Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21618 articles
Browse latest View live

Die gebruik van fiksie vir die ontwikkeling en optekening van navorsing in die sosiale wetenskappe

$
0
0

Die gebruik van fiksie vir die ontwikkeling en optekening van navorsing
in die sosiale wetenskappe

Julian Müller, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat
Marguerite Müller, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 14(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die gangbare manier van rapportering van navorsing is die sogenaamde “expository essay” (verklarende opstel). In so ’n opstel sal die navorser die lesers volledig en duidelik inlig oor die probleem, die navorsingsvraag, die agtergrondliteratuur, metodologie, dataversameling en die implikasies van die bevindinge (Wade 2008:13). Die meeste akademici beskou hierdie manier van skryf oor navorsing as die enigste geldige manier. Proefskrifte en artikels wat ander opsies ondersoek, kry dikwels die wind van voor, omdat dit nie inpas by die gangbare en aanvaarde nie. Tog is dit interessant dat die gebruik van fiksie vir die rapportering van navorsing glad nie so vergesog is nie, en eintlik reeds goed gedokumenteer en beskryf is.

Narratiewe navorsing is deel van ’n groot skool van poststrukturalistiese denke en as benadering tot navorsing het dit gelukkig reeds inslag gevind. Binne hierdie skool van denke en praktyk word verskillende kunsvorme beproef as maniere om navorsing te doen en ook aan navorsingsbevindinge beslag te gee. In hierdie artikel word veral oor die genre van fiksie as een van daardie uitdrukkingsvorme besin.

Wat aangebied word, is nie ’n neutrale besinning oor die vraag hoe fiksie gebruik kan word in die rapportering van navorsing nie. Die twee skrywers is dit met mekaar eens oor, en oortuig van, die waarde en betekenis van fiksie in die navorsingsomgewing. Die artikel behels ’n refleksie op die pad wat beide van hulle al met fiksie en navorsing gestap het. Hulle besin oor die bydrae wat fiksie in hulle verstaan en doen van navorsing gemaak het. Hulle toon aan dat fiksie aangewend kan word om die bevindinge van navorsing in stories uit te pak en te ontwikkel. Dit beteken dat die feite van die navorsing (temas, kategorieë, kulturele insigte, ens.) in fiksie weergegee word. So word dit ’n lewende verslag wat die navorsing as ’n verhaal oordra.

Trefwoorde: fiksie; narratief; navorsingsmetode; rapportering van navorsing

 

Abstract

The use of fiction in the development and presentation of research in the social sciences

The expository essay is the most widely accepted way to report on research findings. In such an essay the researcher usually discusses the research problem, research question, background literature, methodology, data collection, implications and findings (Wade 2008:13). Most academics see this way of writing about research as the only valid way to do so. Theses and articles that explore other possibilities, such as through fiction writing, are often perceived as problematic as they do not fit the generally accepted conventional research practices. Yet the use of fiction as a research methodology is not unheard of and has, in fact, been well documented and discussed in academic literature. Narrative research is part of a larger school of poststructuralist thought and as an approach to research it has already found acceptance. Within this school of thought and practice different art forms are being tested as ways of doing research and reporting on research findings. Narrative research, which emerged from poststructuralist thought, is a well-established research approach. Within narrative research it is possible to experiment with different artistic forms and ways to approach research. In this article we focus on the genre of fiction as one such a form of expression.

The narrative approach is not concerned in the first instance with data and truth within the story, but rather with the story in and of itself, and particularly with the telling of the story as a way in which we construct our realities. The process of storytelling has meaning in and of itself, and not just the content of the story that can be broken up into fragments and analysed by means of themes, codes, and even computerised analysis. In the narrative approach no distinction is made between fact and fiction, between “story” and “history”.

This article is not an attempt at neutral or “objective” research on the question of how fiction can be used in the reporting of research. It is, rather, the unpacking of our conviction that fiction makes an enriching contribution to the process of doing research and interpreting it. This article is therefore a description of the road that both of us have already walked with fiction and research in order to reflect on the contribution that fiction, in our understanding, can make to the research process.

According to Caine, Murphy, Estefan, Clandinin, Steeves and Huber (2016:1) there are three objectives that can be achieved with “fictionalizing in narrative inquiry”: the protection of the identities of co-researchers, the creation of distance between ourselves and our experiences, and its use as an imaginative way to enrich the research space and the interpretation of research. Something that could possibly be added is that it also makes academic research more accessible to non-academic audiences.

It is interesting and important to discover that the accepted use of fictional names (pseudonyms) is, in actual fact, already a form of fiction writing. It is used out of ethical concern to protect people who participate in the research. The purpose of pseudonyms is to disguise time, place and other indicators of identity. One could also express the second objective above as “a process of creating an other to tell more” (Caine et al. 2016:3). Fiction creates the possibility of a deeper or thicker description (“more”) and at the same time also creates protection for the writer/researcher so that he/she does not become unnecessarily exposed and vulnerable.

The article is an exploration of how we have both used fiction in our research. We argue that fiction can add much value to the research process and reporting thereof through reflecting on our journey as researchers and how we have incorporated the use of fiction in our research. Julian looks specifically at the successes and challenges of using fiction as a way of reporting on a research project about ubuntu at the University of Pretoria, and Marguerite tells of her use of fiction in writing her PhD thesis on the theme of educator identity and anti-oppressive theory at the University of the Free State. Julian writes about the anxiety that many researchers have around the use of fiction as a research tool, as the perception still largely exist that research should be factual and scientific. However, he also writes about how the researchers on the ubuntu project came to use fiction to open up new research spaces and new readings of their narratives. Julian uses the example of one of his PhD students, John Eliastam, who uses auto-ethnography to create an emotionally resonating piece that shares many elements of fiction writing. This type of research reporting is shown as useful to help the researcher give expression to the emotions and feelings that usually form part of a research process, but often go unreported. It is also useful in drawing in the audience, and intentionally eliciting an emotional rather than a purely rational response from the reader.

In her thesis Marguerite creates a range of characters to tell the story of her research journey. The characters are based on real research participants and how their contributions helped the fictional narrative to take shape around academic theory. As such, fiction is used to grapple with theory, but also to bring it to life and create a text in which we can explore our understandings, and also look beyond the limits of what we understand. Fiction in this sense is used to push the boundaries of what is acceptable in academic writing and reporting, but also to push the boundaries of the researcher’s learning by bringing the what if question to the centre of the research process. The what if question propels the story forward and helps the researcher to explore unexplored territory as the story is formulated using the research theories, data and interpretations.

By reflecting on our use of fiction in our research we consider the use thereof for research practice in general and show how fiction can be used to unpack research findings; in other words, how the “facts” of research (themes, categories, cultural insights etc.) can be repackaged as fiction and how research reporting can become storytelling. This means that the so-called “facts” of research are integrated with fiction in order to create a living account of the research that demonstrates rather than tells.

Keywords: fiction; narrative; research method; research reporting

 

1. Inleiding

In hierdie artikel skryf ons oor die gebruik van fiksie in navorsing. Ons verwys na beide die konstruering van navorsing en die optekening daarvan. Daar is ’n paar redes waarom ons hieroor skryf. Eerstens wil en moet ons albei ons eie voorkeur vir fiksie as genre openbaar. Statistiek as sodanig, behalwe wanneer dit ’n storie vertel, het nog nooit tot ons gespreek nie.

Julian: In die boekwinkel bevind ek my gedurig by die fiksierak en op universiteit was my lekkerste kursus Afrikaans tot op derdejaarvlak – lekkerder as die meeste teologiese vakke.

Marguerite: Ek het nog altyd gevoel dat ek meer en makliker leer deur stories as deur wetenskaplike feite. Op skool was kuns en geskiedenis my gunstelingvakke, juis omdat ek in hierdie vakke ondervind het dat ek die wêreld en myself beter leer verstaan het deur stories.

Ons albei se belangstelling was dus nog altyd in letterkunde en dit het mettertyd na ons navorsing oorgespoel. Maar daar is ’n tweede en miskien belangriker oorweging waarom ons hierdie tema behandel. By die lees van navorsingsartikels, en veral skripsies en proefskrifte, word ons so dikwels met ’n gevoel van onbevrediging gelaat. Dit is asof mens telkens weer wil vra: So what? Daar leef dikwels by ons die gevoel dat daar tog meer ontdek moet word as die paar algemene en dikwels holruggeryde stellings aan die einde van sulke geskrifte. Kortom, ons het ’n behoefte daaraan om navorsing wat gedoen is, beter te laat tuiskom. Om iets opwindends te kan raaksien en dit so te verwoord dat dit verhelder en inspireer. Hier kan fiksie moontlik nuwe deure oopmaak vir navorsing wat meer toeganklik en opwindend is.

Ongelukkig word die gebruik van fiksie in die navorsingsomgewing steeds (internasionaal, en beslis ook in Suid-Afrika) met agterdog bejeën. Selfs net by die gebrúik van die woord fiksie saam met die woord navorsing ontstaan daar vrae en besware. Vir wetenskaplikes en akademici wat hulle in die denkrigting bevind waarvolgens die werklikheid iets objektiefs is en die navorser ’n buitestander, bly konsepte soos narratief en fiksie moeilik verteerbaar – vir hulle is dit “aesthetic forms which is are seen as the writing of literature and not the writing of scientific research” (Wade 2008:17). By kritici bestaan die persepsie steeds dat die gebruik van hierdie genres daartoe sal lei dat maklike aannames gemaak word en dat foutiewe voorstellings van die navorsing gedoen kan word. Dit is, interessant genoeg, en gelukkig nie meer, die geval met ’n konsep soos narratiewe navorsing nie. Narratiewe navorsing as deel van ’n groot skool van poststrukturalistiese denke en as benadering tot navorsing het gelukkig al inslag gevind. Die woord fiksie, aan die ander kant, ontlok steeds meer weerstand as die term narratief.

Die groter openheid vir die “narratiewe benadering” berus moontlik op ’n verwarring met wat “narratologie” genoem kan word. Narratologie behels die kennis en wetenskap van stories as ’n verskynsel. Net soos in die geval van die narratiewe benadering, behels dit ’n positiewe beoordeling van stories. Daardie stories word dan “wetenskaplik” bestudeer en ontleed. Op hierdie manier word die storie dan net ’n ander vorm van data, terwyl die narratiewe benadering ’n alternatiewe verstaan van die werklikheid behels. Laasgenoemde werk eerder met verhaal as metafoor vir die verstaan van hoe ons ons realiteit konstrueer. Dit fokus meer op die proses van “story-ing” as op die verhaal as objek of bron van data.

Die narratiewe benadering gaan nie oor data en waarheid binne-in die storie nie, maar eerder oor die storie as sodanig en veral oor die vertel van die verhaal as ’n manier waarop ons ons werklikhede konstrueer. Die proses van storievertel as sodanig het betekenis en nie net die inhoud van die storie wat met temas en kodes en selfs rekenaargebaseerde programme in fragmente opgebreek en ontleed kan word nie. In die narratiewe benadering word daar nie onderskeid getref tussen feit en fiksie, tussen “story” en “history”, nie.

Hierdie artikel is geen poging tot neutrale of “objektiewe” navorsing oor die vraag na die verhouding tussen fiksie en navorsing nie. Dit is eerder ’n uiteensetting van ons oortuiging dat fiksie ’n verrykende en verreikende bydrae lewer tot die doen van navorsing en die interpretering daarvan. Wat volg, is dus ’n uiteensetting van die pad wat beide van ons (Julian en Marguerite) al met fiksie en navorsing gestap het ten einde te reflekteer op die bydrae wat fiksie in ons verstaan en doen van navorsing gemaak het.

 

2. Geleidelike ontdekking en groeiende oortuiging

2.1 Julian vertel

Toe ek jare gelede ’n kursus in narratiewe terapie in Chicago by Freedman en Combs (Evanston Family Centre) bygewoon het, het ek een middagetepouse in die boekwinkel oorkant die straat verwyl en op ’n boek van Anne Lamont afgekom. Die titel, Bird by bird, het my onmiddellik geïnteresseer. Dit gaan daaroor dat skryfwerk metafories gesproke voëltjie vir voëltjie aangepak moet word. Jy moenie wegval met voëls in die algemeen nie, maar eerder begin by die één voëltjie wat jy nou daar op die grasperk sien. Van daar af gaan jy na die volgende en dié lei jou weer verder. Lamont ontwikkel ’n eie metode van fiksie skryf en na aanleiding daarvan het ek in die maande daarna op my eie en later ook saam met kollegas artikels in vakwetenskaplike tydskrifte gepubliseer. Daarin het ons fiksieskryf as metafoor gebruik vir die doen van pastorale terapie, en ook vir navorsingsmetodologie. Dit was lekker skryfwerk, maar noudat ek daaraan terugdink, besef ek dat dit nie werklik oor die skryf van fiksie as genre gegaan het nie, maar eerder oor Lamont se model van fiksieskryf wat ons as metafoor vir terapie en navorsing gebruik het.

Daarteenoor is die bedoeling van hierdie artikel om die verweefdheid van fiksie met die doen van navorsing en die skryf daaroor te ontgin. Fiksie en fiksie skryf word nie net as metafoor gebruik om na te dink oor navorsing nie, maar ondersoek as genre vir beide die ontwikkeling van navorsing asook die sinvolle rapportering daarvan in die akademiese omgewing.

Ek onthou dat ek lank gelede nog op ’n manier geglo het aan die doodstraf, ten spyte daarvan dat ek bewus was van allerlei formeel-akademiese argumente daarteen. Toe lees ek The green mile van Stephen King en dit het my finaal genees. Ek glo nie iemand kan steeds ’n voorstander van die doodstraf wees na die lees van daardie boek nie. ’n Spul feite en statistiek oor die doodstraf kan nooit dieselfde effek hê nie.

Ek is tans betrokke by ’n navorsingsprojek van die Universiteit van Pretoria oor ubuntu.1 Die projek staan nou einde se kant toe, en terwyl ons besig was om die moontlikhede van vir verslaggewing te ontgin, het iemand (wat anoniem wil bly) per e-pos aan ons geskryf: “Ubuntu is in no way ‘fictional’ and/or a mere ‘reflection’ and/or ‘reports’, but a locally lived experience.” Hierin kom die vrees ook na vore dat verskynsels wat nagevors word (in hierdie geval ubuntu) tot blote fiksie “verlaag” sal word. Die onderskeid tussen die sogenaamde werklike lewe van elke dag en fiksie is hier die uitgangspunt. Die onderliggende siening is dat fiksie verwyder is van die werklikheid en dat fiksieskryf die harde werklikheid sal ondermyn. Presies die teenoorgestelde as wat ek met die lees van The green mile en my siening van die doodstraf ervaar het.

Ons benadering is die teenpool en ons vind aansluiting by die woorde van Carr (soos aangehaal deur Pendery 2015:339): “The belief in a hard core of historical facts existing objectively and independently of the interpretation of the historian is a preposterous fallacy.” Met ’n tema soos ubuntu wat lae en lae van betekenis het en wat omring is met nostalgie en verbeelding, het dit steeds duideliker geword dat “hi-story” en “story” vermeng is en dat dit om alternatiewe formulerings vra. Die tema vra om metafore en stories. Dit ontglip ons as navorsers voortdurend en uiteindelik het dit die meeste sin om daaroor in die genre van fiksie te besin en te rapporteer. Later in die artikel word ’n gedeelte van die outo-etnografiese fiksie van een van my PhD-studente, John Eliastam, aangehaal.

2.2 Marguerite vertel

Alhoewel ek dit nog altyd geniet het om te lees en te swot, het ek nooit juis belang gestel om ’n PhD te doen nie. Ongelukkig was ek onder die (valse) indruk dat navorsing slegs vraelyste en statistiek en getalle behels, en strak verslaggewing het my nog nooit aangestaan nie. Toevallig sien ek toe eendag ’n video op YouTube met die titel “Dance your Phd” en daar maak dit vir my ’n nuwe wêreld oop. Die verband tussen kuns en navorsing het ewe skielik vir my soos ’n lig aangegaan. Die kreatiewe en interessante omgang met navorsing het my dadelik aangestaan. Ek begin toe meer lees oor narratiewe navorsing in onderwys en veral die werk van Clandinin en Connelly (2000; 1998; 1989) wat fokus op die ervaringswêreld van leerders en onderwysers. Verder het ek begin lees oor kuns as navorsingsmetode. “Arts-based research” (Leavy 2009) en veral die gebruik van fiksie as navorsingsmetode het tot my gespreek (Clough 2002; 1999; 1995; Leavy 2013). Die temas waarmee ek in my proefskrif werk, is sosiale geregtigheid en anti-onderdrukkende onderwys, en die benadering van kuns en fiksie het my gehelp om hierdie komplekse begrippe op ʼn kreatiewe en persoonlike wyse te ontgin. Die hele proefskrif is as ʼn storie geskryf en ek verweef die werklikheid met fiktiewe elemente om ʼn narratiewe geheel te vorm. My proefskrif was toe eindelik ’n ontginning van my eie storie soos wat dit vervleg is met dié van ander mense wat in dieselfde veld as ek werk. As ’n hulpmiddel om die storie te vertel het ek ’n karakter met die naam Daisy in die lewe geroep. Dit was ’n manier om myself as ’n fiktiewe karakter te herskep. Sodoende het ek ’n manier gevind om “nie ek” te wees:

… because “to be oneself no longer makes sense” (Zembylas 2007:140). Zembylas (2007:138) also points me in the direction of Foucault who claims that, “... a work of art transfigures, interrupts and opens a void which forces the world to question itself. This void opens possibilities for interrogating our experiences in the world; it is the passion of the experience with which a subject is constantly dismantling and recreating itself.” (Müller 2016:66)

Toe ek eers begin skryf, was dit asof die Daisy-verhaal my navorsingservaringe gestuur, verryk en verander het. Daisy het ’n lewe van haar eie gekry terwyl sy steeds in interaksie met my eie verhaal verkeer het. Sy worstel byvoorbeeld met haar eie ondervindings met onderdrukking in die onderwys as ’n student, ’n onderwyser en ook as ’n ma. Sy wonder hoe sy dinge kan verander en gaan op ’n fiktiewe reis, oor stormagtige seë na verlore eilande, op soek na ’n “beter” plek. Die reis is deels geïnspireer is deur die kinderboek Where the wild things are (Sendak 1963), en neem haar op ’n avontuur na onbekende plekke waar sy nuwe dinge sien en op nuwe maniere leer dink. Sy is op soek na “andersheid”, net soos ek. Die narratief wat ontwikkel het, is dus ’n fiktiewe storie wat geïnspireer is deur regte ervaringe en belewenisse, kuns, teorie en bestaande fiksie.

