Die Kaapse rockgroep Black Sugar het pas hul debuut-EP vrygestel en die tonge is los oor hul skerp liedere, klipharde rockklanke en hoofsanger Leandri Minnie se oorrompelende stem. Leandri beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Leandri. Hoe's dinge?
A little to the left!
Geluk met die uitreiking van Black Sugar se debuut-EP! Dis die soort debuut wat ’n mens nogal vol tussen die oë tref met die klipharde instrumentwerk, slim melodielyne en bliksems lekker vocals. Vertel eers – wat is die storie van Black Sugar? Hoe het julle bymekaargekom en hoekom/hoe het julle besluit om hierdie tog aan te pak? In watter mate is dit ’n "passieprojek" vir ruk-en-rol, of beplan julle al aan oorsese toere op ’n privaatstraler?
Matthew en Chris het Black Sugar ’n hele paar jaar gelede begin. Die idee was om musiek te maak vir onsself, waarna ons self wil luister. Ons het ’n baie spesifieke smaak gehad waarvan ons nie genoeg gekry het nie, en soos elke lid aangesluit het, het hierdie smaak vorm aangeneem tot die uiteindelike eindproduk. Dit sal altyd ’n passieprojek bly, maar terselfdertyd streef ons daarna om ’n produk te lewer wat in terme van oorspronklikheid en professionaliteit van ’n internasionale standaard is.
Die debuut bevat ses snitte, en dit is ses besonder uiteenlopende werke! "Not done yet" is reeds ’n rukkie aanlyn beskikbaar, en dis werklik verfrissend om te hoor hoe die ander snitte – veral "Whiskey and wine" en "Through the mirror" – getuig van diversiteit in hoe julle die skep van liedere aanpak. Hoe werk daardie liedskepproses onder die lede van Black Sugar, vandat die eerste akkoord gespeel is tot die laaste woord neergepen is? Hoe besluit julle wanneer ’n liedjie "reg" is? Wat is dit wat ’n lied góéd maak?
Die meeste van ons liedjies begin met ’n eenvoudige “hook”. Dit is gewoonlik Matthew wat hierdie proses afskop. Hy vat gewoonlik die eerste weergawe na Chris, wat ’n ja- of nee-antwoord gee. As die snit hierdie proses oorleef, sal die ander lede hulle insette in terme van hul eie instrumente gee totdat daar ’n instrumentele weergawe is waaroor ons almal goed voel. Byvoorbeeld, as Luke die dromme neerlê, sal dit gereeld die gevoel van die lied verander, en so begin ons dikwels weer met die proses van voor af. Chris sal dan die pen en papier aanvat (hy skryf die meeste van die lirieke). Dit is hier waar hulle gewoonlik vir my dan sal nader, en saam sal ons dan aan vokale melodieë werk. Ons is gereeld nie gelukkig met die eindproduk nie, en dan sal ons of van voor af begin met die ingewikkelde proses, of dit net weggooi. As die liedjie nie die nodige attitude het nie, gooi ons dit ook weg.
Soos genoem, is die vokale werk op al die snitte iets om te beleef. Wat is jou sangagtergrond en hoe het jy tot op ’n punt gekom waar hierdie bykans vintage blues-rock die platform is waarop jy jou stemvermoëns wil uitleef? Is jy die melodieskepper in die groep, of vat jy eerder ’n basiese lyn en druk jou eie stempel daarop? Hoe sal jy nog verder jou stemvermoëns wil uitdaag en verskerp?
Ek het op vierjarige ouderdom begin sing, net omdat ek wou doen wat my suster doen. Vir die eerste drie jaar moes my sangonderwyser saam met my op die verhoog staan, anders het ek weggehardloop. Dit het gevorder tot sangkompetisies (ek en my suster). Die grootste kompetisie was die South African Championships, waar ek besef het dat my sterkste genre rock en blues was. Hierna het ek vir die eerste keer my klassieke agtergrond verlaat en contemporary lesse begin neem. Ek het eers drie jaar afgevat om my graad te kry, voordat ’n vriend my stem opgeneem en vir Matthew en Chris gegee het (sonder dat ek daarvan geweet het).
Ons almal werk aan die melodies totdat ons almal gelukkig is met die eindproduk. Ek wil my stem op ’n vlak kry waar ek gemaklik voor duisende mense op ’n groot verhoog kan speel, en met die hulp van my bandmates se invloed en kritiek net beter kan raak in wat ek doen.
Met die ruk-en-rol is dit natuurlik ’n relatief besige genre waarin julle julle begeef as Black Sugar, in terme van die aantal bands wat plaaslik stoei vir plek op verhoë by venues en feeste. Het julle van die begin af besluit julle moet sekere roetes volg met die musiek om iets anders te bied of uit te staan bo die res? Wat is die denkrigting van die groep in terme hiervan? Wat geld as uniek, en hoe balanseer ’n mens dit met radiovriendelikheid/toeganklikheid? Of is dit kwelvrae wat julle nie veel skeel nie?
