Gebore en getoë
SJ (Fanie) Naudé is in 1970 gebore, die derde van vier kinders, kleinseun en naamgenoot van Fanie Naudé, een van die stigtersdirekteure van Volkskas Bank. Hy het twee ouer susters en ’n jonger broer.
Hy word groot in Pretoria, in Lukasrand, wat eintlik ’n Joodse woonbuurt was. Hulle was die enigste Afrikaanse gesin in die buurt. “Dit was die spreekwoordelike groen voorstad: pragtige tuine, jakarandas langs die strate, rooi grond en rotse,” vertel Fanie aan Elmari Rautenbach (Die Burger, 18 November 2011)
Sy pa, Stef, was ’n bekende regsgeleerde wat vandag afgetree is en in Waterkloof woon. Sy ma, Santjie, was ’n wiskunde-onderwyseres en is in 2010 aan kanker dood. Fanie se aangetrokkenheid tot taal en die "ryk, menslike nuanses" daarvan het sy oorsprong in sy ouerhuis gehad waar hy in ’n geborge omgewing grootgeword het.
Toe hy agt jaar oud was, het Fanie voor ’n boekrak in sy ouerhuis gestaan en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins uitgetrek. “Ek het min daarvan verstaan, maar ek het die drang gevoel om dit te lees,” vertel hy in 2012 aan Hanlie Retief. “En die boek het beslis op ’n manier sy merk gelaat.”
Die jong Fanie het die Sestigers een vir een in die boekrak ontdek. “Daar was iets opwindends aan hulle, Leroux en Barnard en Aucamp. Die Sestigers het ’n reuse-invloed op my gehad. Van: Dís hoe mens opwindend kan skrywe. Dis die eerste keer dat ek adrenalien ervaar het by die lees van boeke.”
Sy kinderjare was ’n lewe van min onmin. “Ek het goed met my ouers oor die weg gekom, was heel verbaal en het die swemspan gehaal. Nietemin het ek dit as ’n vreemde, afgeslote bestaan ervaar. As hoërskoolkind in die laat tagtigs het ek van die begin af aan my ontsnappingsprojek gewerk.”
Hy onthou wintersmiddae se witgerypte grasperke, Sondagmiddae se doodse stilte. En: patologiese verveling. Die wêreld van sy kinderdae was die “benouende sosiaal-kulturele een van die 70’s en 80’s”.
Hy het die Afrikaanse skoolpad geloop van Pretoria se oostelike voorstede en was by Afrikaans Hoër “waarskynlik ’n redelike standaard-produk,” vertel hy aan Hanlie Retief (Rapport, 16 Junie 2012). “Maar ek het nie heeltemal tuis gevoel nie, daar het altyd iets gehaper, van life is elsewhere.”
Verdere studie en werk
Ná skool is Fanie na die Universiteit van Pretoria, waar hy in die regte gestudeer het. Tuks was egter net sy “ontsnappingsprojek”, sy kaartjie wég. Ná sy regsgraad aan Tuks word die Prokureursorde se beurs aan hom toegeken om aan die Universiteit van Cambridge in Engeland sy LLM te doen. Met sy vertrek was hy vas van plan dat sy verblyf oorsee permanent sou wees.
By Cambridge was hy in St John’s College. “Dit was verstommend anders en enorm stimulerend. Cambridge was ’n miniatuurwêreld, die soort plek waar ’n mens ’n formele driegangete twee maal per week by jou kollege sou geniet, of op die ingewing van die oomblik vir ’n naweek na vriende se berghut in die Italiaanse berge gaan.
“Ek het soos ’n vis in water in die sosiale lewe ingeglip; my ingegrawe in die kulturele omgewing. As regstudent het ek deelgeneem aan die jaarlikse skynhofwedstryd. Ons het die Britse afdeling gewen en uiteindelik aan die eindronde in New York deelgeneem, wat in die Verenigde Nasies se gebou gehou is.”
’n Jaar by ’n regsfirma in Johannesburg het gevolg, waarna Fanie met ’n Fulbright-beurs vir ’n tweede meestersgraad in die regte na die Columbia-universiteit in New York is. “Daar is ’n rede hoekom mense vertel Columbia was oorspronklik ’n gebou wat sielsiekes gehuisves het. Ná die genteel afrondingskool van ’n Cambridge was hierdie ’n fabriek vir die korporatiewe regswêreld van Amerika – mededingend, hard. Geen kultuur van ’n medestudent help nie. Maar dit was ’n waardevolle jaar. Veral omdat die lewe op Columbia amper ’n oordrewe, ’n cartoon-weergawe van die regte wêreld is.
“Amerika maak jou oë oop. Dit is by tye oppervlakkig, ja, maar dit was eufories om deel te wees van wat toe die middelpunt van die wêreld was en ’n komplekse, aggressiewe en veral gedrewe sakewêreld. In vergelyking daarmee het Londen amper half stowwerig oorgekom.”
Fanie het ingeval by die internasionale regsfirma Shearman en Sterling, waar hy twee jaar gewerk het voordat hy na die firma se Londense kantoor is.
Sy spesialisgebied was die onderhandeling en boekstawing van multimiljardrand-transaksies. In die laat 1990’s het hy as jong regsgeleerde in New York aan die Daimler-Chrysler-samesmelting gewerk.
Voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy in Londen gewerk aan ’n transaksie wat sewe Deense openbare en private vervoerinstellings betrek het. Hy het gereeld tussen Londen en Kopenhagen gereis en het dae van 15 uur lange onderhandelings gelei met die bestuur van regslui op verskillende plekke. Van sy ander transaksies het komponente in tot 60 lande ingesluit.
Dit was ’n gedissiplineerde soort rol. “Jy moet geweldig baie inligting en mense bestuur; dit vra ’n mengsel van gestruktureerde sjarme en gestruktureerde konflik. Mensekennis. Intellektuele dissipline. En verál uithouvermoë.
