Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21593 articles
Browse latest View live

Deon Meyer: die gas by die WAT se Woordpret

$
0
0
Lees ook:
WAT: Borg 'n woord voor Kersfees

Deon Meyer was op Vrydag 20 November die gas by die WAT se Woordpret.  Bergsig Landgoed het hul Icarus-wynreeks kom bekend stel by die skepper van Ikarus se praatjie. Deon het die gehoor behoorlik geboei toe hy die sluier gelig het oor sy volgende boek, nl Koors.  Hy het 'n voorsmakie gegee van wat lesers te wagte kan wees deur kort uittreksels daaruit voor te lees.  Deon het ook die gehoor aangespoor om aan Borg 'n Woord deel te neem.  Gaan na www.wat.co.za om 'n woord te borg.

deonmeyer_wat1

deonmeyer_wat2

deonmeyer_wat3

 

The post Deon Meyer: die gas by die WAT se Woordpret appeared first on LitNet.


Bieg: Alice op haar beste

$
0
0
Hierdie blad bevat erotiese literatuur. Indien jy jonger as 18 is, verlaat die blad asseblief onmiddellik. | The following page contains erotic literature. If you are under the age of 18, please exit this page immediately.

 

Soos ek in my vorige brief verduidelik het, ontmoet ek en Alice mekaar een keer per maand vir 'n oggend van passie.

Wel, hier is ek weer op pad na ons gunsteling "wegkruipplekkie" toe. Dit is 2-uur die middag en midde-in 'n hittegolf wat nou al meer as 'n week aanhou. Die temperatuur raak-raak aan die 40 grade, en ek kan nie wag om in te boek, en net in die swembad te spring om af te koel nie.

By die ontvangstoonbank lui my foon, en Alice vra met 'n vriendelike stemmetjie: "Waar is jy?"  "Hier by ons plekkie se ontvangs," sê ek ...  onseker wat om te verwag.

Sien, ek kom altyd die dag voor ons ontmoeting deur, slaap die aand oor in die oord, en dan kom kuier Alice die volgende oggend vroeg tot so 10-uur se kant. Dis wanneer ons die chalet moet ontruim.

"Wel, ek is net om die draai. Kan ek gou kom hallo sê?" vra Alice, en ek vergeet skoon van die hitte, en my planne om te swem. Ek ken vir Alice goed. Haar "hallo sê"  bly nie net by 'n soentjie nie. Nee … Die girl het planne.

By die chalet aangekom pak ek gou my bagasie af, en soek 'n kortbroek en T-hemp om aan te trek. Intussen het ek al die waaiers in elke vertrek aangeskakel net om die plek af te koel. Met die instap terug in die sitkamer sien ek Alice se karretjie stilhou voor die chalet. Ek het nog nie eers gestort (of geswem) nie, en voel 'n bietjie taai van die hitte.

Soos 'n koel briesie warrel sy in die vertrek in met 'n groot glimlag …. reguit in my arms in. "So, hoe like jy my surprise?" vra sy laggend, en soen my hard op my mond. "Ek het die res van die middag af en moet eers 5-uur by die huis wees." Fantasties, dink ek, en maak verskoning om net gou onder die stort in te spring.

Die water is heelik koel, en ek voel hoe ek ontspan. Water het 'n ongelooflike uitwerking op my. Kikker my altyd op as ek moeg is, of te warm kry. Met hernude lewe stap ek kaalgat en papnat terug in die sitkamer, want ek het met al my haas om te stort die handdoek in die kamer vergeet.

"Moenie afdroog nie," sê Alice ondeund. "Ek soek jou lyf so nat."

"Maak solank die gordyne toe terwyl ek ook gou gaan stort," was haar laaste woorde toe sy omdraai en wegstap. Die oop vensters het my nie gepla nie, maar ek trek gou die sitkamer en ons slaapkamer se gordyne toe en stap kombuis toe vir yskaswater.

Terselfdertyd hoor ek die badkamerdeur oopgaan en Alice kom ook papnat en doelgerig op my afgestap. Sy lyk verruklik. Haar hare is net effens nat wat dit so wilde effek gee. Haar ferm 36C borsies wieg rustig soos sy nader stap, en die ronde klein tepeltjies staan stokstyf soos pienk Jellytots. My oë dwaal af na haar slanke bene en natuurlik haar perfekte versorgde koekie. Daar is net is smal strokie haartjies bokant haar poesie wat glinster in die half-donker vertrek van die waterdruppeltjies. Sy stap sensueel tot teen my en gooi haar arms om my nek. Ek voel haar sagte warm lippe oopgaan teen my mond, en haar tong speel verleidelik teen myne.

Skielik kom ek agter dat ek 'n enorme pielstyf ontwikkel toe Alice haar nat lyf teen my druk. Sy voel dit ook en begin my agteruit stoot na die kamer toe. Woordeloos stap ek agteruit met haar hande op my skouers. Toe ons by die bed kom stamp sy my liggies en ek val op my rug. Soos 'n luiperd wat haar prooi nie wil los nie spring sy wydsbeen bo op my en soen my weer vuriglik. Ek voel haar koue nat lyf druk teen my en toe gly sy stadig af ondertoe. Eers soen en byt sy my tepels. Sjoe …. Dit was amper seer en ek kom agter daar is 'n dringendheid in haar. Alice se tong lek 'n strepie al op my maag tot onder by my harder-wordende piel. Met dieselfde beweging maak sy haar mond oop en sluk omtrent my hele voël in. Wow, die ding is styf … en sy suig hom met gemak. Dit was net 'n paar sekondes toe voel ek hoe my paal begin klop van al die bloed wat daarin stroom. Alice het agtergekom dat ek is reg, want sy skuif weer stadig op boontoe, en gly met haar nat lyf al oor my. Sy kyk my diep in die oë terwyl sy haar heupe lig en my klipharde paal tussen haar gladde nat lippe inwerk. Meteens vind my voëlkop die  opening van haar poesie, en glip gemaklik in. Die kontras tussen haar koue nat lyf en die hitte van haar gladde dosie laat dit amper koorsig warm voel.

Alice maak haar oë toe en begin my ry. Eers rustig, ritmies gly sy vorentoe en agtertoe. Ek hou haar aan haar heupe vas en geniet die uitsig terdeë. Haar borsies wieg ook op en af en haar klit skuur hard teen my lyf. Die wrywing doen haar goed, want sy begin al harder asemhaal en haar tempo het geleidelik toegeneem. Ons oë ontmoet en sy glimlag stout. Sy wil iets sê maar daar kom net kreune uit haar keel. Ek weet nou dat 'n orgasme besig is om op te bou in haar. Die kreune verander in onderdrukte gille en haar hele lyf ry my nou wild. Sy wip op en af net genoeg dat my voël nie uitgly nie. Dit maak my mal om te sien hoe sy dit geniet, en ek voel 'n krieweling van my boude af teen my rug opkruip.

Ooo, shit, ek gaan nou kom ...!! Ek probeer uithou en terughou solank ek kan. Ek verander my asemhaling, dink aan die voordeur wat nog oopstaan, kyk vir die dakwaaier ... enigiets om nie nou te kom nie!!! Toe ontplof Alice bo-op my. Met een laaste gil begin haar liggaam onbeheersd ruk. Ek voel hoe haar poesie my voël vasknyp en haar vingers grou in my skouers in.

Die oomblik was net te veel en ek gee myself oor aan 'n duiselingwekkende klimaks. My bolyf ruk op na haar toe. Sy gryp my om die nek en druk haar hele lyf stywer teen my vas toe sy voel hoe  ek my sappe diep binne-in haar dosie inspuit. Onophoudelik gaan dit so aan soos wat voel vir 'n paar minute totdat ons altwee geleidelik begin ontspan.

Uitasem val ek terug teen die kussings en sy kom lê teen my, met my paal nog diep binne-in haar gebêre. Doodse stilte daal in die slaapkamer neer vir n rukkie, totdat sy die stilte breek. "Fok, ek het dit nodig gehad," sê sy kalm, terwyl sy my diep in die oë kyk en saggies soen. Die girl was honger, daarom kon sy nie tot more-oggend wag vir ons gereelde "kuiertjie" nie.

Maar wag, more-oggend kom sy weer kuier. Die goeie nuus is dat sy my nou  goed gemelk het, en ek weet mêre gaan ek langer kan uithou. Die tweede ronde is mos altyd beter.

Word vervolg ...

The post Bieg: Alice op haar beste appeared first on LitNet.

Gesprek: "Meneer, ek wil net iets word ..."

$
0
0

Een van die kernprobleme van Suid-Afrika is mense se sosio-ekonomiese omstandighede. Die situasie van minderbevoorregte jongmense as leerders speel 'n rol in hoe hulle presteer. Omstandighede kan nie noodwendig verander nie, maar denkwyse rondom die omstandighede kan wél.

Estelle Kruger gesels met Henry Fillies en Aslam Fataar oor die LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel: 

Doksa en verwerkliking van leeridentiteitspraktyke van hoërskoolleerders in ’n landelike werkersklasdorp.

Hulle beantwoord albei die vrae gesamentlik, tensy anders aangedui.


 

henryfillies250Hoe sal julle die begrip doksa in hul eie jargon verduidelik ...

a) aan 'n maat op straat?

Doksa is die manier hoe jou denke jou keuses beïnvloed.

b) aan 'n onderwyser?

Hoe die leerder oor hom of haarself dink speel ʼn groot rol in wat hy/sy sal word.

c) aan 'n ouer?

My denke oor my huidige lewe en toekoms is ’n belangrike aanduider van wie ek is.

aslamfataar250d) in 'n gesprek met die persoon self in 'n dagboekinskrywing waarin hy/sy reflekteer oor hierdie ervaring en die betekenis daarvan vir hom-/haarself?

Die verwesenliking van my aspirasies binne moeilike omstandighede is tans ’n "wrede" ervaring. My ervarings tot die verwesenliking van my aspirasies is belaai met hindernisse wat die voortsetting van hul ideale stuit.

Julle het ’n interessante keuse gemaak om die Franse sosioloog, Pierre Bourdieu se term doksa (“doxa”) as teoretiese lens vir hierdie navorsing te gebruik. Hoe het dit gebeur dat julle hierby uitgekom het?

Ons het toevallig op die konsep afgekom.  Dis een van Bourdieu se minder-bekende konsepte.  Maar toe ons die verbintenis tussen die konsep, en die gedagtegang en idees van die leerders agterkom het ons die waarde van doksa gesien, dit opgevolg, ontwikkel, en toegepas om die analise haalbaar en uniek te maak. Ons wil die werkersklaskonteks voorhou as ’n mosaïek van praktyke en ervarings met betrekking tot hoe leerders in hul leefwêrelde leer. Volgens Bourdieu (1990) is dit deur middel van praktyke en diskoerse wat sekere oortuigings en aannames kragtig oor diverse aangeleenthede van die alledaagse lewe versprei word. Hoe mense hieroor dink bied hulle ʼn groter bewustheid.

Behalwe akademici, wie is jul teikenlesers van hierdie artikel?

Met hierdie artikel wil ons ʼn groter bewustheid kweek by beleidsmakers, die media, onderwysers, ouers en ander belanghebbendes betrokke by die onderrig van ons jeug, want dit is belangrik vir hulle om te verstaan hoe jeugdiges hul denkwyses oriënteer tot hoe en waarom hulle op bepaalde wyses by hul leer betrokke raak. Ons werk word gemotiveer deur die daarstel van ‘n ander oriëntering en verstaan van die onderwysproblematiek en hoe om dit aan te spreek.

Die term doksa is seker nie algemeen bekend by onderwysers nie? Dink julle dat dit onderwysers se verbeelding kan prikkel en hulle help om te identifiseer met die navorsingsgetuienis van jul artikel?

Alhoewel hierdie konsep nie algemeen bekend is by onderwysers nie, glo ons dat hierdie artikel die bestaande debatte omtrent die opvatting van werkersklasleerders se leerpraktykvorming kan bevorder. Opvoeders betrokke by die onderrig van werkersklasleerders in die spesifieke konteks soos ons dit bied kan ook baie maklik identifiseer met die navorsingsgetuienis, want dit bied hulle ’n blik op die sosiale en strukturele struikelblokke wat ’n effek het op die motivering van hierdie kinders om in die skool te bly. Dit kan hulle ook die begrip bied van waarom hierdie kinders hul sosiale lewe buite die skool as baie belangrik sien vir ’n begrip van hul ervarings van hoe hulle in hul leerpraktyke betrokke gaan raak en hoe hulle dienooreenkomstig hul leeridentiteite gaan posisioneer. Deur te fokus op die leerpraktyke wat hul konstrueer vanuit hul doksa in hul woonbuurte mag dit ’n direkte impak hê op hul skoolleerpraktyke en daarom sal dit belangrik wees dat onderwysers hiervan kennis moet neem.

Julle worstel met kernprobleme van Suid-Afrika in hierdie navorsing wat handel oor die situasie van minderbevoorregte jongmense as leerders. In watter mate dink julle dat hierdie navorsing ’n betekenisvolle bydrae lewer in die opvoedkundige skoolgemeenskap?

Ons wil argumenteer dat in die huidige klimaat waar daar ’n hoë prioriteit geplaas word op opvoeding, is dit belangrik om te verstaan dat leerders hulle vestig op terreine van opvoeding in hul lewens benewens formele onderwys. Ons wil ’n tipe "verklarende taal" daarstel wat dit vir onderwysers en skole moontlik sal maak om op ’n pedagogies-regverdige manier om te gaan met kinders vanuit benadeelde werkersklaskontekste ten einde hul interaksie met opvoeding positief te bemiddel. Dit dui ook daarop dat opvoedkundige verandering nóú verwant is aan sosiale verandering.

Hoop julle om beter toekomsverwagtings by die vyf leerders wat deelgeneem het te skep met die navorsingsgetuienis wat julle versamel het? Kan dit bydra tot meer gebalanseerde en realistiese doksa vir ten minste hierdie leerders wat lewe te midde van die chaos van mededingende doelwitte en verwagtinge?

Vir hierdie leerders is insig in hul leeridentiteite van kardinale belang om te verstaan hoe individue hulself sien, sowel as die manier waarop die samelewing status en beperkings op hulle plaas. Die manier hoe hulle met hul doksa omgaan was die oorsaak dat hulle ook nouer betrokke wou wees by hul skoolleer.

Dink julle dat daar ’n rimpeleffek kan wees in die ontwikkeling van hierdie vyf leerders se nuwe doksa, met ander woorde dat hulle (moontlik) nuwe siening van sekere kulturele aangeleenthede in die samelewing ’n effek kan hê op dié van hul naasbestaandes? Hul vriende het tog sekerlik uitgevra hieroor en vriende kan mekaar mos wedersyds beïnvloed ...

Almal was gesteld op watter voordele hierdie studie tot hul leefwêreld kan bring.

In watter mate het hierdie vyf leerders se identiteit ontwikkel? En hul wêreldbeskouing? Motiveer jul antwoord.

Vir hulle was die identiteit wat hulle ontwikkel het uiters noodsaaklik om skoolsukses te verseker. Indien hulle dit nie sou kon doen nie, sou hulle nie in staat gewees het om hul leerpraktyke effektief tussen hul harde maatskaplike omstandighede te kon navigeer nie. Dit sou kon meebring dat hulle ontkoppel raak van hul leer by die skool. Verder was hul aspirasies vir ’n middelklaslewe in gevaar, wat sou meebring dat hulle hulle uiteindelik sou moes wend tot lae-betalende werk. Die jeugdiges het geleer om uit die objektiewe strukture waarin hulle opereer, ’n subjektiewe selfheid te ontwikkel wat aan hulle hoop en momentum vorentoe bied. Hul refleksiewe ingesteldheid oor waarvandaan hulle kom en waarheen hulle op pad is, het hul doksa toegelaat om op ’n wyse te ontwikkel waarvolgens hulle dit ietwat binne die snel-veranderende objektiewe sosiale kontekste verskuif het.

Is dit jul mening dat die leerders se agentskap ontwikkel het, dit wil sê hul individuele keuse hoe om die kreatiewe ongestruktureerde aspekte van die sosiale lewe te sien?

Dit het telkens duidelik na vore gekom dat hul gesinne en die gemeenskapsomstandighede ’n merkwaardige rol in die vorming van hul onderskeie identiteite gespeel het. Hierdie leerders het ook die vermoë vertoon om deur middel van interaksies binne hul omgewing en ander omgewings met hul identiteit te onderhandel en dit effektief te posisioneer om suksesvol betrokke te wees by lewensaanpassings wat hul leerpraktyke kon toelig. Hulle het met verloop van tyd hul doksa bewustelik verander of by hul praktyke in spesifieke sosiale situasies en met verskillende groepe mense aangepas.

Die deelnemers was dit eens dat hulle, ten spyte van hul beperkte omstandighede, steeds produktiewe lewens gelei het. Ten einde hul leeridentiteite suksesvol te vestig, was dit interessant dat hulle nie, soos dit algemeen onder hul portuurgroep in hul gemeenskap voorgekom het, hulle aan anti-sosiale praktyke vergryp het nie. Aan ons het dit ook duidelik bewys dat hierdie vyf leerders se leerpraktyke gebou is op die dinamiese wisselwerking met hul immer-veranderende fisiese leefwêrelde en hoe hulle daaroor gedink het. Op grond van hul denke binne hul leefruimte kon ons verstaan hoe die leerders in hul woonbuurtkonteks vasgevang was, en hoe hulle hul omstandighede te bowe probeer kom het deur betrokke te raak in gepaste praktyke en sulke praktyke vir hulle te skep. Die leerders het hul leerpraktyke gevorm uit hul komplekse, vloeibare en onderliggende lewenservarings. Juis vanweë hul lewenservarings in hul woonbuurtruimte het die leerders hul opvoedkundige keuses gegrond op wat dié ruimtes hulle bied. Hul omgang met hul leefruimtes is dus die kerndryfveer en -organiseerder van hul leerpraktyke. Dit dien as katalisator vir die keuses wat hulle in hul lewens maak.

Etnografie veronderstel die (subjektiewe) betrokkenheid van die navorser. Brei bietjie uit hieroor en hoe dit julle positief en negatief beïnvloed het omdat julle vervleg was in jul deelnemers se sosiale werklikheid. Praat dus bietjie oor jul rol as betrokke buitestaander.

Henry Fillies: Jansen (2009:133) bied die argument dat "to craft a meaningful response is to first understand the speaker". Hierdie woorde het my rol as navorser duidelik gelei, want ek wou die leerders se ervarings verstaan sodat ek dit korrek kon interpreteer. Vir eers moes ek die rol van buitestaander aanneem, want ek het geweet dat dit besinning van my sou verg om my persoonlike posisie en identiteit binne die omgewing te behou.

Aslam Fataar: Om ’n buitestaander te wees het my die geleentheid gebied om die heersende  plaaslike kennis binne die woonbuurt waar te neem. Hierdie soorte kennis was vreemd en dieperliggend en soms aanstootlik. Dit was hierdeur wat ek toegang verkry het tot die aard van omstandighede ("doxa") wat die wêreld aanvaar het as ’n gegewe binne die woonbuurt. Ek het geweet dat ek geroer, en dikwels geïrriteerd sou wees deur die taal van die mense binne die woonbuurt met betrekking tot die alledaagse denke en praktyke wat daarbinne geheers het. As buitestaander was ek egter vasberade om ’n "binnestaander" tot die prosesse en ambisie van die mense binne die woonbuurt te word. Ek het dus probeer om my verhouding met die gemeenskap so te benader dat ek na almal probeer luister het. Ek het myself ook as deel van die godsdienstige, kulturele, sosiale, intellektuele en selfs politieke lewe van die gemeenskap beskikbaar gemaak sodat ek die maksimum data vanaf die leerders kon kry. Ek het geweet dat ek nie ’n "insider" in die volle sin van die woord kon word nie, maar ek was nie van plan om op die kantlyn te staan en my buitestaanderstatus ten volle uit te leef nie.

Dit het harde, emosionele werk gekos, en ek het geweet my siel gaan dit voel. Dit was in die loop van hierdie stryd wat ek tot die insiggewende uitbeelding van hierdie binnestander/buitestander (insider/outsider) dilemma gekom het. Hier het ek mense met verskillende waardes teenoor hul omgewingsomstandighede ontmoet, maar wat dit tog probeer verander het, hoewel dit vir eers moes loop langs die lyn tussen konformiteit en opstandigheid. Ek was nie net in versoeking gebring deur die organisatoriese kultuur, geskiedenis en politiek van die gebied nie, maar ook die dieper en radikale veranderinge binne die plek. Dit moet gesê word dat al het ek by tye my posisie as die buitestaander geniet, ek in staat was om dinge van diegene wat hulle hele lewens daar geleef het, en vir wie die woonbuurt "oorspronklik bedoel was", die kans gebied om hul storie te vertel. My buitestaanderstatus het my ook ’n waardevolle analitiese voordeel gebied, want dit was vanuit hierdie posisie dat ek my analitiese perspektief kon bied.

Dit was vir my belangrik om te besin oor my verskeie identiteite (bv klas, ouderdom, en status in die gemeenskap as buitestaander) om te verstaan ​​hoe hierdie subjektiwiteite ingesluit is in hierdie navorsing. Die literatuur moedig kwalitatiewe navorsers aan, veral navorsers van kleur, om hul subjektiwiteite te beskou as potensiële sterkpunte in die navorsingsproses (sien Foley, Levinson en Snel 2001). Alhoewel ek verskil in opvoedkundige agtergrond, was ek in staat om verslag te bou met die jeug gebaseer op kulturele ooreenkomste. Op sommige en op ʼn sekere maniere, het my eie status as ʼn suksesvolle gekleurde manlike student onwetend die gewilde persepsies van kleurlingseuns verkeerd bewys. Anders gestel, ek vergestalt die idee dat ons lewe in ’n ware meritokrasie, waar diegene wat hard werk sukses sal bereik (McGinnis 2009). Dit was belangrik dat ek deur dit te erken regdeur die studie, dat die volwassenes van Arendsehoop waarskynlik gekyk het na my as ʼn suksesvolle ouer manlike student, as ʼn potensiële rolmodel vir kleurling adolessente seuns wie se lewe, deur hul oë, kan ontaard in skoolverlating en/of bende-aktiwiteite.

Ek kan my indink dat daar lesers is wat by die lees van die artikel 'n diep deernis ervaar omdat hulle kan identifiseer met die leerders. Miskien is daar iemand wat in soortgelyke omstandighede grootgeword het en wie se enigste ideaal en droom was om daarvan weg te kom. Hoe sou jy hierop reageer?

’n Belangrike aspek van selfvorming is dat dit binne die dinamiese interaksie tussen denke, gevoelens en sosiale praktyke saamgestel word. Jou emosionele of psigiese dimensie is ’n belangrike aspek van selfvorming. Appadurai (2004:83) wys ons daarop dat jeugdiges se sosiale rituele, praktyke en prestasies nie as waardelose repetisie van vasgestelde patrone van aksies beskou moet word nie, maar eerder as die produsering van nuwe sosiale effekte, gevoelens en konneksies waaruit stelle van inviduele praktyke gegenereer word. Dit laat ons toe om te verstaan hoe hierdie kinders se identiteitswording spruit uit die alledaagse praktyke en strategieë wat op armoede en opportunisme gebaseer is wat uiteenlopende hulpbronne kombineer tot voordeel van individue. Jou vermoë om toepaslike "bodily comportments" in verskeie leefomgewings aan te neem is wat jou in staat stel om jou kapasiteit om te aspireer, vergroot. Met liggaamlike "comportment" verwys Fataar (2015) na die aspek in terme waarvan hulle ’n tipe van die dubbele identiteit wat gebaseer is op die begeerte om by hul veranderde omstandighede in te pas, opneem. In hul dorp probeer hulle onder die radar leef deur in te pas by portuuraktiwiteite wat teen hul aspirasies werk, ten einde verbale of fisiese viktimisasie te vermy. Hul liggaamlike dissipline en toepaslike "comporting" is kenmerkend van hul suksesvolle navigasie oor die verskillende wêrelde heen.

Een van die beperkings van etnografiese navorsing is dat die resultate en bevindings nie veralgemeen kan word nie. Dink jy daar is tog wel iets wat jy in jou navorsing gevind het wat veralgemeen kan word? Vertel ...

Alhoewel bevindings nie veralgemeen kan word nie moet ons in gedagte hou dat die doel van enige kwalitatiewe studie nie is om bevindinge te veralgemeen nie, maar om elke geval te beskryf in sy uniekheid ten einde die leser te laat besluit of dit wat hy lees oordraagbaar is tot ander omstandighede (Chilisa en Preece 2005:142). Vanweë die kompleksiteit van sosiale lewe het ek verskeie diverse elemente in die veld vasgelê (onder meer die uitleg van die fisiese ruimte waar die verhaal afspeel, die mense betrokke, verwante aktiwiteite, fisiese dinge teenwoordig, spesifieke optredes van mense, die verloop van gebeure, wat mense probeer bereik en emosies wat uitgedruk of ervaar was). Op hierdie wyse het my insig oor hulle sosialiseringspraktyke verder verdiep, en kon ek hul betekenisse en ervarings van hul beleefde omstandighede integreer. Ek het aan gebeurtenisse en prosesse deelgeneem en dit gevolg, wat verskeie vorme van waarneming vereis het. Ek het nie net staat gemaak op wat mense gesê het nie, maar het ook eerstehands waargeneem wat hulle gedoen het. Dit het my toegelaat om die verhouding tussen hul houdings en gedrag rakende die onderwerp onder studie te ondersoek. Dit het my die geleentheid gegee tot interaksie met die leerders. Ek het nie net vertroud geraak met die norme en roetines van die plek nie, maar ek het ook die deelnemers op ’n meer persoonlike vlak leer ken.

Watter persoonlike, menslike insigte het by julle gegroei in die proses van die navorsingsprojek?

Dit het oor die algemeen voorgekom asof hierdie leerders, met die inligting tot hul beskikking, ʼn goeduitgewerkte plan gehad het om in hul leerpraktyke betrokke te raak. Hul plan was om universiteit toe te gaan, mét inagneming van al die vereiste prosesse om dit te laat gebeur. Dit wat in hul gemeenskap plaasgevind het, het hulle ʼn grondige begrip gegee van wat nodig is om aspekte in hul leefruimte te bowe te kom ten einde hul leerpraktyke te konstrueer.

Henry Fillies: Hierdie studie het my tot die insig laat kom dat alhoewel ek dink dat ek werkersklaskinders verstaan ek nog baie het om te leer oor wat hulle daagliks moet deurmaak "in order to get educated". Dikwels kry ek in my klasse nie die geleentheid om diep binne hulle te sien watter "noodkrete" vir hulp daar is nie. Dit het die wyse hoe ek my lesse benader en gee heeltemal verander waar ek hoor "Meneer, ek wil net iets word". Dit is hierdie aangeleentheid wat my laat besef om ’n "every child matters"-benadering te volg en dikwels laat ek my lesse aansluit by die kinders in my klas se geleefde wêreld waar ek erkenning gee aan hulle kennis. Ek poog altyd om my lesse interessant te maak sodat ek nooit nalaat om die hoop en drome van dié wat nie so bevoorreg soos ek is nie te "uplift". Vir my is dit altyd belangrik om te besin oor my verskeie identiteite (bv klas, ouderdom en status in die gemeeenskap) om te verstaan hoe hierdie subjektiwiteite inpas by die kinders in my klas.

Bibliografie

Appadurai, A. 2004. The capacity to aspire: culture and the terms of recognition. In: V. Rao en M. Walton (reds.). 2004. Culture and public action. Kalifornië: Stanford University Press.

Bourdieu, P. 1990. The logic of practice. Vertaal deur R. Nice. Stanford: Stanford University Press.

Chilisa, B. en Preece, J. 2005. Research methods for adult educators in Africa. Kaapstad: Pearson Education and UNESCO Institute for Education.

Fataar, A. 2015. Engaging schooling subjectivities across Post-Apartheid urban spaces. Stellenbosch: Sun Media.

Foley, D., B. Levinson en J. Hurtig. 2001. Anthropology goes inside: The new educational ethnography of ethnicity and gender. Review of Research in Education, 25:37–98.

Jansen, J. 2009. Knowledge in the blood: Confronting race and the apartheid past. Kaapstad: UCT Press.

McGinnis, T. 2009. Seeing possible futures: Khmer youth and the discourses of the American dream. Anthropology and Education Quarterly, 40:62–81.

The post Gesprek: "Meneer, ek wil net iets word ..." appeared first on LitNet.

My waarneming van Johannes Meintjes

$
0
0

Een van vele kunstenaars wat deel vorm van die Wonder van die Afrikaner.

’n Foto van Johannes Meintjes, derde van links, saam met vriende op die strand in die Kaapse skiereiland. Let op die “sports jock strap” as baaibroek van die persoon heel regs, ongehoord in die laat 1940’s op publieke strande toegelaat toe hierdie foto geneem was. Johan Meintjes se wit baaibroek skemer onduidelik deur, en die res geensins sigbaar nie. Kon dit moontlik op Sandy Bay afgeneem gewees het? Johan is op 37-jarige ouderdom (1960) getroud.

meintjes1

Wat veral opvallend is van sy kunswerke, veral sy vroeër jare, was sy voorkeur vir jong mans as onderwerp, selfs een van ’n blonde wit man in omhelsing met ’n kleurling. Dan is die volgende skets ongetwyfeld my “favourite”:

meintjes2

 

The post My waarneming van Johannes Meintjes appeared first on LitNet.

Heersende bombasme

$
0
0
By die geringste teken van intelligensie raak die wesens wat glo intelligent ontwerp is, beledigend.
 
CM

The post Heersende bombasme appeared first on LitNet.

Onderhoud met ’n uitgeweke skrywer: Paola Gomez (Colombia)

$
0
0

Die uitdrukking  “the iron fist in the velvet glove” pas Paola Gomez soos ’n … wel, soos ’n handskoen. Hierdie Colombiaanse prokureur is klein en praat sag, maar beïndruk dadelik as die tipe persoon wat nie laat los wanneer sy op iets besluit het nie. Sy is onverskrokke, en hoe meer ek met haar gepraat het, hoe dieper onder die indruk het ek gekom van ’n vrou wat nog sommer diep spore gaan trap in enige samelewing waar sy haar bevind.

gomez650

Sy woon tans in Toronto, waar sy deel vorm van PEN Kanada se uitgeweke skrywersprogram. Hierdie program vestig skrywers wat hul eie lande moes verlaat in Toronto, waar hulle in die plaaslike skrywersgemeenskap inkorporeer word.

Ek het met haar gesels oor haar aktivisme en haar kreatiewe lewe.

Jy’s ’n prokureur. Waar het jy studeer, en wat is jou kwalifikasies?

Ek is ’n menseregteprokureur en het my graad in Colombia gekry. Ek het ook studies gedoen oor Internasionale Humanitêre Reg en Internasionale Vlugtelingebeskerming met die Vredesuniversiteit in Costa Rica. Ek het verder ook vlugtelinge en ontworteling bestudeer aan die Universiteit van York in Toronto. Omdat ek met weerlose gemeenskappe werk, het ek ook seker gemaak dat ek professionele opleiding kry in anti-onderdrukking en trauma.

Ek stel verder ook belang in kreatiewe entrepeneurskap, en is lid van PEN Kanada se uitgeweke skrywersprojek.

Dis indrukwekkend. Ek verstaan dat jy ook ’n aantal toekennings vir jou aktivisme ontvang het?

Ja, in 2008 het ek die Toronto Vital People-toekenning ontvang vir ’n gemeenskapsinisiatief om Toronto te verbeter.

In 2009 het ek die Amina Malko-toekenning ontvang van die Kanadese Sentrum vir Slagoffers van Marteling vir my werk met vlugtelingvroue.

Jy het in Colombia ’n veiligheidshuis vir vroue en kinders oopgemaak. Nou, in Toronto, is jy nog steeds besig met aktivisme wat fokus op vroue en kinders. Vertel bietjie meer daarvan?

In 1999 was daar ’n aardbewing wat die stad waar ek woonagtig was, vernietig het. Ek het die veiligheidshuis begin om die straatkinders te help. Die huis het ondersteuning gebied vir ongeveer 200 kinders. Dit was ook ’n veilige hawe vir kinders wat om ’n verskeidenheid redes op straat beland het. Deur die “beskermingsentrum”, soos wat dit bekend gestaan het, was ons ook in staat om ’n aantal bewusmakingsveldtogte te loods om die broodnodige gesprek rondom geweld teen vroue, ’n onderwerp wat toe verbode was, te begin.

Kort nadat ek in Toronto aangekom het, het ek begin werk by ’n gemeenskapsentrum. Ek was nog besig om deur my eie kwessies, beide regs- en emosioneel as gevolg van die manier waarop ek Colombia moes verlaat, te werk. Omdat ek toe goed kennis opgedoen het oor Kanadese Immigrasiewetgewing, kon ek ander families help om deur die moeras van die immigrasiesisteem te beweeg.

Ek het later by ’n agentskap wat werk onder vroue doen, aangesluit. Hier het ek vroue wat van geweld ontvlug, gehelp om hulle immigrantestatus te beredder. Deel van my taak was om na verskeie Latyns-Amerikaanse lande te gaan om strategieë te ontwikkel om veilige hawes te skep vir vroue wat aan geweld ontvlug. Ek het ook bewusmakingsveldtogte gereël om lig te werp op geweld teen  Latinavroue in Kanada, en hoe om dit uit die weg te ruim.

Die afgelope drie jaar werk ek as gemeenskapskuns-fasiliteerder in projekte waar kuns en sosiale geregtigheid verweef word.

Sick Muse Art – dit klink soos pret. Waaroor gaan dit?

SMA is ’n nie-vir-winsbejag gemeenskapskunsprojek wat ek drie jaar gelede op die been gebring het tesame met my lewensmaat (kunstenaar Alex Usquiano). Ons werk met verskeie Latyns-Amerikaanse kunstenaars om kunsprogramme te lewer dwarsoor Toronto, met ’n spesiale fokus op projekte wat sosiale geregtigheidskwessies ondersoek. Ons bekendste program word genoem “The World of a Thousand Colours”. Dis ’n twaalf weke lange werkswinkel wat ons by veiligheidshuise en ander tydelike behuisingsopsies bied vir kinders, beide vlugtelinge asook dié wat geweld aanskou het. Ons fokus op diversiteit in hierdie program.

sickmuse600

Skryf jy net gedigte, of waag jy jou hand ook aan prosa? In watter taal skryf jy?

My kreatiewe skryfwerk was in baie opsigte my redding. Digkuns is vir my ’n tipe katarsis, een van die min plekke waar ek myself toelaat om weerloos te wees. Ek skryf ook prosa, en geniet veral om niefiksie te skryf. Ek word gereeld genooi om my mening te lug in beide plaaslike en internasionale koerante. Ek skryf in beide Engels en Spaans, maar ek erken vryelik dat Spaans die taal van my tradisie en my emosie is.

Beïnvloed jou aktivisme jou kreatiewe werk?

O ja, absoluut. My belangstelling in sosiale geregtigheidskwessies en magswanbalanse is die kern van my kreatiewe werk. Ek is voortdurend op die uitkyk vir maniere hoedat ek gemeenskappe kan betrek. Kreatiwiteit en kuns is beide ’n kanaal en ’n medium wat ons toelaat om mekaar op ’n gelyke vlak te ontmoet.

Wat is die situasie met vryheid van uitdrukking in Colombia?

In so ’n gewelddadige omgewing word vryheid van spraak altyd gekompromieer. Dwarsdeur ons geskiedenis het skrywers en joernaliste met hul lewens betaal omdat hulle hulself uitgespreek het teen die talle wandade en komplotte wat plaasvind. Daar is heelwat interne konflik, en die staat is een van die geweldenaars. Joernaliste word ontvoer en vermoor, en hulle sake word net nooit voor die hof gebring nie. Omdat daar so min beskerming is, vind selfsensuur op groot skaal plaas.

Daar is ’n program om spesiale beskerming aan joernaliste te bied indien hulle geteiken word, of met geweld bedreig word as gevolg van hulle beroep. Hulle word van lyfwagte voorsien en kry voertuie met die nuutste tegnologie. Baie min joernaliste verkry hierdie voorregte. Daar was onlangs ’n voorval waar dit aan die lig gekom het dat ’n joernalis dreigemente gefabriseer het sodat hy kon voortgaan om hierdie behandeling te kry. Dit was ’n yslike skandaal, en word nou gebruik om te kenne te gee dat joernaliste die gevaar waarin hulle verkeer oordryf.

gomezcoverHoe het dit gebeur dat jy Colombia moes verlaat?

Daar is gereeld sogenaamde “Clean Up operations” waartydens polisie en ander gewapende magte mense wat hulle as wegdoenbaar beskou, om die lewe bring. Dis nou mense soos prostitute, haweloses, dwelmverslaafdes en straatkinders. Een van die kinders van my veiligheidshuis is ook so vermoor, en ek het toe ’n veldtog geloods om kritiek teen die praktyk uit te spreek. Ek is toe geteiken en ek moes vlug.

In Suid-Afrika is daar aansienlike druk om tersiêre opvoeding slegs in Engels aan te bied. Wat is jou siening van moedertaalonderrig?

Spaans, my moedertaal, is ’n baie belangrike taal, inderwaarheid die tweede mees gesproke taal in die VSA, wat skynbaar die maatstaf is waaraan taalrelevantheid in die wêreld gemeet word. Dit is natuurlik ’n imperialistiese manier om daarna te kyk, maar dit plaas Spaans in ’n goeie plek. Spaans is egter ook die taal waarin Latyns- Amerika gekoloniseer is. Dit beteken dat oral waar dit afgedwing is, ander tale uitgewis is. Selfs in Latyns- Amerika is daar ’n siening dat onderrig in Engels as tweede taal nodig is weens globalisering, maar moet my nie eens laat begin oor daardie kwessie nie.

Wat my meer bekommer is dat soveel bestaande inheemse tale nie die aandag geniet wat hulle verdien nie. Daar is geen belangstelling om ’n lewensvatbare beleid te ontwikkel wat ten doel het om hulle voortbestaan te verseker nie.

Wie is jou gunstelingskrywer of -digter?

Ek geniet die werk van heelparty Latyns-Amerikaanse skrywers. Baie van hulle is mans, maar ek verkies om vroulike skrywers uit te lig, omdat ek besef dat vroue se rol in geskiedenis, kuns en kultuur baie keer op die agtergrond geplaas word weens die patriargale samelewings wat aan ons voorgehou is ná kolonisasie.

Gabriela Mistral tel beslis as een van my gunsteling- Latyns-Amerikaanse skrywers.

As jy in beheer van die Colombiaanse regering was, wat is die eerste ding wat jy sou verander?

Ek sal ’n einde maak aan multinasionale maatskappye wat in my land inkom en ons natuurlike hulpbronne plunder. Ek sal seker maak dat die rykes behoorlik belasting betaal en programme instel om te verseker dat geen kind honger gaan slaap nie, en dat elke kind toegang het tot opvoeding.

Indien Paola ooit besluit om die politiek te betree, het sy beslis my stem.

