Geagte mnr Breytenbach
Ek verwys na u ope brief aan prof Wim de Villiers, die US Rektor. Ek skryf hierdie reaksie nie op sy versoek of namens enigiemand behalwe myself nie. U boeiende ope brief het my opnuut onder die indruk gebring van hoe verskillend die verwysingsraamwerke is van waaruit ons na Stellenbosch se “taalprobleem” kyk, en hoe ver ons gevolglik by mekaar verby praat. Omdat ek sulke hoë agting vir u as digter en denker het (ek weet die gevoel is nie wedersyds nie), en omdat ek Afrikaans ook lief het en waarde heg aan diversiteit, wend ek nog hierdie een poging aan om te kyk of ons nie ‘n bietjie meer gemene grond kan vind nie. Ek sal daarby moeite doen om saaklik te skryf en my te weerhou van persoonlike opmerkings.
U maak ʼn groot aantal geldige punte: onderrig in Afrikaans sal bydra tot meer konstruktiewe diversiteit in Suid-Afrika; dit is baie ironies dat inklusiwiteit en diversiteit skynbaar bevorder wil word deur medium van die koloniale taal, Engels; egte universele betekenis kan en is meestal gegrond in die oopskryf van dit wat plaaslik of partikulier is, en dergelike meer. ʼn Baie goeie punt wat u dikwels in die verlede al gemaak het, en by implikasie ook in die ope brief, is dat taal natuurlik nie slegs ʼn instrumentele waarde of betekenis het nie. Taal het ook ʼn hermeneutiese funksie: dit ontsluit (betekenis-)wêrelde; skep daardie wêrelde soms self. Dit gee ʼn eie, unieke, dikwels onvervangbare toonaard aan die werklikheid wat in en deur die taal tot stand gebring word. Ons beleef ʼn Karoodorp op ʼn someraand op ʼn gans unieke wyse via Van Wyk Louw se besondere gedig met dieselfde titel, en daarmee of daardeur ontdek ons iets wat geldig is vir alle mense. “Hoe diep my liefde vir jou lê” word deur Boerneef omskryf met hoë kranse en ʼn berggans en ʼn veer wat val – almal plaaslik, maar die insig wat dit bring, geld oral. En slegs Afrikaans kan dit met dieselfde trefkrag sê.
Nie een van laasgenoemde argumente is, wat my betref, in dispuut nie; ek gee hulle almal met akklamasie toe. Die probleem wat ʼn hersiening van die US se taalbeleid tans genoodsaak, is egter ʼn heeltemal ander kwessie. Daardie kwessie is die konkrete vraag: hoe kommunikeer ons ten beste, en met die grootste (ook koste-)effektiwiteit met die studente wat elke dag ons klasse sit? U moet tog insien dat dit ʼn ander, baie meer praktiese probleem is. Terwyl ek en u kan saamstem dat taal nie slegs ʼn kommunikasiemiddel is nie, kan u tog nie ontken dat dit óók ʼn kommunikasiemiddel is nie. Ons praat en kommunikeer in klasse. ʼn Fundamentele aanname van laasgenoemde aktiwiteit is dat as ons dit doen, diegene wat ons aanhoor, sal verstaan wat gesê word.
Die koue, harde, vir baie alumni skynbaar amper onverstaanbare werklikheid van die huidige studentekorps op Stellenbosch, is dat dié groep wat Afrikaans kan verstaan, asook die groep wat Afrikaans as onderrigtaal verkies, jaar na jaar kleiner word. Alle navorsing wat in die jongste tyd daaroor gedoen is, dui dit onomwonde aan. Die werklik onthutsende besef waartoe al hoe meer dosente kom, is dat ook in die gevalle waar studente hul huistaal aandui as Afrikaans (en laasgenoemde is reeds ʼn krimpende minderheid op die kampus), ʼn baie groot persentasie van laasgenoemde groep Engels in die klasse verkies.
Ek het in ʼn vorige artikel probeer aandui hoekom dit so is; ek gaan nie weer nie; die redes daarvoor is tans merendeels anekdoties. Mnr Breytenbach, hoe nou gemaak as diegene met wie jy in Afrikaans wil kommunikeer om al die pragtige ideale te bereik wat u aanprys en wat ek hierbo as legitiem erken het, feitlik deur die bank (soos veral in ons klasse in Lettere en Sosiale Wetenskappe) dit duidelik maak dat hulle nie Afrikaans wil hê nie, en in al hoe meer gevalle aandui dat hulle Afrikaans glad nie verstaan nie (of baie swak verstaan)?
Een manier om laasgenoemde probleem aan te spreek is parallelmedium; bied elke klas in albei tale aan (deel van die opsies in die huidige en voorgestelde beleid). Goed en wel; parallelmedium kan werk as daar genoegsame belangstelling voor is. Ek kry die indruk dat in sekere fakulteite (byvoorbeeld Ingenieurswese en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) parallelmedium al met groot sukses aangebied is. By ons in Lettere en Sosiale Wetenskappe is die ervaring anders. Nie alleen is effektiewe parallelmedium waar dieselfde dosent albei klasse waarneem de facto onmoontlik vanweë die komplikasies van ʼn oorvol rooster nie, maar daar is talle voorbeelde van Afrikaanse klasse wat parallel met Engels aangebied word waar geen enkele student opdaag nie! Die beskuldiging dat Engels op studente “afgeforseer” word, is van alle waarheid ontbloot; Engels word op aandrang van die studente gebruik! (Dit is natuurlik ook so dat al hoe meer nuwe dosente nie Afrikaans magtig is nie – ʼn amper noodwendige implikasie van die soeke na die beste beskikbare personeel).
Nogtans, sou u oplet, is parallelmedium steeds deel van die nuwe voorstelle vir die US-taalbeleid. So probeer ons ons bes om Afrikaans aan die gang te hou. Ek het dit al gesê en ek sê weer: hoewel ek nie namens die US kan praat nie, is ek oortuig daarvan dat indien daar genoegsame blyke van ʼn wesenlike behoefte aan onderrig in Afrikaans vanuit die studentegemeenskap kom, die US alles moontlik sal doen om sulke behoeftes aan te spreek. Is dit nie egter veelseggend dat ons so min van die studente oor hierdie saak hoor nie? Is dit nie opvallend dat al “studentestem” ter ondersteuning van u standpunt dié van AfriForum-jeug is nie – ʼn organisasie wat duidelik slegs ʼn klein groepie studente verteenwoordig?
Ek hoop u verstaan nou waarom ek aanvoer dat ons by mekaar verby praat. Ons doen dit omdat ons oor verskillende probleme praat – u oor die toekoms van Afrikaans (waarvoor, in alle billikheid, die US darem nie alleen verantwoordelik gehou kan word nie), en ek oor die haalbare en effektiewe praktyk van taalonderrig op die kampus.
Ek hoop van harte dat Afrikaans in die toekoms ʼn perd sal wees wat ons kan bly ry op Stellenbosch en in Suid-Afrika. Baie keer, egter, vanweë die tanende belangstelling in Afrikaans onder US-studente, voel dit soos ʼn sterwende perd wat gelooi word om regop te bly. Hoekom beveg ons mekaar nie minder en praat liewer konstruktief saam oor hoe om daardie perd sonder geweld nuwe lewe te gee nie?
Anton van Niekerk
Professor in Filosofie
Universiteit Stellenbosch
16 April 201
'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid
Breyten Breytenbach "Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus?" |
The post US-taalbeleid: Ope brief aan Breyten Breytenbach appeared first on LitNet.