Wie sê ’n oorbruggingsjaar is net vir waagmoedige jongmense bedoel? So ’n avontuur is wat Marita van der Vyver onderneem het toe sy kort na haar twintigste verjaardag ’n swerfjaar in Europa aangedurf het. Maar veertig jaar later pak sy en haar pas afgetrede Franse man ’n “geriatriese gap year” aan – ’n vae droom wat skielik ’n angswekkende, bevrydende werklikheid geword het.
Foto’s en teks: Marita van der Vyver
Jy kan nie aanmekaar aanhou beweeg en geraas maak nie. Soms moet jy net ’n rukkie stilsit en terugkyk. Ná ses maande van reis, kort voordat ons Suid-Afrika toe vlieg om verder te toer, sit ek dus in Savannah, Georgia en maak ’n lysie van die belangrikste dinge wat ek in hierdie swerfjaar geleer het.
Tot dusver.
Die lysie kan baie langer wees – en sal ongetwyfeld nog aangevul word – maar ek gaan my tot ses lesse beperk. Een vir elke maand van my nuwe nomadiese bestaan. Dalk is die belangrikste van alles wat ek geleer het, juis dat jy nooit te oud word om te leer nie.
En as jy uit jou gemaksone geruk word, leer jy noodgedwonge vinniger as ooit.
1. Ek is nie so ’n slegte kampeerder soos ek altyd gedog het nie.
Van jongs af verpes ek oorvol woonwaparke en die gedwonge gemoedelike samesyn met ander kampeerders, en veral die gemeenskaplike badkamers – laasgenoemde ná ek as tiener in ’n skoolkoshuis beland het en agtergekom het ek is nie eintlik ’n groepmens nie. En moderne woonwaparke met elektrisiteit en teerstrate en braaiende bure herinner my net te veel aan die suburbs waaruit ek sedert my tienerjare wou ontsnap.
Boonop is nóg ek nóg my lewensmaat prakties aangelê. Om ’n tent op of af te slaan kan vir ons ’n eksistensiële krisis word, met onoplosbare vrae soos watter paal pas waar, amper so erg soos om meubels in stukke by Ikea te koop. Daar bly altyd ’n geheimsinnige onderdeel agter wat ons nêrens kan inpas sonder om alles plat te slaan en van voor af te begin nie. En omdat ons te lui is om dít te doen, lyk ons tent (of ons Ikea-meubelstuk) altyd ietwat wangeskape.
Ek praat uit bitter ervaring. Ons het jare gelede twee kampeervakansies met die kinders aangedurf – tente, gasstofies, Ventertjie agter die kar gehaak, die hele katastrofe – omdat dit die enigste soort vakansie was wat ons kon bekostig. Dit het byna tot egskeiding en gesinsmoord gelei. Ons het besluit voortaan bly ons eerder tuis, uit die hof en uit die tronk.
En nou het ek eindelik besef dis nie die kampeerdery wat ek haat nie, dis die plekke waar dit plaasvind. Die omstandighede rondom die kampeerdery. Voorheen het alles net te mak gevoel, te veel mense en moderne geriewe – jy kon net sowel by die huis gebly het. Omdat ons dié keer in die winter gereis het, was die kampeerterreine dikwels verlate. En omdat ons in ons gehuurde kampeerwa kon slaap, was dit nooit nodig om swetsend en sukkelend ’n skewe tent op te slaan nie.
Een van my kosbaarste herinneringe is ’n aand naby Memphis toe ons die son oor die majestueuse Mississippi-rivier sien sak het. Ons het in ’n hoë uitkyktoring gestaan, in ’n State Park waar daar geen ander mens te sien was nie – en ons kon vér sien uit daardie toring. Daar was wel ’n paar motors en woonwaens in die park, een van die woonwaens selfs feestelik versier met stringe rooi liggies, maar geen menslike beweging nie. Ná ons deur die nag verskillende motors voor die rooiligkaravaan hoor stilhou en vertrek het, het ons die volgende oggend bespiegel oor wat snags dáár aangaan ...
