Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21808 articles
Browse latest View live

Tafelberg

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Tafelberg

in spierwit kleed staan die tafel gedek
daar waar branders aan sy pote lek
en witskuimwater oor sandkastele speel
wyl Liza haar melodieë met die wêreld deel

sit Van Hunks en die duiwel diep in gesprek
en ek sien hoe die hemel se poorte rek
want borrels wit skuim versamel teen die blou
en heg aan die kleed wat oor Tafelberg vou

dan rol die mis oor die Kaap se kus
en die son se strale word in wolke geblus
want Van Hunks en die duiwel sit weer en stook
terwyl die Suidooster fluit deur die grou bolle rook

The post Tafelberg appeared first on LitNet.


LitNet Akademies Weerdink: Die ontwrigting en radikalisering van die Amerikaanse demokratiese politieke proses deur Donald Trump

$
0
0

Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met aktuele kwessies van 2021.

Chris Nelson het in sy LitNet Akademies-artikels “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel – Deel 1” (en “Deel 2”) (Julie 2019) Donald Trump se populistiese mobiliseringstrategie bespreek.

Chris Nelson bespreek die stand van sake in Januarie 2021.

1. Inleiding

Sedert die Amerikaanse burgeroorlog, wat van 1861 tot 1865 geduur het, is die Amerikaanse demokratiese politieke proses aan geen groter ontwrigting en radikalisering blootgestel as gedurende die bewindstermyn van oudpresident Donald John Trump, die 45ste president van die VSA, nie.

Waarskynlik die beste aanduiding van die mate waartoe hy die proses ontwrig en geradikaliseer het, was die beroep wat hy op 6 Januarie 2021, twee weke voor sy ampsontruiming, op sy ondersteuners gedoen het om in opstand te kom en die federale parlementsgebou op Capitol Hill in Washington te bestorm en te beset. Die oogmerk met hierdie opstand (“insurrection”) was om die sertifisering van die presidensiëleverkiesingsuitslag tydens ’n gesamentlike sitting van die Kongres (Huis van Verteenwoordigers en Senaat), onder die voorsitterskap van die visepresident, te verhoed. Vanweë die geweld wat gebruik is, die lewensverlies wat plaasgevind het en die planmatigheid wat die aksie gekenmerk het, word hierdie opstand deur sommige waarnemers as ’n rebellie, ’n insurgensie en sedisie beskou. Elkeen van hierdie tipe optredes is ernstige wandade en strafbaar.

Ten einde verdere opstande te verhoed en die inhuldiging van Joe Biden op 20 Januarie 2021 sonder voorval te laat verloop was dit nodig om 25 000 lede van die Amerikaanse Nasionale Wag en ’n groot aantal lede van die federale polisiediens, die Federal Bureau of Investigation (FBI), in Washington te ontplooi. Soortgelyke maatreëls is in die hoofstede van die deelstate getref.

Verder is besluit dat die inhuldiging van sy opvolger slegs in die teenwoordigheid van ’n klein aantal gaste sal geskied en nie die tienduisende toeskouers wat tradisioneel hierdie geleentheid op feestelike wyse gevier het nie. In die plek van die afwesige toeskouers is 200 000 Amerikaanse vlae in die gebied voor die Washington-monument gehys om die geleentheid te vier.

Die ontwrigting en radikalisering van die politieke proses in die VSA deur oudpresident Trump vind verdere treffende illustrasie in die feit dat hy

  • die eerste president is wat twee keer deur die Huis van Verteenwoordigers in ’n staat van beskuldiging geplaas is
  • die eerste president is wat blootgestel word aan die inwerkingstelling van die 25ste Amendement van die VSA se grondwet op grond van die aanhitsing van geweld
  • die eerste president is wat deur talle afgetrede Amerikaanse militêre en politieke leiers beskou is as ’n onmiddellike bedreiging (“clear and present danger”) vir die VSA en sy bondgenote se nasionale veiligheid
  • die eerste president in meer as 150 jaar is wat nie die inhuldiging van sy opvolger bygewooon het nie
  • die eerste president in die moderne era is wie se Twitterrekening permanent opgeskort is vir sy aanhitsing van geweld.

Die navorsers Maegan Vazquez, Christopher Hickey, Priya Krishnakumar and Janie Boschma (2020) het die diepgaande en ontwrigtende invloed van die Trump-presidentskap op die Amerikaanse politieke proses probeer illustreer aan die hand van getalle. Hulle wys daarop dat oudpresident Trump gedurende sy presidentskap tot Desember 2020

  • ongeveer 25 000 keer van sosiale media (Twitter in besonder) gebruik gemaak het teen gemiddeld 18 twiets per dag (205 per maand gedurende die eerste jaar, maar teen Desember 2020 het dit gestyg tot 997 per maand
  • ’n personeelomset van 91% in die Withuis gehad het, waaronder die bedanking van 13 kabinetslede en sewe kommunikasiedirekteure
  • meer regters aangestel het as enige ander president in die moderne era, waaronder drie regters in die Federale Hooggeregshof
  • meer as 11 500 presidensiële dokumente (uitvoerende bevele, memoranda en kennisgewings) uitgevaardig het
  • die COVID-19-pandemie grootliks geïgnoreer het, met die gevolg dat in die VSA, met 4% van die wêreldbevolking, 23% van alle Covid-gevalle en 19% van alle Covid-sterftes voorgekom het
  • meer as 400 dae by eiendomme met die Trump-handelsmerk deurgebring het
  • meer as 300 dae die gholfbaan besoek het
  • meer doodsvonnisvoltrekkings goedgekeur het as enige ander president die afgelope 75 jaar (10 in 2020 alleen)
  • meer persone in sy binnekring aan vervolging blootgestel was as enige ander president in die moderne era
  • bykans 100 kwytskeldings en strafversagtings verleen het.

Selfs meer beskrywend van die ontwrigting van die politieke proses in sy geheel deur oudpresident Trump tydens sy presidentskap was onder meer sy

  • ontplooiing van federale magte om onluste in sekere stedelike gebiede van die deelstate te onderdruk
  • beskuldigings van wydverspreide verkiesingsbedrog tydens die afgelope verkiesing ofskoon nie hy of sy regsverteenwoordigers in meer as 60 hofgedinge met enige bewyse daarvoor vorendag kon kom nie (dit word algemeen as die “groot leuen” beskryf)
  • uitoefening van druk op die regeringsamptenare van verskeie deelstate om verkiesingsuitslae te manipuleer
  • uitoefening van druk op bondgenote in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) om hulle finansiële en militêreverdragsverpligtinge te vergroot
  • intensifisering van die “handelsoorlog” met die Chinese Volksrepubliek deur die verhoging van tariewe op ingevoerde goedere
  • instelling van ekonomiese sanksies teen etlike “vyandige” state
  • vervreemding van state op die Afrika-kontinent deur ’n banale term te gebruik om na hulle te verwys
  • instelling van streng en rigiede immigrasiemaatreëls, asook die oprigting van ’n muur op die grens met Meksiko ten einde beheer oor migrante uit suid- en sentraal-Amerika uit te oefen
  • erkenning van Jerusalem as hoofstad van Israel en die Golan-hoogland as deel van daardie staat se grondgebied
  • heronderhandeling met Meksiko en Kanada van die Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms (NAFTA)
  • ontrekking van die VSA se lidmaatskap aan verskeie internasionale ooreenkomste en instellings waaronder die Paryse Klimaatooreenkoms, die Kernwapenooreenkoms met Iran (Joint Comprehensive Plan of Action (JCPOA)), die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) en die Trans-Stille Oseaan-vennootskap (TPP).

Die doel van hierdie meningsartikel is om meer lig te werp op daardie faktore wat aan die wortel gelê het van oudpresident Trump se ontwrigting en radikalisering van die politieke proses in Amerika en wat tot gevolg gehad het dat die samelewing tans as hoogs gepolariseerd en diep verdeeld beskryf kan word. Dit is interessant om te meld dat hierdie polarisering en verdeeldheid selfs na ander samelewings uitgekring het.

Die volgende werkswyse sal gevolg word: Eers sal gekonsentreer word op sy aanvaarding van populistiese mobilisering as breë politieke strategie, wat hierdie strategie behels en die metodes wat gebruik is in die toepassing daarvan. Tweedens sal die klem verskuif na die identifisering van daardie eienskappe wat as tiperend van sy politieke persoonlikheid beskou kan word.

2. Die gebruik deur oudpresident Donald Trump van populistiese mobilisering as politieke strategie

Ter agtergrond kan gemeld word dat die toepassing van populistiese mobilisering as politieke strategie deur personalistiese politieke leiers, politieke partye en politieke bewegings as een van die mees belangwekkende politieke ontwikkelings sedert die einde van die Koue Oorlog beskou kan word.

Aanduidend van die kragtige oplewing van hierdie besondere politieke strategie deur politieke leiers regoor die politieke spektrum en hoedanig hierdie ontwikkeling die politieke landskap verander het, kan afgelei word uit die feit dat die getal populistiese politieke leiers in regeerposisies regoor die wêreld tussen 1990 en 2018 vyfvoudig toegeneem het. Gedurende Julie 2019 het ek ’n artikel oor die besondere verskynsel geskryf. Dit is getiteld “Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel: voorkoms, oorsake en gevolge”, wat in twee aflewerings (Deel I en Deel II) in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) gepubliseer is.

Populistiese mobilisering as politieke strategie is diep gewortel in identiteitspolitiek (die geneigdheid van ’n bepaalde ras-, etniese, godsdienstige of klasgroepering om voorrang te verleen aan die bevordering van eie partikuliere belange) en behels

  • die positiewe beskouing en waardering van ’n gedeelte van die samelewing as die legitieme burgery (“the people”) of die ware burgery (“the true people”)
  • die negatiewe beskouing van die res van die samelewing as die nielegitieme burgery
  • die negatiewe beskouing van sekere elitegroeperings in die samelewing as korrup en ingestel op die bevordering van eiebelang
  • die verheffing van onbelemmerde populêre soewereiniteit ten aansien van die legitieme gedeelte van die burgery bo verteenwoordigende demokrasie en liberale konstitusionalisme.

Populistiese mobilisering as politieke strategie soos deur oudpresident Donald Trump in die VSA toegepas, het beteken dat

  • hoofsaaklik die ondersteuners van die Republikeinse Party as die legitieme burgery (“ware Amerikaners”) beskou is
  • die res van die samelewing, en in besonder die sogenaamde etniese minderhede, nie legitieme burgers (“ware Amerikaners”) is nie
  • die leierskap van die Demokratiese Party ’n elitegroepering in die samelewing vorm wat tydens vorige bewindstydperke ’n “moeras” van oneerlikheid en knoeiery in veral die federale hoofstad Washington geskep het wat as ’n saak van dringendheid “gedreineer” moet word
  • die wil en wense van die legitieme burgery (die “ware Amerikaners”) soewerein is en op generlei wyse aan bande gelê mag word nie, selfs nie eens deur die verhewe demokratiese beginsels van verteenwoordigende demokrasie en liberale konstitusionalisme nie. Die internasionale verdragsverpligtinge van die VSA mag insgelyks ook nie inbreuk maak op die soewereiniteit van die legitieme burgery nie.

Die nasionalistiese en anti-elitistiese retoriek wat deur Trump gebruik is om die steun van die “ware Amerikaners” te verkry, was saamgevat in sy slagspreuk: “Make America Great Again (MAGA)”. Ten einde sy politieke strategie van populistiese mobilisering suksesvol in werking te stel het hy die mediagroepe wat hom goedgesind was, intensief aangewend. In hierdie verband kan slegs verwys word na sy gebruik van die mediagroep bekend as Fox News Channel (FNC). Sy gebruik van die sosiale media in die besonder is ook welbekend en is hier bo vermeld. Ewe bekend is sy veroordeling van mediagroepe wat nie sy politieke strategie van populistiese mobilisering ondersteun of begrip daarvoor getoon het nie. Hierdie mediagroepe is sonder meer deur hom as “die vyand van die nasie” (“the enemy of the people”) getipeer.

Verder was hy bereid om in die toepassing van sy politieke strategie van populistiese mobilisering van ’n verskeidenheid metodes gebruik te maak. Veral prominent was die gebruik van waninligting (“misinformation”) of die manipulering van inligting. Tekenend hiervan is onder meer

  • die gebruik van “alternatiewe feite” (valshede)
  • die verkondiging van “nuwe waarhede” (leuens) – die getal leuens wat hy gedurende sy presidentskap kwytgeraak het, word deur sommige ontleders op ongeveer 25 000 geskat
  • die verwerping van feitgebaseerde kritiese kommentaar as fopnuus (“fake news”)
  • die aanbied van maklike oplossings vir ingewikkelde probleme en uitdagings (soos dat die COVID-19-virus mettertyd sal verdwyn)
  • die bereidwilligheid om sy ondersteuners slegs dit te vertel wat hulle graag wil hoor
  • die bereidwilligheid om die lof te besing van militante regse groeperings in die burgerlike samelewing (hy het dikwels na hierdie groeperings as patriotte verwys)
  • die verlening van geloofwaardigheid aan allerhande samesweringsteorieë en die instansies en persone wat daardie teorieë ontwikkel en versprei
  • die skep van denkbeeldige vyande
  • die kriminalisering van opponerende groeperings (soos om die linkse politieke beweging Antifa te blameer vir die aanval op en besetting van die federaleparlementsgebou in Washington)
  • die fabrisering van bedreigings en gevare om elke hoek en draai
  • afkraking van kritici as kwaadwillige buitelandse agente.

Die gebruik van populistiese mobilisering deur oudpresident Trump het daartoe gelei dat hy weliswaar wye steun kon monster, maar in die proses is die samelewing in twee opponerende en diep verdeelde kampe verdeel. Die uitslag van die verkiesing van 2020 is waarskynlik die beste aanduiding van die omvang en intensiteit van die verdeeldheid en polarisering. Biden het 81 283 098 van die uitgebragte stemme (51,3%) verower (die eerste president in die geskiedenis van die VSA wat meer as 80 miljoen stemme gekry het) en Trump 74 222 958 (46,8%).

Die kritiek wat Trump moes verduur van leiers in die Republikeinse Party, soos Mitch Mconnell, na die Capitol Hill-voorval, dui daarop dat hy uiteindelik nie alleen die samelewing verdeel het nie, maar ook sy eie party. Daar kan op hierdie stadium slegs gespekuleer word oor die toekoms van die Republikeinse Party. Sekere mediagroepe in die VSA voorspel egter reeds die vorming van ’n eie politieke party deur Trump. Tydens sy afskeidsboodskap op 20 Januarie 2021 op Joint Base Andrews het hy aan ondersteuners inderdaad ’n “terugkeer” belowe.

3. Die besondere aard van oudpresident Donald Trump se politieke persoonlikheid

Die ontwrigting en radikalisering van die politieke proses in die VSA deur oudpresident Trump kan direk toegeskryf word aan die besondere aard van sy politieke persoonlikheid. In die bepaling van die aard van sy politieke persoonlikheid is gebruik gemaak van die klassifikasiemodelle van politiekepersoonlikheidstipes soos ontwikkel deur die Amerikaanse sielkundige David Rosen (2013) van die Fordham Graduate School of Arts and Sciences aan Fordham-universiteit, sowel as die befaamde politieke wetenskaplike Robert A Dahl (1915–2014) (1984:111–8) gedurende sy loopbaan aan Yale-universiteit.

Ek het in 2018 hierdie wetenskaplikes se klassifikasiemodelle ook gebruik om in ’n artikel getiteld “Die rol van politieke partye en verkiesings in die demokratisering van samelewings met spesiale verwysing na eietydse Suid-Afrika” enkele van die onlangse Suid-Afrikaanse leiers se politieke persoonlikhede te tipeer. Die betrokke artikel is gedurende November 2018 in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) gepubliseer.

Rosen het in sy navorsing oor die onderwerp ses politiekepersoonlikheidstipes geïdentifiseer, naamlik die narsistiese, obsessief-kompulsiewe, Machiavelliaanse, outoritêre, paranoïese en totalitêre tipes. Oudpresident Trump het gedurende sy bewindstydperk met politiekebeleidformulering en politieke besluitneming vorendag gekom wat, met die uitsondering van die obsessief-kompulsiewe politieke persoonlikheid, tiperend is van vyf van hierdie ses persoonlikheidstipes.

