Geagte professor De Villiers
Dis ’n kwade dag wanneer daar in die openbaar gepleit moet word vir die erkenning en versterking van diversiteit en vir die effektiewe behoud van veelvuldigheid as onderskraging van die gedeelde, oorkoepelende waardes waarop Suid-Afrika se Grondwet berus.
Maar dit sou neerkom op burgerlike pligsversuim as dit nié uitgewys word dat die effektiewe verskansing van veelvuldigheid nie net ’n voorvereiste is vir die vaardighede wat oorgedra moet word aan die jonger geslagte sodat hulle tot volwaardige en verantwoordelike landsburgers wat vir hulleself kan dink, mag ontwikkel nie, en nie slegs om onderlinge verdraagsaamheid en begrip te kweek nie, maar ook omdat die wêreld alreeds sedert die omverwerping van kolonialisme en die ontluistering van ideologiese en kulturele hegemonieë besef het dat die stryd teen die verlies van die diverse die snykant van progressiewe kennisverwerwing vergestalt.
Waarom wil u met swak en siniese argumente ’n reaksionêre taalbeleid aan u universiteit opdwing? Wil u werklik dat die Universiteit Stellenbosch ’n konserwatiewe instelling word wat nog net in die nagemaaktheid van ’n koloniale taal, die taal van Coca-Cola en Monsanto, funksioneer?
Kan u dan nie insien dat ’n instelling van hoër onderwys in Suid-Afrika slegs deur die waardering en die uitbou van die plaaslike met werklike wortels in die realiteit en die verwagtings van die streek aanspraak kan maak op universele relevansie nie?
Het u enigsins ’n begrip van die draagwydte van Afrikaans? Weet u nie hoe dit ontstaan het uit die lewenskragtigheid van transformasie en verset en saambestaan in die Boland nie? Kan u in alle opregtheid maak asof u nie besef dat u voorgestelde taalbeleid beteken u keer die rug op die Karoo, die Klein Karoo, Namakwaland, die Kaap … nie? Besef u dan nie dat u beleid binne afsienbare tyd sal lei tot die vernietiging van ’n absoluut unieke en inheemse omgangstaal wat lewe in die baie monde van vissers en werkers en boere en onderwysers en kerkleiers en regslui … en ’n aanwins is vir die wêreld se eksistensiële ekosisteem nie? Ken u die gedigte van Uys Krige en Ingrid Jonker en Piet Philander? Is u bewus van die besonderse bydrae tot die wêreldliteratuur van ons plaaslike visionêre skrywers soos Jan Rabie en Johan Degenaar en Elsa Joubert? Wil u toesien hoe die taal van Bram Fischer en Beyers Naudé en Neville Alexander en Jakes Gerwel uitgefaseer en afgeskaal en uiteindelik geminag word – tot voordeel van verdomming in die strewe na ’n tweedeklas “wêreldburgerskap”? Is u vertroud met die denke van Martin Versfeld? Of dan – nader aan u nering – het u ’n idee watter rykheid aan kennis en insigte en belangstellings ’n medikus soos Louis Leipoldt gebied het, en dat dit ingebed was in sy taal?
En weet u tot watter mate u voorgestelde taalbeleid met die onvermydelike konsekwensies daarvan juis spreek van ’n gekoloniseerde en provinsialistiese houding?
Walter Benjamin het al in ’n opstel, “Wesen der Sprache”, daarop gewys dat die Filistynse “instrumentele” siening van taal as Wesen der Sprache, synde die kommunikasie van inligting en niks meer nie, neerkom op ’n bourgeois konsep van taal.
Wil u werklik dat u en u bestuur deur die geskiedenis gebrandmerk word as bevorderaars van ’n kulturele uitwissing tot voordeel van ’n totalitêre dogma wat op koloniale taal berus? Dink u werklik u silwerlinge gaan vir u ’n internasionale aansien koop?
Geagte Professor, u voorgestelde taalbeleid is die dood in die pot vir meertaligheid.
U hoef nie hierdie kultuurmoord te bemiddel nie. Die “pragmatisme” en “realisme” waarvan soms gewag gemaak word, met ’n skaars verskuilde verkleinering van Afrikaans en die ander inheemse tale, is niks anders as intellektuele lafhartigheid en eksistensiële stompsinnigheid nie.
Dis nou die tyd om moedig, kreatief, vindingryk, onbevooroordeeld en inklusief te wees. Dis nou die tyd om te luister! En u sal sien hoe baie goeie wil daar werklik is om u hand te sterk in die verwerkliking van ’n veelsydige universiteit wat sy krag put uit die rykdom aan diversiteit van oorspronge en skeppingspotensiaal van hierdie geweste as smeltkroes en voorbeeld van ons land se moontlikhede.
Met agting
Breyten Breytenbach
Kaapstad
9 April 2016
The post 'n Ope brief aan Wim de Villiers aangaande sy bestuur se voorgestelde taalbeleid appeared first on LitNet.