“My werkdae het bestaan uit 15 uur per dag in konferensie-kamers in ’n staat van beheerste konflik. Ek was ’n huursoldaat.
“Die frekwensie van ’n werkdag was van so ’n aard dat dit vir my amper onmoontlik was om te skryf; om ’n wêreld te betree wat vereis dat ek my moet oopstel. Londen die afgelope twee, drie jaar was ’n slagveld. Kataklisme in die lug; ’n gevoel van groot angs. Dit was ’n druk wat in my begin opbou het; ’n begeerte om uit te breek.”
In Londen het Fanie eers in Soho gewoon en toe ’n plekkie gekoop in SE1, of Bankside. “Dit is suid van die Teemsrivier en oorkant die City of London, naby die Tate Modern-kunsmuseum. Die gebou is deels deur bomme verwoes en eers in die vroeë 2000’s, tydens die eiendoms-boom, deur eiendomsontwikkelaars beetgekry. Aan die een herstelde muur van die gebou is ’n kunsinstallasie aangebring. Dit behels ’n mooi en geheimsinnige aanhaling in letters van staal uit Charles Dickens se The Pickwick Papers. Ek het dit lank daagliks gelees: ‘There are dark shadows on the earth but its lights are stronger in the contrast. Some men, like bats or owls, have better eyes for the darkness than for the light. We, who have no such optical powers, are better pleased to take our last parting look at the visionary companions of many solitary hours, when the brief sunshine of the world is blazing full upon them.’
“Europa is ’n wêreld waar die siklusse van veroudering, verwoesting en herstel en die spore daarvan maar heeltyd rondom ’n mens is.”
Met sy terugkeer na Londen was dit die tyd van die internet-oplewing en Londen het geblom. “Toe ek in SE1 koop, het heelparty yuppies daar begin intrek, maar die ou leerlooiery het steeds daar bestaan, die prostitute en asynfabriek tussen die nuwerwetse kroegies en eetplekke, die ou Shakespeare-teater langs die sjiek solderwoonstelle. Ek het baie gereis. Wat ’n groot indruk op my gemaak het, was hoe opvallend die letsels van die verlede steeds in ’n post-Tweede Wêreldoorlog Europa is. Die fisieke landskap is ’n laslapwerk van littekens – Italië, Berlyn, waar ek ook baie tyd spandeer het. Dis in die weefsel van die geboue om jou en jy voel dit.”
En toe, einde 2009, na dertien jaar in Londen, het Fanie sy beroep as internasionale regspraktisyn by Hewlett-Packard in Londen gelos en teruggekom na Suid-Afrika. Hy het hom ingeskryf vir ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns by Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch. “Ek wou nog altyd skryf. Het toe ek jonger was selfs gepubliseer in Tukkies se studentetydskrif en De Kat. Toe ek in Londen gewoon en dikwels tussen lande gereis het vir werk, het ek soms wel gevind die afgeslotenheid en anonimiteit van hotelkamers is om die een of ander rede bevorderlik vir die kreatiwiteit.
“Ek het begin dink aan terugkeer, met Marlene van Niekerk se meestersgraad in kreatiewe skryfwerk as my doel. Die stuk skryfwerk wat ek moes ingee om gekeur te word – die eerste 40 bladsye van ’n roman – het my ook oortuig ek kan onmoontlik skryf met Engeland as die agtergrond.
“In Amerika en Engeland is daar mos ’n hele industrie van dié soort skryf-meestersgrade. En by heelparty word dit uitgespel: Hierdie is nié psigoterapie-sessies nie ...”
Hy verduidelik sy besluit aan Hanlie Retief: “Ek het my oor ’n lang tyd ingeburger in ’n ander leefwêreld. Mens het gedink daardie tekstuur gaan jou eie word, jy gaan dit internaliseer. Maar saans as jy in die Londense winter sit, dan was die fragmente wat spook in jou kop eintlik maar fragmente van stories en skryfwerk.”
En dan was die behoefte aan skryf soos iets wat plek gesoek het om uit te bars, “soos ’n verstopte pyp wat mens oopmaak”.
Die ekonomiese ineenstorting in Europa was ’n verdere oorweging en die ontnugtering met sy leef- en werkwêreld het gegroei. “Toe besef ek: Daar is nog ’n plek om heen te gaan en daar ís iets anders wat ek lankal wou doen.”
Sy vriende en kollegas was stomgeslaan, want hier gaan doen hy iets wat reëlreg teenoor sy vroeëre lewe en werk gestaan het. “En jy gaan doen dit op ’n marginale plek, in ’n gemarginaliseerde taal. En selfs binne daardie raamwerk skryf ek toe boonop iets marginaals: ’n kortverhaalboek eerder as ’n roman.”
Aanvanklik was sy twee grootste probleme nadat hy hom by Marlene van Nierkerk se kursus ingeskryf het, om hom eerstens oor te gee aan die vertrouensverhouding wat so ’n graad vereis, en tweedens, om op ’n struktuur, of genre, vir sy skryfwerk te besluit.
Hy het amper koorsagtig begin skryf. “Tientalle idees het opgeborrel, te veel en te uiteenlopend vir ’n roman. Ek is waarskynlik te onvolwasse om veeltakig te wees, want ek het aanhou dink te veel sal verlore gaan as ek ’n roman sou skryf. My skryfwerk was eerder van ’n aard waar my energie en tema hulle oor ’n sekere lengte uitwoed. Vandaar die langer-as-gewone kortverhale.”
Marlene het op ’n stadium aan Fanie gesê dat hy moet dink wat hy wil skryf. Hy het oor die kortverhaal gelees en verhale van Edgar Allan Poe en ander Amerikaanse meesters van die kortverhaal, soos Raymond Carver en Tobias Wolff, gelees, asook van die jonger generasie Amerikaanse kortverhaalskrywers, soos Dave Eggers en ZZ Packer, Tsjechof, ook Hennie Aucamp en Koos Prinsloo. “Ek het die premoderne kortverhale gelees, die miniromans van DH Lawrence en begin wonder is dit wat ek is? ’n Miniaturis?”