  • Eerstens was sy politieke optrede en gedrag kenmerkend van die narsistiese persoonlikheidstipe. Hierdie persoonlikheid het ’n hoë selfbeeld; is ’n aandagsoeker; het ’n geneigdheid om te spog op ’n wyse wat aan ekshibisionisme grens; is ’n leuenaar; is ’n uitbuiter van ander sonder om ’n teenprestasie te lewer; en is ’n sondeboksoeker wanneer besluite skeefloop. Hulle is gewoonlik nie goeie besluitnemers nie, maar hulle charismatiese persoonlikhede veroorsaak dat hulle as sterk leiers na vore tree.
  • Tweedens kan sy politieke optrede met die Machiavelliaanse persoonlikheidstipe in verband gebring word. Machiavelliane is meestermanipuleerders met die uitsluitlike doel om eiebelang te bevorder. Hulle stel meer belang in die resultate as die spelwyse. Etiese en morele oorwegings speel ’n mindere of geen rol in beleidformulering en besluitneming nie. Om eiebelang te bevorder en as ”wenner” na vore te tree is allesoorheersend; die res is onderhandelbaar.
  • Derdens was van sy politieke handelinge kenmerkend van Rosen se outoritêre persoonlikheidstipe. Outoritêre leiers is wel onderdanig aan meerderes, kompeterend met eweknieë, maar dominerend teenoor ondergeskiktes. Groot waarde word geheg aan kragdadigheid en die gebruik van mag. Verder is die outoritêre politieke persoonlikheidstipe sonder empatie, konserwatief, reël-georiënteerd en bevooroordeeld teenoor laestatusgroepe in die samelewing.
  • Vierdens het hy met politieke optredes vorendag gekom wat dikwels met die paranoïese persoonlikheidstipe geassosieer word. Die paranoïese persoonlikheid is geheimsinnig, agterdogtig, konspiratories en wraaksugtig. Volgens Rosen is die paranoïese fantasieë van hierdie persoonlikheidstipe ’n weerspieëling van ’n diepgesetelde minderwaardigheidsgevoel.
  • Vyfdens het oudpresident Trump besluite geneem en optredes uitgevoer wat kenmerkend is van die totalitêre persoonlikheidstipe. Hierdie tipe persoonlikheid is bekend vir die aandrang op absolute onderdanigheid van ondergeskiktes; vaste geloof in eie onfeilbaarheid; bereidwilligheid om mag te gebruik; uitbuiting van die liggelowigheid van volgelinge; ontwikkeling van ’n persoonlikheidskultus; verwerping van weersprekende feite; en fanatisme.

Dahl (1984:111–8) het die volgende vier politiekepersoonlikheidstipes en die belangrikste kenmerke wat tiperend van elkeen is, geïdentifiseer: die demokratiese, despotiese of outoritêre, die agitator en die onderhandelaar. Oudpresident Trump het gedurende sy bewindstermyn politieke gedrag openbaar tiperend van twee van Dahl se vier politieke persoonlikheidstipes.

  • Eerstens was sy optrede in etlike opsigte kenmerkend van die despotiese of outoritêre politieke persoonlikheid. Hierdie tipe persoonlikheid het onder meer ’n rigiede ingesteldheid; is gekant teen ’n verbeeldingryke en positiewe lewens- en wêreldbeskouing; het ’n mags- en geweldgebaseerde definisie van die politieke proses; is onsensitief vir die welsyn van die samelewing (sy onvermoë om empatie te toon het duidelik na vore gekom in sy hantering van die COVID-19-pandemie); en het ’n beheptheid met die bestaan van allerhande samesweringsteorieë en onderduimse komplotte.
  • Tweedens het oudpresident Trump eienskappe eie aan die agitator openbaar. Die agitator is by uitstek daarop ingestel om ’n emosionele reaksie by die publiek te ontlok, irritasie te veroorsaak (“rubbing the fur the wrong way”), geen teenstand te duld nie, en opponente deurentyd daarvan te beskuldig dat hulle in kwader trou optree (soos dat hulle die verkiesing “gesteel” het). Hulle is ongedissiplineerd, agterdogtig, bereid om selfopofferend te wees ter wille van slegs bepaalde beginsels, bereid om mense op te stook en aan te hits om te protesteer en te rebelleer, en aarsel nie om kwetsend en sarkasties teenoor opponente op te tree nie (die etikettering van sy politieke opponente in die presidensiële verkiesings as “crooked Hillary” en “sleepy Joe” is tekenend).

4. Slotbeskouing

Op 20 Januarie 2021 het oudpresident Trump se ampstermyn tot ’n einde gekom en is hy opgevolg deur Joseph Robinette Biden jr wat vir twee termyne as visepresident onder president Barack Obama gedien het. Oudpresident Trump het, om sy ontwrigting van die Amerikaanse politieke proses tot finaliteit te voer, soos gemeld, nie die inhuldiging van president Biden bygewoon nie. In plek daarvan het hy ’n afskeidseremonie vir homself op Joint Base Andrews gereël. Verder het hy ter elfder ure kwytskeldings en strafversagtings aan 143 ondersteuners verleen. Sy voormalige hoofverkiesingsveldtogstrateeg, Steve Bannon, wat na bewering bedrog gepleeg het ten einde fondse te bekom vir die bou van die muur op die grens met Meksiko, was een van die persone wat kwytskelding ontvang het.

President Biden is in bykans elke opsig die antitese van sy voorganger. In direkte teenstelling met oudpresident Trump kan hy, gebaseer op die klassifikasiemodelle van politiekepersoonlikheidstipes hier bo vermeld, getipeer word as ’n obsessief-kompulsiewe politieke persoonlikheid soos deur Rosen uiteengesit en ’n demokratiese politieke persoonlikheid en ’n onderhandelaar soos deur Dahl vermeld.

  • Die obsessief-kompulsiewe politieke persoonlikheid is hardwerkend, ambisieus, gebonde aan etiese norme en het ’n behoefte aan akkurate inligting ten einde oorwoë besluite te neem. President Biden se lang en suksesvolle politieke loopbaan van langer as vier dekades in die federale wetgewende en uitvoerende gesagstrukture van die VSA getuig hiervan.
  • Die demokratiese tipe politieke persoonlikheid het ’n ontwikkelde sin vir eiewaarde; respek vir die waarde en waardigheid van ander; beklemtoon persoonlike outonomie en wantrou persone en instellings wat oor baie mag beskik; aanvaar verskille met ander leiers in die samelewing; onderskryf ’n onderhandelings- en ’n konsensusgebaseerde beskouing van die politieke proses; beklemtoon verskeie waardes eerder as ’n enkele allesoorheersende oortuiging; en vertoon ’n bereidwilligheid om die algemene belang te dien eerder as die bevordering van gierige eiebelang. President Biden het in die talle toesprake en media-onderhoude gedurende die verkiesing sowel as sy presidensiële intreerede duidelike demonstrasie van hierdie eienskappe gelewer.
  • Die onderhandelaar is ’n konsensussoeker; verbind tot die sluiting van kompromieë; ’n beplanner; vertroud met die belangrikste kwessies in die samelewing sowel as die oplossings daarvoor (soos die geval met die skepping van maatreëls ter bekamping van die COVID-19-pandemie en die stimulering van die ekonomie); sensitief vir die openbare mening; ’n goeie kommunikeerder; het ’n sterk oorredingsvermoë; integriteit; ’n goeie oordeelsvermoë; en politieke intelligensie. President Biden het gedurende die verkiesingsveldtog duidelik getoon dat hierdie eienskappe inderdaad tiperend is van sy persoonlike politieke mondering.

Nieteenstaande die feit dat oudpresident Trump met sy politieke strategie van populistiese mobilisering en besondere politiekepersoonlikheidseienskappe met ’n radikale en ontwrigtende benadering tot die politieke proses in die VSA vorendag gekom het, kon hy die demokratiese vlam nie blus nie. Die Amerikaanse samelewing ervaar weliswaar die diepste verdeeldheid en polarisering sedert die burgeroorlog van 1861–1865, maar die demokratiese stelsel is nie vernietig nie. Die VSA is steeds, in die woorde van voormalige president Ronald Reagan, “a shining city upon a hill whose beacon light guides freedom-loving people everywhere”.

Bibliografie

Dahl, RA. 1984. Modern political analysis. Vierde Uitgawe. Englewood Cliffs: Prentice-Hall International.

Rosen, D. 2013. The 6 political personality types. Campaigns and elections. 6 Oktober 2013. https://www.campaignsandelections.com/campaign-insider/the-6-political-personality-types (21 Januarie 2021 geraadpleeg).

Vazquez, M, C Hickey, P Krishnakumar en J Boschma. 2020. Donald Trump's presidency by the numbers. CNN Politics, 18 Desember 2020. https://edition.cnn.com/2020/12/18/politics/trump-presidency-by-the-numbers/index.html (13 Januarie 2021 geraadpleeg).

Lees ook:

LitNet Akademies Weerdink: Trump, Palestina en Israel

LitNet Akademies Weerdink: Brexit

The post <i>LitNet Akademies</i> Weerdink: Die ontwrigting en radikalisering van die Amerikaanse demokratiese politieke proses deur Donald Trump appeared first on LitNet.

Nuwe mens

$
0
0

Foto: Canva.com

Nuwe mens

Sal U ons sowaar aanvaar 
Met ons halfwit, halfswart vel 
Wie is ons dat U aan ons dink 
Dronkaards wat nie die koninkryk sal beërwe

Het U ons ook gevorm, gemaak 
In ons Khoisanmoederskoot, 
Buik van die slavin 
Was geen been van ons vir U verborge 
Uit dieselfde Afrika-stof voortgebring 
Ons gemengde weefsel aanmekaar geweef

Aan U handewerk is daar geen twyfel 
Maar húlle het getwyfel toe húlle kyk 
Deur blou oë wat Ú hulle gegee het 
Maak hulle ons ’n nuwe mens 
Kloof hulle ons halfkroes, halfreguit hare 
Met onuitwisbare potloodmerker 
En gee ons ’n nuwe naam: kleurling

The post Nuwe mens appeared first on LitNet.

Red Die Boer-teaterrestaurant: gratis aanlyn konsert

$
0
0

Soos feitlik alle teaters in Suid-Afrika, moes die gewilde Die Boer-Teaterrestaurant in Durbanville onlangs sy deure sluit as gevolg van die impak van die Covid-19-regulasies.

Sedert die eienaars Jurgen Human en Margit Meyer-Rodenbëck hierdie bekende tuiste vir die kunste geskep het, is daar die afgelope byna 16 jaar reeds ongeveer 4000 vertonings deur die land se topkunstenaars aangebied.

Sedert die aankondiging op Die Boer se Facebook-blad, het honderde boodskappe van ongeloof, skok, en hartseer ingestroom, van beide kunstenaars en ondersteuners.

Dit het die aanbieders van die aanlyn fondsinsamelings-platform WOES, Jaco van Dyk en Hamilton Wesels, laat besluit om ’n “Red Die Boer”-veldtog te begin om die teater se deure te probeer oophou.

Die WOES-program is geskep om fondse in te samel vir skole, instansies en kunstenaars en het in 2020 meer as R4,5 Miljoen help insamel  deur middel van aanlyn veilings, lootjies en donasies.

Nou gaan WOES en sommige van ons land se voorste kunstenaars saamspan om twee GRATIS aanlyn konserte aan te bied op 29 Januarie en 5 Februarie om fondse in te samel om hierdie belangrike platform vir kunstenaars in staat te stel weer om hulle deure te kan oopmaak sodra die toestande in die land dit toelaat.

Pryse en items wat opgeveil gaan word het van reg oor die land ingestroom en Jaco en Hamilton gaan kykers op ’n drie-uur-lange avontuur van musiek en emosies neem, terwyl van ons land se topkunstenaars optree!

Kunstenaars wat reeds bevestig is, is: Elvis Blue, Mathys Roets, Elandre, Leah, Anna Davel, Gian Groen, Dewald Wasserfall, Dan Patlansky, Andriette, Wicus vd Merwe, Pietman Geldenhuys en meer.

Na konserwatiewe skattings gaan 'n potensiële gehoor van meer as 40 000 mense inskakel op hierdie twee konserte en kykers gaan "lootjies" kan koop, wat hulle in aanmerking sal bring vir ’n reeks wonderlike pryse. Daar gaan ook 4 spesiale items opgeveil word.

Adverteerders kan ook betrokke raak by hierdie wonderlike inisiatief. Belangstellendes kan 'n epos stuur aan margitm@mweb.co.za.

“Die Boer is sinoniem met kuns en kultuur. Ek is al 12 jaar in die musiekindustrie en dit  sal n donker dag vir my wees as ek iets kon doen om te help, maar niks daaraan gedoen het nie” – “Hammie” Wessels

“Toe ek die nuus lees, was ons nog op vakansie, maar ek het onmiddellik vir Hammie gebel en gesê: WOES moet NOU inspring en help! Die Boer is ’n landmerk in ons omgewing wat ons nie mag verloor nie”- Jaco van Dyk

Skakels vir inligting en koop van lootjies en donasies vir 29 Jan se aanlynvertoning:

𝙊𝙉𝘿𝙀𝙍𝙎𝙏𝙀𝙐𝙉 - 𝙍𝙚𝙙 𝘿𝙞𝙚 𝘽𝙤𝙚𝙧-𝙍𝙚𝙨𝙩𝙖u𝙧𝙖𝙣𝙩𝙩𝙚𝙖𝙩𝙚𝙧

Staan 'n kans om lekker pryse te wen deur jou lootjie kaartjie by onderstaande Tixsa skakel te koop:

http://bit.ly/2M8jwMH

Gaan stel sommer nou al jou "reminder" as jy bang is jy vergeet op die gratis konsert skakel:

https://youtu.be/FjRoZZ7ZPkQ

 

 

The post Red Die Boer-teaterrestaurant: gratis aanlyn konsert appeared first on LitNet.

Wiskundeverrykingsartikel: Google en googol

Nuut by LAPA in Januarie

$
0
0

Vreesloos
Christien Neser
9780639604176
R200.00

Vreesloos? Elle is eerder vrek bang. Haar matriekjaar spoed ten einde. Sy wil brieke gooi, want sy weet nie of sy kans sien vir ’n lewe anderkant die rooibaksteenmure van Gravitas nie. Waar ander meisies planne maak vir hul groot matriekvakansie, probeer sy daarvan vergeet. Sy wil elke laaste oomblik met oorgawe geniet. Soos die matriekdans.

Op hierdie dans gaan sy ’n laaste kans kry om haar stempel af te druk. Dit moet onvergeetlik wees, veral vir die nuwe hoofmeisie en die graadelfs. Alles is droommooi: van die statige ou skoolgeboue tot haar metgesel in sy donker pak. Alles is supermega-stylvol: van die oerwoud in die skoolsaal tot die gourmet disse op die tafel. Mevrou Bender is op haar pos, goedkeurend en in beheer.

Wat kan verkeerd loop?

Net mooi alles.

As haar droomdans dan wel onvergeetlik is, maar om al die verkeerde redes, moet Elle keuses maak. Sy en Refilwe moet die gevolge dra, want hulle is die gesig van Gravitas.

En wat wag vir Elle en Refilwe aan die einde van die eksamen? Gaan dit ’n vakansie in ’n pienk bikini wees, of ’n verblyf in ’n tronksel in ’n oranje oorpak?


Tyd om te skaats
Jacolet van den Berg
9780639601984
R225.00

Hannah is vasgekeer.

Tussen die boom se blare waar sy soms vir haar lewe wegkruip en per ongeluk vir Lua, die coolste meisie wat sy ken, afloer. Sy is vas tussen die soet geure van haar ma se koekskeppings en haar uitgewaste jeans. Vas tussen haar pa se rugbesering terwyl hy plastiek-warlord speel en die wêreld vanuit sy studeerkamer probeer red. Vas in haar onvermoë om haarself te laat geld. Sy is moeg vir wegkruip, moeg om die enigste agter-die-klip-tiener te wees en te vries wanneer sy moet vlieg.

Tot Lua onverwags ’n paar ou rolskaatse vir Hannah gee en haar help om kelnerin by die akwarium se koffiewinkel te word.

Hannah kom voor ’n keuse te staan: veg, vlug of vries?

Sy kies! Sy kyk video’s oor hoe om bo te bly, want skaats gaan sy skaats.

Die De Lange-broers kruis haar pad. Leo leer haar skaats, Ben wys haar die dolfyne en Hannah se vlerke kry vere.

Sy vlieg en wanneer sy land ... land sy op wiele!


Kiets in Parys
Dianne Hofmeyr & Piet Grobler
9780639602028
R155.00

Kiets is anders as die ander katte in die agterstrate van Parys. Sy kan enige iets doen waarop sy haar kop sit. Selfs wanneer ander nie in haar glo nie.

