Sêgoed van André le Roux Hoekom het hy oorgeslaan van poësie na prosa? "Poësie sê nie meer vir my soveel, met die klem op sê, as wat prosa vir my sê nie. As ek die inhoud van Sleep poëties moes verwoord, sou dit myns insiens skraler wees. Joan Hambidge (in ’n resensie) sê in elk geval ek kan nie dig nie. Ek dink net sy het reg in die sin dat ek myself sterker tuis voel in die prosa. My poësie was meer ’n ... nou ja, wat dit ook al was ... maar prosa sê vir meer in dié stadium." (Die Burger, 29 Julie 1987) Die verskil tussen joernalistiek en die skryf van fiksie: "Met fiksie kan ek meer sê as met beriggewing, wat ’n afgeslote wêreld van feite is en waarvan jy nie meer kan maak as wat daar is nie." (De Kat, November 1987) Annari van der Merwe wou weet hoekom hy destyds verkies het om oor die ongure dinge van die lewe te skryf: "’n Skrywer kan net skryf uit twee dinge – uit die bekende en uit die onbekende. Die bekende is wat hy met hom saamdra uit sy kinderdae; die onbekende is waarmee hy te doen kry in sy volwasse lewe." (Insig, Januarie 1988) Le Roux se idees vir sy stories begin by waarneming. “Ek het al begin twyfel of ek ’n goeie verbeelding het. Dan het ek myself maar getroos: miskien is dit nie nodig vir ’n skrywer om ’n goeie verbeelding te hê nie, solank jou waarnemingsvermoë reg is en jy stories kan haal uit oënskynlik geen storie nie. Maar dit begin basies by indrukke.” (Cape Librarian, Junie-Julie 1988) Saam met wie werk hy die lekkerste – mans of vroue? “Dis maar dieselfde. Maar mans praat minder voordat hulle ’n ding doen. Vroue het lankal besluit wat om te doen, dan praat hulle nog daaroor. En ek moet sê: ek’s liewer vir vroue as mans. Mans is so … hoekig – en dan ruik hulle ook nie altyd lekker nie.” (Sarie, 9 Februarie 2000) “Ek het altyd baie gelees, belang gestel in Afrikaans … en êrens langs die pad, toe ek so in standerd agt was, agtergekom ek kan skryf. Eers ’n enkele sonnet, wat ek later weggegooi het – vrot – en toe, in matriek, ’n digbundel nadat ek een vakansie met ’n meisie in ’n rooi kolletjiesbloes in die motel op Struisbaai gedans het. Ons het niks gepraat nie.” (Sarie, Februarie 2007) Waarin lê die kuns van selfspot? “Dis maklik om te sien wanneer iemand anders iets onnosels aanvang. Jy moet dit ook kan raaksien as jy dit self oorkom. Als is tog nie so ernstig nie: jy self ook nie!” (Sarie, 19 September 2001) “Die ding is, ek hou van vroue. Vroue verstaan mos waarom mense liefdesgedigte skryf. En vroue is fassinerend – hulle dryf op ’n see van hormone. Jy leer naderhand wat om te sê en wat nie gesê mag word nie. Die weerloosheid van vroue en kinders gryp my aan.” (Sarie, Februarie 2007) Wat is vir hom aantreklik in ’n vrou? “As sy maklik lag. Haar kinders goed grootmaak, as sy ’n goeie mens is. Daar’s niks aan ’n vrou waarvan ek nié hou nie. Behalwe ’n suur gesig. Of as sy oneerlik en dislojaal is.” (Sarie, Februarie 2007) "Ouderdom is vir my iets uiterliks. Jou hare raak grys, jy kry plooie. As ek foto's van my jonger dae sien, merk ek hoe jonk ek gelyk het, maar ek kan nie my emosies van daardie tyd herroep nie." (Sarie, 24 Februarie 1988) "Ek glo nie ek gaan eendag wanneer ek tagtig is anders voel as nou nie. Maar toe ek vyf was, het ek anders gevoel, want die wêreld was