Sy ervaring van die meestersklas was “ekstaties”. “Om ná soveel jaar die vryheid te kon hê om ernstig oor skryf te praat, om met ander krities oor jou eie skryfwerk te praat ... dis ’n voorreg. Marlene en Willem Anker, haar assistent in die kursus, het ’n manier om wat jy doen, waar jou instinkte lê, as ’t ware uit jou te terg. En as jy hulle eers vertrou, hulle outentisiteit en oordeel, leer jy in die proses jou eie moontlikheidsgrense versit. Ek struwel om dit onder woorde te bring ...”
Fanie het die oorgang tussen steriele regstaal en literatuur “so natuurlik soos die gly in ’n bad vol warm water” gevind. Maar omtrent al die verhale van sy eerste bundel, Alfabet van die voëls, is in die onderste laai gegooi voordat hy eers daaraan gedink het om dit vir iemand te wys. “Jou posisie wanneer jy skryf, is heeltemal ongedetermineer, twyfel lê aan die kern daarvan.”
Maar mettertyd ontwikkel jy wel ’n gevoel vir iets wat werk, wanneer jy jou verras. Dit is ’n proses van vals beginne en valse leidrade en uitvee en oorbegin en dan kom jy op ’n plek waar dit self gebeur, vertel Fanie.
En toe Alfabet van die voëls eindelik in 2011 gepubliseer is, was dit alles die moeite werd, want die resensies was deurgaans oorweldigend positief en André P Brink het dit beskryf as “onder die bestes in Afrikaans ... onmisbaar”. Die Jan Rabie-Rapportprys vir vernuwende literatuur vir 2012 is ook aan Alfabet toegeken. Die toekenning en al die lofpryse het Fanie verras, maar dit is ’n groot blydskap.
Daar is sewe verhale in die bundel en vier daarvan handel oor konfrontasie met siekte en dood, met verlies. Aangesien sy ma kort na sy terugkoms met kanker gediagnoseer is en oorlede is, kom die vraag van hoe outobiografies sy verhale is, by ’n mens op. “Mens kom terug na die moederland en saam daarmee is ’n verlies van ’n moeder,” sê hy. “Dan projekteer jy die een op die ander. Dit was ’n komplekse soort ervaring.”
Ná sestien jaar se langafstandverhouding met sy ouers was sy terugkeer ook om nader aan hulle te wees en dit was uit daardie perspektief swaar dat sy ma weg is, aangesien hulle verhouding ’n nabye een was.
André P Brink het as volg oor Alfabet van die voëls geskryf: “Die verbysterende verskeidenheid verhale in SJ Naudé se merkwaardige bundel Alfabet van die voëls tel onder die bestes in Afrikaans, gebou op terugkerende motiewe en gegewens soos musiek; vertrek en reis; sprokies en mites; siekte, aftakeling, sterwe en dood; stede; ’n soek na herkomste en oorspronge; vergeet en onthou; instink en rede; dit wat beskryf of gesê is teenoor dit wat vir altyd onuitgespreek of onbeskryfbaar bly; of die plek en gedaantes van die liefde in menslike verhoudings ... dit alles vorm op ’n manier ’n herbesoek aan Willem van der Berg se Reisigers na nêrens (1946) in die post-apokaliptiese toonaard van die 21ste eeu. Vir enige leser wat wil bybly by wat op die voorpunt van die Afrikaanse literatuur gebeur, is hierdie bundel werklik onmisbaar."
Die uitgewer, Umuzi, het Alfabet van die voëls as volg bemark:"Dit is ’n boek oor ontheemding, terugkeer, die saamleef met verlies. In 'Die mobile' raak ’n vrou, self sterwend aan kanker, obsessief betrokke by die lot van vigslyers, verwaarloos alle verhoudings met geliefdes, en skaar haar, in haar verbete stryd teen korrupte en ellendige amptenare, by die geledere van die dooies.
“'Die lawaaimasjien' en 'VNLS' is albei verhale oor die saamleef met die verlies aan bande met ’n kultuur en ’n kinderverlede. Dikwels word daar in hierdie verhale ’n spanningsveld geskep tussen die bevryding van die verlede en die terughunkering daarna. Die verhale is wyd leesbaar met prikkelende stories, ideeryk met nuwe ruimtes, gebeure en karakters."
In Rapport (5 November 2011) skryf Louise Viljoen dat die sewe verhale in Alfabet van die voëls langer is as gewone kortverhale, "soos die onlangse verhale van Marlene van Niekerk (’n mentor aan wie Naudé erkenning gee deur enkele kopknikke in die rigting van Agaat en Die sneeuslaper) en internasionale skrywers soos Alice Munro en WG Sebald.
“Naudé se verhale is liries, maar onsentimenteel en presies gefokus op die tersaaklike, dig gelaai met detail en verwysings, maar gestroop van enigiets wat oortollig is. Die verhale word ligweg met mekaar geskakel deur die wyse waarop bepaalde temas en karakters hulle in die bundel herhaal.
“Die bundel gee ’n indringende beeld van die opwinding én ontreddering wat die kontemporêre mens se beweeglikheid binne ’n globale omgewing veroorsaak. Maar nog selde het die Afrikaner-diaspora so onherbergsaam gelyk soos in die twee verhale waarin Ondien die hooffiguur is.
“‘VNLS’ vertel van haar mislukte pogings om saam met die Zoeloe-meisies Beauty en Nungi ’n soort musiek te maak wat op ironiese wyse (hul naam is immers die Victorian Native Ladies’ Society) musikale elemente uit Afrika en Europa vervleg.
