1979-'80 bygedra het tot ’n burgeroorlog, geniet Baskies deesdae ongekende groei, ook as akademiese taal. Dit word toegeskryf aan ’n liefde vir die taal wat onder meer deur eie televisiekanale met kinderprogramme gekweek word.
Dieselfde geld Katalonies, die taal waarin Pym doseer. Al is daar minder as 10 miljoen Katalaanse sprekers, bestaan daar ’n maatskaplike wil ("social will") om die taal te bevorder. Aan sy universiteit is die bywoning van taalklasse in Katalonies gratis. Hy noem dat daar selfs in Australië ’n aktiewe Kataloniese gemeenskap is.
Pym verduidelik die verskillende metodes om kommunikasie in ’n multikulturele samelewing aan te help:
- Amptelike vertaling, tolking
- Gebruik van lingua franca (Engels, Spaans)
- Weersydse begrip ("intercomprehension" - een persoon praat Spaans, die ander Duits, maar hulle verstaan mekaar)
- Internetgebaseerde video's met byskrifte, bv YouTube
- Vertaaltegnologieë
Hy verduidelik die begrippe insluiting ("inclusion") en mobiliteit ("mobility"). Insluiting het te doen met die mate waartoe die luisteraar die spreker verstaan en mobiliteit het te doen met die diversiteit van die gemeenskap (studente moet kan rondbeweeg tussen universiteite en oor die wêreld heen). Die twee begrippe werk teen mekaar en die ideaal is om die regte mengsel van bogenoemde hulpmiddels te kry waar beide insluiting en mobiliteit so hoog as moontlik is. Vertaling en tolking is ‘n korttermynoplossing en is duur. Op die langer termyn is taalverwerwing meer koste-effektief.
Ten slotte is dit duidelik dat, hoewel Pym hom nie oor Stellenbosch se taalkwessie uitgespreek het nie, hy ’n sterk pleidooi vir veeltaligheid gelewer het (“... discover the plurality of languages around you”). Hy is ook nie ten gunste van vaste reëls van taalgebruik nie, maar verkies eerder ‘n meer spontane oorgangsproses, indien nodig.
Hieronder is 'n YouTube-video wat nie deel gevorm het van Pym se lesing nie, maar slegs hierby ingevoeg word om 'n aanduiding te gee van hoe die Kataloniese taal klink:
The post Anthony Pym se lesing: The role of translation in language policy appeared first on LitNet.