The sun disappears behind a cloud and Daisy looks up at a dark ceiling of lush forest green – these trees are tall and she feels very small. She listens to a nostalgic tune as the wind hums through the thick branches of memory and forgetting. The desolate beach remains barely visible between the silhouettes of tree trunks and they seem to be closing in on her like an army of silent faceless soldiers. A cold shiver of fear runs down her spine. She jumps at a sudden yet strangely familiar sound. “Don’t worry,” Past reassures her, “That is only the sound of ‘Future’ who followed us here.” (Müller 2016:75)

So kom daar met die skryf van die storie talle nuwe karakters by. Past is byvoorbeeld ’n rot wat onder Daisy se tafel bly en saam met haar op reis na die onbekende vertrek, en Future is ’n voëltjie wat altyd maar vooruit vlieg en liedjies sing oor dit wat dalk mag kom. Soos wat die verhaal ontwikkel, het herinneringe, ondervindings en verbeelding verweef geraak. Die storie het dus ’n lewe van sy eie begin kry en my somtyds na onverwagte plekke geneem, waar ek nuwe karakters ontmoet het en nuwe insigte gekry het.

I get up from my chair to open up the window and draw the curtain. I see the swing set outside my window. I can only choose to get on the swing and swing in unison with others, or not. When a butterfly comes in through my window it is both part of my story and part of its own story. When the sun shines through my window it shows me a stain on my tablecloth I never noticed before, I can look at that stain forever and think of what it might represent and accept it, or get up and wash my tablecloth. (Müller 2016:76–7)

Die metafoor van die skoenlapper wat by die venster invlieg en beide deel word van my verhaal en ook ’n verhaal van sy eie het, help ons om die funksie van fiksie in die navorsingsverslag te verstaan en te verwoord. Dit is deel van die navorsingsverhaal terwyl dit ook ’n eie verhaal behels. Maar die skoenlapper wat invlieg, bring meteens nuwe perspektiewe en ervaringe. Nadat die skoenlapper ingevlieg het, is daar ’n nuwe prentjie en nuwe verhaal. Tog is dit ook dieselfde storie. Die invoer van fiksie in die navorsingsverslag het dieselfde funksie. Dit konstrueer dieselfde storie op ’n nuwe manier en so word ’n alternatiewe perspektief geskep.

Ek maak gebruik van Kumashiro (2000; 2002) se raamwerk van anti-onderdrukkende onderwys om uiteindelik die verhaal te lees. Kumashiro se “space-between” is ’n spasie waar die realiteit opgeskort word en waarbinne nuwe moontlikhede ontwikkel word. ’n Fiksieverhaal wat uit, langs en teenoor die tradisionele navorsingsverhaal ontwikkel is ’n gedeeltelike storie. Dit vertel nie alles nie, maar dit is op soek na iets tussenin en ook anderkant die opsigtelike grense. Op hierdie manier help dit ons om dit wat ons weet te bevraagteken en dit wat ons nie weet nie, te soek.

I find myself standing in the middle of my table. The essays are coming to life and the red pen marks run like veins over the paper figures. The sun disappears for a second and I see the silhouettes of figures standing in straight rows. We all look up at the school inspector stepping out of the crumpled newspaper to take his place on top of the pile of theory books. “Do we want reflective practitioners or teachers who can teach children to read?” he asks in the voice of reason and clarity.(Müller 2016:68)

In die uittreksel van Daisy se verhaal is dit duidelik dat sy toenemend ’n verbeeldingswêreld betree waarin onwerklike dinge kan gebeur. Haar storie ontstaan uit ’n konstante soeke na iets buite die grense van dit wat sy weet en verstaan, ’n soeke na iets nuuts en anders.

Hierdie gebruik van die fiktiewe narratief het my gehelp om dit wat ek verstaan in terme van akademiese teorieë te verwoord, maar terselfdertyd verby hierdie verstaan te kyk na die plekke en dinge wat ek nog nie verstaan nie. Die storie neem my dus deurentyd na die grense van my verstaan. Ek moes keer op keer vra: Maar wat lê net om die draai? Wat weet ek nog nie?

In die skepping van ’n fiksiestorie val die klem van die akademiese reis met kennis juis op die proses van ontdekking en skepping eerder as die eindproduk. Die fiktiewe help om onsekerheid te verwoord, eerder as om sekerheid voor te gee. Fiksie as ’n navorsingsmetode spreek tot ’n postkwalitatiewe benadering wat St. Pierre (1997:176) beskryf as “research that aims to produce different knowledge and to produce knowledge differently”.

Die storie van Daisy se avontuur is dus metafories van die proses waardeur ek self moes gaan om sin te maak van my eie identiteit as wit, Afrikaans, heteroseksueel, en vroulik in die Suid Afrikaanse konteks. Die fiksieverhaal het my gehelp om deur sekere ervaring te werk, dit te kontekstualiseer, en uiteindelik binne ’n bepaalde raamwerk te lees. Verder het die skryf van die verhaal my gehelp om aan te hou vra: Wat weet ek nie? Of: Wat mis ek? Dit kom alles neer op ’n soeke na “andersheid” of ’n nuwe manier van wees. Vir my maak die kreatiewe omgang met navorsing hierdie soeke moontlik.

Daisy’s problem is that she feels troubled by her experiences with oppression in education (both as a student, an educator and a mother). She wonders how she can change things. She is now on a journey in search of a “better” place. The journey takes her into unknown territory in which she sees new things and thinks new thoughts. And when she returns she will not be better, just different. (Müller 2016:67)

 

3. Feit en fiksie in die rapportering van navorsing

Die gangbare manier van rapportering van navorsing is die sogenaamde “expository essay” (verklarende opstel). In so ’n opstel sal die navorser die lesers volledig en duidelik inlig oor die probleem, die navorsingsvraag, die agtergrondliteratuur, metodologie, dataversameling en die implikasies van die bevindinge (Wade 2008:13). Die meeste akademici beskou hierdie manier van skryf oor navorsing as die enigste geldige manier. Proefskrifte en artikels wat ander opsies ondersoek, kry dikwels die wind van voor omdat dit nie inpas by die gangbare en aanvaarde nie. Tog is dit interessant dat die gebruik van fiksie vir die rapportering van navorsing glad nie so vergesog is nie en eintlik reeds goed gedokumenteer en beskryf is (Alvermann en Hruby 2003).

So word fiksie dan aangewend om die bevindinge van navorsing in storievorm “uit te pak” en te ontwikkel. Dit beteken dat die feite van die navorsing (temas, kategorieë, kulturele insigte, ens.) geneem word en met fiksie geïntegreer word ten einde ’n lewende verslag van die navorsing te ontwerp wat demonstreer eerder as sê (Alvermann en Hruby 2003:261). De Oliveira Andreotti (2016) praat van die “performative text”:

“[P]erformative” texts are very different from texts that claim to represent something literally. As an expression of an aesthetic force the text has a life of its own and is out of my control – in the artistic sense, I cannot claim responsibility for what it does or even where it comes from. My experience with this force is that it intends to “touch’ each reader differently, in order to bring forward something needing to surface and to become visible. (Oliveira Andreotti 2016:80)

Volgens Caine e.a. (2016:1) is daar drie doelwitte wat bereik kan word met ’n “fictionalizing in narrative inquiry”, naamlik (i) die beskerming van medewerkers se identiteit, (ii) die skep van afstand tussen die self en persoonlike ervaringe, en (iii) om op ’n verbeeldingryke manier die ondersoekruimtes en die navorsingsinterpretasies te verryk. Iets wat moontlik hier bygevoeg kan word, is dat die gebruik van fiksie ook akademiese navorsing meer toeganklik kan maak vir nie-akademiese gehore.

Dit is interessant en belangrik om te ontdek dat die aanvaarde gebruik om fiktiewe name (pseudonieme) te gebruik inderwaarheid reeds ’n vorm van fiksieskryf is. Dit het ontstaan ter wille van die etiese oorweging om persone wat aan die navorsing deelneem te beskerm. Die bedoeling van pseudonieme is om tyd, plek en ander identiteitsaanduiders te verbloem.

Mens sou die tweede doelwit hier bo ook kon verwoord met “a process of creating an other to tell more” (Caine e.a. 2016:3). Dit is wat Marguerite bewerkstellig het met die skep van haar Daisy-karakter. Dit is ook ’n voorbeeld van outo-etnografiese fiksie. Fiksie skep die moontlikheid van ’n dieper of dikker beskrywing (“meer”) en terselfdertyd skep dit ook beskerming vir die skrywer/navorser sodat sy/hy nie onnodig kwesbaar, weerloos en uitgelewer gelaat word nie.

In ’n artikel deur John Eliastam (2016) reflekteer hy op sy reis as navorser in die ubuntu-navorsingsprojek, en verwys ook na die verhouding tussen hom en die medenavorsers. Interessant is dat hy oënskynlik die teenoorgestelde as Caine e.a. (2016:1) beklemtoon. Laasgenoemde praat van skep van die nodige afstand met die medenavorsers, terwyl Eliastam verwys na Meerwald (2013:45) en verduidelik wat hy wou bereik: “to diminish the gap between myself as the researcher and what is being researched in order to reflect my simultaneous involvement in the research process”. Op die oog af lyk dit na teenoorgesteldes, maar dit is maar net verskillende perspektiewe op dieselfde argument. Fiksieskryf help die navorser om te besin oor die komplekse prosesse en verhoudinge tussen hom-/haarself, die navorsing en die verskillende rolspelers op die navorsingsreis.

Die derde doelwit kan ook sommer kortweg aangedui word as “creating ‘as if’ worlds” (Caine e.a. 2016:3). Met die skep van ’n verbeeldingryke “asof”-verhaal word die interpretasie (selfs “ontleding”) na ’n volgende vlak gevoer. “[I]t provides a way for researchers and participants to understand their experiences in new ways, in different contexts” (Caine e.a. 2016:4). Dit skep moontlikhede vir ’n meer egte en kleurryke verhouding tussen die navorser en die medenavorsers wanneer hulle saam betrek word in ’n nuwe fiktiewe wêreld. Eliastam (2016) verwys daarna as “contextually situated stories of people”.

Met verwysing na die werk van Sarbin (2004) sê Caine e.a. (2016:4):

The worlds created are narrative constructions, fictionalized out of the stuff of memory and drawing on field texts that are composed and co-composed with participants. In this way, like Sarbin, we understand imagining as a form of perceptual and embodied knowing.

So vervaag die skeidslyn tussen navorser en medenavorsers. Die gebruik van fiksie help dus om sekere teenpole wat in tradisionele navorsing aanvaar word, te bevraagteken. Die mees ooglopende teenpole is dié van feit/fiksie, maar daar kom ook ander ter sprake, soos rasioneel/emosioneel, wetenskaplik/kunstig en publiek/persoonlik. Baie kwalitatiewe navorsers aanvaar lankal reeds dat hulle persoonlike ervaring en persepsies altyd hulle navorsing en navorsingsvrae beïnvloed. Die navorser kan onmoontlik as ’n objektiewe buitestander gesien word (Leavy 2009). Binne die feminisme word die rasioneel/emosioneel-skeidslyn wat ons in positivistiese navorsing vind, bevraagteken. Verder sien ons in navorsingsmetodes soos die outo-etnografie dat die teenwoordigheid van die navorser dikwels sigbaar gemaak word en/of verbloem word deur stories en narratiewe. Dit alles het aanleiding gegee tot die ontstaan van navorsing wat klem lê op die gebruik van fiksie as navorsingsmetode soos in die werk van Clough (2002) en Leavy (2013). In sulke navorsing is daar ’n klemverskuiwing weg van “die” waarheid na gedeeltelike waarhede en meerdere waarhede.

Fiksie maak dit vir die skrywer moontlik om af te sien van die “single story” (Adichie 2009), dikwels omdat die gebruik van fiksie in navorsing meestal gepaard gaan met meerdere deelnemers. Die uiteindelike storie word as’t ware saam geskryf. Die saamvloei van meerdere stories help ons om ander se perspektiewe in ag te neem soos dit verweef word in ons eie storie. Medenavorsers se stemme word in hierdie tipe navorsing net so belangrik geag soos dié van die navorser en hulle insette gee ook leiding aan hoe die storie ontvou en verstaan word. Die belangrikheid hiervan lê daarin dat die tradisionele magsverhouding tussen die navorser en die persoon wat nagevors word, afgebreek word. Die objekte van navorsing word nou “medenavorsers”. Hulle word deel van die storie, maar help ook met die interpretasie van die storie en help die navorser om tot nuwe insigte te kom en sy/haar eie storie te bevraagteken of uit ander hoeke te benader.

In Marguerite se PhD (Müller 2016) gebruik sy meerdere stories, afkomstig van meerdere bronne en vervleg dit uiteindelik in een fiksiestorie. Die vraag is egter of die fiktiewe element werklik nodig is. Kon sy nie maar liewers net ’n outobiografiese werk of ’n lewensgeskiedenis geskryf het nie? Dit sou miskien ook kon gewerk het, maar die resultaat sou heel anders gewees het. Fiksie maak dit vir haar moontlik om keer op keer te vra: “Wat sou gebeur as?” of “Sê nou maar ...?” (“What if?”), en dit is juis daardie soort vraag wat die storie vorentoe neem en ontwikkel.

Net so het die invoer van ’n metafoor vir Julian deure van verstaan en interpretasie oopgemaak. Sy navorsingsprojek oor ubuntu is besig om na drie jaar ten einde te loop. Hy en sy span is tans in die proses van die skryf van ’n boek2 wat gebaseer is op die deurlopende metafoor van die begraafplaas wat geleë is tussen die “town” en die “township”. Die metafoor maak dit moontlik om na te dink oor ubuntu as ontmoetingsplek tussen die hede en die verlede, die lewendes en die afgestorwe voorvaders. Dit skep ook ruimte vir die ontwikkeling van taal wat praat oor die dinamiek van verhoudinge wat ontwikkel tussen ’n verskeidenheid mense in en rondom die begraafplaas. Die metafoor wat deel is van ’n fiktiewe verhaal maak dit vir die navorsers moontlik om te besin oor meersydigheid van ubuntu as ’n gelaagde en komplekse begrip.

Dus is die gebruik van fiksie vir ons ’n soort navorsingsinstrument wat ons help om ons eie stories te vertel, op verskillende maniere te lees en te interpreteer, te sien hoe ander se stories by ons s’n aansluit, en dan nuwe moontlikhede te ontgin in ons soeke na “andersheid”. Dit help ons om die fees van tekstuele moontlikhede te vier. Barone (2016:16) verwoord die vreugde van hierdie proses onverbeterlik mooi: “Within this celebration, social researchers can be found dancing back and forth across what was once a clearly delineated and closed border between the true and the false, the factual and the fictional.”

Navorsing wat handel oor die self en persoonlike ervaringe lê ook klem op emosie en sintuiglike ervaringe (embodiment) wat dikwels te kort skiet in tradisionele positivistiese navorsing. Die deelnemer aan narratiewe navorsing stel hom-/haarself bloot aan ’n proses wat moontlik krisis, pyn en emosie kan meebring. Die fiktiewe spasie, of die skep van fiktiewe karakters, is moontlik een manier om die deelnemer te “beskerm”. Dit was byvoorbeeld vir Marguerite makliker om oor moeilike ervaringe in die klaskamer te skryf uit Daisy se oogpunt as uit haar eie. Die fiktiewe karakter maak dit sodoende moontlik vir die navorser om ’n treetjie terug te gee in die vertel van haar eie ervaringe. Dit gee die navorser ook die geleentheid om nuwe moontlikhede te skep. Om op nuwe maniere te onthou.

In die rolprent Saving Mr. Banks sê die karakter van Walt Disney die volgende oor sy skep van fantasieë en fiktiewe wêrelde:

I am just so tired of remembering in that way. Aren’t you tired too? Now we all have our sad tales, but don’t you want to finish the story, let it all go, and have a life that isn’t dictated by the past? (Hancock 2013)

Walt Disney se karakter verwys na die skep van alternatiewe wat fiksie so aantreklik maak.

Maar fiksie het ook ’n ander belangrike funksie: dit het die potensiaal om akademiese navorsing aan nie-akademiese gehore oor te dra. bell hooks (2003:46) praat van die rol van die onderwyser om die gaping tussen die “akademiese” en “regte” wêreld te bewerkstellig. ’n Demokratiese benadering tot navorsing vereis van ons om kennis aan almal beskikbaar te stel. “We share the knowledge gleaned in classrooms beyond those settings thereby working to challenge the construction of certain forms of knowledge as always and only available to the elite” (hooks 2003:41). In aansluiting by hooks se demokratiese benadering tot kennis kan fiksie die moontlikheid daarstel om dit wat voorheen net in akademiese kringe sou gebly het, na nie-akademiese lesers te laat oorspoel.

 

4. Fiksie – ’n soeke na “andersheid” vir die nadenkende navorser

Daar is verskeie vorme van fiksie wat aangewend kan word. Rhodes en Brown (2005:471) onderskei die volgende kategorieë:

  • Kinderliteratuur
  • Poësie
  • Televisie-“cartoons”
  • Wetenskapfiksie
  • Drama
  • Populêre musiek.
  • Prosa soos die novelle, roman, kortverhaal, ens.

Fiksie maak dit vir die skrywer moontlik om die nodige afstand tussen hom-/haarself en die navorsingsgebeure te skep en sodoende bewus te raak van die hele netwerk van verhoudinge wat bestaan en daaroor te besin. Coulter en Smith (2009:587) verduidelik dat “knowledge is constructed through transactions among researchers, participants, evidence and the social context.” Die tradisionele navorsingsverslae waar die skrywer op ’n gewaand objektiewe manier verslag doen oor data en bevindinge, is geneig om hierdie “transaksies” verby te kyk en/of te ontken. Rhodes en Brown (2005:477) beklemtoon die valsheid daarvan wanneer die “fictional characteristics of research” nie erken en aanvaar word nie.