“In ‘Die moederskwartet’ besoek Ondien, ná die mislukking van haar band, haar broer en twee susters wat onderskeidelik in Londen, Phoenix en Dubai woon. Elkeen van hulle hunker na die moeder by wie se begrafnis hulle nie kon wees nie. Maar Ondien se lot wanneer sy terugkeer na Johannesburg wys dat die moederland ook geen veilige heenkome bied nie.
“Verwysings na taal, musiek, geluide en geraas stroom in ’n ryk aar deur die bundel. Die taal van voëls word in verskillende mitologieë en kulture beskou as ’n geheimtaal wat die sleutel tot kennis en insig inhou. Om die ‘alfabet van voëls’ te beheers, sou dus ’n teken van groot wysheid wees en ook insae kon gee in die toekoms (soos wat die hooffiguur in ’n Meester uit Duitsland’ momenteel ervaar).
“In ’n sekere sin vorm die verhale ’n geheime alfabet wat die leser moet ontsyfer. Die verhale vertel ook van die momente waarin taal ophou om te funksioneer, soos wanneer die seun moet luister na die ‘geluidlose taal’ van sy moeder se pyn.
“Die sterk fokus op die diaspora en kulturele vermenging suggereer ook dat tale hulle in ’n smeltkroes bevind. Dit het besondere implikasies vir die moedertaal wat in dié bundel so vlot hanteer word. Waar lê die grens tussen die moedertaal en ander tale, tussen moederland en aangenome land, tussen verlede en hede? Dit is die soort vrae wat hier ondersoek word.”
Viljoen meen dat dit selde is dat ’n mens ’n debuut met hierdie graad van rypheid en afronding te lese kry.
Ronel Scheffer (Huisgenoot) was beïndruk met die titel van die bundel en dit het haar gemotiveer om dit te lees, en die bundel het al haar verwagtinge oortref. "Soos jy in die eerste storie begin lees van Mrs Edith Nyathi, afgetrede matrone en gastehuiseienaar van Vloedspruit, word dit gou duidelik hier is iets vernuwends en opwindends aan die gang.
“Van ’n terminale kanker- en vigssituasie op dié fiktiewe Vrystaatse dorpie verskuif ons in die daaropvolgende verhale na Berlyn, Pretoria, Japan, Londen en Parys, Dubai, terug na die Vrystaat en uiteindelik na Milaan. Die hoofkarakters is Afrikaners, party met uitsonderlike name soos Sandrien en Ondien.
“Hulle is onpretensieuse wêreldburgers, onsentimenteel, onbeskaamd homoseksueel en onbehep seksueel. Hulle is op die voorpunt van musiek, dans, die argitektuur, die sakewêreld, maar kwesbaar en gekonfronteer met verganklikheid. Dis nie lekkerlees-stories nie, maar ook nie ontoeganklik en humorloos nie. ’n Baie relevante boek. Die bundel is tot dusver uit alle oorde oorweldigend positief ontvang, en as mens na die groot opkoms by die geleentheid kyk, lyk dit of lesers en resensente ewe positief oor die boek voel.”
Tydens die bekendstelling van die boek het Louise Viljoen met Fanie gesels en is hy, volgens Scheffer, tot verskeie kostelike aanhaalbare uitlatings gedryf, soos dat sy Afrikaans (wat in die buiteland in onbruik verval het) “soos ’n oermuskiet in die barnsteen was. Naudé het die oermuskiet nou, tot ons almal se wins, in hierdie bundel op die Suid-Afrikaanse literêre landskap losgelaat."
Cilliers van den Berg (Beeld, 30 November 2011) beskou die nadenkende en soms byna poëtiese atmosfeer wat die beskrywings kenmerk, as dié aspek wat die verhale in Alfabet van die voëls saambind en onderling met mekaar laat resoneer.
"Waarna hier verwys word, is ’n gevoel vir die onpeilbaarheid van die menslike bestaan, wat soos die baslyn van ’n musiekstuk in die verhale teenwoordig is. Dit bring ooglopende winste, maar ook gevare mee: soos genoem, dra dit by tot die eenheid van die bundel. Maar dit beteken ook dat die trefkrag van die verhale eerder lê in die saamlees daarvan, en nie in die lees daarvan as afsonderlike stories nie. Dit hoef natuurlik nie noodwendig as ’n leemte gesien te word nie, ’n mens wonder net by een of twee van die verhale wat die impak daarvan sou wees as dit in isolasie gelees word.
"Dit is egter ’n bundel van oop eindes en oop betekenisse hierdie en daarom ’n werk wat nie net een keer gelees kan word nie. Dit vra ’n lees, ’n herlees en die trek van onderlinge verbande.
"As daar in die teks ’n appèl aan die leser gerig word, is dit om ontvanklik te wees vir die onverstaanbare, want daardeur kom nie sekerheid nie, maar wel begrip. Soos wat van een van die karakters geskryf word: 'Alle weë word oopgelaat, alle onsekerhede in ewewig gehou … Alles wat onberymbaar is, mag vir eers maar bymekaar. Sy kan so lank wag as wat dit neem vir die verbindinge om hulself bloot te lê.' Alfabet van die voëls word sterk aanbeveel vir die ernstige leser van die kortverhaalgenre."
Op LitNet skryf Jeanette Ferreira dat Alfabet van die voëls hoë eise aan die leser stel, maar dat die leser wat verhale verkies waarin daar minder antwoorde as vrae voorkom ("hoogstens ’n spoor, ’n bekoorlike moontlikheid van wat alles in hierdie digverweefde teks opgesluit lê”), wel beloon sal word.
"Naudé se sosiale kommentaar op die vergrype in ons huidige samelewing word kragtiger as enige vorm van niefiksie. Hy bekoor en fassineer en ontstel tegelyk sy leser. Daarom bly dit mens so helder by. Nie net omdat stories harder as feite praat nie, maar veral omdat Naudé reeds in sy debuut so geslyp kommunikeer. Diegene wat moet toesien dat die mediawet-in-wording behoorlik nagekom word, sal beslis ’n streng oog op hierdie talentvolle skrywer moet hou. ’n Buitengewone debuut, wat beskryf kan word met ’n passasie uit die bundel: 'Dit bevat ’n ganse tuin, dink hy, hierdie nat blom.'"