nog onbekend en vreemd. Dit is nou steeds vreemd, maar nie onbekend nie. Dit laat my dink aan die woorde van Napoleon se ouma toe hy homself as keiser gekroon het: 'Alles goed en wel, as dit maar duur'. Dit klink miskien sinies, maar daar is nie baie in die lewe wat duur nie. Al wat eintlik duur, is die lewe en die bietjie wat jy agterlaat." (Sarie, 24 Februarie 1988) Lewenslesse wat hy oor die jare by die vroue in sy lewe geleer het: "Hulle kan miskien nie ’n konfytpotjie oopdraai nie, maar in alle ander opsigte is vroue die sterker geslag. Hulle kan vrede maak en ’n stukkende wêreld heel. Boonop kan hulle langer aanhou as enige battery." (Beeld, 27 November 2007) |
Gebore en getoë
André le Roux is op 14 Julie 1954 in Bellville gebore. Hy is die jongste van drie kinders van pa Abrie en ma Chrissie. Sy twee ouer susters is Alida en Netta. "My pa het enigiets gedoen – van skoolbus ry tot ’n vis-en-tjips-winkel bedryf – maar die grootste deel van sy lewe was hy betrokke by die oprigting van staalkonstruksies vir geboue. Hy’t my geleer met my hande werk – kan ’n spyker inslaan, twee, drie houe, die laaste twee totaal onnodig,” sê André aan Suzette Truter in Sarie van 9 Februarie 2000.
André word groot op Matjiesfontein, Laingsburg, Franschhoek, Koppies in die Vrystaat en Parow. Hy vertel vir Murray la Vita (Die Burger, 7 Maart 2008) ietsie van hulle verblyf op Matjiesfontein: "Daar is twee dinge van Matjiesfontein wat ek onthou. Die een is, daar was ’n ou tennisbaan waarvan ek onder om die draad reggemaak het, en al my skilpaaie het ek op die tennisbaan aangehou.
"En dan as my susters soggens by die huis uitgaan skool toe, dan gaan ek en my ma veld toe. Dan pak sy vir my ’n vuurtjie – Matjiesfontein raak minus. Die ding wat ek baie goed onthou, is elke paar minute sê sy: 'Ek het werk om te doen; ek kan nie hier bly staan nie!' En dan bly staan sy.
"Tien minute later dan sê sy weer: 'Ek het werk om te doen; ek kan nie hier bly staan nie!' En so het ek en sy vir wat gevoel het na ure, soggens in die veld net rondom die vuurtjie gesit."
Hoewel André eintlik in die stad grootgeword het, is Montagu die plek waarheen hy sal teruggaan as hy aan sy jeug dink. Hulle het gereeld by sy ouma in Montagu gaan kuier en hy onthou Donderdagaande se samekomste van sy ouma en haar vriende baie goed. "Hulle het saam gebrei, gehekel, koffie gemaak en gekuier. Ek het altyd doodrustig daar gesit en die stories van die dorp gehoor. Dit het my miskien ’n oor gegee vir grootmensgeselskap en plattelandse intriges," vertel hy aan Sarie (24 Februarie 1988).
Hy onthou ook dat die ouma op Montagu se broer by haar gebly het. "Die oom was half seniel en het knaend op ’n stoel in die kombuis gesit en vaak word. Slaap mog hy nie, want dan lê hy snags wakker. My ouma het hom wakker gehou deur partykeer ’n skoen langs hom op die vloer te gooi en te sê: 'Jy, word wakker!' My speletjie was om hom raak te gooi, en so wakker te hou.
"Ons is later weer vir ’n naweek Montagu toe. Ek het daarna uitgesien om die oubaas te treiter. Maar toe ons daar kom, was die atmosfeer in sy peetjie, want die oom was besig om dood te gaan. Dit was ’n eienaardige ondervinding. Jy sien nog daarna uit om uit onnutsigheid die oom wakker te hou, en dan gaan hy dood."