Sy verlaat haar katfamilie en gaan ontdek die stad waar sy die aande om dans en sing. Op haar reis ontmoet sy die legendariese Édith Piaf en Josephine Baker.

Kort voor lank is sy ook beroemd. Maar is dit regtig die lewe wat sy wil hê? Katte het bowenal nege lewens, jy weet ...


Spooksoeker #3
François Bloemhof
9780639602165
R225.00

Warno sal moet keer, want nou’s daar méér. Meer skrikke. Meer skokke. Meer spoke.

Gedink jy kan nie verder verras word nie? O ja, jy kán … Dis tyd vir oorlog en die spooksoeker van Sekelrivier se aartsvyand, Henry, gaan alles in die stryd werp. Hy speel graag speletjies – en hy speel graag vuil. Niks wat Warno en Allies al geleer het, kon hulle gereed kry vir wat hier aankom nie. Nuwe onthullings. En nuwe gevare. Wat is die slangvrou se geheim? Hoe het Warno se pa gesterf? Watter wrede jong gedaante dwaal deur die dorp? En wat wag in die begraafplaas?

Hierdie laaste Spooksoeker-boek is soos ’n wegholperd. Jy beter jou sit ken en klou vir al wat jy werd is!


Keegan & Samier (3), Die strokiesprent-kompetisie
André Trantraal
9780799397703
R65.00

Keegan kry die geleentheid om ’n plakkaat te ontwerp wat sy gunstelingskrywer se nuwe strokiesprent adverteer - en die wenner kan die boek se bekendstelling bywoon! Hy is vreeslik opgewonde ... maar die skool se boelie, Brent Petersen, dreig om al sy planne in die wiele te ry ...


Keegan & Samier: (4), Die nuwe vriend
André Trantraal
9780799397727
R65.00

Daar is ’n nuwe meisie in die skool en Keegan hou baie van haar. Samier en Samia is egter glad nie beïndruk dat Alysha beter as Samia in alles is nie, en Keegan sukkel om die vrede te behou.


100 beste blokraaie van 10 jaar III
Samestellers: XWord, Dugeot, Penpret
9780639602226
R180.00

Het jy ’n blaaskans nodig? As jou antwoord “ja” is, het ons die ideale oplossing. Die volgende titel in die blokraai-trefferreeks 100 beste blokraaie van 10 jaar waarborg jou ’n welverdiende blaaskans. Dit is nou jou kans om hierdie blokraaie te wys wie’s baas!

100 beste blokraaie van jaar III is ’n nuwe blokraaibonanza wat ’n keur uit die immergewilde en topverkoperreeks 50 blaaskansblokraaie bevat. Hierdie spinternuwe samestelling beloof, nes sy gewilde voorgangers, ure se woordplesier en kopkrap.

Slyp jou tande en maak jou potlood skerp!


Anna se man
Ciska Olivier
9780639605821
R95.00

Sy gaan alles doen om sy hart te wen!

Anna se eerste dag by haar nuwe werk is ’n ramp. Sy beland in die swembad en haar redder is niemand anders as die man wat haar verwerp het nie. Die man wat sy mislei en verneder het. Haar tweelingsuster se eks, Derick.

Twee jaar gelede het sy en Hannah plekke geruil. Goed, dit was nie die slimste plan nie, maar sy het nie beplan om hopeloos verlief te raak nie. Sy het ook nie beplan om sy hart te breek nie. Die pad na vergifnis en versoening is moeilik, maar sy is vasbeslote om hom te oortuig dat sy hom liefhet en dat hy die man vir haar is.


In sy hart
Felicia Snyman
9780639605807
R95.00

Vir ewig in sy hart...

Rouxlé is ’n onafhanklike vrou wat nie ’n man nodig het nie. Sy wil wel een hê. Meer spesifiek, sy wil vir Francois hê. Sy sluk haar trots en stel haarself aan hom voor, maar hy maak dit duidelik dat haar bravade hom nie beïndruk nie. Haar brein skreeu vir haar dat sy wye draaie om hom moet loop, liefs van hom moet vergeet, maar haar hart het ander planne.

Francois besef gou dat hy ’n fout gemaak het. Rouxle het dadelik ’n indruk op hom gemaak en hy sal enigiets doen vir ’n tweede kans. Al is dit om sy eie trots in die sak te steek en aan homself te erken dat die vurige rooikop met die eksentrieke hare reeds in sy hart leef.


Opaal vir die liefde
Rina Cilliers
9780639605845
R95.00

Ongelukke kom in drie ...

Johlene Basson verkoop haar geërfde kunswinkel en het skielik genoeg geld om op ’n Sabbatsjaar te gaan. Sy wil haar ma se biologiese ouers gaan opspoor. Haar amper-verloofde ondersteun nie hierdie halsoorkop besluit nie, maar hy gee vir haar drie maande grasie. Dan wil hy trou.

Op Koffiefontein is daar tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n aantal Italiaanse soldate as krygsgevangenes aangehou. Johlene het ’n gevoel dat sy die antwoorde op haar vrae hier gaan kry, min wetend dat Koffiefontein haar hele lewe gaan verander. Gelukkig is sy nie alleen nie – daar is die eksentrieke Tant Hartjie, die mooie boer Leo met sy lelike Land Rover en die kerkhof se spook, Elisabet.


Somerson
Madelie Human
9780639605784
R95.00

Die son sal weer skyn.

Sabrina loop die man raak wat sy nooit weer wou sien nie. Nie net een keer nie, sommer baie! Boonop lyk dit vir haar of Ruan die ontmoetings beplan. Sy weet egter dat hulle normaalweg nie in dieselfde sirkels beweeg nie – haar lewe is in die stad en syne is op die plaas. Hy kan sy bes probeer, maar haar tyd op Groeneweide is beperk.

Totdat grendeltyd aangekondig word. Sabrina moet vinnig besluit of sy gaan vlug, of teen haar gevoelens vir die bruinoog cowboy veg. ’n Hoër hand maak die keuse vir haar makliker en Groeneweide word haar tydelike tuiste. Wanneer die pandemie Sabrina se besigheid bedreig, word albei se geloof beproef, maar liefde oorwin selfs die moeilikste van omstandighede.

The post Nuut by LAPA in Januarie appeared first on LitNet.

LitNet Akademies Weerdink: COVID-19 en vis maior, kontrakbreuk en repudiëring

$
0
0

........

Vis maior / force majeure verwys na ’n natuurlike of menslike oormag, soos oorlog, pandemie, revolusie of natuurrampe (tsunami’s, aardbewings en so meer) wat die nakoming van ’n kontrak onmoontlik maak.

.......

André Mukheibir het in haar LitNet Akademies-vonnisbespreking: Kan repudiëring ooit aanvaarbaar wees? oor kontrakbreuk en repudiëring geskryf. Frederik R van Dyk beantwoord Naomi Meyer se vrae oor kontrakbreuk, repudiasie* en die vis maior-beginsel in die tyd van COVID-19.

Frederik van Dyk (foto: Facebook)

* Hierdie onderhoud moet nie as regshulp beskou word wat in die konteks van regsadvies gegee word nie. Dit is bloot ’n gesprek in die akademiese belang met voorbeelde van praktiese toepassing. Diegene wat regshulp benodig, moet ’n regspraktisyn skakel en nie hierdie onderhoud as ’n regsopinie vir doeleindes van litigasie of ander regsprosesse beskou nie. Die skrywer aanvaar ook geen verantwoordelikheid sou ’n leser hierdie inligting in persoonlike regsgedinge gebruik nie.

Foto: Unsplash.com

Frederik, daar het in 2014 'n vonnisbespreking in LitNet Akademies (Regte) verskyn: https://www.litnet.co.za/vonnisbespreking-kan-repudiring-ooit-aanvaarbaar-wees. In hierdie artikel handel dit oor 'n vonnisbespreking en of repudiëring kontrakbreuk daarstel. Sal jy in jou eie woorde vir lesers uiteensit wat repudiëring van 'n kontrak is?

Repudiasie is een van die vorme van kontrakbreuk in ons reg. ’n Ander tipe is wanprestasie, wat beteken dat die party wat iets moes gedoen of gelewer het, dit nie behoorlik gedoen het nie. Verder is dit ook kontrakbreuk wanneer een van die partye laat is met hul kontraksplig, of indien ’n party dit onmoontlik maak om die kontrak na te kom. Daar is altesaam vyf soorte kontrakbreuk in ons reg, en repudiasie is een daarvan.

Repudiasie of repudiëring behels dat jy as kontraksparty deur jou woorde of gedrag die bedoeling kommunikeer om nie die kontrak na te kom nie. Jy hoef nie werklik of subjektief te bedoel om nie die kontrak te eer nie. Jou woorde of gedrag hoef bloot objektief – dit is, vanuit die perspektief van ’n redelike persoon – tot die indruk te lei dat jy nie die kontrak wil nakom nie. Partye wat ’n kontrak repudieer, sal byvoorbeeld ontken dat ’n kontrak bestaan of vanuit gedrag of woorde aandui dat hul nie hul kontraksplig kan of wil nakom nie.

Repudiëring is kontrakbreuk in anticipando / antisiperende kontrakbreuk. (Onmoontlikmaking van prestasie is die ander vorm van kontrakbreuk in anticipando.) In 'n hofsaak waarna daar in die artikel verwys word, Tuckers Land and Development Corporation, het die respondent en appellant aanvanklik 'n kontrak geteken ten opsigte van twee erwe, en toe daar probleme kom met die proklamasie hiervan, het die appellant net stilweg 'n nuwe kaart geteken en die twee erwe is vervang deur 'n terrein vir 'n skool. Wil jy iets omtrent hierdie hofsaak noem, en ook waarom dit reeds baie jare lank as ‘n belangrike hofsaak in die Suid-Afrikaanse regstelsel voorgehou word?

Tuckers LDC v Hovis is in 1980 deur die Appèlhof beslis, by monde van appèlregter Jansen. Ons noem ’n leidende saak soos Tuckers die locus classicus, wat beteken dat dit die mees gesaghebbende saak oor ’n sekere onderwerp is. Dit is boonop ’n saak van die voormalige hoogste hof wat die eerste was wat gesaghebbende rigting oor repudiasie in ons reg gegee het.

Die hof in Tuckers het moeite gedoen om die regsgeskiedenis van repudiasie na te vors. Dit is gedoen om te bepaal of die regsreëls oor repudiasie wat vir jare aanvaar is, inpas by ons plaaslike Romeins-Hollandse gemenereg. Die hof het bevind dat hoewel repudiasie as ’n selfstandige vorm van kontrakbreuk uit die Engelse reg hier neerslag gevind het, die Romeins-Hollandse reg juis alle kontrakte beskou as negotia bonae fides, oftewel gebaseer op goeie trou. Kontrakte moet nie met kwade of oneerbare bedoelings gesluit word nie. Daarom is dit deel van ons fundamentele kontraktereg dat jy as kontraksparty nie sodanig moet optree of praat dat daar afgelei kan word dat jy nie die kontrak wil nakom nie. Repudiasie word dalk nie uitdruklik deur die ou Romeins-Hollandse skrywers genoem nie, maar dit is duidelik dat ons kontraktereg dit as kontrakbreuk sal erken indien jy vooraf aandui dat jy nie ’n kontrak wil eer nie.

In Tuckers is eerstens bevind dat repudiasie wel inpas by ons Romeins-Hollandse gemenereg as ’n selfstandige tipe kontrakbreuk. Daarby is ook bevind dat repudiasie dadelik plaasvind, en nie eers wanneer die onskuldige party die "aanbod om te repudieer" aanvaar nie. Tuckers doen dus weg met die ou model dat jou repudiasiegedrag ’n "aanbod" aan die ander kontraksparty is om die kontrak te beëindig deur "aanvaarding" van die repudiasie-aanbod. Dit sou onhoudbaar wees om daardie model te behou, omdat dit op absurde wyse impliseer dat die onskuldige party se aanvaarding ’n onderdeel is van kontrakbreuk, waarsonder daar nie ’n repudiasie kan wees nie.

Tuckers beslis eerder dat die onskuldige kontraksparty ’n keuse of eleksie het om die repudiasie toe te laat. Indien sy kies om die repudiasie toe te laat, kan die hele kontrak gekanselleer word as die skuldige party se nienakoming van ’n ernstige aard sal wees. As van die onskuldige party nie redelikerwys verwag kan word om met haar deel van die kontrak voort te gaan en net met skadevergoeding tevrede te wees nie, mag sy kanselleer. Indien sy weier om die repudiasie toe te laat, kan die repudiasie opgevolg word met ’n eis om spesifieke nakoming. Met só ’n eis kan jy die party wat repudieer, met ’n hofbevel dwing om hul kontraksplig na te kom.

Foto: Unsplash.com

Die artikel rondom die vonnisbespreking, handel natuurlik ten eerste oor die Comwezi- en Datacolor-sake. Wil jy dalk iets omtrent hierdie sake sê?

Tuckers (1980) en Datacolor v Intamarket (Hoogste Hof van Appèl, 2001) gee steeds die korrekte pas aan wat repudiasieregsreëls betref. Comwezi is nie korrek beslis nie, soos prof Mukheibir ook in haar vonnisbespreking aanvoer.

In Datacolor het die appellerende party, Datacolor International, ’n verspreidingskontrak (distributorship agreement) gesluit met die respondent, Intamarket. Datacolor het eerste gerepudieer deur die kontrak met Intamarket per brief te kanselleer, sonder dat die kontrak afgehandel is. Intamarket het toe met ’n ander party, S, gaan sake doen, wat Datacolor nie goedgekeur het nie. Gevolglik het Datacolor aangevoer dat Intamarket nie Datacolor se "aanbod om repudiasie" aanvaar het nie, en daarom het Intamarket nou self repudiasie gepleeg deur met S ’n kontrak te sluit.

Datacolor illustreer hoe die "aanbond-aanvaarding"-model van repudiasie tot verkeerde beslissings lei, want die hof a quo (die hof waar die saak aangehoor is voordat daar geappelleer is) het bevind dat Intamarket nie Datacolor se repudiasie-aanbod aanvaar het nie, en dat Intamarket nou self repudieer deur ’n nuwe verspreidingskontrak met S te sluit.

Die Hoogste Hof van Appèl (voorts HHA) het die oorspronklike beslissing omgekeer en beslis dat Datacolor hul repudiasie voltooi het en nie daarop kan steun om te argumenteer dat Intamarket nou die een is wat repudieer nie. Dit het Intamarket vrygestaan om te kies om die repudiasie toe te laat. Dit het hul gedoen deur ’n nuwe kontrak met S te sluit en sodoende die kontraksverhouding met Datacolor te beëindig.

Die aanbod/aanvaarding-model van repudiasie lei tot die onhoudbare gevolg dat die skuldige party (soos Datacolor) die onskuldige party benodig om hul eie repudiasie te voltooi. Die onskuldige party is dan gebonde om die "aanbod" te aanvaar voordat hulle kan kanselleer en dalk met iemand anders ’n nuwe kommersiële verhouding opbou. As ons repudiasie aanvaar as ’n selfstandige kontrakbreuk wat dadelik van krag word, dan word onskuldige partye nie belas met die plig om die skuldige party te help om sy repudiasie te "voltooi" nie. Boonop skakel die selfstandige model die gevaar uit dat die partye in ’n oneindige spiraal van repudiasie-aanbod-teenaanbod verval: As Intamarket se gedrag op ’n repudiasie neerkom, sou dit tog sekerlik ook  ’n "aanbod" om repudiasie wees wat Datacolor eers moes aanvaar?

Die selfstandige model dra meer gewig in regspraak en in akademiese kringe. Daarom is dit vreemd dat die HHA in Comwezi weer eens staatgemaak het op die aanbod/aanvaarding-model van repudiasie, ten spyte daarvan dat dit gebonde was om die selfstandige model van Tuckers en Datacolor te volg. In Comwezi het Comwezi Security Services (CSS) ’n skikkingsooreenkoms met die Cape Empowerment Trust (CET) aangegaan nadat CSS nie ’n lening terugbetaal het nie. CSS het versuim om hul samewerking ingevolge die skikking te gee, en CET het die ooreenkoms in die hof laat afdwing.