Die vraag is nie soseer wat die verskil is tussen ’n sogenaamde wetenskaplike dokument aan die een kant en ’n storie of fiksie aan die ander kant nie. Daardie verskil word toenemend bevraagteken en dit word duidelik dat fiksie en feite nie so maklik van mekaar te skei is nie. Die dieper vraag is wat die aansprake van ’n skrywer oor sy/haar teks is? Richardson en St. Pierre (2005:961) noem dit die “authorial claim for the text”. Die genre van fiksie help die skrywer om sy/haar eie aansprake te relativeer en versigtig te wees met finale gevolgtrekkings. Sodoende word die belang van etiek en veral verantwoordelikheid beklemtoon (Rhodes en Brown 2005:469) en sodoende verskuif die klem weg van die sogenaamde geldigheid of waarheid van die navorsing na die subjektiewe integriteit van die navorser in die skryf van die navorsingsverslag. Die verantwoordelikheid van die skrywer behels onder andere ook die erkenning dat taal meer is as ’n middel om die werklikheid mee te beskryf. Met taal word ’n werklikheid gekonstrueer (Goolishian en Anderson 1988). In dié sin bly taal altyd ’n onopgeloste probleem wat erken moet word.

’n Fiksieverhaal kan ’n geregverdigde en kragtige manier wees waarop navorsing en die bevindings van navorsing aangebied word (Richardson 2000; Clough 2002). Wanneer ’n persoonlike verhaal ingebed word in die beskrywing van die breë konteks, kan ons daarna verwys as outo-etnografiese fiksie (Richardson 2000:11). Volgens Richardson kan sulke “evocative representations” beskou word as ’n radikale verwerping van objektiwiteit in die sosiale wetenskappe. Dit is eerder ’n poging tot egte integrasie van persoonlike ervaring met wetenskaplike bevindinge en refleksie. “We find ourselves attending to feelings, ambiguities, temporal sequences, blurred experiences, and so on; we struggle to find a textual place for ourselves, our doubts and our uncertainties” (Richardson 2000:11).

Binne die navorsingsprojek oor ubuntu waarna vroeër in die artikel verwys is, het een van die PhD-navorsers, John Eliastam, deel van sy navorsingservaring in ’n stukkie outo-etnografie verwoord. Hy maak van evokatiewe outo-etnografie gebruik. Volgens Lemmer (2012:551) het dit ten doel “om by die leser ’n emosionele resonansie met die skrywer te skep”. As sodanig funksioneer outo-etnografie in noue verwantskap met fiksie.

Eliastam (2016) se verhaal:

Ubuntu’s disruption of space

I enjoy driving long distances. This is fortunate because my work, whether as a researcher or as a management consultant, often involves long road trips. Over the years, I have found ways to make the hours I spend behind the wheel of my car enjoyable. I am able to access the large collection of music on my smartphone via the Bluetooth on my car’s sound system. Familiarity with various routes means I know where to buy good coffee (I confess to being something of a coffee snob). And then there is my car; I love my car. It is a BMW X3, bought second hand, but still a beautiful machine. It is powerful, safe and comfortable. It insulates me from much of the harshness of road travel, along with my carefully chosen music, coffee and a variety of snacks.

It was still dark when I left East London, heading to Mthatha – dark, cold and wet. My first stop was at a boutique coffee franchise at an all-night filling station. I ordered a double cappuccino; a large, freshly baked apple and cinnamon muffin; and added a bottle of still mineral water before paying and leaving. As I turn onto the N2 freeway, there is the familiar site of someone standing by the road, waiting for the offer of a lift. I am simultaneously moved to stop by the thought of people waiting in the rain, and tempted not to stop by thoughts of wet car upholstery and inconvenience and even the risk of being a victim of crime. I stop and lower the window to speak to the man standing next to the vehicle.

I ask him where he is going. He tells me he is going to Idutywa, a small town between Butterworth and Mthatha. I open the door and signal for him to get in. He settles into the seat nervously. It is unusual for a white South African to stop and offer a lift in this way, almost unheard of. He looks uneasy. Grateful, but uneasy. We travel without speaking for a few minutes. The music that was so relaxing a few seconds before I stopped now feels like an intruder. I cannot imagine that he is a fan of alternative rock music. I am not sure whether to simply turn it down, and allow it to fill what might otherwise be an uncomfortable silence, or turn it off. I turn the music off.

I introduce myself and ask him for his name. It is Bongani. I ask him if he lives in East London. He tells me that he is returning to a village near Idutywa after an unsuccessful attempt to find a job in East London. He tells me that there are no jobs where he lives. There is only poverty. He lives with his mother and four younger siblings. He finished matric the previous year, and now feels the pressure of providing for his family.

While he is talking, I glance at the coffee nestling in its holder in the centre console and think whether I should still drink it. It seems rude to do so, because there is only one cup and I cannot offer him any. I think about the muffin. I take it out, break it into two and offer him one of the halves. He accepts, gratefully. I tell him that I am trying to learn about ubuntu; I ask if he will tell me about it. He smiles:

Ubuntu is something that is part of our culture. It does not matter if you are poor. We are all poor, but even with that poverty you will see ubuntu. Even if what they have is a little, people will share their food with someone in the community who does not have anything.

If you take our weddings, everyone in the community is invited. Everyone can come and eat meat – even that drunk guy. Ubuntu is about treating all people with respect; it is about courtesy and compassion.

I ask Bongani if ubuntu could be an answer for how we live together in South Africa. He seems unsure:

Most white people do not have ubuntu. They only live for themselves. If you are black and poor it seems like they do not even see you. They do not want to know about your struggles.

I am aware that my small gesture of offering Bongani a lift, as an expression of ubuntu, does not really scratch the surface when it comes to the struggles he faces, living in rural poverty. It might be an act of ubuntu, but as an isolated act it leaves too much unchanged. I will continue to live in affluence and comfort. His struggle will continue.

Die bostaande uittreksel van Eliastam se verhaal wys hoe outo-etnografie die navorser help om die invloed wat persoonlike ervaringe op die navorsing het, bloot te lê. In plaas daarvan om sulke ervaringe te probeer onderdruk of beperk, soos gebruiklik is in die tradisionele denkskool, word dit hier doelbewus gebruik vir die verryking van die navorsing. Die konsep van verhalende outo-etnografie (Ellis en Bochner 2000; 2006) is bruikbaar met die oog op die verstaan en beskrywing van beide die ervaringswêreld van die navorser en die konteks of sfeer waarin die navorsing afspeel. Ellis (2004:46) verduidelik dat sulke outo-etnografiese verhale bydra tot ’n dieper verstaan van die self soos wat dit in kontak kom met die lewens van ander deelnemers aan die proses. Lesers word in die skrywer se wêreld ingenooi en die hele proses van vertel, interpreteer, hervertel en refleksie word ’n bron vir verdere verstaan.

Richardson (2000:11; Banks en Banks 1998) beskryf sulke verhalende beskrywings as “a striking way of seeing through social scientific naturalisms. We find ourselves attending to feelings, ambiguities, temporal sequences, blurred experiences, and so on; we struggle to find a textual place for ourselves, our doubts and our uncertainties”. Juis die fiksiemodus maak van so ’n navorsingsverslag ’n refleksie wat gedra word deur subjektiewe integriteit, in teenstelling met die gewaande waarheidsaansprake wat soms met ’n “feitelik korrekte” verslag gepaard gaan. Fiksie se toets is of die karakters daarin geloofwaardig is. En dit gebeur nie sommer per toeval nie. Dit gebeur slegs as daardie karakter uit ervaring of navorsing groei (Wade 2008:6).

Soos reeds genoem, kan die hele idee van fiksie in navorsing vir sommige ongemaklik wees, veral vir diegene wat opgelei is in en van harte glo aan die positivistiese tradisie van sogenaamde objektiewe kennis en kennissisteme. Baie mense verkies hulle kennis stewig en solied. Soos Eisner (1997:7) dit stel: “We prefer our knowledge solid and like our data hard. It makes for a firm foundation, a secure place on which to stand. Knowledge as a process, a temporary state, is scary to many.” Soos reeds vroeër in die artikel beredeneer, werk ons met die konsep van kennis as ’n proses van ’n voortdurend veranderende verhouding tussen ’n persoon en dit wat waargeneem word en die proses van waarneming as sodanig. Dit lê ten grondslag van die narratiewe benadering tot navorsing, wat daarom ook fiksieskryf insluit.

Bell en Desai (2011:288) skryf oor kuns en navorsing en beskryf hoe kuns ons kan help om nuut en anders gekonfronteer te word met die wêreld rondom ons. En “kuns” moet sekerlik wyd verstaan word sodat dit ook gaan oor literêre kunsvorme. Die volgende aanhaling uit Leavy (2009:15) moet ook geïnterpreteer word om fiksie as literêre en kunsvorm in te sluit:

Arts-based practices help qualitative researchers access and represent the multiple viewpoints made imperceptible by traditional research methods. For the many researchers committed to accessing subjugated voices, engaging in reflexive practice, and opening up to a public discourse, arts-based practices are a welcome alternative to traditional modes of knowledge-building.

Navorsers as agente vir verandering en vernuwing is voortdurend besig met die soeke na alternatiewe. En fiksie is presies die soeke na en verwoording van een sodanige alternatief. Volgens Bell en Desai (2011:287): “Researchers need to engage aesthetic and sensory capacities so as to create and experiment with alternative possibilities – imagining what could otherwise be.” Fiksie is een van die kragtigste maniere om die dominante verhale te ondermyn en sodoende “andersheid” te bewerkstellig, met die moontlikheid van die skep van ’n nuwe tussen-in ruimte.

Die oopmaak van perspektiewe deur die insluiting van kuns en literêre vorme van rapportering van navorsing kan help om die illusie van universele waarhede wat gebruik word om plaaslike en gemarginaliseerde stemme stil te maak, te ondermyn. Enige kunswerk, wat fiksieverhale insluit, verteenwoordig verskillende dinge vir verskillende mense en kan dus tot ontdekkende vrae en alternatiewe perspektiewe lei.

 

5. Terugblik

Hierdie artikel is ’n refleksie op die pad wat ons met fiksie in ons navorsing gestap het. Ons is oop en eerlik oor ons aangetrokkenheid tot fiksie as navorsingsbenadering en -metode. Die ontwikkelingspad van navorsing en navorsingsmetodes is lank en omvattend en ons wil nie die indruk skep dat ons dit alles van die tafel vee nie. Tog is ons oortuig daarvan dat die fiksiegenre ’n geldige alternatief bied en dat dit nuwe moontlikhede skep vir navorsers wat ’n behoefte het om kreatiewe uiting aan hulle verstaan en kennis te gee.

Die verbeeldingryke en fiktiewe perspektief help die navorser om iets opwindends te kan raaksien en dit so te verwoord dat dit kommunikeer, verhelder en inspireer. Hierdie genre maak deure oop vir akademiese navorsing wat meer toeganklik en opwindend is. Dit skep die potensiaal om emosie en sintuiglike ervaringe in die rapportering van navorsing in te werk en nuwe moontlikhede te ontgin.

 

Bibliografie

Alvermann, D. en G. Hruby. 2003. Fictive representation: An alternative method for reporting research. In Flood, Lapp, Squire en Jensen (reds.) 2003.

Anderson H. en H.A. Goolishian. 1988. Human systems as linguistic systems: Preliminary and evolving ideas about the implications for clinical theory. Family process, 27(4):371–93.

Banks, A. en S. Banks. 1998. Fiction and social research: By fire or ice. Walnut Creek, CA: Altamira Press.

Barone, T. 2016a. Creative nonfiction and social research. In Barone (2016b).

—.2016b. Handbook of the arts in qualitative research: Perspectives, methodologies, examples, issues. Thousand Oaks: SAGE Publications.

Bell, L.A. en D. Desai. 2011. Imagining otherwise: Connecting the arts and social justice to envision and act for change. Equity & Excellence in Education, 44(3):287–95.

Caine, V., M.S. Murphy, A. Estefan, D.J. Clandinin, P. Steeves en J. Huber. 2016. Exploring the purposes of fictionalization in narrative inquiry. Qualitative Inquir, 23(3):215–21.

Clandinin, D.J. en F.M. Connelly. 1989. Narrative and story in practice and research. http://eric.ed.gov/?id=ED309681 (19 Julie 2015 geraadpleeg).

—. 1998. Stories to live by: Narrative understandings of school reform. Curriculum Inquiry, 28(2):149–64.

—. 2000. Narrative inquiry: Experience and story in qualitative research. San Francisco: Jossey-Bass Publishers.

Clough, P. 1995. Making difficulties: Research and the construction of special educational needs. Londen: Paul Chapman.

—. 1999. Crises of schooling and the “Crisis of representation”: The story of Rob. Qualitative Inquiry, 5(3):428–48.

—. 2002. Narratives and fictions in educational research. Philadelphia: Open University Press.

Daiute, C. en C. Lightfoot (reds.). 2004. Narrative analysis: Studying the development of individuals in society. Thousand Oaks, CA: SAGE.

Denzin, N.K. en Y.S. Lincoln (reds.). 2011. The handbook of qualitative research. Newbury Park, CA: Sage

De Oliveira Andreotti, V. 2016. (Re)imagining education as an un-coercive re-arrangement of desires. Other Education: The Journal of Educational Alternatives, 5(1):79–88.

Eisner, E.W. 1997. The promise and perils of alternative forms of data representation. Educational Researcher, 26(6):4–10.

Eliastam, J. Interrupting separateness, disrupting comfort: An autoethnographic account of lived religion, ubuntu and spatial justice. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 72, November 2016. http://www.hts.org.za/index.php/HTS/article/view/3488 (12 Maart 2017 geraadpleeg).

Ellis, C. en A.P. Bochner. 2000. Autoethnography, personal narrative, reflexivity: Researcher as subject. In Denzin en Lincoln (reds.) 2000.

—. 2006. Analyzing analytic autoethnography: An autopsy. Journal of Contemporary Ethnography, 35(4):429–51.

Flood, J., D. Lapp, J. Squire, en J. Jensen (reds.). 2003. Handbook of Research on Teaching the English Language Arts. 2de uitgawe. Mahwah, NJ: Erlbaum.

hooks, b. 2003. Teaching Community. A pedagogy of Hope. New York: Routledge.

Kumashiro, K. 2000. Toward a theory of anti-oppressive education. Review of Educational Research, 70(1):25–53.

—. 2002. Troubling education: Queer activism and anti-oppressive pedagogy. New York: Routledge Falmer.

Leavy, P. 2009. Method meets art, arts-based research practice. New York: The Guilford Press.

—. 2013. Fiction as research practice. Short stories, novellas and novels. Walnut Creek, California: Left Coast Press.

Lemmer, E. 2012. Konstruering van die akademiese habitus: ’n Analitiese outo-etnografie van 25 jaar in die akademiese wêreld. LitNet Akademies, 9(3):548–79.

Meerwald, A.M.L. 2013. Researcher/Researched: Repositioning research paradigms. Higher Education Research & Development, 32(1):43–55.

Müller, J.C. en L. Bosman. 2008. Prediking aan die hand van die metafoor van fiksieskryf / Preaching according to the metaphor of fiction writing. HTS. Teologiese Studies / Theological Studies, 64(3):1413–23.

Müller, J.C., W. van Deventer en L. Human. 2001. Fiction writing as metaphor for research: A narrative approach. Praktiese Teologie in Suid Afrika, 16(2):76–96.

Müller, M. 2016. A collaborative self-study of educators working towards anti-oppressive practice in higher education. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Pendery, D. 2015. Temples, towers, shifting sands: “Greater truth” in historical writing. History Compass, 13:338–48.

Rhodes, C. en A. Brown. 2005. Writing responsibly: Narrative fiction and organization studies. Organization Articles, 12(4):467–91.

Richardson, L. 2000. New writing practices in qualitative research. Sociology of Sport Journal, 17:5–20.

Richardson, L. en E.A. St. Pierre. 2005. Writing: A method of inquiry. In Denzin en Lincoln (reds.) 2011.

Sarbin, T. 2004. The role of imagination in narrative construction. In Daiute en Lightfoot (reds.) 2004.

St. Pierre, E.A. 1997. Methodology in the fold and the irruption of transgressive data. International Journal of Qualitative Studies in Education, 10:175–89.

Wade, D.G. 2008. The viability of fictional research writing in academe: Explorations of process and product. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Oklahoma Universiteit.

Zembylas, M. 2007. A politics of passion in education: The Foucauldian legacy. Educational Philosophy and Theory, 32(2):135–49.

Zembylas, M., P. Charalambous en C. Charalambous. 2012. Manifestations of Greek-Cypriot teachers’ discomfort toward a peace education initiative: Engaging with discomfort pedagogically. Teaching and Teacher Education, 28:1071–82.

 

Eindnotas

1 Die navorsingsprojek oor ubuntu is interdissiplinêr van aard en word befonds deur die Templeton World Charity Foundation. Julian Müller is saam met Christof Heyns (Regte) en Maxi Schoeman (Politieke Wetenskappe) deel van die span wat onder leiding van James Ogude (Afrika-letterkunde) werk en is verantwoordelik vir die teologiese aspekte van die navorsing.

2 Die boekvoorstel is aan Routledge-uitgewers voorgelê en is tans onder oorweging. Die werktitel van die boek is Ubuntuville: The unfolding story of an Ubuntu research project.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Die gebruik van fiksie vir die ontwikkeling en optekening van navorsing in die sosiale wetenskappe appeared first on LitNet.