 

The post Onderhoud met ’n uitgeweke skrywer: Paola Gomez (Colombia) appeared first on LitNet.

#litnetwoord2015: Die WAT se kortlys

$
0
0

'n Woord kan 'n tydsgees vasvang. In 2013, toe LitNet die eerste keer LitNet se Suid-Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie aangebied het, was die woord op almal se lippe "e-tol". Een van 2014 se mees emotiewe woorde was "beurtkrag". Wat is 2015 se Afrikaanse woorde – woorde wat ontstel, prikkel, of die heersende gesprek saamvat?

Hieronder is die WAT se kortlys van tien woorde vanuit alle woorde wat verskyn het in die kategorie LitNet se Afrikaanse woord van 2015.


 

Lees ook:
WAT: Borg 'n woord voor Kersfees
Deon Meyer: die gas by die WAT se Woordpret

Willem Botha, Hoofredakteur en Uitvoerende Direkteur, Woordeboek van die Afrikaanse Taal:

Dit was nogal ʼn taai taak om tien woorde uit te kies.  Die opdrag is verskillend geïnterpreteer – daar is woorde ingestuur wat die jaar opsom soos harlaboerla, verander, verskraal, vryval, ens; daar was nuutskeppings soos e-tjol, streelpaneel, Afrodoks, bangbroekuniversiteit, Kakiebosch, papbekpolitikus, teflonpresident, ens - en dan was daar woorde wat ʼn hoë gebruiksfrekwensie in 2015 gehad het.

Ons het tien woorde uit laasgenoemde kategorie gekies: woorde met ʼn hoë gebruiksfrekwensie in 2015.

WAT se kortlys

aardverwarming

migrant

terreur

korrupsie

studenteprotes

klasgeld

transformasie

meertaligheid

beurtwater

selfdegeslagverhoudings

>>>Terug na LitNet se Afrikaanse woord van 2015

The post #litnetwoord2015: Die WAT se kortlys appeared first on LitNet.

#litnetwoord2015: Die ATKV se kortlys

$
0
0

'n Woord kan 'n tydsgees vasvang. In 2013, toe LitNet die eerste keer LitNet se Suid-Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie aangebied het, was die woord op almal se lippe "e-tol". Een van 2014 se mees emotiewe woorde was "beurtkrag". Wat is 2015 se Afrikaanse woorde – woorde wat ontstel, prikkel, of die heersende gesprek saamvat?

Hieronder is die WAT se kortlys van tien woorde vanuit alle woorde wat verskyn het in die kategorie LitNet se Afrikaanse woord van 2015.


Lees ook:
Foto's: Die ATKV vier Wêreldvigsdag in Atlantis
Video en foto's: ATKV-Rieldansfinaal 2015

Evelyn Ferreira, Senior Bestuurder: Taal, ATKV:

Die ATKV se benadering was om na woorde te kyk wat 'n hoë gebruiksfrekwensie gehad het en dan ook wat van ‘n populêre aard is. 

Die ATKV se kortlys is nie noodwendig in volgorde van voorkeur nie:

Kakiebosch

Selfdegeslag

Glanspaartjie

Ja-nee

Hommeltuig

Wedstrydplan

Meertaligheid

Beurtwater

e-tjol

SlimWim

>>>Terug na LitNet se Afrikaanse woord van 2015

The post #litnetwoord2015: Die ATKV se kortlys appeared first on LitNet.


Foto's: Babalela-geskenkpakkies maak kinderharte bly

$
0
0
Lees ook:
'n Babalela vir Kersfees
Hoe jou Babalela hierdie Kersfees 'n verskil kan maak

Baie kinders in hierdie land word groot sonder boeke.

Die Vriende van Afrikaans het kort voor Kersfees kopieë van die Babalela vir kinders wat dit nie breed het nie, uitgedeel. Daarmee saam ook ’n sagte Babala-speelding en ’n nuttige rugsak vir elk. Izak de Vries het foto's geneem van die blydskap by ontvangs.

Nee, hierdie foto is nie met gedokter met PhotoShop of ‘n ander program nie. Haar oë is werklik so groot, ‘n wyehoeklens het gehelp om die effek te versterk.

Die Vriende van Afrikaans het op Woensdag 8 Desember Babalela-gespenkpakkies uitgedeel by Jakkerland in Jamestown. Hierdie dogtertjie was een van die ontvangers.

Amanda de Stadler het begin deur die storie van Babalela voor te lees.

Toe, nadat die kindertjies baie hard geroep het, daag die Babalela op.

Hierdie kabouter was aanvanklik bang en het by Amanda gaan wegkruip.

Die Babalela het geskenkpakkies uitgedeel.

babalela_vva7

Drukkies is ook uitgedeel.

Is myne! Ek mag dit huis te neem.

Die Vriende van Afrikaans wat die die projek bestuur, en LAPA Uitgewers wat die Babalela-boeke uitgee, is albei filiale van die ATKV.

Dankie aan LitNet wat ‘n belangrike mediavenoot was in hierdie insameling.

Dankie aan almal wat bygedra het om hierdie projek suksesvol te maak.

The post Foto's: Babalela-geskenkpakkies maak kinderharte bly appeared first on LitNet.

Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe

$
0
0

Erika Viljoen is 'n leser, skrywer, vriend en voormalige student van André P Brink. Sy het die liefdesbriewe tussen hom en Ingrid Jonker transkribeer en deel haar ervaringe met LitNet. 


 

Lees ook:
Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Dit bly vir ons moeilik om André P Brink, die wêreldfiguur, te versoen met die André wat ons sagmoedige vriend was. Amper so moeilik as om te glo dat hy ons nooit weer met ’n gulle "Halloooo …"  sal groet by sy voordeur nie. So moeilik as om te glo dat hy nooit weer by ons braaiete sal aansit met "jissis, Kobus" nie.

Ek het hom die eerste keer in lewende lywe gesien en gehoor by ’n gaslesing toe ek ’n derdejaarstudent by Stellenbosch was. Toe al het sy woordtoordery my aangegryp en om hom te hoor praat het vir amper 30 jaar een van my groot vreugdes gebly. Dit was ’n voorreg om sy student te wees, om aan die uitmuntende akademikus se voete te leer. Hy was, soos dit met die grotes gaan, altyd toeganklik en sjarmant, altyd gretig om te help, altyd die jintelman. Onder sy leiding kon ek vir die eerste keer my stem vind, kon ek ontdek en groei, terwyl ons verhouding toe nog ver was van die vriendskap waarmee dit geëindig het. Ek was onder druk van ’n onderwysbeursverpligting en moes ’n tesis vinnig klaarkry – elke Vrydag het ek my week se werk in sy poshokkie gaan los, om dit die Maandag weer te gaan afhaal met sy bemoedigende kommentaar. Sy leiding was soos hy: nie indringerig nie, nie oordonderend nie, maar met insig wat my self laat vind het wat ek moes kry.

Toe trou ek in Grahamstad se katedraal, André kon dit bywoon – die enigste huweliksgas wat nog steeds ons vriend is. Met sy aanmoediging kon ek ’n toespraak hou, destyds ongehoord dat die bruid ook haar stem dik maak. Ons trek Kaap toe, en soos die toeval dit wou hê, kom André na die Universiteit van Kaapstad.  Ons verhouding was nie meer student-leermeester nie, waarop hy my vra om tog maar die "Prof" te drop. Geleidelik het ’n heerlike vriendskap begin, terwyl ons eintlik nog ’n bietjie verskrik was oor die eer van die verbintenis. Ons moes leer dat hy net ’n mens is, veral ’n mens wat lojaal en lief is, wat lekker eet en drink en baie van rugby hou. Ek moes spesiaal borde en messegoed leen vir die eerste keer dat hy by ons tafel kom eet het, ’n ander keer het ons heeltemal oorboord gegaan met kos waarmee ons wou beïndruk, soos gestopte blomskorsies … Tyd het ons geleer dat André gewoond was aan spoggerige kos, ons het nie nodig gehad vir tierlantyntjies nie. Wanneer hy by vriende gekuier het, wou hy ontspan en teruggaan na sy wortels, kompleet met tjops en wors. Ek het onlangs weer sy Vurk in die Pad-memoir gelees en weer verstaan dat sy boeretone nooit uit die sand uit geloop het nie, hy het altyd die onopgesmukte eenvoud van egtheid waardeer en gesoek. Nie dat hy nie ook die grênd baadjie kon aantrek nie, dit was heel duidelik dat hy net so gemaklik was met wêreldcuisine, soos sy geliefde foie gras wat hy wel ’n slag met ons gedeel het. By die geleentheid van die herdenking van sy lewe en werk vanjaar by Solms Delta, as deel van die Franschhoek Literêre Fees, het die gevierde Deon Meyer gesê dat hy enige tyd sý foie gras met André sou deel, soos wat hy inderdaad gedoen het.

André was die eerste besoeker na ons Roland gebore is, en het deurgaans ’n lewendige belangstelling in ons kinders gewys, op sy stil, eerbiedige manier wat nooit neergesien het op korter mensies nie. Mika se streephemp het telkemale ’n kompliment uitgelok, en die finale woord op hulle verhouding met hom lê in ons seuns se inskrywings in sy gedenkboek.

"Liewe André. Dankie dat jy vir my my hele lewe lank geleer het hoe om aktief en passief met blydskap te lewe. Roland"

 "Liewe André, Selfs as ek jou nie soe goet ken nie, is jy – en jy sal altyd – een van my beste (en snaakste) rol moedelle wees, leef lank in ons harte. Mika"

 Hulle het baie goed bevriend geraak met André se Olga, wat een van die mees vertederende uitdrukkings in sy oë ontlok het, daar was altyd groot blydskap as hulle hoor dat Olga kom saamkuier. André en Karina was ook van die eerste mense vir wie ons vertel het dat Roland gay is, omdat ons geweet het dat hulle trots sal wees op ons en ons dapper kind. Kort daarna het André vir my ’n storie van iemand anders vertel, en gesê: “Hy is so gay soos ’n hoenderhaan ... o gaats, ek moet dit nou seker nie vir jou sê nie!” Ek het tog geweet dat hy verdraagsaamheid beliggaam.

Hoewel ons een keer baie moeite gedoen het om vir André eend gaar te maak – nog een van sy groot gunstelinge – het ons weldra besef dat ’n braai die pad deur sy maag na sy hart is. As ons bietjie lank getalm het met nog ’n uitnodiging, sou ’n skuinserige oproep van hom ons herinner daaraan dat die tyd aangebreek het om vure aan te steek. Hy sou ons ook baie vinnig na ’n oorsese besoek bel, om te vertel hoe dit gegaan het en om te hoor wanneer ons kan kuier. Die naaste wat ons kon kom aan die man van roem, was die geluk dat ons dikwels verjaar het naby die uitgawe van nog een van sy boeke en ’n beter geskenk kon ons nie kry nie.

En toe kom Karina: eers het ons haar leer ken in die stoute liggies in André se oë, pas na hulle ontmoet het. Sy vertel anderdag dat hy haar voorberei het op pad na haar eerste braai by ons met die waarskuwing dat Kobus ’n rowwe diamant is, gelukkig het sy ’n goeie sin vir humor en ’n soortgelyke gees, hulle deel nie verniet ’n geboortedag nie. En Karina moes iewers ook boerebloed ingekry het, sy kon dadelik net so lekker saameet. Die ooglopende liefde tussen hulle was vir ons ’n riem onder die hart, al het hy net soos voorheen soos ’n duiwel die steil pad van ons af gejaag wanneer dit huistoegaantyd was, gelukkig altyd veilig. Met Karina het daar ook ’n balans in ons vriendskap gekom, daarin dat tussen my en André se wedersydse (steeds sedert my studentedae) skimmelrigheid Karina en my geliefde die gesprek lewendig aan die gang kon hou. Dit het altyd so gebly, André het min geïnisieer, hy het nie gebabbel oor nietighede nie, terwyl mens altyd voel dat jy hom wil uitlok om net te vertel van sy uitsonderlike ervarings, wat nog die ander wyshede wat hy tóg van tyd tot tyd kon kwytraak.

Ons het waarlik lief en leed gedeel, oor ’n hele paar jaar waarvan die drie laastes die bestes was, op ’n manier. André se verswakking was swaar vir ons om te aanskou, hoewel dit nie gekeer het dat ons altydonthoubare tye saam kon hê nie. Een keer het ons ’n naweek saam beplan op vriende se plaas, en moes beraadslaag oor watter vorm die etes sou aanneem, een aand braai en een aand iets anders, of albei aande braai? André het vinnig ingespring voor enigiemand kon roer: "Altwee aande braai!"

André se ander groot liefde, Parys, het hy ook met ons gedeel. Ons het oë toegeknyp en saam met ons kinders vir tien dae in die stad van lig en liefde rondgeloop, met daaglikse SMS’e na Karina. Sy en André het raad en wenke gestuur, en van ganser harte saamgeleef in ons ontdekking. Toe ek hom later vra wat hy sou voorstel as ons ooit weer die kans sou hê om Europa te besoek, weer Parys of dalk Rome? Sy antwoord: "Altyd Parys."

Toe kom die aand in Februarie wat altyd in ons harte sal brand, met Karina se oproep uit die vliegtuig iewers bokant Afrika. Die reis na Europa, vir hom om die eredoktorsgraad te ontvang van die Universiteit van Leuven, het groot vreugde gebring, en toe skok en ontsetting en hartseer. Hy het laat in verlede jaar gebel om die nuus te deel dat hy die graad sou ontvang, wat hom besonder verbly het omdat sy geliefde Rob Antonissen ook van daardie universiteit was. En hy het ook gesê dat hy gedink het die tyd vir sulke ere is verby, daarom het dit soveel beteken. Ons het die aand van die toekenning moeite gedoen om die regstreekse uitsending via die universiteit se webwerf te aanskou, en was weer so trots op André se vlot Frans, al het ons nie ’n snars daarvan verstaan nie.

Die laaste keer dat ek hom gesien het, was toe ek en Karina na Jan Vermeiren is om ’n spesiale skildery te gaan haal vir Kobus se 50ste verjaardag. Die vorige keer dat ons daar was, is André spesiaal saam om te help kies, en ten spyte van my wisselvalligheid oor die onmoontlike keuse uit Jan se versameling, het André my keer op keer teruggeroep na ’n jongvrou waaroor hy nie getwyfel het vir Kobus nie. Die laaste keer dat ek André gesien het, was hy in die bed met gordelroos, en vies vir die irritasie daarvan. Nietemin het hy, soos soveel ander kere, ’n kompliment gehad vir my “gewaadjie” – die sjarmantheid wat hy was.

En toe kom die briewe. Karina het veilig gevoel oor André reeds die wens uitgespreek het vir die publikasie van sy en Ingrid Jonker se korrespondensie. Dit was vir my ’n verrassing en ’n onthutsing toe sy vra of ek kans sien om dit te transkribeer, hoe op aarde klim mens in sulke intimiteit in? Hy het baie min vir ons vertel van hul verhouding, net dat Ingrid vroue vir altyd vir hom "opgefok" het. Ek het nie mooi geweet hoe om dit aan te pak nie, net ingeduik in die bekende handskrif waarvan ek nog ’n paar voorbeelde het in my werk en in briewe van hom. Ek was deeglik bewus van die sensitiwiteit van die materiaal, meer nog dat ek die eerste mens behalwe hulle twee was wat elke woord kon lees. Die druk waaronder die oortik moes gebeur, was ’n seëning, anders het ek dalk te veel aandag gegee aan die verlorenheid wat onder my vel begin lê het.

Eers was dit twee jong verliefdes wat versigtig aan mekaar proe op papier, maar reeds van die begin het die onvergelyklike aaneensnoer van woorde se lekkerte my gevang. Veral André s’n, uit die aard van my bekendheid daarmee. Ek het heeltyd onthou hoe jonk hy was, tussen al die sêgoed wat klokkies gelui het vir my. Ek was verstom oor sy wye wysheid, tussen die domastrante wulpsheid. Ek het soms vergeet dat dit hý was, die stille sjarmant, wanneer dit bloot ’n verhaal van desperate verlange en fatale gedrongenheid was. Dis ’n storie, ’n vervolgverhaal waar jy uitsien na die volgende aflewering, al begin jy vinnig snap dat elke kruin gevolg gaan word deur ’n misrabele slaggat. Dit terwyl ons weet hoe die end was, vir hulle albei. Ek het vies geraak vir hulle twee, dat hulle nie hulle gatte in rat kon kry om dit te laat werk nie, dan weer hartseer oor ek kon sien dat hulle altyd sou faal en gevang was in ’n maalkolk van omstandighede. Ek het baie jammer gevoel vir hulle, en vir die mense vir wie hulle seergemaak het. En ek hoop in my diepste hart dat die liefde vir hulle seergemaaktes wel sigbaar sal wees vir hulle, omdat dit vir mý so duidelik was. 

Die gevoel van voyeurisme was nie daar nie, miskien omdat André met voorbedagte rade sy korrespondensie gekopieer het, en dit self wou laat publiseer. Die briewe ís baie intiem, maar die naïewe en ewige hoop daarin, die durende en universele verlange, die skreeusnaakse beskrywings van die tyd waarin hulle geleef het en die hartroerende alledaagshede bewerkstellig ’n gemaklike afstand waarin ons onsself herken.

Vir ons wat André eers heelwat later leer ken het, is die briewe ’n kosbare insig in die jong man, jong skrywer. Van die heel roerendste is die versugting dat hy dalk nooit iets sal skryf wat die moeite werd is nie, terwyl ons maar te goed weet watter skatte hy agtergelaat het. Die jong, soekende André voel vreemd, terwyl die deerniswekkende sekerheid van sy werk reeds helder is. Mens voel die uiterse pyn, mens raak moeg vir die gesukkel, mens is bly oor die goeie tye wat hulle wel saam kon hê. Boweal tref die deurlopende literêre verwysings van twee boekversotte verliefdes, en dit maak die briewe ’n ryke mat wat tydloos bly.

Ek wou nie eintlik die boek klaar sien nie, omdat André se wegwees daaruit te permanent voel. Ek het wel ’n kopie gekry, en in druk is die afstand weer daar, ’n genade. Want sy handskrif hou aan vir my sê dat hy hier was en dat hy weg is.

The post Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans: ’n Feestyd-boekbonus met die komplimente van Taalgenoot

$
0
0

In die afgelope paar jaar het Afrikaanse skrywers en lesers gereeld met goeie reg gekla oor die krimpende ruimte vir boekbesprekings in koerante en tydskrifte. Weeklikse koerante se boekeblaaie het saamgesmelt en tydskrifte soos Insig en Boeke-Insig moes hul deure sluit.

taalgenoot_lente2015Dit is dus verblydend dat die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot nog soveel prominensie gee aan resensies van Afrikaanse boeke, musiek en rolprente, onderhoude met skrywers en dergelike ander taalkwessies in ’n gehalte-publikasie met hoë produksiewaardes. Aangesien hierdie tydskrif tans slegs vir ATKV-lede en intekenaars beskikbaar is en hul boekeblaaie dus nie algemeen op die rak of  internet verkrygbaar is nie, het Donnay Torr, die redakteur van Taalgenoot, in oorleg met die bestuur van PEN Afrikaans gemeen dit sou gaaf wees om dié inhoud wat relevant vir lesers, leeskringe en skrywers is op PEN Afrikaans se webportaal beskikbaar te stel.

Met die klik van jou muis kan jy nou gratis ’n Krismisboks in PDF-formaat aflaai wat die volgende insluit:


 

Die Oppirak-afdeling met resensies van ’n verskeidenheid inkleurboeke vir volwassenes, Plasenta deur Peet Venter, Opdrag van oorkant deur Alta Cloete, Solitaire deur Vita du Preez, Komplot: Verwoerd moet dood deur André Krüger, Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat deur Annemari Jansen, Monstersaad deur Madelein Rust, Samsa-masjien deur Willem Anker, Boer kry ’n vrou deur Jan van Staden, Mara deur Lisette van de Heg, Die jaar toe Emma begin kook het deur Ilse de Korte, Saliger deur Didi Breytenbach, Takelwerk deur Daniel Hugo en Narokkong deur Riël Franzsen. Hierdie afdeling sluit ook ’n artikel oor Wellington se Tuin van Digters-fees in, besprekings van musiek deur Radio Lava en Elvis Blue, asook resensies van rolprente soos Sink, ’n Man soos my pa en Dis ek, Anna. Die resensie van laasgenoemde word aangevul deur onderhoude met Anchien Troskie (skrywer van Dis ek, Anna), Charlenè Brouwer wat die hoofrol vertolk het, en Niel van Deventer, die vervaardiger van dié fliek. Daar word ook gekyk na die dokumentêr oor die Boere-setlaars in Patagonië, Argentinië – Boere op die aardsdrempel.

pdf-png


tg_lien

 

’n Onderhoud met Lien Botha oor haar debuutroman, Wonderboom

pdf-png


 

’n Besinning van Herman Lategan oor Afrikaanse woorde wat verlore raak

pdf-png


tg_pg

 

’n Onderhoud met P.G. du Plessis wat ook een van sy gedigte insluit

pdf-png


 

’n Artikel oor die stand van Afrikaans 90 jaar nadat dit ’n amptelike landstaal geword het deur Danie Marais

pdf-png


tg_kuier
’n Artikel oor die Kuier/LAPA/PEN Afrikaans-kortverhaalkompetisie 2015

pdf-png


 

’n Artikel oor hoe taal werk in 'n huishouding waar die ma en pa se moedertaal verskil van mekaar

pdf-png


(LW: Die bogenoemde inhoud kom uit Taalgenoot se Lente 2015-uitgawe. Die kompetisies en pryse waarvan melding gemaak word, is reeds verby.)

Die bestuur van PEN Afrikaans is baie opgewonde oor hierdie samewerking met Taalgenoot. Baie dankie! Mag hierdie skryfwerk oor Afrikaanse woord- en rolprentkuns soos ’n veldbrand versprei en verskeie boeke nog voor 25 Desember in geskenkpapier beland.

Wil jy meer inligting oor Taalgenoot hê, inteken of dalk vir die tydskrif skryf?
Lees dan hier verder:

Vir meer as 83 jaar lank al vertel Taalgenoot (TG) die stories wat die vry- en volkleurwêreld van Afrikaans laat tiek. Ons strewe na besonderse werk, nie middelmatigheid nie, ons moedig verandering, vernuwing en kritiese denke aan. As amptelike kwartaallikse kultuurtydskrif van die ATKV, neem ons jou op ’n reis deur al die verskillende fasette van Afrikaanswees: die kunste, leefstyl en gemeenskappe wat ons besonderse kultuur kenmerk. TG spreek tot jonk en oud, tot kreatiewes en konserwatiewes. Dit is eenvoudig dié tydskrif vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk.

 “In die lewe bestaan ’n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te egter die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ’n goeie dosis van wat hulle behoort te wil hê." –  Piet Cillié, Afrikaanse koerantredakteur en professor in joernalistiek, uit Eet jou rape eerste, 1980

Wil jy vir Taalgenoot skryf?
Stuur voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Donnay Torr: donnayt@atkv.org.za

Teken in op Taalgenoot
Teken in op TG en ontvang vier keer per jaar ’n tydskrif propvol interessanthede uit die volkleurwêreld van Afrikaans.

Jou opsies is:

Teken in op die digitale weergawe van Taalgenoot. Laai dit op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of slimfoon af:
www.mysubs.co.za/magazine/taalgenoot

Teken in op die drukweergawe van Taalgenoot.
Kontak Lillian Meyer by LillianM@atkv.org.za of 011 919 9112 of volg dié skakel vir die doen-dit-self-drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf

The post PEN Afrikaans: ’n Feestyd-boekbonus met die komplimente van Taalgenoot appeared first on LitNet.

Lekker musiekonderhoude van 2015

$
0
0

Henry Cloete (foto: Naomi Bruwer)

Henry Cloete - skrywer, joernalis en sanger - kies musiekonderhoude wat hom van 2015 sal bybly. Hier is sy lys.

Spoegwolf: "Ons koppe is meestal in een mus"

Henry Cloete
Musiek

"Ons móés die album anders benader, aangesien ons almal nou baie nader aan mekaar is."

 
Steyn de Wet: "Dié album is ’n afskeidspartytjie"

Henry Cloete
Musiek

"Ek is obsessief oor liedjies skryf. Ek stoei dag en nag daarmee. Dit hou my wakker, dit hou my uit die werk uit, soms hou dit my uit geselskap uit."

 
Laurinda Hofmeyr: "Ek weet nie presies wat my aantrek na sekere gedigte nie"

Henry Cloete
Musiek

"Ek probeer doelbewus meer intuïtief werk en vir myself sê die idees wat in my kop kom, het waarde, ek kan dit maar vertrou, al is dit so eenvoudig of arbitrêr."

 
Cortina Whiplash: "Jy moet die bokse oopskop en omgooi"

Henry Cloete
Musiek

"Daar is so baie stories wat jy nooit sal glo nie, maar een oggend op pad terug van ’n verskriklike mal vertoning in Clarens het Tessa ’n SMS gekry van ’n boer in die area wat vir haar ’n springboklammertjie en Angolese apie aangebied het as troeteldier."

 
Jannie du Toit: "Dit sal nie my swanesang wees nie"

Henry Cloete
Musiek

"Ek skryf beslis minder liedjies as 20 en 30 jaar gelede, maar dit is grootliks omdat ek al hoe meer besef dat dit my voorkeur is om vir mense musiek te maak op die verhoog, en nie noodwendig my eie liedjies nie."

 
Anton Goosen: "Ek wil nooit halt roep nie"

Henry Cloete
Musiek

"Solank geld as die wêreld se ruilhandelmiddel gebruik word, sal daar altyd mense in die musiektempel wees wat daar is vir die verkeerde redes en om Mammon in daardie tempel te dien."

 
Marcia Moon: "Ek is op soek na my klank"

Henry Cloete
Musiek

"En dis die ongelooflike teenstrydigheid in Afrikaans – aan die een kant kry jy hierdie diep musiek, van baie diep Afrikaanse geeste, en dan, wel, dan is daar ons ander vriende wat so soetsappig en vlak as moontlik is dat mens wonder wie die melkman se kind is."

 
Churchill Naudé: "Hoe skei mens jou vel van jou gesig?"

Henry Cloete
Musiek

"Ek dink die album het so lank gevat omdat daar min mense was wat in my glo, wat grootliks my fout is, want ek kan nie vir mense sê hoe en wat ek wil doen nie ..."

 
Majozi: "I don't want to be the same as everyone else"

Henry Cloete
English

"I want to be different, and that's always in the back of my mind, and I think a big part of being different or standing out from everyone else is just being yourself. I'm not sure if I get it right all the time, but I try."

 
TWEE: "Ons gaan nou gooi – dis tyd"

Henry Cloete
Musiek

"Op die ou end wil ’n mens eerlikheid behou, maar jy wil ook geen mense vervreem nie. So om hardegat te wees en mense te vervreem om ’n kleiner nismark gelukkig te hou, is beslis nie die beste besigheidsbesluit nie. So ons moet nog daaroor dink en kyk hoe ons dit gaan benader."

 
Koos Kombuis: "Dit is inderdaad deesdae lekkerder as ooit"

Henry Cloete
Musiek

"Die ding wat ek eers na die tyd agtergekom het, is as ’n ou ’n sogenaamde geestelike album uitbring, moet jy bereid wees om al die pad gaan. Jy moet die regte soort gel in jou hare smeer en jy moet optree by gospelfeeste en jy moet in elke onderhoud sê jy werk aan jou huweliksprobleme. Ek was eenvoudig nie dedicated genoeg om al daai effort in te sit nie."

 
Volkspeler is terug, met Die Boksburg Bebop

Henry Cloete
Musiek

 
BEAST: "Ons doen wat ons wil"

Henry Cloete
Musiek

"Ons omarm die vryheid. BEAST het begin as ’n eksperiment, en ek dink na drie jaar volg ons nog steeds daardie etos. Niks is ooit vir ons te vreemd om te probeer nie."

 
Francois van Coke oor sy solo-album: "Ek het opsetlik minder geskree ..."

Henry Cloete, Francois van Coke
Musiek

 

The post Lekker musiekonderhoude van 2015 appeared first on LitNet.

Boekresensie: Immer wes deur Irma Joubert

$
0
0

immerwes250
Immer wes
Irma Joubert
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799376968

Immer wes, die jongste boek van Irma Joubert, bied nie net ’n blik op die lewe van Hildegard von Plötzke, ’n vrou uit die Oos-Pruisiese adel wat as dogtertjie saam met haar ouers voor die Bolsjewiste uit Rusland vlug, nie, maar ook van die vernietigende uitwerking van oorlog.

Joubert het haarself reeds as skrywer van veral geskiedkundige verhale bewys. Immer wes is haar tiende boek en die eerste van drie oorlogverhale wat die lyding van kinders en vroue as tema het. Joubert skryf toeganklik en met patos oor die wreedhede van oorlog.

Lees ook:
Kronkelpad trek al die los drade bymekaar
Vroue in die oorlog: 16 eeue van onderdrukking?

Immer wes vertel die verhaal van die vrouekarakter Hildegard von Plötzke vanaf 1905 tot en met 1956. Saam met Hildegard se verhaal, vertel Joubert deur Hildegard se oë ook van die verskillende oorloë wat sy beleef en die vernietigende uitwerking daarvan – nie net op Hildegard self nie, maar ook op haar geliefdes en die gemeenskap. Die oorlogstema is dié samebindende motief in die roman. Eers vlug Hildegard en haar ma en pa as Oos-Pruisiese adellikes vanuit Rusland na Köningsberg in Oos-Pruise. Die vertellersperspektief in hierdie gedeelte wys op die naïewe blik van ’n jong dogtertjie: "Hoe lyk die Bolsjewiste? Maar die skielike prentjie in haar kop van wrede, harige monstermense met bolwange en lang arms en skerp messe waarmee hulle Duitsers jaag, maak haar so bang dat sy dadelik aan iets anders begin dink." Selfs as adellike en bevoorregte kind, is sy tog bewus van die uitwerking van oorloë: "Ek hou niks van die woord ‘slagting’ nie. Dis soos ‘slag’ of ‘slagveld’, dit klink bloederig." en "Oorlogstories is bangmaakstories". Daarna in 1914 breek die Eerste Wêreldoorlog uit en Hildegard leer werklik die wreedhede van die oorlog ken toe sy in die hospitaal as vrywilliger gaan werk: "Maar die treinvrag gewondes wat twee weke later inkom, maak van die Somme ’n plek van slagting, al sien sy net die resultate."; "Die nag spook dit by haar. Dis tog nie die moeite werd nie? Waarom dan hou dit aan en aan?" en "Dis asof die hospitaal in hierdie dae al hoe dieper in die skadu van die dood beweeg".

Die Tweede Wêreldoorlog bring verdere hartseer vir Hildegard en toe die Tweede Wêreldoorlog eindig, ken sy die pyn en verlies, die hongerte en armoede, en die vrees wat oorlog bring: "Vroegoggend durf sy weer die pad stad toe aan, die kos is gedaan. Sy stap minder flink, haar lyf is moeg. In die gietende reën stap sy saam met ander vroue, stil, vormlose gedaantes in swaar jasse wat te midde van alles probeer oorleef."

En: "Dit is vernederende mense, verhonger, verswak, verward, mense sonder hoop." Die verhaal eindig waar sy in Duitswes-Afrika (Namibië) weer sonder heenkome opeindig. Joubert gee ’n chronologiese verslag van die oorloë en soos tipies Joubert is die geskiedkundige feite dig in die verhaal verweef. Die roman word ’n geskiedenisles in die kleine en dit is miskien een punt van kritiek teen die boek: dat die storie van Hildegard plek-plek in al die geskiedkundige feite verdwyn.

Dit is ’n verhaal wat ook handel oor verhoudinge – veral die ouer-kind-verhouding en die huweliksverhouding. As jong meisietjie het sy ’n kinderlike verering vir Gustav, wat by sy oupa en ouma bly: "Miskien, net miskien sal sy eendag met Gustav trou." Na die Eerste Wêreldoorlog trou sy met Herr Dokter, meer om uitkoms aan haar pa te gee. Die huwelik bring min vreugde vir Hildegard, behalwe haar kinders. Ons leer haar ken as dogtertjie met ’n liefdelose ma wat haar troos by Nanny vind: "Nanny is die liefste mens in die hele, hele wêreld." As ma wil sy nie wees soos haar ma nie, maar word tog gedwing om so op te tree: "Aan die een kant is sy bly die Kindermächen is daar, want van kinders en veral babas weet sy niks. Maar aan die ander kant verlang sy om die babalyfie teen haar hart vas te druk." En: "Al wat sy wou gehad het, was om vir haar kind ’n nanny te gee soos wat gehad het."

Immer wes handel verder oor die tema van ’n reis en ’n soeke, soos in die titel voorspel word: Hildegard is gedurig op reis (vlug?) weswaarts uit Rusland na Oos-Pruise na Berlyn om uiteindelik in Duitswes-Afrika te eindig: "My stories met gelukkige eindes het voor die Groot Oorlog al opgedroog." En dis hier waar sy weer vir Gustav raakloop en waar haar reistog tot ’n einde kom: "Ek het hier kom vrede vind."

Enkele ander punte van kritiek kan ook teen die roman genoem word, soos die "mooi" slot en "gelukkige einde" wat tipies in romantiese verhale voorkom - en die enkele geforseerdhede in die taal, soos die geykte "en saam met hom in sy wye en droë land gaan woon", terug in die kombuis druk sy haar bewende hande teen haar yskoue wange", "en sy bid vir die soveelste keer dat sy tog maar nie geweeg en te lig bevind sal word nie".

Ten spyte hiervan is Immer wes ’n roman wat mens maar kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van ’n vrou in oorloggeteisterde omstandighede nie, maar verwoord veral die verhaal van hoop en ’n toekoms uit oorlog uit.

The post Boekresensie: Immer wes deur Irma Joubert appeared first on LitNet.

Protreptiek en paranese: perspektiewe op die wending in boek 10 van Augustinus se Confessiones

$
0
0

Protreptiek en paranese: perspektiewe op die wending in boek 10 van Augustinus se Confessiones1

Annemaré Kotzé, Departement Antieke Studie, Universiteit Stellenbosch

LitNet Akademies Jaargang 12(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die artikel vorm deel van ’n groter projek om die eienskappe van aansporende tekste te bestudeer en spesifiek ook om die aansporende eienskappe van Augustinus se Confessiones op ’n meer genuanseerde wyse te beskryf. Die teoretiese raamwerk waarbinne die argumente gesitueer is, is dié van die poststrukturalistiese vertelkunde en genrestudies.

Die openingsparagrawe van boek 10 van die Confessiones word ontleed om aan te toon hoe dit ’n kontras vorm met die voorafgaande nege boeke, waar protreptiese kommunikatiewe doelstellings sterk op die voorgrond is. Die geselekteerde gedeeltes word ontleed aan die hand van die gesaghebbende Lund- en Oslo-definisies van paranese. Daar word aangetoon hoe die kommunikatiewe doelstellings, die verhouding tussen die spreker en sy gehoor en aanduidings van wie die bedoelde gehoor is, ’n wending daarstel van ’n oorwegend protreptiese na ’n oorwegend paranetiese skryfwyse.

Trefwoorde: aansporende literatuur, Augustinus, bedoelde gehoor, Confessiones, fratres, kommunikatiewe doelstellings, paranese, protreptiek, protreptikos, servi dei

 

Abstract

Protreptic and paraenetic: perspectives on the transition in book 10 of Augustine’s Confessions.

The article forms part of a bigger project on the nature of exhortative texts as well as an endeavour to arrive at a nuanced description of the exhortative characteristics of Augustine’s Confessions. Here the focus is on the paraenetic characteristics discernible at the opening of book 10 of this work (10.1.1 to 10.4.6) and the contrast this represents with the preceding books of the Confessions, which may be regarded as primarily protreptic in character. The approach followed is situated within the theoretical framework of post-structural narratology and genre studies and highlights primarily the communicative purpose(s) and the intended audience(s) of the passages under consideration.

While authors like O’Donnell (1992:151) and Vaught (2006:27-8) also comment on the transition that takes place in the tenth book of the Confessions, the current study investigates how this transition may be described in terms of a swing towards a paraenetic communicative purpose and a focus on an insider audience of advanced Christians. The arguments about the paraenetic characteristics of the passage under consideration are based to a large extent on the authoritative Lund and Oslo definitions of paraenesis (Starr and Engberg-Pedersen 2004:3, 4).

The introduction to the article situates the current research against the background of a growing tendency to refer to the Confessions as a protreptic and motivates the focus on the opening chapters of book 10. This is followed by a short section on the theoretical presuppositions underpinning the research which includes a concise exposition of the broad definitions of protreptic and paraenetic used here in terms of communicative purpose and intended audience, and some explanatory remarks on each of the phrases. The third subsection of the article discusses the Lund and Oslo definitions of paraenetic and how these are applied to the analysis of Confessions 10.1.1 to 10.6.4.

Section 4 provides a concise discussion of the opening paragraph of the ninth book as well as the meditation on Psalm 4 in Confessions 9.4.7 to 9.4.11. This is designed to provide a perspective on Augustine’s presentation of his feelings immediately following the conversion described in book 8 as well as the protreptic communicative purpose and the Manichaean intended audience of the meditation on Psalm 4, in order to highlight the contrast with the opening of book 10.

The fifth section of the article constitutes the main arguments about the paraenetic characteristics of paragraphs 10.1.1 to 10.4.6. Subsection 5.1 is a discussion of the contrast between the opening of book 9 and that of book 10 and the changed emphasis of the author (now writing about a period roughly ten years later than that described in book 9) in book 10. Augustine’s narrative here places more emphasis on hope for the future and the continued struggle to live as a Christian in the meantime, and reflects a somewhat less optimistic attitude compared with the almost euphoric tone of the opening of book 9.

Subsection 5.2 investigates a number of remarks about the communicative purpose of the tenth book expressed in the opening paragraphs: the author requests his audience to praise God for any positives in his life and especially to pray for him in his ongoing struggle to live in the way he now expects of himself. He also makes explicit that his audience is supposed to read his life story with the purpose of examining their own lives and making an effort at self-improvement. The communication situation that may be reconstructed from what is said in 10.1.1 to 10.4.6 seems to reflect that described in the Lund and Oslo definitions as the typical communication situation of paraenetic discourse. While Augustine does not provide concrete advice about “practical (‘ethical’) issues of everyday life” (Starr and Engberg-Pedersen 2004:3) or about “moral practices” (Starr and Engberg-Pedersen 2004:4) per se, it can be said that an important communicative purpose implicitly expressed here is to strengthen the audience’s “commitment to … shared ideological convictions” (Starr and Engberg-Pedersen 2004:3) and that the rhetoric “does not anticipate disagreement” (Starr and Engberg-Pedersen 2004:4).