Vir Fanie is daar sekere skrywers wie se werk inderdaad ’n mens se adrenalien laat vloei en die onstuitbare drang ontketen om self te skep:
- The Master of Petersburg – JM Coetzee: Hier kom mens naby aan die kernaard van kreatiewe instink – skryf as oopstelling vir die onverwagse, as ’n epileptiese val. Jy begryp ook: die teks en skeppingsproses herberg altyd hardnekkige restante van misterie.
- Extinction – Thomas Bernhard: Hier leer mens hoe die woordritme van diep woede klink, en leer jy weiering ken – die onwrikbare weiering om selfs ’n enkele bourgeois leuen te internaliseer. Skryf is weerstand.
- Rings of Saturn – WG Sebald: Die skrywer kan uiteenlopende dinge hipnoties vir lesers inmekaar laat vloei bloot omdat dit in sy eie gedagtes saamhoort.
- Embers – Sandor Marai: Alles in die teks is relatief; geen punt van sekerheid bestaan nie.
- Last Evenings on Earth – Roberto Bolaño: Só maak jy elke paragraaf – elke woord – ’n verrassing vir die leser. En by terugskoue lyk die verrassings onafwendbaar!
- Die boek van toeval en toeverlaat – Ingrid Winterbach: Wanneer verlies deur ’n verwoording van onverwoordbaarhede gedeel word, wyk ontroosbaarheid.
- Agaat – Marlene van Niekerk: Oopstelling vir eie broosheid kan genialiteit kataliseer.
“Lees oor die tradisionele sieninge van die moderne kortverhaal,” is Fanie se raad aan voornemende kortverhaalskrywers (LitNet). “Die idee dat dit ’n ‘slice of life’ verteenwoordig – iets wat uit die hoek van die oog gesien word, in die verbygaan; die gedagte van ’n enkele of unieke effek; ’n vertelling wat die eienskappe van ’n sprokie of allegorie aanneem; ensovoorts. Wanneer jy genoeg geoefen het met die tradisionele vorme van ’n kortverhaal, oorweeg hoe mens daarmee kan eksperimenteer.”
Tweedens voel hy dat "reg in die verhaal ingeval moet word, dat die handeling dadelik laat loop moet word. Die eerste sin moet reeds die spanningsopset daarstel en die leser intrek. Spanning word dikwels geskep deur wat weggelaat word, eerder as deur wat gesê word. Oorweeg onheil. Onheil werk goed in die kortverhaal.
"Derdens moet jy jou karakters by die deur inkry. Jou karakters se definiërende eienskappe moet heel gou wys. Daar is min ruimte vir karakterontwikkeling in die kortverhaal. Karakters kan wel ’n epifaniese insig of lewensveranderende oomblik ervaar.
"Die vierde vereiste wat vanselfsprekend belangrik vir die kortverhaalskrywer is, is ekonomie en konsentrasie. Algemene stylreëls, soos stroping van onnodige adjektiewe en beskrywing, geld des te meer.
"Vyfdens moet, terwyl daar geskryf word, aan eenheid gedink word, wat betref die storie en die tema. Probeer onder andere die titel, openingsin en slotsin aan mekaar koppel. Laat die verhaal oor ’n redelik kort tydperk afspeel.
"Skryf die soort verhaal wat jy graag self sou wou lees, is Fanie se sesde vereiste. Jy hoef nie noodwendig te skryf oor wat jy ken nie, maar skryf oor iets wat jy kan verbeel aan die hand van wat jy ken.
"En in die sewende plek hoef jy nie presies te weet waarheen die verhaal gaan wanneer jy begin nie. Moenie ná die tyd wegskram daarvan om te slyp en (soms diep) te sny aan die verhaal nie.
"Laastens is dit belangrik om na jou eie stem te luister. Moenie wegskram van jou weerloosheid nie. Moet egter nooit sentimenteel raak nie – ’n kortverhaal is nie ’n opgaarbak vir eie emosies nie."
Fanie het intussen Kaapstad toe getrek, waar hy as redakteur by sy uitgewery, Umuzi, werk, en het vir hom ’n woonstel in Tamboerskloof gekoop. Sy plan was om aanvanklik net vir twee jaar in Suid-Afrika te bly en dan na Londen terug te keer, maar nou het hy besluit om te bly, want hier het hy ruimte kom kry vir sy skryfwerk “en baie menslike warmte en gulhartigheid en goeie nuwe vriendskappe”.
“Vir die eerste keer vandat ek hier is, voel ek ... mens moet nooit sê gevéstig nie – jy moet maar jou wortels vlak hou en jou voete fiks – maar dit maak my gelukkig om hier te wees.
Sentraal-Kaapstad het iéts van Londen se hip ’n’ happening in Bankside, waar hy gebly het, vertel hy aan Hanlie Retief. "Maar in Kaapstad, as jy jou gesig boontoe draai, is daar ten minste son op jou wange. Kaapstad is ’n baie leefbare plek. Dis natuurlik ’n illusie, daardie klein enklave, met die see van armoede buite.”
Intussen is Fanie se Alfabet van die voëls in Engels, Frans en Nederlands vertaal en het hy ’n bekende naam oorsee geword. Hy het self die Engelse vertaling behartig en dit het in 2015 die kortlys van die internasionale Frank O’Connor-kortverhaalbundelkompetisie gehaal.
Fanie vertel op Into the open sea dat hy sy kortverhale in Engels vertaal het omdat hy sy werk aan ’n groter wêreld as net Suid-Afrika en Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse lesers wou blootstel.
Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy gevind dat hoewel hy tydens sy verblyf oorsee uit die aard van die saak hoofsaaklik in Engels gekommunikeer het, hy met sy skryfwerk outomaties teruggekeer het na Afrikaans: "Afrikaans was ultimately reduced to a few ghost movements of the tongue, then became like a code silently pulsing under the skin. But it turned out it had remained preserved, like an ancient mosquito in amber. When I started writing years later, the stone simply cracked open and the Afrikaans resurfaced intact. It was, it turned out, the language that demands to be written in: the language of one's mother, embedded in the bones. It has proven impossible to escape" (Into the open sea).
Oor die vertaalproses vertel Fanie verder: "Not having to consult an author naturally gave me extensive freedom as a translator. Even so, the translation remained quite faithful to the Afrikaans. As I have explained above, achieving a decent level of equivalence generally did not seem too hard, but a number of changes were nevertheless made. Occasionally, sentences were merged or reshuffled for purposes of rhythm and flow. In particular, the last sentence of 'Mother's Quartet', which more explicitly spelled out the violence against the protagonist that would ensue, was deleted – the English text somehow called for a subtler ending. In 'A Master from Germany' some of the phrases and sentences that are in German in the Afrikaans text were translated into English in the English version. Whereas German is accessible for Afrikaans readers due to the language's recent Germanic roots, it would have presented more of a stumbling block for many English and American readers. To the extent German phrases and lines of dialogue were retained, English explanations were embedded in the text.
"Given that the English edition is to be published in South Africa, the UK, and US, it was also necessary to navigate between South African, British, and American English. The South African usage was usually retained for local flavour, except where it would be confusing for a British or American reader."
In 2013 wen Naudé die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir sy projekvoorstel vir ’n beoogde roman wat "afspeel teen die agtergrond van diaspora en binne ’n kosmopolitiese wêreld, wat daarop afgestem is om ongekaarte gebiede vir die Afrikaanse taalwêreld oop te skryf" (LitNet).
Hy vertel aan Naomi Meyer dat hy baie verras en ook bly en dankbaar was oor die beurs wat hy ontvang het. "Dit is ’n seldsame geleentheid, en nie net in Afrikaans en Suid-Afrika nie. Behalwe dalk vir ’n handjievol gevestigde internasionale skrywers, is dit ongewoon in enige taal en land om ’n kans te kry om vir ’n lang tyd – ononderbroke en ongesteurd deur die daaglikse sleur – aan ’n ernstige roman te werk. Dit is natuurlik ook ’n verantwoordelikheid. Ek ervaar ’n gesonde graad van ontsag in die aangesig van die taak wat voorlê, veral as ’n mens Jan Rabie en Marjorie Wallace se kulturele nalatenskap en hul gulheid van gees in gedagte hou. ’n Mens sal ook graag die vertroue wat die UWK en die beurskomitee in ’n mens stel, waardig wil wees."
Hy meen dat hy nie weet of hy sonder die Jan Rabie en Marjorie-Wallace-beurse “sommer ’n roman sou aangepak het wat soveel navorsing verg nie. Papier is natuurlik geduldig, en my projekbeskrywing vir die beursaansoek was ambisieus. Enkele dinge verander soos mens aan die roman skryf, maar eintlik het ek verbasend naby aan my plan gebly."
As redakteur by Umuzi moes Fanie hom verdiep in ander skrywers se “kreatiewe strome", met die gevolg dat dit vir hom moeilik was om self te skryf. En hoewel hy steeds as vryskutredakteur gewerk het, het die beurs hom in staat gestel om twee jaar lank voltyds te skryf en ook om die navorsing wat so nodig was, te kan doen. Die resultaat van die twee jaar lange navorsing en die beurs was Fanie se eerste roman, Die derde spoel, wat in 2017 by Umuzi verskyn het. Dit is ook dadelik in Engels uitgegee onder die titel The third reel.
Op LitNet vertel Naudé aan Naomi Meyer dat Die derde spoel ontstaan het nadat hy enkele jare gelede met ’n dosent in filmteorie van Londen oor spookfilms gesels het. Dit is films van die 1920's en 1930's wat verlore geraak het en waarvan slegs fragmente of beskadigde negatiewe oorgebly het: "In daardie tyd is films gesien as vlietende vermaak, en nie die moeite werd om te bewaar nie. Nou is daar filmargiewe en lyste van sulke films, en mense wat hul daarop toespits om dit te probeer vind. Nou en dan kom daar wel ’n afdruk van ’n film wat as verlore geag was aan die lig in ’n ou stoorkamer of solder. My protagonis is obsessief op soek na ’n spookfilm (weliswaar ’n fiktiewe een) in Londen en Berlyn, ’n soektog wat hom in die gevaar in en deur Oos-Duitse doolhowe lei.”
Vir Willie Burger (Vrouekeur, 14 Augustus 2017) voldoen Die derde spoel aan die verwagtinge wat Naudé met sy bundel kortverhale Die alfabet van voëls geskep het: "Talle van die temas uit die kortverhaalbundel word weer ontgin, waarvan die opvallendste waarskynlik ’n aansluiting by die belewenis van globalisering is. Die ekonomiese, politieke en kulturele veranderings wat die wêreld oor die afgelope paar dekades ’n veel kleiner plek gemaak het, met die ongebreidelde uitwisseling van geld, arbeid, politieke invloed en kulturele produkte, raak elkeen van ons. Naudé se werk is ten nouste hiermee gemoeid.
"Ná ’n stadige begin, lees Die derde spoel byna soos ’n speurriller met die spanningslyn van ’n koueoorlog-spioenasieroman. Dit is die verhaal van Etienne, ’n Afrikaanse student uit Pretoria wat, kort voordat hy die graad wat sy ouers wou hê hy moet voltooi, in 1986 uit die land vlug om diensplig te ontduik. Hy beland in Londen en woon saam met ’n klomp jongmense in leë geboue. Hy begin filmkuns studeer. Hy leer talle jongmense van oor die wêreld ken – idealistiese kunstenaars, musikante en aktiviste wat in opstand teen die kapitalisme van Thatcher en die korporatisering van die wêreld is en wat ’n soort hippiebestaan met seks, dwelms en musiek voer.