Caveat magister! Die uitsetting van kosgangers uit koshuise van openbare skole weens onbetaalde koshuisgeld

$
0
0

Caveat magister! Die uitsetting van kosgangers uit koshuise van openbare skole weens onbetaalde koshuisgeld

Danie (D.F.) Kloppers, konsultant, EduKat Educational Consulting
Henk (H.J.) Kloppers, Fakulteit Regte, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 14(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Verskeie openbare skole dui in briewe, op webtuistes en in aansoekvorms aan dat ’n kosganger uit die skool se koshuis gesit kan word indien koshuisgelde nie betaal word nie. In hierdie artikel word besin oor die regsgeldigheid van uitsetting in die lig van nasionale en provinsiale wetgewing en hofuitsprake. Die artikel wys daarop dat, wat Noordwes betref, dit in die lig van regulasies en die uitspraak in MEC: Department of Education Northwest Province v Fedsas 2016-12-1 saaknr. 021/2016 (HHA) onwettig is om ’n leerder weens wanbetaling van koshuisgeld toegang tot die koshuis te weier. Ten opsigte van die ander agt provinsies word provinsiale wetgewing en regulasies ontleed en dit blyk dat daar nie spesifieke maatreëls is wat uitsetting weens wanbetaling reguleer nie. In die lig van die Konstitusionele Hof en ander howe se uitsprake oor die reg op ’n basiese onderwys en die “beste belang van die kind”-standaard, kom skrywers tot die gevolgtrekking dat uitsetting weens wanbetaling nie oorweeg behoort te word nie, selfs indien geen direkte maatreëls van toepassing is nie. Vervolgens word moontlikhede tot ’n beheerliggaam se beskikking, soos subsidies, onderhandeling en regstappe, kortliks hanteer, en die gevolgtrekking is dat nie een van die alternatiewe werklik suksesvol is nie. Ten slotte word besin oor die beheerliggaam se aanspreeklikheid indien ’n leerder wel uitgesit of toegang geweier word en ’n waarskuwing word aan beheerliggame gerig dat hulle persoonlik aanspreeklik gehou mag word vir onregmatige uitsetting en dus moet waak voordat hulle optree.

Trefwoorde: beste belang van die kind; kosgangers; koshuise; openbare skole; reg op basiese onderwys; uitsetting

 

Abstract

Caveat magister! The expulsion of boarders from public school hostels due to non-payment of hostel fees

A number of public schools in South Africa indicate on their websites, on application forms and in letters to parents that a learner will be expelled from the school’s hostel if the hostel fees are not paid. In this article the legality of such expulsion is considered in view of national and provincial legislation as well as judgments of the Constitutional Court and the Supreme Court of Appeal. The legality issue is not a mere academic exercise, as is clear from media reports on the expulsion of boarders as well as a letter quoted in the article which warns parents that their children will not be readmitted to the hostel unless all arrear hostel fees have been paid.

In terms of the South African Schools Act 84 of 1996 (SASA) the administration and control of school hostels vest in the school’s governing body (SGB), which is considered to be an organ of state and is also empowered to levy school fees. However, neither the SASA nor the National guidelines for the provision of boarding facilities in public ordinary schools refers to the levying of hostel fees or the consequences of non-payment. Thus, to ascertain whether a school may legally expel a non-paying boarder, provincial legislation and court rulings must be considered.

With regard to provincial legislation, North-West regulations promulgated in 2012 deal with hostel fees and the expulsion of boarders due to non-payment. The legality of these regulations was questioned, but the Supreme Court of Appeal found in MEC: Department of Education Northwest Province v Fedsas 2016-12-1 case no.021/2016 (SCA) that they were valid. In this judgment the court referred, inter alia, to previous judgments of the Constitutional Court, including Fedsas v MEC for Education, Gauteng 2016 4 SA 546 (CC) and Governing Body of the Juma Musjid Primary School v Essay 2011 8 BCLR 761 (CC), and came to the conclusion that the right to basic education enshrined in the Constitution also includes the right to school hostels. It further held that a provincial legislature and the member of the Executive Council were entitled to regulate school hostels in their province as education is a functional area of concurrent national and provincial legislative competence.

The effect of the ruling of the Supreme Court of Appeal is that schools in North-West are explicitly prohibited from expelling boarders due to the non-payment of hostel fees, meaning that public schools that expel learners are acting illegally. With regard to the other provinces, the position is not clear. In Gauteng the provincial schools act determines that any expulsion from a school hostel must be done in accordance with legal requirements. However, both the act and regulations promulgated in terms thereof are silent on the question of non-payment of hostel fees. Although some of the other seven provinces refer (either in the provincial education acts or in regulations) to hostel fees, none deals with the issue of expulsion due to non-payment of such fees. In both the Northern Cape and the Western Cape the practice seems to be that the provincial department will engage with the SGB to come to an agreement. However, this practice is not founded on any existing legal measures.

Since, except for North-West, no provincial measures exist with regard to the expulsion of boarders due to non-payment of hostel fees, it is necessary to consider judgments to find an answer.

South African courts consider the constitutional right to a basic education as an important right which is “immediately realisable”. This right also includes the right to a hostel if necessary. Another important aspect when dealing with children is the “best interest of a child” principle which any organ of state dealing with children should always take into consideration. As an SGB is an organ of state, it follows that the best interest of the learner to be expelled from a hostel due to non-payment of hostel fees should be taken into account. Thus in Head of Department, Department of Education, Free State Province v Welkom High School 2014 4 SA 228 (CC) the court held that both the provincial department and SGB should serve the educational needs of the children involved. A further factor is the courts’ dealings with evictions in terms of the Prevention of Illegal Eviction from and Unlawful Occupation of Land Act (PIE) where children are involved. Thus in the Juma Musjid matter the Constitutional Court held that an eviction order should not be granted if the best interest of the children involved had not been canvassed.

In view of the aforementioned it seems that the expulsion of a boarder due to non-payment of hostel fees in provinces where no explicit legislation exists should not be considered, as the combination of the abovementioned rights will make it practically impossible to evict the learner.

This raises the question as to alternatives available to SGBs to recover outstanding hostel fees or to ensure that funds are available to keep non-paying learners in hostels.

In North-West, the Western Cape and Eastern Cape an SGB may apply to the provincial department for a hostel subsidy to obtain some measure of relief. However, provincial legislation in the other six provinces does not deal with this, meaning that it is not clear how the right to a hostel subsidy referred to in the Norms and standards for school funding would be realised in those provinces. A second alternative is to settle issues of outstanding hostel fees through negotiation between the school and provincial departments of education. However, this alternative is probably doomed, as the law reports contain a number of cases which indicate that there is little goodwill between schools and officials of the various departments of education. This tendency is underlined by judgments like the Welkom High School matter, where the Constitutional Court held that the “overly aggressive communication” between the parties and their losing patience with each other was not in the best interest of the children involved. A third alternative is legal action against the non-paying parent. As with the previous alternatives, this route is fraught with obstacles, with provisions of SASA and provincial legislation allowing legal action only once it has been found that the parent is able (but not willing) to pay and, in the case of North-West, a resolution to approve the school fees has been resolved through a secret ballot. These difficulties with recovery will force schools to consider other options, such as public-private partnerships, utilising the school’s property to raise funds or to obtain indemnity insurance for non-payment.

Finally, the consequences for SGBs that do proceed with expulsions should be considered. The legal position in North-West is explicit and as is evident from the discussion, in the other provinces it would probably also be illegal. Should an SGB thus proceed with expulsion it may find itself at the wrong end of a claim for damages. Although the SASA provides that the state is liable for any damage or loss caused by a public school, it has a right of recovery against the SGB or a member. Furthermore, an SGB cannot plead ignorance as it is the duty of the school principal to inform the SGB about policy and legislation. Secondly, the SGB will most probably be held to have the same duty of care towards learners that is applicable to teachers. This duty is more onerous than merely to act reasonably. Finally, the Supreme Court of Appeal held that “ignorance of the law” is indeed “no excuse” and that a person who engages in a regulated activity (like an SGB) can be expected to keep abreast of the law in that particular field.

In conclusion it is clear that schools and SGBs should appraise themselves of the legality and consequences of the practice of expelling learners due to the non-payment of hostel fees. Thus SGBs should heed the motto: Caveat magister! – Beware before you act, Master!

Keywords: best interest of the child; boarders; expulsion; hostels; public schools; right to basic education

 

1. Inleiding

’n Plattelandse skool stuur onlangs die volgende brief aan ouers van koshuisgangers wie se koshuisgeld agterstallig is:

Na aanleiding van bogenoemde koshuisgeld wat agterstallig is, word u dus in kennis gestel dat u kind/kinders ... nie welkom is om terug te kom koshuis toe na die naweek nie. U moet maar alternatiewe reëlings tref vir u kind(ers) vir verblyf.
... Die leerder sal slegs weer toegelaat word indien alle agterstallige (2016) en huidige koshuisgeld ten volle, met bewys, vereffen is.1
Indien ’n leerder net by die koshuis afgelaai word en gelde uitstaande is, sal ons die leerder by die SAPD gaan aflaai en u sal verwittig word dat u kind daar is, u kan hom/ haar daar gaan afhaal.2

Die brief was op die skool se amptelike briefhoof en is deur die koshuisvader onderteken. Dit het, soos te verwagte, veral in die lig van die laaste stelling ongelukkigheid en emosionele kinders tot gevolg gehad. Alhoewel die briewe in geseëlde koeverte aan die betrokke leerders oorhandig is, het die meeste van die leerders, waarskynlik ook soos te verwagte, die briewe oopgemaak.

Hoewel die betrokke skool se optrede by baie lesers ’n wrang smaak sal laat, is dit belangrik om verby die verontwaardiging te kyk en vas te stel of die skool geregtig was om ’n brief met die aangehaalde strekking aan ouers te rig. Dit gesien in die lig daarvan dat verskeie openbare skole op hul webtuistes aandui dat ’n leerder uit die koshuis gesit sal word indien koshuisgeld nie betyds betaal is nie. Voorbeelde sluit ’n hoërskool in KwaZulu-Natal in, wat dit duidelik in sy prospektus stel dat leerders wie se losies agterstallig raak, toegang tot die koshuis geweier sal word; ’n Wes-Kaapse hoërskool wie se aansoekvorm vir koshuisverblyf aandui dat ’n koshuisganger wie se losiesgelde aan die einde van ’n kwartaal nie betaal is nie, nie die volgende kwartaal in die koshuis toegelaat sal word nie; en ’n bepaling in die aansoekvorm van ’n hoërskool in Noordwes wat lui:

[i]ndien losiesgelde nie op die eerste dag van die maand in die skool se bankrekening reflekteer nie, sal die leerder met onmiddellike effek toegang tot koshuis geweier word.3

Dat die aangeleentheid ook nie bloot akademies van aard is nie, blyk uit die berig van Nkonkobe4 waarin beweer word dat ’n leerder toegang tot die skool geweier is weens die wanbetaling van koshuisgelde.

In hierdie artikel val die fokus eerstens op die vraag of openbare skole5 geregtig is om leerders wie se koshuisgeld agterstallig is, toegang tot die koshuis te weier. Daarna sal besin word oor die middele wat beskikbaar is om die agterstallige koshuisgeld te verhaal, en ten slotte word kortliks verwys na die regsaanspreeklikheid van die beheerliggaam ten opsigte van die uitsetting van ’n leerder uit ’n koshuis.

 

2. Wetgewing met betrekking tot koshuise

2.1 Inleidende opmerkings

Kragtens die Skolewet6 moet ’n provinsiale Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) openbare skole uit fondse wat deur die provinsiale wetgewer beskikbaar gestel is, voorsien. Hierdie voorsiening kan ook koshuise vir leerders insluit.7 Die bestuur en beheer van ’n openbare skool berus in die skool se beheerliggaam.8 Die beheerliggaam is ’n staatsinstelling9 wat in ’n vertrouensverhouding jeens die skool staan en funksies kan verrig of regte uitoefen wat in die Skolewet omskryf is.10 Die beheer en bestuur van ’n skoolkoshuis berus by die beheerliggaam van die skool waarvan die koshuis deel is, onderhewig aan die voorwaarde dat die bestuur en beheerliggaam nie by ’n besluit van die LUR mag inmeng, of die uitvoering daarvan mag verhinder nie.11 Anders as skoolgeld,12 bepaal die Skolewet nie uitdruklik dat ’n beheerliggaam koshuisgeld kan vasstel of hef nie.

Die Departement van Basiese Onderwys het riglyne ten opsigte van die verskaffing van koshuise in openbare skole uitgereik.13 Die beweegrede agter die riglyne is onder meer dat koshuise toegang tot onderwys aan leerders in plattelandse en plaasgemeenskappe bied.14 Die riglyne bevestig dat die beheer en bestuur van ’n koshuis by die beheerliggaam berus wat deur sy subkomitee oor koshuisaangeleenthede die koshuisgeld na konsultasie met ouers kan vasstel.15 Die riglyne bevestig ook dat koshuisgeld die belangrikste bron van inkomste vir die koshuis is en dat die subsidie wat verskaf word ten opsigte van leerders wie se ouers dit nie kan betaal nie, onvoldoende is.16 Die riglyne verskaf egter nie leiding ten opsigte van wanbetaling van koshuisgeld en die uitsetting van kosgangers vanweë wanbetaling nie.

Die Skolewet en ander nasionale wetgewing handel nie verder met koshuise nie, maar die verskillende provinsies het provinsiale onderwyswetgewing gepromulgeer wat aspekte van openbare skole, waaronder koshuise, beheer. Ongelukkig is die bepalings in die onderskeie provinsiale wette en die regulasies wat daarkragtens afgekondig is, nie eenvormig nie, wat ’n eenvoudige antwoord op die vraag oor die geldige uitsetting van koshuisgangers met agterstallige rekeninge, vertroebel.

Ten einde dié fokusvraag te beantwoord, sal die posisie in Noordwes eers hanteer word, waarop ’n bespreking van die ander provinsies volg.

2.2 Noordwes

2.2.1 Agtergrond

In die Noordwes-provinsie word skoolkoshuise kragtens die Skolewet, die Noordwes Onderwyswet vir Skole17 en die regulasies daarkragtens uitgevaardig beheer. Die Noordwes- wet verwys nie direk na koshuise nie, maar die LUR het in 2012 regulasies ten opsigte van die bestuur van koshuise in openbare skole uitgevaardig.18 Die geldigheid van hierdie regulasies is egter eers in die howe getoets, soos uit die volgende paragraaf sal blyk.

2.2.2 Geldigheid van die regulasies

Kort na die afkondiging van die Noordwes-regulasies het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), die geldigheid daarvan in die Noordwes Hooggeregshof betwis. Fedsas se belangrikste besware teen die regulasies was dat dit sonder die nodige magtiging uitgevaardig is en dat dit ook nie die toets van grondwetlikheid sou deurstaan nie. As alternatief het Fedsas aangevoer dat die regulasies in stryd met die Skolewet en die Grondwet19 en derhalwe ongeldig en onafdwingbaar is.20 Die LUR se verweer was dat sy kragtens beide die Skolewet en die Noordwes-wet by magte was om die regulasies te promulgeer. In die alternatief betoog sy dat sy ’n grondwetlike plig het om toegang tot onderwys te fasiliteer.21

In die uitspraak verwys regter Kgoele na die verwysings na koshuise in die Skolewet en kom tot die gevolgtrekking dat die betrokke artikels slegs ten doel het om die LUR te magtig om koshuise te verskaf en dat die wetgewer die beheer en bestuur van koshuise uitdruklik in die hande van beheerliggame geplaas het.22 Die hof is van oordeel dat die regulasies die magte van beheerliggame beperk en dat die LUR deur die regulasies die mag van ’n beheerliggaam om ’n koshuis te bestuur en te beheer vir haarself toe-eien.23 Verder beslis die hof dat omdat die Skolewet nie met die beheer en bestuur van koshuise handel nie, die Noordwes-wet en -regulasies wat daarkragtens uitgevaardig is, ook nie daarmee mag handel nie.24 Verder bevind die hof dat die aanhef van beide die Grondwet en die Skolewet nie voorsiening maak vir kwaliteitonderrig en dus, soos die LUR betoog het, vir koshuise nie.25 Ten opsigte van die LUR se betoog dat die geldigheidsbeginsel onder meer beteken dat die bepalings van die Grondwet ten opsigte van onderwys en die beste belang van kinders voorrang moet geniet, bevind die hof dat die Grondwet na ’n basiese reg op onderwys en nie na ’n reg op behuising, koshuisgeriewe of een of ander vorm van huisvesting verwys nie.26

Uiteindelik bevind die hof dat provinsiale wetgewing en regulasies ondergeskik is aan die Skolewet (wat nie met die bestuur van koshuise handel nie) en dat daar ook geen grondwetlike noodsaak vir die verskaffing van koshuise bestaan nie. So beskou, word die regulasies ongeldig verklaar op grond daarvan dat die LUR nie gemagtig was om dit te promulgeer nie.27 Die LUR het die uitspraak in appèl geneem. Die uitspraak word in die volgende paragraaf bespreek.

