Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Ter verdediging van die Grondwet

$
0
0

Na die wydverspreide verwagting dat Jacob Zuma Vrydag sy bedanking sou aankondig, en die teleurstelling toe dit nie gebeur het nie, is daar nou hernude vrae of die Grondwet regtig werk, en of die beslissing verlede Donderdag die papier werd is waarop dit geskryf was.

My onomwonde antwoord op beide vrae is “Ja”. Die beslissing het tog van die begin af gegaan oor veel meer as die vraag of die geld terugbetaal moet word. Daar is belangrike beginsels neergelê, soos wat ek alreeds in my vorige artikel aangedui het.

Zuma se halfgebakte “verskoning” was ’n oefening, vermoed ek, om internasionale beleggers te paai en om Moodley’s gerus te stel, veel meer as wat dit ’n aanduiding was dat hy omgee vir of belangstel in die mening van sy mede-Suid-Afrikaners – of dat hy eerlikwaar die respek vir die Grondwet en die gesag van die grondwetlike hof het, soos wat hy so plegtig hand-op-die-hart beweer. Ek weet nie hoeveel Suid-Afrikaners hom nog glo nie. My geloof het iewers tydens sy verkragtingsverhoor alreeds gesneuwel.

Ek glo egter wel dat Zuma gesubsidieer sal word om die geld terug te betaal, waarskynlik meer vanweë druk van binne die party as omdat hy die Grondwet respekteer. Sy optrede was tog nog altyd ’n konstante “up yours” wanneer daar van hom verwag word om leiding te neem, soos met die Staatsrede verlede jaar, of die Al-Basjir-debakel, gevolg deur ’n verontskuldiging. Niks is ooit Zuma se skuld nie. Hy is die Teflon-bedekte president. Geen skandaal bly kleef aan hom nie.

Die vraag is dan: Wat is die nut van die beslissing?

Heel eerste het die hof sy onafhanklikheid bewys. Regters het baie duidelik, eenparig, bewys dat hulle nie buig voor die president of die parlement nie. Hulle het bewys dat hulle die reg eerste stel, sonder aansiens des persoons. Ons hoef niks verder te kyk as Angola, en die verhoor van die Luanda Book Club-lede, om te besef nie alle howe is onafhanklik en bereid om die regime van die dag teen te gaan nie. Of Turkye, waar persvryheid onderdruk word en die howe aktief meewerk om joernaliste te vervolg en die regime aan bewind te hou, soos in die verhoor van Can Dündar en Erden Gül.

Daar word veel gewag gemaak van die feit dat Zuma hoofregter Mogoeng aangestel het, asof dit iets vreemds is. Hoofregters word deur staatspresidente aangestel. Die hoofregter sweer die staatspresident in – dis ’n funksie van posisies, nie persone of persoonlikhede nie. Dit beteken ook nie dat daar enige verhouding meer as dit tussen die posisies behoort te wees nie.

Dit bring my by die volgende punt. Die beslissing het die skeiding van magte tussen die verskillende bene van ’n grondwetlike demokrasie bevestig. Wanneer die regsprekende gesag, soos howe of Hoofstuk 9-instellings soos die OB ’n beslissing maak, kan die uitvoerende gesag, die parlement, nie self daardie beslissing verander omdat hulle lus het nie. Hulle is verplig om die regsprekende gesag daardie beslissing te laat hersien. Dis iets waaroor baie mense baie dankbaar en verheug is.

Die ander kant van die saak is egter minder gewild. Skeiding van magte beteken ook dat die howe nie ’n bevel kan maak dat die president moet afstand doen van sy posisie nie. Net die uitvoerende gesag, of die kiesers – ons – kan dit doen. Dus, indien die parlement nie met ’n tweederde-meerderheid beslis dat Zuma die trekpas moet kry nie, dan bly hy, totdat gewone burgers in ’n vrye, demokratiese verkiesing sê hy’s nie meer welkom nie.

Die gebeure van die afgelope paar dae het bewys dat alhoewel daar al meer ontevredenheid van binne ANC-geledere kom, daar nog voldoende steun binne die party is dat ’n stem teen Zuma neerkom op politieke selfmoord. Bitter min lede van die parlement tref my as beginselvas genoeg om hulle eie politieke kele af te sny omdat hulle die belange van die land voor hulle eie belange stel.