This leads to an exploration in subsection 5.3 of the relationship between speaker and intended audience that may be deduced from the opening paragraphs of book 10. On the one hand the narrator identifies with his audience by emphasising that he is involved in the same daily struggle to live the Christian life as they are, and does not seem to assume a position of authority. On the other hand there are indications that both author and audience would have taken for granted that he is, in fact, speaking from a position of authority, something the Lund definition posits as a key characteristic of paraenesis. An emphasis here, as in earlier books of the Confessions, on the fact that the narrator speaks the absolute truth before an all-knowing God and utters words instilled in him by the same God contributes to the authority with which he speaks. Augustine’s renown and the authority the audience would ascribe to his life story are also implicit in the remark that he has undertaken to write about his present state of mind in response to requests by friends and acquaintances as well as others who have only heard about his story. Offering his own story as an exemplum for the audience (an example for conversion in books 1 to 9 and an example for living the Christian life in books 10 to 13) certainly also presupposes a position of authority.

The last subsection (5.4) highlights the author’s repeated emphasis in the opening paragraphs of book 10 on the fact that he is now speaking to an audience of insiders, sharing his convictions about God and Catholic Christianity. First there is a renewed explicit indication that, in spite of the prayer stance maintained throughout the Confessions, a human audience is now foremost in the author’s mind and that this audience can trust Augustine’s version of his life story because their ears are opened by caritas. In 10.4.5 and 10.4.6 there is increasing insistence on the fact that the audience envisaged in book 10 consists of those who share the narrator’s worldview: they are repeatedly described with the adjective fraternus in 10.4.5. In 10.4.6 a series of phrases occur which point out that the confession is addressed to an intimate group of similarly minded individuals: “the sons of man who believe, those who partake of my joy, those who share in my mortality, my co-citizens, the travel-partners of my journey, both the ones who went before and those who will follow, and the companions of my life”. Following this, the phrases servi tui and fratres mei are used for the first time in the Confessions to refer to Augustine’s inner circle, the audience long regarded as the primary intended audience of the whole of the Confessions, but which I have argued are not the only, or even the primary, intended audience of the first nine books of the work.

The conclusion to the article reiterates my observation that in the Confessions, as in other exhortative works, protreptic and paraenetic communicative purposes occur within the same literary work; that an analysis of the Confessions based on the work of scholars of paraenetic literature may enhance our understanding of the transition that takes place in book 10 of this work as well as contribute to a more nuanced understanding of the exhortative characteristics of the work as a whole.

Keywords: Augustine, communicative purpose, Confessions, exhortative literature, fratres, intended audience, paraenetic, protreptic, protrepticus, servi dei.

 

1. Inleiding

Teen die agtergrond van ’n groeiende tendens om Augustinus se Confessiones ’n protreptikos te noem,2 belig hierdie artikel die paranetiese elemente in die openingsparagrawe van boek 10 (10.1.1 tot 10.4.6) van hierdie werk.3 Die argumente oor die paranetiese eienskappe van gedeeltes van die Confessiones hier vorm deel van ’n groter projek oor die aard van protreptiek wat fokus op die kommunikatiewe doelstellings en bedoelde gehore wat met hierdie term geassosieer word. Veral die verhouding tussen die terme protreptiek en paranese staan in die kern van hierdie navorsing: daar word naamlik aangevoer dat eienskappe wat aan protreptiek en paranese onderskeidelik toegeskryf word, dikwels in kombinasie in dieselfde aansporende werke aangetref word.

Die eerste doelstelling van hierdie artikel is om te illustreer hoe die protreptiese en die paranetiese afwisselend in boeke 9 en 10 van die Confessiones voorkom. ’n Tweede oogmerk is om die wending in boek 10 waarop verskeie navorsers kommentaar lewer (O’Donnell 1992:151; Vaught 2006:27–8) en wat beskou word as uiters belangrik vir die verstaan van die werk in sy geheel,4 in groter diepte te ontleed en dit te beskryf vanuit ’n addisionele invalshoek, dié van die paranetiese eienskappe van die gedeelte. ’n Derde doelstelling is om aan te dui hoe ’n ontleding van Augustinus se Confessiones wat fokus op die paranetiese eienskappe van die werk, wel sinvol bydra tot die verstaan daarvan.

Die belangrikste rasionaal vir die keuse om die openingsparagrawe van boek 10 (10.1.1 tot 10.4.6) hier te ontleed,5 is herhaalde uitdruklike uitlatings oor die gehoor en die kommunikatiewe doelstellings wat hier aangetref word. Die gedeelte bied ook ’n kontrasterende perspektief op die protreptiese doelstellings wat in die eerste nege boeke van die Confessiones oorheers en in ’n gedeelte van boek 9 besonder sterk na vore tree. Die ontleding bied ook die geleentheid om te illustreer hoe paranetiese doelstellings in die Confessiones hand aan hand gaan met dele waar protreptiese doelstellings meer prominent is. Dit vorm deel van ’n poging om die karakterisering van die Confessiones as ’n aansporende werk op ’n meer genuanseerde wyse te formuleer.6

Die artikel stel kortliks die breë definisies en basiese veronderstellings wat die gebruik van die terme protreptiek en paranese onderlê (afdeling 2), waarna daar in groter besonderhede gekyk word na die definisies wat die uitvloei van die werk van die Lund-Oslo groep is (afdeling 3); hierdie definisies word gebruik as vertrekpunt vir die ontleding van die openingsparagrawe van boek 10. Die vierde afdeling is gewy daaraan om enkele aspekte van boek 9 te bespreek as die afsluiting van die retrospektiewe outobiografiese vertelling in die Confessiones en in sekere opsigte as die slot van die oorwegend protreptiese deel van die werk. Die interpretasie van die openingsparagrawe van boek 10 (10.1.1 tot 10.4.6) in afdeling 5 vorm die kern van die argumente wat hier aangebied word.

 

2. Teoretiese raamwerk en breë definisies van protreptiek en paranese

Die benadering tot protreptiek en paranese wat hier gevolg word, is gesitueer binne die raamwerke van poststrukturalistiese narratologie en genrestudies. Die terminologie wat gebruik word om die kommunikasiesituasie, insluitend die begrip bedoelde gehoor, te beskryf, kom uit die narratologie, waar daar tipies onderskei word tussen ses verskillende entiteite in die kommunikasiesituasie. Hierdie vlakke of entiteite word byvoorbeeld in Brink (1987:150) se terminologie met die volgende terme beskryf: werklike skrywer, implisiete skrywer en verteller (aan die senderkant van die kommunikasieproses) en toehoorder, implisiete leser en werklike leser (aan die ontvangerkant).7 Hoewel hierdie terminologie steeds funksioneel is, is die narratologiese raamwerk waarbinne ek nou werk, dié van die poststrukturalistiese narratologie waar strukturalistiese bagasie grootliks afgeskud is en die konteks van die diskoers wat ontleed word, behoorlik in ag geneem word. Binne die raamwerk van die terminologie waarmee die ses entiteite beskryf word, word daar in die ontledings hier onder deurgaans verwys na “die verteller”, “die spreker” (of, ter afwisseling na “Augustinus”). Dit dui op die voorveronderstelling dat daar nie via die teks toegang verkry kan word tot die historiese Augustinus of die bedoelings van die werklike outeur nie, maar slegs tot wat die Augustinus wat in die vertelling gestalte kry, sê. Die bedoelde gehoor waarna in my ontledings verwys word, funksioneer op die vlak van Brink se implisiete leser, die soort leser wat geïmpliseer word deur die tipe inhoud en tipe strategieë wat in die teks beliggaam is of uitdruklik in die teks beskryf word as potensiële lesers, soos in boek 10 die geval is. Let daarop dat die implisiete leser onderskei word van die toehoorder (of aangesprokene), wat in die geval van die Confessiones deurgaans God is.

Die begrip kommunikatiewe doelstelling kom van Swales (1990:33-67) en die term word algemeen gebruik, ten spyte daarvan dat Askehave en Swales (2001:195) daarop wys dat kommunikatiewe doelstelling ’n “komplekse, meervoudige, variërende” konsep is wat nie so maklik vasgevat kan word nie. Die konsep kommunikatiewe doelstelling hang saam met die beskouing dat diskoers (vanaf dié in eenvoudige alledaagse kommunikasie tot by gesofistikeerde letterkundige tekste) ontwerp is om binne ’n sosiale opset spesifieke take te verrig. Hierdie take of funksies van ’n diskoers of teks word die kommunikatiewe doel of doelstellings daarvan genoem (Askehave en Swales 2001:197–200). Die term word hier meestal in die meervoud gebruik in navolging van Askehave (1999:16), wat daarop wys dat tekste selde enkelvoudige kommunikatiewe doelstellings openbaar. Hierdie bevindinge bevestig vorige werk oor die Confessiones en oor drie ander outobiografiese vertellings uit die 4de eeu v.C., waar daar byvoorbeeld vasgestel is dat daar in al hierdie werke ’n interseksie bestaan tussen outobiografiese vertelwyse en wat dikwels as apologetiese, protreptiese en paranetiese kommunikatiewe doelstellings geformuleer word (Kotzé 2015).

Dit is nie onproblematies om die Confessiones ’n protreptikos te noem nie, omdat navorsing oor die konsep protreptikos, insluitend die grense tussen wat as protrepties en wat as paraneties beskou word, ’n veld is wat ontwikkel, maar waar min klinkklare antwoorde op hierdie stadium beskikbaar is. Baie navorsers gebruik die term protreptikos asof die betekenis daarvan vanselfsprekend is en ondubbelsinnig betekenis oordra, terwyl dit in werklikheid nie die geval is nie; dit is meestal onduidelik op grond van watter kenmerke ’n werk soos die Confessiones ’n protreptikos genoem word.8 Dit wil voorkom asof baie navorsers die woord gebruik om vaagweg aan te dui dat die werk ’n aansporende funksie vervul, sonder om werklik te besin oor wie die teikengehoor (of -gehore) is of wat Augustinus met sy oorredingspoging probeer bereik.

Teen die agtergrond van die leemtes in navorsing oor protreptiek hier bo bespreek, is my voorstel op hierdie stadium dat beide terme, protreptiek en paranese, as heuristiese begrippe gebruik word om onderskeibare kommunikatiewe doelstellings en teikengehore te beskryf, terwyl daar in die oog gehou word dat protreptiese en paranetiese elemente dikwels in kombinasie binne dieselfde literêre werk aangetref word. Hiermee word die geldigheid van werkwyses wat die formele kenmerke eerder as, of saam met, die funksionele kenmerke van werke in ag neem en op grond daarvan probeer om ’n definisie vir protreptiek en paranese daar te stel, nie ontken nie. Dit is ’n veld waar vrugbare navorsing nog gedoen kan word, byvoorbeeld wat betref tipiese gebruike van inhoudselemente, herhalende beeldspraak of sekere verteltegnieke. Veral in die geval van Bybelse paranese is daar groot vordering gemaak op die gebied van die identifisering van formele kenmerke,9 maar wat protreptiek aanbetref, wys navorsers soos Jordan (1986:328) daarop dat dit feitlik onmoontlik is om formele eienskappe uit te wys wat werke as protreptiek kenmerk.

Om te illustreer hoe beide die protreptiese en die paranetiese figureer in die Confessiones wat, soos gesê, meestal ’n protreptikos genoem word, word daar in hierdie artikel gefokus juis op ’n ommeswaai vanaf oorwegend protreptiese doelstellings in boeke 1 tot 9 na die duidelike artikulering van paranetiese doelstellings in die openingsparagrawe van boek 10. Die argumente hier moet gelees word teen die agtergrond van my vorige navorsing (2004:117–96) wat beklemtoon dat ’n Manichese bedoelde gehoor en die kommunikatiewe doel om hulle tot die Katolieke sienswyse te bekeer (’n protreptiese doelstelling) deurgaans sterk op die voorgrond is in die eerste nege boeke en weer toenemend teen die einde van die Confessiones. By die opening van boek 10 (10.1.1 tot 10.4.6), daarenteen, dui Augustinus uitdruklik aan dat die bedoelde gehoor nou wel – in kontras met die voorafgaande boeke – primêr ’n reeds-bekeerde (Katolieke) gehoor is, dit wil sê dat paranetiese elemente hier op die voorgrond tree.

Die argumente wat hier aangevoer word, is gebaseer op die volgende breë omskrywings van protreptikos en paranese, wat slegs fokus op die kommunikatiewe doelstellings en bedoelde gehore wat met hulle geassosieer word. Hoewel protreptikos (hetsy met verwysing na die Confessiones of ander aansporende werke) geensins konsekwent deur navorsers in hierdie betekenis gebruik word nie, word dit hier gebruik om te verwys na ’n werk wat ’n gehoor van (onbekeerde) buitestanders teiken met die doel om hulle tot die godsdiens of filosofie wat die spreker voorstaan, te bekeer. Hierdie verstaan van protreptikos is wel goed verteenwoordig in ’n hele aantal gesaghebbende definisies.10

Die term paranese word gebruik om te verwys na die kommunikatiewe doelstelling om oortuiging of geloof te bevestig of te versterk in ’n gehoor wat reeds bekeer is of reeds die oortuiging van die verteller deel. In afdeling 3 van die artikel word die gesaghebbende Lund- en Oslo-definisies van paranese van nader beskou en word daar kortliks aangedui hoe hierdie definisies verband hou met die breë definisies waaraan ek tans voorkeur verleen. Daar word ook aangedui watter aspekte van die definisies in die ontleding in afdeling 5 gebruik word om die paranetiese elemente in boek 10 van die Confessiones toe te lig.

 

3. Die Lund- en Oslo-definisies van paranese

Hoewel kommunikatiewe doelstelling en bedoelde gehoor nie die hooffokus is van die onlangse gesaghebbende Lund- en Oslo-definisies (Starr en Engberg-Pedersen 2004:3, 4) van paranese nie, is dit wel ’n belangrike element in beide hierdie definisies, wat geformuleer is as die hoogtepunt van twee kongresse waar daar grondig oor die aard van paranese besin is. Die Lund-definisie (Starr en Engberg-Pedersen 2004:3) lui soos volg:

Paraenesis is

(i) a heuristic, modern term used to describe

(ii) a text or communication in which

(iii) a person of authority, A, addresses

(iv) a party, B, who shares A’s basic convictions about the nature of reality and God

(v) in order to influence B’s behaviour in the practical (“ethical”) issues of everyday life, and possibly

(vi) in order to strengthen B’s commitment to the shared ideological convictions in iv

(vii) where A may incorporate traditional ethical material, and

(viii) where A may employ some or all of these literary devices:

a. brevity of style (e.g. precepts, lists)
b. the Haustafel
c. antithetical statements (not “a” but “b”)
d. the offering of examples to be imitated [my beklemtoning].

Hoewel punte (vii) en (viii) van die definisie tipes inhoud en literêre tegnieke in spel bring, is die omskrywings onder punte (iii) tot (vi) wel ’n beskrywing van die kommunikasiesituasie, ook wat betref die kommunikatiewe doelstellings en die bedoelde gehore van paranetiese werke.

Die alternatiewe definisie wat ná die Lund-definisie in Oslo geformuleer is (Starr en Engberg-Pedersen 2004:4), weerspieël ’n poging om ’n definisie daar te stel wat ’n breër spektrum van paranetiese werke kan insluit. Die bondiger formulering fokus in werklikheid sterker op kommunikatiewe doel en teikengehoor en laat die verwysings na tipes inhoud en formele eienskappe van die Lund-definisie weg: “Paraenesis is (a) concise, benevolent injunction that reminds of moral practices to be pursued or avoided, expresses or implies a shared worldview, and does not anticipate disagreement”[my beklemtoning].

Die verwysing na ’n paranetiese werk as ’n gebod (injunction) wat die gehoor herinner aan aspekte wat in hulle morele lewe nagestreef of vermy moet word, is in werklikheid ’n beskrywing van die kommunikatiewe doelstellings van ’n paranetiese werk soos dit hier bo geformuleer is. Die verwysing na die gehoor wat die spreker se wêreldbeeld deel en waarskynlik met sy of haar aanbevelings saamstem, is niks anders as ’n beskrywing van die tipe bedoelde gehoor van sodanige werke nie.11

Elemente uit beide definisies wat hier bo aangehaal is, kan gebruik word om addisionele insig te verkry in die gesofistikeerde verteltegniek van die verteller in die Confessiones in die openingsgedeeltes van boek 10. Die eerste aspek van die opening van boek 10 wat aan die hand van die Lund-definisie toegelig kan word, is die spreker se uitspreek van sy voorneme om die gehoor se leefwyse te beïnvloed en hulle aan te moedig om te volhard in die daaglikse stryd van Christen-wees (dit word in 5.2 hier onder bespreek). Die idee dat die gehoor aangespreek word deur iemand met gesag, asook ook die aanbied van die verteller se lewensverhaal met die doel om ’n voorbeeld te verskaf waaruit die gehoor veronderstel is om te leer, word bespreek in afdeling 5.3. Die laaste aspek van die definisies wat die verteltegniek van die verteller in boek 10 goed beskryf, is die vasstelling dat spreker en gehoor in paranetiese diskoers gewoonlik dieselfde wêreldbeeld deel; die verteller sê in die opening van boek 10 uitdruklik dat hy hier praat met ’n gehoor van geloofsgenote wat sy sienings deel (bespreek in 5.4).

Terwyl ek reeds elders besin het (2004:117–96) oor die voorkoms van beide protreptiese en paranetiese elemente in die Confessiones (spesifiek binne die raamwerk van die definisies hier bo verskaf), is die volgende ontledings van dele uit boeke 9 en 10 van die werk ontwerp om ’n verskerpte fokus op die paranetiese te bewerkstellig. Die artikel begin met ’n aantal opmerkings oor die negende boek, wat algemeen beskou word as die einde van die bekeringsverhaal in die Confessiones en waar daar ’n komplekse en subtiele, maar onmiskenbaar protreptiese gedeelte aangetref word voordat die wending na paranese in boek 10 bespreek word.

 

4. Die openingsparagraaf van boek 9 van die Confessiones en ’n protreptiese gedeelte uit die boek

As ’n aanloop tot my argument dat daar in boek 10 van die Confessiones ’n verskuiwing aangetref word wat betref kommunikatiewe doelstelling en primêre teikengehoor, begin die bespreking hier met ’n paar opmerkings oor boek 9 wat ook die laaste gedeelte van die oorwegend protreptiese boeke van die werk is. Die doel van hierdie opmerkings is om die kontras tussen boek 9 en boek 10 toe te lig.

Boek 9 begin met ’n paragraaf wat kortliks, maar wel in sterk emotiewe taal, reflekteer oor die bekering wat aan die einde van boek 8 beskryf word; dié paragraaf word hier onder met die openingsparagraaf van boek 10 gekontrasteer. Die gebruik van werkwoorde in die eerste persoon enkelvoud en die herhaling van voornaamwoorde in die eerste en tweede persoon enkelvoud (byvoorbeeld in ego servus tuus, ego servus tuus ... tibi sacrificabo ... quis ego et talis ego? [Ek is u dienskneg, ek is u dienskneg ... aan U sal ek offer ... wie is ek en hoedanig is ek?]) evokeer die intimiteit van die gesprek tussen die spreker en God sowel as die intens persoonlike aard en emosionele belewenis van die bekering wat pas (aan die einde van boek 8) beskryf is.12 Paragraaf 9.1.1 vertoon ook ’n optimisme ten opsigte van God se ingryping in die ellende van die onbekeerde Augustinus wat die leser in die voorafgaande boeke (en veral in boek 8) van naby leer ken het. Dit vorm ’n kontras met die toon van die openingsparagraaf van boek 10 wat in afdeling 5 hier onder bespreek word. In 9.1.1 verwoord die verteller sy gevoel dat God nou sy diep geestelike dood omkeer (profunditatem mortis meae respiciens) en die donker afgrond van sonde verwyder (abyssum corruptionis mei exhauriens); daar is ook sprake van bevryding (disrupisti vincula mea [U het my kettings uitmekaar gebreek]), genot (quam suave mihi subito factum est [hoe soet het dit skielik vir my geword]), vreugde (iam ... gaudium erat [dit was nou vreugde]) en die oortuiging dat God nou, in wonderlike glorie, in beheer is (eiciebas enim eas [sc. suavitates nugarum] a me, vera tu et summa suavitas, eiciebas et intrabas pro eis omni voluptate dulcior ... omni luce clarior [U het dit [die aanloklikheid van nietighede] uitgewerp uit my, U wat die ware en hoogste soet is, U het dit uitgewerp en in die plek daarvan ingekom, soeter as enige genot ... helderder as enige lig]).

Tussen die openingsgedeeltes van die boek en die Monica-verhaal in die laaste deel is daar ’n aantal paragrawe (9.4.7 tot 9.4.11) wat dikwels oor die hoof gesien word, maar wat reeds elders in besonderhede ontleed is (Kotzé 2004:97-115) en wat beskou kan word as van kardinale belang vir die verstaan van die kommunikatiewe doelstellings en teikengehore van die Confessiones. Enkele aspekte van die gedeelte word hier beklemtoon om kortliks saam te vat waarom dit beskou kan word as een van die gedeeltes in die Confessiones waar sterk protreptiese doelstellings en ’n fokus op ’n Manichese bedoelde gehoor besonder helder waarneembaar is.

Die gedeelte dra naamlik onmiskenbaar die idee oor dat die spreker, toe hy kort na sy bekering Psalm 4 gelees het, ’n diep begeerte gehad het om ’n potensiële Manichese gehoor te red van die wanopvattings waarin hulle verstrik is en om hulle te bekeer tot die posisie wat hy toe pas leer beskou het as die ware Christendom. Alternatiewelik kan daar aangeneem word dat die uitreik na ’n Manichese gehoor wat hier waarneembaar is, moontlik eerder die bedoeling van die verteller ten tye van die skryf van die Confessiones, ongeveer 10 jaar ná die gebeure wat hy hier beskryf, beliggaam.

Dat Manichese lesers voorop in die spreker se gedagtes is, word duideliker as op ander plekke in die Confessiones uitgespel: daar is direkte verwysings na die Manicheërs (hoewel Augustinus steeds God aanspreek en in die derde persoon na hulle verwys), emosionele uitroepe oor hierdie groep se ongeredde toestand en veral Augustinus se herhaalde belydenis van sondes en wanopvattings as foute wat hy self begaan het toe hy ’n Manicheër was. Laasgenoemde verteenwoordig ’n sterk identifisering met sy vroeëre geloofsgenote.

Dit is belangrik om in te sien dat die kommunikasiesituasie wat Augustinus hier oproep, tot ’n groot mate van toepassing is op die geheel van die Confessiones: Augustinus bely voor ’n alwetende God; sy menslike gehoor, sy lesers, is toevallige toehoorders. Hierdie situasie waarborg as’t ware vir sy leser dat hy in alle opregtheid die waarheid praat. In 9.4.7 tot 9.4.11 sê die verteller uitdruklik wat waarskynlik vir die Confessiones in sy geheel geld: die begeerte dat sy gehoor (wat Manichese lesers insluit) sy diepste versugtinge sal hoor en daardeur beweeg word juis omdat hulle dit nie beskou as ’n poging om hulle te oorreed nie:13

quam vehementi et acri dolore indignabar Manichaeis, et miserabar eos rursus, quod illa sacramenta, illa medicamenta nescirent, et insani essent adversus antidotum, quo sani esse potuissent! vellem, ut alicubi iuxta essent tunc, et me nesciente, quod ibi essent, intuerentur faciem meam et audirent voces meas, quando legi quartum psalmum … audirent ignorante me, utrum audirent, ne me propter se illa dicere putarent, quae inter haec verba dixerim ...

[Met watter skerp en bitter pyn was ek kwaad vir die Manicheërs, net om die volgende oomblik dan weer jammer te wees vir hulle, omdat hulle nie hierdie geneesmiddels geken het nie en waansinnig getier het teen die teenmiddel wat hulle gesond kon maak! Ek sou so graag wou hê dat hulle êrens naby moes wees op daardie oomblik, sonder dat ek weet dat hulle daar is, en dat hulle my gesig kon sien en my uitroepe kon hoor, toe ek Psalm 4 gelees het … as hulle maar kon luister sonder dat ek weet dat hulle luister, sodat hulle nie sou dink dat ek vir hulle onthalwe dié dinge sê wat ek tussen daardie woorde [van die Psalm] gesê het nie …]

Ek het elders aangevoer dat die bestaan van ’n menslike gehoor vir Augustinus se belydenis voor God aanvanklik in die teks geïgnoreer word, maar mettertyd meer en meer uitdruklik vermeld word (Kotzé 2004:207–16). Hoewel vandag algemeen aanvaar word dat ’n Manichese gehoor ’n uiters belangrike deel van die teikengehoor van die Confessiones vorm,14 sê die verteller dit nooit uitdruklik nie, waarskynlik omdat die indirekte aanspreek van Manicheërs in sekere opsigte meer effektief sou kon wees as ’n direkte poging.15 Die oënskynlike onbewustheid van ’n menslike gehoor in die eerste nege boeke vorm ’n sterk teenstelling met die herhaaldelike uitdruklike omskrywing van die tipe gehoor vir wie die belydenis in boek 10 bedoel is en moet as ’n addisionele aspek beskou word wat die wending in boek 10 daarstel. Hierdie wending funksioneer egter ook op verskeie ander vlakke, onder andere op die vlak van ’n verskuiwing van ’n protreptiese na ’n paranetiese kommunikatiewe doel, soos hier onder geïllustreer.

 

5. ’n Wending na paranese in die openingsparagrawe van Confessiones 10

Die opening van Confessiones 10 herinner op ’n hele aantal maniere aan die proloog van die Confessiones (1.1.1 tot 1.5.6)16 wat, onder andere, geïnterpreteer sou kon word as ’n aanduiding dat ’n belangrike artikulasiepunt in die werk bereik is. Dat hier ’n wending plaasvind, is op ’n eerste vlak voor die hand liggend in die verteller se aanduiding in 10.3.4 dat hy ’n chronologiese sprong maak, weg van die tydstip van sy bekering en die gebeure kort daarna, na die hede, dit wil sê die tyd wanneer die Confessiones neergeskryf is (quo fructu ... confiteor per has litteras adhuc quis ego sim, non quis fuerim ... sed quis adhuc sim, ecce in ipso tempore confessionum mearum[met watter doel ... [bely ek in hierdie stuk letterkunde wie ek nou is, nie wie ek was nie ... maar wie ek nou is, presies op die oomblik van my belydenisse]).

Die wending in boek 10 kry egter ook op ander wyses gestalte. Die volgende onderafdelings ondersoek hierdie wending in terme van die kontras met die opening en die sterk protreptiese gedeelte in boek 9 (5.1); die ommeswaai wat betref die kommunikatiewe doelstellings in boek 10 (5.2); die verhouding tussen die verteller en sy gehoor, spesifiek die mate van gesag waarmee hy praat (5.3); en die wending wat betref die aanduidings oor die bedoelde gehoor (5.4).

5.1 Die kontras met boek 9

In teenstelling met die optimisme wat in die opening van boek 9 die oorhand gehad het,17 is daar ’n aantal aspekte van die vertelling aan die begin van boek 10 wat die skaal oordruk na die negatiewe kant. Die verteller openbaar ’n groter bewustheid van die opdraande stryd wat Christen-wees op ’n daaglikse basis behels. Wanneer hy in boek 10.1.1 oor sy hede, dit wil sê oor ’n tydstip ongeveer 10 jaar ná sy bekering, begin skryf, verwoord hy veral ’n voortgesette bewustheid van sondigheid en die onvermoë om te lewe soos God wil hê.18

Om volledig onder God se beheer te lewe en om vreugde te ervaar, word in 10.1.1 eerder as ’n verwagting in die toekoms as ’n werklikheid geteken. Die begeerte om God te ken, is steeds ’n versugting (cognoscam te [laat my u leer ken]) en die vreugde iets waarop hy hoop eerder as wat hy ervaar (haec est mea spes ... in ea spe gaudeo [dit is my hoop ... in hierdie hoop verheug ek my]). Die verteller beskryf ook die menslike toestand hier as een wat altyd trane regverdig: cetera vero vitae huius tanto minus flenda, quanto magis fletur, et tanto magis flenda, quanto minus fletur in eis [maar wat ander aspekte van hierdie lewe betref: hoe minder daar te beween is, hoe meer word daar geween en hoe meer daar te beween is, hoe minder word daaroor geween].

Waar Augustinus in 9.1.1 gepraat het van die soet van die wete dat hy sy ou begeertes agtergelaat het, van die vreugde daarin en van bevryding, praat hy in 10.2.2 eerder oor sy gekreun (gemitus meus testis est displicere me mihi [my gekreun is getuie daarvan dat ek myself mishaag]); by herhaling daarvan dat hy nie tevrede met homself is nie (nihil est aliud confiteri tibi quam displicere mihi [om voor U te bely, is niks anders as om te bely dat ek myself mishaag nie]); dat hy skaam is en homself verwerp (ut erubescam de me et abiciam me [dat ek bloos oor myself en myself verwerp]); en dat hy soms sleg is (cum enim malus sum [wanneer ek sleg is]). Die gapende afgrond (abyssum)in 10.2.2 waarvan hy direk na die bekering (in boek 9.1.1) oortuig was dat God daarvan beheer geneem het, beskryf hy nou as steeds in hom teenwoordig: Et tibi quidem, domine, cuius oculis nuda est abyssus humanae conscientiae, quid occultum esset in me, etiamsi nollem confiteri tibi? [En tog, voor U, Heer, voor wie se oë die afgrond van menslike skuld openbaar lê, wat sou daar in my verborge wees, selfs al sou ek dit nie voor U wou bely nie?].

Hoewel die verteller in 10.3.3 steeds na sy redding as ’n werklikheid verwys en in 10.4.5 wel praat oor dinge in sy lewe waarvoor God geprys kan word, maak hy dit telkens ook duidelik dat daar ander opsigte is waarin sy lewe nog veel te wense oorlaat en waarvoor hy hulp nodig het in die vorm van gebede van diegene wat hy hier uitdruklik aandui die teikengehoor van sy belydenis is. Die teenstellende pare wat hy 10.4.5 gebruik om telkens die positiewe en die negatiewe te stel, dra by – deur die feit dat die negatiewe werklikheid telkens in die tweede posisie gestel word – tot die minder optimistiese toon hier (in vergelyking met 9.1.1): die verteller is bewus daarvan dat hy nog teruggehou word deur sy natuurlike neiging tot die sonde (cupiunt ... orare pro me, cum audierint quantum retarder pondere meo? [Begeer hulle ... om vir my te bid wanneer hulle hoor tot watter mate ek teruggehou word deur my eie gewig?]); dat daar ’n behoefte is dat sy gehoor vir hom by God voorbidding moet doen (non enim parvus est fructusut ... a multis rogeris pro nobis [dit is geen klein nut dat daar deur baie vir ons gebid word nie]); en dat daar steeds dinge is wat eerder stof tot pyn as tot vreugde is (doleat in me quod dolendum doces [laat hom treur oor dit wat U aantoon betreurenswaardig is]).

Een van die belangrike verskuiwings wat dus in die openingshoofstukke van boek 10 waargeneem kan word, is dat die verligting en vreugde wat die verteller in boeke 8 en 9 beskryf as die onmiddellike gevolge van sy bekering, in boek 10 vervang word deur die daarstelling van ’n nederige en versigtige bewustheid van die voortdurende stryd wat die lewe as (Katolieke) Christen verg. Hierdie is tipies die soort materiaal wat tot medegelowiges kan spreek en goed gebruik kan word om hulle aan te moedig om te volhard, een van die kommunikatiewe doelstellings wat met paranese geassosieer word.

Daar is egter ook, in die openingsparagrawe van boek 10, ’n aantal uitdruklike uitlatings oor wat die verteller met sy vertelling beoog. Dit word in die volgende afdeling bespreek.

5.2 Die kommunikatiewe doelstellings van boek 10

Die eerste dimensie van die vertelling in boek 10 wat hier in die lig van die Lund- en Oslo-definisies van paranese ondersoek word, is die aanduidings van die kommunikatiewe doelstellings wat daar verskaf word. Hoewel die verteller by die aanvang van boek 10 heelwat meer inligting verskaf oor sy verhouding met sy gehoor en wie die bedoelde gehoor is, is daar wel ’n aantal opmerkings oor die kommunikatiewe doelstellings van die boek.

In 10.3.3 begin Augustinus deur aan sy gehoor uit te wys om watter redes hy nié voor hulle sou bely nie en hoe hulle nié na sy belydenis behoort te luister nie. Hy bely nie voor hulle sodat hulle hom tot hulp kan wees nie: quid mihi ergo est cum hominibus, ut audiant confessiones meas, quasi ipsi santuri sint omnes languores meos? [wat het ek met mense te doen dat hulle na my belydenisse sou luister asof hulle self al my smarte sou kon genees?]. Wanneer hy hulle kenmerk as ’n curiosum genus ad cognoscendam vitam alienam, desidiosum ad corrigendam suam [’n geslag wat nuuskierig is om die lewe van ’n ander te leer ken, traag om hulle eie te korrigeer], impliseer hy dat hulle nie nuuskierig oor sy lewe moet wees terwyl hulle nie aan selfondersoek en selfverbetering aandag gee nie. Hy impliseer ook dat dit sinneloos is as hulle nie lees met die doel om – soos hy – van God te hoor hoe God hulle sien nie (quid a me quaerunt audire qui sim, qui nolunt a te audire qui sint? [waarom vra hulle van my om te hoor wie ek is as hulle nie van U wil hoor wie hulle is nie?]). Die kommunikatiewe doelstellings is voor die hand liggend: die spreker beoog dat die gehoor sy verhaal moet lees om hulle eie lewe te korrigeer en om onder God se leiding tot selfkennis te kom.

Hierdie instruksie kan beskou word as ’n aanduiding ook van hoe die bekeringsverhaal in die voorafgaande boeke gelees moet word, maar dit kan veral gelees word as ’n aanwysing dat die oefening in introspeksie wat die grootste deel van boek 10 beslaan, ten doel het om aan ’n (gelowige) gehoor te demonstreer hoe om tot selfkennis te kom, soos in 10.3.3 uitgespel word: quid est enim a te audire de se nisi cognoscere se [want wat is om van U te hoor oor jouself anders as om jouself te ken?].

In paragraaf 10.3.4 vra Augustinus God herhaaldelik oor die nut van sy belydenisse: quo fructu ista faciam ... quo itaque fructu ... quo fructu, quaeso, etiam hominibus coram te confiteor per has litteras, adhuc quis ego sim, non quis fueram? [met watter doel doen ek dit ... met watter doel dan ... met watter doel, vra ek, bely ek met hierdie geskrif wie ek nou is, nie wie ek vroeër was nie?]. In die antwoorde wat hy self op hierdie vrae formuleer, praat hy in die eerste gedeelte van die paragraaf egter nie oor die kommunikatiewe doel van boek 10 nie, maar oor dié van die vorige gedeeltes van die Confessiones (boeke 1 tot 9). Hy impliseer wel dat die doel van boek 10 waar hy oor sy huidige lewe vertel, anders is, maar gee betreklik min direkte inligting oor hierdie doel.

Om die doel van die boeke oor sy verlede te beskryf, gebruik hy woordeskat en beeldsraak wat tipies van protreptiek is (die woorde excitant en evigilet, asook die beelde van slaap en wakker word).19 Die belydenis van sy sondes van die verlede het ten doel om die gehoor aan te spoor om nie in moedeloosheid in te sluimer en te dink dat hulle nie uit hulle eie sondes kan vry kom nie: nam confessiones praeteritorum malorum meorum ... cum leguntur et audiuntur, excitant cor ne dormiat in desperatione et dicat, “non possum” (want die belydenisse van my sondes van die verlede ... as dit gelees en gehoor word, spoor hulle harte aan om nie in desperaatheid aan die slaap te raak nie en nie te sê: “ek kan nie”); dit het ook ten doel om hulle aan te moedig om op God se meegevoel en genade staat te maak: [excitant cor ut] evigilet in amore misericordiae tuae et dulcedine gratiae tuae, qua potens est omnis infirmus qui sibi per ipsam fit conscius infirmitatis suae [[dit spoor hulle harte aan] om te ontwaak in die liefde van u medelye en die soet van u genade waardeur elkeen wat swak is sterk word, omdat hy in homself en deur homself bewus word van sy eie onvermoë]. Waar boeke 1 tot 9 demonstreer dat ’n bekering soortgelyk aan dié van Augustinus ook vir die gehoor moontlik is, vertel hy in boek 10 egter nie meer oor sy verlede nie, maar oor sy innerlike lewe terwyl hy reeds biskop van Hippo is; die kommunikatiewe doel van laasgenoemde is by implikasie die genoemde oefening in introspektiewe selfondersoek wat hy ook aan sy gehoor voorhou as goeie praktyk.

Ook in 10.4.5 en 10.4.6 maak die verteller enkele opmerkings oor die kommunikatiewe doelstellings van sy vertelling. Die uitspreek van die begeerte dat sy verhaal die gehoor tot danksegging moet aanspoor en sy versoek dat hulle vir hom voorbidding moet doen, sowel as elemente soos die aansporende subjunktiewe in 10.4.5 om aan te dui dat sy gehoor moet moed skep (respirent) oor dit wat goed in sy lewe is en moet sug (suspirent) oor dit wat sleg is, is niks anders as uitgesproke kommunikatiewe doelstellings van die vertelling nie.

Hierdie kommunikatiewe doelstellings hou nie ooglopend verband met die doelstellings wat in die definisies hier bo met paranetiese diskoers vereenselwig is nie. Die spreker gee nie sy gehoor raad vanuit ’n posisie van gesag oor praktiese alledaagse kwessies soos die Lund-definisie (Starr en Engberg-Pedersen 2004:3) dit verwoord, of direk oor morele praktyke soos die Oslo-definisie (Starr en Engberg-Pedersen 2004:4) dit formuleer nie. Dit is egter die uitdruklike uitlatings van die spreker dat hy hier praat met reeds bekeerde mede-Christene, wat ’n aanduiding is dat die oproep tot selfondersoek en selfverbetering en die versoek vir dankgebede en voorbidding gelees kan word as ’n poging om hierdie gehoor se “toewyding aan gemeenskaplike ideologiese oortuigings te versterk”, soos die Lund-definisie sê (Starr en Engberg-Pedersen 2004:3).

Ook die Oslo-definisie se verwysing na ’n “goedgesinde gebod oor morele gedrag wat die gedeelde wêreldbeeld duidelik maak en nie enige teenspraak verwag nie” (Starr en Engberg-Pedersen 2004:4) blyk ’n raak beskrywing te wees van die kommunikasiesituasie wat in die openingshoofstukke van boek 10 opgeroep word. Terwyl hier nie verwysings na konkrete voorbeelde van “practical (‘ethical’) issues of everyday life” of “moral practices” is nie, is die implikasie wel dat ’n fokus op innerlike groei in die alledaagse lewe neerslag sal vind, soos Vaught (2006:29) ook uitwys: “Augustine … knows that if the demands of Christ that regulate the inner life can be met, appropriate external behaviour will follow.”

