Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21821

Mossie en Merv en die verlokking van die langpad

$
0
0

“It was a source of both terror and comfort to me then that I often seemed invisible – incompletely and minimally existent, in fact. It seemed to me that I made no impact on the world, and that in exchange I was privileged to watch it unawares.” – Marilynne Robinson, Housekeeping.

Presies soos hierdie aanhaling uit een van my gunstelingboeke het ek dikwels gevoel toe ek baie jonk was. ’n Bron van terreur sowel as troos, my onsigbaarheid. Ek wou die wêreld dophou en dinge ervaar sodat ek kon skryf. En ek wou aan die beweeg bly. Rusteloosheid het my voortgestu. Ek het nie ’n motor besit nie en min geld gehad, maar ek het dikwels gereis: per trein of selfs duimgegooi.

Ek het op ’n dikwielfiets met ’n groot mandjie soos ’n wafferse Ertjies Bezuidenhout deur die strate van Potchefstroom gejaag. Ek het lag-lag Klerksdorp toe gefiets. Nie dat daar veel in Klerksdorp aangegaan het nie, maar ’n vriendin was eendag daar in die hospitaal en ek het besluit om te gaan kuier, douvoordag.

Met die terugry kry my fiets ’n pap wiel. Ek staan die band langs die pad en pomp (tjierie-tjierie) toe twee redelik gehawende mans in ’n garerige, vierkantige bruin tjor – ’n Mazda of Datsun of iets – langs my stilhou. Ek was destyds oop vir die lewe en belewenisse; ek wou alle soorte mense leer ken om oor hulle te skryf. RR Ryger en Jeanne Goosen sou my voorspring, maar Beertjie en sy boytjies was nog nie gepubliseer nie, ook nie Ons is nie almal so nie.

Die mans het soos bergies gelyk en geruik met lang, verslonste lokke, ruie baarde en ’n rooibruin gelaatskleur. Hulle stel hulle voor as broers: Mossie en Merv. Hulle woon in Stilfontein en werk op die myn. Hullle sal my ’n lift Potch toe gee, no time. Hoe, wonder ek? “Nee, ons sit jou bike in die boot, chop-chop.”

Dit doen hulle ook en die kattebak wil nie toe bly nie, maar Mossie is nie links nie en pluk soos ’n Wes-Transvaalse MacGyver sy tekkie se veter uit, haak dit deur die kattebakdeur, om die fietswiel en die modderskerm, en die kattebak bly toe. Ek klim in.

Dit was roekelose dae. Word my afkop lyk oormôre in die rivier gevind, dan het ek darem geleef, was my roekelose redenasie. Dit het in elk geval meestal gevoel asof ek droom, asof die moontlike gevolge van enige besluit wat ek neem, sou oplos en verdamp wanneer ek wakker word.

Ons draai by Stilfontein in, want ons moet eers verversings vir die rit aanskaf. Vloeibare verversings. Stillies is ’n lelike plek, ’n harige moesie op die gat van dees aarde.

Wanneer hulle soggens vroeg van nagskof af kom, vertel hulle, kan hulle glad nie slaap nie en drink dan maar tot hulle omkap. Staan op, gaan werk en herhaal. Ek is die ene ore, want ek wil mos skryf.

Ek reken toe: So vroegerig in die oggend kan ’n rosé dalk afgaan. Die broers is dik in die dollars en koop vir my ’n bottel Nederburg, yskoud, met ’n plastiekstrooitjie. Ek sit dit op die agtersitplek en drink dit soos ’n kinderkoeldrank. Hulle drink zamalek (bruin quarts Black Label) gechase met brannas.

My beskermengele was vroeg in my lewe al moeg, want ek is in my studentedae dikwels deur dronk mense rondgekarwei.

Ek vra uit oor Mossie en Merv se lewe. Hulle woon by hulle ouers. Hulle pa het hulle gereeld gebliksem, maar hulle skiem toe hy laas sy hand wou lig vir hulle en die oulady, toe het hulle sy ribbes afgeskop. Nou strip hy nie meer so maklik sy moer nie.

Ek onthou ek kon die teerpad sien deur kar se deurgeroeste vloer. In so ’n motor het ek nog nooit gery nie. In daardie dae het ek (wat in elk geval nie geweet het of ek Arthur of Martha was nie) ’n onskuld besit wat my uit vele netelige situasies gered het. Wanneer mans suggestiewe voorstelle maak, het ek hulle onbegrypend aangestaar en vriendelik geglimlag soos ’n kind wat met gestremdheid saamleef. Nie dat Mossie en Merv suggestief of onwelvoeglik was nie – hulle was ware here, met ’n outydse hoflikheid.

Ek het destyds meestal in my kop geleef, moeilik uitgereik na mense, en wanneer ek met mans op universiteit praat, moes ek dikwels hoor dit klink asof ek ’n woordeboek ingesluk het en ek praat sulke suiwer Afrikaans dat hulle voel hulle kan nie met my praat nie. Die broers het aan my lippe gehang. Ek was eksoties. Kaatjie van die baan. ’n Vorstin van ver.

Ek wou lieg oor my adres, want ek wou nie hê hulle moet weet waar ek woon nie, maar ek het te sleg gevoel. Ek wou nie ’n snob wees nie. Hulle het my by die huis wat ek met drie ander studente gedeel het, afgelaai en daarop aangedring om my papwielfiets binnetoe te dra. Hulle wou dit sommer fieks ook, maar ek het gesê ek moet klas toe gaan.

In my kamer het Mossie iets gesê van koffie, maar Merv was ferm: “Nee my china. Sy’s haastig. En jy kan sien ons is nie haar soort nie, sy’t class.”

Mossie het wel die adres gememoriseer, want daar het ’n reeks blou koerverte in die posbus geland. Wie sou kon dink hy was ’n digter? Ek onthou een versreël: “Debora dier, duur-bare tier-barbaar”. Dit het nie soveel anders geklink as die studentemans in ons Skrywerskring se pogings nie: woordslaai wat met vuilerige vingers tas na erotiek.

Ek is redelik seker Mossie en Merv het al verhuis na die goudmyn anderkant die reënboog – so laat ’n lewer hom nie mishandel nie. Maar hulle en daardie een rit van Klerksdorp na Potchefstroom lewe in my geheue voort, terwyl ek die gesigte en name van byna elke man wat ooit saam met my klasgedraf het, lankal vergeet het.

Nog ’n aanhaling van Marilynne Robinson, sy wat my briewe gesteel het en elkeen hardop lees: “She conceived of life as a road down which one traveled, an easy enough road through a broad country, and that one's destination was there from the very beginning, a measured distance away, standing in the ordinary light like some plain house where one went in and was greeted by respectable people and was shown to a room where everything one had ever lost or put aside was gathered together, waiting.”

The post Mossie en Merv en die verlokking van die langpad appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21821


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>