![]()
Skouspelagtige sonsondergang oor die Mississippi-rivier
![]()
’n Byna spookagtig verlate State Park langs die Mississippi-rivier
Maar ons het nooit die bewoner van die karavaan of enige van die nagtelike besoekers met ’n dooie oog gesien nie. Dis die soort stilte en diskresie wat al my vooroordele laat wankel het, teen kampeerders en sommer ook teen sekswerkers. Indien ons buurvrou inderdaad ’n happy hooker was, het sy my in ’n happy camper verander.
Of in elk geval die proses aan die gang gekry, want skaars drie weke later het ek salig gelukkig langs ’n kampvuur aan die ongerepte Big Sur-kuslyn van Kalifornië gesit, in nog ’n verlate State Park. Dit was bibberend koud, maar ons het verskeie lae klere aangetrek en na die branders van die Stille Oseaan geluister terwyl ons pienk malvalekkers op ’n stok ryg en oor die kole rooster.
Ek kon nie gló wat ek besig was om te doen nie. En ek kon nie glo hoe ek dit geniet nie.
![]()
Die ongerepte Big Sur-kuslyn in Kalifornië
2. Sonder boeke kan ek nie lewe (of swerf) nie.
Toe ons op 1 September in Frankryk van ons pas verkoopte huis vertrek, in ’n oorlaaide wit Kangoo wat ons ook intussen verkwansel het (dit raak al hoe makliker om van besittings ontslae te raak – nóg ’n lewensles wat dié reis my aanmekaar leer), het ek twee sakke van my eie boeke saamgepiekel om langs die pad vir vriende te skenk, en ’n enkele boek wat deur iemand anders geskryf is: The Overstory van Richard Powers. Dit gaan basies oor bome in Amerika, en ek wou dit lees vóór ek daardie bome sien.
Daar was nie plek vir boeke in ons bagasie nie. Ek het gedog ek sal seker maar op my man se Kindle begin lees – maar my honger vir papierboeke is so onstilbaar dat ek ses maande later veel meer as twee sakke boeke langs die pad versamel het. Omdat ek steeds nie genoeg plek in my tas vir boeke het nie, los ek hulle vir ander lesers ná ek hulle gelees het, soos ’n spoor van klippies in ’n bos: Ek was hier.
Soms los ek die boeke in die soort gratis straatbiblioteke waar ek hulle gevind het. In Lausanne, Switserland het ons die eerste van vele sulke biblioteke in ’n ou telefoonhokkie ontdek, met boeke in Engels, Frans en Duits. In Griekeland het ons ’n huisie gehuur waar ’n ry Duitse en Engelse boeke ons ingewag het. Ek het twee agtergelaat wat ek in die Switserse foonhokkie gekry het, en Colum McCann se Let the great world spin saamgeneem as padkos vir die reis vorentoe. In Italië het ek Anne Tyler se Redhead at the side of the road in ’n vriend se huis begin lees, en in ruil daarvoor ’n roman gelos wat ek in ’n ander land gevind het.
![]()
Gratis biblioteek in ’n ou foonhokkie in Lausanne
Laat die groot wêreld van lesers aanhou draai – dis hoe ek daaraan dink.
In Amerikaanse stede het ek leer uitkyk vir sulke klein kassies met glasdeure – Free Libraries of Little Libraries genoem – wat my ure van gratis leesgenot verskaf. New Orleans, Carmel-by-the-Sea in Kalifornië, Durham in North Carolina, dis maar ’n paar van die plekke waar ek my leesdors by hierdie gratis fonteine kon les.
![]()
Gratisboekkassie in New Orleans
![]()
Vreugde! Nog ’n gratisbiblioteekkassie in Durham, North Carolina
![]()
Free Library in Savannah, langs die huis waar die skrywer Flannery O’Connor grootgeword het
En dan is daar die legendariese boekwinkels soos City Lights in San Francisco, waar sóveel van die Beat Generation se skrywers vroeg in die jare sestig rondgehang het dat busse vol nuuskierige toeriste voor die winkel stilgehou het om befaamde digters te probeer sien. Seker maar soos buitelandse besoekers in Suid-Afrikaanse wildreservate na leeus of olifante staar. Allen Ginsberg, Charles Bukowski en Sam Shepard tel waarskynlik onder die Groot Vyf wat deur City Lights Publishing uitgegee is, maar enige onbekende hippie-aanhanger was vir die plattelandse bustoeriste besienswaardig. As jy nie ’n leeu kan sien nie, kyk jy mos maar na troppe bokke.