Paragraaf 10.4.6 eindig met ’n bondige sin van drie woorde waarin Augustinus saamvat wat die doel van die voorafgaande paragrawe is: sic itaque audiar [laat daar só [na my] geluister word]. Die woorde tipeer wat hy in die voorafgaande paragrawe gesê het as instruksies oor hoe sy vertelling hier gelees moet word. Dit dien ook as merker dat die gedeelte oor die kommunikatiewe doel en teikengehoor van die volgende boeke van die Confessiones nou afgesluit is. Die verandering in die fokus van die vertelling is duidelik gestel en wat hierop volg (die res van boek 10 en die laaste drie boeke van die Confessiones, wat nietemin ongeveer ’n derde van die werk uitmaak) het in vele opsigte ’n ander karakter en kommunikatiewe doel as die voorafgaande boeke.

5.3 Die verhouding tussen spreker en gehoor

Die Lund-definisie dui aan dat die spreker in paranetiese diskoers gewoonlik vanuit ’n posisie van gesag met sy gehoor praat. Die kwessie van die gesag waarmee die verteller in die Confessiones praat, is deurgaans – soos alle aspekte van die werk – ingewikkeld. Dit mag met die eerste oogopslag lyk asof die klem op sy eie swakhede in die openingsgedeeltes van boek 10 daarop dui dat spreker hier nie ’n posisie van gesag inneem nie. Die inligting dat hy steeds in ’n stryd gewikkel is om reg te lewe en dat hy afhanklik is van die gebede van sy gehoor laat dit lyk asof dit tot ’n groot mate die gesag ondergrawe waarmee hy hulle hier aanspreek. Hier word egter aangevoer dat Augustinus in boek 10, soos op ander plekke in die Confessiones, sy oorredingskrag juis daarin setel dat hy hom met sy gehoor vereenselwig, homself as’t ware op ’n gelyke vlak met hulle stel (soos hy doen in boek 9, waar hy probeer om ’n Manichese gehoor te bereik). Hierdie soort retoriek is ’n bewuste strategie wat nie noodwendig die gesag van die spreker in gedrang bring nie.

In die openingsparagrawe van boek 10 is daar aanduidings dat die verteller wel sy posisie van gesag as vanselfsprekend aanneem. Soos in die res van die Confessiones is die verteller se gesag steeds deels gesetel in die vertelsituasie wat geld vir die werk in sy geheel. In 10.2.2 spreek die verteller – soos dikwels voorheen in die Confessiones – die sekerheid uit dat niks vir God verborge is nie: domine, cuius oculis nuda est abyssus [U, o God, voor wie se oë die afgrond oop lê]; te enim mihi absconderem, non me tibi [want ek sou U van myself versteek, nie myself van U nie]; tibi ... manifestus sum, quicumque sim [ek is blootgelê voor U, wie ook al ek is]. Om voor God enigiets anders as die volle waarheid te bely, sou dus sinloos wees; die Confessiones bevat, by implikasie, geen onwaarhede nie, iets wat reeds ’n mate van gesag aan die spreker se woorde verleen.

Verder voer die verteller aan dat hy niks waardevols (of korrek) kan sê wat hy nie reeds voor God gesê het nie (quod non a me tu prius audieris [wat U nie voorheen van my gehoor het nie]) en – meer belangrik – wat nie eers deur God aan hom gesê is nie (quod non mihi tu prius dixeris [wat U nie voorheen vir my gesê het nie]); deur laasgenoemde stelling maak hy op subtiele wyse, maar baie sterk, aanspraak op groot gesag vir sy woorde. Die gesag van die woorde wat die gehoor bereik, is wel nie geleë in sy eie posisie nie, maar in die gesag van God. Die bekende gedeelte in 10.1.1, waar Augustinus (aan God) sy voorneme stel om die “waarheid te doen” (veritatem facere) en sodoende tot die lig te kom (qui fecit eam venit ad lucem) is deel van hierdie aanspraak op gesag: alles wat in die Confessiones aangebied word, is deel van “die waarheid doen”, verteenwoordig sy beweeg “na die lig” voor die aangesig van ’n alwetende God, en kom in die laaste instansie van God self.

Hoewel die gevaar bestaan om verkeerdelik die gesag wat deur eeue heen aan die naam van Augustinus gekoppel is, terugskouend in die Confessiones in te lees, maak die verteller enkele opmerkings wat aandui dat hy reeds teen die tyd toe hy die Confessiones geskryf het, bekend genoeg was dat sy vertelling outomaties met gesag beklee sou wees.

Buiten die gesag waarop Augustinus deurgaans in die Confessiones aanspraak maak, is daar ook ’n aantal ander maniere waarop sy gesag in die openingsparagrawe van boek 10 implisiet aangedui word. Sy opmerking aan die begin van 10.3.3 laat reeds blyk dat sekere mense waarskynlik versoek het om meer oor hom te hoor: quid a me quaerunt audire qui sim? [waarom vra hulle van my om te hoor wie ek is?]. Ook sy bekendheid in wyer kringe as sy onmiddellike vriende- en werkskring blyk as hy dit duidelik stel dat daar versoeke was om sy verhaal te hoor: multi hoc nosse cupiunt qui me noverunt en non me noverunt [baie begeer om dit te weet, dié wat my ken en dié wat my nie ken nie]. Hierdie omstandighede dui sekerlik onder andere daarop dat diegene wat versoek het om meer oor Augustinus se lewe te hoor, waarde sou heg en gesag sou toeskryf aan die vertelling en voorbeeld wat in die Confessiones aangebied word.

Ek het vroeër aangevoer dat Augustinus sy bekeringsverhaal in boeke 1 tot 8 van die Confessiones aanbied as ’n voorbeeld vir lesers wat opgeroep word om op soortgelyke wyse tot bekering te kom (Kotzé 2004:171–81). Dit kan beskou word as ’n instansie van die algemene gebruik van exempla as oorredingsmeganisme in antieke literatuur. Hoewel die gebruik van exempla ook deur die Lund-definisie as tiperend van paranese uitgewys word, is hierdie strategie byna alomteenwoordig in antieke letterkunde en is dit ewe toepaslik in protreptiek. In die geval van die Confessiones is die idee van die gesag van die spreker en die gebruik van die eie lewe as exemplum egter ook met mekaar verweef. Dit is duidelik dat Augustinus die verhaal van sy eie lewe vir sy gehoor aanbied as ’n exemplum en dat hy wil hê dat hulle dit moet navolg. Van boek 10 af verder is dit boonop ’n voorbeeld van hoe om daagliks as Christen te lewe, voorgehou aan medegelowiges, en nie meer ’n voorbeeld van hoe om die Katolieke geloof aan te neem nie. Beide die gesag wat gesetel is in die aanbied van die eie voorbeeld en die feit dat daar met reeds-bekeerdes gepraat word, pas in die raamwerk van paranetiese diskoers soos dit hier bo omskryf is.

Terwyl 10.1.1 reeds daarna verwys dat die bedoelde gehoor voorop in die verteller se gedagtes is (volo [veritatem] facere ... in stilo ... meo coram multis testibus [ek wil die waarheid aan die lig bring ... met my pen voor baie getuies]), fokus paragrawe 10.2.2 tot 10.4.6 met toenemende intensiteit op die gehoor tot wie hy hom hier rig. Afdeling 5.4 bied ’n ontleding van die eienskappe wat in hierdie hoofstukke aan die gehoor van Confessiones 10 (en waarskynlik van die daaropvolgende boeke)20 toegedig word.

5.4 ’n Gehoor wat die spreker se wêreldbeeld deel

Een van die belangrikste verskuiwings wat in boek 10 waarneembaar is, is die skielike amper beheptheid van die verteller met sy menslike gehoor, sy uitlatings oor die manier waarop hulle die Confessiones behoort te lees en dan veral sy herhaaldelike beklemtoning van die feit dat hy nou met sy geloofsgenote praat (eerder as primêr met ’n gehoor van onbekeerdes soos ek geargumenteer het in byvoorbeeld Conf. 9.4.7 tot 9.4.11 die geval is). Dit is die belangrikste gegewe waarop argumente dat ’n paranetiese vertelwyse aan die begin van boek 10 die protreptiese vertelwyse van die voorafgaande boeke begin vervang, gebaseer is.

In 10.1.1 word die gehoor net getipeer as getuies (testibus) en in 10.2.2 as ’n menslike gehoor (hominibus). In 10.3.3, waar die gehoor weer telkens getipeer word met vorme van die woord homo, is daar aanvanklik nog sprake van ’n gehoor wat die Confessiones met die verkeerde motiewe sou kon lees (byvoorbeeld net uit nuuskierigheid, soos hier bo aangedui), maar daarna verskuif die klem na medegelowiges, diegene wat lees met ’n houding van naasteliefde juis omdat slegs dié wat só lees, bereid sal wees om te aanvaar dat Augustinus die waarheid vertel (aures caritas aperit ... dicit enim eis caritas ... non mentiri me [naasteliefde open hulle ore ... naasteliefde sê vir hulle ... dat ek nie oor myself lieg nie]). Ten spyte van die toenemend positiewe tekening van die bedoelde gehoor in hierdie paragraaf word hulle eers in 10.4.6 volledig gedifferensieer as “broers in die geloof” en “dienaars van God,” soos hier onder aangedui word.

In 10.3.3 en 10.3.4 word daar, benewens vorme van homo, ook ’n aantal ander terme gebruik om na die gehoor te verwys en word die vorme van homo by ’n aantal geleenthede verder gekwalifiseer met bykomende frases. In die openingsreëls van 10.3.3 is daar die verwysing na ’n curiosum genus (’n nuuskierige geslag) wat ook desidiosum (lui of traag) genoem word; dit is egter by implikasie die soort gehoor wat die spreker afkeur. In 10.3.4 word die ideale gehoor gekenmerk as goeie mense wat daarvan hou om oor die kwaad in iemand se lewe ingelig te word slegs omdat hulle bly is dat dit nie meer bestaan nie (delectatbonos audire praeterita mala eorum qui iam carent eis, nec ideo delectat, quia mala sunt, sed quia fuerunt et non sunt [dit behaag goeie mense om te hoor van wandade wat in die verlede begaan is deur diegene wat nou nie meer hierdie wandade begaan nie; dit behaag hulle nie omdat dit wandade is nie, maar omdat dit voorgekom het en nie meer voorkom nie]).

In 10.4.5 maak die verteller dit met toenemende dringendheid duidelik dat hy hier praat met ’n gehoor van geloofsgenote wat sy wêreldbeeld deel.21 In die openingswoorde stel hy by herhaling die vraag oor die nut van sy belydenis, nou in die vorm van ’n vraag na die bedoeling van die gehoor (sed quo fructu id [sc audire confitente me qui ipse intus sim] volunt? [Maar vir watter doel wil hulle dit hê [naamlik om my te hoor terwyl ek voor U bely wie ek in my binneste is]?]). In die daaropvolgende sinne maak die verteller dit duidelik dat hy nou uitsluitlik met sy broers (in die geloof) praat. Die adjektief fraternus (wat baie moeilik met die regte nuanse in Afrikaans vertaal word) kom vier keer in hierdie paragraaf voor om die gehoor te beskryf: amet in me fraternus animus ... animus ille hoc faciat fraternus, ... fraternus ille, qui cum approbat me, gaudet de me ... hymnus et fletus ascendant in conspectum tuum de fraternis cordibus [laat ’n hart vol broederliefde dit in my liefhê ... laat daardie hart vol broederliefde dit doen ... die hart vol broederliefde wat, as dit my goedkeur, oor my verheug is ... laat himnes en smeekbede opgaan voor u aangesig uit harte vol broederliefde].

In die volgende paragraaf (10.4.6) word die gehoor nog duideliker omskryf as die binnekring: Augustinus beantwoord hier self sy vroeëre vraag oor die nut van die vertelling in die Confessiones en gebruik daarna agt verskillende frases of woorde in die genitief om die gehoor tot wie hy hom hier rig, te kenmerk: hic est fructus confessionum mearum ... ut confitear in auribus (1) credentium filiorum hominum, (2) sociorum gaudii mei et (3) consortium mortalitatis meae, (4) civium meorum et (5) mecum pergrinorum, (6) praecedentium et (7) consequentium et (8) comitum vitae meae [dit is die nut van my belydenisse ... dat ek bely in die ore van (1) mensekinders wat gelowig is, (2) dié wat my vergesel in my vreugde en (3) dié wat deel in my sterflikheid, (4) my medeburgers en (5) medereisigers, (6) dié wat voor my die pad geloop het en (7) dié wat volg asook (8) dié wat deelgenote van my lewe is]. Hierdie beskrywing van die intiemste binnekring word daarna saamgevat in hi sunt servi tui, fratres mei [hulle is u dienaars, my broers] gevolg deur ’n herhaling dat hierdie die gehoor is aan wie hy hom hier openbaar en wat hy op God se bevel dien: indicabo ergo talibus qualibus iubes ut serviam [ek openbaar myself aan dié soort mense wat U my beveel om te dien]. Dit is belangrik om daarop te wys dat vorme van die woorde frater en servus in hierdie betekenis vir die eerste keer in Confessiones 10 gebruik word om na ’n bedoelde gehoor te verwys wat uit lede van Augustinus se binnekring bestaan.

Waar die begin van die Confessiones die indruk skep dat die leser afluister terwyl Augustinus alleen met God praat, is die oorwegende beeld wat in boek 10 geskep word, een van die verteller se bewustheid van sy menslike gehoor, watter tipe gehoor hulle is en ideaal gesproke moet wees, en hoe hy wil hê dat hulle sy belydenisse moet lees. Boonop stel die verteller dit hier uitdruklik dat sy belydenis van hier af bedoel is vir reeds bekeerdes wat sy lewensingesteldheid deel, die tipe binnekringgehoor wat hier bo as tipies van paranetiese bemoediging beskryf is.

 

6. Enkele gevolgtrekkings

Dit is duidelik dat die verteller van die Confessiones aan die begin van boek 10 ’n aantal veranderinge in terme van aangesproke gehoor en kommunikatiewe doelstellings onder sy lesers (of toehoorders) se aandag bring. Terwyl die bedoeling om met ’n menslike gehoor te kommunikeer in die eerste nege boeke van die werk meestal implisiet gelaat word en in werklikheid genegeer word deur die feit dat die werk in sy geheel aangebied word in die vorm van ’n gebed waarin God deurgaans in die tweede persoon enkelvoud aangespreek word, praat die verteller in boek 10 herhaaldelik op verskillende wyses oor die gehoor waarvoor die vertelling hier bedoel is, asook oor hoe hulle hierdie werk moet lees.

Die argumente wat hier bo aangebied is, illustreer (1) hoe protreptiese en paranetiese doelstellings tegelykertyd of afwisselend in dieselfde literêre werk kan funksioneer; (2) hoe ’n ontleding aan die hand van die perspektiewe van navorsers oor paranese kan bydra tot ’n genuanseerde omskrywing van die wending in boek 10 van die Confessiones;en (3) hoe ’n versigtige lees van die werk vanuit die perspektief van die aansporende (protreptiese sowel as paranetiese) kenmerke daarvan kan bydra tot die verstaan van die werk in sy geheel.

 

Bibliografie

Askehave, I. en J.M. Swales. 2001. Genre identification and communicative purpose. A problem and a possible solution. Applied Linguistics, 22(2):195–212.

Askehave, I. 1999. Communicative purpose as genre determinant. Hermes, 23:13–23.

Aune, D.E. 1991. Romans as a logos protreptikos in the context of ancient religious and philosophical propaganda. In Hengel en Heckel (reds.) 1991.

BeDuhn, J. 2013. Augustine’s Manichaean dilemma 2: making a “Catholic” self, 388–401 C.E. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Bright, P. 2003. Book ten: the self seeking the God who creates and heals. In Paffenroth en Kennedy (reds.) 2003.

Brink, A.P. 1987. Vertelkunde. ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.

Drecoll, V.H. (red.). 2007. Augustin Handbuch. Tübingen: Mohr Siebeck.

Feldmann, E. 1994. Confessiones. In Mayer e.a. (reds.) 1994.

Geerlings, W. 2007. Christologie. In Drecoll (red.) 2007.

Hengel, M. en U. Heckel (reds.). 1991. Paulus und das antike Judentum. Tübingen: Mohr- Siebeck.

Jordan, M.D. 1986. Ancient philosophic protreptic and the problem of persuasive genres. Rhetorica, 4(4):309–33.

Kotzé, A. 2004. Augustine's Confessions: communicative purpose and audience. Leiden: Brill.

―. 2011. Protreptic, paraenetic and Augustine’s Confessions. In Van den Berg e.a. (reds.) 2011.

―. 2013. A protreptic to a liminal Manichaean at the centre of Augustine’s Confessions 4. In Van Oort (red.) 2013.

―. 2015. Perspectives on three instances of Greek autobiographical writing from the fourth century B.C.E. Classical World, 109:39–67.

Lancel, S. 2002. Saint Augustine. Vert. A. Neville. Londen: SCM Press.

Lössl, J. 2011. Augustine’s Confessions as a consolation of philosophy. In Van den Berg e.a. (reds.) 2011.

Mayer, C.P. 1998. Die Confessiones des Aurelius Augustinus: eine philosophisch-theologische Werbeschrift (Protreptikos) für christliche Spiritualität. Theologie und Glaube, 88:285–303.

Mayer, C.P., C. Müller en R. Dorado (reds.). 1994. Augustinus-Lexikon. Band 2. Basel: Schwabe.

O’Donnell, J.J. 1992. Augustine: Confessions. Band 3. Oxford: Clarendon Press.

Starr, J. en T. Engberg-Pedersen (reds.). 2004. Early Christian paraenesis in context. Berlyn, New York: De Gruyter.

Stowers, S.K. 1986. Letter writing in Greco-Roman antiquity. Philadelphia: Westminster Press.

Swales, J.M. 1990. Genre analysis: English in academic and research settings. Cambridge: Cambridge University Press.

Paffenroth, K. en R.P. Kennedy (reds.). 2003. A reader’s companion to Augustine’s Confessions. Louisville, Londen: Westminster John Knox Press.

Van den Berg, J.A., A. Kotzé, T. Nicklas en M. Scopello (reds.). 2011. In search for truth: Augustine, Manichaeism, and other Gnosticism. Studies for Hans van Oort at sixty. Leiden, Boston: Brill.

Van Oort, J. 2013. God, memory and beauty: a “Manichaean” analysis of Augustine’s Confessions, Book 10.1–38. In Van Oort (red.) 2013.

Van Oort, J. (red.). 2013. Augustine and Manichaean Christianity. Selected papers from the first South African conference on Augustine of Hippo, University of Pretoria, 24–26 April 2012. Leiden, Boston: Brill.

Vaught, C.G. 2006. Access to God in Augustine’s Confessions: books X–XIII. New York: State University of New York.

 

Eindnotas

1 Hierdie artikel spruit voort uit navorsing ondersteun deur die NRF wat vereis dat die volgende formulering in alle publikasies verskyn: “This work is also based on the research supported in part by the National Research Foundation of South Africa (Grant specific unique reference number (UID) 85634). I acknowledge that opinions, findings and conclusions or recommendations expressed in any publication generated by the NRF supported research are those of the author, and that the NRF accepts no liability whatsoever in this regard.”

2 Dit het oor die afgelope dekade of twee gebruiklik geword om na Augustinus se Confessiones te verwys as ’n protreptikos. Sien byvoorbeeld Feldmann (1994), Mayer (1998), Lancel (2002:210), Geerlings (2007:436) en Lössl (2011:47-9). Argumente wat uitwys dat die Manicheërs ’n belangrike deel van die bedoelde gehoor van die Confessiones vorm, dra sekerlik by tot hierdie konvensie, maar ook geleerdes wat nie op die Manichese elemente in die Confessiones fokus nie, verwys na die werk as ’n protreptikos.

3 Daar word geensins geargumenteer dat Augustinus in boek 10 begin om bewustelik enige pasklaar model van (Bybelse) paranese na te volg nie. Dit is egter wel so dat ’n inagneming van die tradisie van aansporende werke waarin die werk ingebed is, een van die essensiële bepalende faktore behoort te wees van die manier waarop dit vertolk word. Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie benadering beskou moet word as ’n poging om aspekte van ’n multidimensionele teks te belig wat ander ontledings komplementeer en nie as ’n finale sleutel tot die werk nie. In ’n veld waar navorsers dikwels eerder daarop fokus om deur hulle lees van die Confessiones ’n beter begrip te verkry van kwessies soos Augustinus se bekering, sy geestelike ontwikkeling of sy denke oor sleutelaspekte, kan ’n fokus op kommunikatiewe doelstellings en die bedoelde gehoor egter wel bydra tot ’n meer genuanseerde begrip van die Confessiones.

4 O’Donnell (1992:151) verwoord dit soos volg: “What A. learned to do at Ostia he now does, in writing this text. This is no longer an account of something that happened somewhere else some time ago; the text itself becomes the ascent. The text no longer narrates mystical experience, it becomes itself a mystical experience (for A.; it will further become in Bks. 11–13 a mystical experience for the reader as well). The failure to make the adjustment has led to serious failures to see the purport of this and the later books of conf.”

5 Die meeste navorsers (byvoorbeeld Bright 2003:159 en Vaught 2006:29) beskou paragrawe 10.1.1 tot 10.5.7 as die proloog van boek 10. Aangesien die fokus hier slegs is op kommunikatiewe doelstellings en bedoelde gehoor, word net die eerste ses paragrawe van die openingsgedeelte ontleed.

6 My vorige navorsing (Kotzé 2004) het die belangrikheid daarvan uitgewys om in te sien dat ’n potensiële Manichese leser (of ’n “liminale Manicheër” (Kotzé 2013:107-9) ’n belangrike deel vorm van die bedoelde gehoor van die Confessiones en dat daar ’n duidelik waarneembare poging is om so ’n leser tot ’n Katolieke sienswyse te bekeer. Dit is as ’n protreptiese kommunikatiewe doelstelling getipeer (op grond van die kort definisie wat hier onder in afdeling 2 verskaf word). ’n Verdere been van die projek waarvan hierdie artikel deel vorm, handel daaroor om aan te toon watter perspektiewe op die Confessiones moontlik word wanneer navorsing oor paranese hand aan hand met navorsing oor protreptiek gebruik word as invalshoek by die interpretasie van hierdie multidimensionele teks.

7 Hierdie ses vlakke is ’n arbitrêre indeling wat nietemin nuttig is om na onderskeibare konsepte binne die vertelsituasie te verwys. Verskillende navorsers gebruik verskillende terminologie; in Engels word die terme real author, implied author en narrator, saam met addressee, implied reader en real reader gewoonlik gebruik.

8 Feldmann (1994) se artikel draai byvoorbeeld om die argument dat die Confessiones ’n protreptikos is, maar hy probeer nêrens definieer wat hy onder dié term verstaan nie.

9 Die saamgestelde volume onder redaksie van Starr en Engberg-Pedersen, Early christian paranesis in context (2004), is toonaangewend in navorsing oor die gebied.

10 Aune (1991:91) se definisie lui: “[T]he λόγος προτρεπτικός, or ‘speech of exhortation’, is a lecture intended to win converts and attract young people to a particular way of life … by exposing the errors of alternative ways of living by demonstrating the truth claims of a particular philosophical tradition over its competitors;” Stowers (1986:92) se definisie kontrasteer protreptiek met paranese: “I will use protreptic in reference to hortatory literature that calls the audience to a new and different way of life, and paraenesis for advice and exhortation to continue in a certain way of life.”

11 Die een eienskap van paranese waaraan die Confessiones glad nie voldoen nie, is dat dit nie kort en kragtig is of bondig is nie.

12 Die vokatief waarmee die boek open, die herhaling in ego servus tuus, ego servus tuus, die hortatiewe van die herhaalde dicant … dicant en die gebruik van vrae onderstreep byvoorbeeld hierdie karaktereienskappe.

13 Dit is egter so dat Augustinus nie sy appèl direk aan die Manicheërs rig nie (hy praat oor hulle in die derde persoon), wat steeds die vraag laat ontstaan of dit oortuigend is om te praat van ’n Manichese bedoelde gehoor. Ek het vroeëre argumente oor die Manichese lesers van die Confessiones intussen verder verfyn om die tipe “Manichese” leser van die Confessiones eerder met die term “liminale Manicheër” te vervang, d.w.s. ’n Manichese leser in ’n soortgelyke posisie as die Augustinus wat in boeke 5 tot 7 van die Confessiones beskryf word: iemand wat nie meer volledig oortuig is van Manichese posisies nie, maar steeds in naam deel van die groep vorm terwyl hy reeds besig is om ander moontlikhede te ondersoek.

14 BeDuhn (2013:314–402) argumenteer besonder oortuigend vir hierdie standpunt.

15 Op hierdie stadium het die polemiek met die Manicheërs, in die vorm van mondelingse debatte soos die (opgetekende) Contra Fortunatum en ander antimanichese werke reeds ’n lang geskiedenis; ons kan aanvaar dat hierdie grotendeels onsuksesvolle pogings was om die Manicheërs van sy standpunt te oorreed.

16 Sien hieroor byvoorbeeld Vaught (2006:28–9).

17 Die opening van boek 9 vertoon – soos dié van boek 10 – ’n oorweging van beide die positiewe en die negatiewe, maar die byna euforiese openingsin (o domine, ego servus tuus, ego servus tuus … disrupisti vincula mea – o heer, ek is u dienskneg, ek is u dienskneg … u het my kettings gebreek) en die uitspreek van die vertroue dat God die donker in hom in sy hand geneem het (respiciens profunditatem mortis meae … exhauriens abyssum corruptionis – u wat omsien na die diepte van my dood … u wat die gapende afgrond van bedorwenheid onder beheer bring) veroorsaak dat die toon hier beslis meer optimisties is as in die opening van boek 10.

18 O’Donnell (1992:150) lewer ook kommentaar op die “continuing search for God and the continuing failure of that search to achieve perfect fruition” wat vanaf die aanvang van boek 10 beklemtoon word.

19 Sien my vroeëre bespreking hiervan (Kotzé 2004:60-5).

20 Waar Bright (2003:157–8) praat van die Janus-karakter van boek 10, bespreek sy onder andere hoe hierdie boek in baie opsigte vooruitwys na die daaropvolgende boeke.

21 Hoewel die verteller onteenseglik aandui dat hy nou met ’n gehoor uit sy binnekring praat, beteken dit nie dat hy nie voortgaan om terminologie en denkkategorieë te gebruik wat baie spesifiek tot Manichese lesers sou spreek nie. Sien byvoorbeeld Hans van Oort se artikel (2012), waarin hy aantoon hoe verwysings na die vyf sintuie in die eerste helfte van boek 10 ’n strukturering op grond van Manichese kategorieë verteenwoordig.

The post Protreptiek en paranese: perspektiewe op die wending in boek 10 van Augustinus se Confessiones appeared first on LitNet.

Winnie the Pooh at the Artscape

$
0
0

Winnie the Pooh (Dean de Klerk) and Christopher Robin (Shani Sachs)

Stagecraft Drama Studio brings Winnie the Pooh, everyone’s favourite bear, to Artscape Theatre during the holiday season, daily at 10:30 except Sundays.

Winnie the Pooh lives in Hundred Aker Wood.   He wakes up to a cold snowy day.  He goes to his friend Piglet’s home, to tell him about the snow but Piglet has gone to find Winnie the Pooh. 

Winnie the Pooh, written by AA Milne is directed by Cheryl Abromowitz and features a strong cast.  Join Pooh, Eeyore, Piglet and friends as they look for a woozle, celebrate Eeyore’s birthday, find food for Tiger and go on an adventure to discover the North Pole.  Lots of fun and audience participation.  Presented by arrangement with DALRO.

Performances take place at Artscape Theatre until December 23, daily at 10:30.   Tickets at R70 per person are obtainable from Computicket or Artscape Dial-a-Seat 021 421 7695.   No children under one year and no prams allowed.

The post Winnie the Pooh at the Artscape appeared first on LitNet.


Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank

$
0
0

Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Franci Greyling, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit (Potchefstroom)

LitNet Akademies Jaargang 12(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel bespreek ’n praktykgebaseerde navorsingsprojek: ’n kunstenaarsboek-installasie met die Mooirivier in die Potchefstroom-omgewing as tema. Die bespreking is ’n retrospektiewe besinning vanuit die perspektief van die kunstenaar-navorser aan die hand van die plekbegrippe sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit. As ’n gelaagde en multimodale kunsvorm kan kunstenaarsboeke plek op ’n unieke wyse vergestalt. Die uitgangspunt van die skrywer is dat die besinning oor die projek aan die hand van hierdie plekbegrippe ’n bydrae kan lewer tot die verstaan van die mens se verhouding met plek en met plekspesifieke kuns en letterkunde. In die teoretiese raamwerk word veral gekonsentreer op ’n beter verstaan van die begrip ingeplaastheid, en word gesteun op die perspektiewe van plekteoretici soos Buell, Basso, Relph, Casey, Smiley en Smith. Ná die kontekstualisering en teoretiese raamwerk word die projek in meer besonderhede bespreek, met aandag aan die kunstenaar se sin van plek, die vergestalting van sin en plek in inhoud en vorm, en die aanskouer-deelnemer se ervaring van die werk. Die gevolgtrekking is dat die kunstenaarsboek-installasie Mooirivier: weerspieëling en weerklank as ’n bioregionale plekspesifieke werk beskou kan word. Die aktiwiteite met betrekking tot die werk kan as ’n ingeplaaste skeppingsaksie en ingeplaaste navorsingsaksie vertolk word, en die ervaring van die aanskouer-deelnemer as ingeplaaste ervaring. Smith se definisie van ingeplaaste skryf- en leesaksie word sodoende uitgebrei.

Trefwoorde: bioregionaliteit; ingeplaastheid; kunstenaarsboek; kunstenaarsboek-installasie; Mooirivier; Mooirivier: weerspieëling en weerklank;praktykgebaseerde navorsing; praktykgeleide navorsing; plekspesifieke kuns; sin van plek


Abstract

Sense of place,emplacement and bioregionality in an artist’s book installation, Mooirivier: weerspieëling en weerklank (“Mooi River: reflection and echo”)

This article discusses a practice-based research project: an artist’s book installation, with the Mooi River in the Potchefstroom environment as a theme. The discussion is a retrospective reflection on the work Mooirivier: weerspieëling en weerklank (“Mooi River: reflection and echo”) from the perspective of the artist-researcher on the basis of the place concepts sense of place, emplacement and bioregionality. Literature and art are closely linked with the experience of and relationship with place. The premise of the author is that an artist’s book, as a layered and multimedia art form, can embody place in a unique way, and can create an opportunity to portray and explore the layering of place experience and relationships. Furthermore, the artist’s reflection on her own artist’s book project on the basis of these place concepts can contribute to the understanding of people’s relationship with place and with site-specific art and literature. The article consists of the following sections: 1) Introduction; 2) The research space and intermediate zone of practice; 3) Theoretical framework: place, sense of place, emplacement, bioregionality; 4) Exploration and discovery – the artist’s sense of place; 5) Concretisation – the embodiment of sense of place in content and form; 6) Dynamic interaction in the intermediate zone of practice; 7) Viewer-participant’s experience of sense of place; 8) Summary and conclusions; 9) Afterword.

Practice may in itself be regarded as a place or area. Schon (2001:6) refers in this regard to the intermediate zone of practice. The artist-researcher, art practice and art works are situated and embedded in artistic and academic contexts; artistic research involves the articulation of the aesthetic experience, practice and art works (Borgdorff 2011:47). The artwork concerned originated in an overarching space (organisationally, conceptually and thematically) of an interdisciplinary creative research and project, Reflective conversations: typography, topography, and typology. The artist’s book installation Mooirivier: weerspieëling en weerklank consists of two 8-metre-long concertina books displayed on two parallel exhibition panels, each 6 metres in length. The content of the books is compiled of photographs taken along the course of the Mooi River and text presenting 170 years of history (impressions and interventions). Material was gathered from literature like journals, fiction, poems, lyrics, essays, oral narratives, press reports, advertising material and research reports. Readings of portions of the text were recorded, and mixed as part of an impressionistic soundtrack along with music composed especially for the project. While viewing the work, the reader-participant could listen to the soundtrack through an MP3 player. Visitors virtually walked in and along the river to view the entire exhibition – the work thus offered the reader-participant a multi-sensory experience. In addition, visitors were invited to participate in the Mooi River Conversation – a table with feedback cards for this purpose formed part of the exhibition.

The concept sense of place essentially indicates that places are associated with meaning and feeling (Buell 2005:63; Relph 1976:49). The idea of being inside a place and experiencing it in various ways is described through terms like embeddedness, emplacement, embodiment and immersion.In the theoretical framework the focus is particularly on a better understanding of the concept of emplacement, and the perspectives of place theorists such as Buell, Basso, Relph, Casey, Smiley and Smith are used. Smith (2012:902) associates emplacement with the three dimensions which Buell (2005:63) assigns to place, namely the physical materiality of the environment, socio-cultural perception and linguistic construction of place, and the individual’s personal relationship with place. These dimensions are interdependent and interacting with one another: physically and materially the individual is part of a space and responds to it socially, culturally, emotionally, affectively and intellectually (Smith 2012:891). A bioregion (Dasmann 1977) is defined as a unique region with natural boundaries and distinctive geography, ecosystems, recognisable landscapes and unique human culture. Bioregional thinking involves a perspective shift to the local environment and the organic relationship of systems (McGinnes 2005:189). Literature and art reflect the unique bioregional character of specific communities and can help people to reimagine the places where they live and their relationship with these places (Lynch et al. 2012:3). With the Mooi River playing an integral part in Potchefstroom and the environment, it can be expected that the river would be strongly associated with an individual and collective sense of place. This implies that people also express this sense of place through their actions.

The creative part of the project involved three main aspects, namely photography along the course of the Mooi River, gathering information/texts about the river, and form-giving. In the section “Exploration and discovery – the artist’s sense of place” the discovery process of the artist regarding the bioregion and the literature in which the bioregionality is embodied, is discussed. The artist’s idea was that the different voices regarding the river over the course of time should virtually be audible through the collected literature, and that an image of the river should thus be created. The author (artist-researcher) shows that the process of discovery was an enriching and emplaced experience where the artist’s knowledge and experience of the Mooi River and its environment were expanded, deepening an own sense of place. The changing perspective of the artist in the intermediate zone of practice (Schon 1983) also influenced the form and content of the artwork. Next, the concretisation (the manifestation of sense of place in content and form) is discussed, the different parts of the book and its form-giving are detailed, and the dynamic interaction in the intermediate space of practice is reflected on. Engaging with and being occupied with the material, methods, tools and ideas of the practice is inherent to the material, practice and thinking that are characteristic of artistic creation (cf. Bolt 2006; Greyling 2009:109). This experience can be regarded as an emplaced experience, where the artist finds herself conceptually, materially and creatively within the project. Some examples are discussed of how the different parts of the artist’s book installation were combined and how it influenced aesthetic decisions in the intermediate space of practice. This is followed by a discussion of the exhibition and the reader-participant’s experience of the project in the gallery space. From the feedback it seems that the reader-participants responded to the work in a sensory, emotional, affective and intellectual way – responses which are also associated with the experience of place. Some of the responses indicate that the artist’s book installation in itself was also experienced as a “place” and also gave rise to certain forms of emplacement.

The conclusion is that the installation described can be regarded as a bioregional site-specific work. The activities related to the work can be interpreted as an emplaced creative action and an emplaced research action, and the experience of the viewer-participant as an emplaced experience. Smith’s definition of emplacement writing and reading is therefore extended.

Keywords: artist’s book; artist’s book installation; bioregionality; emplacement; Mooi River; Mooirivier: weerspieëling en weerklank; “Mooi River: reflection and echo”; practice-based research; practice-led research; sense of place; site-specific art

 

Vooraf

“’n Rivier is nie net ’n stroom water nie …”
(T.T. Cloete, 2006)

In 1840 is ene Viator op reis na die uitgeweke boere, die Voortrekkers, wat hulle langs die Mooirivier gevestig het. In sy reisjoernaal verwys hy na die fraai boerderye wat langs die oewers aangelê is, na waterleiding en die oorvloed van water.1

In Augustus 1900 blaas generaal Christiaan de Wet se kommando ’n brug en treinspoor by Frederikstad-stasie op en trek die volgende dag deur die Mooirivier. In sy oorlogsherinneringe skryf De Wet oor die kristalstroom: die helder rivier wat winter en somer vloei en wat ’n onuitputlike oorvloed water verskaf.

In 1905 verwys Totius, in sy motivering vir die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf Burgersdorp na Potchefstroom, ook na die kristalhelder water van die Mooirivier en die boomryke dorp. Later peins hy, soos Ina Rousseau, P.W. Buys en Heilna du Plooy ná hom, oor wandelings langs die rivier, hangende wilgers, Noordbrug en weerkaatsings in die water.

Op sy plaas teen die Mooirivier skryf P.G. du Plessis van leivore, rivierlandjies, delfgate, syferkuile; van riviergrense as die grootste oorsaak van familietwiste en slegte buurmanskap; en van Waterwese wat die rivier in steriele kanale verlê het.

In 2002 skryf Johan de Klerk oor die groen gordel, kabbelende water, wasiggroen vaalpopuliere, en treurende wilgers; oor die opdrifsels, mensgemaakte rommel, kultuurgeraamtes, en ’n afvalsloot.

T.T. Cloete dig oor waterinsekte in ’n meentdam, oor die kartelende lyne treurwilgers en ’n skraal Mooirivier. In 2006 maak hy in ’n brief aan die plaaslike koerant beswaar teen die ontwikkeling van ’n winkelsentrum oor die Mooirivier: “’n Rivier is nie net ’n stroom water nie,” skryf hy, “maar dit het ook ’n oewer en ’n oeweruitsig.” “Wat is ’n padda teenoor die magtige Mall? Of ’n naaldekoker?”

 

1. Inleiding

“So place-sense is a kind of palimpsest of serial place-experiences”
(Buell 2005:73)

Riviere word vanweë die besondere aard daarvan – onder andere as lewensbron, deurgang, roete, grens en ontspanningsplek – vereenselwig met individuele en kollektiewe sin van plek.Die begrip sin van plek (sense of place, spirit of place, genius loci) dui in wese daarop dat plekke met betekenis en gevoel vereenselwig word (Buell 2005:63; Relph 1976:49). Hierdie betekenis en gevoel ontstaan met verloop van tyd deur die individu – in samehang met ander – se ervaring en betrokkenheid van die omgewing. “So place-sense is a kind of palimpsest of serial place-experiences” – aldus Buell (2005:73). Letterkunde en kuns is nou verweef met die mens se ervaring van en verhouding met plek. Nie slegs weerspieël letterkunde en ander kunsvorme die mens se verhouding met plek nie, maar dit beïnvloed ook die manier waarop ’n kultuur sigself en sy plek in die natuurlike omgewing voorstel (Lynch e.a. 2012:11–3; Buell 1995:2).