2.2.3 MEC North West v Fedsas28

Die appèl is deur ’n volbank van die Hoogste Hof van Appèl aangehoor en die uitspraak is deur waarnemende appèlregter Dlodlo gelewer. Hoewel die hof a quo verlof tot appèl geweier het, het die appèlhof verlof toegestaan nadat mondelinge betoë aangehoor is. In die uitspraak verwys die hof aanvanklik na die agtergrond van die aangeleentheid en haal uit die LUR se beantwoordende verklaring aan waarin sy meld dat koshuise toegang tot onderrig aan leerders in afgeleë gebiede en plaasgemeenskappe bied.29 Die hof wei daarna uit oor die belang van koshuise en dui aan dat koshuise uiteindelik ’n aantal onderwysprobleme die hoof kan bied, soos om gebrekkige toegang tot onderwys uit te wis en die leerderuitvalkoers te verlaag.30

Vervolgens hanteer appèlregter Dlodlo die regsposisie. Hy dui ter inleiding aan dat die regulasies, Noordwes-wet en Skolewet in die lig van die grondwetlike bepalings oor die reg op toegang tot basiese onderwys en die beste belange van kinders gelees moet word.31 Daarna haal hy die toepaslike gedeeltes uit die Konstitusionele Hof se uitsprake in Fedsas v MEC Gauteng32 en Juma Musjid­33 aan en kom, anders as die hof a quo,34 tot die gevolgtrekking dat die reg op ʼn basiese onderwys die reg op koshuise, waar van toepassing, insluit, omdat dit basiese onderwys toeganklik maak.35

Vervolgens wys die hof daarop dat onderwys ’n gedeelde bevoegdheid tussen nasionale en provinsiale wetgewers is en haal ter ondersteuning daarvan uit Fedsas v MEC Gauteng aan.36 Die hof haal ook uit Hoërskool Ermelo37 aan waar die Konstitusionele Hof daarop wys dat skole gesamentlik deur drie vennote, naamlik die nasionale regering, die provinsiale regering en ouers en die gemeenskap verteenwoordig deur die beheerliggaam, bestuur word.38

Die hof verwys daarna na verskeie argumente wat deur Fedsas voorgehou is, maar wys daarop dat wetgewing doelgerig, kontekstueel en in ooreenstemming met die Grondwet uitgelê moet word en die gees en doel van die handves van regte in die Grondwet moet verwesenlik.39 Volgens die hof is Fedsas se betoog dat die LUR nie by magte is om die regulasies uit te vaardig nie, teenstrydig met die aanvaarde beginsel dat magte wat uitdruklik toegestaan word, uitgelê moet word sodat dit ook magte wat redelikerwys noodsaaklik of bykomstig daartoe is, insluit.40 Ten opsigte van onderwys is die hof van oordeel dat wetgewing wat uitvoering aan die reg op onderwys gee, in die lig van die reg op basiese onderwys en die beste belang van kinders wat vooropgestel moet word,41 ’n milde (“generous”) uitleg regverdig, en dat die voorsiening van koshuise ’n noodsaaklike deel van die toeganklikheid van onderwys is.42

Ten opsigte van die LUR se magte om regulasies oor koshuise uit te vaardig, wys die hof daarop dat die LUR kragtens die Noordwes-wet daartoe gemagtig is, dat beheerliggame nie uitsluitlike beheer oor skole en dus ook oor koshuise het nie en dat ’n beheerliggaam se optrede in elk geval nie die implementering van ’n besluit van die LUR mag verhinder nie.43 Wat die verhouding tussen die drie onderwysvennote betref, haal appèlregter Dlodlo uit Welkom44 aan waarin die Konstitusionele Hof bevind het dat die Skolewet ’n fyn balans tussen die drie rolspelers handhaaf om effektiewe onderwys te verseker. Die hof verwys ook na die grondwetlike bepalings oor samewerkende regering en die LUR se plig om basiese onderwys beskikbaar te stel wat die daarstelling van koshuise en dus ook regulasies oor die koshuise insluit.45

’n Belangrike aspek van die uitspraak is die verhouding tussen nasionale en provinsiale wetgewing gesien in die lig van die hof a quo se houding dat provinsiale wetgewing ondergeskikte wetgewing is.46 Die hof verwys weer na Fedsas v MEC Gauteng en haal die gedeelte uit die uitspraak aan waarin die Konstitusionele Hof bevind het dat die Grondwet afwyk van die “konvensionele hiërargie” van wetgewing dat provinsiale wetgewing nie in stryd met nasionale wetgewing mag wees nie.47 Die Konstitusionele Hof het ook bevind dat indien daar ’n konflik bestaan, dit nie die provinsiale wetgewing nietig maak nie, maar dat ’n hof die wetgewing op ’n redelike wyse moet uitlê sodat die konflik verwyder kan word. Indien die konflik voortbestaan, sal die provinsiale of nasionale wetgewing, afhangende van die bepalings van artikels 146 en 148 van die Grondwet, voorrang geniet. Die wetgewing wat nie voorrang geniet nie, word ook nie dan nietig nie, maar bly slegs oneffektief totdat die konflik verwyder is.48

Die hof bevind verder dat Fedsas die doelstellings van die regulasies in die lig van die vereistes van die beste belang van kinders en die reg op onderwys ignoreer en dat, in teenstelling met wat Fedsas betoog het, koshuise ’n integrale deel van skole is.49 In die lig van die bevindings word die LUR se appèl toegestaan.50

2.2.4 Gevolge van die uitspraak

Die uitspraak hou ’n aantal belangrike gevolge vir skole met koshuise in. Dit is ten aanvang belangrik om in gedagte te hou dat die uitspraak direk slegs op Noordwes van toepassing is, omdat die geldigheid van die Noordwes-regulasies bevraagteken is.51 Dit beteken egter nie dat die uitspraak geïgnoreer sal kan word as ander provinsies ter sprake kom nie, omdat die stare decisis-beginsel laer howe noop om die uitspraak te volg,52 en die Hoogste Hof van Appèl self aandui dat die grondwetlike reg op ʼn basiese onderwys die uitspraak ten gronde lê.53

Die uitspraak hou ’n aantal belangrike gevolge vir skole in Noordwes in, gevolge waarvan sommiges klaarblyklik nog nie kennis geneem het nie. Eerstens is die Noordwes-regulasies geldig en dus afdwingbaar. Dit beteken dat die LUR nou by magte is om die beheer van skoolkoshuise te reguleer.54 Tweedens word die magte en pligte van beheerliggame ten opsigte van koshuise duidelik in die regulasies uiteengesit. Dit sluit onder meer voorskrifte in oor die wyse waarop koshuisgeld bepaal word,55 en bepaal uitdruklik dat leerders nie toegang tot ’n koshuis geweier mag word bloot omdat hul ouers dit nie kan bekostig nie.56 Daar rus egter ’n plig op ’n “ouer” om die koshuisgeld te betaal behalwe indien en in die mate waartoe hy vrygestel is.57

Derdens kan ’n kosganger nie uit ’n koshuis gesit word of toegang tot die koshuis geweier word bloot omdat koshuisgelde agterstallig is nie. Die Noordwes-regulasies bevat twee regulasies wat hierdie aspek uitdruklik reël. Regulasie 5(2)(c) bepaal dat die beheerliggaam ’n leerder se hertoelating tot die koshuis kan weier indien die leerder se koshuisgeld ten opsigte van die vorige akademiese jaar nie ten volle vereffen is nie. Die beheerliggaam is egter gemagtig om dit te doen slegs indien die provinsiale Departement van Onderwys nie ’n koshuissubsidie ten opsigte van die leerder teen 30 September betaal het nie en die leerder ’n billike geleentheid gehad het om sy/haar saak te stel.58

Volgens regulasie 9(11) mag ’n leerder nie gedurende ’n akademiese jaar sy of haar regte om aan skool- of koshuisaktiwiteite deel te neem, ontsê word bloot omdat sy of haar koshuisgeld agterstallig is nie. Daar mag ook nie teen die betrokke leerder gediskrimineer word nie en die subregulasie verwys spesifiek na ’n aantal wyses van diskriminasie, waaronder skorsing uit die koshuis, verbale en nieverbale mishandeling en ’n verbod op deelname aan sport en ander aktiwiteite.59

In die lig van die Noordwes-regulasies sal die brief waarna in die inleiding verwys is, onwettig wees indien die skool in Noordwes geleë is. Insgelyks tree die hoërskool waarna in die aansoekvorm verwys word, onwettig op. Dit is egter belangrik om daarop te let dat sowel die Skolewet as die Noordwes-wet, asook die Noordwes-regulasies ’n leemte bevat ten opsigte van die afdwinging van bepalings. Nie een van die drie dokumente verwys spesifiek na die gevolge van die nienakoming van die bepalings daarvan nie.

In die volgende paragraaf verskuif die fokus egter eers na die regulasies oor koshuise in die ander provinsies.

2.3 Die posisie in die ander provinsies

Anders as in Noordwes, is die wetgewing en koshuisregulasies in die ander provinsies nie duidelik oor die uitsetting van kosgangers as koshuisgeld nie betaal is nie. In hierdie paragraaf word bepalings wat op die fokusvraag van toepassing kan wees, hanteer. Ten aanvang word na die provinsies verwys wat nog nie koshuisregulasies uitgevaardig het nie.

2.3.1 Provinsies sonder spesifieke bepalings

Vyf provinsies het nog nie spesifieke bepalings ten opsigte van koshuise uitgevaardig nie, hetsy by wyse van wetgewing of regulasies.

2.3.1.1 Gauteng

In Gauteng bepaal die Gauteng School Education Act60 dat die LUR gemagtig is om koshuise te skep en te onderhou.61 Die uitsetting en skorsing van leerders uit ’n koshuis moet kragtens die bepalings van die wet en enige ander toepaslike wetgewing geskied.62 Alhoewel die LUR gemagtig is om regulasies uit te vaardig oor enige aspek wat in die Gauteng-wet voorgeskryf is, asook enige aangeleentheid ten opsigte waarvan die LUR dit noodsaaklik of raadsaam ag ten einde die doel van die wet te bereik,63 is geen koshuisregulasies nog uitgevaardig nie. Die LUR het wel regulasies ten opsigte van beheerliggame uitgevaardig.64 Hierdie regulasies bepaal onder meer dat die beheerliggaam die skool se eiendom, insluitende die koshuis, moet beheer, onderhou en verbeter,65 maar verwys verder glad nie na koshuise nie, ook nie in die regulasies wat met skoolgeld verband hou nie.

Die LUR het ook regulasies ten opsigte van die hantering van wangedrag van leerders in openbare skole uitgevaardig.66 Hierdie regulasies hanteer die uitsetting of skorsing van leerders en ook van kosgangers.67 Geen leerder mag uit ’n koshuis gesit word nie, tensy die leerder skuldig is aan ’n ernstige oortreding soos in bylaag 2 bedoel en die bepalings ten opsigte van uitsetting nagekom is.68 Alhoewel hierdie regulasies op dissiplinêre aangeleenthede betrekking het, kan die afleiding gemaak word dat uitsetting slegs in die geval van ’n dissiplinêre oortreding wettig is en dus nie van toepassing is in die geval van wanbetaling van koshuisgeld nie.

2.3.1.2 Noord-Kaap

In die Noord-Kaap word onderwys gereël deur die Northern Cape School Education Act.69 Die LUR is gemagtig om koshuise te skep en te onderhou.70 Die LUR mag ook, indien dit nie raadsaam is om ’n koshuis of koshuise onder die beheer van ’n spesifieke skool se beheerliggaam te laat nie, ’n beheerliggaam vir daardie koshuis of koshuise instel.71 Die beheerliggaam moet die koshuis beheer en bestuur en toesien dat dit onderhou en verbeter word.72 Die wet bevat geen verdere spesifieke bepalings ten opsigte van koshuisgeld of die uitsetting van leerders nie, maar die LUR is gemagtig om regulasies uit te vaardig.73 In teenstelling met die wetgewing waarna reeds verwys is, bevat die Noord-Kaap-wet ’n bepaling dat die regulasies ook ’n boete of straf, wat nie drie maande gevangenisstraf te bowe gaan nie, kan insluit indien die regulasies oortree word.

Ten spyte van die magtigende bepaling is geen koshuisregulasies nog in die Noord-Kaap afgekondig nie. Anders as in Gauteng bestaan daar ook nie ander regulasies wat lig op die fokusvraag kan werp nie.

2.3.1.3 Limpopo

Onderwys word in Limpopo deur die Limpopo Province School Education Act74 gereël en die LUR is by magte om koshuise te skep en te onderhou.75 Die wet bepaal verder dat die beheer, skorsing en uitsetting van leerders uit ’n koshuis volgens voorskrif gedoen moet word.76 Die bestuur van die koshuis berus by die beheerliggaam wat ook, indien dit ’n staatsondersteunde skool is, die koshuisgeld kan vasstel wat deur die kosganger se ouer betaal moet word.77 Die wet bevat geen verdere bepalings wat op die fokus van hierdie artikel van toepassing is nie, behalwe die magtiging dat die LUR regulasies kan maak en sanksies kan voorskryf vir die verbreking daarvan.78

Die LUR het, soos in die Noord-Kaap, nog geen regulasies afgekondig ten opsigte van koshuise of die wanbetaling van koshuisgeld nie.

2.3.1.4 KwaZulu-Natal

Die wetgewing in KwaZulu-Natal79 is soortgelyk aan die wetgewing waarna reeds verwys is. Die betrokke LUR het ook die mag om regulasies te maak, hoewel sy magte beperk word.80 Geen regulasies ten opsigte van koshuise of koshuisgeld is egter nog uitgevaardig nie.

2.3.1.5 Mpumalanga

In Mpumalanga word onderwys deur die School Education Act (Mpumalanga)81 gereël. Die wetgewing stem grootliks ooreen met die Limpopo-wet en maak ook geen voorsiening vir die wanbetaling van koshuisgeld nie.82 Insgelyks is geen regulasies daaromtrent uitgevaardig nie.

2.3.1.6 Vrystaat

Die Free State School Education Act83 bevat soortgelyke bepalings as dié waarna reeds verwys is oor die plig van die LUR om koshuise op te rig en te onderhou en sy magte om regulasies uit te vaardig, die plig van die beheerliggaam om die koshuis te beheer en te bestuur en met die LUR se goedkeuring ook te onderhou en te verbeter.84 Alhoewel die wet bepalings ten opsigte van skoolgeld bevat85 is daar geen bepalings wat spesifiek op koshuisgeld van toepassing is nie. Die enigste artikels wat na uitsetting uit ’n koshuis verwys, handel met dissiplinêre aangeleenthede.86

Die LUR het nog geen regulasies uitgevaardig ten opsigte van koshuise of koshuisgeld nie.

2.3.2 Die Oos-Kaap

In die Oos-Kaap word onderwys deur die Eastern Cape Schools Education Act87 gereguleer. Die Oos-Kaap-wet bevat die gebruiklike artikels wat die LUR magtig om koshuise te skep en te onderhou en regulasies uit te vaardig, asook bepalings oor die instelling van ’n beheerliggaam.88 Die wet sit, anders as by die meeste ander provinsies, nie die magte en funksies van die beheerliggaam uiteen nie, maar bepaal dat die LUR dit by wyse van regulasie mag bepaal.89 Ten opsigte van koshuisgeld moet die ouer van ’n kosganger van losies wat deur die departement voorsien word, die koshuisgeld wat deur die LUR bepaal word, betaal.90

Die Hostel policy for public ordinary schools91 het ten doel om onder meer ’n regulatoriese raamwerk vir koshuise daar te stel.92 Alhoewel die beleid nie in ’n provinsiale koerant afgekondig is nie, en dus nie as regulasies beskou kan word nie, is dit binne die raamwerk van die Oos-Kaap-wet uitgevaardig en is dit van toepassing op alle openbare skole met koshuise in die provinsie.93

’n Leerder moet jaarliks aansoek doen om toelating tot ’n koshuis en die koshuisbestuurskomitee94 kan leerders teen betaling van koshuisgeld in ’n koshuis toelaat.95 Koshuisgeld moet jaarliks deur die beheerliggaam bepaal word, met inagneming van die bedryfskoste van die koshuis, die kwintiel waarbinne die skool val en drempels wat deur die LUR bepaal word.96 Daar word van ouers verwag om die koshuisgeld kwartaalliks ingevolge ’n glyskaal vooruit te betaal.97 Hoewel ’n ouer ingevolge die voorgeskrewe aansoekvorm ook onderneem om koshuisgeld te betaal, maak die beleid nie voorsiening vir wanbetaling nie. Ten opsigte van die uitsetting van ’n kosganger is daar slegs ’n bepaling dat ’n leerder om dissiplinêre redes uit ’n koshuis gesit mag word.98

2.3.3 Die Wes-Kaap

Die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op Skoolonderwys99 bepaal ook dat die LUR gemagtig is om koshuise te skep en te onderhou100 en dat die skool se beheerliggaam101 op skriftelike versoek die koshuis kan onderhou en verbeter.102 Die LUR is ook by magte om regulasies uit te vaardig vir die bestuur van koshuise asook die bestuur van koshuisfondse.103 Ten opsigte van koshuisgeld bepaal die wet dat die ouer van ’n kosganger die koshuisgeld wat deur die beheerliggaam bepaal is, moet betaal,104 maar maak nie voorsiening vir ʼn geval waar dit nie betaal word nie.

Die LUR het regulasies ten opsigte van die beheer en bestuur van koshuise en ander aangeleenthede uitgevaardig105 wat bevestig dat die beheer van ’n koshuis, onderhewig aan die regulasies, in die skool se beheerliggaam setel.106 Ten opsigte van koshuisgeld moet ’n skool met ’n koshuis koshuisgeld hef gelykstaande aan die gemiddelde bedryfskoste van die koshuis107 en die ouer van die kosganger moet die koshuisgeld betaal.108 Toelating tot ’n koshuis en die voorwaardes vir die betaling van koshuisgeld word deur die beheerliggaam bepaal.109 Alhoewel die regulasies voorsiening maak vir die skorsing en uitsetting van leerders wat binne die reëls van natuurlike geregtigheid moet geskied, is die betrokke regulasie110 se opskrif “Leerdergedrag en dissipline by koshuise”, wat beteken dat dit nie op wanbetaling van koshuisgeld van toepassing is nie.

2.4 Opsomming

Soos uit die bespreking blyk, word skoolkoshuise, koshuisgeld en die uitsetting van leerders weens wanbetaling nie eenvormig hanteer nie. In vier provinsies, naamlik die Noord-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, bestaan geen maatreëls wat die aspekte onder bespreking hanteer nie. In die Vrystaat en Gauteng is daar ook nie spesifieke regulasies ten opsigte van uitsetting en wanbetaling nie. Die enigste bepalings wat moontlik hierop van toepassing kan wees, is die Gautengse dissiplinêre regulasies en artikels in die Vrystaat-wet wat bepaal dat ’n leerder slegs weens ’n ernstige oortreding, en nadat die voorgeskrewe proses gevolg is, uit ’n koshuis gesit mag word.

Wat die provinsie wat wel maatreëls uitgevaardig het, betref, verskil die posisie in die Oos-Kaap en Wes-Kaap nie werklik van die provinsies sonder regulasies nie. Die Oos-Kaapse beleid maak nie voorsiening vir wanbetaling nie, alhoewel dit op ouers die verpligting lê om koshuisgeld te betaal. Die enigste verwysing na uitsetting is ten opsigte van dissiplinêre optrede. Dit is ook die posisie in die Wes-Kaap. Dus bestaan daar in agt provinsies geen direkte bepalings nie.

Die enigste duidelikheid is die Noordwes-regulasies wat, na die uitspraak in MEC North West v Fedsas, geldig en afdwingbaar is. Alhoewel die regulasies dit baie duidelik uitspel dat ’n koshuisganger nie uitgesit mag word bloot omdat koshuisgeld nie betaal is nie, beantwoord dit nie alle vrae nie. So byvoorbeeld maak die Noordwes-regulasies nie voorsiening vir sanksies indien dit oortree word nie.

In die volgende paragraaf fokus die bespreking op die vraag of ’n leerder wel in die ander provinsies uitgesit kan word indien koshuisgeld nie betaal is nie.