In dieselfde Sarie sê André dat hy nie aan ’n spesifieke moment kan dink toe hy "grootgeword" het nie. "Grootword is seker soos ’n bekering. Dit kan óf skielik kom óf geleidelik gebeur. Miskien het dit begin toe ek vier jaar oud was, toe ek by my ouma se begrafnis gehuil het omdat almal gehuil het. Hoewel ek nie besef het wat aangaan nie, kon ek aanvoel hier is nou ’n treurigheid. Ek het haar ’n kort ruk geken – my Swellendamse ouma. Dalk het doodservaring iets met my grootword te doen."
André beskou homself as ietwat van ’n laatlammetjie. Hy word onder vroue groot – sy ma, susters, oumas en sy pa se oujongnooisuster. Hy onthou sy ma as ’n koesterende moeder wat vir hom die emosionele dinge geleer het. Hy is altyd deur sagmoedige vroue gedra en dit is waar hy sy respek vir vroue geleer het.
Nog een van sy herinneringe aan sy kuiers by sy oupa en ouma op Montagu was een van Oukersaand toe almal, ook die kinders, kon wakker bly tot twaalfuur: "My ouma het in die buitestoof koekies gebak – ’n volle dag. Die een dag word die deeg gemaak, en die volgende dag word die koekies gebak. En dié koekies word als uitgedeel aan die bruin mense van die dorp.
"Twaalfuur in die nag dan hoor jy net so ’n ruising, dan loer jy so oor die vensterbank, en dan hoor jy nou hierdie ruising op die stoep ... en dan begin sing hulle ... Kersliedjies. En dan word die deur oopgemaak, en elkeen kry koeldrank en koekies en what have you. Dan is jy ’n klein seuntjie wat daar tussen die grootmense opkyk ... en so." (Die Burger, 7 Maart 2008)
André het in Goodwood gematrikuleer.
Verdere studie en werk
Na matriek is André na die Universiteit Stellenbosch, waar hy met ’n onderwysbeurs begin studeer het. Hy sien egter nie kans vir die Hoër Onderwysdiploma nie, “want onderwysers het vir my so ’n deursnee-dommigheid in hulle” (Cape Librarian, Junie/Julie 1988). Hy doen toe honneurs in Afrikaans en Nederlands.
Na sy studies is hy weermag toe. Dit neem hom na plekke soos Ovamboland, Ladysmith, Pretoria, Bloemfontein en Johannesburg.
Op skool en universiteit stuur André kortverhale aan Huisgenoot, maar dit is nooit aanvaar nie. Van sy kortverhale is egter in Brandwag gepubliseer. In matriek begin hy gedigte skryf en in sy derde jaar op Stellenbosch (1977) word sy digbundel Struisbaai-blues: ’n testament 1973 – Desember 1975 gepubliseer. “Ek het nooit gedink ek gaan ’n skrywer word nie, ek het net iewers langs die pad agtergekom dat ek kan skryf. Daar was niks spesiaals wat my aangespoor het nie.”
Struisbaai-blues word deur die sensuurraad as ongewens verklaar, en dieselfde gebeur met sy volgende boek, Te hel met Ouma!: ’n fotoverhaal (1980). Struisbaai-blues is in 1980 weer deur Human & Rousseau aan die Publikasieraad vir heroorweging voorgelê, maar dit is weer ongewens bevind. Die verbod is later opgehef.
In Die Burger van 28 Julie 1977 het Roy Pheiffer geskryf dat Le Roux se stem in hierdie digbundel nog "gans te veel skryn; die krampagtige gebaretaal moet nog plek maak vir die insnydende wóórd; by die stemmingsvers en liefdesvers lê voorlopig sy sterkste kwaliteite."
Te hel met Ouma!, wat deur Taurus uitgegee is, is deur JP Smuts beskryf as ’n "kort eksperimentele roman waarin hy doelbewus en soms opsetlik afwyk van tradisionele vertelgnieke" (Die Burger, 2 April 1981).