Op appèl het CSS, soos Datacolor, staatgemaak op hul eie "aanbod" om die skikking te repudieer. CSS het aangevoer dat CET nie die ooreenkoms kan laat afdwing nie, omdat CET nie die repudiasie-aanbod aanvaar het nie, en gevolglik is die kontrak nog nie gekanselleer nie. Daar is sodoende ook nog nie kontrakbreuk nie. Pleks daarvan dat die hof op Tuckers en Datacolor staatmaak en beslis dat CSS reeds volledig gerepudieer het en dat CET dus mag kies om die bevel in ’n hof te laat afdwing, het die hof bloot bevind dat CSS ’n "onbillike" eis stel deur te verwag dat CET nie ’n hofbevel mag kry totdat hulle die aanbod aanvaar het nie. Dit was nie nodig vir die HHA om die bestaande regsbeginsel van repudiasie as ’n selfstandige vorm van kontrakbreuk met ’n vae bevinding van onbillikheid te vervang nie.

Foto: Unsplash.com

Die Suid-Afrikaanse regstelsel het heelwat veranderinge ondergaan sedert die dae toe dit slegs 'n gemeneregstelsel was waar daar staatgemaak is op vorige hofbeslissings om mense te laat verstaan of hul optrede as reg of verkeerd deur die regstelsel beskou word, tot by vandag se meer gemengde stelsel. Steeds word staatgemaak op vorige hofsake, maar nou val die klem op hoe die hofsaak saam met die Grondwet gelees word. Ons regstelsel word deur sommige skrywers met 'n kremetartboom vergelyk wat stewig gewortel is in verskillende tradisies, maar groei en vertak. Hoe belangrik is hofuitsprake steeds in die moderne Suid-Afrikaanse reg?

Ons is steeds ’n regstelsel wat op presedent, oftewel vorige beslissings, gebaseer is. Vorige hofbeslissings bind toekomstige howe, na gelang van die senioriteit van die hof. In sake soos Media24 en Camps Bay, soos Mukheibir noem, het die howe in die grondwetlike era opnuut bevestig dat bindende ouer beslissings deel is van ons reg. Dit gee regsekerheid en is ’n kleinood vir die oppergesag van die reg. Dit keer dat daar duisende teenstrydige of uiteenlopende beslissings is, en help dat ons die reg konsekwent en beredeneerd toepas. Dit is ook kernbelangrik vir gelykheid voor die reg, want anders word elkeen se saak volgens ander reëls besleg.

Die presedentstelsel is wel ook nie rigied nie:  ’n Regter wat verskil met ’n ouer en bindende regsreël mag daarvan afwyk, maar moet goeie redes verskaf. Anders lyk dit of die regter sommer ’n haas uit ’n hoed pluk of dat die hof nie behoorlik na ouer regsredenasie gekyk het nie. Die geloofwaardigheid van die regbank moet altyd bo verdenking wees. Comwezi stel teleur omdat dit nie ouer beslissings navolg nie, maar ook omdat daar geen goeie redes vir die afwykende benadering gegee is nie.

Die artikel verwys in die besonder na die feit dat daar in Datacolor onsekerheid geheers het omtrent die vraag of repudiëring as sodanig kontrakbreuk daarstel, en of die repudiëring neerkom op kontrakbreuk eers wanneer dit aanvaar word. Onsekerheid het ontstaan omdat die hof oënskynlik sy vorige hofbeslissings oor die hoof gesien het. Brei asseblief uit op die beginsel van stare decisis, en hoe die onsekerheid in die toekoms uit die weg geruim sou kon word?

Wel, Datacolor het darem, soos ek hier bo verduidelik, in die HHA reggekom. Die hof a quo het die aanbod/aanvaarding-model van repudiasie gebruik, en die uiteinde was dat die skuldige party, Datacolor, gelyk gegee is teen die onskuldige party wat kwansuis nie die aanbod om repudiasie aanvaar het nie, en sodoende was die kontrak steeds staande. Die HHA het hierdie onhoudbaarheid reggestel deur Datacolor se repudiasie as die punt van kontrakbreuk te beskou, en Intamarket se gedrag as hul blote eleksie om die repudiasie toe te laat en te kanselleer.

Stare decisis is die Latynse naam vir die presedentereël dat ons by vorige beslissings staan tensy hul met goeie rede van afgewyk word. Ek vermoed dat regters soms oorlaai is en net nie tyd kry om goeie navorsing te doen nie. Hulle kyk dan ouer beslissings mis en pas dit nie toe nie. Dalk is hulle oorhaastig, of selfs nie behoorlik opgelei nie. Dalk sal dit help as ons regters, soos regters in die VSA, jong regtersklerke in diens neem om met navorsing te help. Dit sal help om die presedentstelsel te beskerm.

Foto: Unsplash.com

Skielik stel mense baie meer belang in kontrakbreuk. COVID-19 het so baie kontrakte beïnvloed – kontrakte wat nie deurgevoer kon word nie, weens siekte, weens geld, om ander praktiese redes. Kan jy dalk uitbrei op die Franse begrip force majeure, wat in die Suid-Afrikaanse regstelsel eerder bekendstaan as vis maior? Is dit die sogenaamde Godsdaad-beginsel wat versweë in Suid-Afrikaanse kontrakte ingebou is? Of moet dit swart op wit in 'n kontrak staan om dit te kan afdwing?

Vis maior / force majeure verwys na ’n natuurlike of menslike oormag, soos oorlog, pandemie, revolusie of natuurrampe (tsunami’s, aardbewings en so meer) wat die nakoming van ’n kontrak onmoontlik maak.

In ons reg kan omstandighede soos hierdie daartoe lei dat pligte en regte ingevolge ’n kontrak wegval. Onmoontlikwording is dus in ons reg ingebou, onderhewig aan ’n toets. Die toets is tweeledig: Eerstens moet nakoming van die kontrak objektief onmoontlik raak. Dit beteken dat geen persoon die kontraksplig sou kon nakom nie. Tweedens moet die onmoontlikheid om die kontraksplig na te kom, ook vir die redelike persoon onmoontlik wees. Daar is vis maior of oormag indien die omstandighede buite die beheer van ’n redelike mens val. Dit kan nie weens die kontrakspartye se skuld wees nie; as dit is, dan het ons nie met oormag te doen nie.

........

Getoets hieraan kan die koronaviruspandemie wel neerkom op vis maior, afhangende daarvan of die pandemie jou kontraksplig objektief onmoontlik maak en of die redelike mens ook nie die onmoontlikheid sou kon vermy nie. Indien lewering van drank byvoorbeeld onwettig raak weens pandemieregulasies sal die leweraar van die kontrak kan ontsnap deur te verweer dat prestasie objektief onmoontlik is en geen redelike persoon die onwettigheid kan vermy nie. Huur is wel ’n moeiliker geval.

.........

Getoets hieraan kan die koronaviruspandemie wel neerkom op vis maior, afhangende daarvan of die pandemie jou kontraksplig objektief onmoontlik maak en of die redelike mens ook nie die onmoontlikheid sou kon vermy nie. Indien lewering van drank byvoorbeeld onwettig raak weens pandemieregulasies sal die leweraar van die kontrak kan ontsnap deur te verweer dat prestasie objektief onmoontlik is en geen redelike persoon die onwettigheid kan vermy nie. Huur is wel ’n moeiliker geval. Net omdat die pandemie huurbetalings finansieel moeilik of duur gemaak het, beteken dit nie jou maandelikse huurskuld is objektief onmoontlik om te delg nie. Van die redelike persoon sal boonop verwag word om ’n plan te kan maak, in welke geval die oormag nie die huurkontrak bedreig nie.

Foto: Unsplash.com

Dit is ’n streng stand van die reg. Daar is debat oor of die Suid-Afrikaanse reg  in die rigting van sekere ander lande moet ontwikkel waar swaar omstandighede ’n kontraksparty tydelik van haar plig kan verskoon. Daar is ook skrywers wat ten gunste is van ’n "verkeersmaatstaf" of samelewingstandaard. Dit bepaal dat indien nakoming nie geheel onmoontlik is nie, maar onredelike moeite sal verg, die betalingsplig van byvoorbeeld huurgeld sal wegval. Daar is egter nie na my kennis leidende regspraak hieroor nie.

Foto: Unsplash.com

Voorts: Het jy raad vir mense wat in die toekoms (wat nou onafwendbaar deur hierdie virus beïnvloed word) kontrakte wil opstel? Hoe kan die regte bewoording en klousules mense in die toekoms teen onvoorsiene omstandighede help beskerm?

Huurders kan probeer beding vir ’n klousule in die huurkontrak wat huurbetalings ten minste tydelik sal verskoon sou iets soos werkloosheid weens ’n pandemie plaasvind. Ek twyfel wel of jou deursneeverhuurder te vinde sou wees vir so ’n onderhandeling. Wat die pandemie ons wel geleer het, is dat vis maior-klousules wat aanspreeklikheid vir kontrakspligte uitstel of ophef, nie altyd help nie, ten minste nie soos dit in die gewone spesie huurkontrak voorkom nie. Behalwe huur, sal mense wat kommersiële kontrakte sluit, slim wees om seker te maak dat pandemies ingesluit is by ’n vis maior-klousule, of ten minste dat die teks so lui dat pandemies daardeur omvat word.

......

Behalwe huur, sal mense wat kommersiële kontrakte sluit, slim wees om seker te maak dat pandemies ingesluit is by ’n vis maior-klousule, of ten minste dat die teks so lui dat pandemies daardeur omvat word.

.......

Die omgekeerde is ook waar: Indien jy bekommerd is dat jou teenparty sal probeer om onmoontlikwording van ’n kontraksplig as verskoning te gebruik sou daar ’n verdere vlaag van die koronavirus pandemie voorkom, sal dit wys wees om ’n klousule in die kontrak in te werk waarvolgens die partye onderneem om hul kontraksplig na te kom ten spyte van ’n vis maior-oormag.

Ek twyfel wel sterk of so ’n klousule sou help indien dit byvoorbeeld onwettig of selfs gevaarlik word om so ’n vasgetekende plig na te kom. So ’n klousule sal waarskynlik teen die goeie sedes en nietig wees sover voortsetting van die plig onwettig of gevaarlik is. ’n Verdere kwalifiserende klousule kan help wat lui dat indien die kontraksplig onwettig of gevaarlik is, dit tydelik opgeskort sal word. Verder, indien die gevaarlikheid en onwettigheid so lank voortduur dat daar nie van die partye verwag kan word om langer op te skort nie, moet een of albei partye ’n reg op kansellasie kry. So ’n klousule sou in ooreenstemming wees met die gewone reëls van onmoontlikwording.

Lees ook:

Vonnisbespreking: Kan repudiëring ooit aanvaarbaar wees?

The post <em>LitNet Akademies</em> Weerdink: COVID-19 en <em>vis maior</em>, kontrakbreuk en repudiëring appeared first on LitNet.

Pasverskyn: Plekname van Suider-Afrika deur Peter Raper, Lucie Möller enTheodorus du Plessis

$
0
0

Titel: Plekname van Suider-Afrika
Outeurs: Peter Raper, Lucie Möller, Theodorus du Plessis
Vertaler: Cornelia Geldenhuys
Uitgewer: Protea Boekhuis

Hierdie nuttige naslaanwerk, ’n aangepaste en bygewerkte weergawe van die vierde uitgawe van die Dictionary of Southern African Place Names, bevat die omvangrykste naamlys van Suider-Afrikaanse dorpe, stede, spoorwegstasies, berge, riviere, strande en ander entiteite. Die meer as 9000 kort inskrywings inkorporeer data van bronne van tot langer as 500 jaar gelede. Die boek bevat nie net feite oor die oorsprong van plekname nie, maar is ’n skatkis van ander interessante inligting soos alternatiewe name en die jongste naamsveranderinge.

Plekname van Suider-Afrika is meer as net ’n naslaanwerk; dit bied insig in die ontstaan van plekke, hul inwoners, geskiedenis, gewoontes en waardes.

 

The post Pasverskyn: <em>Plekname van Suider-Afrika</em> deur Peter Raper, Lucie Möller enTheodorus du Plessis appeared first on LitNet.


Die volkspeler agter die Taalgenoot se sukses

$
0
0

Ná 90 jaar in druk gaan die Taalgenoot nou ook aanlyn gelees kan word. Wat het julle dié besluit laat neem?

Ons het besluit dis tyd dat meer mense moet weet wat die ATKV ten opsigte van projekte en werk in die gemeenskap doen. Almal is besig om te diversifiseer en die aanlyn paadjie te loop en aangesien Taalgenoot die mondstuk van die ATKV is, het ons gereken dis ’n goeie skuif.

Julle persverklaring maak dit egter duidelik dat die gedrukte tydskrif nie gaan verdwyn nie. Waarom albei behou in ’n tyd waarin die drukmedia ... wel,  onder druk is?

Ons het heelwat ouer lesers wat steeds die gedrukte weergawe verkies – en as ek moet bieg, ek verkies ook steeds die reuk van ink en papier. Baie moeite word gedoen tov illustreerders, fotograwe en uitleg en dit kom die beste na vore in die gedrukte weergawe.

Negentig jaar is ’n baie lang tyd. Hoe het die eerste Taalgenoot gelyk?

Hoe gereeld is die formaat oor die jare aangepas?

Die formaat het verander namate nuwe redakteurs oorgeneem het en hul stempel afgedruk het. Gedurende die eerste uitgawes was die tydskrif nog in wit-en-swart, met illustrasies van sigarette en veilings as advertensies. Ons het intussen wegbeweeg van ’n leefstyltydskrif-formaat en die klem word op die kunste, literatuur en kultuur geplaas. Ek verkies om stories te publiseer wat elders nie te sien is nie en ek probeer wegbly van sensasie.

Die afgelope aantal jaar het jy en jou (redelik klein) spannetjie, enorme pryse gewen vir die werk wat julle doen, en sommer baie van hulle. Spog so ’n bietjie?

Sedert 2017 het ons drie keer die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se prys vir beste interne tydskrif, asook die gesogte toekenning vir beste korporatiewe publikasie, gewen. Die afgelope vier jaar het ons al weggestap met die pryse vir beste koppe (headlines), beste skryfwerk, beste kommunikasie, beste ontwerp, asook beste voorblad. Dis nog net die redakteur van die jaar wat kort …

Die pryse gaan onder meer vir die inhoud en die beeldskone manier waarop julle die tydskrif uitlê. Hoe lank werk julle aan elke uitgawe?

Die vryskutskrywers het ’n week om stories voor te stel en twee weke om dit te skryf, en die uitleg van die tydskrif neem ongeveer ’n maand, wat nog proeflees en redigering insluit. Daar is genoeg tyd om te verfyn. Vir my en van die redaksie wat by dagblaaie gewerk het, is dit hemels.

Vertel ons van die mense in jou span wat dit als moontlik maak?

Martie Swart is ons produksieredakteur en sosialemediaboffin; Marelise Scholtz doen die ontwerp en uitleg; en Reza Clifford proeflees vir ons en gooi ’n laaste oog. Ons almal besluit saam watter stories ons gaan plaas. Die vryskutte (skrywers en illustreerders) het egter ’n baie groot aandeel in die tydskrif se sukses.

Die Taalgenoot is ’n mondstuk van die ATKV. Maar dit is ook ’n tydskrif uit eie reg. Hoe bepaal julle die balans tussen korporatiewe stories en addisionele inhoud?

’n Spesifieke aantal blaaie word vir ATKV-nuus geoormerk. Dit sluit in stories oor vlagskipprojekte en die wonderlike werk wat die takke doen. Uit die aard van die saak sal ons plek maak vir ons eie nuus as dit moet. Dis ook belangrik om stories aan te bied wat met lesers sal resoneer.

Sedert jy beheer geneem het van die Taalgenoot is die inhoud beslis uitdagend, maar nie skokkend nie. Hoe bepaal jy die hitte van jou kooksel?

’n Mens leer maar deur die jare wat mense ongemaklik maak en waar om die streep te trek. Enige onderwerp is egter bruikbaar, solank jou redenasies, bronne en motivering net gebalanseerd is. Dis maklik om te skok, maar dis moeiliker om in te lig sonder om te skok. Soms moet ’n mens egter ’n bietjie die hok skud. Dit was egter nog nooit my doel nie – ’n goeie storie bly ’n goeie storie, ongeag die onderwerp.

Jy is bekend vir die puik voorblaaie wat jy laat skiet. Wat is jou gunsteling(e)?

Dit klink soos ’n cliché, maar elkeen is vir my besonders. As ek egter moet uitsonder: Die eerste een saam met Andre Badenhorst van Gérard Rudolf lê my aan die hart, asook die huidige een van Tarryn Wyngaard – dis wêreldklas.