 

3. Uitsetting by gebrek aan voorskrifte

Die vraag wat in hierdie paragraaf beantwoord word, is of ’n beheerliggaam suksesvol sal wees om ’n leerder uit ’n koshuis te sit indien die leerder se koshuisgeld nie betaal is nie, of daarop geregtig is om die leerder toegang tot die koshuis te weier.111 Dat die vraag nie net bloot akademies van aard is nie, blyk uit die talle skole wat so ’n bepaling in hul aansoekvorms en op hul webblaaie het.

3.1 Praktyk

Alhoewel die Wes-Kaap en Noord-Kaap nog nie regulasies uitgevaardig het nie, het die twee provinsies praktyke met betrekking tot die uitsetting van kosgangers ontwikkel. In die Noord-Kaap het ’n amptenaar van die Noord-Kaapse Onderwysdepartement ons telefonies meegedeel112 dat die praktyk in die provinsie is dat die departement met die beheerliggaam onderhandel om te voorkom dat die leerder uit die koshuis gesit word. Die partye onderhandel oor ’n subsidie en indien dit onvoldoende is, betaal die departement die verskil aan die beheerliggaam.

In die Wes-Kaap gebruik onderwysowerhede dieselfde uitgangspunt as dié van die Noordwes-regulasies, naamlik dat ’n kosganger nie uitgesit mag word nie. Tydens ’n telefoniese onderhoud met ’n amptenaar is ons meegedeel dat die provinsie op grond van ’n regsmening optree en onlangs ’n skool verplig het om ’n leerder in die koshuis te hou.113

3.2 By gebrek aan maatreëls of praktyk

Wat behoort die posisie te wees indien geen maatreëls bestaan nie of die beheerliggaam nie met die provinsiale praktyk saamstem nie? Om dié vraag te beantwoord, is dit nodig om die howe se benadering te bestudeer.

3.2.1 Reg op onderwys

Dit is ten aanvang duidelik dat die howe onderwys met erns bejeën. So byvoorbeeld het die Konstitusionele Hof dit al as “primordial and integral to the human condition”114 beskryf. Aansluitend hierby is basiese onderwys ’n reg wat in die handves van regte in die Grondwet verskans is.115 Hierdie reg is volgens die Konstitusionele Hof ’n reg waarvan die belangrikheid nie verontagsaam kan word nie.116 Dit is ’n belangrike sosio-ekonomiese reg wat “dadelik gerealiseer moet word” en gefokus is op die ontwikkeling van ’n kind se persoonlikheid, talente en vermoëns117 met die doel om die demokratiese verandering van die samelewing te ondersteun.118

Die basiese reg op onderwys kan ook benadeel word waar versuim word om die reg te respekteer of deur die direkte inbreuk op die reg deur ’n ander persoon te verhinder.119

3.2.2 Beste belang van die kind

’n Volgende belangrike reg wat op die fokusvraag van toepassing is, is die beste belang van ’n kind.120 Die beste-belang-maatstaf moet toegepas word in enige handelinge en besluite oor ’n kind of ’n groep kinders wat deur ’n staatsorgaan geneem word.121 Die belangrikheid van hierdie bepaling is by verskeie geleenthede deur die hoogste howe in Suid-Afrika bevestig. In S v M122wys regter Sachs daarop dat die belangrikheid van hierdie reg beteken dat wetstoepassing altyd kindsensitief moet wees, dat wetgewing en die gemenereg uitgelê moet word op ’n wyse wat kinders se regte beskerm en bevorder, en dat howe so moet funksioneer dat hulle altyd hul respek vir kinderregte aantoon. In die DPP Transvaal-saak123 bevestig hoofregter Ncgobo die belang van die reg en wys hy daarop dat dit nie “nodig of wenslik” is om die reg presies te definieer nie.124 Die beste-belang-beginsel is egter nie beslissend nie en kan, soos ander fundamentele regte, redelikerwys ingeperk en teen ander regte afgeweeg word.125

Die beste belang van die kind behoort ook die uitgangspunt te wees wanneer daar oor die onderwys van kinders besin word.126 In die Rivonia­-saak verwys die Konstitusionele Hof trouens daarna dat die spesifieke belange van die leerder wat deur die geskil geraak is en die invloed wat die regstryd op haar kan hê, klaarblyklik nie in ag geneem is nie.127 In die Welkom­-saak raak die hof ’n soortgelyke aspek aan en wys daarop dat die regte van beide die provinsiale departementshoof en die skool se beheerliggaam ondergeskik aan kinders se behoeftes is.128 In die Fochville-saak moes die Hoogste Hof van Appèl beslis oor die openbaarmaking van vraelyste waarin leerders onder meer hulle ervarings oor die skool verwoord het. Die hof bevind dat dit nie in belang van die leerders sou wees om die vraelyste aan die skool beskikbaar te stel nie en dat die opsomming van die inhoud van die vraelyste voldoende was.129

3.2.3 Howe se benadering

Die reg op basiese onderwys en die beste belang van kinders is die basis vir die samewerking wat daar tussen die nasionale en provinsiale departemente van onderwys en beheerliggame behoort te wees.130 In MEC Northwest v Fedsas het die hof hierdie twee bepalings saam gelees en bevind dat die reg op basiese onderwys meer as bloot die beskikbaarstelling van klasse beteken. Die hof wys daarop dat die reg wyd uitgelê moet word sodat dit ook die reg op koshuise vir leerders wat ver van skole af woon, insluit.131

Indien die reg op koshuisinwoning ’n basiese reg is, beteken dit dat hierdie reg dus dieselfde beskerming as die reg op basiese onderwys behoort te geniet. Die reg op basiese onderwys word in die Skolewet132 en in provinsiale wetgewing133 beskerm in die mate dat ’n leerder nie uit ’n skool gesit mag word indien ’n leerder of sy ouer nie die skoolgeld kan betaal of betaal het nie. Dieselfde behoort dus te geld vir die wanbetaling van koshuisgeld.

3.2.4 Uitsetting – die Prevention of Illegal Eviction from and Unlawful Occupation of Land Act (PIE-wet)

’n Kosganger se reg op inwoning kan egter ook oor ’n ander boeg gegooi word. Indien die ouer nie betaal nie, beteken dit dat die leerder onwettig in die koshuis is en derhalwe as ’n onregmatige besetter beskou kan word. Dit beteken dat wetgewing en uitsprake ten opsigte van die uitsetting van kinders in ag geneem moet word. Die sogenaamde PIE­-wet134 is van toepassing op alle gevalle waar ’n onregmatige besetter van grond – wat ’n koshuis insluit – uitgesit word.135 Die wet bepaal dat ongeag enige ander of gemeenregtelike bepaling, die uitsettingsprosedure wat deur PIE voorgeskryf word, van toepassing is.136 Die prosedure is taamlik omslagtig. Die proses word in die hof afgehandel137 en kennis moet ook aan die plaaslike munisipaliteit gegee word.138 Die betrokke kosganger is, as ’n party tot die saak, ook geregtig op regsverteenwoordiging wat op staatsonkoste aan die kind verleen mag word.139

PIE bepaal spesifiek dat die hof, voordat hy ’n bevel maak, die reg van onder meer kinders in ag moet neem. Aansluitend hierby het die Konstitusionele Hof bevind dat ’n hof wat ’n uitsettingsaansoek hanteer, nie bloot passief mag wees nie, maar verplig is om al die omstandighede te ondersoek, veral waar kwesbare persone betrokke is.140 In die PE Municipality-saak141 beslis die hof verder dat dit die belange en die omstandighede van ’n besetter in ag moet neem en behoorlik oorweging moet skenk aan beginsels van billikheid en ander grondwetlike waardes ten einde ’n regverdige en billike bevel te maak.142 Dit beteken dat ’n uitsettingsbevel nie verleen mag word totdat die hof in staat is om ’n besluit gegrond op feite te neem nie. Omdat die landdros in die Hendricks-saak143 nie voldoende inligting gehad het oor onder meer die kinders wat moontlik uitgesit sou word nie, het die Hoogste Hof van Appèl beslis dat die aangeleentheid terugverwys word sodat ’n behoorlike ondersoek ingestel kan word.

Die wyse waarop uitsetting in ’n onderwysverband hanteer word, is in die Juma Musjid-saak geïllustreer wat hierna hanteer word.

3.2.5 Die Juma Musjid-saak

Die aangeleentheid het gehandel oor uitsetting deur ’n openbare skool. Die Konstitusionele Hof wys daarop dat die reg op onderwys belangrik is en in streeks- en internasionale instrumente erken word,144 en die grondeienaar in hierdie geval ’n “negatiewe” plig gehad het om nie op die leerders se reg op onderwys inbreuk te maak nie.145 Hoewel die hof in aanvanklike verrigtinge bevind het dat die grondeienaar redelik opgetree het en daarop geregtig was om om ’n uitsettingsbevel aansoek te doen omdat die LUR nie haar samewerking gegee het om saak te skik nie, is die uitsettingsbevel van die hof a quo nie bekragtig nie omdat dit nie die belange van die leerders wat geraak is, oorweeg het nie.146 Die hof het egter die partye versoek om ’n ooreenkoms te bereik.147

Ten opsigte van die verskillende regte wat in die saak belangrik was, waaronder die reg op eiendomsreg, die reg op onderwys en die belangrikheid van kinders se belange, haal die hof met goedkeuring ’n gedeelte uit die uitspraak in die PE Municipality­-saak148 aan. In die uitspraak wys regter Sachs daarop dat dit nie die taak van die howe is om ’n hiërargiese orde vir regte te bepaal nie, maar eerder om opponerende aansprake te balanseer en te versoen op so ’n regverdige wyse as moontlik. Dit doen die hof terwyl dit alle betrokke belange en faktore spesifiek tot die besondere saak in ag neem.149

Tydens die finale verrigtinge is die uitsettingsbevel wel toegestaan omdat die LUR nie ’n ooreenkoms met die grondeienaar wou sluit nie en reeds alternatiewe skoolgeriewe vir leerders gereël het.150

3.3 Opsomming

Uit die bespreking hier bo blyk dit dat die uitsetting van ’n kosganger wie se koshuisgelde nie betaal is nie, nie ligtelik oorweeg behoort te word nie en is die geldigheid van ’n stelling soos “in case of non-payment of hostel fees, a learner may be refused further residence in a school hostel”151 onder verdenking. Die bepalings van die Grondwet, tesame met die hoogste howe se uitleg van die regte, bring mee dat howe waarskynlik huiwerig sal wees om so ’n bevel toe te staan. Verder bring die omslagtige prosedure in die PIE-wet mee dat die uitsettingsproses tydrowend en duur sal wees, met die uiteindelike vraag steeds of die uitsetting in die beste belang van die betrokke kind sal wees.

Beheerliggame is dus gesnoeker deurdat een van die belangrikste wyses waarop ouers gedwing kan word om te betaal, naamlik om te dreig om die kosganger uit te sit, waarskynlik ongrondwetlik en ten minste nie in die beste belang van die kind sal wees nie. Hierdie gevolgtrekking noop twee verdere vrae. Eerstens: wat staan die beheerliggaam dan te doen, veral in die lig daarvan dat dit verantwoordelik is vir die daaglikse bestuur van die koshuis? Tweedens, kan die beheerliggaam of individuele lede aanspreeklik gehou word vir skade wat die leerder as gevolg van die uitsetting ly?

 

4. Middele tot ’n beheerliggaam se beskikking

4.1 Inleiding

Alhoewel hierdie artikel aandui dat ’n beheerliggaam nie ’n leerder wie se koshuisgeld agterstallig is, kan uitsit nie, hetsy omdat dit verbied word, soos die Noordwes-regulasies bepaal, of omdat ’n hof dit waarskynlik nie sal toestaan nie, is daar ’n aantal moontlikhede beskikbaar om die agterstallige bedrae te verhaal. Dit sluit aansoeke om subsidies, onderhandeling met die provinsiale departemente en regstappe teen die ouers in.

4.2 Aansoeke om subsidies

Die Noordwes-regulasies maak spesifiek daarvoor voorsiening dat ’n leerder om ’n subsidie vir koshuisgelde kan aansoek doen.152 Die regulasies bepaal egter nie hoe die aansoek gedoen kan word nie, behalwe om na die Norme en standaarde vir skoolbefondsing153te verwys. Die norme en standaarde verwys egter nie na prosedure nie en bepaal slegs dat provinsiale onderwysdepartemente fondse vir koshuissubsidies beskikbaar moet stel.154 Die wese van hierdie bepaling word ook in die riglyne herhaal,155 met die belangrike byvoeging dat hoewel die befondsingsnorme vir koshuissubsidies voorsiening maak, die subsidies nie voldoende vir die bedryfskoste van die koshuis sal wees nie en koshuisgeld steeds die hoofbron van inkomste is.156

Subsidies word ook in die Wes-Kaap-regulasies hanteer, waar die LUR gemagtig word om finansiële hulp aan ’n koshuisloseerder te verskaf.157 Die betrokke regulasies bepaal verder dat ouers jaarliks by die departementshoof aansoek kan doen om ’n subsidie, “ooreenkomstig die wyse deur hom of haar bepaal”.158

In die Oos-Kaap bepaal die beleid dat subsidies ooreenkomstig die glyskaal van ouers se inkomste aan leerders beskikbaar gestel sal word.159 Die beleid bepaal verder dat die doel van die subsidie is om die bedryfskoste van die koshuis te dek en dat die departementshoof kan bepaal hoeveel subsidie elke koshuis moet ontvang.160 Anders as by die ander twee provinsies sluit die Oos-Kaap-beleid ’n volledige aansoekvorm in, asook ’n bepaling dat fondsinsameling om die hulpbronne van die koshuis aan te vul, gemagtig word.161

In die ander ses provinsies is daar geen bepalings wat die verkryging van koshuissubsidies reël nie, wat beteken dat ouers en/of die beheerliggaam by streekskantore moet aanklop om vas te stel op welke wyse die betrokke provinsie uitvoering aan die norme en standaarde en riglyne gee.

Die probleem met ’n subsidie is natuurlik dat dit nie die werklike koste ten opsigte van die kosganger se inwoning betaal nie en dat dit te laat is om daarvoor aansoek te doen indien die ouer gedurende die jaar ophou om te betaal. Subsidies bied dus nie werklik ’n oplossing nie.

4.3 Onderhandeling

Indien ’n kosganger se losiesgeld nie betaal is nie, behoort onderhandelinge tussen die beheerliggaam en provinsiale departement die oplossing te wees, omdat beide staatsorgane se primêre fokus die beste belange van die betrokke leerder behoort te wees.162 Die Skolewet bepaal verder dat elke LUR moet toesien dat openbare skole – wat koshuisgeriewe insluit – in die provinsie beskikbaar is,163 en aansluitend hierby verlang die Grondwet dat staatsorgane “in wedersydse vertroue en goeie trou” met mekaar moet saamwerk deur onder meer vriendskaplike betrekkinge te bevorder en regsverrigtinge teen mekaar te vermy.164

Ongelukkig is dit die teorie. Die praktyk soos wat dit in die hofverslae en artikels weerspieël word, wys dat onderhandeling en “vriendskaplike betrekkinge” die uitsondering is en dat die howe hulle al by verskeie geleenthede uitgespreek oor die gebrek aan onderhandeling en samewerking.165 In die Welkom-saak wys die Konstitusionele Hof daarop dat die beheerliggaam en departement slegs ’n oppervlakkige poging om samewerking aangewend het, en dat aggressiewe kommunikasie tussen die partye samewerking ondermyn het.166 Die hof dui verder aan dat dit vir beide die departement en die beheerliggaam klaarblyklik nie oor die belange van die leerders gegaan het nie, maar oor ’n magspel om te bepaal wie in beheer van skoolhoofde se optrede is.167

Die gedurige onmin tussen onderwysdepartemente en beheerliggame het ook in Fedsas v MEC Gauteng na vore gekom, waar adjunkhoofregter Moseneke daarop wys dat daar voortdurende geskille tussen die partye oor die toelating van leerders is168 en dat die basis van die geskille die reg op gelyke toegang tot onderwys is.169

Die Juma Musjid-saak het veral op die gebrek aan samewerking van die LUR se kant af gefokus. Die hof verwys na verskeie ondernemings wat deur die departement gemaak en nie nagekom is nie en beslis dat die LUR ’n “belangelose houding” ingeneem het.170 Regter Nkabinde wys verder daarop dat die hofproses moontlik nie nodig sou gewees het as die LUR haar ondernemings nagekom het of betyds alternatiewe onderwysgeriewe vir die leerders gereël het nie.171

’n Ander saak wat ook moontlik nie tot regstappe sou gelei het as die provinsiale onderwysdepartement betyds opgetree het nie, is die Ermelo-saak. Adjunkhoofregter Moseneke dui aan dat, ten opsigte van die taalvraagstuk, die departementshoof onregmatig en in stryd met die grondwetlike beginsel van legaliteit opgetree het.172 Die onderliggende rede hiervoor is te vind in die departement se versuim om voldoende stappe te doen om voldoende skoolgeriewe vir leerders te skep.173

In Fedsas v HOD Northern Cape het die departementshoof ook onder skoot gekom omdat hy nie aan Fedsas se billike versoeke om konsultasie voldoen het nie en eerder in hofstukke die applikante op ’n afjakkende wyse geantwoord het.174 Die hof verwys na “the unnecessarily aggressive and insulting contents” van die verklarings,175 terwyl die Skolewet ’n vennootskap en dus konsultasie en kommunikasie tussen rolspelers veronderstel.176

Dit is egter nie net onderwysdepartemente wat die howe se argwaan ontketen nie. In MEC Northwest v Fedsas is waarnemende appèlregter Dlodlo van mening dat Fedsas, wat skoolbeheerliggame verteenwoordig, die doel van die reg op onderwys en die beste belange van kinders verontagsaam.177

Uit die bespreking blyk dit dat samewerking tussen skole en onderwysdepartemente dus meestal nie die gewenste uitwerking sal hê nie, wat beheerliggame dan met die moontlikheid van regstappe laat.