Smuts het sy resensie as volg afgesluit: "Le Roux se werk het nog nie tot ’n bevredigende en oorspronklike geheel geword nie, maar dit verbaas ’n mens nie by ’n beginner nie. Belangriker is die belofteryke onderdele wat verwagting vir die toekoms skep. Op die duur is dit enkele tonele in hierdie roman wat ’n mens bybly en nie die monstering van tegnieke nie."
Dorothea van Zyl (Beeld, 23 Maart 1981) som Te hel met Ouma! as volg op: "Die basiese gegewe (vir sover dit afleibaar is) handel oor ’n hooffiguur wat ná ’n mislukte liefdesverhouding ten eerste ’n aantal waarnemings doen van dinge wat hy in die nag op straat teenkom. Hy is 'n tipiese outsider-figuur wat nogtans nie volkome buitestaander bly nie. Op die een of ander manier word hy telkens betrek. Dit gebeur veral in sy nadere kennismaking met die groep mense rondom die ietwat sinistere figuur van Ouma, ’n persoon wat haarself besig hou met die okkulte, kaartlesery ensovoorts."
Vir Van Zyl is een van die pluspunte in die roman die humor en satire, asook die manier waarop die skrywer dit regkry om die drade bymekaar te bring. Wat haar egter gepla het, is die oordrywing en die samehangende langdradigheid.
In 1981 is die verbod op Te hel met Ouma! opgehef en is bevind dat die boek wel letterkundige verdienste het en nie by ’n groot leserskring byval sal vind nie.
In 1980 begin Le Roux as joernalis by Beeld in Johannesburg werk. Daarna is hy vir vyf jaar by Huisgenoot en vanaf 1985 by die Kaapse dagblad Die Burger, waar hy uitblink as teater-, film- en boekkritikus.
In 1984 word hy aangewys as die eerste wenner van die FAK-Joernalistiekprys, wat in daardie jaar ingestel is. Die keurkomitee was beïndruk deur die akkuraatheid van sy beriggewing, sy suiwer en ontspanne beheersing van Afrikaans en sy strewe na objektiwiteit. Hulle bevind dat sy artikels in Huisgenoot ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek gelewer het.
Sewe jaar ná Te hel met Ouma! word André se Sleep vir jou ’n stoel nader gepubliseer. Dit is ’n bundel kort prosastukke wat deur André P Brink in Rapport (13 September 1987) as ’n "opwindende prosabundel" beskryf word.
Brink gaan voort: "Die jongste publikasie stam uit die vorige prosas: die hardegat-joernalistieke opset, die irreverensie, die puntigheid – behalwe dat dit veel keuriger versorg en tot in fyn onderdele déúrgewerk is. (...) Sleep vir jou ’n stoel nader is ’n skitterende bydrae tot ’n prosalyn wat onder andere vanaf Katastrofes oor Liefs nie op straat nie loop, met Jeanne Goosen ook ter sake; en ’n versamelteks wat mens oor en oor kan besig hou."
Ook Sleep vir jou ’n stoel nader is aangekla, maar het darem die sensuurraad se byl vrygespring. Vir André was dit nogal ’n skok toe sy boeke verbied is, want dit is nie iets wat ’n mens sommer verwag nie. Maar al het hy dit geweet of verwag, sou hy nog geskryf het wat hy geskryf het.
In 1988 skryf André ’n eenvroutoneelstuk, Bybie, vir Shaleen Surtie-Richards. Dit word in Johannesburg, Windhoek, Port Elizabeth, Bloemfontein, Kimberley en by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer. In 1993 is hy een van vier skrywers wat gekies word om aan TV1 se Afrikaanse Drama-afdeling se projek Vierspel deel te neem. Elke skrywer (die ander drie was Eleanor Baker, Zirk van den Berg en Melvin Whitebooi) moes ’n draaiboek vir ’n enkeldrama skryf wat op dieselfde basiese gegewe gegrond was. Elke draaiboek sou ’n ander regisseur hê.