André Badenhorst skiet gewoonlik jou voorblaaie. Waar kom hierdie samewerking van julle vandaan?

Ek het hom op Facebook ontdek, hom ontmoet vir ’n bier, en dit gaan steeds voor die wind. Ek hou van die idee dat iemand wat Jack Parow en Fokofpolisiekar se fotosessies doen, nou vir Taalgenoot foto’s neem. Dit was so reg in my kraal.

Daar was ook al voorblaaie wat die tonge los gehad het. Wil jy iets daaroor deel?

Onder my redakteurskap was die een van Bibi Slippers in haar Voortrekkergewaad nogal ’n teer puntjie. Lesers het laat weet ons sleep hul Voortrekkervoorouers se naam deur die modder (seker oor die tatoes op die foto). En dan die een van Mielie Senekal natuurlik – wat ons gedink het, is baie progressief! Wie het al gedurf om iemand met ’n “voller figuur” só te laat poseer? Ek het al geleer: Jy kan nie almal tevrede stel nie.

Jy is ’n joernalis, maar ook ’n romanskrywer, digter en rockster. By Oppikoppi was daar al ronde oë as die volkspele vreemd geraak het. Van waar kry jy jou kreatiewe idees?

Ek was maar altyd lief daarvoor om alternatiewe dinge die lig te laat sien. Afrikaans het so ’n dramatiese, donker kant – maar ook satiries. Ek dink in die beginjare was dit seker maar om ’n bietjie te skok – om ’n standpunt te maak, om te baklei teen die biertentmentaliteit, maar ek is deesdae meer verdraagsaam. Gun almal wat hulle toekom.

Deesdae is jy die pa van ’n pragtige knaap, en daar is ’n trousertifikaat in jou staalkabinet. Volkspeler is tans net die naam van jou Twitter-rekening. Hoe het die gesinslewe jou gehelp, of gestuit, in die rol van ’n praatbuis vir ’n gesinsorganisasie soos die ATKV?

Dit het my rustiger gemaak en meer bedees. Ek skree nie meer nie.

Taalgenoot het nou al soveel pryse gewen – wat motiveer jou om aan te hou nuwe idees uitdink en dit relevant, en mooi, te maak?

Ek wissel gereeld rubriekskrywers af – asook my illustreerders. Dit help om die inhoud vars te hou. Ek kyk ook wat is internasionale neigings en pas dit toe.

Waarna kan ons uitsien in komende uitgawes?

Die digitale formaat bied net soveel meer en maak dit meer interaktief vir lesers. Aan die ander kant wil ek vir Gary Busey aanhaal uit die rolprent Soldier: “My daddy use to say – If it ain’t broke, don’t fix it.”

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.

Lees ook:

Mediaverklaring: Taalgenoot nou vir ’n ieder en ’n elk

The post Die volkspeler agter die <em>Taalgenoot</em> se sukses appeared first on LitNet.

Passievolle volharding. Enkele opmerkings oor Grit deur Angela Duckworth

$
0
0

Die boek is hoofsaaklik geskryf vir die populêre mark en dit slaag as ’n voorbeeld van ’n teks wat op ’n interessante wyse breë algemene teoretiese beginsels aan die leser oordra.

Titel: Grit
Skrywer: Angela Duckworth
Uitgewer: Vermilion, Penguin
ISBN: 9781785040207

  1. Inleiding

Wat motiveer Zirk Botha om ’n soloroei-ekspedisie van Kaapstad na Rio de Janeiro aan te pak? Daar kan ’n wye spektrum verbandhoudende faktore met sy unieke poging wees, maar oor twee aspekte bestaan min twyfel: Hy moet beslis op ’n passievolle wyse ’n spesifieke doel nastreef en hy moet besonderse uithouvermoë aan die dag lê. Sy oorkoepelende lewensfilosofie sal waarskynlik elemente insluit soos vasbyt, deurdruk en nie tou opgooi nie. Dit is wat Angela Duckworth in haar boek met grit bedoel, en wat vir die doeleindes van hierdie artikel met "passievolle volharding" vertaal word.

Die situasie word egter meer kompleks indien Zirk Botha, nadat hy sy doel bereik het, belangstelling daarin sou verloor, en dan weer ’n volgende doel met volharding en selfdissipline nastreef. ’n Ander persoon kan ook in diepseeroei oor ’n lang tydperk belangstel, maar geen spesifieke doelwit stel nie en geen volhoubaarheid toon om ’n doel te bereik nie.

In die fisiese wetenskappe verwys breekkrag na die maksimum hoeveelheid krag wat op ’n voorwerp uitgeoefen kan word voordat dit breekpunt bereik en die voorwerp disintegreer. Die maksimum weerstand of breekpunt van ’n voorwerp word bepaal deur ’n strestoets (fatigue test). ’n Illustrasie word in foto 2 gegee. In die gedragswetenskappe speel beide liggaamlike en sielkundige faktore ’n deurslaggewende rol in menslike uithouvermoë en kom dit dus (soos in fisiese breekkrag) neer op dinamiese integrasie van ’n komplekse sisteem verbandhoudende veranderlikes.

  1. Inhoud van die boek

Die skrywer is ’n professor in sielkunde verbonde aan die Universiteit van Pennsilvanië. Haar navorsing het meer as 25 000 sitasies sedert 2016 opgelewer, en meer as 6 000 sitasies in 2020 alleen. Verskeie indekse wat ’n aanduiding gee van die skrywer se wetenskaplike produktiwiteit en impak, dui daarop dat sy ’n uitstaande akademikus is.

Die teikenleser van die boek (wat 440 bladsye beslaan) is enigeen wat sukses wil behaal, hetsy ouers, adolessente, studente, afrigters, sport- of besigheidslui. Die kerngedagte waarop gefokus word, is dat uitnemende prestasie nie noodwendig net aanleg of vermoë ten grondslag het nie, maar ook twee unieke persoonlikheidstrekke, naamlik passievolle doelwitnastrewing en volhoubaarheid.

In formele werksomgewings is die gemotiveerde werker met stabiele belangstellings gewoonlik sterk in aanvraag. Duckworth beklemtoon die belangrikheid daarvan om hierdie werkers vroegtydig te identifiseer en hul vaardighede verder te ontwikkel. Hierdie aspek kan as die essensie van die boek beskou word.

Strestoets in baksteenmuur. (Foto: die skrywer)

In die voorwoord van die boek bespreek Duckworth die aard van die gesinsverhoudings wat gedurende haar kinderjare in haar gesinsopset van toepassing was. Hier was sy voortdurend blootgestel aan opmerkings oor die belangrikheid van intellektuele vermoë en akademiese aanleg (talent). Sy verduidelik hoe haar eie kognitiewe vermoëns tuis dikwels onderskat is en toe sy op ’n latere tydstip die prestige- Amerikaanse McArthur-stipendium ontvang, is die "onreg" wat sy moes verduur, in ’n mate reggestel.

In hoofstuk 1 skyf sy oor haar ervaring by die West Point Militêre Akademie met die keuring en seleksie van kandidate. Die keuring word gebaseer op ’n totaaltelling vir elke kandidaat (Whole Candidate Score) wat die resultate van psigometriese instrumente soos die Amerikaanse Skolastiese Aanlegtoets (SAT) en Amerikaanse Universiteitstoelatingstoets (ACT) insluit. Op grond van haar navorsing oor die uitvalkoers van kadette by West Point het Duckworth tot die gevolgtrekking gekom dat akademiese mislukking veel eerder aan houdings- en motiveringsveranderlikes toeskryfbaar is as aan uitsluitlik kognitiewe faktore.

Die belangrikheid van werksetiek kom in hoofstuk 2 aan die beurt. Op grond van haar ervaring as ’n wiskunde-onderwyser het Duckworth tot die insig gekom dat akademiese oorprestasie die gevolg van blote harde werk kan wees. Hoë akademiese aanleg waarborg nie altyd ooreenstemmende hoë akademiese prestasie nie. Selfs al sou ’n statisties beduidende korrelasiekoëffisiënt (byvoorbeeld r =0,80) vir ’n steekproef universiteitstudente tussen ’n toets van intellektuele vermoë en gemiddelde akademiese prestasie verkry word, word slegs 64% (0,82)(100) van die variansie tussen die veranderlikes verklaar. 36% van die variansie bly steeds onverklaarbaar en kan gevolglik aan die invloed van nie-intellektuele veranderlikes toegeskryf word.

West Point Militêre Akademie. (Foto: Military.com)

Die skrywer maak in hoofstuk 3 ’n saak uit ten gunste van die poging of inspanning wat aangewend word om sukses te behaal. Met inspanning word vermoëns getransformeer tot vaardighede. Inspanning maak gevolglik ’n vaardigheid produktief.

Hierna volg hoofstukke oor die objektiewe meting van grit met behulp van die verkorte grit-selfassesseringskaal, en ’n verduideliking van die ontwikkelingstadia van passievolle volharding.

Afdeling 2 bestaan uit vier hoofstukke waarin die teoretiese begronding vir die konstruk grit bespreek word. Dit sluit vier fasette in, naamlik gefokuste belangstellings, bereidwilligheid om vaardighede herhaaldelik te oefen en te slyp, die ontwikkeling van ’n verbandhoudende en logiese visie, asook die handhawing van realistiese hoop as ’n kern-lewenswaarde.

Die boek word afgesluit met die toepassing van die grit-teorie op enkele lewensterreine. Dit sluit in ouer-kind-interaksie (parenting), deelname aan buitemuurse aktiwiteite, asook die skepping van ’n kultuur van harde werk en passievolle volharding in verskillende gemeenskappe en sosiale strukture soos koshuise, universiteite, skole en sportspanne.

  1. Enkele opmerkings oor die boek se inhoud

Geen bronnelys word aan die einde van die teks verskaf nie. ’n Bylae wat uit 63 bladsye bestaan, met 351 verduidelikende voetnotas, word wel aangebied. In hierdie bylae word aangedui uit watter bronne die inligting wat in die teks verskyn, verkry is.

Die lees van die boek sou aansienlik vergemaklik gewees het indien die ooreenstemmende nommers van die voetnotas ook in die teks verskyn het. Selfs ’n leser met grit gaan beslis tou opgooi tydens die kruiskontrolering van die inligting, omdat die proses eenvoudig veels te tydrowend is.

In elke hoofstuk word gebruik gemaak van verskillende opeenvolgende hoofgedagtes wat met behulp van aandagstrepe tussen die hoofgedagtes onderbreek word. In hoofstuk 1 is daar sewe sulke onderbrekings, en in hoofstuk 2 tien. Ter wille van kontinuïteit en ’n eenvoudiger integrasie van die hoofgedagtes in elke hoofstuk, sou van kant -opskrifte gebruik gemaak kon gewees het.

In die nawoord bespreek Duckworth die antwoorde op vrae wat dikwels opduik gedurende haar openbare voordragte, lesings en werksessies. Dit sluit vrae en antwoorde in soos: Watter implikasies hou die handhawing van ’n gebalanseerde lewenstyl wat werksverpligtinge en ontspanning betref in vir ’n persoonlike grit-ingesteldheid? Kan fluktuasies in ’n persoonlike grit-ingesteldheid onstaan (Can you lose grit)? Het sosio-ekonomiese statusverskille ’n impak op die ontwikkeling van ’n grit-ingesteldheid? Heelwat meer verbandhoudende vrae is natuurlik moontlik, soos: Watter impak sou fisieke gestremdhede op ’n grit-benadering tot sukses hê? Hoe standhoudend is ’n grit-ingesteldheid? Wat is die oorsake daarvan dat persone met aanvanklike hoë grit-tellings die eienskappe daarvan later verloor?

’n Aantal verwysings na ouer bronne en inligting kom in die teks voor. Daar word byvoorbeeld meer as een keer na die werk van Francis Galton, Charles Darwin en William James verwys. Ook na ’n studie by Harvard wat reeds in 1940 uitgevoer is, asook na  Cox se werk van 1926 en John Watson se navorsing wat uit 1928 dateer. Op bl 256 word verwys na ’n studie wat 50 jaar gelede by Stanford-universiteit uitgevoer is. ’n Mens sou verwag het dat ’n onlangse teorie soos dié van Duckworth sover as moontlik op onlangse navorsingsbevindings gebou sou wees.

Wat die grit-skaal betref, word min inligting oor die normbepaling, geldigheid en betroubaarheid daarvan in die boek gegee. Die tien skaalitems is beslis vatbaar vir responssydigheid, hetsy positief (faking good) of negatief (faking bad). Diagramme soos dié op bl 100 behoort ook die standaardafwyking of die standaardmetingsfoute vir die datapunte in te sluit, sodat meer inligting uit die diagram afleibaar is.

Die vraag ontstaan ook of nog verdere etikette soos grit in die persoonlikheidsielkunde werklik ’n vastrapplek gaan kry, omdat persoonlikheidsielkunde welbekend is vir onnodige en oormatige etikettering. Ten einde etikettering aan bande te probeer lê is persoonlikheidsvraelyste soos die 16PF en Vyf-faktor-persoonlikheidsvraelys oor dekades ontwikkel en verfyn. Hierdie modelle maak dit moontlik om persoonlikheid in terme van enkele verbandhoudende dimensies te assesseer, en skakel fyner onderskeidings tot ’n groot mate uit. Daar bestaan ook aanduidings in die literatuur dat die konstruk grit ten volle integreerbaar is in die hiërargiese struktuur van die persoonlikheidstrek konsensieusheid (conscientiousness) soos dit deur die Vyf-faktor-vraelys gemeet word.

  1. Grit binne verskillende kontekste

Die konstruk passievolle volharding verteenwoordig verskillende betekenisse in verskillende kontekste. ’n Bepaalde konteks kan die suksesvolle uitvoering of bemeestering van ’n taak beïnvloed, soos uit onderstaande vyf eenvoudige voorbeelde blyk:

4.1 Die doel en aard van ’n taak, aktiwiteit of handeling

Die eienskap om doelgerig te volhard om sodoende sukses in ’n aktiwiteit te behaal, word beïnvloed deur verskillende faktore. Hierdie faktore sluit in die aard van die oorkoepelende doel wat nagestreef word, sowel as die aard van die spesifieke taak, aktiwiteit of handeling. Die volgende voorbeeld dien ter illustrasie.

Die oorkoepelende doel van ’n veertigjarige bergfietsryer kan byvoorbeeld wees om oefening te doen en sodoende algemene fiksheid te bevorder. Die spesifieke aktiwiteit wat nodig is om die oorkoepelende doel suksesvol te bereik, is om twee keer per week met ’n bergfiets teen ’n bepaalde helling uit te ry. Die kompleksiteit van die taak behoort dus gemiddeld tot moeilik vir die meeste bergfietsryers in hierdie ouderdomsgroep te wees. Die totale kumulatiewe duur van die aktiwiteit kan betreklik lank wees en sou oor ’n periode van 10 jaar of meer kon voortduur. Dié aktiwiteit vind onderbroke plaas (weekliks) en kan beskryf word as ’n minder komplekse aktiwiteit wat individueel uitgevoer word. In hierdie geval kan ’n rekteiken (stretch target; kyk Duckworth ble 144–8) vasgestel word as die geleidelike verbetering van die tyd wat dit neem om dié helling uit te ry totdat ’n plato van prestasie oor die jare heen bereik word.

In teenstelling met bg voorbeeld lê die suksesvolle uithouvermoë van ’n spesialisgroep rotsklimmers wat die Eigerpiek uitklim op ’n hoër grit-vlak as dié van die bergfietsryer. Die groep se oorkoepelende doel is om bestaande rekords te verbeter en/of om bekendheid te verwerf. Dit is ’n hoogs komplekse taak wat fisieke en psigiese uithouvermoë verg. Die duur is betreklik kort. Binne ’n paar dae word die Eiger op- en afgeklim afhangende van die weersomstandighede. Die aktiwiteit vind dus ononderbroke plaas, en word so vinnig as moontlik afgehandel. Dit is ’n aktiwiteit wat normaalweg ’n spanpoging verg, omdat suksesvolle soloklimme teen die Eiger die uitsondering eerder as die reël is.

In die geval van die Eigerklimmers is die daarstelling van ’n rekteiken veel meer kompleks, omdat die aktiwiteit hoogstens een of twee maal per jaar plaasvind en omdat weersomstandighede, begrotings en groepdinamika prestasieverbetering mbt die aktiwiteit beïnvloed.

Zirk Botha se roeipoging val ook in laasgenoemde kategorie.