![]()
City Lights in San Francisco – van buite
![]()
City Lights in San Francisco – van binne
Ek kon nie San Francisco besoek sonder om ’n draai in City Lights te gooi nie – en geen boekliefhebber kan daar uitstap sonder ’n paar boeke onder die blad nie. Net om te verduidelik dat nie ál die boeke in my tas gratis verkry is nie. Daar is ook minder beroemde boekwinkels wat my verlei het om my beursie oop te maak en my tas steeds voller te laai. Collected Works in Santa Fe, Nieu-Mexiko, wat sommer ook my smagting na ’n koppie goeie koffie bevredig het, ná ons dae lank net enorme bekers gevul met ’n bruinerige vloeistof by petrolstasies langs ons roete kon kry. En ’n boekwinkeltjie met ’n boonste verdieping vol tweedehandse boeke in Solvang, tussen Los Angeles en San Francisco, waar ek Margaret Atwood se nuutste digbundel, Dearly, aangeskaf het.
Hierdie een hou ek – klaar besluit. Ek sal die sjampoe of die lyfroom uit my badsakkie gooi om my tas ligter te maak vir ons volgende vlug.
Daar ís blykbaar nog dinge waarvan ek nie so maklik ontslae kan raak nie. Ek wonder of dit ook ’n les is?
3. Dis bitter moeilik om ’n luisterbare radiostasie te vind as jy in ’n kar toer.
Dis ’n internasionale probleem. Ons stryd het in Frankryk begin, voortgewoed terwyl ons deur verskeie Europese lande ry, en hier in Amerika ’n histeriese hoogtepunt bereik. Ons kán natuurlik musiek op Spotify luister, en dikwels is ons moedeloos genoeg om dit te doen, maar ons glo ook dat plaaslike radiostasies, nes plaaslike kos, jou meer van jou omgewing leer. Selfs al kan ons nie ’n woord verstaan wat die aanbieders kwytraak nie, soos byvoorbeeld in Griekeland die geval was, kan ons steeds afleidings maak uit die algemene toon of die advertensies of die musiek.
Dis gewoonlik die musiek wat ons binne ’n kwartier laat knak, die soort internasionale popliedjies wat aan Eurovision herinner, en dan verander ons die stasie. En dan speel die volgende stasie presies dieselfde musiek – of erger. In Italië het ons aanmekaar vasgehaak op die Vatikaan se radiostasie wat blykbaar veel wyer as Rome uitgesaai word. In Amerika is ons enigste keuse dikwels tussen charismatiese godsdiensstasies en countrymusiek. Dis soos om tussen die Pes en cholera te kies, sug my Fransman.
![]()
Steeds op soek na ’n radiostasie ry ons verby Dallas, Texas
In ses maande van rondry kon ons omtrent vyf keer vir langer as ’n halfuur na ’n bevredigende radiostasie luister. Selfs op die befaamde Blues Route in Mississippi, waar ons darem ’n bietjie bluesmusiek verwag het, het ons dieselfde charismatiese predikers en vervelige countrymusiek as in al die ander state gekry. In New Orleans het ons ’n stasie met klassieke musiek ontdek, maar binne ’n paar uur weer verloor toe ons verder moes ry. In Los Angeles het ons sowaar byna twee dae lank na ’n lekker jazzerige stasie geluister – en toe verlaat ons LA en verloor die frekwensie.
Iewers op ’n uitgestrekte stuk pad, in Virginia verbeel ek my, het ons omtrent ’n uur lank na ’n boeiende aktuele program geluister, intelligente deelnemers wat intelligente menings lug, voordat dit ook in die eter verdwyn het. Maar toe weet ons darem weer ’n slag daar ís intelligente lewe daar buite. Selfs oor die radio.
4. Geen gidsboek of navorsing kom naby persoonlike ervaring nie.
Dis ’n les wat ons leer elke keer as ons in ’n stad of streek beland waar ons iemand ken wat vir ons ’n insider's view kan gee. Ja, ons bestudeer gidsboeke en doen navorsing op die internet, maar ons onvergeetlikste ervarings is altyd óf totaal toevallig óf danksy ’n inwoner se persoonlike kennis.