André is geruime tyd al lid van die vrouetydskrif Sarie se redaksie en tans is hy eindredakteur en ook ’n gereelde rubriekskrywer, met sy gewilde rubriek Op die vrou af (2003) wat al gebundel is. Sy vorige rubrieke wat in Beeld en Sarie verskyn het, is ook gebundel onder die titels Nou ja toe (2001) en Op die man af (2000).
André se rubrieke in tydskrifte en koerante is heeltemal anders as sy kortverhale. Hy verduidelik aan Murray la Vita (Die Burger, 7 Maart 2008): "Dis líg: dit het ’n bepaalde formáát wat elke keer afstuur na ’n gelukkige einde toe, en dis snaaks. So die bevrediging lê in die humor en in die feit dat mense die humor herken. Ek dink dis baie bevredigend.
"As ek besig is met rubrieke, dan lees ek fyn op soek na idees. En ek kyk en ek luister op soek na idees. Want dís waar ’n rubriek begin; dis waar enige donnerse ding begin: by ’n idee.
"Jy kyk met ander woorde op ’n bepaalde manier na dinge om jou. Jy soek die humoristiese. Jy soek die tipiese wanneer jy ’n rubriek skryf.
"Met hierdie kortverhale (Kom ons sit sommer by die tafel) kyk jy op ’n totaal ander manier na die wêreld. Jy neem anders waar. Jou waarneming is verskerp."
Tydens die Volksblad-kunstefees in 2003 lees Pedro Kruger uit Op die vrou af en dit is so gewild by die publiek dat dit in 2004 ’n volwaardige opvoering word met Sarah Theron en Pedro Kruger en Hennie van Greunen as regisseur.
In 2008 het Hennie van Greunen ook Op die vrou af 2 verwerk en is dit weer deur Pedro Kruger met Jolette Odendaal aan sy sy met groot sukses op die planke gebring. In 2009 is dit in boekvorm gepubliseer. Hulle was ook by Inniebos, en in die feeskoerant het Paul Boekkooi as volg oor die stuk geskryf: "'Musiekteater' sê die opskrif en dís presies wat dit is. Ook so ietwat kabaret-agtig – sou jy die Europese en Latynse invloede byreken. Beste van alles is dat dit op Afrikaans niks van sy aardsheid verloor nie. Hennie van Greunen, Pedro Kruger en Jolette Odendaal sorg voluit dáárvoor.
"Met André le Roux se rubrieke in Sarie as inspirasie, vertel Op die vrou af 2 die verhaal van twee getroudes wat sommer so ’n bietjie van mekaar af weggedryf het. Geensins kwaadwillig nie. Hulle leef net so ietwat te veel in hul eie wêreldjies. Veral hy. Sy weet nog presies hoe om passie op die spoor te kry. Hy nie, en hy reageer nie te wakker op hare nie, of interpreteer dit verkeerd.
"Die show is ook musikaal eweneens ’n polsende duospel waarin Odendaal en Kruger weet hoe om die stembande te laat vibreer vir effekte wat die omvang van die voorstedelike stadsprokie op ’n besondere manier laat tintel met opwinding. Dié twee is só natuurlik op mekaar ingestem, dat hulle aanvoeling vir mekaar totaal intuïtief aandoen. Dit is dan ook dié bestanddele wat die aanbieding by tye so bo sy alledaagse gegewe laat uitstyg. (...)
"Die Le Roux/Van Greunen-teks ontgin die verskillende maniere waarop mans en vroue op dieselfde basiese gegewens reageer en dít is vanselfsprekend die teelaarde vir die slagveld tussen die geslagte. Hulle gaan terug na hul matriekafskeid en dié sekwens wat bestaan uit loslittige gebaljaardery waarin mimiek en ander vorms van fisieke teater tot hul uiteinde gevoer word, styg dan bepaald uit as een van die komiese hoogtepunte van Op die vrou af 2. (...)
