Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.
In verlede week se aflewering het ek die ontstellende vroeë lewensverhaal van Robert McBride vertel. In ‘n neutedop: hy en sy familie is gedurende die apartheidsjare kwaai verneder; hy kon nie bo sy omstandighede uitstyg nie; hy is op ‘n jong ouderdom deur Umkontho we Sizwe gewerf, het terreuropleiding ontvang en was in 1986 verantwoordelik vir ‘n motorbom wat voor ‘n kroeg in Durban ontplof en die lewe van drie mense geëis het. McBride is gevang, verhoor en ter dood veroordeel. Hy is oplaas begenadig en saam met ‘n ander massamoordenaar, Barend Strydom, vrygelaat. Na 1994 het McBride vinnig opgang gemaak as politikus en die bekleër van belangrike poste. Hy was dikwels – en is trouens stééds – om die verkeerde redes in die nuus.
McBride het sy verhaal aan die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) vertel. Dié kommissie, onder die voorsitterskap van Desmond Tutu, is ingestel kragtens die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening, 34 van 1995 (die Versoeningswet). Die kommissie het op 19 April 2001 aan McBride amnestie verleen vir sy terreurdaad in Durban in 1986.
Artikel 20(10) van die Versoeningswet bepaal – ietwat lomp gestel – die volgende:
Waar iemand skuldig bevind is aan 'n misdryf wat uitgemaak word deur 'n daad ... wat met 'n politieke oogmerk in verband staan ten opsigte waarvan amnestie ingevolge hierdie Wet verleen is, word 'n inskrywing of aantekening van die skuldigbevinding geag uit alle amptelike stukke of rekords geskrap te wees en word die skuldigbevinding vir alle doeleindes ... geag nie plaas te gevind het nie.
In 2003 het dit bekend geword dat McBride ‘n voorkeurkandidaat was vir aanstelling as hoof van die metropolisie van die Ekurhuleni Metroplitaanse Munisipaliteit aan die Oos-Rand. Joernaliste van The Citizen was hewig teen McBride se kandidatuur gekant en het verskeie verdoemende artikels – almal feitelik korrek – oor hom die lig laat sien. Ek noem maar net enkele voorbeelde.
In ‘n hoofartikel het die koerant soos volg uitgevaar:
Robert McBride's candidacy for the post of Ekurhuleni Metro Police Chief is indicative of the ANC's attitude to crime. They can't be serious. He is blatantly unsuited, unless his backers support the dubious philosophy: set a criminal to catch a criminal. Make no mistake, that's what he is. The cold-blooded multiple murders which he committed in the Magoo's Bar bombing put him firmly in that category.
By ‘n ander geleentheid het die koerant in ‘n hoofartikel verklaar:
The three most notorious non-governmental killers of the late apartheid period were Clive Derby-Lewis, Barend Strydom and Robert McBride. Each was a wicked coward who obstructed the road to democracy. … Strydom looked his helpless victims in the eyes before he murdered them. McBride did not even do this. He planted a bomb in a bar and slunk off, not caring whether it killed men, women or children.
McBride het daarna ‘n lasteraksie teen die koerant en die betrokke joernaliste ingestel. Hy het skadevergoeding ten bedrae van R3,5 miljoen asook ‘n onvoorwaardelike apologie geëis. Sy saak was, onder meer, dat hy mos amnestie vir sy afskuwelike daad ontvang het en dat dit, in die woorde van die Versoeningswet, “'n inskrywing of aantekening van die skuldigbevinding [was wat] geag [is] uit alle amptelike stukke of rekords geskrap te wees en [...] vir alle doeleindes ... geag [is] nie plaas te gevind het nie”.
McBride se eis het in die Suid-Gautengse hooggeregshof geslaag. Die hof het aan hom skadevergoeding ten bedrae van R200 000 plus koste toegestaan. The Citizen het na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein geappelleer, maar het ook dáár slae gekry. Dat die skadevergoedingbedrag verminder is na R150 000, was ‘n skrale troos.
The Citizen is egter verlof verleen om verder na die konstitusionele hof te appelleer, en op 10 April 2010 het regter Edwin Cameron die hof se meerderheidsuitspraak gelewer[1] (drie regters het nie met hom saamgestem nie).
Die totale uitspraak (insluitend die uitsprake van die minderheid) beslaan 80 bladsye, en ek kan dit slegs maar in breë trekke – báie breed! – probeer opsom.
Die hof het eerstens beslis dat die verlening van amnestie aan McBride ingevolge die Versoeningswet slegs die regsgevolge van sy vorige skuldigbevinding aan moord ongedaan gemaak het. Die wet het egter nie die “geskiedenis” rondom die betrokke daad uitgewis nie, en verbied nie ’n robuuste debat oor daardie historiese gebeurtenis nie.
Tweedens het die hof beslis dat The Citizen se verweer van billike kommentaar suksesvol was, onder meer aangesien dit feitelik korrek en in openbare belang was.
Artikel 16 van die Grondwet, wat aan almal die vryheid van spraak bied (weliswaar gebalanseer met ‘n individu – soos McBride – se reg op die beskerming van sy waardigheid en reputasie) was van deurslaggewende belang in die hof se bevinding in The Citizen se guns.
Ja, jy mág dus steeds (om historiese redes) na Robert McBride as ‘n “moordenaar” verwys.
Maar is dit regtig nódig?
[1] The Citizen 1978 (Pty) Ltd and Others v McBride (Johnstone and Others, Amici Curiae) 2011 (4) Sa 191 (CC) 2011 (4)
The post Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie? appeared first on LitNet.