
Foto: Canva.com
In my latere jare op universiteit het ek al genoeg vakke gedop en nie meer agtuur in die oggendklas te hê nie. (Dit is seker die definisie van ’n silwer randjie.) Ek het nog in die koshuis gebly en saam met my, in die selfde seksie, was ’n paar charismatiese Christene. Hulle het wel agtuur in die oggend klas gehad en deel van Pieter (nie sy regte naam nie) se oggend roetine, om homself op te sweep vir die dag, was om kliphard saam te sing met net sulke harde geestelike rock. Ek onthou dat ek wakker sou word van die musiek en sou wonder of ek die moeite moet doen om op te staan, in die koue gang af te stap en te vra om die musiek sagter te sit. As ek op sou staan sou ek maar net sowel op kon bly so ek het probeer deurdruk en ore toe druk. Aan die einde terwyl Pieter vir God loof en prys sou ek tot die selfde God bid en vra dat Hy Pieter gou sou opsweep vir die dag sodat Pieter die musiek kon afsit.
Die charismatiese kerk van Pieter-hulle was oop vir besoekers, maar dis presies wat jy gebly het – ’n besoeker. Om as waardig beskou te word moes hulle spesifieke kerk jou doop en net dan het iets in hulle koppe geskuif dat jy nie meer net ’n besoeker was nie. My verstaan van God is anders en oor die verskil kan ek ’n boek skryf, maar dit sal so sinneloos wees soos om ’n grappie te verduidelik. Kom ek spaar jou dit. Wat ek wel dan sê is dat die “ons-en-hulle” skeiding was so sterk dat een meisie van die kerk nie eers saam met my na ’n dans wou gaan nie omdat ek nie in die kerk gedoop was nie.
Pieter en sy groepie het toe op ’n manier betrokke geraak by netwerk-bemarking. In kort, dis nou een van daai skemas wat aandring dat jy jou tandepasta by hulle koop en nie by ’n ander winkel nie en as genoeg mense by hulle en by jou tandepasta koop dan kry jy “dubbel-diamant-status” en wêreldse rykdom. Ek dink Pieter en sy groepie het al gesien hoe hulle ’n seiljag kon koop en dit “God is goed” kon doop.
En hier was die paradoks: Op ’n manier is ek goed genoeg om by hulle tandepasta te koop, maar God se genade is selektief tot ek presies hulle interpretasie volg. Natuurlik kon ek nie die punt opper nie, want om te stry met iemand wat sê “die Bybel sê” beteken dat enige ander opinie mos verkeerd moet wees.
Dis omtrent twintigjaar na my koshuisdae (dank Vader) en ek het die selfde mentaliteit in ander variasies ook teegekom. En al wat ek kan dink is dat ons, myself inkluis, meer selektief moet wees aan wie ons tandepasta probeer verkoop en minder selektef te wees aan wie ons waardig beskou om God se genade te ontvang.
The post Charismatiese Christene en netwerk-bemarking appeared first on LitNet.