Die vrou in Voortrekkerdrag het ongemerk die plein bereik, die gesig diep in die kappie. Soos iemand wat maar altyd op die einder van die wye, sonverskroeide plaveisel aanwesig was. Op die rand van die ruimte waaroorheen mense soms haastig, meestal drentelend beweeg, waar in die middaguur arbeiders kompleet soos gevallenes ‘n uiltjie knip. Waar ontevredenes met tye massale vertonings van woede lewer. Waar die generaal van roestige brons hoog op ‘n voetstuk van sandsteen streng sit op sy hings, karwats in die hand. Maar nie streng genoeg om die morsige duiwe te verwaai nie. Of die kruipende verwaarlosing. Of wat nou aan die gebeur is.
*
Swaar sleep die wolke aan hul skadu’s oor die hellings. Hy blaas die stoom oor sy koffie weg, sy blik roerloos op die Outeniekwaberg. Kyk, dink daaroor na. Hoe kom dit dat hierdie panorama nooit vastigheid kry nie, al het die binnekrag van die aarde die berg al ondenkbaar lank terug hier omhoog gedruk? Omdat die ligval steeds verander, al bly die rotsagtige werklikheid onversteurd? Van ander dinge het hy oor jare geleer om ‘n foto met die oog te neem, ‘n straat, ‘n teiken, selfs ‘n meisie se skouers, die roering van haar borste, om dit dan versigtig te bêre vir wanneer hy dit weer wil bekyk.
Daar is nog sulke plekke. Die stil vloei van die Zambezi by die eindpunt van die Caprivi. En die oorhang met die syferfontein in Kaokoland waarin hy dae moes lê om sy krag terug te kry na die bloedverlies. Maar hier, uit hierdie aarde, is hy gebore, die landskap se emosies is syne. Nooit is dit dieselfde nie.
Jou vyand se vyand is jou vriend. Wie het dit nou weer gesê?
‘n Mens sou maklik kon dink die plasie in die bergkom is ‘n vakansieplek. Wat dit eintlik ook was, vandaar die nuttige geriewe vir die manne. As een van hierdie Slamse nog gedink het jy kan hier kom rondlê, sou hy na vanoggend voordag se drafsessie in vol mondering met die voetpad uit wel vinnig van gedagte verander het. ‘n Klomp groentesmouse en toonbankape noem De Wet hulle. Maar hulle wíl en Al-Kaïda skrik nie om te betaal vir Boere-kundigheid nie. Belastingvry. ‘n Mens behoort respek te hê vir mense wat in hierdie tyd nog vasberade is om alles te wil gee vir hul waardes. En wat is meer indrukwekkend as ‘n wrok van ‘n duisend jaar?
Wanneer De Wet nog maar by sy deur uitkom, spring hulle al om aan te tree op die ongerieflike klein paradegrond om dan netjies na die lesingsaal te beweeg.
Op die tafel lê ‘n arsenaal outomatiese wapens. Lope wat swartblou skitter. Bestaan daar ‘n mooier kleur? Tog eenders, al het die fynbesnaarde instrumente soveel verskillende vorme, bedink deur geniale ontwerpers uit opponerende weermagte?
De Wet se Engels het ‘n oorduidelike rasperig klank wat sy herkoms net soveel as sy van verraai. Tog kan ‘n mens nie genoeg kry van die entoesiasme waarmee hy die een onderdeel na die ander teen die lig hou en die werking uitlê nie. Baie van hierdie jong manne wat so intens luister, is eintlik ook Afrikaans, verstaan hul instrukteurs tot in die kern. Al word hul heiligste emosies oor baie eeue al gekoester in die krultekens van nog ‘n ander taal.
Na die middaggebed trek hy self die proefvoertuig nader. Die son steek, maar so hoort dit. Ook met sweet moet jy leer omgaan as jy akkuraat wil wees wanneer die oomblik aanbreek. Keer op keer word in die verbygaan na die skywe geskiet, Amerikaanse mariniers van karton. Elke keer druk hy die spoed hoër. Keer op keer word van wapens verwissel.
Laatmiddag verskyn die plofstofdeskundige wat vir elke opleidingsessie ingevlieg word. Niks onderskei hom van ‘n netjiese sakeman uit byvoorbeeld Pakistan nie. Sy pak en das is onberispelik. Miskien is dit presies wat hy is, Mohamed Abrini. In sy ander lewe, waar hy ook ‘n ander naam sal hê. Een of meer liefdevolle vroue, dalk ‘n string fyn-opgevoede kinders. Geen druppel sweet verskyn ooit op sy gesig nie. Sy modieuse skoene blink asof stof nie bestaan nie. Al spreek hy die woord “booby trap” snaaks uit, is daar niks grappigs aan sy kennis nie. Eintlik ontbreek alle humor. Wat kan daar ook snaaks wees aan die lyfband met die houers en die ontstekingstelsel op die tafel. Wanneer die manne een vir een na vore kom om dit aan te pas en ‘n entjie daarmee te loop, die plofstof vervang met sandsakkies, is dit met heilige ontsag. Vir die hoogste rite van die djihad. Sou Mohamed se vroue met oorgawe bereid wees om die bom onder die boerka te dra as die oproep kom? Swanger word aan die hoogste doel? Die lesing loop direk oor in die aandgebed.
