Niemand het hom ooit so genoem nie. Nie in sy gesig nie. Nie oor hy sterk of slim of wat ook al was nie. Maar omdat jy dit net nie gedoen het nie. Theo was soos die mense wat ons alledaags teëkom: As jy kyk en jy kyk weer dan is hulle een van jou geliefdes.
Iewers eendag gekom van oor die waters. Meer jare gelede as wat ek nou op aarde is. Vanaf Ciprus. Of iewers in Griekeland. Of een van die eilande. Ek het al vir Theo daaroor uitgevra en dan het hy veraf beduie en my gevra oor die talent hier rond. En so het ons gesels en ek kon nooit uitvind van waar sy gehasie wassie.
Al ooit iemand gesien met Brylcreem-hare? Nie? Wel, ek wetie wat Theo in sy hare had nie maar eks doodseker dit was een van daai Creems. Sy hare het altyd geblink. Agteroor gekam en ek kan sweer op dik bybels dat ek nooit 'n kam naby hom gesien het nie. Kon Afrikaans praat so vlot soos enige deursnee sg Afrikaner en baie, baie beter, want ek onthou hom hoe hy beduie het in die mooiste Afrikaans hoe kak ek my eie taal praat en hoe tragies dit is dat ons ons taal so laat vergaan en toe ek hom beduie oor Mandela en die res toe sit hy terug en vra of ek Grieks kan praat? Ek moes nee antwoord want alles wat nie Afrikaans of Sotho of Ingels of kakpraat issie is vir my Grieks.
En toe beduie Theo vir my dat ek dan nooit 'n maagd op 'n Griekse eiland sal kan waardeer nie. Want hoe wil jy 'n maagd verlei as jy dan nie eens haar kop kan verlei nie? (Met Theo en sy Griekse bloed het alle gesprekke altoos gelei na maagde, maagde-eilande of goed derwaarts.)
Wat ek wel weet buiten die ooglopende was dat Theo my taal beter kon praat as wat ek dit self kon doen.
Hy kon beter besigheid doen as ek want sy spore lê moer diep in hierdie droewige land. Want as jy deur Beaufort-Wes ry van bo af gaan jy by 'n kafee stop wat dwarsdeur die nag oop is en dit was Theo se kafee daardie. Letterlik sy hanne af gewerk om 'n toekoms te bou in hierdie droewige land en toe het hy op die kruin gaan rus op Stilbaai vanwaar hy bloot nog harder gewerk het.
Ek vra hom eendag waarom hy dan nou op sy ouderdom nog werk en toe beduie hy my dat hy 'n Afrikaanse vrou gevat het. En toe verstaan ek ... daarom dat ek vandag moes verneem dat Theo reeds weg is. Weird dat mens moet hoor deesdae oor Theo, Cornus Jansen en nog ander mense lank na die tyd?
Ek ken bitter min mense wat kon werk soos Theo. Ons almal ken mos maar Grieke en Portuguese. Ek is trots om te kan se ek het 'n Griek gehad wat hier gebly het en my ook altyd as vriend gegroet het. Want sy groet was altyd eg.
oester
The post Theo die Griek appeared first on LitNet.