"Maar humor in al sy fasette is presies dit wat hiervan ’n treffer in eie reg maak. Mag die professionele driehoeksverhouding tussen Kruger, Odendaal en Van Greunen lank bly floreer!"
In 2001 is André een van die finaliste vir die Mondi-toekenning vir sy Op die vrou af-rubrieke en in 2003 is hy die wenner van die Mondi-toekenning vir dieselfde rubrieke. Hy is ’n kategoriewenner vir die Media24-prys vir joernalistieke uitnemendheid in 2003/2004 en in 2004/2005 word hy aangewys as die beste rubriekskrywer en palm hy die Media24-prys in, ’n eer wat hom weer in 2006 te beurt val. In 2006 word hy ook aangewys as Media24 se Joernalis van die Jaar en die streekwenner van Vodacom se Joernalis van die Jaar.
Hy publiseer in 2008 Kom ons sit sommer by die tafel by Human & Rousseau. Dit is ’n bundel kortverhale waarin Sleep vir jou ’n stoel nader ook volledig opgeneem is. In ’n onderhoud met Murray la Vita in Die Burger (7 Maart 2008) vertel André dat die storie van die babadogtertjie, Khensami Mitileni, wat in 2006 in Johannesburg doodgeskiet is, die impetus agter die bundel was en dat dit hom diep geraak het. "Primêr gaan die boek vir my oor die geweld teen kinders. Jy weet, dit is een van daardie onvergeeflike dinge wat elke dag gebeur. En dis asof die werklikheid die boek agtervolg.
"Ek het pás die storie van Khensani klaar geskryf wat op haar ma se rug doodgeskiet is van alle plekke ... toe skiet hulle vir Daniellé Esterhuizen dood op haar ma se skóót. Dis half ondenkbaar. En dit hou net áán en áán en áán ..."
Joan Hambidge resenseer hierdie bundel in Die Burger van 24 Maart 2008 en skryf: "Die tekste van André le Roux was nog altyd in omstredenheid gedompel. (...) Deur grensverskuiwings. Deur tekste wat die werklikheid uitdaag, beskryf en na ons terugkaats sodat die leser ongemaklik voel oor geweld, machismo en ongeregtigheid. (...)
"Le Roux het met Sleep vir jou ’n stoel nader – wat weer in hierdie bundel opgeneem is – die sogenaamde new journalism in Afrikaans ontgin. As voormalige joernalis by Huisgenoot het hy verhale geskryf na aanleiding van werklike gebeure: ’n opehartoperasie op ’n kind, ’n besoek aan ’n lykshuis, die naglewe ... (...)
"In hierdie ryk geskakeerde bundel ruk Le Roux jou oudergewoonte aan die keel met sy vonkprosa. Hy skryf ’n eerste verhaal wat minimalisties afgeweeg is rondom ’n weduwee Celliers se eensaamheid en haar huishulp. Die tweede verhaal is oor dieselfde Beauty: gebaseer op ’n koerantberig in Die Burger van 6 Januarie 2007. Welvaart en armoede; Madam en bediende word teenoor mekaar afgespeel en die leser voltrek die eintlike verhaal in die gemoed.
"'Deur ’n loergaatjie' is ’n gelade, skokkende verhaal wat inspeel op die gegronde vrese van die daaglikse bestaan in Suid-Afrika: selfs die behulpsame nutsman moet gewantrou word. Dit word gesinkopeer met dokumente soos ’n doodsberig oor PW Botha, ’n rasseklassifikasie en ’n Akte van die Suid-Afrikaanse Weermag wat die leser laat intuimel in die niemandsland tussen die ellende van die ou en die nuwe Suid-Afrika.
"Dit is ’n ruimte van ontheemding, onsekerheid, geweld, brutaliteit en ’n versugting na ’n ruimte van rus. Al dié toestande verken die skrywer met sy priemende blik. Hy is ’n Isherwood met ’n videokamera wat oral ingaan en afneem. (...)