Die tipe taak en die doelwit bepaal dus die intensiteit van fisieke en sielkundige uithouvermoë wat vereis word om die doel suksesvol te bereik. Hierdie soort besonderhede ontvang nie voldoende aandag in Duckworth se boek nie.

In teenstelling met die voorbeelde van die bergfietsryer en Eigerklimmers is die oorkoepelende doel van ’n student wat ’n voorgraadse kursus aan ’n bepaalde universiteit suksesvol volg, ’n behoefte om akademiese sukses te behaal, of om sy loopbaanontwikkeling te bevorder. Die spesifieke doelwit is gevolglik om ’n baccalaureusgraad binne die bestek van drie jaar te verwerf. Die aktiwiteit vereis in hoofsaak komplekse sielkundige uithouvermoë. Dit is ’n deurlopende en ononderbroke individuele taak wat binne ’n relatief kort periode (minimum drie jaar) afgehandel word. Die rekteikens van die student was om na-uurse ekstra klasse, sowel as ’n studiebegeleidingskursus by te woon om sodoende sy akademiese prestasievlak stapsgewys te verbeter.

4.2 Wysiging van doelwit

Suksesvolle uithouvermoë kan ook primêr deur ’n behoefte aan oorlewing gemotiveer wees. In die boek Endurance beskryf Alfred Lansing die Ernest Shackleton-ekspedisie na die Suidpool in 1914 en hoe die groep se houtskip geleidelik in die gevaarlike pak-ys van die Weddell-see vasval. Die aanvanklike doel van die ekspedisie was eksplorasie, ontdekking en internasionale roem. Nadat die skip geleidelik tot ’n punt van disintegrasie gekom het, was die bemanning uitgelewer aan hul eie oorlewing. Hulle moes gevolglik uitsonderlike fisieke en sielkundige uithouvermoë aan die dag lê, omdat hul aanvanklike primêre doel noodgedwonge van die avontuur van ’n ontdekkingsreis en roem na liggaamlike en psigiese oorlewing verskuif het.

4.3 Onrealistiese doelwit-nastrewing

Passievolle volharding en doelnastrewing kan onder sekere omstandighede goeie dividende oplewer. Indien die doel egter onrealisties of onhaalbaar word, behoort rooi ligte onmiddellik te begin flikker. ’n Goeie illustrasie van hierdie punt is die "bittereinder"-verskynsel gedurende die finale fase van die Anglo-Boereoorlog. In hierdie geval het die gevolge van passievolle uithouvermoë ongelukkig uiters negatief en traumaties op die lange duur uitgewerk. Tydens die oorlog was die oorkoepelende doelnastrewing republikeinse onafhanklikheid, wat aanvanklik ’n positiewe en geloofwaardige doel was. Daar was egter duidelike kantelpunte tydens die verloop van die oorlog waartydens dit (met terugskouing) duidelik blyk dat die gewapende stryd liefs beëindig moes gewees het. Soos die historikus André Wessels (2001:8) dit stel: "Die feit dat die oorlog geëindig het met die verlies van hul republikeinse onafhanklikheid, het die meeste bittereinders en hul gesinne verslae gelaat. Met verloop van tyd het die grootste gros Afrikaners egter die afloop van die vredesonderhandelinge aanvaar – daar was immers die dwingende materiële behoeftes waaraan dringend aandag geskenk moes word. Van die bittereinders se ongelukkigheid met die voorwaardes van oorgawe het egter daartoe gelei dat hulle sommige van die onderhandelaars daarvan verdink het dat hulle die Boere by Vereeniging en Pretoria aan die vyand uitverkoop het. Sommige Afrikaners het onder andere na afloop van die Anglo-Boereoorlog (verkeerdelik) bly glo dat hulle die guerrilla-stryd teen die Britte met goeie gevolg kon voortgesit het, maar deur mense soos generaal Jan Smuts verraai is."

Indien uithouvermoë dus in blindelingse hardkoppigheid oorgaan, kan die doel wat nagestreef word, allerhande onvoorsiene negatiewe implikasies meebring. "Aanhouer wen" geld dus ongelukkig nie altyd nie. Duckworth (bl 81) skryf hieroor dat "grit is not at all about stubbornly pursuing at all cost and ad infinitum every single low level goal on your list."

4.4 Verpligte volharding

In die geval van siektetoestande soos meervoudige sklerose word pasiënte onwillekeurig blootgestel aan die sensoriese ervaring van chroniese pyn. Dit pasiënt het nie ’n keuse tydens die ontstaan van die pynsensasie nie, en die onmiddellike doel is waarskynlik om van die pyn ontslae te raak. Hoe suksesvol pynverdraagsaamheid en -uithouvermoë is, hang af van die komplekse interaksie van faktore soos die bereidwilligheid om die onvermydelikheid van pyn te aanvaar en om die sosiale ondersteuningsbronne wat tot die pasiënt se beskikking is te benut. Beide faktore help om pyntoleransie te verbeter. Indien die pasiënt egter geneig is tot pynkatastrofering, word pyntoleransie daardeur benadeel.

4.5 Volharding tydens krisisse

Tegniese probleme wat tydens ’n vlug aan boord ’n vliegtuig sou ontstaan en ’n verpligte noodlanding dus die onvermydelike gevolg is, vereis ’n wye spektrum vaardighede van die bemanning, soos kognitiewe insig, ervaring, tegniese kennis, spanwerk, vernuwing, emosionele intelligensie, kommunikasievermoë en passievolle volharding. Grit kom dus alleen in ’n bepaalde sisteem en konteks tot sy reg.

  1. Algemene gevolgtrekkings

"Grit" kan nooit in isolasie funksioneer nie. Daar is eenvoudig te veel onkontroleerbare kontekstuele veranderlikes wat ’n invloed uitoefen op enige gegewe proses op ’n gegewe tydstip en op lang termyn. "Grit" is bloot ’n element in die komplekse sisteem van menslike gedrag wat tydens enige situasie waar besluite geneem word, van toepassing is.

Billikheidsonthalwe moet ’n boek beoordeel word in terme van die teikenmark waarvoor dit bedoel is. Grit is hoofsaaklik vir die populêre mark geskryf en dit slaag as ’n voorbeeld van ’n teks wat op ’n interessante wyse breë algemene teoretiese beginsels aan die leser oordra.

Die effektiwiteit van die boek is in die motiveringswaarde van die inhoud geleë. Omdat die grit-teorie soos aangebied deur Duckworth deeglik toegelig word deur praktiese voorbeelde, kan dit veral nuttig gebruik word deur ervare en deeglik-opgeleide fasiliteerders tydens personeelontwikkeling- en/of spanbousessies binne ’n wye verskeidenheid werksomgewings. Die boek vind goed aansluiting by Quinn en Thakor (2018) se werk oor die aard van die doelgedrewe organisasie.

Vanuit ’n akademiese oogpunt blyk dit egter dat Duckworth se publikasie slegs in deeglike samehang met navorsing wat reeds oor grit / passievolle volharding gedoen is, gelees kan word. Veral gegewens oor die psigometriese aspekte, soos die voorspellingsgeldigheid en konstrukgeldigheid van die grit-skaal wat verskillende kultuurgroepe betref, is belangrik. Enige teoretiese model moet die toets van die praktyk kan deurstaan. Die toepasbaarheid van ’n tipies Amerikaanse model soos grit op verskillende kultuurgroepe behoort so spoedig as moontlik plaaslik ondersoek te word.

Die boek is geskryf vanuit die perspektief van die positiewe sielkunde en word daarom ook geassosieer met die eiesoortige tekortkominge wat met hierdie rigting in die sielkunde gepaardgaan.

Ons moet egter altyd bedag wees op die gevare van oplossinggedrewenheid (solutionism), (veral) in die sosiale wetenskappe. Grit kan ’n bydraende rol speel om ’n gegewe oplossing vir ’n kwessie, te probeer vind, maar is beslis nie die alfa en omega nie.

 

Bibliografie

Duckworth, A. 2017. GRIT. Why passion and resilience are the secrets to success. Londen: Penguin.

Foundry Lexicon. https://www.giessereilexikon.com/en/foundry-lexicon/Encyclopedia/show/endurance-strength-4745/?cHash=29baa748f5250e70f0d7864eae2e6b9c.

Harrison, AM, LM McCracken, A Bogosian en R Moss-Morris. 2014. Towards a better understanding of MS pain: A systematic review of potentially modifiable psychosocial factors. Journal of Psychosomatic Research, 78(1):12-24.

Jackson-Obot, I. 2018. Book review: Grit by Angela Duckworth. FT Adviser, 25 July.

https://www.ftadviser.com/your-industry/2018/07/25/book-review-grit-by-angela-duckworth.

Jarret, C. 2018. The in-vogue psychological construct "grit" is an example of redundant labelling in personality psychology. British Psychological Society Research Digest. https://digest.bps.org.uk/2018/09/25/the-in-vogue-psychological-construct-grit-is-an-example-of-redundant-labelling-in-personality-psychology-claims-new-paper/amp.

McKenzie, D. 2016. Book review: GRIT. Takeaways for development economists and parents. World Bank Blogs. 31 Mei. https://blogs.worldbank.org/impactevaluations/book-review-grit-takeaways-development-economists-and-parents.

Merriam-Webster Dictionary. https://www.merriam-webster.com/dictionary/tensile%20strength.

National Research University Higher School of Economics. 2017. Study challenges validity of psychological "Grit Scale". Physorg, 29 September. https://phys.org/news/2017-09-validity-psychological-grit-scale.html.

Schmidt, FTC, G Nagy, J Fleckenstein, J Möller en J Retelsdorf. 2018. European Journal of Personality, 32(6):705-20. https://onlinelibrary.wiley.com/doi/full/10.1002/per.2171

Useem, J. 2016. Is Grit overrated? The downsides of dogged, single-minded persistence. The Atlantic. Mei. https://www.theatlantic.com/magazine/archive/2016/05/is-grit-overrated/476397.

Warner, J. 2014. We need to destroy the grit narrative. Inside Higher Education. 11 Junie. https://www.insidehighered.com/blogs/just-visiting/we-need-destroy-grit-narrative.

Wessels, A. 2001. Die traumatiese nalatenskap van die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe. Southern Journal for Contemporary History, 26(2):1-20. https://journals.ufs.ac.za/index.php/jch/article/view/3956.

Quinn, RE en AV Thakor. 2018. Creating a purpose-driven organisation. Harvard Business Review, Julie/Augustus, ble 1–9. 

 

 

 

 

The post Passievolle volharding. Enkele opmerkings oor <em>Grit</em> deur Angela Duckworth appeared first on LitNet.

Reguit met Robinson: ’n Tweede zoom-gesprek met Helmuth Reuter

LitNet: Jou COVID-19-vrae

"Without the option"

$
0
0

Foto: Canva.com

Die karakters in hierdie verhaal is fiktief. Die name wat gebruik word is ook fiksioneel en verwys nie na 'n lewende mens nie.

Op ’n dag, in my vorige jeug, kom ek van die werk af. Ek ry deur die skoolhek, erg stadig. Dis totaal teen my karakter in, want gewoonlik vlieg ek laerig deur die hek omdat my maag my ernstig aanspoor: “Knorrrrrr, rrrrrrrrrry nou, ek het urrrrrrre laas iets substansieels gehad! Rrrrrrrrry!”

“Ja, Pens. Deksels, hier’s nog baie kinders in die straat. Ek moet eers wag dat die straat skoon word. As ek vinniger ry, ry ek een van die pesti … agge bloedjies raak!”

“Ja maarrrrrr, anderrrrrr dae vlieg jy hierrrrr uit! Knorrrrrrr!”

“Pens, ek kan mos bestuur!” sê ek heeltemal dwars en onlogies. “Sjarrap nou. Ek bestuuur. A, daar’s die straat nou skoon.”

Ek kruie by die hek uit. Die volgende oomblik hoor ek whap! teen my kar se voorkant. ’n Hoe nou weer noem my pa daardie gedeelte van die kar? (’n Mens mag “kar” sê; die HAT sê so.)

Ek stop dadelik. Selfs Pens se snater is skielik tjoepstil.

Reg voor my kar, in die straat, lê ’n kleinerige skraal dogtertjie. Sy lê botstil. Ek herken haar nie. Ek dink nie sy kry by my klas nie, maar as ek so na die klein lyfie kyk, skat ek haar in graad 8.

“Suster Soesêra,” praat ek met myself, “vandag is hier groter as groot sports. Wat nou?”

Ek kyk om my rond, maar daar is geen sterfling, niemand wat leef of sweef, soos oorle’ ouma altyd gesê het, vir wie ek raad kan vra nie. Ek gaan na die dogtertjie toe wat steeds bewegingloos lê. Toe ek by haar kom, sien ek dat haar oë bottoe is.

Ek wend my tot die enigste ding wat dié tyd van die dag met my praat: “Pens, wat maak ek nou? Sê nou die meisiekind is dood? Dan sluit hulle my roeriewaar toe. Ennne … hulle gooi sommer die sleutel weg! Wat dink jy sal my vonnis wees? Strafbare manslag of moord? En laasgenoemde dalk nog without the option soos Bertie Wooster altyd sê.”

Maar Pens, die dekselse verraaier, is nou tjoepstil.

Wel, Soesêra, besluit ek dapper, jy sal iets moet doen, hoewel ek eintlik lus het om in die dun lug te verdamp.

“Meisiekind!” sê ek hard en skud die dogtertjie ’n paar keer flink aan haar skouers heen en weer. Sy maak oë oop.  

“Eina!” protesteer sy, “Juffrou maak my verd* seer!” en sy sê ’n woord wat ek nie gedink het deel van ’n dogtertjie van haar ouderdom se woordeskat uitmaak nie. Miskien het sy te veel seunsmaats. Maar aan die ander kant, vandag se meisiekinders is self baie kreatief as dit by hulle woordeskat kom.

“Dankie tog!” sug ek in my binneste, “jy’s nie dood nie!”

“Het jy seergekry?” vra ek simpatiek.

“Ja. Baie. Juffrou moet my hospitaal toe vat.”

“Maar hoekom het jy voor my kar ingehardloop? Jy het my mos sien aangery kom.”

“Juffrou, daai een seunskind het so ’n lelike mombakkies opgesit en my daarmee gejaag. Ek het my alie afgeskrik! Juffrou móét my hospitaal toe vat,” sê sy nou tranerig. “Ek het vrek seergekry!”

“Nou kom klim in die kar sodat ons kan ry.”

“Ek kan nie loop nie!” sê sy huilerig.

“Ag jitte,” sê ek tandeknersend vir my innerlikste binneste, “moet ek die kind nou so wrintiewaar nog dra ook!”

Êrens vandaan stuur Iemand vir my die krag, want sowaar, ek kry die meisiekind (steeds Jane Incognito) opgetel en in my kar gestop. ’n Bietjie hardhandig, maar darem.

Op pad huis toe begin ek solank aan my verdediging werk, maar op die ou einde besluit ek Lord Ickenham se raad aan die jongmense is die beste: “stout denial”.

“U Edele, ek weet van niks. Toe ek weer sien, toe lê die meisiekind … agge, die dogtertjie in die middel van die straat, reg voor my kar.” Dit sal ten minste die waarheid wees. “Ek ken haar van g’n Adam óf Eva of enigiets tussenin af nie. Nog nooit voor vandag gesien nie. Nie met ’n halwe oog nie, U Edele.” Dit sal óók die waarheid wees. Die meisiekind kry mos nie by my klas nie en ons skool is groot. “En U Edele, as u-hulle die saak nou Kaapstad toe wil verwys om watter rede julle nou nie regter Van Zijl se werk goed genoeg vind nie …”

Teen hierdie tyd het ek die huis bereik. Toe ek stop, kom die heer de huises dadelik uitgestap.

“Waar bly jy, Saartjie? Dis al drieuur!” Dan sien hy die kind raak. “En dié?”

Ek vertel vir hom die storie, maar as ek simpatie of goedkeuring of lofprysing of enige positiewe reaksie verwag het, word ek vadems diep teleurgestel.

“Besef jy wat jy gedoen het?” baklei hy in dieselfde stem met my wat hy met ’n balhorige student praat.

Reusefout aan sy kant!

“Ja! Ek het ’n kind wat erg seergekry het, huis toe gebring sodat jy my kan help om haar hospitaal toe te vat. Sy sê sy het baie seergekry! Ek het dit mos al vir jou gesê, verd*!” leen ek so ’n woordjie wat ek by die dogtertjie geleer het.

“’n Mens mag nie ’n ongelukstoneel verlaat nie!” baklei hy verder.