“Etienne geniet die vryheid wat hy nie in die gemilitariseerde en paternalistiese Suid-Afrika van die 1980’s kon vind nie. Hy raak op ’n Duitse kunstenaar, Axel, verlief en die verhouding neem sy lewe op ’n hele paar kinkels. By die filmskool begin hy met ’n navorsingsprojek oor rolprente wat voor die Tweede Wêreldoorlog gemaak is. Onder vreemde omstandighede vind hy twee spoele van ’n rolprent wat op die Joods-Duitse filosoof Walter Benjamin se herinneringswerk oor die Berlyn van sy jeug gegrond is – ’n Berlyn wat tydens die maak van die rolprent in die 1930’s nie meer bestaan het nie.
"Etienne soek oral na 'die derde spoel' van die rolprent – ’n soektog wat hom uiteindelik tot in Oos-Berlyn lei en waar hy kort voor die val van die muur spanningsvolle situasies en verraad beleef. Hy maak vriende met Wes-Berlynse musikante en sluit as tromspeler by hul band aan. Hulle help hom soek na sowel die derde spoel, as na Axel, wat spoorloos verdwyn het. Terwyl die eerste deel van die roman in Londen afspeel en die tweede in Berlyn, speel die laaste derde van die roman 'elders' af, onder meer in Suid-Afrika. Etienne keer na Suid-Afrika terug om sy sterwende moeder te besoek. Sy het reeds haar geheue begin verloor, wat by die roman se bemoeienis met die verlede aansluit.
"Die filosoof Benjamin se werk het oor ’n onherwinbare Berlyn van sy jeug gegaan. Die rolprent was ’n poging om iets daarvan vas te vang, maar selfs dit is nou verlore. Ons kan die verlore tyd nooit herwin nie. Hoewel die speurrilleragtige spanning die leser op die spoor van die verlore filmspoel meesleur, is die roman uiteindelik ’n liefdesverhaal oor mense wat deur hul verledes (hetsy deur staatsmasjinerie of die gesin, deur seksuele en politieke onderdrukking) geskaad is. Elkeen dra swaar aan ’n verlede, wat hulle soms eerder sou wou vergeet of anders nie kan of wil onthou nie, en waarna hulle op soek gaan, wat hulle ook nodig het om te onthou. Tussen al hierdie teenstrydighede is begrip moeilik. Ook kuns, musiek, argitektuur en rolprente speel ’n belangrike rol in die roman. Seksuele aantrekking is dikwels oorrompelend en maak intimiteit moontlik, terwyl dit ook soms afstand skep.
"Breyten Breytenbach gebruik die begrip 'middelwêreld' om na mense te verwys wat nêrens tuis is nie. (...) Naudé se roman ondersoek bestaan in die middelwêreld. Die prosa is opvallend vars. Die hele verhaal word vanuit die ervaring van Etienne aangebied en al kry die leser fyn besonderhede oor sy sintuiglike waarnemings van die stede, die beton, die staal, die lug, word geen toegang gebied tot Etienne se oorwegings, sy motiverings en volledige emosionele reaksies op alles wat hy ervaar nie. Dit skep ’n bevreemdende gevoel van tegelyk naby wees aan Etienne, en ver, en dit laat die leser ook met ’n ervaring van ontuisheid in ’n oorrompelende wêreld waarin aktivisme nie veel vermag nie en liefde broos is."
Oor sy belangstelling in die filmbedryf vertel Fanie aan Naomi Meyer (LitNet) dat hy ’n lang ruk al in die kuns van filmmaak belangstel, maar dat hy nog nooit ’n film gemaak of probeer maak het nie. Hy het gemeen dat wanneer hy sy regstudie voltooi het, hy by ’n filmskool sou inskryf, maar dit het ongelukkig nooit werklikheid geword nie.
Hy verduidelik verder: "Ek skram wel ook weg van die logistieke kompleksiteit van die filmmaakproses en die feit dat markkragte grootliks bepaal watter soort films gefinansier en gemaak kan word. Dis sekerlik ’n glibberige taak. Ek dink die maak van films het ten minste ewe veel met onderhandeling en die bestuur en sjarmering van mense te make, en met die opbou van ’n netwerk verbintenisse, as met visuele insig. Om nie te praat van die tegniese vaardighede wat vereis word nie. Dis darem maar veel veiliger om as romanskrywer agter ’n rekenaarskerm te sit en jou films te verbéél as om inderdaad ’n film gemáák te probeer kry. Dit gee jou vrye teuels om films te bedink sonder om die kommersiële lewensvatbaarheid daarvan te oorweeg of die praktiese kompleksiteite in ag te neem."
Op haar blog, Woorde wat weeg, sluit Joan Hambidge haar resensie van Die derde spoel as volg af: "Die beskrywing van Axel se siekte word so pynlik-eerlik vertel met ’n kopknik na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe. Ook die moeder se siekte gryp aan die keel.
"Dit is ’n boek oor verlies en die soektog na dit wat behoue gebly het in die drie spoele. Maar met die refrein dat kuns (musiek, beeldende kuns, films, skryf) ons enigste behoud is. Soos die bevrore paddas wat kan oorleef in die winter met harte wat ophou klop, bloed wat vries, organe wat stop ... (261).
"Die kommentaar op Oos- en Wes-Berlyn, die geskiedenis van toe, die vlymskerp analise van die Afrikaanse patriarg, is eweneens boeiend. Nes die bestaan in kommunes en road trips. Soos die woord vuurvliegie in die naaldprik van fosfor in ’n Berlynse muur. So is hierdie roman. Dit is kosmopolitiese roman wat verskillende ruimtes verken: Londen, Berlyn, Buenos Aires, Suid-Afrika ..."