"Vele van die tekste speel met outobiografiese gegewe, of dít wat ons meen herkenbaar of realiteitsfiksie is. Wat is teks? Koerantberig, FAK-program, dokument, brief word alles verhaal. Die invloede van Raymond Carver se dirty realism is hier te lese, asook die verbluffende kortkuns van Dave Eggers, wat soos Le Roux ’n verhaal skryf wat tussen gedig en kortverhaal geanker is. Charles Bukowski praat saam en die ouer en nuwe bundels word ’n tweeluik: een vorm van geweld word vervang met ’n nuwe aanslag. Die styl is gestroop, die effek afgeweeg, bykans asof jy ’n prosagedig lees. Hoekom is daar soveel verlore kinders? Op die dag dat Khensani Mitileni se moordenaars gevonnis is, verskyn dié boek oor ’n gemeenskap waar kinders geen beskutting het nie. Die bundel praat met Ingrid Jonker se 'Die kind', oor die ellende wat nie end kry nie. Dit is tekste van paranoia. ’n Allamagtige boek. Grensverskuiwend goed. Te hel met al die middelmatige prosa wat tans in Afrikaans verskyn!"
Gunther Pakendorf (Rapport, 5 Mei 2008) is eweneens beïndruk en hy sluit sy bespreking as volg af: "Kom ons sit sommer by die tafel is soos ’n mosaïek wat uit talle flitsligbeelde bestaan. Tesame bied dit ’n ontnugterende blik op die daaglikse werklikheid van die Reënboognasie. Dis boeiend en vernuftig. Dit laat jou regop sit en hard dink – as jy nie in jou ontbyt verstik het nie."
Oor Kan ek maar aan jou selluliet vat? wat in 2010 uitgegee is, skryf Riana Scheepers in Die Burger dat dit amper te goed is om waar te wees dat ’n verhoudingsgids geskryf is deur ’n man wat nie ’n kenner of seksuoloog is nie, maar ’n "boerklong" wat van vroue hou. En dat dit ’n goeie ding is dat dit nie ’n seksgids is nie, maar ’n verhoudingsgids.
Johanna van Eeden gee in Beeld van 17 Januarie 2011 haar mening oor hierdie verhoudingsgids van André le Roux: "Op die rugkant van die boek word dit beskryf as 'Die Kook & Geniet van intieme verhoudings'. Gee dit dus met vrymoedigheid vir die pasgetroude as huweliksgeskenk, saam met SJA de Villiers se immergroen kookboek. Diegene wat graag in die kombuis woel vind metterjare hul gunsteling-resepte.
"Kan ek maar aan jou selluliet vat? is ’n verhoudingshandboek soos daar nog nie voorheen werklik in Afrikaans bestaan het nie. Die krag daarvan lê in die gesprek wat dit in verhoudings kan losmaak. Verskillende mense (met dieselfde hormone) sal verskillend dink daaroor. Wat belangrik is, is die dialoog en die sáámdink oor jul verhouding wat dit kan ontknoop. Want, soos ’n wyse man lank gelede gesê het, sommige mense beplan járe aan hul troue en amper niks aan hul huwelik nie."
Le Roux is nie ’n persoon wat lief is om oor homself te praat nie. Hy is egter baie lief om met sy hande te werk en hy kan liries raak oor ’n stuk Oregon-dennehout. In 1992 verskyn sy eerste boek wat nie kontroversieel is nie op die rakke met die titel Huisgenoot Doen-dit-self / You do it yourself.
André is getroud met Marté, ’n kunstenaar, en het twee dogters, Petro en Selene, uit ’n vorige huwelik. Marté is sy klankbord – sy lees elke rubriek voor publikasie.