Løvlie (2009) verduidelik die tweevoudige verhouding en wedersydse beïnvloeding tussen letterkunde en plek só: waar plek deel van die stof van literêre tekste is, is literêre tekste weer deel van die kulturele prosesse waardeur menslike landskappe (en plekke) as woonplekke (dwellings) vir mense, gemeenskappe en kulture gekonstrueer word. Wanneer ’n skrywer oor ’n plek skryf, verander die plek as gevolg hiervan. Die beginsel geld ongeag hoe onbelangrik die teks is, solank die teks net deur ’n klein gemeenskap van lesers gelees en gedeel word (Løvlie 2009). Die studie van die verhouding tussen literêre tekste en die plek waarmee dit te make het, is daarom nie vir slegs literêre kritici en skrywers van belang is nie, maar ook vir die breër gemeenskap. Løvlie (2009) stel dit so:

Making visible and accessible the invisible layers of meanings formed by the literary texts connected with places and landscapes has a potential not just for preservation and dissemination of cultural heritage, but also for enriching people’s experience of their local environment (whether it is the one they live in, or one they are visiting). Furthermore, if the public could be encouraged to enter into dialogue with the literary heritage – that is, by writing and sharing their own texts in a place-centric system – this would entail a measure of cultural and democratic empowerment of citizens with regard to their local environment.

Hierdie siening sluit nou aan by Lynch e.a. (2012:1–18) se beskouing oor die plek en waarde van bioregionale letterkunde en kuns. Volgens hierdie skrywers kan kuns en letterkunde die unieke karakter van die biostreke waaruit dit kom, weerspieël, ontwikkel, vier en beskerm. Sulke tekste kan inwoners in staat stel om hulle biostreke as kultureel en ekologies andersoortig te herken en as sodanig te waardeer, en kan ook ’n deurslaggewende rol in die hernuwing van ’n sin van plek onder inwoners speel. Kuns en letterkunde, asook die bestudering daarvan vanuit ’n bioregionale perspektief, kan help om die stemme uit ’n biostreek te hoor, en om jou te kan voorstel wat dit beteken om aanpasbaar te leef in ons plekke soos dit verander (Lynch e.a. 2012:12–4). Om na die stories van ’n biostreek te luister, is veral belangrik op ’n tydstip wanneer natuurlike hulpbronne toenemend onder druk verkeer. Die herverbeelding van plaaslike plekke en die herkonseptualisering van plek op die bioregionale vlak is inderdaad volgens Buell (2005:76–7) twee van die vernuwende aspekte in ekoskryfwerk en -kritiek.

Hierdie artikel bespreek, vanuit die perspektief van die kunstenaar-navorser, ’n kunstenaarsboekprojek met die Mooirivier (Potchefstroom-omgewing) as tema. As ’n gelaagde en multimodale kunsvorm kan kunstenaarsboeke plek op ’n unieke wyse vergestalt. Nie slegs kan kunstenaarsboeke deur inhoud en vormgewing aspekte van sin van plek weergee nie, maar hulle kan ook op sigself “plek” word (Greyling 2014:90–1). Die plek en sin van plek wat deur kunstenaarsboeke vergestalt kan word, kan wissel van ’n abstrakte en konseptuele ruimte tot konkrete en spesifieke plekke; van makroruimtes tot mikroruimtelike plekke; en van persoonlike en private ervarings tot gemeenskaplike en gedeelde belewenisse (Kinoshita 2012; Greyling 2014:90–1). As ’n intieme ruimte kan die kunstenaarsboek sowel vir die kunstenaar as vir die leser die geleentheid vir ervaring, betrokkenheid en identifisering bied (Drucker 2004:357). Kunstenaarsboeke bied daarom ook ’n besondere geleentheid om die gelaagdheid van plekervaring en ‑verhoudings uit te beeld en te ondersoek.

Figuur1_MWW_kunstenaarsboekinstallasie

Figuur 1: Kunstenaarsboek-installasie: Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Mooirivier: weerspieëling en weerklank (figuur 1) kan as ’n kunstenaarsboek-installasie beskou word. Die werk bestaan uit twee 8 meter lange konsertinaboeke uitgestal op twee parallelle uitstalblaaie van 6 meter elk. (Afmetings: boeke: 25 cm x 20 cm – lengte 800 cm (2x); uitstaltafels: 30 cm x 600 cm x 114 cm (x2); 60 cm x 40 cm x 90 cm.) Die inhoud van die boeke is saamgestel uit foto’s wat in die loop van die Mooirivier geneem is en teks waarin 170 jaar se geskiedenis weergegee word. Materiaal hiervoor kom uit literatuur soos reisjoernale, prosatekste, gedigte, lirieke, essays, vertellings, persberigte, reklamemateriaal en navorsingsverslae. Gedeeltes van die teks is voorgelees en saam met musiek wat spesiaal vir die projek gekomponeer is, tot ’n impressionistiese klankbaan vermeng. Die leser-deelnemer kan, terwyl die werk besigtig word, met ’n MP3-speler na die klankbaan luister. Leser-deelnemers moet as’t ware in en langs die rivier loop om die hele uitstalling te kan besigtig – die werk bied sodoende ’n fisiese en multimodale ervaring aan die leser-deelnemer.2 Hierbenewens is leser-deelnemers uitgenooi om deel te neem aan die Mooiriviergesprek; ’n tafeltjie met terugvoerkaartjies vir dié doel vorm deel van die uitstalling.

Die bespreking is ’n terugskouende besinning van hierdie projek met fokus op die plekbegrippe sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit. Die uitgangspunt van die skrywer is dat die besinning oor die projek (die proses, produk en wisselwerking) aan die hand van genoemde plekbegrippe kan bydra tot die verstaan van die mens se verhouding met plek en met plekspesifieke kuns en letterkunde – in besonder met betrekking tot die biostreek. Die eerste gedeelte van die artikel bestaan uit die kontekstualisering en teoretiese raamwerk, waarna die projek in meer besonderhede bespreek word: 1) Inleiding; 2) Die navorsingruimte en tussenruimte van praktyk; 3) Teoretiese raamwerk: plek, sin van plek, ingeplaastheid, bioregionaliteit; 4) Verkenning en ontdekking – die kunstenaar(s) se sin van plek; 5)Konkretisering – die vergestalting van sin van plek in inhoud en vorm; 6) Dinamiese wisselwerking in die tussenruimte van praktyk; 7) Die aanskouer-deelnemer se ervaring van sin van plek; 8) Samevatting en gevolgtrekking; 9) Nawoord.

 

2. Die navorsingruimte en die tussenruimte van praktyk

Die kunsprojek waaroor dit in hierdie artikel gaan, het binne ’n oorkoepelende ruimte (organisatories, konseptueel en tematies) van ’n interdissiplinêre skeppende en navorsingsprojek ontstaan. In dié projek, Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie en tipologie (Reflective conversations: typography, topography, typology), is visuele kunstenaars, grafiese ontwerpers en skrywers uitgenooi om werke vir ’n groepuitstalling te skep. Volgens die projekbeskrywing was die oogmerk van die projek die fasilitering en dokumentering van reflekterende gesprekke ten einde die konsep van praktykgeleide navorsing en navorsingsgeleide praktyk te bevorder (Marley e.a. 2012:1). Praktykgeleide navorsing (verwante terme praktykgebaseerde navorsing, navorsing deur praktyk, navorsingsgeleide praktyk) in die kunste is gebaseer op en word gekenmerk deur die ondersoek na tersaaklike vraagstukke deur middel van kunsskepping. Skeppende aktiwiteite en uitsette staan derhalwe sentraal in die navorsingsbenadering en word as navorsing beskou (Scrivener en Chapman 2004; Borgdorff 2011:49). Vir Borgdorff (2011:46) is kunspraktyk die onderwerp, metode, inhoud en uitkoms van artistieke navorsing.

Praktyk kan op sigself ook as ’n plek of ruimte beskou word. Schon (2001:6) verwys in dié verband na die tussensone van praktyk (intermediate zone of practice). In kunspraktyk, asook in praktykgebaseerde/praktykgeleide navorsing, is die kunstenaar-navorser integraal aan die dinamiese en wisselwerkende proses, en maak bewustelik gebruik van die vermoë om op sy/haar voete te dink en om vorige ervarings in nuwe situasies toe te pas (Marley e.a. 2012). Borgdorff (2011:56) verwys na die kunstenaar se stilswyende (tacit) begrip, geakkumuleerde ervaring, kundigheid en sensitiwiteit om ongekarteerde terreine te verken. Hy (Borgdorff 2011:47) maak dit duidelik dat die kunstenaar-navorser, kunspraktyk en die kunswerke in artistieke en akademiese kontekste gesitueer en ingebed (embedded) is, en dat artistieke navorsing die artikulasie van die estetiese ervaring, praktyk en kunswerke behels: “(A)rtistic research – embedded in artistic and academic contexts – is the articulation of the unreflective, non-conceptual content enclosed in aesthetic experiences, enacted in creative practices and embodied in artistic products.” Die begrip reflektiewe gesprekke (reflective conversations), wat as sowel ’n metafoor as ’n rigtinggewende beginsel van die oorkoepelende projek gesien is, steun op die konsep van reflektiewe of besinnende praktyk (reflective practice) soos uiteengesit deur Schon (1983). As sodanig was die spesifieke doelwitte van die projek onder meer om deelnemers deur middel van reflektiewe gesprekke by praktykgeleide navorsing te betrek; om ruimte te skep vir die wisselwerking en/of samewerking tussen praktyk en teorie; en om multimodale kenniskommunikasie te fasiliteer wat klem plaas op sowel versweë as eksplisiete of uitgesproke kennis. Alhoewel daar geen beperking op die soort kunswerke was nie, was dit wel belangrik dat kunstenaars die uitstalmoontlikhede van die werk, asook dokumentasiewyses in gedagte moes hou. Die uitstalling is beplan vir Junie 2013 met die galery van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus as uitstallingslokaal (Marley e.a. 2012).

Binne hierdie oorkoepelende ruimte (sowel konseptueel as konkreet) het ek as kunstenaar-navorser besluit om ’n projek oor die Mooirivier te doen waarin fotografie en teks gekombineer kon word.3 Die projek, as spesifieke toepassing van praktykgebaseerde navorsing, sou by die projektema en -titel aansluit. Deur die Mooirivier as onderwerp te gebruik, kon dit ook wat betref plek en ruimte betekenisvol wees, aangesien die werk in Potchefstroom uitgestal word en die meeste van die besoekers aan die uitstalling met die rivier vertroud is. Die rivier is letterlik en figuurlik ingebed in die omgewing en die kultuurhistoriese bewussyn van Potchefstroom en omstreke. Die rivier is die waterbron vir landbou, huishoudings en nywerhede in die streek en dorp; die rivieroewer en damme is ook gewilde ontspanningsplekke. Soos dit met die waterbronne in die res van Suid-Afrika (en die wêreld) die geval is, verkeer die rivier egter toenemend onder omgewingsdruk. ’n Kunswerk soos hierdie bied dus die moontlikheid om gesprek uit te lok en tot die groter gesprek (dié van die projek, maar ook die openbare gesprek) by te dra.

Die gedagte vir die projek het vanselfsprekend ook verband gehou met my eie belangstelling, vaardighede en ondervinding.

Preprojekbesinning oor praktyk – waaronder die identifisering van heersende vraagstukke, besorgdhede en belangstellings – vorm ’n belangrike deel van praktykgebaseerde navorsing (Schrivener en Chapman 2004).4 Alhoewel navorsingsvrae met die aanvang van ’n projek geformuleer kan word, word die kunstenaarsgemeenskap en praktykgebaseerde navorsing gekenmerk deur ontdekkende en prosesgedrewe praktyk eerder as hipotese- en antwoordgedrewe praktyk (Biggs en Büchler 2011:93; Borgdorff 2011:56). Navorsingsvrae ontstaan of verander dikwels tydens die skeppende proses en navorsing (Borgdorff 2011:56; Alander 2011:328).

Soos aangedui, vereis artistieke navorsing dat die kunstenaar-navorser die inhoud (kennis) wat in die estetiese ervaring vasgevang is, wat in kreatiewe praktyk uitgevoer (enacted) is, en wat deur die artistieke produk beliggaam word, op een of ander wyse met die relevante kontekste en toepaslike aangeleenthede in verband sal bring (Borgdorff 2011:47). Alander (2011:328) beskou die kunspraktyk en die kunswerk in dié sin as navorsingsingsdata. Die interpreterende betrokkenheid by kunsproduksie en -ervaring (Nimkulrat 2007:3) impliseer dat die kunstenaar-navorser tydens en ná afloop van die projek oor die proses, oor die produk, asook oor die verworwe insigte en oor eie denke moet besin (Schon 2001, Schrivener en Chapman 2004). Om dié rede is dokumentering ’n onmisbare aspek van praktykgebaseerde navorsing. Dokumentasie maak die kreatiewe proses meer deursigtig (Nimkulrat 2007); stel die kunstenaar-navorser in staat om tred te hou met die ontwikkeling van die projek en om vorige idees te herbesoek; en is noodsaaklik vir postprojekrefleksie.

Die projek onder bespreking is op verskeie wyses gedokumenteer. Vanaf die aanvanklike konseptualisering tot met die voltooide kunswerk het ongeveer 14 maande verloop (Maart 2012 tot Mei 2013). Die verweefde proses het ’n groot verskeidenheid aktiwiteite behels, waaronder fotografie en waarneming langs die rivier, talle gesprekke, literatuurstudie, navorsing in argiewe, bestudering van kaarte, eksperimentering met vorm en formaat, ens. Die vordering met die projek en gedagtes en refleksie hieroor is deurentyd in ’n projekjoernaal aangeteken. Alle versamelde materiaal en foto’s wat vir die projek geneem is, vorm deel van die dokumentasie. Hierbenewens is die verskillende fases van die projek in diverse formate (digitaal en fisies) bewaar. Terugvoer van besoekers (leser-deelnemers) by die uitstalling het bykomende data verskaf.

As kunstenaar-navorser het ek tydens die skeppende proses voortdurend besin oor die onderwerp en tema, my ervarings en ontdekkings, en die inhoud en formaat van die kunswerk. Ek het ook met die praktiese uitvoerbaarheid van die kunswerk geëksperimenteer en idees verken en verfyn. So het ek byvoorbeeld oorweeg hoe die rivier deur die kunswerk vergestalt kan word; of sin van plek deur die kunstenaarsboek verkonkretiseer kan word; of die kunswerk self ook plek kan word; en hoe die ervaring van die besoeker/leser van die kunswerk bepaal en beskryf kan word. Waar die refleksie of besinning tydens die proses veral met die proses en “uitvoering” van die kunswerk verband gehou het (ervaring, ontdekkings, oorweging, eksperimentering, implementering) (reflection-in-action en reflection-on-action – Schon 1983), het die meer teoretiese besinning oor spesifieke plekbegrippe hoofsaaklik ná die uitstalling van die kunswerk gevolg.

Soos dit met die ontwikkeling van die kunswerk die geval is, is die teoretiese perspektiewe met verdrag ontdek, verken en verfyn, om sodoende sleutels te bied waarmee die proses en die resultaat daarvan (die kunswerk) verstaan en verduidelik kan word.5 Die doenig wees met die Mooirivierprojek het my bewustheid van en insig met betrekking tot plek en sin van plek verhoog, uitgebrei en verdiep. Dié insig is ook gevorm deur teoretiese perspektiewe waarmee ek in dié tyd te doen gekry het. Na aanleiding van die lees van Steven Feld en Keith H. Basso se Senses of place (1996)het ek byvoorbeeld die volgende joernaalinskrywing gemaak:

Die Mooirivierprojek het my eie sin van plek uitgebrei en my meer bewus gemaak hiervan; dra by tot bewuswording van ander mense se pleksin; die projek word ’n ontdekkingsmagneet – ’n fokus; die uitstalling (boek) word ’n ruimte waarin sin van plek geskep word, en wat ook herinneringe en assosiasie kan prikkel; indien ek terugvoer van besoekers aan die uitstalling kry, kan dit verder bydra tot die weefwerk. (Projekjoernaal 27/9/2013)

Hierdie inskrywing toon ook die dinamiese wisselwerking – tussen verskillende vorme van refleksie, tussen kunstenaar en kunswerk, tussen teorie en praktyk – in die tussenruimte van praktyk.

Tydens die uitstalling (9 Mei tot 20 Junie 2013) is, in ooreenstemming met die oogmerke en kennisbestuursmodel van die oorkoepelende projek, verskeie formele en informele gespreksgeleenthede ingerig.6 Dié geleenthede het ingesluit die gebruiklike opening; ’n navorsingsgesprek waarin temas en tendense op die uitstalling geïdentifiseer en bespreek is; kunstenaarsgesprekke en lesings waar kunstenaars individueel en in groepsverband oor hulle werk gesels het; en informele gesprekke en begeleidings. Dié kunstenaarsgesprekke is bygewoon deur medekunstenaars en ‑navorsers, studente en ander belangstellendes.7 In hierdie gespreksruimte het ’n kollega die begrip bioregionalisme/bioregionaliteit onder my aandag gebring en voorgestel dat dit ’n moontlike invalshoek kan wees om na bepaalde kunswerke in die groepuitstalling te kyk. Bioregionalisme – ’n begrip, filosofie en vorm van sosiale aktivisme – beklemtoon die organiese verwantskap van sisteme (sowel natuur as kultuur) en stel ’n kleinskaalse, gedesentraliseerde en plekgebaseerde benadering tot die lewe voor (McGinnes 2005:189; vollediger bespreking van die begrip volg later in die artikel). Die beginsels en inklusiewe karakter van bioregionalisme het met my eie benadering in die projek geresoneer, en het my laat wonder of die werk, Mooirivier: weerspieëling en weerklank, as bioregionale literatuur beskou kan word en hoe die konsep verstaan en toegepas kan word.

Hierdie “vraag” en teoretiese invalshoek het interessante nuwe ondersoekmoontlikhede gebied. Deur die bestudering vanuit ’n bioregionale perspektief van ’n ander werk in die groepuitstalling (Stanley Grootboom se kunstenaarsboek-installasie Suid-Afrikaanse gêlieblik stories en liedjies) het dit geblyk dat kategorieë en begrippe wat bioregionale aangeleenthede en besorgdhede belig, inderdaad van groot waarde is vir die lees, beskrywing en bespreking van kunstenaarsboeke waarin biostreke figureer (Greyling 2014:127). Die begrip bioregionalisme het vandaar ook ’n invalshoek geword vir die besinning oor en die verstaan en kontekstualisering van my Mooirivierprojek.

Meer onlangs het ek, deur die werk van Susan Meyer (2014) en Susan Smith (2012), die waarde besef van die toepassingsmoontlikhede van die plekbegrip ingeplaastheid (emplacement) – die intieme, verdiepte (immersed) betrokkenheid by ’n plek (Smiley 1999:46; Meyer 2014:6). Waar Meyer en Smith die konsep veral gebruik om oor die ingeplaastheid van die verteller/skrywer in ’n literêre teks (prosa en poësie) te besin, het die vraag ontstaan of dié konsep kan help om die ervaring van plek van die kunstenaar asook dié van die besoeker aan / leser van die kunswerk te kan verstaan en te verduidelik. Dit is veral die konsep van ingeplaastheid wat in die volgende gedeelte van nader bekyk word.

 

3. Teoretiese raamwerk: plek, sin van plek, ingeplaastheid, bioregionaliteit

Løvlie (2009) wys daarop dat teoretici oor ruimte en plek saamstem dat plek nie slegs as ’n fisiese plek beskou moet word nie, maar ook as ’n psigologiese, sosiale en kulturele verskynsel. Die verhouding met plek word dan ook opgebou deur verskeie soorte fisiese en psigiese wisselwerkinge en assosiasies met konkrete en verbeelde plek.

Buell (2005:63) identifiseer drie dimensies van plek, naamlik die materiële dimensie (die fisiese materialiteit van die omgewing), die sosiale en kulturele dimensie (die sosiokulturele persepsie en linguistiese konstruksie van plek) en die subjektiewe dimensie (die individuele verwantskap met plek). Hierdie dimensies staan in interafhanklikheid en wisselwerking met mekaar; die individu is liggaamlik (fisies en materieel) deel van ’n plek en reageer sosiaal, kultureel, emosioneel, affektief en intellektueel daarop (Smith 2012:891).

Die mens reageer egter nie slegs op die omgewing nie, maar beïnvloed dit ook op verskeie wyses. Vanuit die sosiale wetenskappe identifiseer Jorgensen en Stedman (2006:317) drie domeine wat van belang is vir die identifisering van verbande tussen sin van plek en besondere handelinge. Dié domeine kan volgens die skrywers ook met bepaalde plekbegrippe verbind word, naamlik die kognitiewe domein (oortuigings en persepsies) met plekidentiteit; die affektiewedomein (emosies en gevoelens) met plekgehegtheid;en die konatiewe domein (gedragsintensies en toewyding) met plekafhanklikheid. Begrippe soos plekidentiteit, plekgehegtheid en plekverbondenheid impliseer ’n positiewe ervaring van en verbintenis met plek. Die ervaring van plek kan egter ook neutraal of negatief wees. Om dié rede verkies sommige skrywers die meer omsluitende term sin van plek (Trentelman 2009:201).

In die literatuur oor plek word allerweë onderskei tussen ruimte en plek. Oor die algemeen word ruimte beskou as ’n geometriese of topografiese abstraksie, terwyl plek as konkreet gesien word – die ruimte waaraan betekenis toegedig is (Buell 2005:63). Dit is hierdie “betekenis” wat met sin van plek in verband gebring kan word. Soos in die inleiding gestel, impliseer sin van plek ’n gelaagde ervaring van plek wat deur die verloop van tyd opgebou word. In hulle definisie stel Jorgensen en Stedman (2006:317) dit as “a multidimensional summary evaluation comprising place-specific beliefs (place identity), emotions (place attachment) and behavioural commitments (place dependence)”.8

Die identiteit van plek word nóú verbind met sin van plek. In sy seminale werk Place and placelessness verwys Relph (1976:47) in hierdie verband na drie komponente in Camus se werk – die fisiese omgewing, die aktiwiteite en die betekenis – as die drie basiese (en verweefde) elemente van die identiteit van plek. Dit is egter slegs die grondstof van die identiteit van plek, aangesien die minder tasbare dimensie wat dié komponente omhels/omvat ook bygevoeg moet word, naamlik sin van plek:

There is another important aspect or dimension of identity that is less tangible than these components and dialectics, yet serves to link and embrace them. This is the attribute of identity that has been variously termed “spirit of place”, “sense of place” or “genius of place” (genius loci) – all terms which refer to character or personality. Obviously the spirit of a place involves topography and appearance, economic functions and social activities, and particular significance deriving from past events and present situations – but it differs from the simple summation of these. (Relph 1976:49)

Relph (1976:49) redeneer verder dat die identiteit van en die identifisering met plek verband hou met die ervaring van binne wees en buite wees en die onderskeid tussen plekke:

The major components of the identity of place do not apply solely to places, but are to be found in some forms in all geographies, landscapes, cities, and homes. The essence of place lies not so much in these as in the experience of an “inside” that is distinct from an “outside”; more than anything else this is what sets places apart in space and defines a particular system of physical features, activities, and meanings. To be inside a place is to belong to it and to identify with it, and the more profoundly inside you are the stronger is this identity with place.

Die dualisme tussen binne en buite is egter nie so duidelik as wat dit op die oog af lyk nie, maar hou verband met ’n geestesruimte (mental space) wat as konsentriese sones van toenemende belangstelling en afnemende verbondenheid verstaan kan word (Relph 1976:49). Die gevolg is dat daar baie vlakke van “binne-in-heid” (insideness) moontlik kan wees. Aangesien ons hierdie sones saam met ons dra soos ons beweeg, is ons altyd in die middelpunt van ons perseptuele plek en daarom in ’n plek.

Vir Relph (1976:51–5) kan die gebrek aan duidelikheid in die onderskeid tussen binneheid en buiteheid gedeeltelik verstaan word as ’n funksie van die verskillende vlakke van intensiteit waarmee ons binne-in-heid en buiteheid ervaar. ’n Verskeidenheid sodanige vlakke, as min of meer kenmerkende wyses om plek te ervaar, kan onderskei word en strek oor ’n spektrum van om-buite-te-staan tot ten volle binne-in-wees: eksistensiële buiteheid, objektiewe buiteheid, toevallige buiteheid, plaasvervangende binneheid, gedragsbinneheid, empatiese binneheid, en eksistensiële binneheid (Relph 1976:51–5). Relph (1976:8–28) identifiseer ook ’n kontinuum van verskillende soorte ruimtes wat verband hou met idees, ervarings en aktiwiteite van ruimte, asook met diverse betekenis van plek. Die kontinuum strek vanaf instinktiewe, liggaamlike en onmiddellike ervarings (pragmatiese ruimte, perseptuele ruimte en eksistensiële ruimte) tot modusse van ruimtelike ervaring wat meer serebraal, ideëel en ontasbaar is (beplanningsruimte, kognitiewe ruimte en abstrakte ruimte). Genoemde ruimtelike modusse speel elkeen ’n besondere rol in alledaagse omgewing. Relph beklemtoon egter dat hierdie modusse in werklikheid nie wedersyds uitsluitend is nie, maar alles deel uitmaak van die mens se ruimtelike ervaring as ’n geleefde, onverdeelde geheel (lived, indivisible whole) (Hubert e.a. 2008:43).

Die gedagte om binne-in ’n plek te wees en dit op verskeie wyses te ervaar, word beskryf met terme soos embeddedness (ingebedheid), emplacement (ingeplaastheid), embodiment (beliggaming)en immersion (onderdompeling). Crang (1998:109) bring die konsep van ingebedde kennis (embedded knowledge) in verband met Heidegger se argument dat die mens deur in die wêreld te wees (being-in-the-world/dasein), kan dink en optree – en dat ons nie aan mense kan dink sonder om hulle as ingebed (embedded) te sien nie. Meer onlangs is die konsep van emplacement deur Casey (1996), Smiley (1999) en Buell (2005) gebruik. Die begrip word deur Russo (s.j.), Smith (2012) en Meyer (2014) met ’n ingeplaaste skryfaksie in verband gebring. Smith (2012:924) verkies om die term te vertaal met ingeplaastheid bo alternatiewe soos plekmatigheid en plekmatige skryf, om sodoende die aspek van plasing binne plekte beklemtoon.

Casey (1996:24) beklemtoon die rol van die lewende-bewegende liggaam in die proses van ingeplaastheid. Met verwysing na filosowe soos Kant, Husserl en Merleau-Ponty argumenteer Casey (1996:18) dat waarneming op die primêre vlak sinesteties van aard is (synesthetic); dat dit die verhouding van die hele liggaam as ervarend en bewegend behels, en ’n vorm van aktiewe-passiewe betekenisvorming is: “To perceive synesthetically is to be actively passive; it is to be absorptive yet constitutive, both at once.” Aangesien ons nooit sonder waarneming is nie, is die mens nooit sonder ingeplaaste ervaring nie (Casey 1996:19). Die ervaring van waarneming vereis dus ’n liggaamlike subjek wat deur waarneming in ’n plek bestaan; dit vereis ook ’n plekwat ’n eie invloed op die subjek uitoefen. Casey gebruik hier die term interanimation interanimasie. Ander aspekte van die lewende liggaam wat deel daarvan is om in ’n plek te wees (being-in-place), behels: (i) verskeie kinestesies en sinestesies waar die liggaam die sentrum van lokalisering is (field of localization); (ii) immanente liggaamlike dimensies van op/af, voor/agter, links/regs; (iii) die konkreetheid van die geleefde liggaam (lived body); (iv) ’n gegewe liggaam en gegewe ervaarde plek neig om sigself as spesifiek aan te bied; (v) die poreusheid van die vel van ’n organiese liggaam verbind die oopheid van die grense van plekke. Hierbenewens is dit volgens Casey (1996:23) nodig om die belangrike wisselwerking tussen liggaam, plek en beweging te erken. Dié beginsels is veral betekenisvol vir die projek onder bespreking. Casey onderskei tussen drie soorte liggaamlike beweging wat tersaaklik is vir plek, naamlik bly in ’n plek, beweging in ’n plek en beweging tussen plekke. Met bly in plek (stay in place) bly die liggaam op dieselfde plek, met liggaamsdele wat kan beweeg, byvoorbeeld beweging van ledemate, rotasie van die hoof, of speel met die duime. In die geval van beweging binne ’n plek (moving within a place) beweeg die hele liggaam binne ’n spesifieke plek – byvoorbeeld beweging in ’n kamer, of seremoniële handeling binne ’n plek. Beweging tussen plekke behels die beweging tussen verskillende plekke, soos reise, pelgrimstogte, emigrasies en nomadiese beweging. Die bly in ’n plek korrespondeer met posisie; beweging van die hele liggaam op een plek korrespondeer met plek (place proper) en beweging tussen plekke korrespondeer met ’n hele streek.

In aansluiting by Casey beklemtoon Smiley (1999:12, 46) die doelbewuste betrokke onderdompeling (immersion) in ’n plek. Vir hom is ingeplaastheid ’n doelbewuste daad van verbinding en herverbinding:

Emplacement is the art of connecting and reconnecting to the earth, or to the places in which we find ourselves. [...] This relation is an immersion, a tangling up of our selves with our surroundings. [...] Emplacement is becoming-aware of this immersed quality of how we are in our places, a connection. (46)

Smiley (1999:46–7) beklemtoon veral die sintuiglike ervaring van plek en die doelbewuste besinning oor en waardering van dié ervaring in reaksie op die verwydering tussen mens en omgewing in die moderne lewe:

Emplacement is a reconnection as well as a connection, a response to the disconnection that modern life has created between human beings and their earth, a striving to carry the connection further than the relationship of which we can become aware. In this sense, it is an intentional movement, like sinking oneself down into a warm bath after a hard day. We sink into the richness of our surroundings, reminding ourselves of the variety of textures and colors to be found in the world, finding out how a place touches us, hearing its whispering voices and seeing its elusive spirit.

Dié perspektief van Smiley toon ooreenkoms met Relph (1976:55) se konsep van empatiese binneheid, wat ’n doelbewuste en subjektiewe poging om waar te neem impliseer:

To be inside a place empathetically is to understand that place as rich in meaning, and hence to identify with it, for these meanings are not only linked to the experiences and symbols of those whose place it is, but also stem from one’s own experiences.

Soos reeds aangedui, vind die mens se persepsie, ervaring en konstruksie van plek in samehang met ander mense plaas en is dit ingebed in kulturele, sosiale en magstrukture (Hubbard e.a. 2004:6; Casey 1996:19); dit bly egter ook ’n persoonlike en vloeibare ervaring: “Places are thus relational and contingent, experienced and understood differently by different people; they are multiple, contested, fluid and uncertain (rather than fixed territorial units)” (Hubbard e.a. 2008:7). Mense ervaar plek saam met ander, gee op verskeie wyses saam betekenis aan plek, en beïnvloed plek op direkte en indirekte wyses, byvoorbeeld deur water op te dam, dorpe aan te lê, deur rituele handeling, om oor plek te skryf en kuns daaroor te maak (Basso 1995:57).

Buell (2005:74) se konsep van subjektiewe plekverbondenheid kan bydra tot die verstaan van plek as subjektiewe ervaring, insluitende die betekenis van geleefde ervaring en die betekenis van die artistieke weergawes van geleefde ervaring. In dié konsep onderskei Buell tussen ruimtelike en temporele dimensies van plekbewustheid en plekgehegtheid. Ruimtelike dimensies omvat: (i) konsentriese sirkels van afnemend sterk emosionele identifikasie met ’n vertroude plek, tot toenemende angs en vrees vir die onbekende (die tradisionele plekgebondenheid); (ii) veelvoudige plekgehegtheid waar ’n individu verskeie plekke bewoon (het) en daar tuis voel (modernisering); en (iii) die krag van verbeelding – die virtuele werklikhede van stories kan byvoorbeeld net so werklik as werklike ruimtes wees en kan ook verlange en lojaliteit tot gevolg hê. Vergelyk hier Relph (1976:53) se plaasvervangende binneheid wat verder aan bespreek word.

Die mens se ervaring van plek is nie los te maak van tyd en tydsverloop nie. Buell (2005:73) se onderskeid op temporele vlak behels twee aspekte, naamlik (i) die verworwe plekervaringe van ’n leeftyd wat die individu se response op ander plekke beïnvloed; (ii) plek wat deur die verloop van tyd verandering ondergaan (bv. die ontwikkeling van stede).

Die veranderende karakter van plekke deur die verloop van tyd hou, soos Relph (1976:31) aantoon, verband met die veranderings aan sowel landskappe en geboue as veranderings in ons houding. Hierdie verandering is waarskynlik meer dramaties ná ’n lang afwesigheid van ’n plek. “The places identified by any individual or culture grow, flourish, and decline as the site, activity, or buildings take on and lose significance” (Relph 1976:31). Die temporele vlak is ’n belangrike aspek van die werk onder bespreking. In hierdie geval is dit die Mooirivier as die konstante gegewe wat deur die loop van tyd verander het en betekenisverskuiwing ondergaan het – in besonder deur die direkte en indirekte invloed van die mens.

Skrywers en kunstenaars beeld op een of ander wyse die mens se verhouding met plek uit. Rose (1995:96–7) wys daarop dat ’n sin van plek deur verskillende media geartikuleer kan word, waaronder romans, skilderye, musiek, films, advertensies, beleide, landskappe (hetsy bebou of bewerk) en alledaagse gesprekke. Die uitbeelding van sin van plek is volgens Relph (1976:52) een van die doelwitte van die kunstenaar of digter wanneer ’n plek uitgebeeld word: “One purpose of the artist or poet in depicting a place is to convey something of what it is to live there, to give a sense of that place.” Relph (1976:53) se konsep van plaasvervangende binneheid wat na die tweedehandse ervaring van plekke verwys – soos in die geval waar die kunstenaar/skrywer deur die kunswerk ’n gevoel van ’n plek en hoe dit is om daar te wees of woon wil bewerkstellig – kan met die konsep van ingeplaaste skryf (Russo s.j.:2) verbind word. “Ingeplaaste skryf behels ’n aktiewe bewuswees van die self en van die plek wat op daardie oomblik fisies deur die digter se liggaam in beslag geneem word en hoe die liggaam binne die plek pas” (Smith 2012:902). In navolging van Russo (s.j.) bestudeer Smith die konsep van ingeplaaste skryf met betrekking tot die ekopoësie. Sy (Smith 2012:902) verbind die term met die drie dimensies wat Buell (2005:63) aan plek toeken:

Die term veronderstel eerstens die materiële, fisiese geplaastheid van die digter in ’n spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die digter met plek waardeur die digter in tweegesprek met plek tree; en die term maak verder ook voorsiening vir ’n taalbewuste skryfaksie, waardeur taal as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrument ingespan word en daardeur die sosiale dimensie van taal aktiveer.

Smith (2012:914) dui aan dat die ekodigter deur middel van visuele beelde en assosiasies die leser in ’n bepaalde plek plaas, wat ’n ingeplaaste leesaksie impliseer.

Alhoewel Smith op ekopoësie fokus, kan die beginsels van ingeplaaste skryf en lees ook op ander genres van toepassing gemaak word. Meyer (2014) gebruik die konsep om die ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns te ondersoek. In hierdie artikel wil ek onder meer ondersoek of my kunsprojek in terme van ingeplaaste skryf en lees verstaan kan word.

Soos in die inleiding aangedui, identifiseer Buell (2005:76–7) die herverbeelding van plaaslike plekke en die herkonseptualisering van plek op die bioregionale vlak as twee van die vernuwende aspekte in ekoskryfwerk en -kritiek. Biostreek, ’n term wat deur Berg en Dasmann (1977) ontwikkel is, word gedefinieer as ’n unieke streek met natuurlike grense en kenmerkende geografie, ekosisteme, herkenbare landvorme en unieke menslike kultuur. Die menslike kultuur behels aspekte soos grondgebruik, landbouaktiwiteite, taal, godsdienstige en kulturele praktyke, plaaslike kennis en gemeenskappe (Lynch e.a. 2012:3; McGinnes 2005:189). Bioregionale denke, die filosofiese, politiese en kulturele praktyk wat as ’n omgewingsetiek in die daaglikse aktiwiteite van gewone mense manifesteer (Lynch e.a. 2012:3), behels as ’t ware ’n perspektiefverskuiwing na plaaslike omgewings, en hoe ons kies om met die wêreld rondom ons om te gaan en ons verhouding daarmee in te dink. Die moderne bioregionalisme word op grond van kwesbaarheid, onvastheid en veranderlikheid (flux) van die tradisionele bioregionalisme onderskei (Buell 2005:88). In The bioregional imagination toon Lynch e.a. (2012:4) aan hoe die letterkunde (en by implikasie ook kuns) deel van sodanige verskuiwing is; en hoe letterkunde mense kan help om die plekke waar hulle lewe en hulle verhouding met dié plekke te herverbeel; asook hoe dit die unieke biostreekskarakter van spesifieke gemeenskappe kan weerspieël. Greyling (2014:127) meen dat kunstenaarsboeke waarin biostreke figureer, natuurlikerwys ’n kombinasie van ekologiese en kulturele faktore bevat, en dat elke sodanige kunstenaarsboek derhalwe ook die gelaagdheid van sin van plek op ’n unieke wyse sal vergestalt.

Die Mooiriviervallei kan as ’n biostreek gedefinieer word. In my projek word op die loop van die Mooirivier gekonsentreer.

 

4. Die ontdekkingsfase en kunstenaar(s) se sin van plek

“‘Emplacement’ is this intimate, immersed engagement with a place, a process and state of being ...”
(Smiley 1999:x)

Die Mooirivier ontspring in die omgewing van Koster (Mathopestad) en kronkel vir 120 km tot by die aansluiting by die Vaalrivier. Uit onderstaande bondige beskrywing van die topografie van die rivier deur Nealer (2013) is die materiële, sosiale en kulturele dimensies waarna Buell (2005:63) verwys, opvallend. Die verwysings na strukture (kanale en damme) toon byvoorbeeld die konkrete invloed van die mens op die omgewing aan, met die naamgewing wat aanduidend van kulturele en sosiale verbintenis oor die verloop van tyd is (vgl. ook Relph 1976:16 se geografiese ruimte as deel van die eksistensiële ruimte):

Die standhoudende stroom van die Mooirivier ontspring hoofsaaklik by ’n hele aantal fonteine in die dolomiet-onderlegde area rondom Mathopestad. Die fonteine kom voor op die topokadastrale plase genaamd Goedgedacht, Morgenzon, Nooitgedacht, Somerville, Welgevonden en Klerkskraal. Dit alles is grondwater (water wat onder die grond in oop- en geslote akwifere in die dolomitiese [karst-] gebied akkumuleer en graviteer) wat oor die seisoene heen deur presipitasie (reënwater) versamel. Die sterkste en belangrikste twee fonteine in die Mooirivieropvanggebied is die Bovenste Oog Fontein wat 6 km noordnoordoos van die Klerkskraaldamwal geleë is en die Gerhard Minnebron 27 km noord van Potchefstroom.

'n Kleiner stroom, die Mooirivierseloop (Wonderfonteinspruit) (erg besoedel vanaf die Wesrand), sluit ongeveer 40 km stroomaf van die Bovenste Oog by die groter stroom aan. Hierdie stroom vloei ongeveer 3 km verder stroomaf saam met die sterker stroom wat van Gerhard Minnebron afkomstig is.9

Die belangrikste sytakke van die rivier verder stroomaf, is die Wasgoedspruit, Loopspruit en Rooikraalspruit. 'n Kanaal afkomstig van die rioolverwerking- en verouderingsdamme van die Potchefstroomse Rioolwerke sluit naby die suidelike grens van die dorpsgebied aan by die Mooirivier.