Op Netwerk24 skryf Dewald Koen dat Die derde spoel die leser se aandag tot op die laaste bladsy gevange hou en dat die roman se filmiese kwaliteite enige regisseur se droom is.
Koen gaan voort: "Die verskeie verwysings na post-punk en die kinematografie bied ’n wye perspektief op die ryk Europese kulturele lewe vanaf die 1930's tot die 1980's en bied ’n jonger generasie lesers ’n insiggewende blik op ’n tydperk in die wêreldgeskiedenis waarvan hoofsaaklik in geskiedenisboeke gelees word.
"Naudé beskik oor ’n fyn aanvoeling vir die geskrewe woord. Met hierdie roman doen hy sy reputasie as talentvolle skrywer gestand. Die derde spoel is myns insiens een van 2017 se literêre hoogtepunte."
Naudé sluit sy gedenklesing na aanleiding van die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs so af: "Waaraan ’n mens bly vashou, te midde van al die verwringende kragte, is die idee dat kuns maak – hetsy skryf of ander modusse – ’n laaste manier van weiering is van alles wat kras en brutaal en onmenslik is, dat dit die laaste soort arbeid verteenwoordig wat onverminderbaar spesifiek is aan die individu. Die enigste manier om nog nee te sê.
"Voorlopig, ten minste, hou jy dus verbete aan om die Groot Geheime déúr Afrikaans te probeer benader. Afrikaanse sinne hou halsstarrig in die holtes van jou beendere skuil. Hulle verander pal van vorm, probeer jou ontglip. Jou taak is om ’n greep daarop te kry, om nuwe sonoriteite hoorbaar – of nuwe vibrasies voelbaar – te maak met ou woorde. Watter ander uitweg is daar? Jy pers die sinne moeisaam deur die breinlobbe, filtreer dit deur die skedel. Stadig styg die taalwolk bokant jou kroontjie. Dan wag jy in stilte vir die storm." (LitNet)
Publikasies
Publikasie
|
Alfabet van die voëls
|
Publikasiedatum
|
2011
|
ISBN
|
9781415201459 (sb)
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Umuzi
|
Literêre vorm
|
Kortverhale
|
Pryse toegeken
|
- Jan Rabie-Rapportprys 2012
- 2012 Universiteit van Johannesburg se debuutprys
- 2012 SALA-toekenning
- 2015 Engelse vertaling op kortlys van internasionale Frank O’Connor-kortverhaalbundelkompetisie
|
Vertalings
|
- Engels deur skrywer (The alphabet of birds)
- Frans
- 2016 Nederlands (Het vogelalfabet)
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- About The alphabet of birds by SJ Naudé
- Alfabet van die voëls
- Bouer, Guus: Recensie: SJ Naudé – Het vogelalfabet
- Coetzee, Carli: Review: SJ Naudé, "The alphabet of birds"
- Damen, Jos: Het vogelalfabet
- De Nooijer, Evelien: Het vogelalfabet – SJ Naudé
- Erasmus-Alt, Joanita and Van Coller, HP: A hybrid between the novel and the short story volume
- Ferreira, Jeanette: Alfabet van die voëls stel hoë eise
- Hay, Cassie: A review of The alphabet of birds by SJ Naudé
- Johnston, Michael: The alphabet of birds by SJ Naudé casts a spell
- Lambrechts, Marietjie: LitNet Akademies-resensie-essay: Alfabet van die voëls – ’n intertekstuele labirint
- Meulemans, Herman: Boekbespreking: Het vogelalfabet, SJ Naudé
- Naudé, SJ: Into the open sea: translating The alphabet of birds
- Olivier, Francois: Die skrywer as voëlwiggelaar
- Rautenbach, Anneke: The alphabet of birds by SJ Naudé
- Review: The alphabet of birds – SJ Naudé
- Scheffer, Ronel: Alfabet van die voëls, SJ Naudé
- Schimke, Karen: Review: The alphabet of birds
- The Lonesome Reader: The alphabet of birds by SJ Naudé
- Van den Berg, Cilliers: Onder skuil dieper, donker worstelings
- Vanderslice, John: The alphabet of birds by SJ Naudé (review)
- Van Heemstra, Marjolijn: Het vogelalfabet – SJ Naudé
- Van Niekerk, Jacomien: Die alfabet van die voëls
- Venter, Eben: Om jou te gedra volgens ’n nuwe stel reëls
- Viljoen, Louise: Taal van ’n kortverhaal
- Wenner van die Jan Rabie-Rapportprys 2012
- Zuckerman, Jeffrey: The alphabet of birds by SJ Naudé
|
Publikasie
|
Die derde spoel
|
Publikasiedatum
|
2017
|
ISBN
|
9781415207475 (sb)
|
Uitgewer
|
Kaapstad: Umuzi
|
Literêre vorm
|
Roman
|
Pryse toegeken
|
Geen
|
Vertalings
|
2017 Engels
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet
|
- Barnard-Naudé, Jaco: Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
- Burger, Willie: Kies ’n boek: Willie Burger kyk na SJ Naudé se nuwe boek Die derde spoel
- Crocker, Jennifer: The despair of searching for love
- Hambidge, Joan: Woorde wat weeg: SJ Naudé – Die derde spoel (2017)
- Interview with SJ Naudé on ENCA Weekend Wakeup
- Interview with author SJ Naudé on SABC News Newsroom
- Joss, Brian: Book review: The third reel
- Koen, Dewald: Besonderse roman met filmiese aanslag
- Magwood, Michele: A quest wrapped in mystery: Michele Magwood talks to SJ Naudé about his debut novel The third reel
- Meyer, Naomi: Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n onderhoud
- Paine, Ayanda-Allie: Writing has changed my life: SJ Naudé discusses his new novel The third reel
- The third reel
- Van Vuuren, Helize: Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n boekresensie
|
Artikels oor SJ Naudé beskikbaar op die internet:
Artikels deur SJ Naudé beskikbaar op die internet:
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post SJ Naudé (1970–) appeared first on LitNet.