In Lausanne kon my seun vir ons die beste koffiekroeg-en-kunswinkel naby sy werkplek wys, saam met ons op ’n bus en ’n trein klim om ’n staproete deur die wingerde net buite die stad te verken, en ons die lekkerste tuisgemaakte roomys by ’n Italiaanse kraampie langs die meer laat proe. Op die eiland Lesbos kon Elizabeth vir ons vars vis by ’n restaurant vlak langs die Egeïese See bestel – in Grieks, natuurlik – en ons vir meer as een piekniek in haar olyfboord nooi.
![]()
Piekniek in Elizabeth se olyfboord op Lesbos
In Rome het Lida vir ons ’n roete uitgewerk om in ’n enkele dag meer te belewe as wat ons in ’n week op ons eie sou vermag – kortpaaie tussen antieke geboue en fonteine, die parke waar ons die mooiste uitsig op die Vatikaan se koepeldak kon kry terwyl ’n straatmusikant vir ons viool speel, ’n weggesteekte restaurantjie waar ons ’n smaaklike bak tradisionele boontjiesop teen ’n bekostigbare prys kon geniet.
![]()
Koerante en koffie op Lida se roete in Rome
In die skerp hak van Italië, die suidelike streek van Puglia, het Mario ons aan sy uitgebreide Italiaanse familie voorgestel. Lang tafels met laggende en lawaaierige mense wat ons ook soos familie laat voel het, al kon ons nie mekaar se taal praat nie, en seekos, seekos, seekos. In Parys het ons dogter ook “haar stad” met ons gedeel, straatkafees en metrostasies en die afdelingswinkel Le Bon Marché waar die Suid-Afrikaanse ontwerper Thebe Magugu die vertoonvensters en die binnekant met derduisende stringe van sy gelukbringerlapblomme versier het.
![]()
Vrolike verjaardag-ete saam met Mario se familie in Puglia
![]()
Le Bon Marché in Parys, versier deur ’n Suid-Afrikaanse ontwerper, in Mia se Parys
Ook in Amerika het ons sulke persoonlike touleiers op ons roete teëgekom. In Washington, DC het Micheline ons op ’n ysige aand rondgery sodat ons die Jefferson Memorial sonder enige ander besoekers kon besigtig. Net ons twee tussen die spierwit pilare en die maanlig wat in die Tidal Basin weerkaats. In Nashville, Tennessee het Jaco ons ook op ’n nagtelike besigtigingstoer in sy motor geneem, nie net na die kroeë waar ’n verstommende verskeidenheid van lewende musiek sewe dae van die week aangebied word nie, maar ook na die statige ou geboue in stiller dele van die stad.
En in Santa Barbara het Robin, wat ons op Lesbos leer ken het, saam met ons in die heuwels bo die stadskom asook op haar gunstelingstrand gaan stap. Ná Alain bely het dat hy besig is om aan donuts verslaaf te raak, het sy ons soos ’n dwelmhandelaar na ’n klein winkeltjie met die lekkerste oliebolle in die stad begelei.
![]()
Robin en Alain op haar gunstelingstrand in Santa Barbara
In North Carolina pas ons Karin en Lize se huis op, en saam met die lieflike blyplek kry ons vrygewige raad oor die omgewing, wat om te doen, wat om te vermy, alles wat ons nodig het om te oorleef.
Sonder sulke vriende en familie sou ons swerftog ’n minder interessante (en veel eensamer) ervaring gewees het.
5. Alles, absoluut alles, word langs die pad geadverteer.
In Frankryk is ek gefassineer deur ou advertensies wat op geboue geverf is, soms so afgeskilfer en verbleik dat dit skaars sigbaar is, dikwels vir produkte wat nie meer bestaan nie. Terselfdertyd verpes ek die moderne reklameborde vir McDonald’s of die naaste supermark wat deesdae selfs die skilderagtigste dorpies ontsier. En dan wonder ek of toekomstige generasies ook met nostalgie na die oorblyfsels van sulke lelike advertensies sal kyk.
Ná ses maande van swerf besef ek dat énigiets langs paaie, op geboue en selfs op mense se grasperke geadverteer kan word. Die VSA hou sy kapitalistiese reputasie hoog met massiewe reklameborde waarvan jy nêrens kan wegkom nie. Selfs op die mees afgeleë paaie ry jy elke nou en dan by drie reusagtige reklameborde verby.