Ongeveer 25 km stroomaf van Potchefstroom, sluit die Mooirivier op die plaas Kromdraai aan by die Vaalrivier. Die lengte van die Mooirivier van sy oorsprong tot by sy aansluiting met die Vaalrivier is ongeveer 120 km.

Vier staatsdamme kom in die rivierstelsel stroom-op van Potchefstroom voor, naamlik: Klerkskraaldam, Boskopdam en Potchefstroomdam asook die Klipdrifdam 26 km noordoos van Potchefstroom. Die eersgenoemde drie damme is onderling verbind deur middel van 'n sementgeboude kanaalstelsel wat deur Departement van Waterwese gebou is en deur middel van DWA servitute in stand gehou en bestuur word.

Die rivier het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van die Voortrekkers in die Transvaal en die gepaardgaande stigting en ontwikkeling van Potchefstroom. In 1838 is die eerste dorpie (Mooiriviersdorp/Potchefstroom) in die area op die wesoewer van die Mooirivier in die omgewing wat tans as Oude Dorp bekend staan, aangelê. Die terrein was egter nie geskik nie, en die nedersetting is in 1841 tien kilometer stroomaf geskuif. Die rivier was integraal aan die ontwikkeling van landbou en handel in die streek. Potchefstroom was, as die eerste hoofstad van Transvaal, op belangrike verbindingroetes geleë, met die gevolg dat handelaars en reisigers na die dorp gelok is. Die dorp en omgewing het ’n belangrike rol in die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë gespeel. Die verskuiwing van die Teologiese Skool vanaf Burgersdorp na Potchefstroom in 1905, en die ontwikkeling van die dorp as ’n akademiese sentrum, het tot gevolg gehad dat talle studente die dorp vir korter en langer tydperke as tuiste gehad het. Deur die verloop van tyd is ’n verskeidenheid nywerhede in die omgewing en dorp tot stand gebring en het verskeie gemeenskappe hulle in die dorp en langs die Mooirivier gevestig. Ook politieke ideologie het, soos verwag sou kon word, ’n ingrypende invloed op die gemeenskap en die streek gehad. In die sestigerjare van die 20ste eeu is die bruin, Indiër- en swart gemeenskappe, wat aanvanklik in Makwateng in die suide van Potchefstroom en digby die rivier gewoon het, deur gedwonge verskuiwing in nuwe woongebiede (Promosa, Mohadin en Ikageng) hervestig.

In die verlede is die Mooiriviervallei dikwels as waterryk en skilderagtig beskryf. As gevolg van onder andere mynbouaktiwiteite, verstedeliking en informele nedersettings verkeer die rivier egter toenemend onder omgewingsdruk (Annandale en Nealer 2011:111). Die gebied is stroomaf van die huidige omgewingskrisis van die Wesrand en verre Wesrand. Aspekte soos suur mynwater (gevul met soute en swaar metale), die sluiting van myne en die styging van die ondergrondse mynwater het ’n negatiewe effek op die Wonderfonteinspruit en hou gevaar vir die watergehalte van die Mooirivier in. Die benutbaarheid van landbougrond asook die drinkbaarheid van die kraanwater word onder andere deur die watergehalte beïnvloed (Gouws 2013:184). Saam met die geologies onderlegde Dolomiet, met gevolglike komplekse geohidrologie van die landskap, maak dit volgens Annandale en Nealer (2011:111) effektiewe bestuur van die fisiese omgewing dwingend noodsaaklik.

Met die Mooirivier wat so ’n integrale rol in die dorp en omgewing speel, kan dit verwag word dat die rivier sterk vereenselwig word met ’n individuele en kollektiewe sin van plek. Dit impliseer dat mense ook deur hulle handeling uitdrukking aan hierdie sin van plek gee. My gedagte was om deur my fotografering van die Mooirivier en deur versamelde literatuur as ’t ware die verskillende stemme oor die rivier en oor die verloop van die tyd te hoor en om hiermee ’n beeld van die rivier te skep.

Die hele proses was ’n ontdekkende en verrykende ervaring waartydens my kennis en ervaring van die Mooirivier en omgewing uitgebrei is, en my eie sin van plek verdiep het. Vanselfsprekend het hierdie veranderende perspektief van die kunstenaar in die tussensone van praktyk (Schon 1983) ook die vorm en inhoud van die kunswerk beïnvloed. Die doelgerigte en bewustelike waarneming kan met Smiley se beskrywing van ingeplaastheid in verband gebring word. (Dié beskrywing kom ook ooreen met Relph (1976:51–5) se konsep van empatiese binne-in wees.)

A walk through a garden is an immersion into a wealth of sensory and relational experiences of place. Plant varieties, color, texture, flowers, forms, pathways, light, benches, ornaments, and other experiential qualities of place work upon one’s consciousness to draw one into intimate contact with the place. “Emplacement” is this intimate, immersed engagement with a place, a process and state of being that erodes the boundaries we so often erect between self and environment. (Smiley 1999:x)

Die sensoriese rykdom waarna Smiley (1999:x) verwys, is inderdaad deel van die ervaring om foto’s langs die Mooirivier te neem. Oor die verloop van ’n jaar het ek foto’s geneem vanaf die bolope van die rivier tot by die monding in die Vaalrivier. Die fokus was op weerkaatsings – die vasvang van lig en beweging waaroor die fotograaf geen beheer het nie, maar slegs ’n indruk deur die kameralens kan vaslê. Foto’s soos hierdie weerkaats die kleur en teksture in die omgewing, en gee iets van die rivierhabitat weer in tekens van plant-, voël- en inseklewe. Die beweging van die water is onder andere aanduidend van die topografie en die stand van die water. Soms vang die kameralens ook voorwerpe in die water of op die bodem vas. Dié “weelde van wisselglanse” (Totius 1933:40) kan egter ook misleidend wees, deurdat die keuse van kamerahoek en die aard van fotografie nie die besoedeling (sigbaar en onsigbaar), en derhalwe die donker onderstrome (ook metafories gesproke), toon nie. Met die aanvang van die projek het ek by die lees van Totius se gedig “Dieper insig” besef dat die boek, in aansluiting by die projektitels, Reflective conversations / Weerspieëling en weerklank, letterlike en figuurlike weerkaatsings word, naamlik die weerspieëling in die water en die weerklank van al die stemme oor die dekades. Die kontras van die “weelde van wisselglanse” op die oppervlak (die foto’s) en die donker onderstroming in die inhoud van sommige tekste – én die toenemende gewaarwording van die bedreiginge vir die rivier – sou dan ook deurgaans deel van my ontdekking en ervaring van die rivier wees. Weerkaatsings, en veral in kabbelende water, versinnebeeld iets van die onstabiliteit van die mens se verhouding met plek.

Die fotografie het behels dat ek baie tyd by die rivier deurgebring het en myself kinesteties en sintuiglik in dié ruimte bevind het (vgl. Casey 1996:23 en Smiley 1999:252, 254). Met verdrag het ek bepaalde liggings langs die rivier gekies met die veronderstelling dat dit plekke is wat met ’n sterk individuele en kollektiewe sin van plek vereenselwig word. Dit het meegebring dat ek op verskeie wyses in die omgewing gereis het. Die meeste van hierdie plekke is maklik bereikbaar en vir enigiemand toeganklik. Ek het egter ook die voorreg gehad om plekke te besoek wat nie vir die algemene publiek toeganklik is nie. Die ervaring in die Mooiriviervallei kan in verband gebring word met Casey (1996:23) se begrippe van beweging – bly in ’n plek, beweeg in ’n plek, beweging tussen plekke.

Benewens my eie ontdekking van die rivier was ek geïnteresseerd in hoe ander mense oor die verloop van tyd die rivier gesien, ervaar en beskryf het – spesifiek “gewone” mense wat langs die rivier gewoon het of daaroor geskryf het. Ek wou ook meer feitelike inligting versamel oor die wisselwerking tussen die mens en rivier, byvoorbeeld hoe die rivier en rivieroewer deur die jare verander het. Ek het met baie mense oor my projek gesels – dié mense het byvoorbeeld bronne en inligting verskaf, my met ander mense in kontak gebring, hulle menings van die rivier gegee, en verdere moontlikhede vir die projek gesuggereer. Deur die besoeke en besigtiging van die plekke het ek ook verskeie mense ontmoet wat langs die rivier woon, werk en ontspan, en wat my gedeeltes van die rivier gewys en hulle ervarings van en stories oor die rivier vertel het.

Vir die doeleindes van die kunstenaarsboek het ek op skriftelike tekste gekonsentreer – spesifiek oor hoe mense die rivier ervaar het (“indrukke”) en die rivier beïnvloed het (“ingrepe”/”ingrypings”). Dié navorsing het behels dat ek heelwat tyd in argiefbewaarplekke en biblioteke deurgebring het. Pieter Aucamp (1976) se proefskrif, “Potchefstroom in die literatuur: ’n Beredeneerde bibliografiese studie 1838–1975”,was onmisbaar in dié verband. Verskeie bronne is in die argief van die universiteit se Ferdinand Postma- biblioteek opgespoor. Die dorpsmuseum se argief bevat ook ’n versameling bronne oor die omgewing; veral van groot waarde is die kopieë van plaaslike koerante soos (The) Potchefstroom Herald sedert die eerste uitgawe daarvan in Mei 1908. Die rivierervarings en -beskrywings wat gevind is, sluit reisverslae, verhale, gedigte, essays, lirieke en vertellings in verskeie tale in (Nederlands, Afrikaans, Engels en Portugees). Vir inligting oor die mens se invloed op die rivier het ek hoofsaaklik gebruik gemaak van koerantberigte en -rubrieke, inligtingstukke en navorsingsverslae oor verskeie aspekte van die Mooiriviervallei (soos historiese navorsing, navorsing oor die plant- en dierelewe, en waterstudies).

Die lees van dié groot verskeidenheid tekste het geïmpliseer dat ek myself telkens as leser binne die leef- en tekswêreld van die betrokke skrywer, teks en historiese tydperk moes voorstel. Elkeen van bogenoemde tekste bied as ’t ware ’n blik op die betrokke skrywer se ervaring van plek; van verskillende vlakke van binneheid en buiteheid (Relph 1976), die ervaring van ingeplaastheid, en die reaksie(s) (emosioneel, affektief en intellektueel – Buell 2005) op die plekervaring. Dit is ook ’n wyse van plaasvervangende binneheid waardeur die skrywer ’n bepaalde gevoel van plek wil bewerkstellig (Relph 1976:53).

Die soektog na bronne het bepaalde leemtes aan die lig gebring. Soos verwag sou kon word, is die beskikbare materiaal onder andere aanduidend van die politieke en sosiale konteks van die tyd. Ek kon byvoorbeeld weinig tekste van individue uit minderheidsgroepe opspoor.10 Wat ook opvallend is, is hoe skraal die oes aan gewone mense se aangetekende ervarings is. So kon ek slegs enkele dagboeke of briewe vind van mense wat langs die rivier gewoon het; ook mense wat vir jare in die omgewing gewoon het, het nie sulke dokumente bewaar nie. Hierdie bronne is, soos orale literatuur, waarskynlik vir altyd verlore. Dit is verder opvallend dat ek makliker eerstehandse ervarings en beskrywings voor 1920 gevind het as in die tydperke daarna. Dié waarneming hou waarskynlik verband met die afname van gepubliseerde reisjoernale met die toename van beweeglikheid van die algemene publiek. Meer onlangs het die internet en die gebruik van blogs en sosiale media die wyse geword waarop “gewone” mense hulle ervarings met ander deel. Alhoewel tekste soos hierdie wyd gelees kan word, is dit dikwels ook vervlietend van aard.

Verder is dit opmerklik dat waar sommige Potchefstroomdigters en -skrywers die rivier as stof vir hulle skryfwerk gebruik, ander plaaslike skrywers selde of glad nie na die rivier verwys nie. Sita de Kock het byvoorbeeld vir ’n groot deel van haar lewe op die plaas Hoogekraal gewoon, en het oënskynlik die Mooi- en Vaalrivier as ruimte vir haar boeke gebruik. In haar romans en kinderboeke word die plek (en riviere) egter selde by name genoem.

Die verkenning- en ontdekkingsproses het voorts behels dat ek tyd bestee het om die rivier se kontoere en topografie op kaarte na te speur – dié kaarte sluit byvoorbeeld ou atlasse, reiskaarte, skematiese voorstellinge en verskeie aanlyn kaarte in, soos Google maps wat ook satellietbeelde toon.

Dit is opmerklik hoe die besoeke aan die rivier, die ontdekking van inligting en die kenmerke ’n wisselwerkende invloed op my ervaring van plek gehad het. Die bewuswording van bepaalde aspekte van die rivier, soos die waterkanale uit verskillende tydperke, het my byvoorbeeld dié strukture op die kaarte laat soek en raaksien, en het my ook anders na die omgewing self laat kyk. Ek het hierdie ervaring herken in Relph se gedagte van die vervlegtheid van ruimtelike ervarings, spesifiek met betrekking tot die bestudering van kaarte (soos geformuleer deur Seamon en Sowers 2008:43): “[C]ognitive conceptions of space understood through maps may help to form our perceptual knowledge, which in turn may color our day-to-day spatial encounters as we move through real-world places.” Aansluitend hierby het die kennis wat ek met verloop van tyd oor die omgewing en die geskiedenis opgebou het, en die stories van oewerbewoners en die geskrewe ervarings en perspektiewe wat ek uit bronne van 170 jaar verkry het, daartoe gelei dat ek die plekke anders gesien het, en bepaalde besonderhede opgemerk het. Tesame het dit tot ’n verdigting en ’n verdieping van plek gelei. Sodoende het ek nie slegs my eie ervarings en stories opgebou het, maar kon ek ook die vele “vertellers” se stories en ervarings in herinnering roep.

Verder het ek met heelwat ander vorme van visuele materiaal te make gekry, waaronder fotomateriaal in verskillende formate, topografiese kaarte en skematiese voorstellings. Die parateks van die groot verskeidenheid publikasies het ook my ervaring verryk, byvoorbeeld die groot verskille tussen die uitleg, lettertipe en drukwerk van vroeëre teenoor meer onlangse publikasies.

Die ontdekkingsfase het daarom nie slegs vir my materiaal gegee om mee te werk nie, maar het ongetwyfeld ook tot ’n meer gelaagde sin van plek gelei. Ek het toenemend bewus geword van die uniekheid van die rivier, asook van die omgewingsdruk waaronder dit verkeer. “Mooirivier” het ’n vraag geword: “Mooi rivier?”

 

5. Vormgewing – die konkretisering – die vergestalting van sin van plek in inhoud en vorm

MOOIRIVIER: WEERSPIEËLING EN WEERKLANK

Weerkaatsings in die loop van die Mooirivier: vanaf Klipgat se droë rivierbedding en die kristalwater van Bovenste Oog tot by Kromdraai en die samevloeiing met die Vaal. Spieëlbeelde in damme, syfergate, randplasse, poele, vlakstrome, rimpelstrome, kabbelstrome, klaterstrome. Wisselglans van lig en water. April 2012 tot April 2013.

Indrukke en ingrepe.

(Aanhaling van bladsy 2, Mooirivier: weerspieëling en weerklank.)

Met die boek wou ek die rivier, die ekologiese en kulturele dimensies, konkreet uitbeeld. Hiervoor het ek op ’n konsertinagebinde formaat besluit. Konsertinaboeke (ook genoem akkordionboeke of leporellos is ’n variasie van die kodeks waarin ’n aaneenlopende papierstrook in eenhede of bladsye gevou word. Dit kan dan funksioneer as ’n boek met openinge of as ’n ongevoude aaneenlopende eenheid (Beckett 2013:65). Die boeke kan ook regop staan en aan beide kante gesien word; konsertinaboeke kan daarom ook as ’n vorm van boekbeeldhouwerk funksioneer. Afhangende van die uitstalmetode kan al die bladsye gelyktydig vertoon. Hierdie boeke word dikwels tussen twee omslae gebind en in ’n kartonhuls bewaar. Die aaneenlopende formaat maak dit onder andere geskik vir die uitbeelding van horisonne, oewers, riviere en reise. Voorbeelde hiervan is Matteo Pericoli en Paul Goldberger se kunstenaarsboeke oor Manhattan se kuslyn (Manhattan unfurled) en die oewers van die Teemsrivier in Londen (London unfurled), Edward Ruscha se Every building on the sunset strip en Bruce Serle se West Sunset Blvd Marginalia. Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Keith Dietrich maak van die konsertinaformaat en -bindmetode gebruik in sy kunstenaarsboekstel Many rivers to cross: Conflict zones, boundaries and shared waters. Dié stel bestaan uit ’n houer met vier akkordiongebinde boeke, naamlik Conflict zones, boundaries and shared waters, The Gariep River, The Vaal River, Great Fish River. In elk van die boeke is die eerste bladsy aan die voorblad gegom; die laaste bladsy pas in ’n kaartgleuf in die agterblad om sodoende ’n volledige vertoning van al die bladsye moontlik te maak. Die bladsye vertoon beelde van droë rivierbeddings en graverings van menslike organe met bykomende visuele grafiese elemente soos kolle, geometriese patrone en rooi lyne wat gelees kan word as rivierlyne wat bloedlyne uitbeeld (Dietrich 2011; www.theartistsbook.org.za).

Soos aangedui, maak die kunstenaar-navorser in die tussenruimte van praktyk bewustelik gebruik van die vermoë om op sy/haar voete te dink en om vorige ervarings in nuwe situasies toe te pas (vgl. Schon 2001). Die gedagte om ’n klankbaan by my werk in te sluit, het ontstaan toe ek tydens ’n laatmiddagstappie besef het dat die boek eintlik soos ’n rivier moet lyk en gewonder het of die konsertinaformaat wel die beste keuse is. Ek het die behoefte aan ’n vloeiender formaat aangevoel. Dit het my aan woordvloei laat dink en het tot die idee gelei om ’n klankbaan te maak met stemopnames van die woorde wat inmekaar vloei en die geruis van ’n rivier word: ’n klankbaan wat begin met ’n enkele stem, ander wat bygevoeg word en mekaar oorvleuel, maar ook met stiller gedeeltes wat strukture soos ’n dam kan voorstel (Joernaalinskrywing 11/4/2012). Die ontdekking van die aanlyn toepassings vir inligtingsvisualisering later op dieselfde dag het die gedagte laat posvat om woordbeelde van die teks te skep. Die teks kon sodoende interessanter aangebied word, impressionisties wees, by die foto’s inskakel en ook by die gedagte van ’n vloeiende klankbaan aansluit. Vervolgens is met die moontlikhede geëksperimenteer wat gelei het tot die idee om die woordbeelde aaneen te ryg om ’n rivier voor te stel (Joernaalinskrywing 11/4/2012).

Aanvanklik was my gedagte om één boek te maak. Met ’n toenemende bewuswording van die magdom fasette van die rivier het ek egter verskeie maniere oorweeg om die inligting te kombineer en ’n meer gelaagde werk te skep. Een idee was byvoorbeeld om ’n bykomende laag in die vorm van los kaarte tussen die bladsye te voeg. Aangesien min mense die vrymoedigheid sou hê of die moeite sou doen om sulke materiaal te hanteer, het ek egter hierteen besluit. Ek het dit ook oorweeg om twee boeke te maak wat verskillende aspekte van die rivier uitbeeld en wat op verskillende plekke in die galery uitgestal word, byvoorbeeld ’n boek met swart-wit foto’s met besonderheidsfoto’s van strukture en tipografie langs die Mooirivier en ’n ander met kleurfoto’s van die oeweromgewing. Hierdie vormgewing kon egter te veel na inligtingsbrosjures lyk en te ooglopend ’n boodskap oordra. Ek het gevolglik besluit om twee boeke as ’n eenheid te konseptualiseer en uit te stal. Weens dieselfde voorkant (foto’s van weerkaatsings) op die twee boeke sou die kontras tussen die boeke nie so groot wees nie, kon ’n beter eenheid bewerkstellig word, en kon die onderwerp subtieler uitgebeeld word en geleentheid vir eie interpretasie gebied word. Deur individuele foto’s en die boeke in hulle geheel spieëlbeelde van mekaar te maak, word die twee kante visueel en konseptueel “die ander kant van die storie”. Die twee boeke vertel verskillende stories oor dieselfde rivier en bied elk ’n ander perspektief op die rivier en sluit letterlik en figuurlik aan by die oorkoepelende tema (reflective conversations) (vgl. Joernaalinskrywing 28/07/2012). In die uitstalling vergestalt die twee boeke letterlik die twee kante van die rivier (“die ander kant”/”die ander kant van die storie”); om in die ruimte tussen die boeke af te loop, word as ‘t ware die ervaring om jou binne-in die rivierloop te bevind.

Die eindresultaat was ’n kunstenaarsboek-installasie wat bestaan uit twee konsertinaboeke, ’n klankbaan waarna deur middel van MP3-spelers geluister kan word, en ’n tafeltjie vir terugvoer en deelname aan ’n Mooiriviergesprek. Elke boek is saamgestel uit ’n kant bestaande uit foto’s en ’n kant bestaande uit teks. Die twee boeke, wat parallel uitgestal word, se fotosye vorm spieëlbeelde van mekaar, terwyl die rugkante met die woordteks van mekaar verskil. Die twee boeke (waarna ek as “Indrukke” en “Ingrepe” verwys) word so uitgestal dat die leser die rugkant van ’n boek kan lees en terselfdertyd die binnekant (fotosy) van die ander boek kan sien.11

Figuur2_MWW_weerkaatsingGMB

Figuur 2: Oog van Gerhard Minnebron

Figuur3_MWW_fotokant

Figuur 3: Fotokant van Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Vir die fotokant het ek, in ooreenstemming met die formaat van ’n standaardprenteboek, 32 foto’s uit die letterlik duisende foto’s gekies (figuur 2). Hierdie 32 foto’s het belangrike plekke in die loop van die Mooirivier verteenwoordig; plekke wat ook waarskynlik met die meeste assosiasies van sin van plek vereenselwig word. Met die keuse van die foto’s wou ek ook die topografiese verskeidenheid (damme, poele, oewers), die plant-, dier- en inseklewe, en seisoene uitbeeld. Dit kan byvoorbeeld gesien word in die beweging van die water, weerkaatsings van die omgewing en insekte op die wateroppervlak – soos weerspieëling van waterplante in die Bovenste Oog Fontein, vinnig vloeiende water by Oude Dorp, en die uitkringende ringe van waterhondjies in die rivier langs Meulstraat. Dié gedeelte van die werk kan dus veral met die natuurdimensie van die biostreek in verband gebring word. Die invloed van die mens op die omgewing is egter ook sigbaar, soos in die weerkaatsings van wilgertakke onder die Noordbrug, pilare van ’n winkelsentrum, palissades in die Potchefstroomdam en die weerkaatsings van plantegroei wat nie endemies is nie.

Visuele verskeidenheid, trefkrag en effek was vanselfsprekend belangrike oorwegings in die keuse van die foto’s. Die onderwerp, tekstuur en kleur van die beeldmateriaal het bepaalde visuele assosiasies meegebring. Só het die waterrimpeling in die weerkaatsing van ’n bloekomboom by Kromdraai die tekstuur van riffelglas, die spieëlbeeld van blare by die Fanie du Toitsport-terrein herinner aan tapisserie, die kabbeling by Oude Dorp aan geslypte tieroog, die kombinasie van helder vyeblare en kontrasterende takke in die Oog van Gerhard Minnebron aan gebrandskilderde glas (figuur 2), en die kleure en tekstuur van die wilgerboomtakke by die gholfbaan aan Monet se skilderye. Soos in die bespreking verderaan blyk, het laasgenoemde foto ook soortgelyke assosiasies by leser-deelnemers uitgelok. Die foto’s is in volgorde van die loop van die rivier uitgelê met die eerste foto ’n droë kuil op die plaas Klippan in die boloop van die rivier, en die laaste foto dié van die Vaalrivier waar die Mooirivier by Kromdraai uitmond (figuur 3).

Figuur4_MWW_ingrepe_uitleg

Figuur 4: Uitleg van bladsy-“Ingrepe”

Figuur5_MWW_ingrepe

Figuur 5: “Ingrepe”-kant Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Op die “ingrepe” se rugkant verskyn agter elke foto inligting oor die plek waar die foto geneem is (figure 4 en 5). Dié inligting is die GPS-koördinate, die plek waar die foto geneem is, ’n aanhaling wat oor die betrokke plek handel, en die bronverwysing. Die tekste waarin die mens se invloed op die rivier op een of ander wyse ter sprake is, kom hoofsaaklik uit koerantberigte, briewekolomme en navorsingsverslae. Inskrywings sluit onderwerpe in soos die bou van die Noordbrug (1889) en kanale uit die Boskopdam (1958), die ontstaan van diamantvelde by Rysmierbult (1927), die inwyding van wandelroetes op die rivieroewer (1994), oproepe in die briewekolom van die plaaslike koerant om die natuur te bewaar (2012), en reaksie oor mynplanne in die Klerkskraaldam-omgewing (2012). Drie gedeeltes is prosatekste van mense wat langs die rivier woon (Rysmierbult, Meulstraat, Kromdraai), waarvan twee bydraes op my versoek geskryf is.12 Eric Nealer se beskrywing van die Mooirivier is as oriëntering vir die eerste bladsy gebruik. Die tweede bladsy (die aanhaling boaan hierdie afdeling) kan as ’n titelblad beskou kan word en vorm die epiteks saam met die tweede laaste bladsy, wat erkenning gee aan elkeen wat op een of ander wyse tot die projek bygedra het. Die laaste bladsy, agter ’n foto wat op Kromdraai geneem is, handel oor die afmeting van plase in dié gedeelte van die rivier (1841).

Die “ingrepe”-gedeelte van die werk hou derhalwe veral met die kulturele dimensies van die biostreek, soos grondgebruik, landbouaktiwiteite, argitektuur, ingenieurswese en omgewingspraktyke en -aktiwiteite verband. Hierteenoor hou die “indrukke”-gedeelte en klankbaan verband met die kulturele dimensie van die biostreek, in besonder die literêre reaksie op die ervaring van die plek, en die voorstelling en interpretasie van plek (en sin van plek). Hierdie fasette blyk ook uit die gebruik van tipografie. In vergelyking met die uitleg van die “ingrepe”-kant wat geordend, sistematies en maklik leesbaar is – en waardeur die praktiese en pragmatiese verhouding van die mens met rivier vergestalt word, is die uitleg van die “indrukke”-kant visueel, impressionisties en vloeiend, wat meer met die skeppende en gevoelsmatige aspekte van die mens se verhouding met die rivier vereenselwig word.

Figuur6_MWW_woordbeeld_totius

Figuur 6: Woordbeeld: “Dieper insig” (Totius)

Vir die “indrukke”-kant het ek kort gedeeltes gekies uit die individuele ervarings en beskrywing van die rivier. Soos genoem, was die bedoeling om geskrewe indrukke oor die rivier te versamel – met ander woorde ’n literêre respons oor die ervaring van en verhouding met die Mooirivier. Dit sluit die ervaring in van “gewone” mense wat langs die rivier gewoon het, en ook dié van bekende digters en skrywers. Hierdie indrukke kom onder meer uit romans, reisjoernale, gedigte, vertellings, kortverhale en ’n sangspel. Voorbeelde van die indrukke is Thomas Baines se beskrywing van die dorpsuitleg en watervore (1869), aanhalings uit Oswald Pirow se jeugroman oor die Anglo-Boereoorlog, Piet Potlood (1948), ongepubliseerde lirieke wat Patricia Coulter as tienermeisie by die Gerhard Minnebron geskryf het (1970), Zuleikha M. Mayat se herinneringe van mense in Potchefstroom (1996) en gedigte deur onder andere T.T. Cloete, Heilna du Plooy en P.W. Buys. Aangesien ek van skriftelike tekste afhanklik was, is ’n belangrike deel van die gemeenskap en geskiedenis egter nie ingesluit nie. ’n Opgetekende mondelinge vertelling oor die waterslang van Klerkskraal (2006) het dié leemte tot ’n mate gevul. Uit die indrukke is (minstens) een inskrywing uit elke dekade vanaf 1840 tot 2013 gekies.

Van elkeen van hierdie kort indrukke is ’n “woordbeeld” gemaak. Hiervoor is ’n aanlyn inligtingsvisualiseringtoepassing, Wordle (www.wordle.net), gebruik. Dié toepassing maak gebruik van algoritmes om woorde volgens die frekwensie van gebruik uit te beeld. Die gedagte van die woordbeelde was dat prominente onderwerpe in die tekste sodoende na vore sou kom. Hiervoor het ek twee lettertipes wat in die toepassing beskikbaar is, en wat ’n ouer en nuwe tipografie verteenwoordig, gekies, naamlik Goudy Bookletter 1911, ’n serif–lettertipe, en Kenyan Coffee, ’n sans serif-lettertipe. Die kleurkombinasie van die lettertipes, eersgenoemde in swart en laasgenoemde in die mos-kleurkombinasie, sou ook visueel by die rivier aansluit.

Wordle laat die gebruiker beperkte beheer oor die uitleg toe, byvoorbeeld deur die algemene rigting van woorduitleg te bepaal of ’n alternatiewe uitleg van dieselfde gedeelte te versoek. Ek het hierdie funksie o.a. gebruik om die inhoud en visuele beeld van bepaalde indrukke met mekaar te versoen. Die vroegste inskrywing, Viator se beskrywing van sy deurtog deur die Vaalrivier, is byvoorbeeld skraal uitgelê om die begin van ’n reis, die narratief en die boek voor te stel.13 ’n Aanhaling uit Totius se gedig “Dieper insig” waarin hy oor die treurende wilgers skryf, is hoofsaaklik vertikaal uitgelê om hangende takke voor te stel (figuur 6).14 Elke woordbeeld kan dus beskou word as ’n konkrete teks waarin woord en beeld gekombineer word (vgl. Mitchell (1994) se konsep van imagetext). As sodanig kan dit in verband gebring word met konkrete poësie wat bedoel is om gelees sowel as bekyk te word (Van der Elst, 1992:230) – vergelyk die werk van Willem Boshoff en die Dadaïsme se eksperimentering met tipografie.15

Figuur7_MWW_woordrivier_indrukkejpg

Figuur 7: Die woordrivier-“Indrukke” – Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Die woordbeelde is in chronologiese volgorde met behulp van PhotoShop met mekaar verbind om ’n rivier voor te stel – ’n sogenaamde “woordrivier” (figuur 7). Ter wille daarvan dat die besoeker nie slegs ’n visuele indruk kry nie, maar ook die teks kan lees, het ek die teksgedeelte met ’n aanduiding van die skrywer en die bron onder en bo die woordrivier uitgelê. Deur dié woordrivier is die Mooirivier, in samehang met die oorkoepelende projektema, ook tipografies voorgestel. Van links na regs gelees, volg die leser die rivier chronologies en vanaf die riviermonding tot by die bolope.

Klanksnit 1: Mooirivierklankstroom

Die produksie van die klankbaan het behels dat ’n opname van elkeen van die indrukke gemaak is. Hiervoor het ek ’n verskeidenheid voorlesers betrek – ook met die doel om klankkleur te verskaf. Die voorlesers sluit in professionele stemkunstenaars soos Margot Luyt, digters soos Heilna du Plooy wat hulle eie werk gelees het, kollegas, en studente. Twee moedertaalsprekers, Daniël van Olmen en Jente Rhebergen, het die Nederlandse tekste voorgelees. Voorlesings deur Sinki Mlambo, Juwairiya Bakharia en Thulasizwe Nkosi het tot ’n mate vergoed vir die gebrek aan swart stemme in die tekste. Dié stemme wat almal oor die rivier praat, is daarna vermeng om ’n “klankstroom” te word (die “woordrivier” in klank) en so ’n ouditiewe indruk van die rivier te vorm – die vervlegting van baie stemme oor die verloop van tyd (klanksnit 1).

Klanksnit 2: “Mooirivierfragment” (komponis: Gerrit Jordaan)

Op my uitnodiging het die konsertorrelis Gerrit Jordaan ’n kort komposisie geskryf. Hierdie musiek vir klavier, “Mooirivierfragment”, is elektronies gerealiseer (klanksnit 2). Die komposisie is ’n musikale lus wat ’n paar keer met variasies herhaal word en waardeur die kontinuïteit van die stroom aangedui word. Weerspieëling word op verskeie maniere in die komposisie bewerkstellig, soos in die musiek wat tussen die pianis se twee hande uitspeel en die herhaling van klanke wat aan ’n vallende waterdruppel of ligvonkies in die water herinner (Jordaan 2013; Gouws 2013:184). Die motief “sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon” uit “My Sarie Marais” word omgekeerd in die deskant en die basgedeeltes gebruik, en word ’n “waterspieël” wat meer sê, meer vra as wat op die oppervlak sigbaar is. Die komponis wou met die donker en gevoelvolle bas betekenis gee aan die mens se drome en “ongehoorde dinge” wat saampraat as daar in die stroom gekyk word, asook die onbekende toekoms van die rivier (Gouws 2013:184).

Klanksnit 3: Mooirivierklankstroom en -fragment

Die klankopname en vermenging is deur Pieter de Bruin (in die Artema-ateljee, NWU) gedoen; ek het self hier as regisseur opgetree, met Gerrit Jordaan as gewaardeerde mederegisseur. Met die vermenging en die kombinasie van stemme, die tempo en die uitheffing van gedeeltes wat beter gehoor kan word, het die klankbaan (6:40 min.) tot ’n selfstandige narratief ontwikkel. Aangesien my aanvanklike bedoeling was om deur ’n gemurmel van stemme die klank van die rivier na te boots, was die resultaat ’n aangename verrassing. Dié Mooirivierfragment is in ’n tweede vermenging met die klankstroom gebruik, waar dit ’n bykomende dimensie aan die klankstroom gee. Die volledige klankopname bestaan uit die “Mooirivierklankstroom” (vermenging van stemme), die “Mooirivierfragment” (musiek), die kombinasie van die “Mooirivierklankstroom en -fragment” (klanksnit 3) en die individuele voorgeleeste tekste.

Figuur8_MWW_buiteblad

Figuur 8: Buiteblad

Ná verskeie proefboekies en -drukke is die finale druk- en vouwerk deur M.J. Marais van Kodak Express, Mooirivier Mall gedoen. Elkeen van die vier gedeeltes (kante) van die boek is individueel en op aaneenlopende suurvrye katoenpapier uitgedruk (8 m), en in konsertinaformaat gevou en gesny. Die twee dele van elke boek word inmekaar gevoeg om die voor- en agterkante te vorm. Populierhout, ’n spesie wat, soos die wilgerbome, met die Mooirivier vereenselwig word, is vir die buiteblaaie gebruik (figuur 8). Die dele van die boek en die buiteblad word met behulp van papierknippe aanmekaar geheg en afgerond met swart sosatiestokkies. Praktiese oorwegings het die bindmetode bepaal: dié bindmetode vermy die gebruik van gom met die risiko’s wat daarmee gepaard gaan; die papierknippe bied ’n breër basis sodat die boeke stewiger staan en beter uitgestal kan word; die knippe kan verwyder word vir netjieser bewaring van die boeke.

Die boeke word uitgestal op tafelblaaie (10 individuele tafeltjies van 120 x 30 cm) wat twee rye van 6 m elk vorm en op dun ysterpootjies 114 cm hoog staan. My gedagte met die smal en hoë uitstalblad was dat dit vir die besoekers soortgelyk kan wees daaraan om in en langs ’n rivier loop; terselfdertyd wou ek die effek van ’n swewende rivier skep – waardeur die kwesbaarheid van die rivier beklemtoon kon word.

Figuur9_mWW_tafeltjie

Figuur 9: Tafeltjie vir deelname aan die Mooiriviergesprek

’n Laaste deel van die uitstalling is ’n laer tafeltjie waar besoekers kan deelneem aan ’n Mooiriviergesprek (figuur 9). Vir dié doel is A6-kaartjies beskikbaar gestel met ’n meegaande kennisgewing waarin mense uitgenooi is om hulle bydrae te lewer. Ook op die tafeltjie was oorfone om na die klankbaan te luister, en ’n CD-boekie wat inligting oor die klankbaan, die tekste en die voorlesers bevat. Draagbare MP3-spelers met die volledige klankbaan kon by die galerytoonbank uitgeteken word. Die houertjies is – soos die boekomslae – van populierhout gemaak. Die buiteblaaie, houertjies en tafels is die werk van Hendrik Greyling; die houtblaaie is deur Mossie Greyling geverf.

 

6. Dinamiese wisselwerking in die tussenruimte van praktyk

Gedurende die proses het die verskillende dele van die werk of ontwikkeling van die werk dikwels nuwe idees gestimuleer, wat meegebring het dat ek weer by spesifieke plekke gaan foto’s neem het, verdere tekste gesoek het om ’n leemte te vul, of die uitleg herbedink het en wat die vorm beïnvloed het. Daar was eindelose kombinasiemoontlikhede om te oorweeg. Dit beteken ook dat daar voortdurend nuwe ontdekkings was wat nuwe moontlikhede en idees gestimuleer het. Tydens die laaste stadium van die vormgewing (die uitleg van die boek) het die verskillende kombinasies en die sinergie wat dit tot stand gebring het en/of wat tot stand gekom het, nuwe moontlikhede gebied. Die omgaan met en besig wees met die materiaal, metodes, gereedskap en die idees van die praktyk is inherent aan die materiële praktyk en denke wat kenmerkend van kunsskepping is (vgl. Bolt 2006; Greyling 2009:109). Dié ervaring kan as ’n ingeplaaste ervaring beskou word, waar die kunstenaar haarself konseptueel, materieel en skeppend binne-in die projek bevind.

Vervolgens bespreek ek enkele voorbeelde van hoe die verskillende dele van die werk gekombineer is en hoe dit in die tussensone van praktyk estetiese besluite beïnvloed het.

In die “indrukke”-kant word twee foto’s (bladsye) afgestaan aan die koopsentrum in Potchefstroom, die Mooirivier Mall: ’n weerkaatsing van die pilare en neonligte onderskeidelik. Agterop die foto van die weerkaatsing van die sentrum se pilare wat in die Mooirivier staan, verskyn ’n brief van T.T. Cloete uit die Potchefstroom Herald van 24 November 2006. In dié skrywe maak die akademikus en digter, en jare lange inwoner, beswaar teen die beoogde ontwikkeling:

KUNSMATIGE UITLEG NIE WARE JAKOB

Ek verwys na die onderhoud met die ontwikkelaars van die Mall in die Herald van 17 November.

Dit klink alles baie mooi, maar wat daar gesê word getuig juis van gebrek aan respek vir die kosbare natuur in die hart van ons stad.

Dit wat hulle voorgee om die natuurlike dinge te bewaar, is bolangs en ontoereikend.

Geen kunsmatige uitleg kan die natuurlike rivierlandskap vervang nie.