In sy onderhoud met Murray la Vita het André vertel dat hy nog eendag ’n roman wil skryf oor die country-sanger Jim Reeves wat nie regtig dood is nie. Hy het al die eerste hoofstuk en die einde geskryf, maar weet nog nie so lekker van wat tussenin gaan gebeur nie. Wat hy wel weet, is dat Jim Reeves op Montagu aankom, voor die hotel met sy tas. Hy moet egter nog uitwerk hoekom Jim Reeves teruggekom het.
"Ek het waardering vir ou goed, maar ek is happy met die hede."
Publikasies:Publikasies
Publikasie |
Struisbaai-blues: ’n testament 1973 – Desember 1975 |
Publikasiedatum |
1977 |
ISBN |
0798107413 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Te hel met ouma!: ’n foto-verhaal |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0620048298 (sb) |
Uitgewer |
Emmarentia: Taurus |
Literêre vorm |
Prosa |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Sleep vir jou ’n stoel nader |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0798120630 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Huisgenoot Doen-dit-self / You do it yourself |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
0798129255 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Doen-dit-jouself-boek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
— |
Publikasie |
Sarie: Op die man af |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0798140291 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Rubrieke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Nou ja toe 1999–2000: ’n keur uit sy Dinsdag-rubriek in Beeld |
Publikasiedatum |
2001 |
ISBN |
0798141565 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Rubrieke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Op die vrou af: Sarie 2001–2003 |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0798143983 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Rubrieke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kom ons sit sommer by die tafel |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
9780798149242 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Op die vrou af 2 |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798154185 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Rubrieke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kan ek maar aan jou selluliet vat: hoe mans se koppe werk (indien wel) |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624048398 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Essays |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
André le Roux as samesteller:
- Sarie 40 flitsverhale. Kaapstad: Human & Rousseau, 2009
Artikels oor André le Roux op die internet
- Botes, Zani: André le Roux byt vas in hierdie heupvuur
- Du Toit, Anneke: Skrywer praat op fees se vroue-ontbyt
- Green, Phyllis: 5 boekminute met André le Roux
- Kloppers, Jacolette: Spitsvondige André van Sarie sê waar hy rubriek-idees kry
- Lessing, Carel:
- Hansies, Boesakke le Roux se kos
- Skrywer benodig dié wat hul naam krater maak
- Retief, Hanlie: Dié vakman is niemand se troostannie
Artikels deur André le Roux op die internet
- 10 dinge gelyk
- Die aardige nut van literêre pryse
- Aktrise belowe om te swets op verhoog [Trudie Taljaard]
- Alleenskrywer weg van woelige wêreld [Pieter Pieterse]
- André le Roux gesels met die formidabele Sandra Duncan
- André le Roux gesels met Elsa Joubert oor haar jongste roman "Missionaris"
- André le Roux skryf oor PJ Schoeman
- Antoinette Kellerman soek nog steeds na ’n staande ovasie
- Botha oor die "disseksie van ’n Afrikaner-lyk"
- Deur die kombuisvenster [kortverhaal]
- Dit lol met boeke as kinders boeke dra
- Dodelike passiedoders (vir haar)
- Gevierde Elize Botha is op 70 nog ver van aftree
- G'n pienk skoene vir die Nico [Bles Bridges]
- Hulle hang aan 'ant Stienie se bene
- Jan Spies heel ander mens
- Jana het nooit gedink sy sou nie
- Juffrou Berta vlug Mount Nelson toe
- Jy loop altyd vir my weg! [kortverhaal]
- Kersfees en tafeldekkery
- Kruik se nuwe grootbaas gesels reguit met André le Roux
- Los jou hare uit
- Louis Krüger kyk skerp na sy land
- Nuwe tydskrif vir die Akademie
- Ons gewildste skrywer? Ozrovech gesels
- Op die vrou as: Kersfees en tafeldekkery
- "Op sewentig is ek nog goed behoue" [FA Venter]
- Prof Fensham onthou vir veelsydigheid
- Sensors terug uit die berge op soek na prentjies swart-op-wit
- Sny ’n skrywer se ore af en kyk wat gebeur
Bronne:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post André le Roux (1954–) appeared first on LitNet.