“Ha!” dink ek, dik die diekens in, “en dis nou die vent wat voor die kansel, in die teenwoordigheid van die dominee én heelparty getuies belowe het om my in elke dikkedensie by te staan!”

“Kyk hier ou pêl, la’ ek en jy mekaar vandag nou móói verstaan. Indien dit nou so sou wees dat jy nog nooit enige faux pas begaan het nie, het die saak héél anders gelyk. Maar nou is dit nie so nie. Onthou jy nog daai keer toe jy jou buurman se lekker geelperskes gesteel het? Jy weet, toe ons nog op Plek-van-die-Vrugbare-Grond gebly het, en hy jou op heter daad betrap het en …

“Ja, toe nou maar. Laat ons ons liewer by vandag se kroesis bepaal.”

Hy sê altyd “kroesis” (uit pure senuagtigheid) as hy weet hy het ’n bepaalde geveg verloor.

“Kyk Skatliefie,” flikflooi hy nou in hoogste versnelling, “ons sal die polisie moet bel, want ons sal die dogtertjie se ouers in elk geval in kennis moet stel. Hulle kan vir ons groot moeilikheid veroorsaak as hulle uitvind ons het die polisie nie in kennis gestel nie. Die dogtertjie kan vir hulle vertel jy het haar omgery en sy het erg seergekry en dat ons niks daaraan gedoen het nie.”

“Maar ek het donners stadig gery!” begin ek my eie kreatiewe woordeskat uitbrei.

“Knorrrr. Ek’s donnerrrs hongerrrr!” dons Pens vir die eerste keer in ’n lang ruk ontydig tussenin. Boonop is hy ’n vinnige leerder.

“Saartjie, kalm nou. Al wat die polisie teen jou kan hou, is dat jy die kind van die ongelukstoneel verwyder het. ’n Mens mag dit nie doen nie. Vertel net presies vir hulle wat gebeur het. Ek is seker die polisieman sal jou kant van die saak insien. Die kind het gekla dat sy baie seergekry het en gevra het dat jy haar hospitaal toe moet neem. Vra vir haar of ons nie haar ouers kan laat weet nie. Terwyl jy ’n telefoonnommer by haar probeer uitvind, sal ek solank die polisie skakel.” 

Toe die polisiemannetjie opdaag is die jong konstabeltjie allesbehalwe begrypend en tegemoetkomend. Hy staar hom blind teen die feit dat ek die kind huis toe gebring het en dus die ongelukstoneel verlaat het. Wat hom betref, is dit ’n ontsettende wetsoortreding waarvoor hy my kan arresteer en as ek hom so aankyk, sien ek sommer hy is in ’n arrestasiebui. 

Dit is sover ’n uitmergelende dag, die junior klasse het gekyk om hoeveel hoeke en draaie hulle my gedurende elke periode kon teister – en nou nog die affêre met Jane Incognito. Tussenin grom en brom Pens ook om nog die kersie op die troukoek te sit, om ’n uidrukking by die ou maer dosentjie op universiteit te steel.

“Kyk hier jou klein bl …” wil-wil ek kreatief raak.

“Saartjie!” waarsku my nou minder deemoedige eggenoot. “Hy gaan jou arresteer!”

“Kyk hier, konstabel,” sê ek effens kalmer.

Ek kry uit ’n onverwagse oord hulp.

“Oom Sterk Polisieman,” sê Janet Böckie uit die bloute, “weet oom hoe goed was juffrou vandag vir my?” Sy vertel die hele storie vir die kwaai konstabeltjie wat hom verbeel hy is eintlik ’n generaal. “En omie weet, sy het my allenig in haar kar ingetel, en ek is blerrie swaar, hoor!”

Miskien het die polisieman self ’n dogtertjie by die huis, want hy besluit hy sal my liewer nie arresteer nie. Hy sê net ons moet die kind se ouers in kennis stel van die gebeure, ons adres vir hulle gee en wag tot hulle by ons huis arriveer. Daarna moet hulle self besluit wat hulle met hulle kind wil doen.

Die volgende dag het ek skaars my klasdeur oopgesluit en ingegaan toe nóg ’n wildvreemde kind skielik langs my kom staan.

“Juffrou,” sê die seun, “ek weet wie het gister daai meisiekind met die mombakkies gejaag. Ek ken nie sy naam nie, maar ek weet in watter klas hy is. As juffrou vir my ’n klaslys gee, sal ek sy naam herken.”

“Kind, sê tog net vir my wat jou naam is. Ek is al so moeg om met julle onbekende kinders deurmekaar te wees.”

“Derrick, juffrou. Derrick van Deventer. Ek sit mos heelagter in juffrou se klas.”

“Ag natuurlik, ja. Dis ook dié dat jy die verskil tussen ‘herken’ en ‘erken’ ken!”

Ek neem Derrick personeelkamer toe waar ’n reuserak met hokkies staan waar die hele skool se klaslyste klas-vir-klas gerangskik staan. Derrick het so ’n bietjie rondgesoek en toe die regte klaslys gekry. 

“Hier’s hy, juffrou. Maarten Dreyer. Dis daai outjie wat so lief is om mombakkiese te koop en al die meisies daarmee te jaag. Juffrou sien, hy kan nie ’n meisie kry nie. Hulle hou nie van hom nie. Dis oorlat hy naweke sy vingernaels rooi paint. Nou sê hulle hy’s nes ’n meisiekind. Nou kry hy dam aandag van hulle as hy hulle skrikmaak. Lat hom seker manlik en belangrik voel!” lê Derrick vir my met ’n psigologiese kennis uit wat ek nie van ’n kind in graad 9 verwag het nie.

Een van die senior onderwyseresse het die Dreyer-knaap later (in my teenwoordigheid) teen sluitingstyd voor stok gekry en hom goed die leviete, en al die ander -iete waaraan sy kon dink, voorgelees.

“En as Marizel nou seergekry het, en daar is mediese koste aan verbonde, sal jý dit betaal! Verstaan ons mekaar?”

“Ja, juffrou.” Dreyertjie was nou nie meer so dapper nie.

“O, dan is die dogtertjie van gister se naam Marizel,” dink ek in my enigheid toe ek teen skilpadspoed by die hek uitry.

“Knorrrrr, rrrrry nou, ek is hongerrrrrr.”

“Pens, hou jou bek! Jy’t gesien wat gister gebeur het toe ek net ’n titseltjie vinniger gery het! As dit wéér moet gebeur, sluit hulle my toe. Ek sê jou. Without the option!”

The post "Without the option" appeared first on LitNet.

Donkerdrif: ’n onderhoud met Deon Meyer

$
0
0

Donkerdrif
Deon Meyer

Tafelberg
ISBN: 9780798181662

Deon Meyer beantwoord Naomi Meyer se vrae oor Deon se Donkerdrif, wat verlede jaar die topverkoper onder Afrikaanse boeke op Nielsen se boekverkopelys was.

Deon, baie geluk – jou jongste roman, Donkerdrif, was die topverkoper op Nielsen se 2020-boekverkopelys. Ek verstaan hoekom: Die boek lees baie lekker; mens sukkel om dit neer te sit. Die storie speel af in Stellenbosch. Een van die prominente karakters in die verhaal klink asof dit geskoei is op ’n belangrike sakeman wat onlangs in die nuus was. En dan is daar ’n wending in die verhaal wat die leser laat besef: Die storie is fiksie en nie ware nuusgebeure nie. Wil jy dalk uitbrei op hoe mens werklike nuusgebeure in fiksie aanwend

Baie dankie vir jou ruimhartige opmerkings oor Donkerdrif.

Hoe wend mens werklike nuusgebeure in fiksie aan? Die kort antwoord sou wees: Net soos dit die storie pas.

Ek het geen formule of spesifieke filosofie daaroor nie. As skrywer is ek voortdurend op soek na storie-idees. Dit kom na jou toe aan in vele vorme, ook soms deur die gebeure van die dag. En met alles speel ’n mens die speletjie van "wat sou gebeur as ..." Hierin lê juis die veronderstelling dat die nuus nie die storie word nie, maar bloot die eerste vonk is wat die vuur aan die brand kry, want daar is mos geen raaisel of intrige wanneer die leser reeds weet wat in die werklikheid gebeur het nie.

.......

Boonop is die werklikheid dikwels eienaardiger as fiksie, maar meestal nie geskik vir veral die spannings-/speurroman se dramatiese struktuur en ander konvensies nie. Jy gebruik dus net daardie enkele dinge wat jou eie, fiktiewe storie pas ...

........

Boonop is die werklikheid dikwels eienaardiger as fiksie, maar meestal nie geskik vir veral die spannings-/speurroman se dramatiese struktuur en ander konvensies nie. Jy gebruik dus net daardie enkele dinge wat jou eie, fiktiewe storie pas, dikwels (soos ek ook met Sewe dae en Prooi probeer het) net breë agtergrondkwashale wat die doek voorberei vir jou eie prentjie.

Ek geniet ook baie die proses van karakters van nuuts af skep. Daarom leen ek soms net ’n buitelyn – ’n beroep, ’n posisie, ’n titel – uit die werklikheid en vul die res aan uit my verbeelding. Ek doen dit nie dikwels nie. Die meeste van my karakters is suiwer fiksie.

’n Mens het as leser sekere begeertes van wat die uitkoms van ’n storie moet wees. Lesers sit ook met ’n komplekse vraag oor wat mens wil hê moes gebeur het en of mens dan bly kan wees oor iets wat inderdaad wel gebeur, hoe onverwags ook al. Jou roman behoort mens as leser nogal ernstige morele selfondersoek te laat doen! Hoe neem mens – as skrywer – ’n verantwoordelike besluit oor wat alles in ’n verhaal gebeur?

My grootste verantwoordelikheid en my hoofdoel is om ’n lekker storie te skryf, met die hoop dat ek vir die leser ’n boeiende ervaring en waarde vir haar tyd en geld kan verskaf. Alles is hieraan ondergeskik.

Hoe lyk ’n lekker storie? Ek kan nie ’n resep van bestanddele en metode verskaf nie; dit is ’n kwessie van oordeel wat oor vyftig jaar van lees en nogmaals lees en opgebou is – en veertig jaar se skryfervaring. En dan hoop jy dat jou oordeel jou nie in die proses van kreatiewe besluitneming in die steek sal laat nie.

Ek het nog altyd as leser van boeke gehou wat my met ’n morele dilemma laat, veral die konflik tussen die regsproses en regverdigheid. Ek hoop dan ook dat lesers dit net so interessant sal vind.

Net só met die einde van Donkerdrif. Ek geniet boeke wat my met ’n paar interessante vrae laat, waar die skrywer my uitdaag om te wonder oor die finale uitkoms. Soms doen ek dieselfde.

........

Ek geniet boeke wat my met ’n paar interessante vrae laat, waar die skrywer my uitdaag om te wonder oor die finale uitkoms. Soms doen ek dieselfde.

........

In Donkerdrif is een vroulike karakter in die besonder baie belangrik. En baie oortuigend geskryf en uitgebeeld daarby. Hoe was dit vir jou, as man, om jou in haar skoene in te dink? En hoe het jy jou huiswerk gedoen (oor haar as mens, en oor haar beroep)?

Die huiswerk oor karakters van ’n ander geslag of kultuur of etnisiteit het amper dertig jaar gelede begin, en duur steeds voort. Dit bly maar ’n skrywer se grootste uitdaging om dit met oortuiging buite sy of haar ervaringsveld te waag. Daarom sal ek voortdurend in gesprekke  met al wat leef en beef vra, of nalees waar ek kan, en voortdurend nadink, om insig te probeer kry.

In die geval van Sandra Steenberg het ek met verskeie eiendomsagente gesels, maar ook meer spesifiek gaan soek na ’n vrou van haar ouderdom wat as eiendomsagent werk, en was gelukkig genoeg om ’n paar insiggewende onderhoude te kon voer.

Die res is verbeelding, en my vrou Marianne, my agent Isobel Dixon en uitgewer Etienne Bloemhof se raad en oordeel nadat hulle gelees het.

Deon Meyer

Hoe werk die skryfproses vir jou? Beplan jy eers die storie, en dan skryf jy dit neer?

Dit bly vir ’n moeilike vraag om eerlik te beantwoord, omdat dit hoofsaaklik ’n gedagteproses is. Met ander woorde, ek beplan nie op papier nie, maar net in my kop. Dalk omdat ek juis die skryfproses se vryheid om ander rigtings in te slaan, nie wil beduiwel nie.

........

Met ander woorde, ek beplan nie op papier nie, maar net in my kop.

..........

Maar laat ek probeer, aan die hand van Donkerdrif: Toe ek en Marianne so tien jaar gelede begin huis soek het op Stellenbosch, was dit interessant om te luister na eiendomsagente se stories van mededinging en wrywing in hul bedryf. Daar was storiepotensiaal daarin wat mens in jou agterkop hou vir eendag wanneer jy die ander stukkie van die legkaart kry. Dié het sewe jaar later gekom met die sosio-ekonomiese gevolge wat die Steinhoff-sage op Stellenbosch as gemeenskap gehad het. 

Dan begin mens maar dink oor storiemoontlikhede – die “wat sou gebeur het as”-speletjie – tot jy ’n breë, vae buitelyn van ‘n storie het wat jy dink boeiend kan wees. Daarna begin die navorsingsproses, want navorsing vermenigvuldig ’n mens se kreatiewe keuses eksponensieel. Die navorsing behels hoofsaaklik persoonlike onderhoude (in Donkerdrif se geval met Stellenbosch-speurders en senior polisie-offisiere, eiendomsagente, sakemense, koshuisinwoners van die universiteit, die US se kampussekuriteit ...), maar ook baie lees van koerante, tydskrifte, boeke, en so meer.

Wanneer ek meen ek het genoeg materiaal, begin die skryfwerk, steeds met net ’n vae eindbestemming, want die boek en die storie moet sy eie pad vind, elke dag, bladsy vir bladsy.

........

En dan hou mens maar aan met skryf tot die muse die hele ding aan jou blootgelê het.

..........

En dan hou mens maar aan met skryf tot die muse die hele ding aan jou blootgelê het.

Skryf is een lang proses van kreatiewe besluitneming. Daar is nie regte of verkeerde besluite nie, net die implikasies van elke besluit waarmee jy en jou storie moet saamleef. Die skryfproses is vir my magies en onverstaanbaar en wonderlik (en soms frustrerend en vrek moeilik). En dit is hoe dit hoort. 

Donkerdrif lees glad en egalig. Hoe weet jy, met jare se skryfondervinding en -suksesse, watter gedeeltes van ’n storie om te behou, waar om uit te brei, wat om te snoei en wat om uit te laat?

Dankie! Ek dink ons is gelyktydig skrywer én leser wanneer ons skryf. Dit is die leser in ons wat die oordeel moet vel oor dit wat die skrywer pleeg. Juis daarom dat my eerste raad aan voornemende skrywers is om fanaties te lees. Hoe meer jy die leser in jou kan opvoed, hoe beter is haar oordeel. Dit voel na instink en aanvoeling, maar jy kan dit ontwikkel net as jy jou gereeld en voortdurend blootstel aan die beste skryfwerk waarop jy jou oë kan lê.

Wat verskaf vir jou die grootste vreugde van skryf? En wat is vir jou die grootste kopseer?

Daar is baie vreugdes: die klein dink-deurbraak met ’n storieprobleem; die skielike nuwe storiewending wat jou onderbewussyn aan jou voorstel en jy weet dit is baie beter as die een wat jy beplan het; ’n  interessante navorsingsonderhoud met ’n uitsonderlike mens; my agent of redakteur wat laat weet hulle dink die boek werk; ’n petroljoggie by Leeu-Gamka wat jou herken en sê hy geniet jou boeke; daardie laaste sin om die boek klaar te maak ná maande en maande van selfvertwyfeling ...

En as ek doodeerlik moet wees, is daar nie in die skryfproses vir my groot kopsere nie. Ek geniet die stoei met ’n storieprobleem, die gesukkel om die regte woord of frase of stukkie dialoog te vind, die herskryf van iets wat net nie wil werk nie. Eskom se kragonderbrekings is ’n groot kopseer, want ondanks jou beste voorsorgmaatreëls is daar altyd die kans dat jy jou laaste paar bladsye kan verloor as die rugsteun die dag ingee.

Lees ook:

Donkerdrif deur Deon Meyer: ’n boekresensie

The post <em>Donkerdrif</em>: ’n onderhoud met Deon Meyer appeared first on LitNet.

Mediaverklaring: Februarie op VIA – wat ’n storie!