Teen etensparade hang daar ‘n skerp klein sekelmaan bo die berg, waaroor ‘n mistigheid toegesak het. Die naweekkamp is verby.
*
Veel van ‘n restaurant is dit nie, maar dit beloof darem ‘n keer iets anders, ongesonder en bekender. Hulle bestel albei ekstra porsies spek by die ontbyt. De Wet koop oudergewoonte ‘n paar koerante en begin verwoed lees. Hy self gaan rondkyk in die aanliggende antiekwinkeltjie vol wawiele, volkspeledrag, ou meubels. Dit is die soort plek waar ‘n mens nog op prente van veldslae afkom. Stormberg, Majuba, Bloedrivier, sy passie.
Die bruin meisie met die kos daag op, ‘n stukkie wakkerte tussen die versletenheid. Van agter die geldlaai kyk die mevrou streng na die twee middeljarige mans, asof sy bedag is op verkeerde gedagtes wat tot dade kan lei. Buite ratel ‘n donkiekar verby.
“Jy weet, ons was simpel om terug te kom. Of miskien moes ons nooit deelgeneem het nie. Vir hiérdie mense!”
De Wet druk met sy vuis op ‘n koerantbladsy.
“Hier is jou wragtag ‘n kamma geleerde professor wat beweer ons moenie aandring op ons taal nie, want dit sou oneties wees. Ek het julle mos gesê menseregte is ‘n grootliegstorie. Boereverneukery van die simpelste soort. Die vent het al die voordele gehad terwyl ons die stront moes opvang – lekker studeer, bevorder geraak, in gerief sy vrou gestreep. ‘n Paradysie wat ons vir hom beskerm het. Nou wil hy seker maak hy kan nóg langer op sy sponsgat sit. Te moer met sy eie mense.”
Hy verwonder hom oor die plofkrag in De Wet se stem, die vlamme in sy oë. Eintlik is hy meestal stil, eerder ‘n man wat hom beperk tot die regte bevel op die regte tyd. Wat sy entoesiasme bêre vir die slim meganismes van wapens, die presiese lading van koeëls. Al is hy iemand wat alles onder die son lees en oor wie se kennis ‘n mens net verstom kan staan wanneer hy dit ‘n slag te voorskyn haal.
“Hy is maar een van dié wat hulle gatte afgeskrik het toe daar ‘n klompie studente begin dreig het met iets wat net lyk na geweld.”
Hy waai ‘n vlieg weg van sy peperbestrooide eier, vat ‘n hap en blaai verder.
Nou moet jy nog dié een hoor: “Die enigste doel vir wit mense, Afrikaners spesifiek, behoort te wees om te wag tot hulle sterf of om selfmoord te pleeg, soos die samoerai wat op sy kort swaard val as hy in oneer beland het.”
Vandag gaan die pad huis toe lank raak. Dinge soos dié wat De Wet in een van sy diep swyes laat verval.
Buite dreun ‘n boer in ‘n bakkie verby. Dan is dit net hul messe en vurke wat klik. Uiteindelik staan hulle op om te betaal by die tannie met die strak gesig. Dis of De Wet se hink opeens erger is, sy soewenier uit Cuito. Hy self gooi ‘n stewige stapeltjie orige munte in die potjie van die kelnerin wat so opwindend oor ‘n tafel kan buk, stap dan haastig na agter om die goed te koop wat sy oog in die antiekwinkeltjie gevang het. Ook ‘n present vir De Wet laat hy toedraai. Dalk troos dit hom.
As die bakkie uiteindelik die blonde vlaktes vat, praat De Wet nog een keer.
“Miskien het die fokkers reg. Miskien is selfmoord al regtig edele daad waartoe die mens in staat is.”
Die dag begin te broei.
*
Die swaar vrou in die lang, lanferswart rok beweeg stadig, effens hinkend, maar tog met byna manlike energie op die skare af wat ‘n vuur met motorbande teen die generaal se voetstuk gemaak het. Die sandsteen gee soms met klein ontploffings mee. Terwyl joelend gewag word vir die oomblik dat die sokkel nie meer die gewig van die gehate simbool in brons kan dra nie, kom die vrou agter hulle nader. ‘n Enkeling in ‘n stadige, statige volksdans, nog ongedans. ‘n Figuur wat die swangerte om haar middel dra soos lood. Met ‘n vasberadenheid wat vir Drakensberg nóg Rubicon sal stuit.
The post Voortrekker appeared first on LitNet.