4.4 Regstappe

Die Skolewet magtig ’n beheerliggaam om skoolgeld – en dus ook koshuisgeld – vas te stel178 en agterstallige gelde te verhaal. Die wet bepaal dat “’n ouer” aanspreeklik is vir die betaling van skoolgeld, behalwe indien, of in die mate waartoe, hy of sy daarvan vrygestel is.179 Indien die ouer nie betaal nie, kan die skool ’n regsproses ter invordering volg,180 maar hierdie proses is aan ’n aantal voorwaardes gekoppel, onder meer dat die skool eers ’n skrywe aan die ouer moet rig om hom te verwittig dat hy nie om vrystelling aansoek gedoen het nie en steeds nie betaal nie, en ’n tydperk van drie maande na die skrywe verloop het en die ouer steeds nie betaal nie.181 Tydens uitwinning mag die skool nie op die woning waarin ’n ouer woon, beslag lê nie.182

Die bepalings van die Skolewet is egter nie die enigste waaraan ’n beheerliggaam gehoor moet gee nie. ’n Beheerliggaam kan nie stappe teen ’n wanbetaler doen voordat dit nie eers ’n ondersoek ingestel het om te bepaal of die ouer nie moontlik vir kwytskelding kwalifiseer nie.183 Dit beteken dat die beheerliggaam nie daarop geregtig is om sonder meer stappe in te stel nie. Verder bepaal die Noordwes-skolewet dat die bedrag van skoolgeld – en dus ook koshuisgeld in daardie provinsie – deur ’n geheime stemming goedgekeur moet word.184

Dit is nie die doel van hierdie paragraaf om die betaling en vordering van koshuisgeld volledig te hanteer nie, maar uit hierdie kort bespreking blyk dit dat ’n beheerliggaam in elk geval nie sonder meer regstappe kan instel nie. Die beheerliggaam sal ten minste eers moet seker maak dat die koshuisgeld volgens die toepaslike wetgewing en regulasies bepaal is, dat die ouer dit kan bekostig en nie op kwytskelding geregtig is nie.

4.5 Opsomming

Die bespreking hier bo skets ’n donker prentjie vir beheerliggame wat agterstallige koshuisgeld moet invorder. Aan die een kant gaan veral kleiner, plattelandse koshuise die finansiële druk voel om kosgangers wat nie betaal nie, in die koshuis te hou omdat dit in die belang van die leerder is. Dit teen die agtergrond van koerantberigte oor ’n skoolkoshuis wat sy deure moes sluit omdat verskaffers hulle weens niebetaling onttrek het.185 Aan die ander kant wil dit voorkom of nie een van die bestaande middele tot die beheerliggaam se beskikking werklik effektief is nie.

Wat bly oor?

Eerstens gaan beheerliggame al hoe meer gedwing word om fondsinsamelings te hou en skenkings of borgskappe te vra om hul skoolkoshuise te onderhou en voorsiening te maak vir leerders wie se ouers nie kan of wil betaal nie. Dit is egter makliker gesê as gedaan. In onlangse navorsing is aangetoon dat ouers en die gemeenskap nie ondersteunend teenoor fondsinsameling is nie en dit as die taak van die skoolbestuur en personeel beskou.186

Tweedens kan beheerliggame die moontlikheid van vennootskappe met die privaatsektor ondersoek met die oog daarop om fondse vir koshuise te genereer. Dit sluit die gebruik van die skooleiendom in, omdat die Skolewet ’n beheerliggaam magtig om skooleiendom aan te wend om skoolfondse aan te vul.187 Alhoewel die privaatsektor reeds by verskillende onderwysprojekte betrokke is, is dit meestal op die verskaffing van leermateriaal en infrastruktuur gefokus.188 Die generering van fondse vir koshuise is dus ’n nuwe veld waarin beheerliggame hulle moet begewe.

’n Derde opsie is dat beheerliggame en hul versekeraars die moontlikheid oorweeg om versekering vir oninvorderbare skulde te beding. Dit kan ’n praktiese – hoewel duur – oplossing vir die probleem bied.

 

5. Aanspreeklikheid van die beheerliggaam

’n Laaste aspek wat aandag verdien, is die moontlike regsaanspreeklikheid van die beheerliggaam as ’n kosganger onregmatig uit ’n koshuis gesit is weens wanbetaling van koshuisgeld. Soos reeds hier bo vermeld, dui die Noordwes-regulasies, wat uitsetting uitdruklik verbied, nie enige sanksie aan nie, terwyl dit uit die bespreking blyk dat uitsetting waarskynlik ’n onregmatige aantasting van die leerder se grondwetlike regte sou meebring. Die feit dat die Noordwes-regulasies nie ’n sanksie insluit nie en dat ander uitdruklike sanksies ten opsigte van die uitsetting weens wanbetaling van koshuisgeld nie bestaan nie, beteken egter nie dat daar geen gevolge is nie. In Suid-Afrika geld die beginsel dat daar ’n remedie vir elke reg is en dat indien die remedie nie duidelik is nie, die howe, as opperbeskermers van regte, die taak het om ’n geskikte remedie te bepaal.189

’n Beheerliggaam is ’n statutêre instelling, wat beteken dat dit slegs daardie funksies mag verrig wat in magtigende bepalings daaraan toegewys is.190 Dit is, soos reeds aangedui, een van die drie vennote in die onderwysmilieu wat saam met die nasionale en provinsiale owerheid moet toesien dat die verwerkliking van die ideaal van kwaliteitonderwys bereik word. Dit beteken ook dat die beheerliggaam die beginsels van deursigtige en verantwoordbare bestuur en die nakoming van regsbeginsels moet openbaar.191 Indien die beheerliggaam dit nie doen nie, kan dit regtens verantwoordbaar gehou word.

As ’n leerder onregmatig uit ’n koshuis gesit word, kan die leerder emosionele of psigologiese skade ly weens die uitsetting en die skool en/of beheerliggaam kan aanspreeklik gehou word vir die skade indien aan die beginsels van ’n onregmatige daad voldoen word.192 Ten opsigte van deliktuele en kontraktuele aanspreeklikheid bepaal die Skolewet egter dat die staat aanspreeklik is vir enige skade of verlies wat veroorsaak word deur ’n doen of late in verband met ’n skoolaktiwiteit en waarvoor die skool normaalweg aanspreeklik sou wees.193 Dit beteken nie dat die beheerliggaam of lid van die beheerliggaam wat vir die onregmatige optrede verantwoordelik was, nie self persoonlik aanspreeklik gehou sal kan word nie. Indien die beheerliggaam of die betrokke lid egter grof nalatig of roekeloos opgetree het, sal die staat steeds ’n verhaalsreg teen die lid of beheerliggaam hê.194 Dit sal veral in byvoorbeeld Noordwes die geval wees, omdat ’n beheerliggaam deur die uitsetting roekeloos – dus opsetlik – of grof nalatig sou optree omdat daar ’n duidelike bepaling teen uitsetting op grond van wanbetaling bestaan.195

Die vraag kan gevra word of die beheerliggaam hom kan verweer deur aan te dui dat hy nie van die betrokke regulasie bewus was nie. Die vraag moet om drie redes ontkennend beantwoord word. Eerstens bepaal die Skolewet dat skoolhoofde die taak het om beheerliggame oor wetgewing en beleidsmaatreëls in te lig.196 Indien die beheerliggaam hom op onkunde wil beroep, gaan hy hom net vasloop teen die bepaling wat een van sy lede197 regtens verplig om die ander lede oor die bepalings in te lig.

Tweedens werk ’n beheerliggaam met leerders en staan hulle in ’n vertrouensverhouding teenoor die skool en dus sy leerders. Dit beteken dat lede van die beheerliggaam, al is hulle nie onderwysers nie, waarskynlik dieselfde sorgsaamheidsplig ten laste gelê sal word waaraan onderwysers onderhewig is.198 Hierdie plig hou onder meer in dat daar op ’n onderwyser ’n verpligting rus om “op ’n versigtige wyse om te sien na die veiligheid (en welsyn) van die kinders wat aan hom toevertrou is”199 en hou meer in as om bloot redelik op te tree.200

Derdens het die Suid-Afrikaanse reg in so ’n mate ontwikkel dat van ’n persoon verwag word om op die hoogte te bly van regsontwikkeling op sy terrein. Dus kan onkunde oor die reg nie as verskoning voorgehou word nie, ook nie in onderwysgeledere nie.201 Hierdie beginsel is onlangs weer deur die Hoogste Hof van Appèl in Nuance Investments202 bevestig. In die uitspraak verwys appèlregter Tshiqi met goedkeuring na die beginsel wat in De Blom203 gestel is dat daar van ’n persoon verwag kan word om die nodige stappe te doen ten einde ingelig te wees oor die wyse waarop die reg sy aktiwiteite kan beïnvloed, veral ten opsigte van spesifieke handelinge.204 Die hof kom tot die gevolgtrekking dat die appellant in hierdie saak deur redelike sorg kennis van die regsbeginsels kon bekom het.205

 

6. Slot

Die artikel het gefokus op stappe wat ’n beheerliggaam kan doen indien ’n koshuisganger se ouer(s) nie die koshuisgelde betaal nie. Die bespreking het aanvanklik gewentel om die vraag of so ’n leerder uit die koshuis gesit mag word en die gevolgtrekking was dat dit weens Noordwes se regulasies beslis nie in Noordwes gedoen kan word nie, en in die lig van die reg op basiese onderwys en die beste belang van kinders ook nie in die ander provinsies nie. Daarna is kortliks verwys na alternatiewe wat vir beheerliggame beskikbaar is om agterstallige gelde te vorder en ons het tot die gevolgtrekking gekom dat nie een van die bestaande meganismes – subsidies, onderhandeling en regsprosesse – probleemvry funksioneer nie.

Die praktiese implikasie van die artikel se gevolgtrekkings is dat ’n groot aantal skole in sommige gevalle onwettig en in sommige gevalle ongrondwetlik te werk gaan as hulle op webblaaie of in skrywes aandui dat leerders uit die koshuis gesit mag word as koshuisgelde nie betaal word nie. Beheerliggame, en veral skoolhoofde – wat die taak het om beheerliggame oor beleid en wetgewing in te lig206 – moet ernstig hieroor besin, want die laaste deel van die bespreking het aangedui dat ’n uitsetting onregmatig kan wees en uiteindelik tot die persoonlike aanspreeklikheid van die beheerliggaam of die betrokke lid kan lei. Dus behoort beheerliggame en hul lede, veral wat uitsettings uit koshuise betref, die volgende spreuk as leuse te neem: Caveat magister – Waak voor jy optree, Meester!

 

Bibliografie

Beckmann, J. en I. Prinsloo. 2009. Legislation on school governors’ power to appoint educators: friend or foe? South African Journal of Education, 29:171–84.

Besharati, N. 2015. Private sector investment in South Africa’s education sector: nature, extent and incentives. JET Research Brief (December):1–8. http://www.clear-aa.co.za/wp-content/uploads/2015/12/Besharati-JET-Research-Paper-Dec-2015-WEB.pdf (3 April 2017 geraadpleeg).

Bremner, L.P. 2013. A legal interpretation of the duty of care of teachers regarding learner truancy. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Carnelley, M. 2011. Liability for the payment of public school fees. Potchefstroomse Elektroniese Regstydskrif, 14(6):34–60. http://dx.doi.org/10.4314/pelj.v14i6.2 (27 Maart 2017 geraadpleeg).

De Waal, E. 2000. The educator-learner relationship within the South African public school system: an educational-judicial perspective. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

Dieltiens, V.M. 2015. Grounds for boarding: Shifting responsibilities in the education and care of children living on farms. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Witwatersrand.

Goba, N. 2017. Outrage over school letter threatening to bar pupils with foreign parents. Times Live. Februarie, 24. http://www.timeslive.co.za/local/2017/02/24/Outrage-over-school-letter-threatening-to-bar-pupils-with-foreign-parents (27 Maart 2017 geraadpleeg).

Laas, A. en T. Boezaart. 2014. The legislative framework regarding bullying in South African schools. Potchefstroomse Elektroniese Regstydskrif, 17(6):2667–702. http://dx.doi.org/10.4314/pelj.v17i6.12 (30 Maart 2017 geraadpleeg).

Loock, C. en S. Gravett. 2014. Towards a governance and management model for teaching schools in South Africa. South African Journal of Childhood Education, 4(3):174–91.

Mestry, R. 2016. The management of user fees and other fundraising initiatives in self-managing public schools. South African Journal of Education,36(2):1–11.

Meyer, A. 2015. Criminal case against SA school highlights liability risk for board members. FANews. 25 Augustus. https://www.fanews.co.za/article/short-term-insurance/15/general /1217/criminal-case-against-sa-school-highlights-liability-risk-for-board-members/18568 (3 April 2017 geraadpleeg).

Moses, S. 2014. Koshuis weer gesluit oor skuld. Die Son. 14 Julie, bl. 5.

Nkonkobe, Z. 2012. Cathcart school refuses pupil entry; Mother claims daughter sent home due to unpaid hostel fees. Daily Dispatch. 24 Oktober, bl. 2.

Oosthuizen, I.J., J.P. Rossouw en A. de Wet. 2010. Inleiding tot die onderwysreg. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.

Reyneke, M. 2013. The best interest of the child in school discipline in South Africa. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Tilburg.

—. 2016. Realising the child's best interests: lessons from the Child Justice Act to improve the South African Schools Act. Potchefstroomse Elektroniese Regstydskrif,19:1–29.

Scheun, C.L. 2014. Kinders bly tuis ná koshuis weer sluit; Departement glo agter met subsidie. Die Burger. 13 Mei, bl. 5.

Serfontein, E. 2010. Liability of school governing bodies: a legislative and case law analysis. Journal for transdisciplinary research in Southern Africa,6(1):93–112.

Serfontein, E.M. en E. de Waal. 2013. The effectiveness of legal remedies in education: A school governing body perspective. De Jure,46(1):45–62.

Stoop, P.N. 2010. The impact of the National Credit Act 34 of 2005 on school fees charged by public schools. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg,73(3):451–60.

Suid-Afrika. 2004. National norms and standards for school funding. Staatskoerant nr. 27014, GK 1357. 19 November.

—. 2012. Guidelines for the provision of boarding facilities in public ordinary schools. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys.

—. 2013. Province of the Eastern Cape: Hostel policy for public ordinary schools. Bhisho: Oos-Kaapse Departement van Onderwys.

Van der Merwe, S. 2012. Die verhouding tussen die beheerliggaam van ’n openbare skool en die onderwysowerhede, met spesifieke verwysing na die dualistiese rol van die skoolhoof. Ongepubliseerde LLM-verhandeling, Universiteit van Pretoria.

 

Eindnotas

1 Die beklemtoning in vetdruk is deur die skool aangebring. Die skool is in Noordwes geleë.

2 Die stelling herinner aan die woorde van die ouers van die leerder in Tshona v Principal, Victoria Girls High 2007 5 SA 66 (OK) 72D: “You stated that ... we could throw her out onto the pavement”, en meer onlangs, aan ’n stelling in ’n omsendbrief van ’n Gautengse skool: “If any foreign child arrives here on Monday we will phone the police to come and collect your child and you can collect your child at the police station" – Goba (2017).

3 Omdat die artikel nie op spesifieke skole gemik is nie, word verwysings na die skole en hul webtuistes nie gegee nie.

4 Nkonkobe (2012).

5 ’n Openbare skool is kragtens die woordomskrywing in art. 1 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (die Skolewet) ’n skool soos in hfst. 3 (artt. 12–33A) bedoel en ten opsigte waarvan die betrokke minister norme en standaarde rakende befondsing, bestuur en onderwerpvoorsiening kan vasstel – art. 12(3)(b). Die artikel behandel nie die posisie in privaatskole nie.

6 Art. 12(1) van die Skolewet.

7 Art. 12(2) van die Skolewet.

8 Loock en Gravett (2014:177).

9 Head of Department, Department of Education, Free State Province v Welkom High School 2014 4 SA 228 (KH) (hierna Welkom) par. 141.

10 Art. 16(2) en 16(1) van die Skolewet. Die taak van ’n beheerliggaam word bondig in Welkom par. 63 deur regter Khampepe opgesom: “To my mind, therefore, a governing body is akin to a legislative authority within the public-school setting, being responsible for the formulation of certain policies and regulations, in order to guide the daily management of the school and to ensure an appropriate environment for the realisation of the right to education.” Sien ook Beckmann en Prinsloo (2009:172); Serfontein (2010:95).

11 Art. 20(1)(g). Die beheerliggaam mag ook kragtens art. 21(1)(a) die LUR skriftelik versoek om toegelaat te word om die skooleiendom, wat die koshuis insluit, te onderhou en te verbeter.

12 Art. 39(1) van die Skolewet; Carnelley (2011:34).

13 Suid-Afrika (2012) (hierna die riglyne).

14 Riglyn 2.1 van die riglyne. Sien ook die bespreking van Dieltiens (2015:46–63) t.o.v. die redes en belang van koshuisinwoning m.b.t. leerders in plaasgemeenskappe en afgeleë gebiede.

15 Riglyn 15.1 en 15.6(e) van die riglyne.

16 Riglyn 21.4 van die riglyne.

17 3 van 1998 (hierna die Noordwes-wet).

18 Die Regulations relating to the administration of public school hostels (hierna die Noordwes-regulasies) is in Buitengewone Provinsiale Koerant 7031 van 31 Augustus 2012 afgekondig.

19 Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (hierna die Grondwet).

20 Fedsas v MEC Department of Education and Training North West Province saaknr. 1133/13 (NWHH) par. 10 (hierna Fedsas v MEC North West). Die applikante het ook alternatiewe gestel, onder meer dat die betrokke regulasies ultra vires is en die bepalings van die Wet op Administratiewe Geregtigheid 3 van 2000 oortree.

21 Fedsas v MEC North West par. 11.

22 Fedsas v MEC North West par. 28–9.

23 Fedsas v MEC North West par. 29.

24 Fedsas v MEC North West par. 43.

25 Fedsas v MEC North West par. 44. Die hof is van oordeel dat die provinsiale wet nie “verder as die Skolewet” kan gaan nie – par. 45.

26 Fedsas v MEC North West par. 61.

27 Fedsas v MEC North West par. 67.

28 MEC: Department of Education Northwest Province v Fedsas 2016-12-1 saaknr.021/2016 (HHA).

29 MEC North West v Fedsas par. 4.

30 MEC North West v Fedsas par. 7. Dieltiens (2015:191) betoog dat die doel van sg. plaaskoshuise binne ’n “political ethics of care” gevind word waarin verhoudings, die regverdige verdeling van hulpbronne en sosiale reproduksie en geslagsverhoudings ’n rol speel.