“Het jy ’n drankprobleem?” skreeu die eerste een in hoofletters. “Jesus sal jou red,” lees jy die antwoord net voordat jy die tweede een sien – wat jou waarsku dat aborsies kindermoord is – en die derde een, wat jou aanmoedig om al jou geld in ’n dobbelsaal te gaan blaas.
Ek verstaan nou eers werklik die agtergrond van die rolprent Three billboards outside Ebbing, Missouri, waarin Frances McDormand se karakter drie reklameborde huur om ’n plaaslike polisiehoof aan te val omdat hy nie genoeg doen om haar dogter se moordenaar op te spoor nie. As jy duisende myle deur die hartland van Amerika ry en honderde van hierdie reklameborde langs die pad lees, besef jy dat McDormand se karakter eintlik net ’n tipiese Amerikaner is wat in die mag van ’n billboard glo.
In sommige van die suidelike state waardeur ons gery het, adverteer die meeste billboards óf godsdiens óf vuurwapens. Maar in elke dorp sien jy ook kleiner reklameborde, dikwels skaars so groot soos ’n outydse koerant, wat jou versoek om vir so-en-so as sheriff te stem. En dan is daar die kleinste soort advertensie, op dorpenaars se grasperke, wat jou meedeel dat hulle vir Trump gestem het of dat hulle weer vir Trump wil stem in 2024. Of dat die huiseienaar meen enigeen wat nie teen Covid ingeënt wil word nie, is ’n idioot. Of – en dis steeds die advertensie wat jy die meeste sien – dat Jesus hulle gered het.
In geen ander land het ek ooit soveel verklarings van persoonlike oortuigings voor mense se huise gesien nie. Dis amper so algemeen soos Halloween- of Kersversierings. Saam met die pampoene wat soms twee maande later nog op die grasperk lê en die lewensgroot Santa Claus-opblaaspoppe is daar dikwels ook ’n politieke of godsdienstige advertensie.
Dit bly my verstom – maar dan onthou ek weer hoe verstom ek in Italië was om ’n ander soort advertensie langs die pad te sien. Daar word seks letterlik in lewende lywe deur skamel geklede sekswerkers geadverteer. In die meeste lande verwag jy om sekswerkers in sekere stedelike buurte aan te tref, maar nêrens anders het ek hulle in sulke groot getalle buite die stede langs nasionale paaie gesien nie. Soms is daar ’n motortjie langs hulle, waar die transaksie vermoedelik uitgevoer word. Soms sit hulle met oopgespreide bene in verflenterde gemakstoele. Teen laatherfs was hulle dikwels blou van die koue, veral in die noordelike dele van die land.
Iewers langs die pad het twee bloedjong meisies ’n vuurtjie aan die gang gekry, blykbaar deur ’n ou meubelstuk aan die brand te steek, om hulle byna kaal lywe te verwarm. Ons het by hulle verby gery terwyl ons weer eens aan die sukkel was met die radioknoppies om van die Vatikaan se immer teenwoordige uitsendings te ontsnap – en weer eens besef hoeveel teenstellings selfs ’n klein landjie soos Italië kan oplewer.
In die veel groter VSA is die teenstellings op reklameborde en die boodskappe voor mense se huise klaarblyklik ook veel groter.
6. Weervoorspellings is lewensbelangrik, want die weer kan dodelik gevaarlik wees.
Tot taamlik onlangs het ek elke aand na die weervoorspelling op TV gekyk, en elke oggend vroeg na die tiendaagse voorspelling op my foon, want ek hou daarvan om te weet wat kom. Vandat ons reis, kyk ek tien keer ’n dag na die voorspellings vir tien verskillende plekke, want as jy net drie dae in ’n stad beplan, wil jy verkieslik nie hê dit moet al drie dae reën nie.
In Amerika het ek waarlik ’n obsessiewe weerprofeet geword. Hier het ek die afgelope winter geleer dat ’n bietjie reën, of selfs drie dae van stortreën, rêrig nie die ergste is wat ’n reisiger kan tref nie. Hier kan die weer en die klimaat lewensgevaarlik word, vinnig en onverwags, maak nie saak hoeveel keer ’n dag jy na die weer-apps op jou foon kyk nie.