$
0
0

Die langste maand van die jaar is verby, skep asem met aangrypende stories en goeie raad – spesiaal vir jou op VIA.

In die splinternuwe realiteitsreeks Red my hare, Junior! kan jy maar gereed maak vir oormaaksessies waarin die bobaas-haarkapper Charles Junior Louw probleemhare regklits – soos net hy kan. Maar moenie dink dié vermaaklike program gaan net oor hare nie. Junior is ’n perd van ’n ander kleur, en in sy salon is niks vervelig nie – ook nie die kliënte nie. Hy self ondergaan ’n transformasie, met sy eie troue om die draai. Maak reg vir drama-lama, elke Dinsdag om 18:30, van 9 Februarie.

Son se lesers weet nou al dié gewilde koerant se agony aunt, Antie Mona, het altyd raad, en nou kom sy kassie toe. Antie Mona se identiteit is natuurlik ‘n groot geheim, daarom stuur sy in Liewe Antie Mona drie helpers om kykers se probleme op te los. Gewapen met haar raad, besoek dié helpers huise waar die liefde net nie wil vlot nie. Kyk saam, dalk het sy ook raad vir jou. Seisoen 1 begin op Donderdagaand 25 Februarie om 20:00.

Twee programme met ’n geldsake-fokus bied jou die raad wat jy nodig het om in 2021 te floreer. In Besigheid wat saak maak, aangebied in vennootskap met Coastal Hire, kom suksesvolle besighede onder die vergrootglas – met ’n fokus op waarom dit werk. In ’n nuwe halfuur-formaat is seisoen 3 weer gepak met geldraad wat die entrepreneur in jou sal voed, elke Saterdagoggend om 08:30, van 13 Februarie. En dan is Geldhelde ook terug, in vennootskap met Momentum en met Pulane Sekepe as nuwe aanbieder. Hier val die fokus nie net op besighede nie – kyk ook hoe twee gesinne die sente tel in ’n finansiële boot camp saam met die geldghoeroe Theo Vorster. Seisoen 3 begin op Maandag 22 Februarie om 19:30.

Kaap, kerrie en koesisters het natuurlik geen bekendstelling nodig nie, want die tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Noordien is reeds ou bekendes in die TV-kamers en kuierkombuise van VIA-kykers. Die twee susters ken van kos, veral Kaaps-Maleise onthoukos wat proe na nog! Soet en sout is op hul spyskaart, en jy kan leer hoe. Seisoen 6 begin Maandagaand 15 Februarie om 17:00.

Musiek maak altyd die lewe beter, en in seisoen 3 van Musiekpaniek wag ’n uur gevul met lekker kunstenaars en hul fans wat jou naweek op net die regte noot sal laat begin. Carla Mackenzie is terug as aanbieder, en die vraag is: ken die fans die trivia van hul gunsteling-tunes? Vind uit, Vrydagaande om 20:00 van 19 Februarie.

Twee misdaadreekse sal jou dié maand vasgenael hou. In die splinternuwe reeks Die staat teen kry kykers ’n eksklusiewe blik in van die mees opspraakwekkende sake waarmee staatsaanklaers nog te doen moes kry in Suid-Afrikaanse howe. Soms skokkend, soms hartseer, bied dié reeks jou insig in wat dit verg om misdadigers aan die pen te laat ry. Seisoen 1 première op 24 Februarie om 21:00.

Dan kyk die radiojoernalis Izak du Plessis in seisoen 2 van Boereverneukers na die skelmstreke van nog ’n spul Afrikaanse kroeks. Van Marietjie Prinsloo en die Krion-miljoene, tot die meer onlangse geval van Burre Burger wat munt wou slaan uit desperate droogteslagoffers – Izak krap waar dit jeuk – ’n mens kan net jou kop in ongeloof skud oor als wat hy onthul. Seisoen 2 begin 24 Februarie om 21:30.

En laaste maar nie die minste nie, en perfek vir die maand van die liefde – soek ’n vars stel mammas dates vir hul seuns. As die kinders dit dan nie self regkry nie, moet Ma maar help in Sê vir mamma. Seisoen 3 begin op Donderdagaand 25 Februarie om 20:30.

TV-roosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar.

Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Instagram om op die hoogte te bly van al die nuutste verwikkelinge.

Vir nog besonderhede oor die programme of aanbieders, of besoek viatv.co.za.

The post Mediaverklaring: Februarie op VIA – wat ’n storie! appeared first on LitNet.


Mediaverklaring: Jaar- of semesterkursusse by die Departement Afrikaans en Nederlands (US)

$
0
0

Die volgende jaar- en semesterkursusse word deur middel van kontaksessies op die US-kampus aangebied, en afstandsonderrig via MS Teams is ook moontlik.

Jaarkursusse 

Vir die kortkursusse in Redigering, Tolking of Vertaling geld ’n toelatingsvereiste van enige B-graad, en die kursusse het elk akkreditasie op NKR-vlak 8. Hierdie kursusse begin in die week van 15 Februarie en duur tot einde November. Die registrasiekoste beloop R15 000 vir die jaar. US-personeel, oud-US-personeel en oudstudente van die Departement Afrikaans en Nederlands kry afslag en betaal slegs R10 000 vir die jaar.

Vir meer inligting oor hierdie jaarkursusse, kan belangstellendes ’n e-pos stuur aan Maret Blom  shortcourse2@sun.ac.za of dr Amanda Lourens alourens@sun.ac.za.

Semesterkursusse

In die eerste semester kan die kortkursus in Regsvertaling in die week van 21 Junie gevolg word en die kortkursus in Literêre Vertaling in die week van 28  Junie gevolg word.

In die tweede semester kan die kortkursusse in Akademiese Redigering en Gewone Taal beide van 20 tot 24 September gevolg word. ’n Kortkursus vir Leeskringe word in die week van 8 November deur die welbekende Prof Louise Viljoen aangebied.

Vir meer inligting oor die aard en koste van hierdie semesterkursusse, kan belangstellendes ’n e-pos stuur aan Maret Blom  shortcourse2@sun.ac.za of Dr Amanda Lourens alourens@sun.ac.za.

The following year and semester courses will be presented by means of contact sessions on the Stellenbosch campus, and virtual attendance on MS Teams is also possible.

Year courses

Any B-degree will give you access to the short courses in Editing and Translation or Interpreting, which are accredited at NQF Level 8. These courses start in the week of 15 February and carry on until the end of November. The registration fee is R15 000 per short course for the whole year. SU staff members, former SU staff members and former students of the Department of Afrikaans and Dutch receive a discount and only pay R10 000 per course.

For more information on these year courses, please e-mail Maret Blom shortcourse2@sun.ac.za or Dr Amanda Lourens alourens@sun.ac.za.

Semester courses

The first semester will see a short course in Legal Translation presented in the week of 21 June and a short course in Literary Translation in the week of 28 June.

During the second semester, short courses in Academic Editing and Plain Language will take place from 20 to 24 September. And the renowned academic, reviewer and literary theorist Prof Louise Viljoen will present a special short course for book clubs in the week of 8 November.

For more information on the contents and costs of these five semester courses, please e-mail Maret Blom shortcourse2@sun.ac.za or Dr Amanda Lourens alourens@sun.ac.za.

The post Mediaverklaring: Jaar- of semesterkursusse by die Departement Afrikaans en Nederlands (US) appeared first on LitNet.

LitNet-spens: Sout

$
0
0

Naam van skrywer

Jean Meiring

Naam van teks

Sout

Subgenre

Monoloë vir vrouekarakters

Aantal spelers

Minimum 1; maksimum 7

Kort opsomming

Hierdie is ’n versameling eensprake deur vrouekarakters van verskillende ouderdomme en agtergronde. 

Vorige opvoerings

Twee maal in België as deel van ’n kultuuruitwisseling onder die vaandel van die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuur Stichting, in 2002, en eenmaal, ook in 2002, by The Friends House in Londen.

Naam van kopiereghouer

Jean Meiring

Persoon/instelling wat gekontak moet word ivm opvoerregte

Heidi Rossouw, tel: (011) 263 9000

>> Klik hier om die teks in PDF-formaat af te laai >>

<< Klik hier om terug te gaan na die LitNet-spens <<

The post LitNet-spens: <em>Sout</em> appeared first on LitNet.

In memoriam: Kemp Jurgen Kemp

$
0
0

Foto: Pixabay.com

Oor Kemp Jurgen Kemp se loopbaan kan mens in koerante lees. Kortliks: Hy was ’n dosent in die Regsfakulteit aan die vroeëre Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) en later professor aan die Universiteit van Zoeloeland. In 1986 is hy tot die balie toegelaat en in 1997 het hy die status van senior advokaat behaal.

......

In die laaste jare het hy veral bekend geword as die beleërde oudpresident Zuma se advokaat en in mindere mate vir sy verdediging van die skoolhoof Deon Scheepers van Grey-kollege.

........

In die laaste jare het hy veral bekend geword as die beleërde oudpresident Zuma se advokaat en in mindere mate vir sy verdediging van die skoolhoof Deon Scheepers van Grey-kollege. In die hof was Kemp ’n regsman wat ’n stormram genoem sou kon word, ’n bulhond wat nie laat los as hy eers vasgebyt het nie.   

Buite die hof sou jy hom nooit daarvoor aansien nie. Hy het nooit eintlik hard gepraat nie. Die teken dat hier ’n grap of ’n wysheid kom, was gewoonlik die kop wat so na die skouer toe neig en die skouer wat kop toe trek voor hy begin praat. Beginnende met: "E, h’m, daai ding, e, dis nie heeltemal só nie." En dan lewer hy. Kort. Net so ’n ietsie. Gevolg deur ’n beskeie glimlag vir die verbaasde gehoor.

Minder bekend was die saak van Theodore, die St Bernard-hond wat te hoog ingeweeg het op die gholflandgoed waar sy eienaars woon. Kemp het dit op hom geneem om vir Theodore se verblyfreg te veg.

Dalk was dit in liefdevolle herinnering aan ou Padû, sy boelhond wat hartstogtelik kon snork en kwyl. Padû is een middag in die straat gevind. Ander honde het hom doodgebyt. Kemp, aangedaan: "Hy was nie ’n bakleier nie, jy weet."

Of dalk was dit ter ere van Bees, ’n energieke hond met die omvang van ’n uitgegroeide kalf, as inwoner nie haalbaar in ’n voorstedelike huis nie. Die spoor van verwoesting wat hy in huis en tuin gelaat het, het Kemp beskou as "dat Bees ook sy kant bring".

Kemp het hom in elk geval oor die algemeen, sonder dat die een hand weet wat die ander doen, gereeld oor die underdogs ontferm wat nie regskoste kon aangaan nie. Daar was baie.

.......

Benewens sy briljante brein en ongelooflike werksvermoë was hy ’n uiters talentvolle sportman.

.........

Benewens sy briljante brein en ongelooflike werksvermoë was hy ’n uiters talentvolle sportman. Sy vriend Carl de Villiers het vertel dat "tydens die saamdraf om middeljarige oortolligheid te probeer afwerk – en hy met prominente middellyf en al jou in die grond in gehardloop het het jy mettertyd, slegs op navraag, agtergekom dat hy as jong student in ’n stadium onder die topmiddelafstandatlete in Suid-Afrika gereken was. Dit in die tyd van top- internasionale atlete soos Danie Malan, Dickie Broberg and Marcello Fiasconaro."

Dan was daar Kemp se kokery, niks ornaats nie, net hoogs onthoubaar vir daardie appel-en-olywe in balsamiese asyn, sy lang souse en filette. Veral die filette, in die pan opgedra onder vlammende brandewyn, die sjef hemploos en kaalvoet. "Gee pad, man," as iemand sou wou hand bysit. Nie jou gewone gasheer nie. Almal het ’n bietjie ongemaklik gevoel, maar op ’n eienaardige manier besonderlik tuis.

"Ou Tat" se teenwoordigheid het heelwat daarmee te doen gehad – sy vrou, die skrywer Anna Kemp.

.......

Verstrooid. Op pad hof toe het dit hom eendag bygeval hy het nie ’n das aan nie.

.........

Verstrooid. Op pad hof toe het dit hom eendag bygeval hy het nie ’n das aan nie. Spring hy toe terug en kry die nodige. Eers toe die uitspraak gelewer word, kyk hy af op sy Mickey Mouse-das, ’n present van iemand wat in veilige bewaring gebly het, soos dit hoort.     

Sy werkplek(ke) – daar was baie, orals in die huis – het assosiasies opgeroep van ’n laer op losse skroewe ná ’n verrassingsaanval van die vyand. Unkempt Kemp. Dié bynaam is deur kwaadwilliges uitgedink, het hy gesê. Een manier was hy reg. In sy kop en formidabele geheue was daar dodelike orde. Solank iemand nie met emosie kom foeter nie.

Met ’n kuier by hom en ou Tat staan ek een aand laat in die kombuis vir ’n glas water toe hy inkom. Maak hy rustig vir hom iets te ete, skink wyn, sit by die kombuistafel. Nee, dit gaan goed, wat. Die volgende oggend hoor ek by ou Tat hy het pas voor hy gisteraand ingekom het, die nuus gekry dat sy broer dood is.

Oor die regswese het ek (as pleb) van die waardevolste insigte ooit by hom gekry: "Die reg kom nie van bo af nie, dit kom uit die mense." Vir hierdie wonderlik eienaardige en komplekse man sal die waardering (wat van belang is) uiteindelik ook uit die mense kom. In Carl se woorde: "Wat mense van hom gedink het, was nooit 'n faktor nie. Hy het bloot voluit gelewe en mettertyd het jy sy ware medemenslikheid leer ken. Nooit is met kwaadwilligheid van ander gepraat het nie – politici en swak rugbyspelers en skeidsregters uitgesluit."

Kemp het net een kommer gehad: "Die dag as hulle met ons regbank neuk, dan moet jy weet die land is finaal in sy moer."

"Hy het altyd so onvernietigbaar gelyk," sê ou Tat my oor sy dood.

Solank mense oor iemand praat, sal hy nooit dood wees nie. En dit is wel onvernietigbaar.

The post In memoriam: Kemp Jurgen Kemp appeared first on LitNet.

Elders gesien: Amanda Strydom bring hulde aan Sibongile Khumalo

$
0
0

Amanda Strydom skryf op Facebook:

She is gone! Dearest Sibongile Khumalo, what a terrible loss for our tribe and our country. Rest in peace , Bongi – too soon, too soon. That voice, that dignity, that beautiful soul – gone. My heartfelt condolences to her children, her friends and family. 💔💔💔💔

The post Elders gesien: Amanda Strydom bring hulde aan Sibongile Khumalo appeared first on LitNet.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans wag aansoeke in vir maand se skrywersverblyf

$
0
0

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans nooi vanjaar weer alle opbetaalde lede van PEN Afrikaans uit om aansoek te doen vir die verblyfsprogram wat in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos in die Oos-Kaap aangebied word. Die doel met hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk.  Die fokus van die residensieprogram is veral gemik op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

De historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers met die nodige dissipline en motivering om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 28 Junie tot 23 Julie 2021, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

Alle genres sal oorweeg word.

Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 19 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stiging, by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet bestaan uit:

  • ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak
  • ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
  • ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
  • ’n Brief van ’n uitgewery wat daarin belangstel om die aansoeker se werk uit te gee of vir publikasie te oorweeg, sal sterk in die kandidaat se guns tel.

Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude met kortlyskandidate sal plaasvind op 16 April. Die suksesvolle aansoeke sal in die week van Wêreldboekedag (23 April) aangekondig word.  

Foto van Paulet Huis: https://jgf.org.za/

PEN Afrikaans is ’n vereniging van skrywers, joernaliste, uitgewers en belanghebbendes wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans is gerig op die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en die reg tot vryheid van uitdrukking.

Doen hier aansoek om ’n lid van PEN Afrikaans te word: https://penafrikaans.org.za/aansoekvorm/

Die Jakes Gerwel Stigting het ten doel om die nalatenskap van wyle Jakes Gerwel – wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakeman – deur relevante projekte uit te bou. Die Stigting fokus op die bevordering en bemagtiging van skrywers en wil bydra tot die verryking en verruiming van ons letterkunde. Die Stigting is trots op die vennootskap met PEN Afrikaans, aangesien Gerwel passievol was oor Afrikaans en sy diverse moedertaalsprekers. 

Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting is beskikbaar by www.jgf.org.za en oor PEN Afrikaans by www.penafrikaans.org.za.

The post Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans wag aansoeke in vir maand se skrywersverblyf appeared first on LitNet.

Viewing all 21808 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>