Ek het ook nooit ernstig verwag dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee, die NUK, ooit teen Zuma sou optree nie. Hy is dan lid van die NUK, tesame met die speaker, wie as hoof van die parlement saam met hom slae gekry het in die hof se uitspraak. Het ons regtig verwag dat hulle twee sou gaan lê en dood speel? Het ons ’n onpartydige uitspraak verwag as hulle regter, jurie en laksman in hul eie verhoor speel? Natuurlik nie.

Wat die beslissing verder doen, is om tydsbeperkinge aan Zuma te stel. Binne ietsie meer as 105 dae vanaf Donderdag moet die volle bedrag betaal wees, wat daardie bedrag ook al is. Ek verwag dat faksies binne die party nou druk op die tesourie sal plaas om die bedrag so laag as moontlik te hou, maar weer is daar ruimte vir die hof om in te gryp. Hulle moet instem tot die bedrag, alhoewel, as daar na vorige beslissings van die hof gekyk word, hulle net in uitsonderlike gevalle sal tussenbeide tree. Daar is dus regsekerheid, en ’n einde in sig.

Wat bly dan oor? Dit hang van ons, die gewone burgers van die land, af om ons reg om te stem uit te oefen. Nie een van ons kan nou meer draadsitterstatus bekostig nie. Natuurlik hoef ons nie te stem nie, dis tog deel van ons demokratiese reg. Maar as ons kies om nie deel te neem aan verkiesings nie, dan verbeur ons ook die reg om kritiek te lewer.

Terwyl dit in ’n volwasse, gesonde demokrasie ’n voldoende uitoefening van demokratiese regte is om ’n bedorwe stem uit te bring, kan ons dit nie nou en hier bekostig nie. Kom ek stel dit rondborstig: ’n bedorwe stem is ’n dom stem, en ’n vermorste geleentheid. Elke stem tel. Die dae dat stemdag ’n geleentheid is om te braai en te kuier, moet noodwendig nou verby wees. Die ANC maak staat op hulle volslae meerderheid. Hulle het die volste vertroue dat die massas vir hulle sal stem, en met reg ook. Enigeen wat onlangs oorsee was, weet hoe swak die rand teen die ander geldeenhede presteer. Die oorgrote meerderheid van stemgeregtigdes in Suid-Afrika gaan egter waarskynlik nooit in hulle lewe nodig hê om euro’s of ponde te koop nie, en die bohaai wat oor die ekonomie opgeskop word, is vir hulle middelklasprobleme. Dit het niks met hulle te doen nie. Die nuwe, ingevoerde Amerikaanse hoender is goedkoop, mens kan nog by Shoprite ’n staatsgesubsidieerde brood vir onder R10 koop, en alhoewel die elektrisiteit duurder geword het, is daar darem elke dag krag, deesdae. Hoekom moet hulle dus vir ander partye stem as die ANC, veral as die retoriek van rassisme teen Zuma gebruik word soos dit al hoeveel kere vantevore gebruik was?

Hoofregter Mogoeng het dit gesê. Die OB het dit gesê. ’n Grondwetlike demokrasie is juis so ontwerp dat wanneer een kant faal, dan is die ander kant daar om dinge reg te trek. In hierdie geval is daar sulke grootskaalse korrupsie, nepotisme en vermoedelik ook intimidasie dat ons nie beginselvaste besluite van die uitvoerende gesag kan verwag nie. Die beslissing het egter bewys dat die regsprekende gesag gereed en bereid is om hulle kant te bring om te probeer regtrek en broodnodige balans in die land te bring.

Die ander balanserende effek is die stem van ons, die kiesers, by die stembusse, maar ook deur middel van protesoptogte. Hoe kragtig sou dit nie wees indien mense in hulle massas by die parlement en die Uniegebou opdaag met plakkate waarin hulle Zuma se bedanking eis nie? Daar is egter ’n vangplek. Wit mense sal moet ophou verwag dat die bruin en swart burgers van hierdie land alleen die “heavy lifting” doen. Almal sal moet saamstaan, en saam stap, en saam protes aanteken.

Sonder belaglike pieknieks wat die erns van die saak ondermyn.

 

The post Ter verdediging van die Grondwet appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>