Ons het ’n paar noue ontkomings gehad waar blote geluk ’n groter rol as enige app gespeel het. Skaars ’n week ná ons deur Tennessee getoer het, het ’n verwoestende tornado sommige van die plekke getref waar ons ewe niksvermoedend gery het. Huise is omgewaai en mense het doodgegaan. Aangesien tornado’s nie veronderstel is om dié tyd van die jaar te kom nie, was tornado’s glad nie eens op die lang lys van klimaatverwante moontlikhede waaroor ek daagliks stres nie.
Nou stres ek ook oor tornado’s, want ek het geleer dat die klimaat nie meer werk soos dit “veronderstel” is om te werk nie.
Nog ’n noue ontkoming was ’n aaklige veldbrand in Big Sur, Kalifornië, omtrent drie weke ná ons daar gekampeer het – weer eens ’n probleem waaraan ek nie eens gedink het nie, want Kaliforniese brande is veronderstel om somerverskynsels te wees, veroorsaak deur droë toestande, nie iets wat jy in ysige winterweer verwag nie.
Die afgelope maand het ons hierdie mooi huis in North Carolina opgepas, met die idee dat ons daguitstappies en naweekuitstappies na besienswaardighede in die omgewing sou onderneem, maar ons was meestal vasgekeer in die huis deur die ergste winterstorms wat die streek in meer as ’n dekade getref het. Die één naweek wat ons ’n karretjie gehuur het om die kus te gaan verken, ná ek dae lank die weervoorspellings bestudeer het vir elke dorp waardeur ons moes ry, is ons nogtans deur ’n ysstorm getref.
![]()
Vasgesneeu in North Carolina – die oprit van die huis waar ons bly
![]()
Ek leer om ’n graaf in sneeu te gebruik – nog ’n les in hierdie swerfjaar
Terwyl Alain die Sondagaand terug huis toe bestuur, van Charleston in South Carolina na Greensboro in North Carolina, het ek die bewegende storm op my selfoon gevolg sodat ons telkens van roete kon verander om so net-net aan die rand van die gevaar verby te skuur. Vir die laaste vyftig myl was daar egter nie ander raad nie – ons moes die diep sneeu en swart ys op die pad aandurf om by die huis in die middel van die storm uit te kom. Ons wou by ’n motel inboek, al was ons skaars ’n halfuur se ry (in normale omstandighede) van die huis af, maar ons kon nie van die hoofpad afdraai na ’n petrolstasie of ’n motel nie, omdat hoë hope sneeu al die afdraaipaaie versper het.
![]()
Die storm waardeur ons moes ry om van South Carolina in North Carolina uit te kom
Dit het ons amper drie uur gevat om die laaste myle af te lê, kruip-kruip in stikdonkerte (die storm het baie buurte se elektrisiteit uitgeslaan), met geen ander motor op die pad nie, net nou en dan ’n sneeutrok se flikkerende ligte in die verte. Wat ons darem verseker het dat ons nie die enigste oorblywende lewende wesens ná ’n apokalips is nie.
Dít was ’n les wat ek nie gou sal vergeet nie. Ons het alle verdere uitstappies afgestel tot die weer verbeter. Maar toe ons eergister sien dat daar ’n venster van drie dae sonder sneeu of swart ys op die paaie voorspel word, het ons ’n Greyhound-bus gehaal na Savannah, Georgia, waar die temperatuur vandag tot ’n verbysterende 20 ºC gestyg het. Dit voel amper soos somer – hopelik ’n aptytwekker vir ons Suid-Afrikaanse toer aanstaande maand.
Naskrif: Ja, in die VSA kry elke weerstorie altyd ’n stertjie – net nog ’n bewys van hoe vinnig die weer kan draai. Op pad terug uit Savannah het ons in Atlanta honderde gestrande buspassasiers teengekom omdat nog ’n onverwagse winterstorm verskeie roetes onbegaanbaar gemaak het. Ons het weer eens aan die rand van die storm verby geskuur, besonder dankbaar om ongedeerd terug in North Carolina op te daag.
The post Swerfjaar vir seniors, aflewering ses: Ses lesse ná ses maande van swerf appeared first on LitNet.