’n Rivier is nie net ’n stroom water nie, maar dit het ook ’n oewer en ’n oeweruitsig, wat geskend word deur wat die Engelse “sprawl” noem. Eerlik bygesê: die Mall is nie die eerste en enigste instansie wat die rivier minag nie, maar wat tans aan die gang is, is die ergste en massiefste van sy soort.

Ons word daagliks nasionaal en internasionaal gewaarsku dat sekere plant- en dierespesies uitsterf deur die menslike ontwikkeling.

Die digter Leipoldt het ’n eeu gelede reeds gevra: wat is ’n voël en wat is ’n blom teenoor die aandelemark?

Wat is ’n padda teenoor die magtige Mall? Of ’n naaldekoker?

Die tweede foto is ’n weerkaatsing van rooi neonligte tussen wilgertakke. ’n Lys voëlspesies verskyn op die rugkant. Dié lys is geneem uit ’n omgewingsimpakstudie (Bouwman 2005) wat voor die ontwikkeling van die koopsentrum onderneem is en verteenwoordig die spesies wat in dié betrokke gedeelte van die rivier voorgekom het. Ná die ontwikkeling het navorsers bevind dat voëls wat die groen soom van die rivier as navigering gebruik, deur die geboue in die rivierloop verwar word, met die gevolg dat groter roofvoëls koers verloor en oor die dorp vlieg voordat hulle weer koers kry. Dit gebeur ook dat voëls hulleself in die geboue te pletter vlieg (Bouwman 2012). Die bekommernis wat Cloete in sy brief uitgespreek het, is tot ’n groot mate daardeur bevestig. Die rooi glans in die water was dus vir my ’n simboliese keuse.

’n Tweede voorbeeld: in die “ingrepe”-boek verskyn, agterop, ’n foto wat langs ’n brug by Muiskraal geneem is, ’n koerantberiggie oor diamantvelde en -vondste by Rysmierbult uit The Potchefstroom Herald van 16 Julie 1927 (figuur 3). Die foto met ’n goudkleurige weerkaatsing is gekies om die soeke na rykdom (klatergoud) te beklemtoon. Alhoewel die berig spesifiek na Rysmierbult verwys, het ek gekies om by Rysmierbult ’n foto van ’n syferkuil (die nadraai van meer onlangse delwerybedrywighede) op P.G. du Plessis se plaas in die Rysmierbult-omgewing te gebruik. Die aanhaling op die rugkant kom uit die skrywer se kortverhaal “Vaarwel, geliefde vyand” (uit Het olifante elmboë?)en handel oor riviergrense as die grootste oorsaak van familietwiste en slegte buurskap. Op die “indrukke”-kant verskyn as deel van die woordrivier ’n tweede P.G. du Plessis-aanhaling, waarin hy ’n syferkuil beskryf.

Plek-plek hier langs die rivier is die watervlak na-aan die oppervlakte. Maak jy gate, syfer hulle vol. Nou solank jy nie die rivier verlê of stuit nie en nie pomp nie, pla dit nie vir Waterwese as jy gewese delwersgate laat ooplê vir bietjie oppervlakte-water nie. So sien jy darem bietjie water nadat Waterwese self die rivier gestuit het met ’n damwal en in steriele kanale verlê het. Sulke gate bring darem ’n bleshoender of twee terug, en nie lank nie dan’s die otters daar. Die kuile is beter as om oor ’n dorre loop sonder voëls of gediertes te moet kyk. Daarom vra die eienaars maar soms dat ’n delfgat gelos moet word sodat daar ’n syferkuil kan vorm. (“Koi is moeilikheid”, Tussen die riewe, 1997)

“Koi is moeilikheid” is een van die eerste prosatekste wat ek oor die Mooirivier gevind het. Dit was egter eers met ’n besoek aan P.G. du Plessis se plaas ’n jaar later dat ek eerstehands ervaar het hoe so ’n syferkuil lyk. Dié waarneming het daartoe gelei dat ek die Wordle-woordbeeld van hierdie aanhaling na ’n ronder vorm aangepas het, en dit langs die woordrivier uitgelê het. Sodoende is die syferkuil ook visueel uitgebeeld (figuur 4). Alhoewel die leser-deelnemer waarskynlik nie dié besonderhede en die veelvuldige verbande tussen die teks en die foto’s sal raaksien nie, was dit deel van my oorwegings met die vormgewing van die werk. Die vormgewing kan wel moontlik onbewustelik ’n rol in die leser-deelnemer se ervaring se sin van plek speel.

Ná die opname van die voorlesings en die ervaring van die redigeerproses, en die herhaaldelike beluistering van die klankbaan, het die klankbaan ’n wesenlike deel van die afronding van die boek geword, soos hierdie aantekening in my projekjoernaal getuig:

Die klankstroom beïnvloed nou (veral die einde) van die boek. Ek hoor heeltyd in my gedagtes die stemme wat voorlees” (30/3/2012). Met die luister na die klankopname (klankstroom) saam met die tipografiese woordrivier, ontdek ek ook dat ek instinktief die voorgeleesde gedeeltes in die woordbeelde soek. Hierdie soeke het saam met die klankbaan ’n voortstuwende effek bewerkstellig, en dit was asof ’n mens onwillekeurig langs die uitstalling beweeg om die woorde te volg. Dié kombinasie het voorts ’n bepaalde tempo tot gevolg en wat ook ruspouses (vir bepeinsing of meditasie?) vir die leser-luisteraar bied. Hierdie effek is veral aan die einde opvallend. Die derdelaaste voorlesing (5:18; Margo Luyt) begin met “verweg in die ooste” uit T.T. Cloete se gedig “Muishondkraal” – dié woorde, die laaste woorde van die “woordrivier”, verskyn ook in die oostekant van die boek – met die gevolg dat die leser wat die “woordrivier” volg, se liggaam en oë daarheen beweeg. In dié gedeelte word verwys na die skraal Mooirivier. Hierdie kort voorlesing word gevolg deur ’n vers van Johan de Klerk, voorgelees deur twee mansstemme wat mekaar eggo (5:33; Paul Schutte en Phil van Schalkwyk). Die kombinasie van stemme en die beklemtoning van die woorde “opdrifsels, mensgemaakte rommel, kultuurgeraamtes, afvalsloot”, gevolg deur die ironiese slotsin, “Die Mooirivier, trots van Potchefstroom”, laat dit soos ’n aanklag klink. Die klankopname eindig met langer gedeelte van ’n bepeinsende gedig deur Heilna du Plooy (6:00; voorgelees deur die digter self) wat op die tweedelaaste bladsy gedruk is, en wat meebring dat die leser-deelnemer stilstaan om die gedig te kan lees. Indien die werk op hierdie manier gelees word, word dit ’n draaiboek vir ’n opvoering (performance).Die kombinasie van die klankstroom en woordrivier het sodoende ook beweging, wat iets van die bewegende stroom naboots, tot stand gebring. (Joernaalinskrywing 31/3/2013).

Die verskillende dele – die foto’s, die indrukke en ingrypings, die stemme en musiek – kan gesien word as ’n palimpses van individuele plekervarings. In die konsertinaformaat het die bladsye letterlik en figuurlik kaatsvlakke geword. Dié ervarings weerspieël en weerklink op allerlei wyses – byvoorbeeld skrywers wat verskeie ervarings van die rivier vergelyk (toe en nou), of wat die rivier vergelyk met ander plekke (hier en daar), of verskillende perspektiewe van dieselfde plek in verskillende eras bied (bv. Muiskraal en Muishondkraal).

Ten spyte van baie besinning en oorweging is ek self meermale deur die resultaat van die samekoms van dele van die werk verras. Vir my was die ervaring om tussen die twee dele van die boek te stap byvoorbeeld asof mens binne in die rivierloop is, terwyl die besigtiging van die buitekant met ’n wandeling langs die rivieroewer vergelyk kan word. Die keuses en kombinasie van die foto’s en die uitstalformaat het byvoorbeeld tot gevolg gehad dat die rivier na gelang van watter kant mens in die rivier stap, heeltemal verskillend lyk. Met die terugkyk het dit vir my ’n soortgelyke effek gehad as toe ek foto’s langs die rivier geneem en met die wegstap en omkyk opnuut ander weerkaatsings ontdek het.

Tydens die vormgewing van die werk het ek toenemend besef dat ek slegs aspekte van die diverse dimensies van die rivier kan weergee, en dat die werk tot ’n baie groot mate ’n subjektiewe interpretasie en konstruk van die Mooirivier is. Elke keuse van die kunstenaar het ’n bepaalde effek bewerkstellig en die geheel beïnvloed. Die insluiting van ’n spesifieke foto of inskrywing beteken dat ’n ander aspek van die rivier nie uitgebeeld word nie. Ek het egter ook besef dat dit met enige kunsskepping die geval is, en dat die kunstenaar se interpretasie juis kan bydra tot die leser-deelnemer se reaksie en deelname aan die gesprek. Watter leemtes voel hulle aan? Hoe sal elkeen se eie weergawe van die rivier lyk? Hoe sou elkeen self die rivier vergestalt?

Die werk word so uitgestal dat die leser-deelnemer enige gedeelte van werk kan besigtig en self oor ’n roete kan besluit. Ek wou doelbewus nie ’n spesifieke manier van lees en ’n bepaalde besigtigingsroete voorskryf, of ’n sekere “boodskap” oordra, nie. Veel eerder wou ek die leser-deelnemer die geleentheid bied om met die verskillende fasette van die rivier kennis te maak en ’n eie indruk te vorm. As gevolg van die diverse maniere wat die leser-deelnemer kan kies om die werk te “lees”/ervaar, is bostaande “draaiboek” daarom slegs een van die talryke moontlikhede.

Met die uitstalling van die werk is dan ook voorsiening gemaak vir deelname aan die gesprek (vgl. ook Løvlie 2009 se voorstel dat die publiek met die literêre erfenis in dialoog tree, en hulle eie tekste in ’n plekgesentreerde sisteem skryf). Vir dié doel is A6-kartonkaartjies en penne op ’n tafeltjie wat deel is van die installasie, verskaf. Die uitnodiging, in die vorm van ’n woordbeeld, het nie ’n bepaalde reaksie voorgeskryf nie, maar ’n verskeidenheid moontlikhede gesuggereer: Mooirivier, indrukke, ervarings, stories, voorstelle, herinneringe, kommentaar, oorlewerings, legendes, skinderstories, aanlas, waarskuwings, beskryf, versoeke, aanlap, oorvertel, musiek, skandes, politiek, sketse, vetes, vertellings, verse, waarhede, liedjies, redekawel, liegstories, voorspellings, verwagting.

 

7. Die aanskouer-deelnemer se ervaring van sin van plek

“When places are actively sensed, the physical landscape becomes wedded to the landscape of the mind, to the roving imagination, and where the mind may lead is anybody’s guess.” (Keith Basso 1996:55)

Figuur10_MWW_ervaring

Figuur 10: Ervaring van die kunstenaarsboek-installasie in die galery

Soos my aankoms of terugkoms in ’n omgewing of plek herinnering en assosiasies kan losmaak, kan ’n kunswerk die leser-deelnemer ook op verskillende wyses prikkel. Alhoewel die kunstenaar waarskynlik sekere oogmerke met bepaalde keuses en vormgewing het, het die kunstenaar nie beheer oor die aanskouer se reaksie nie. Die uitkringende konteks van die uitstalling het vanselfsprekend ook ’n invloed op die besoeker se belewing van die werk. Hier verwys ek na die galeryruimte, die ander kunswerke en die tema van die uitstalling, maar ook na die omgewing. Mooirivier loop immers deur Potchefstroom en daarom kan aangeneem word dat die meeste besoekers aan die uitstalling in die dorp woon en eie assosiasies met die rivier het.

Die groepuitstalling Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie en tipologie het in die galery van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus plaasgevind. Kunsgalerye kan beskou word as liminale sones van tyd en plek wat besoekers in staat stel om tydelik van die alledaagse bestaan te ontkom en hulleself oop te stel vir ’n ander soort ervaring, wat ook tot nuwe en groter perspektiewe kan lei (vgl. Duncan 1995:12, 20). Vanselfsprekend sal die aard van die uitstalling, die samehang tussen kunswerke, en die ingesteldheid van die besoeker dié ervaring beïnvloed. Die organisasie van ’n museumruimte (galery in dié geval) kan gesien word as ’n soort draaiboek of scenario wat deur besoekers opgevoer (perform) word (Duncan 1995:20).

Mooirivier: Weerspieëling en weerklank is in die eerste instansie ’n kunstenaarsboek, maar dit toon ook deur die wyse van uitstalling en die gebruik van multisensoriese elemente kenmerke van installasiewerk. Installasiekuns verskil volgens Bishop (2005:6) van tradisionele media (beeldhouwerk, skilderye, fotografie en video) deurdat dit direk met die aanskouer as ’n letterlike teenwoordigheid in die ruimte kommunikeer en ’n beliggaamde (embodied) ervaring bewerkstellig:

Rather than imagining the viewer as a pair of disembodied eyes that survey the work from a distance, installation art presupposes an embodied viewer whose senses of touch, smell and sound are as heightened as their sense of vision. The insistence on the literal presence of the viewer is arguably the key characteristic of installation art.

Die aanskouer se verhouding met installasiekuns hou volgens Bishop (2005:11) onder meer verband met die idee om die besigtigende subjek te aktiveer. In stede daarvan om tekstuur, ruimte, lig en so meer te representeer (represent), presenteer (present) installasiekuns dié elemente direk, sodat die aanskouer dit self moet ervaar. Die klem is op sensoriese onmiddellikheid en fisiese deelname (soos om in en om ’n werk te loop), asook op ’n verhoogde bewussyn van ander besoekers wat deel van die kunswerk is (Bishop 2005:11). In installasiekunskontekste word na die besoeker verwys as die deelnemer-aanskouer of aanskouer-deelnemer (viewer-participant). Aangesien kunstenaarsboeke geléés word, gebruik ek die term leser-deelnemer. Soos reeds genoem, is die kunstenaarsboek-installasie so uitgestal dat besoekers aan die galery die werk van enige kant af kon benader. Die klankbaan kon by ’n vaste plek na geluister word (by die tafeltjie) of leser-deelnemers kon met behulp van draagbare MP3-spelers na die klankstroom luister terwyl hulle die uitstalling besigtig (figuur 10). Die leser-deelnemer het ook beheer gehad oor die keuse en kombinasie van die klankbaan en die besigtiging van die uitstalling. Die werk het voorts die moontlikheid gebied vir verskillende bewegings soos deur Casey (1996:23) geïdentifiseer, naamlik om by een plek stil te staan (soos wanneer ’n bepaalde aanhaling gelees word of by ’n foto stilgestaan word), beweging in die plek (soos om in die loop van die rivier te stap) en beweging tussen plekke (beweging tussen die verskillende dele van die werk). Die video-insetsel (Video 1) toon die werk binne die ruimte van die galery en die groepsuitstalling. Die Mooirivierklankstroom en -fragment is hier as klankbaan gebruik.

Video 1: Kunstenaarsboek-installasie: Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Ek het heelwat tyd by die uitstalling deurgebring en waargeneem hoe mense die “rivier” lees en ervaar. Die besoekers se bewuswording van, handeling, betrokkenheid by en reaksie op die werk kan as ’n metafoor vir die handeling ten opsigte van die Mooirivier as sodanig beskou word: waar sommige mense by die uitstalling verbygestap het om by ander werke in die galery uit te kom (soos mense – in hulle gerigtheid op iets anders in die omgewing – nie die rivier raaksien nie), het ander tyd by die uitstalling bestee – soortgelyk aan mense wat doelbewus kies om tyd by die rivier te spandeer en ten volle sensories, emosioneel en intellektueel daarop ingestel te wees (vgl. Buell, Relph en Smiley in dié verband).

Die uitstalling is deur heelparty van die mense wat op een of ander wyse by die projek betrokke was, besoek. Dit sluit mense in wat ek langs die rivier ontmoet het, skrywers en voorlesers wie se werk deel van die installasie gevorm het, asook persone wat by konkrete uitvoering van die werk betrokke was. Dit het dan ook gebeur dat ons by die uitstalling verder oor die werk en die rivier gesels het.

Video 2: Kunstenaarsgesprek

Soos genoem, het kunstenaarsgesprekke as deel van die formele program plaasgevind. Die video-insetsel van die kunstenaarsgesprek (video 2) illustreer die wisselwerking binne die oorkoepelende gespreksruimte tussen die kunswerk, die kunstenaar en die publiek.16 Die betrokke kunstenaarsgesprek is bygewoon deur studente (o.a. in skryfkuns, grafiese ontwerp en kunsgeskiedenis), medekunstenaars en ander belangstellendes. Benewens genoemde kunstenaarsgesprek het ek met ’n afsonderlike geleentheid ’n groep leerders (tussen 6 en 14 jaar oud) van ’n plaaslike laerskool na die uitstalling genooi. Nadat ek vir die skoolgroep ’n kort inleiding oor die Mooirivier gegee het, het hulle die uitstalling besigtig. Die klankbaan is vir hierdie geleentheid oor draagbare luidsprekers gespeel. Hierna het die kinders kans gekry om hulle bydraes op die kaartjies te teken en/of te skryf en ook die res van die werk in die galery te besigtig.

Dit is opvallend dat leser-deelnemers in verskillende dele van die werk geïnteresseerd was en die werk op verskillende maniere gelees en ervaar het. Sommige leser-deelnemers het byvoorbeeld op die feitelike inligting in die “ingrepe”-gedeelte, op die foto’s of die klankopname gekonsentreer. Ander het weer die hele werk sorgvuldig (en soms by meer as een geleentheid) beskou en beleef. Hierdie verskeidenheid leeswyses blyk ook uit die terugvoering en die deelname aan die Mooiriviergesprek. Leser-deelnemers het kommentaar gelewer op die kunswerk, terugvoering aan die kunstenaar gegee, en hulle eie ervarings van en idees oor die Mooirivier gedeel. Besoekers kon mekaar se bydraes lees (en het dit ook gedoen). In heelparty gevalle was die terugvoering ook tot ’n mate die voortsetting van gesprekke wat deur die loop van die projek ontstaan het, byvoorbeeld met studente wat by die kunstenaarsgesprekke was, kunstenaars wat gehelp het met die realisering van die werk, of mense wat ek langs die rivier ontmoet het.

Die bydrae op een van die kaartjies by die uitstalling lui:

The purpose of Art, lies not in the piece itself, but in the delicate bundle of memorabilia that each different viewer may carry with himself. Water to the wallflower may signify life, but water to the drowning lilypad may signify death of “too much water”. (T23)

Hierdie aanhaling oor die rol wat ’n leser-deelnemers ten opsigte van die ervaring van die kunswerk vertolk, sluit aan by Basso (1996:55) en Buell (2005:71) se siening oor die subjektiewe en onvoorspelbare aard van die ervaring van plek. Die groot verskeidenheid bydraes illustreer iets van dié persoonlike ervaring van die kunstenaarsboek-installasie. Dit blyk dat leser-deelnemers by bepaalde aspekte van die werk, soos die klankbaan, visuele aanbieding, of die inhoud, aanklank gevind het en dat dit verskillende assosiasies teweeggebring het:

Reflection is evident in every sound and every photograph. Literally a journey. (T7)

The effect of the voices running over one another served as an interesting illustration of the running of the water. The music, too contributed a rustling feeling. (T14)

Die eerste indruk was die verskillende tale wat my laat dink het aan die verskillende kulture wat langs die rivier by mekaar kom. Die vloei van die sinne in mekaar in laat my dink aan die vloei van die rivier se strome. (T15)

Leser-deelnemers het hulle ervaring van en assosiasies met die Mooirivier gedeel. Onderstaande aanhalings getuig ook van ’n persoonlike verwantskap met die Mooirivier.

Ek was mal daaroor [...] My storie by die Mooirivier is ek het met my fiets gery gegly en binne in die rivier geval sommer net so nat verder afgedryf oor die klippe. Dankie dat jy die mooiheid van die rivier uitbeeld. (T25 – 14 jaar)

Die Mooirivier is deel van elke student se studentelewe. Verlief het ek al hand aan hand langs hom gewandel tydens die lekker Potchefstroom somer. Ons het al hom bewonder met dineerokke en skemerkelkies en ander tye met binnebande op hom rondgedryf. Dankie vir die mooi uitstalling van ons gunsteling rivier. (T41)

Die kunsrivier is tuis. Op elke plek het ek al iets ervaar en het ek parallelle stories wat baie meer betekenis het. Ek is diep geraak. Dankie! (T3)

Dit blyk dat leser-deelnemers assosiasies met ander plekke en ervarings gemaak het (vgl. Buell 2005:74):

Dit is soos om op ’n soort pretrit te gaan, ek is mal oor die kultuur wat drup uit elke woord uit. Bitter kreatief en mooi. Mooirivier in KwaZulu-Natal lê my ook na aan die hart, so die titel vang my dadelik. (T18)

Kom van ’n plek af waar ’n rivier dalk net eenkeer ’n jaar loop. Om te sien hoe die “changable permenancy” vasgevang is, is ongelooflik. Die vloeiende woorde versterk die rivier se essensie wat nie in ’n blokvormige definisie gesit kan word nie. (T46)

Die kunstenaarsboek-installasie het ook assosiasies met kunswerke, letterkunde en musiek uitgelok. Van die leser-deelnemers (onder wie die leerders) se bydrae was in die vorm van tekeninge – dus self ’n vorm van kuns. Die tweede aanhaling hier onder is ’n voorbeeld van waar ’n literêre verwysing as ’n vergelykingsbasis gebruik is om die ervaring van die kunswerk te beskryf. Sien ook die verwysing na Monet verder aan.

Daar in ou Potchefstroom staan ’n ou wilgerboom met my naam in sy stam uitgesny. Die ontmoeting was so soet ... Ken jy daai boom op die Mooirivier se wal? (T34)

“And in that moment I swear we were infinite!” – Perks of being a Wallflower. Prof se Mooirivier gee my daardie gevoel. (T42)

Soos voorsien is, is daar ook leser-deelnemers wat bepaalde leemtes aangevoel het. Reaksies soos hierdie kan ook aanduidend wees van ’n diskoers wat die betrokke persoon wil voer, en wat moontlik ander besoekers aan die uitstalling aan die dink wil sit:

Waar is die wilgerbome? (T47)

I think that this project has legs. Imagine if we were to include the nonhuman agencies that comprise this world-making process. (T13)

Die uitstalling is pragtig en baie kreatief maar tipies ek (Eric) sien ek die rivier ook as een wat baie hard moet “werk”, blootgestel is aan besoedeling vanaf die Wonderfonteinspruit (Wesrand myne se afvalwater), misbruik word deur informele nedersettings by Muiskraal en Rysmierbult, afgeskeep word deur die Departement Waterwese (DWA) wat met sy sementkanaal sisteem en serwitute veronderstel is om “orde” te handhaaf, en die feit dat Potchefstroom se Tlokwe Plaaslike Munisipaliteit so passief sit en weier om verantwoordelikheid vir die totale opvanggebied te aanvaar en sodoende DWA se hand te sterk. (T12)

Ten opsigte van sy konsep van plaasvervangende binne-in-heid dui Relph (1976:53) aan dat die verbeeldingswêreld deur die vaardigheid van die kunstenaar en die leser, luisteraar of aanskouer se verbeelding en empatiese geneigdheid as werklik oorkom. Plaasvervangende binneheid is vir die “leser” die duidelikste wanneer die uitbeelding van ’n spesifieke plek ooreenkom met ons eie ervarings van bekende plekke: “we know what it is like to be there because we know what it is like to be here” (Relph 1976:53). Sommige terugvoering dui daarop dat die leser-deelnemers nie slegs die uitstalling as ’n plek ervaar het nie, maar dat dit ook inderdaad plek/rivier/Mooirivier geword het. Uit die onderstaande aanhalings is dit opvallend dat dié effek ook met multimodale ervaring van die kunstenaarsboek-installasie verband gehou het:

Die musiek vang my só goed. As jy na die musiek luister terwyl jy na die foto’s van die rivier se water kyk voel jy skoon asof jy in ’n sprokieswêreld is waar feetjies dans. (T20)

Ek ken die Mooirivier ek ken sy mooi, en ek ken hom wanneer hy kwaad is. Toe ek na die voorlesing geluister het kon ek voel hoe die woorde as ’n stroom optree en my meesleur. Sodra jy dink dis verby kom die volgende een. Soos ek na die gedigte gekyk het kon ek die rivier in die agterkant sien. Dis asof die rivier die skrywers amper betower het om te skryf en die mense wat praat nie kan help nie, so kan ek nie help om self vasgevang te word deur die magiese eggo van die rivier nie. Die klavierspel was vreeslik lig tog onheilspellend. Soos ek na dit geluister het, het ek al die donker kleure raakgesien. Elke keer dat ek ’n mooi (gemoedelike) foto van die rivier gesien het, het die gedagte (en die musiek) tot my deurgedring en gesê: “Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.” (T45)

Foto’s – indrukwekkend! Werk so goed saam met klankbaan skep die gevoel wat jy kry as jy waarlik langs die rivier staan. Sien die Mooirivier nou heeltemal anders – baie nuwe interessante inligting. Die hele dorp behoort hiervan te weet. Ons lewe immers saam met die mooirivier. Hy bly langs ons. (T28)

Dat ’n kunswerk nie noodwendig ’n persoon se verbeelding prikkel nie, blyk uit die volgende opmerking: “Dis jammer dat dit so ’n werk is wat nie tot ’n mens spreek nie. Dit laat my koud” (T32). Basso (1996:55) se aanhaling boaan dié afdeling suggereer dat hierdie gespreksgenoot nie die kunswerk as ’n plek ervaar en sintuiglik beleef het nie, of teleurgesteld was in die uitvoering van die werk. Uit die meerderheid van die bydraes blyk dit egter dat die besoekers wat die moeite gedoen het om terugvoer te gee (en sodoende as leser-deelnemers beskou kan word), ’n bepaalde ervaring van plek met betrekking tot die kunswerk beleef het, dit ook met die Mooirivier in verband gebring het, en dat die wisselwerking ook hulle ervaring van die omgewing verryk het. Onderstaande aanhalings is aanduidend daarvan dat die kunstenaarsboek-installasie op een of ander wyse dié persone se kennis van en siening oor die Mooirivier verander het:

Dis baie mooi en ek hou van die klank van die water net jammer dat die myne se vuil water daarin loop. (T24 – 11 jaar)

Die foto by die golfbaan herinner my aan Monet. Ek hou van die troebelheid van die weerkaatsings. Dit laat ’n mens self nadink oor die Mooirivier. Ek het altyd die Mooirivier as ’n lelike, besoedelde aspek van Potchefstroom gesien. Dankie dat jy vir my die mooi daarvan gewys het. (T9)`

Die Mooirivier is deel van geskiedenis, dalk die hoofrede van die bestaan van Potchefstroom, nes museums, foto’s en herinneringe het die rivier ook ’n unieke storie om te vertel, met ’n begin en ’n einde, oorvloed en droogte, “nurturing and abuse”. Nog nooit het ek aan die rivier gedink as iets wat lewe nie. Dankie vir die nuwe perspektief. (T30)

Uit die terugvoer blyk dit dat die leser-deelnemers sintuiglik, emosioneel, affektief en intellektueel op die werk gereageer het – reaksies wat ook met plekervaring vereenselwig word. Van die reaksies is aanduidend daarvan dat die installasie self ook as ’n “plek” ervaar is, en bepaalde vorme van ingeplaastheid bewerkstellig het.

Uit die terugvoering van die leser-deelnemers sou daar ook afleidings gemaak kon word oor aspekte van buiteheid of binneheid (Relph 1976:51–5) ten opsigte van die werk, asook ten opsigte van die Mooirivieromgewing. In die hibriede ruimte van die galery en kunstenaarsboek-installasie het die leser-deelnemers deur hul terugvoering – die verskeie vorme van weerspieëling en weerklank – aandeel gehad aan die skepping van die werk, die verdigting sin van plek van die kunstenaarsboek-installasie, asook dié van die biostreek.

 

8. Samevatting en gevolgtrekking

Ten slotte: hierdie installasie kan as ’n vorm van plekspesifieke kuns en letterkunde beskou word. Plekspesifieke kuns verwys gewoonlik na kuns wat vir ’n bepaalde plek geskep is (soos ’n standbeeld in ’n openbare ruimte), maar kan ook verwys na werk wat in reaksie op, of in ontmoeting met, ’n plek geskep is (Mclver 2004). Vir laasgenoemde vorm verkies Mclver (2004) die term place-responsive art. Beide vorme gaan egter van die veronderstelling uit dat die kunswerk op ’n spesifieke plek uitgestal of geïnstalleer word.

Site response in art occurs when the artist is engaged in an investigation of the site as part of the process in making the work. The investigation will take into account geography, locality, topography, community (local, historical and global), history (local, private and national). These can be considered to be “open source” – open for anyone’s use and interpretation. This process has a direct relationship to the art works made, in terms of form, materials, concept etc. Of course, artists, like anyone else, respond to these “raw materials” in individual ways. […] Along with installation, site-responsive art sometimes incorporates a live art or performative element.

Die skeppingsproses van Mooirivier: weerspieëling en weerklank het ’n eerstehandse en ingeplaaste ervaring van die kunstenaar met die konkrete omgewing, asook wisselwerking met die gemeenskap behels. Doelgerigte navorsing is gedoen oor aspekte van die geografie, topografie, plant- en dierelewe, die gemeenskap, literatuur en geskiedenis van die omgewing. Dié inligting is as oop bronne vir enige persoon of interpretasie beskikbaar. Hierdie wisselwerkende en ontdekkende proses het die konsep, vorm en materiaal van die kunswerk daadwerklik beïnvloed. Met betrekking tot die performatiewe aspek bied (en verlang) die formaat van hierdie installasie aktiewe deelname van die leser-deelnemer – wat insluit liggaamlike beweging in die ruimte, lees en interpretasie van teks, en luister na ’n klankbaan. Voorsiening is gemaak vir leser-deelnemers se individuele terugvoering, interpretasie en deelname aan die gesprek. Hierbenewens is, in samehang met die oorkoepelende projek en navorsingsdoelstellings, tydens die uitstalling kunstenaarsgesprekke gevoer en begeleiding verskaf.

Vir Mclver (2004) is plekreagerende kuns bowenal ’n betrokke kunsvorm. Die betrokke aard van plekreagerende kuns en die fokus op die plaaslike omgewing stem ooreen met die onderliggende beginsels van bioregionalisme. Lynch e.a. (1994:15) wys dan ook daarop dat bioregionale literatuur, in teenstelling met konvensionele streeksliteratuur, meer waarskynlik gerig is op diegene wat in die betrokke biostreek woon. Die werk onder bespreking sluit wat betref tema, inhoud en vorm aan by die beginsels van betrokke kuns en van bioregionalisme.

The artist is interested in what is happening, what has happened, in the place. Working in this way implies questioning, possibly rejecting, the irony and “cool” relativism of certain strains in contemporary art. The artist cannot avoid coming into contact with social, economic and cultural realities during the course of the creative process. Siteresponsive art is not necessarily making any direct comment or “telling” the audience what to think, but instead invites them to engage with the very real relationship between place and work, and inviting them to draw their own conclusions. (Mclver 2004)

Soos die terugvoering van leser-deelnemers aan die uitstalling getuig, het die kunswerk ’n bepaalde betrokkenheid met die plek self (die Mooirivier), asook eie interpretasie en gevolgtrekkings in dié verband uitgelok. Die leser-deelnemers se deelname aan die gesprek het bygedra tot ’n digter weefwerk van verskeie dimensies van die Mooirivier. Gespreksgenote het in dié sosiale konteks saam betekenis aan die plek gegee, en soos Løvlie (2009) dit stel, deelgeneem aan die kulturele prosesse waardeur menslike landskappe (en plekke) as woonplekke (dwellings) vir mense, gemeenskappe en kulture gekonstrueer word. ’n Leser-deelnemer wat tyd by Mooirivier: weerspieëling en weerklank deurgebring het, kon moontlik deur al die indrukke en stemme – ook dié van die ander deelnemers aan die gesprek – ’n “gelaagde en saamgeperste” ervaring van die biostreek (die ekologiese en kulturele dimensies) van die Mooirivier kry – en die rivier dalk opnuut sien of anders daaroor begin dink.

Die mens kan, soos Rose (1995:87) aantoon, gelyktydig in verskeie plekke wees (byvoorbeeld in ’n kamer, huis, dorp, streek, land, kontinent) en ’n gevoel van om te behoort ten opsigte van elkeen van hierdie skale ervaar. Lynch e.a. (2014:9) verwys in hierdie verband na die wêreld as “an amalgamation of infinitely complex connections among variously scaled and nested places”. In hierdie projek het ek myself gelyktydig en afwisselend in verskeie plekke bevind, en op sodanige wyse dat dit as ingeplaaste ervarings beskou kan word. Hierdie plekke en ingeplaaste ervarings sluit in (maar is nie beperk nie tot) die tussensones van praktyk en navorsing; die konseptuele ruimte van die oorkoepelende projek; die konkrete materiële biostreek van die Mooiriviervallei; plaasvervangende binneheid, waar ek myself in ander perspektiewe en tye moes indink; die konkrete skeppingsruimte van die kunswerk in wording; die kunstenaarsboek-installasie as ’n plek; en die gespreksruimte/s hierrondom.

Ten slotte kan die aktiwiteite met betrekking tot die kunstenaarsboek-installasie as ’n ingeplaaste skeppingsaksiebeskou word. Die aspekte wat Smith (2012) ten opsigte van ingeplaaste skryfaksie in verband met Buell se drie dimensies van plek bring, kan eweneens op die kunstenaar van toepassing gemaak word. In hierdie geval sou taal in ’n omvattender sin geïnterpreteer kan word en ook beeld, vorm, klank, musiek en beweging insluit. Smith (2012:902) se formulering sou dan soos volg aangepas kon word:

’n Ingeplaaste skeppingsaksie veronderstel: eerstens die materiële, fisiese geplaastheid van die kunstenaar in ’n spesifieke plek; tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die kunstenaar met plek waardeur die kunstenaar in tweegesprek met plek tree; en die term maak verder ook voorsiening vir ’n taalbewuste skeppingsaksie, waardeur taal, beeld, vorm, klank, musiek en beweging as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrumente ingespan word en daardeur die sosiale dimensie van taal (in die wyer sin beskou) aktiveer.

Eweneens kan die lees van die werk ook as ’n ingeplaaste leesaksie of ervaring beskou word. Die ingeplaaste leeservaring behels derhalwe die materiële, fisieke geplaastheid van die leser-deelnemer in ’n spesifieke plek (hierdie kunswerk – en ook die groter konteks); die persoonlike kontak van die leser-deelnemer met die werk, waar in gesprek met die plek getree word (soos ook afgelei kan word uit die terugvoering), en die sosiale en kulturele dimensie waar daar aan die groter gesprek oor die kunswerk en die rivier deelgeneem word.17

Binne die konteks van die praktykgebaseerde navorsingsbenadering en navorsingsprojek waar die kunstenaar-navorser hom of haar in die tussensone van praktyk bevind, kan die konsep van ingeplaaste skeppingsaksie ook tot ’n groot mate die ervaring en gesitueerdheid van die kunstenaar-navorser beskryf:

’n Ingeplaaste navorsingsaksie veronderstel eerstens die materiële, fisieke geplaastheid van die kunstenaar-navorser in ’n spesifieke plek (hier die tussensone van praktyk); tweedens suggereer dit die verband en persoonlike kontak van die kunstenaar-navorser met plek waardeur die kunstenaar-navorser in gesprek met plek tree; en die term maak verder ook voorsiening vir ’n taalbewuste navorsings- en skryfaksie waardeur taal, beeld, vorm, klank, musiek en beweging as sosiale waarnemings- en konstruksie-instrumente ingespan word en daardeur die sosiale dimensie van taal (in die wyer sin beskou) aktiveer.

 

9. Nawoord

Weens kunstenaarsboeke se interaktiewe aard is dit moeilik om kunstenaarsboeke te herproduseer of in ander media te representeer. Die unieke formaat en enkel- (of beperkte) kopieë van kunstenaarsboeke bring ook mee dat dit, ná ’n uitstalling in ’n openbare ruimte, tot ’n groot mate ontoeganklik is. Meer as twee jaar ná die groepsuitstallingis daar steeds navrae oor die projek en versoeke om met belangstellende groepe oor die kunswerk en die Mooirivier te kom gesels. Aangesien die installasie wat hier bespreek is, as ’n geheel uitgestal en ervaar moet word, bied dit bepaalde praktiese uitdagings. In aansluiting by my navorsing oor kunstenaarsboeke, multimodaliteit en alternatiewe publikasie­moontlikhede het ek in 2015 ’n eksperimentele video gemaak met die 32 foto’s wat in die boek gebruik is (aangevul met bykomende foto’s), gedeeltes van die tipografie van die woordrivier, en die Mooirivierklankstroom en -fragment (Video 3).18 Hierdie video is o.a. in September 2015 as deel van ’n praatjie en skyfievertoning oor die werk by ’n gasteaand van Dames Leeskring, Potchefstroom vertoon. Die installasie is ook tydens die geleentheid uitgestal. Dié uitstalling, praatjie en vertoning het tot verdere gesprekke en stories oor die biostreek gelei.

“’n Rivier is nie net ’n stroom water nie ...”

Video 3: Mooirivier: weerspieëling en weerklank

Bibliografie

Alander, A. 2011. Characteristics of visual and performing arts. In Biggs en Karlsson (reds.) 2011.

Annandale, E. en E. Nealer. 2011. Exploring aspects of the water history of the Potchefstroom region and the local management of it. New Contree, 62:111–24. http://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/6611 (15 Januarie 2013 geraadpleeg).

Aucamp, P. 1976. Potchefstroom in die literatuur: ’n Beredeneerde bibliografiese studie 18381975. Potchefstroom: PU vir CHO.

Bachelard, G. 1994 [1958]. The poetics of space. Boston, Mass.: Beacon Press.

Basso, K.H. 1996. Wisdom sits in places: Notes on a Western Apache landscape. In Feld en Basso (reds.) 1996.

Biggs, M. en D. Büchler. 2011. Communities, values, conventions and actions. In Biggs en Karlsson (reds.) 2011.

Biggs, M. en H. Karlsson (reds.). 2011. The Routledge companion to research in the arts.Londen en New York: Routledge.

Bishop, C. 2005. Installation art: A critical history. Londen: Tate Publishing.

Bolt, B. 2006. A non standard deviation: handlability, praxical knowledge and practice led research. Speculation and Innovation: Applying Practice led Research in the Creative Industries. http://www.creativityandcognition.com/resources/PBR%20Guide-1.1-2006.pdf (8 Augustus 2008 geraadpleeg).

Borgdorff, H. 2011. The production of knowledge in artistic research.In Biggs en Karlsson (reds.) 2011.

Bouwman, H. 2012. Persoonlike mededeling, 19 November.

Bouwman, H. (red.). 2005. Specialist report: Ecological baseline for the Mooirivier mall – Environmental impact assessment. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit.

Buell, L. 1995. The environmental imagination: Thoreau, nature writing, and the formation of American culture. Cambridge, Mass.: Belknap Press of Harvard University Press.

