Die ope brief van mnr Breyten Breytenbach aan prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), wat op 11 April 2016 deur LitNet gepubliseer is, asook die berig in Die Burger (Breyten lei nou drukgroep oor taal) van 14 April 2016 het betrekking.
Die US is midde-in ’n proses om sy huidige taalbeleid te hersien. Die proses het in Februarie vanjaar begin en die eerste konsep van ’n voorgestelde nuwe beleid is op 22 Maart vir kommentaar uitgereik. Hierdie konsepbeleid is deur die Taalhersieningswerkgroep saamgestel en is beskikbaar by http://www.sun.ac.za/taal.
Studente, personeellede en alumni is per e-pos genooi om algemene én/of spesifieke kommentaar te lewer. Dit staan enige individu of organisasie vry om ook insette in te stuur. Voorstelle hoef nie tot die konsep-beleid beperk te word nie. Alle voorstelle sal oorweeg word. Die sluitingsdatum vir insette is 22 April.
Ná hierdie rondte beraadslaging word ’n tweede konsep-beleid saamgestel wat by die fakulteitsrade voorgelê sal word. Op grond van die insette en voorstelle wat hieruit voortspruit, sal ’n basisdokument by die Institusionele Forum en die Senaat ter tafel gelê word voordat ’n finale konsep op 22 Junie vir goedkeuring by die Universiteitsraad sal dien. Die Universiteit se Statuut bepaal dat die Raad met instemming van die Senaat die taalbeleid van die instelling bepaal.
Om hierdie prosesse hulle hul gang te laat gaan en nie enige uitkomste vooruit te loop nie, verkies die Universiteit om nie in hierdie stadium in ’n openbare debat betrokke te raak nie.
Mnr Breytenbach se skrywe sal deurgegee word aan die Taalhersieningswerkroep tesame met alle ander voorstelle wat ontvang word. Enigeen wat insette wil lewer kan ’n aanlynvorm op die webblad by www.sun.ac.za/taal voltooi, of kommentaar stuur na taal@sun.ac.za.
Susan van der Merwe
Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch
The post US reageer op Breyten Breytenbach se ope brief: Hersiening van die US-Taalbeleid appeared first on LitNet.