Soos voorheen genoem, streef ons van die begin af na ’n vars, unieke en professionele produk. Dit behels nie net die musiek nie, maar ook die estetiese aspek (kunswerke) wat saam met die musiek gaan. Ons is gelukkig genoeg om ’n animator in ons midde te hê, dié dat ons so baie kunswerke het wat die musiek komplementeer. Uniekheid is as jy na ’n produk kan kyk of luister en iets voel wat jy nog nie voorheen gevoel het nie. Ons glo in hierdie sin skep ons musiek en beelde ’n unieke kombinasie van gevoelens, en as dit goed genoeg is vir ons, behoort dit goed genoeg te wees vir die radio.
Gepraat van die gestoei vir venues en feeste – die Suid-Afrikaanse musiektoneel is beslis nou op ’n interessante plek, met die onlangse wegkwyn van MK en talle ander elemente in ag genome. Hoe beskou jy die ''toestand'' van die toneel, en ook die bedryf? Wat suig daaromtrent, en wat is cool? Hoe sal jy graag die posisionering van Black Sugar daarin wil sien? Hoeveel van ’n nuwe band soos julle se beplanning moet ingaan by die noodwendige bedryfkant van dinge, of hoe benader julle dit?
Dit is definitief ’n rowwe bedryf, en die bargaining power van musiekgroepe is besig om al hoe minder te raak met venuebestuurders wat die meeste van die sê het oor reëlings en betaling. Die vergoeding wat musiekgroepe kry vir baie ure se harde werk is definitief nie regverdig nie. Dit is wel verfrissend om te sien dat daar ’n handvol groepe is wat dit regkry om brood op die tafel te sit met musiek.
Ons sal baie graag een van die groepe wil wees wat sukses kan behaal in ’n bedryf waar harde werk en ’n goeie produk nie noodwendig altyd die bepalende faktor is nie. Dit sal ook great wees as ander groepe saam met ons hierdie sukses kan deel deur soveel as moontlik te collaborate en saam met ander groepe te werk soos wat ons kan. Ons beplanning in terme van die bogenoemde is juis dit – baie beplanning. Ons spandeer baie meer tyd aan ons algehele produk as om geraas te maak in ons jam room – soos Chris se animations en kunswerke – sodat ons die musiek se reach kan maksimaliseer, en sodoende ons geleenthede maksimaliseer. Die ideaal sal wees om te kan wegbeweeg van al die admin wat tans in die bestuur van ons band betrokke is sodat ons kan fokus op die proses van musiekmaak, want dit is op die ou einde wat ons dryf.
Op Black Sugar se Facebook-blad is ’n interessante lysie invloede – van Rival Sons deur tot by Aretha Franklin en dan ook ’n plaaslike man in Dan Patlansky. Hoe voel jy en die res van die groep oor die balans tussen "leen" by invloede en iets totaal oorspronklik skep (indien so iets moontlik is)? Ek raak dalk nou bietjie filosofies daaroor, maar met soveel wonderlike musiek wat ’n mens oor die jare inneem, kom daar seker tye wanneer ’n mens wonder of hierdie wat jy nou doen waarlik oorspronklik is? Of dink jy tye is nou anders, in terme van ’n breër staan-op-die-skouers-van-reuse-element, waarin ’n mens aanvaar yster slyp yster en alles in ruk-en-rol is ’n produk en uitvloeisel van ditself?
As mens iets kan leen van invloede wat jou eie oorspronklike produk nog beter maak, sal dit dom wees om nie so te maak nie. Solank die invloed een is wat ons almal geniet, sal ons dit aanhou doen. In verband met musiek in die verlede: ek is seker jy sal ander groepe kan vind wat soortgelyke liedjies geskryf het, maar die blote feit dat ons vyf dit bymekaar gesit het maak dit steeds uniek. Van die mees geliefde musiek is covers ... van covers.
Op ’n minder ernstige noot, wat is van die hoogtepunte van Black Sugar se relatief kort loopbaan tot dusver vir jou? Wat was die moeilikste uitdagings verbonde daaraan om ’n nuwe band van die grond af te kry vir jou? Wat, indien enigiets, het jou verras of hou aan om jou te verras hieromtrent?
Die hoogtepunt tot dusver was die terugvoer wat ons gekry het op die eerste enkelsnit, "Not done yet". Dit is die eerste keer dat ek deel is van ’n band, en sover was die feit dat alle besluite as ’n groep geneem word, verrassend lekker.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Black Sugar, in soverre jy/julle dit kan beheer?
Ons beplan om binnekort die verhoog aan te vat om ons EP nog meer blootstelling te gee, en na dit sal ons begin werk aan ons eerste vollengte-album, waarvoor die musiek alreeds geskryf is!
Wat is die sin van die lewe?
Om dinge te doen wat so lekker is dat jy elke oggend wil opstaan en dit net weer en beter doen.
The post Black Sugar: "As die liedjie nie die nodige attitude het nie, gooi ons dit weg" appeared first on LitNet.