—. 2005. The future of environmental criticism: Environmental crisis and literary imagination. Malden, MA: Blackwell Publishing.

Casey, E.S. 1996. How to get from space to place in a fairly short stretch of time: phenomenological prolegomena. In Feld en Basso (reds.) 1996.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: Haum-Literêr.

Crang, M. 1998. Cultural geography. Routledge contemporary human geography series. Londen en New York: Routledge.

Dietrich, K. 2011. Many rivers to cross: Conflict zones, boundaries and shared waters. http://www.theartistsbook.org.za (12 Februarie 2015 geraadpleeg).

Drucker, J. 2004. The century of artists’ books. New York: Granary Books.

Duncan, C. 1995. Civilizing rituals: Inside public art museums. Londen: Routledge.

Feld, S. en K.H. Basso. 1996. Introduction. In Feld en Basso (reds.) 1996.

Feld, S. en K.H. Basso (reds.). 1996. Senses of place. Santa Fe, Nieu-Mexiko: School of American Research Press.

Gouws, C. 2013. Kreatiewe momente van die Mooirivier in beeld en klank saamgevat. TD The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 9(1):182–4. http://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/9065/transd_v9_n1_a11.pdf?sequence=1 (7 Desember 2013 geraadpleeg).

Greyling, F. 2009. Avontuur: ’n praktykgebaseerde verkenning van intermedialiteit en materialiteit in ’n boekprojek. Stilet, XXI(2):91–113.

—. 2014. Sin van plek en bioregionalisme: gelaagdheid in ’n kunstenaarsboek-installasie van Stanley Grootboom. South African Journal of Art History, 29(4):112–31.

Hubbard, P., R. Kitchin en G. Valentine. 2004. Key thinkers on space and place. Londen, Thousand Oaks en New Delhi: Sage.

Jordaan, G. 2013. Persoonlike mededeling, 30 Maart.

Jorgensen, B.S. en R.C. Stedman. 2006. A comparative analysis of predictors of sense of place dimensions: Attachment to, dependence on, and identification with lakeshore properties. Journal of Environmental Management, 79:316–7. http://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0301479705002501 (27 Julie 2014 geraadpleeg).

Kinoshita, K. 2012. Sense of place in artist books. Architecture and Landscape Architecture Library, University of Minnesota. University of Minnesota Libraries.

Løvlie, A.S. 2009. Poetic augmented reality: Place-bound literature in locative media. Proceedings of the 13th International MindTrek conference: Everyday life in the ubiquitous era. http://folk.uio.no/anderssl/published/Løvlie_poetic_augmented_reality_free_access.pdf (11 Februarie 2015 geraadpleeg).

Lynch, T., C. Glotfelty en K. Armbruster. 2012. Introduction. In Lynch, Glotfelty en Armbruster (reds.) 2012.

Lynch, T., C. Glotfelty en K. Armbruster (reds.). 2012. The bioregional imagination: literature, ecology, and place. Athens: The University of Georgia Press.

Marley, I., F. Greyling en R. Swanepoel. 2012. Weerspieëling en weerklank: Gesprekke oor tipografie, topografie en tipologie 2012–2014. Ongepubliseerde projekdokumentasie.

Massey, D. en P. Jess. 1995. A place in the world? Places, cultures and globalization. New York: Oxford University Press.

McGinnes, M.V. 2005. Bioregionalism. In Taylor (red.) 2005.

McIver, G. 2004. ART/SITE/CONTEXT. Site Specific Art. http://www.sitespecificart.org.uk/6.htm (31 Januarie 2015 geraadpleeg).

Meredith, D. 2005. The bioregion as a communitarian micro-region (and its limitations), Ethics, Place and Environment: A Journal of Philosophy and Geography, 8(1):83–94.

Meyer, S. 2014. Ingeplaaste skryf as vergestalting van ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns. Literator, 35(2). http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/view/1080/1502 (12 Desember 2014 geraadpleeg)

Mitchell, W. 1994. Picture Theory. Chicago: University of Chicago Press.

Nealer, E. 2013. Die Mooirivier. Persoonlike korrespondensie met navorser.

Nimkulrat, N. 2007. The role of documentation in practice-led research. Journal of Research Practice, 3(1). http://jrp.icaap.org/index.php/jrp/article/view/58/83 (8 April 2009 geraadpleeg).

Pericoli, M. en P. Goldberger. 2001. Manhattan unfurled. Londen: Random House.

—. 2012. London unfurled. Londen: Random House.

Projekjoernaal. 2012-2013. Geskep deur F. Greyling.

Raven, D. en J. Stephenson. 2001. Competence in the learning society. New York: Peter Lang. www.heacademy.ac.uk (27 Januarie 2015 geraadpleeg).

Relph, E. 1976. Place and placelessness. Londen: Pion.

Rose, G. 1995. Place and identity: a sense of place. In Massey en Jess (reds.) 1995.

Russo, L.S.J. s.j. Writing within: Notes on ecopoetics as spatial practice. How2, 3(2). http://www.asu.edu/pipercwcenter/how2journal/vol_3_no_2/ecopoetics/essays/russo.html (10 Maart 2014 geraadpleeg).

Schon, D. 1983. The reflective practitioner: How professionals think in action. New York: Basic Books.

—. 2001. The crisis of professional knowledge and the pursuit of an epistemology of practice. In Raven en Stephenson (reds.) 2001.

Scrivener, S. en P. Chapman. 2004. The practical implications of applying a theory of practice based research: a case study. Working Papers in Art and Design 3. https://www.herts.ac.uk/__data/assets/pdf_file/0019/12367/WPIAAD_vol3_scrivener_chapman.pdf (15 Mei 2010 geraadpleeg).

Seamon, D. en J. Sowers. 2008. Place and placelessness (1976): Edward Relph. In Seamon en Sowers (reds.) 2008.

Seamon, D. en J. Sowers (reds.). 2008. Key texts in human geography. Los Angeles, Londen, New Delhi, Singapore: Sage.

Smiley, S.P. 1999. Musing the garden: A poetics of space and emplacement. Ongepubliseerde DPhil-proefskrif, Departement Geografie en Antropologie, Louisiana State University.

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3): 887–928. http://litnet.co.za/assets/pdf/Smith_9_3_GW17.pdf (20 Augustus 2014 geraadpleeg).

Taylor, B. (red.). 2005. Encyclopedia of religion and nature. Londen en New York: Continuum.

Totius, 1933. Passieblomme: Verse van Totius. Bloemfontein: Nasionale Pers.

Trentelman, C.K. 2009. Place attachment and community attachment: A primer grounded in the lived experience of a community sociologist, Society & Natural Resources: An International Journal, 22:3:191–210.

Van der Elst, J. 1992. Konkrete poësie. In Cloete (red.) 1992.

Viator. 1840. Extract uit een Journaal, gehouden op een reis naar de Uitgeweken Boeren, De Zuid-Afrikaan, Vrydag 10 Junie 1840.

 

Eindnotas

1 Viator was die skryfnaam van ’n persoon wat Potchefstroom gedurende Maart 1840 besoek het. ’n Verslag van die besoek het in De Zuid-Afrikaan, 19/06/40 verskyn.

2 In installasiekunskontekste word na die besoeker verwys as die deelnemer-aanskouer of aanskouer-deelnemer (viewer-participant). Aangesien kunstenaarsboeke gelees word, word die term leser-deelnemer in die artikel gebruik.

3 Aanvanklike gedagtes (soos aangeteken in die projekjoernaal) sluit in foto’s van weerkaatsings in die Mooirivier, plekke/instansies wat met die rivier vereenselwig word, aanhalings uit verskillende tye oor die Mooirivier, die kombinasie van foto’s en aanhalings wat ironiese betekenis kry, die gebruik van kaarte, ens. ’n Lang ry foto’s is as uitstallingsmoontlikheid oorweeg. Soos die idees ontwikkel het, het ek besluit om die weerkaatsingfoto’s vanaf die bron tot by die monding in die Vaalrivier te neem en in die vorm van ’n konsertinaboek saam te bind.

4 Die projek sluit ook aan by vorige kunstenaarsboeke wat met die omgewing verband hou, naamlik AvonTUUR (Vredefortkoepel) en Tinboektoe toe.

5 Die beweegredes vir my keuse van onderwerp, ’n belangstelling in en besorgdheid oor die omgewing, ’n bewustheid van die rykdom van stories/stemme en die moontlikheid om gesprek te stimuleer, het vanselfsprekend die werk beïnvloed.

6 Die werk, Mooirivier: Weerspieëling en weerklank, is ook op 1 Oktober 2014 tydens die (ALV) Kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV), Universiteit van Pretoria uitgestal. Dit het gepaard gegaan met die aanbieding van ’n referaat (“Die konkretisering van sin van plek in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: Weerspieëling en weerklank”),waaruit hierdie artikel ontstaan het.

7 Die onderskeie kunstenaarsgesprekke is verfilm en saam met ’n video-opname van die uitstalling in ’n DVD oor die projek verpak. Dié DVD is na afloop van die uitstalling aan die deelnemers en navorsers aan die projek beskikbaar gestel.

8 Humman (aangehaal in Trentelman 2009:201) stel dit so: “[S]ense of place involves a personal orientation toward place, in which one’s understanding of place and one’s feelings about place become fused in the context of environmental meanings.”

9 Die Gerhard Minnebron is die grootste natuurlike fontein in die suidelike halfrond. Die bron, wat ongeveer 60–80 megaliter water of meer per dag lewer, is een van die primêre bronne van drinkbare water van Potchefstroom.

10 Swart mense (Tsawanasprekers), bruin mense en Indiërs wat in die omgewing en dorp woon.

11 Ek het na die twee boeke as "indrukke" en "ingrepe" verwys. Die korrekte woordkeuse vir "ingrepe" sou "ingryping/s" wees. In die bespreking van die twee kante van die boek behou ek egter die woord soos dit ook op bladsy 2 van die betrokke boekdeel verskyn (vgl. Afdeling 5)

12 Dié nuutgeskrewe tekste is ’n skets deur Mione du Toit (aangetroude kleindogter van Totius) wat jarelank op die oewer van die Mooirivier in Meulstraat gewoon het, en deur Nikki Ludwig, wat op die plaas Kromdraai woon.

13 “Wij gingen de rivier door, aan eene plaats een weinig hooger op, alwaar het byna een kwart mijl breed is, reisde in een NW rigting over eene reeks, en arriveerden in 5 uren aan den linkeroever van de Mooirivier, omtrent 16 mijlen boven derzelver vereeniging met de Geele rivier” (Viator, 1840).

14 Hoe hang die wilgers oor die water
En buig hul takke kwynend neer!
Hul sien, die arme en vreugberoofde,
Die son wat uitstraal bo hul hoofde,
Die wolkelose son nie meer. (Totius, 1933)

15 Van der Elst (1992:230) beskryf konkrete poësie as “die soort digwerk waarin die ruimtelike, akoestiese en visuele eienskappe van die taal maksimaal benut word vir die totstandkoming van die kunswerk. Die konkrete poësie wil sover moontlik alle semantiese en dekoratiewe moontlikhede van die taal ontgin. Konkrete poësie is bedoel om sowel gelees as "bekyk" te word.” Mooirivier: weerspieëling en weerklank sou daarom ook as ’n vorm van konkrete poësie beskou kan word – in hierdie geval is ek egter nie die digter nie, maar die “samesteller” van die geheel. Kunstenaarsboeke neig ook om soepel, eksperimentele en hoë spanningsverhoudings tussen woorde en beelde te vertoon (Mitchell 1994:91). Konkrete poësie, kunstenaarsboeke en installasiekuns toon verskeie ooreenkomste, soos ’n antitradisionele benadering, die multimodale aard daarvan, die eksperimentering met materiaal, tegnieke en vorme van tekstuele rangskikking, en die verwagting van dinamiese deelname van die leser/aanskouer.

16 Soos in die video gesien kan word, het ek binne-in die kunstenaarsboek-installasie gestaan en myself ook t.o.v. die fisiese werk as deiktiese sentrum geposisioneer, soos o.a. uit my bewegings in die werk en die uitwys van dele van die werk blyk.

17 Meer as twee jaar ná die uitstalling plaasgevind het, verwys mense nog na die projek, verskaf inligting en bronne, deel herinneringe aan hul eie ervaring van die rivier en doen navraag oor aspekte van die werk.

18 Vanselfsprekend het die nuwe medium ander uitdagings en moontlikhede gebied. Die volgorde van die foto’s is byvoorbeeld in enkele gevalle verander om beter by die nuwe narratief wat tot stand gekom het, te pas, en bykomende foto’s is bygevoeg.

The post Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in ’n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: weerspieëling en weerklank appeared first on LitNet.

Boekresensie: Icons - Imaging the Unseen deur Daniël Louw

$
0
0

Titel: Icons
Subtitel: Imaging the Unseen - On Beauty and Healing of Life, Body and Soul
Skrywer: Daniël Louw
Uitgewer: African Sun Media
ISBN: 1920689125

 

 

 

 

 

Daniël Louw se nuutste boek handel oor ikone en heet Icons. Imaging the Unseen. On beauty and healing of life, body and soul. (Stellenbosch: African Sun Media, 2014). Louw is ‘n deurwinterde en ervare teoloog, ‘n bekende skrywer en ‘n gerekende spesialis op sy terrein van die praktiese teologie.

Tog is die boek tekenend van ‘n ander boeiende nie-teologiese kant van sy loopbaan en lewe. Dit is ‘n boek wat om meer as een rede aandag trek: Louw skryf hierdie boek vanuit spiritualiteit as ‘n groeiende belangstellingsveld, maar hy doen dit ook aan die hand van die tema van ikone.

Dit is opmerklik - want ikone was nooit juis ‘n bekende of selfs gewilde onderwerp vir Afrikaanse gelowiges en vir Protestante nie. Trouens, ikone was vir die grootste deel van die Protestantse geskiedenis dikwels verdag. Daarom was dit ook opvallend toe John de Gruchy, ‘n ander bekende Protestantse (en gereformeerde) teoloog in ons land, ook ‘n boek oor dieselfde tema - Icons as a Means of Grace (Lux Verbi, 2011) - geskryf het. En ewe opmerklik was hoe ‘n jong teoloog-digter, Kobus van der Riet, onlangs sy debuutdigbundel met pragtige kontemporêre ikone verbind het.   

Louw se boek wys op ‘n totaal nuwe waardering vir ikone. Dit toon verder hoe Protestante se geestelike visie aan die verbreed is, want die geskiedenis van onkunde of selfs afkeer in ikone as "beelde-afgodery" in hierdie tradisie is besig om inderdaad tot ‘n einde te kom.

Daarom tel ‘n mens die boek met meer as gewone belangstelling op: hoekom begewe ‘n gereformeerde teoloog hom op die terreine van ikone en wat skryf hy daaroor? Ikone is immers ‘n hoogs gesofistikeerde onderwerp wat vra dat ‘n mens deeglik moet kennis neem van eeue se tradisies en interpretasiegeskiedenis. Dit is ‘n dapper persoon wat hierdie onderwerp aanpak.   

Triniteitsikoon (prent: wikipedia)

‘n Mens kan verstaan dat iemand soos Louw met sy aanvoeling vir die estetiese, hierdie boek skryf. Daar is beroemde ikone wat dadelik met kykers resoneer. ‘n Bekende voorbeeld is die onvergelykbare triniteitsikoon van die groot Russies-Ortodokse meester, Rublev (oor wie Tarkovsky ‘n aangrypende en mistieke film met die naam Andrei Rublev gemaak het wat deur sommige as die grootste film van alle tye beskou word). Louw bespreek hierdie ikoon op ‘n paar plekke in sy boek. In ‘n Suid-Afrikaanse konteks het Reimer oor Rublev en die triniteitsikoon ‘n boeiende artikel geskryf, terwyl die Switserse skrywer en Benediktynse priester, Gabriel Bunge, in 2007 ‘n wonderbaarlik-interessante boek daaroor vanuit die interpretasiegeskiedenis geskryf het (The Rublev Trinity; Crestwood, New York, St Vladimir’s Seminary Press). Vele ander ikone het op die manier aandag gekry.  

Maar ikone resoneer nie altyd so onmiddellik nie. Louw vra daarom pertinent die vraag: wie wil nou, wanneer moderne mense die allermooiste visuele ervaringe op die internet kan opdiep, ‘n boek skryf oor werke wat ‘n mens aan  muwwerige kloosters en afgeleefde askete sou kon laat dink (bl 17) – en boonop in ‘n tyd dat groot maatskaplike en sosiale tema’s eerder bespreek behoort te word?

Sy antwoord in hierdie boek kom met ‘n ompad, maar is heel konkreet:  hy het gesien hoe mense in ‘n afgeleë Afrika-stat met uitbundige verwondering vir die eerste keer water uit ‘n tenk as ‘n gawe van God kon tap. Hierdie wonderskone ervaring het hom met nuwe oë na die waterkrane tuis laat kyk as ‘n sakrament van goddelike voorsiening. Deur ‘n gewone, alledaagse voorwerp kan ‘n mens se oë oopgaan vir ‘n dieper waarheid en jou lewe vir altyd omkeer. ‘n Watertenk word ‘n ikoon wat ‘n mens in die teenwoordigheid van die Ander bring.

Hierdie belangrike beeld van Louw illustreer twee kernwaarhede. Die eerste een is dat ikone nie bloot net op sigwaarde bekyk kan word nie, maar ervaar moet word vir die geestelike dinamika wat daarin broei. Tweedens brei Louw die begrip "ikoon" op ‘n deurslaggewende manier uit om te beskryf hoe ‘n mens deur konkrete eenvoud in ‘n geestelike reis ingetrek kan word.

"Ikoon" beteken dus vir Louw veel meer as net ‘n kunsobjek of ‘n godsdienstige, visuele voorwerp uit die Christelike ortodokse tradisie. Dit handel baie breër oor bepaalde lewenskyk - ‘n gesig op die dieper, groter en belangriker dinge wat ‘n mens in alles om jou sou kon raaksien. Daarom gee Louw "Imaging the Unseen" aan as subtitel aan sy werk. Hoe word die onsienlike in en deur die sienlike ver-beeld?

Vandaar dat hierdie boek ‘n magdom van illustrasies en voorbeelde het.

Dit klink abstrak en kloosteragtig. Maar in werklikheid is sy benadering ‘n teken van presies dit wat ‘n magdom van mense in ons tyd in alledaagse omgang en gejaag begeer: die behoefte om verby die oppervlak en die oppervlakkige, verby die sigbare, maar ook in die eenvoud en eenvoudige, die gewone dinge van die lewe, dieper te kan sien en beleef. Uiteindelik gaan dit om die groot vraag na lewensvervulling en –vreugde: wat is die diepere wat die lewe uitmaak en wat lewe gee? En verder: Hoe word die dag se geraas tot musiek in die ore? Hoe kan ‘n mens by ander uitvind wat ikonies is?

Louw is iemand wat wel sinvol oor ikone kan praat. Hy ken boonop die kunswêreld goed. Hy skryf egter nie maar net as geestelike met ‘n by-belangstelling in kunswaardering nie. Hy ken kunsteorie, maar skryf boonop daaroor op ‘n reflekterende, konseptuele wyse.

In die proses sprei hy sy vlerke wyd. Sy boek is ‘n ryke spel van insigte uit vele vakgebiede (bv die tegnologie, kwantum-fisika) en van vele mense (bv Plato, Thomas Aquinas, Shakespeare, Nietzsche, Hammerskjöld, Dali, Sartre, Cox, Caputo en vele ander), maar dit is veel meer as net ‘n akademiese oefening. Hy staan met albei sy voete stewig in die praktyk en soek gedurig, eg-spiritueel, na die verskil wat sy teoretiese insigte maak. Daarmee kom transformasie as ‘n kernwoord uit die spiritualiteit in sy werk tot sy reg.

Op boeiende wyse word die geestelike verbind met die gewone alledaagse tegnologiese wêreld waarin ons ons bevind: Steve Jobs, skryf hy byvoorbeeld op bladsy 5, is bekend dat hy sy rekenaars ontwerp het sodat hulle voorbeelde van skoonheid word. Die dikwels dorre, saai wêreld van masjiene en blikbreine word deur Jobs bewustelik gemaak tot ‘n ruimte waarin die estetiese ‘n hoë premie geniet. Jobs, skryf Louw, word dus ‘n voorbeeld van die krag van ver-beelding: in hom herken ‘n mens homo aestheticus – die mens as skepper van skoonheid, die mens wat dieper delf en worstel met die ideaal van skoonheid. Op die manier word ‘n rekenaar, ‘n muis en ‘n sleutelbord, daaglikse gebruiksinstrumente, ikone.

Wat Jobs doen is al eeue met ons. Louw skryf oor Japannese tuine wat heel bewustelik met bepaalde tegnieke uitgelê word. Die tegnieke word gedra deur ‘n kontemplatiewe instelling: ‘n tuin is ‘n ruimte wat ‘n mens te staan bring voor die transendente, wat méér en dieper kyk as die voorhandene, die sigbare, die alledaagse, die empiriese en die blindelingse sleurgang van die lewe. In so ‘n tuin waar die kontemplatiewe beleef word, is daar skoonheid, geluk, tevredenheid en eenvoud (6-7).

Hierdie voorbeelde gebruik Louw om te wys dat selfs en veral in die konteks van die onvolmaakte, ‘n ikoniese leefstyl nodig en moontlik is: so ‘n leefstyl volg waar ‘n mens die oneindige op ‘n skeppende manier met ‘n digterlike oog soek, raaksien en uitbeeld. Die lewe in al sy eindigheid kan verbygesteek en verbygedink word om by sin uit te kom. Ten spyte van, maar, paradoksaal, ook weens lewensverveeldheid, of danksy ‘n knaende gevoel van durende betekenisloosheid, van wanhoop, van die sluipende teenwoordigheid van die dood is daar wel plek vir ‘n ikoniese leefstyl. Louw se nugtere nadenke oor die belewing van betekenis te midde van ‘n betekenis-verduisterde wêreld, word byvoorbeeld met vier boeiende vyf aangrypende voorbeelde uitgespel en verduidelik (bll.14-15). Die meditatiewe skrywer staan op hierdie bladsye met albei voete stewig op vaste grond.

Louw kan uiteindelik om ‘n ander rede met goeie reg oor ikone skryf. Hy is immers self ook bekend as ‘n skeppende kunstenaar wat konseptualiserend skilder (sien bv sy eie skildery met die bespreking daarvan op bl11, maar die boek bevat heelwat illustrasies van sy werke). Ook hier is sy dieper dink opvallend, omdat dit steeds weer berekend ingestel is op die konkrete en omvormende. Kuns, soos blyk uit hierdie boek, verryk, omvorm en verdiep beide hulle wat kuns skep én hulle wat dit ervaar. Die transformatiewe krag van kuns het konkrete, voelbare en sigbare gevolge.

Die boek se bydrae is ten slotte ook te vind in die wyse waarop godsdiens en estetika daarin met mekaar vervleg word. Teenoor ‘n oppervlakkige en sentimentele godsdiens wat op goedkoop effek en mooi-doenerigheid ingestel is, word in die werk in gesprek getree met die groot denkers oor die geestelike impak en aard van skoonheid. Die estetiese word met sentrale lewenservaringe verbind wanneer die boek uitwys hoe die estetiese juis vanuit ‘n bewussyn van eie sterflikheid en die onvermydelikheid van die dood sterker waardeer en ervaar word. In die verbintenis van die estetiese en die aaklige, word lewensbetekenis ontdek: dit gebeur wanneer mense hul ervaring bewustelik bekyk en dan deur inbeelding omvorm en herbeleef.

Terselfdertyd wys die boek daarop hoe kreatief en nuut die proses van ver-beelding kan wees. Soms gebeur ver-beelding ten spyte van of selfs teenoor kerklike tradisies. Of nog meer aangrypend is sy radikale opmerking: in vele opsigte kan kerklike tradisies die bose versinnebeeld eerder as besweer. Wanneer ‘n mens die werklikheid op ‘n nuwe wyse ervaar en inbeeld, gebeur dit dan ondanks en ten koste van verslete godsdienstige dogmas en godsdienstige magsgrepe (15).

En selfs nog sterker is sy kritiese gesprek met die teologie: die herontdekking van die estetiese en ‘n ikoniese leefinstelling, lei tot ‘n nuwe ervaring van wie God is, anders as die verslete opvatting wat God in die verlede byvoorbeeld as magtig, wraakgierig, en straffend uitbeeld. So ‘n ikoniese visie bring hoop vir en uitbundige viering van die lewe en die skepping as goed, mooi en heilig.

Hy is duidelik ook hoogs onvergenoegd met ortodokse teoloë se ernstige beheptheid met sonde, skuld en bekering en hul obsessiewe verdediging van die regte leer. Vir hom moet die teologie, ook in die oorname en omhelsing van die estetiese, eerder fokus op viering van lewe in sy volheid en van goddelike vreugde wat daarmee verbind kan word (39).

Louw se boek bring ‘n deurslaggewende tema in die godsdienstige diskoers na vore. Te lank het die (Protestantse) teologie gevoed op ‘n honger-dieet van intellektualiteit en rasionaliteit. So ‘n erflating, gevorm deur die onbehoorlike invloed van die Verligting en die vloek van die ortodoksie, het te lank geslagte van gelowige mense verarm en godsdienstige ervaring tot niet gemaak. Uiteindelik is daar die hoop dat die estetiese wat in ons tyd oorvloediglik die openbare diskoers vorm en stuur, deur sy werk weer as sentrale tema van die (Protestantse) teologie tot sy reg kom.

‘n Lang lys van voorbeelde wys hoeveel werke en denkers hulle wel met die ikoniese karakter van die estetiese besig gehou het en hoe nodig dit is om in Protestantse godsdienstige kringe daaroor na te dink. Dink maar net byvoorbeeld aan Sheila Cussons se mistieke digkuns, geskryf oor die diepsinnge aard van die mees konkrete, alledaagse dinge, en dit boonop in Afrikaans toe min Afrikaanse teoloë geweet het wat die mistiek was. Kobus van der Riet se sonnette, gedig in aansluiting by Cussons en geïllustreer met unieke ikone, het reeds twee jaar gelede hierdie tendens nog verder ontwikkel.

Hoe sterk kom ook die ikoniese en godsdiens na vore in die tydlose werke van Velasquez, in Salvador Dali se vreemd-mistieke fase, in Kandinsky en in die geniale Chagall (met sy onvergeetlike vensters in die Protestantse katedraal in die Fraumunster in Zürich – een van my geliefde pelgrimsoorde).

Snit uit Chagall se werk in die Fraumunster in Zürich (foto: www.zuerich.com)

Moderne Nederlandse en Duitse argitektuur het godsdiens en estetika op ‘n konkrete manier gekonseptualiseer en uitgedruk.

Bron: http://www.e-architect.co.uk/germany/wuensdorf-church

Die ongewone ontwerp vir die St Wuensdorf kerk in Berlyn wil die gebou met die omgewing laat saamsmelt en veral ‘n gebedsatmosfeer skep. Dit is argitektuur wat op ‘n ingrypende manier met die estetiese omgaan (sien verder hierdie artikel).

Hierdie opwindende boek bied aan ons ten einde laaste nou ‘n Suid-Afrikaanse bydrae tot die deurslaggewende rol wat die estetiese kan speel in geloofsvorming, teologie en godsdiens. Die hemel weet, tydiger kon hierdie werk nie op die toneel verskyn het nie. Daar is veel om in te haal en nog veel meer om te leer.

The post Boekresensie: Icons - Imaging the Unseen deur Daniël Louw appeared first on LitNet.

Boekresensie: Die Verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten

$
0
0

billykatz250Titel: Die verdwyning van Billy Katz
Skrywer: Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798171076

Chris Karsten het hom met sy Abel-trilogie gevestig as behorende tot 'n kleinerige topgroepie Afrikaanse spaningsverhaalskrywers. Met Die Verdwyning van Billy Katz bou hy voort op hierdie reputasie.

Sy voorkeur vir die makabere kom in Billy Katz weer na vore, hierdie keer met die raaisel oor vier voete wat in 'n plastieksak in Johannesburg se botaniese tuin gevind word. Die speurder Ella Neser het – twee Karsten-boeke later - ook genoegsaam herstel van haar onderonsies met Abel, hoewel sy die letsels nog letterlik en figuurlik dra.

Karsten het vir homself ruimte vir ekstra intrige geskep deur die storie twee dekades uit mekaar te laat afspeel en hulle dan saam te weef. Daar is die verdwyning van die rykmanseun Billy Katz in 1994, wat vervleg word met die ontdekking van vier voete in 'n plastieksak twintig jaar later. Ella is die een wat die punte bymekaar moet bring en in die proses kry sy hulp van Lou Pepler, wat betrokke was by die onopgeloste moord op Katz.

Soos met Neser, is daar ook baie vleis aan Pepler se karakter: 'n Hardekwas eksspeurder wat by tye nog bossies is oor sy wedervaringe in die Bosoorlog en homself onder beheer hou met towersampioene wat hy self kweek, tee en beetsap. Die ander hoofkarakters is Mona Pottas, haar twee dogters en haar aangenome seun Rakker, wie se tong uitgesny is en gedurig 'n waslap byderhand het vir sy kwyl.

Hulle bedryf openlik 'n begrafnisonderneming, maar om hul vroeëre blootstelling aan die uiterste geweld wat hulle moes deurmaak te wreek is hulle ook handig met die verwydering van liggaamsdele wat op aanvraag aan 'n wagtende mark se sangomas verskaf word. Harte word uitgeslag en ledemate afgesaag en om die makabere handelinge te kroon word dit vasgelê op tuisflieks waarin hulle self optree(!). Ella moet nou uitvind hoe hierdie hele legkaart inmekaar pas en of en hoe die afgekapte voete van twintig jaar tevore deel daarvan uitmaak.

Karsten het geen probleem met die skep van oorspronklike karakters en storielyne nie, want daar is ook nog die sakkeroller Attie Kieser, wat die voetevonds per ongeluk maak. Op die ou end word die hele spul met 'n skelm motorhandelaar en smokkelaars saamgeroer in 'n meesleurende spanningsverhaal vir die fynproewer.

Die redes vir Katz se verdwyning word gaandeweg ontrafel en daar is ook genoeg skiet, skop en boomklim, met Lou Pepler aan die ontvangkant. Ella slaag daarin om hom by die saak te betrek en hy vind in haar ook 'n simpatieke verpleegster in 'n verhouding wat dalk vorentoe kan blom.

Oor sy werk sê die verteller: "Karakters dryf my stories, nie gebeure nie. Ek hou veral van karakters wat bietjie afwyk van die geykte vorm en wat gedryf en gemotiveer word deur ou spoke wat soms vir hulle bekend lyk, soms onbekend." En dit werk!

Karsten is 'n uitstekende navorser wat allerlei interessanthede opdiep, hoewel hy soms te diep in sy eie navorsing verval en die pas vertraag, in welke geval jy die keuse het om te spoedlees. In Billy Katz word sonder te veel omhaal gemeld dat 'n Chileense stam die geheim van die preservering van ledemate ontrafel het 2 000 jaar voor dit in Egipte toegepas is.

So word die minderbekende feite oor Unita se plundering van Angola se renosters en olifante in die Bosoorlog en die rol van hoë SAW-figure ook by die verhaal ingesleep. En voordat dit as net nog "Boere-bashing" afgemaak word: Dit is onder meer geboekstaaf deur 'n man soos Jan Breytenbach in sy boek The Plunderers en 'n paar ander dokumente.

Afrikaanse spanningsverhale beleef 'n nuwe bloeityd wat ingelui is deur skrywers soos François Bloemhof, Chanette Paul, Piet Steyn, Peet Venter en 'n paar ander, terwyl Deon Meyer ook al verskeie oorsese pryse gewen het en Karsten dalk tans die toon aangee.

Soeke na 'n kultusfiguur

Maar ons soek nog na 'n Afrikaanse skrywer wie se speurder – man of vrou - 'n kultusfiguur word. Bloemhof het die eerste vrouespeurder (Alma van die Pool) in sy Rooi Luiperd-reeks geskep. Daarna het Meyer se Bennie Griesel en Karsten se Ella Neser gevolg, en toe Madelein Rust se baie belowende Renata Malan in Monstersaad (met 'n opvolg op pad).

In Afrikaans het ons egter nog nie 'n kultuskarakter in naastenby deselfde mate as wat geld vir speurders soos Harry Hole (Jo Nesbo), Van Veeteren (Håkan Nesser), Jack Reecher (Lee Child) en hoofspeurder Wexford (Ruth Rendell) nie.

Hul karakters is so uniek en deeglik ingeklee dat hulle net so bemarkbaar as die skrywers is en hulle seker minstens die helfte van die rede is waarom lesers hul boeke optel.

Baie van hul stories is dan ook suksesvol verfilm, hoewel 'n mens verstom staan oor die keuse van Tom Cruise om die skoene van die groot en sterk Reecher vol te staan.

Ons uitgewers voel skynbaar dat die leserspubliek nie "gesofistikeerd" genoeg is om by 'n vrou aanklank te vind nie en daarom word hulle amper as byspelers of dan medehoofspelers in hul eie stories gegiet. Feit is hulle hoef nie spiertiertjies te wees as hulle oor 'n sterk persoonlikheid beskik en die intuïsie, insigte en ontledingsvermoë van 'n manspeurder het nie.

Vir meer inligting oor die plundering van wild in die Bosoorlog, lees ook hierdie artikel.

 

The post Boekresensie: Die Verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten appeared first on LitNet.

Twintig-sestien

$
0
0

Die plek waar ek my dagtaak volvoer se deure het Vrydag reeds vir die vakansie gesluit. Vandag is dit Maandag en ek sit alleen in die koel kalmte van ’n stil kantoor om ’n laaste paar goeters en geite af te handel.

Een van hierdie lastige goeters is ’n voertuig se lisensie-hernuwing. Blykbaar het die mense met die hogere ampte êrens besluit dat die hernuwingskennisgewings vir November en Desember vanjaar nie gepos sal word nie.
Nee, as jou lisensie se hernuwingsdatum in hierdie twee maande val, dan moet jy en jou ID en bewys van adres by ’n toonbank by die munisipaliteit aanmeld om die hernuwing te doen. Of so hoor ek. Hulle sê ook nie vooraf hoeveel die affêre gaan kos nie; jy sal dit by die toonbank hoor!

En, dit geld nie net vir my nie; nee, dit geld vir honderde duisende ander mense ook. Vir my het dit egter gevoel en gelyk of hulle álmal by dieselfde kantoor as ek vanoggend aangemeld het!

So-by-so, nadat ek my kalmword-oefeninge bedink het, sit ek ook in die ry op die metaalstoele voor toonbanke een tot vyf en wag. Die ry is so lank, dit lyk asof die mislikepaliteit gratis Lotery-kaartjies uitdeel. Ons skuifel-skuifel ons agterstewes ’n stoel op ’n slag nader na die voorpunt van die ry en na slegs veertig minute, is dit my beurt. Die seun agter die toonbankglas maak nie meer oogkontak nie; hy neem die papiere wat ek saamgebring het en tik ’n slag op die rekenaar voor hom. Toe, steeds sonder om op te kyk, help hy my bloeddruk verby die kalmte-drempel tot op die rand van die helse gloed met die woorde: “ We need the company documents.”

Ek praat en beduie en vertel van die kantoor wat reeds op vakansie is, maar hy verseg daarmee dat die dokumente onvolledig is. Ek probeer ’n wyer en pragmatiese oorredingshoek en gryp selfs na die onbekwaamheid van die regering ... maar niks help nie.

Toe kyk hy eindelik op en sê: “ Sir, I’m just doing my job ... next please.”

Met die uitstap verby die ander toonbanke sien ek ’n duidelike inligtingsblad teen die muur wat al die vereistes vir hierdie hernuwing bevat. Inligting en dokumente wat ek sou kon saambring en die storie afhandel, indien ek dit eers gelees het.

Gister was kerkdag.

’n Oom en tante wat ek van sien ken en hulle seker vir my, wil verby my skuif om ook ’n sitplek op die bank te kry. Ek staan op en terwyl hy my groet, stel die oom hom sommer ook aan my voor.
Ek sê “dankie, maar ek weet wie oom is.”

“O,” sê hy terwyl hy met sy grys pak klere verby my skuif. Hy gaan sit hier neffens my en asof hy dringend ’n verskoning vir hierdie oorsig van êrens af moet uitgrawe, kon hy net met “dis maar die ouderdom wat mens laat vergeet” na vore. “Jy sal eendag sien wat ek bedoel; jy’s vinniger daar as wat jy dink.”

Terwyl die gemeente met die voorsang begin en ek sing sonder om aan die woorde van die lied te dink, draf daar ’n paar aweregse gedagtes deur my gemoed.

Die oom in sy ou Trustbank-pak en staatsdienskuif kon darem beter as dit gedoen het; verwens hy my omdat ek as middeljarige moontlik nog my volle denke tot my beskikking het, of waarsku hy my dat ek ook binnekort op sy deel van die kerkbank sal sit en wonder vanwaar ek die jongman langs my ken?

’n Kollega sê altyd dat ’n lukrake aanname nie kwansuis die regte opsomming van ’n gebeurtenis of situasie is nie. Dat ons aannames soms so deurspek is met die vooroordeel, dat dít wat ons sien en dít wat is, twee vreemde leeus se welpies is. ’n Resep vir kwaadaardigheid as jy my nou vra.

Twintig-vyftien skuur nou soos ’n pasgelande valskermspringer tot sy einde. Wanneer die kalenderjaar tot stilstand kom en die seil oor die nuwe jaar weggetrek word, dan sal sommige van ons die volgende dag betree asof ons onder ’n koma ontwaak het en nou die ganse wêreld in ’n nuwe lig wil sien en met ’n vars lus die sogenaamde nuwe jaar wil aanpak ...

Net om die sooibrand en ongesteldheid van die werklikheid van ons bestaan na die eerste week te ervaar ...

As ek behoorlik wou lees en luister, dan sou hierdie dag en gister vir my soveel meer aangenaam gewees het. Dan sou ek met die eerste probeerslag ’n lisensie gekry het en sou ek nie met die tweede wagslag (2-ure later) die einste toonbankklerk om verskoning vir my optrede moes vra nie. Sou my dag meer produktief gewees het en syne minder traumaties.

Dan sou ek die woorde van die voorsang kon inneem en sou ek Sy lofprysing en aanbidding werklik kon meeleef, in pleks daarvan om met ’n gemoedsbekakking te stoei.
“Skuus oom, jou hare lyk nie staatsdiensagtig nie, alhoewel die grys pak dit steeds nie vir my doen nie!”

Dit bring my by die wense vir myself vir twintig-sestien en die res van vandag ...

“myself, maak skoon jou kop,
maak oop jou oë,
luister vir jou hart
en vergeet van die datums in jou ID-boek.”

The post Twintig-sestien appeared first on LitNet.

Uitgedien

$
0
0
Daar word steeds met eindelose geduld geluister na die preke, maar daar kan gerus nou redes verstrek word vir die treurmares.
 
CM

The post Uitgedien appeared first on LitNet.

Viewing all 21593 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>