31 MEC North West v Fedsas par. 8.

32 Federation of Governing Bodies for South African Schools (Fedsas) v MEC for Education, Gauteng 2016 4 SA 546 (KH) par. 3.

33 Governing Body of the Juma Musjid Primary School v Essay 2011 8 BCLR 761 (KH) par. 42–3.

34 Fedsas v MEC North West par. 61.

35 MEC North West v Fedsas par. 10.

36 Ibid. Die gedeelte in Fedsas v MEC Gauteng par. 26 lui: “Education is a functional area of concurrent national and provincial legislative competence. Parliament may legislate on education and a province too. In turn, the Premier and MECs in a province exercise authority by implementing provincial legislation. The legislative competence of a province cannot be snuffed out by national legislation without more. The Constitution anticipates the possibility of overlapping and conflicting national and provincial legislation on concurrent and national legislative competences.‟

37 Head of Department, Mpumalanga Department of Education v Hoërskool Ermelo 2010 2 SA 415 (KH) par. 56.

38 MEC North West v Fedsas par. 11.

39 MEC North West v Fedsas par. 18.

40 MEC North West v Fedsas par. 19.

41 Artt. 28(2) en 29(1) van die Grondwet.

42 MEC North West v Fedsas par. 21.

43 MEC North West v Fedsas par. 22.

44 Welkom par. 37.

45 MEC North West v Fedsas par. 23.

46 Fedsas v MEC North West par. 24.

47 Fedsas v MEC Gauteng par. 27.

48 Fedsas v MEC Gauteng par. 28. Die beginsel van samewerkende regering word ook in art. 41 van die Grondwet hanteer en in die Welkom-saak par. 140 bespreek.

49 Fedsas v MEC North West par. 27.

50 Geen kostebevel is gemaak nie, omdat die LUR dit nie versoek het nie.

51 MEC North West v Fedsas par. 1.

52 Kriegler R verduidelik die leerstuk in Ex Parte Minister of Safety and Security: In Re S v Walters 2002 4 SA 613 (KH) parr. 55 e.v. en veral par. 61: “High courts are obliged to follow legal interpretations of the SCA, whether they relate to constitutional issues or to other issues, and remain so obliged unless and until the SCA itself decides otherwise or this Court does so in respect of a constitutional issue.”

53 MEC North West v Fedsas par. 17.

54 Reg. 2(1) van die Noordwes-regulasies.

55 Reg. 9 van die Noordwes-regulasies.

56 Reg. 9(3) van die Noordwes-regulasies.

57 Reg. 9(5) van die Noordwes-regulasies. Die regulasies ondervang dus die onduidelikheid waarna Stoop (2010:454) verwys t.o.v. die regsbasis van die betaling van koshuisgeld, wat kragtens die betrokke subregulasie duidelik ex lege is en dus nie kontraktueel ooreengekom hoef te word nie.

58 Reg. 5(2)(c) saamgelees met die aanhef tot reg. 5(2) en die definisie van “cut off date” in reg. 1. Die leerder moet teen 31 Oktober van sy/haar hertoelating al dan nie in kennis gestel word – reg. 5(4).

59 Reg. 9(11)(a)-(d) van die Noordwes-regulasies.

60 6 van 1995 (hierna die Gauteng-wet).

61 Art. 6(a)(ii) van die Gauteng-wet

62 Art. 23(2) van die Gauteng-wet.

63 Art. 106(1)(a) en (b) van die Gauteng-wet.

64 Governing Body Regulations for Public Schools gepubliseer in Provinsiale Koerant 331 van 28 Februarie 1997 (hierna die Gauteng-regulasies).

65 Regg. 48(b) en 57(1)(b) van die Gauteng-regulasies.

66 Misconduct of learners at public schools and disciplinary proceedings gepubliseer in Provinsiale Koerant 144 van 4 Oktober 2000 (hierna die Gautengse dissiplinêre regulasies).

67 Reg. 7 van die Gautengse dissiplinêre regulasies bepaal dat die bepalings van “paragrawe” 3 tot 6 ook op die skorsing en uitsetting van kosgangers van toepassing is.

68 Reg. 3(3) saamgelees met reg. 7 van die Gautengse dissiplinêre regulasies. Die oortredings in bylaag 2 sluit nie die niebetaling van skool- of enige ander gelde in nie.

69 6 van 1996 (hierna die Noord-Kaap-wet).

70 Artt. 5(a)(ii) en 46(1) van die Noord-Kaap-wet.

71 Art 26(3) van die Noord-Kaap-wet. Hierdie artikel wyk af van die formaat wat in art. 21(1)(a) van die Skolewet, art. 26(2)(b) van die Gauteng-wet en reg. 3(1) van die NW Regulasies gevolg word waarin die skool se beheerliggaam ook die koshuis beheer.

72 Artt. 28(3)(g) en 28(6)(a) van die Noord-Kaap-wet.

73 Art. 104(1) van die Noord-Kaap-wet. Die artikel is dieselfde as in die Gauteng-wet waarna hier bo verwys is.

74 9 van 1995 (hierna die Limpopo-wet).

75 Art. 5(a) van die Limpopo-wet.

76 Art. 21(2) van die Limpopo-wet.

77 Artt. 46 en 47(1) van die Limpopo-wet. Die wet maak in art. 24(3), soos die geval in die Noord-Kaap, daarvoor voorsiening dat ’n beheerliggaam slegs vir ’n koshuis of koshuise ingestel mag word.

78 Art. 104(1) en (4) van die Limpopo-wet.

79 KwaZulu-Natal School Education Act 3 van 1996 (hierna die KZN-wet).

80 Art. 72(1) van die KZN-wet. Die betrokke artikel verwys na die LUR as ’n “minister” en bepaal dat hy of sy slegs “na konsultasie met die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Onderwys en Kultuur en mits die regulasies nie in stryd met enige ander wet is nie” regulasies mag maak.

81 8 van 1995 (hierna die Mpumalanga-wet).

82 Art. 49 plaas die beheer van die koshuis in die beheerliggaam se hande en art. 50(1) bepaal dat ’n kosganger se ouer die koshuisgeld wat deur die beheerliggaam bepaal is, moet betaal.

83 2 van 2000 (hierna die Vrystaat-wet).

84 Artt. 10(2) en 72, 41(10(g) en 42(1)(a) van die Vrystaat-wet.

85 Art. 57 van die Vrystaat-wet.

86 Art. 34(7). Die artikel stem ooreen met die Gautengse dissiplinêre regulasies, wat dus ook die afleiding regverdig dat ’n leerder nie om ’n ander rede uit die koshuis gesit mag word nie.

87 1 van 1999 (hierna die Oos-Kaap-wet).

88 Artt. 5(b), 22(1) en 65 van die Oos-Kaap-wet. Wanneer ’n beheerliggaam slegs t.o.v. ’n koshuis of koshuise ingestel word, word dit ’n “hostel council” genoem – art. 22(2).

89 Art. 25(a) van die Oos-Kaap-wet.

90 Art. 52(2) van die Oos-Kaap-wet. Die wet maak dus nie voorsiening daarvoor dat ’n beheerliggaam of “hostel council” die gelde kan bepaal nie.

91 Die beleid is op 28 Februarie 2013 uitgereik (hierna die Oos-Kaap-beleid).

92 Par 1.3.1 van die Oos-Kaap-beleid.

93 Parr. 1.4.10 en 1.5 van die Oos-Kaap-beleid. Wat die status van beleidsdokumente betref, stel die HHA in Akani Garden Route (Pty) Ltd v Pinnacle Point Casino (Pty) Ltd 2001 4 SA 501 (HHA) par. 7 dit duidelik dat “laws, regulations and rules are legislative instruments, whereas policy determinations are not. As a matter of sound government, in order to bind the public, policy should normally be reflected in such instruments.”

94 Wat volgens par. 1.7(13) van die Oos-Kaap-beleid verantwoordelik is vir die dag-tot-dag-bestuur van die koshuis.

95 Parr. 1.8(3) en (4) van die Oos-Kaap-beleid. Die beleid is oënskynlik in stryd met art. 52(2) van die Oos-Kaap-wet. Die probleem word vererger deur art. 52(3)(c) wat aandui dat die LUR ’n leerder “with the concurrence of the ... governing body” van betaling kan vrystel, wat dus magtiging aan ’n beheerliggaam om die koshuisgeld vas te stel, suggereer.

96 Par. 3.2(10(a) van die Oos-Kaap-beleid.

97 Par. 3.2(1)(d) van die Oos-Kaap-beleid. Die glyskaal in bylaag B geld t.o.v. ouers wie se jaarlikse inkomste tussen R15 000 en R100 000 bedra en geld t.o.v. koshuisgeld van R1 000 per kwartaal. Indien die bedrag hoër is, is die ouer vir betaling verantwoordelik.

98 Par. 18(g) van die Oos-Kaap-beleid.

99 12 van 1997 (hierna die Wes-Kaap-wet).

100 Art. 4(1)(a) van die Wes-Kaap-wet.

101 Kragtens art. 21 van die Wes-Kaap-wet.

102 Art. 8(1)(a) van die Wes-Kaap-wet. Dit verskil van die Noordwes-regulasies wat in reg. 3(1) bepaal dat die beheer van die koshuis behoudens die regulasies in die beheerliggaam gesetel is, art. 28(3)(g) van die Noord-Kaap-wet bepaal dat die bestuur van die koshuis in die beheerliggaam gesetel is.

103 Art. 63(1) van die Wes-Kaap-wet. Soos die Noord-Kaap-wet kan die regulasies ook sanksies vir oortreders bepaal – art. 63(3).

104 Art. 49(2) van die Wes-Kaap-wet.

105 Regulasies betreffende die bestuur van en beheer oor koshuise by openbare skole en die beheer oor die onroerende eiendom en toerusting van koshuise onder die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gepubliseer in Buitengewone Provinsiale Koerant 7066 op 28 November 2012 (hierna die Wes-Kaap-regulasies).

106 Reg. 5(1) van die Wes-Kaap-regulasies.

107 Reg. 16(3) van die Wes-Kaap-regulasies.

108 Reg. 14(3) van die Wes-Kaap-regulasies.

109 Reg. 17 van die Wes-Kaap-regulasies.

110 Reg. 18 van die Wes-Kaap-regulasies.

111 Hoewel die bespreking verder net na uitsetting verwys, sluit dit weiering om toegang tot die koshuis te gee, in.

112 Telefoniese gesprek met me. Louw op 2 Maart 2017.

113 Me. LaRey op 3 Maart 2017. Ons was ook telefonies in verbinding met ’n amptenaar van die Oos-Kaap wat koshuisaangeleenthede by die provinsiale kantoor hanteer. Hy het ons egter meegedeel dat hy nie van enige geval in sy provinsie bewus is waar ’n koshuisganger weens wanbetaling uit die koshuis gesit is nie, ten spyte van die bewerings van Nkonkobe (2012).

114 Fedsas v MEC Gauteng par. 1.

115 Art. 29(1) van die Grondwet.

116 Fedsas v MEC Gauteng par. 3; Juma Musjid par. 43; MEC Northwest v Fedsas par. 9.

117 Juma Musjid parr. 37, 43.

118 Hoërskool Ermelo par. 55.

119 Juma Musjid par. 58.

120 Art. 28(2) van die Grondwet en art. 6(2)(a) van die Kinderwet 38 van 2005; Laas en Boezaart (2014:2682). Vir ’n omvattender bespreking van hierdie bepaling, sien Reyneke (2013:16–26).

121 Art. 6(1)(b) van die Kinderwet; Reyneke (2016:4).

122 S v M (Centre for Child Law as Amicus Curiae) 2007 2 SACR 539 (KH) par. 15.

123 Director of Public Prosecutions, Transvaal v Minister of Justice and Constitutional Development 2009 2 SACR 130 (KH) par. 73.

124 Ander sake waar die beste belang van ’n kind hanteer is, sluit o.m. in Du Toit v Minister of Welfare and Population Development 2003 2 SA 198 (KH), wat oor aanneming deur selfdegeslag pare gehandel het, Singh v Ebrahim 2010-11-26 saaknr. 413/09 (HHA),waar die HHA nie die beginsel wou uitbrei om ’n “voordeel” aan ’n kind by die bepaling van skadevergoeding te gee nie, en De Villiers v S 2016 1 SACR 148 (HHA), wat oor strafreg handel.

125 Art. 36(1) van die Grondwet; Centre for Child Law v The Governing Body of Hoërskool Fochville 2016 2 SA 121 (HHA) (Fochville­-saak) par. 27. De Villers v S is ’n voorbeeld van waar die hof bevind het dat die beste belang van die kinders nie swaarder weeg as die belange van die gemeenskap nie en dat oortreders gestraf moet word.

126 Fedsas v HOD: Department of Education, Northern Cape Province 2016-7-8 saaknr. 887/2016 (NKHH) (Fedsas v H.O.D. Northern Cape)par. 21; Rivonia par. 2; Welkom­ parr. 129, 167.

127 Rivonia par. 76.

128 Welkom par. 132.

129 Fochville par. 29.

130 Rivonia par. 69, 71.

131 MEC Northwest v Fedsas par. 21. Die hof beklemtoon dit twee keer in die paragraaf: “[A]ccess to education must necessarily include the provision of hostels” en “The provision of hostels is thus an essential component.”

132 Art. 5(3)(a) van die Skolewet.

133 Art. 14 van die Mpumalanga-wet; art. 17(7)(a) van die Vrystaat-wet; art. 15 van die Limpopo-wet; art. 10(3)(a)(i) van die Noord-Kaap-wet; art. 17(1) van die Gauteng-wet.

134 Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond 19 van 1998.

135 Machele v Mailula 2010 2 SA 257 (KH) par. 14.

136 Art. 4(1) van PIE. Die aansoek kan deur die eienaar of persoon in beheer gebring word. Omdat die beheer en bestuur van ’n koshuis aan die beheerliggaam oorgedra is, kan die beheerliggaam die aansoek bring.

137 Art. 9 van PIE magtig ’n landdroshof om die verrigtinge aan te hoor.

138 Art. 4(2) van PIE.

139 Art. 28(1)(h) van die Grondwet; Fochville par. 21–3.

140 Pitje v Shibambo 2016 4 BCLR 460 (KH) par. 19.

141 Port Elizabeth Municipality v Various Occupiers 2005 1 SA 217 (KH) (hierna PE Municipality).

142 PE Municipality par. 36.

143 A Hendricks v M Hendricks 2016 1 SA 511 (HHA).

144 Juma Musjid par. 40.

145 Juma Musjid par. 60.

146 Juma Musjid parr. 61, 68.

147 Juma Musjid par. 76.

148 PE Municipality par. 7.

149 PE Municipality par. 23.

150 Juma Musjid par. 76.

151 Stoop (2010:454).

152 Reg. 4(8) van die Noordwes-regulasies.

153 Suid-Afrika (2004).

154 Standaard 122 van die norme en standaarde.

155 Riglyn 12.1 van die riglyne.

156 Riglyn 21.4 van die riglyne.

157 Reg. 16(1)(b) van die Wes-Kaap-regulasies.

158 Reg. 16(4)–(6) van die Wes-Kaap-regulasies.

159 Par. 3.2(2) van die Oos-Kaap-beleid.

160 Par. 3.2(3) van die Oos-Kaap-beleid.

161 Par. 3.2(4) van die Oos-Kaap-beleid.

162 Welkom par. 132.

163 Art. 12(1) en (2) van die Skolewet.

164 Art. 41(1)(h) van die Grondwet.

165 Van der Merwe (2012:116–42) wy ’n hele hoofstuk aan die konflik tussen skole en onderwysamptenare.

166 Welkom par. 120.

167 Welkom par. 132.

168 Fedsas v MEC Gauteng par. 4.

169 Fedsas v MEC Gauteng parr. 23, 45.

170 Juma Musjid par. 46.

171 Juma Musjid par. 47.

172 Ermelo par. 89.

173 Ermelo par. 103.

174 Fedsas v HOD Northern Cape par. 57.

175 Fedsas v HOD Northern Cape par. 32.

176 Fedsas v HOD Northern Cape par. 49.

177 MEC North West v Fedsas par. 27.

178 Art. 39(1) van die Skolewet; Stoop (2010:452–3).

179 Art. 40(1) van die Skolewet. Die begrip “ouer” word wyd gedefinieer – sien Carnelley (2011:48).

180 Art. 41(1) van die Skolewet.

181 Art. 41(5) van die Skolewet.

182 Art. 41(6) van die Skolewet.

183 Reg. 3(1)(e) van die Regulations relating to the exemption of parents from payment of school fees in public schools (hier bo eindn. 18).

184 Art. 14(2) van die Noordwes Skolewet. Die ander provinsies se bepalings stem met die Skolewet ooreen.

185 Moses (2014:5); Scheun (2014:5).

186 Mestry (2016:8).

187 Art. 36(4)(a) van die Skolewet. Hierdie funksie kan slegs met die toestemming van die LUR uitgeoefen word.

188 Besharati (2015:5).

189 Serfontein en De Waal (2013:55).

190 Beckmann en Prinsloo (2009:172) som die posisie goed op: “It may be concluded that since the public school is an ‘organ of state’, the governing body acts as its functionary to perform its functions in terms of SASA [die Skolewet]. Thus, although the governing body has no original power to act on its own outside the provisions in SASA, it has original power to perform its functions in terms of SASA.”

191 Serfontein (2010:98).

192 Oosthuizen, Rossouw en De Wet (2010:73). Die beginsels van deliktuele aanspreeklikheid val nie binne die fokus van hierdie artikel nie. Dit is egter onlangs in Pro Tempo v Van der Merwe 2016-3-24 saaknr. 20853/2014 (HHA) hanteer.

193 Art. 60 van die Skolewet. Sien ook art. 100(3) van die Noord-Kaap-wet en art. 19(1) van die Wes-Kaap-wet.

194 Van der Merwe (2012:82). ’n Aspek wat hiermee verband hou, is die moontlikheid dat selfs die pensioengeld van die “oortreder” gebruik kan word om vir die skade te vergoed – Bremner (2013:193).

195 In hierdie verband waarsku Meyer (2015) dat selfs “onskuldige” lede van ’n beheerliggaam aanspreeklik gehou kan word indien hulle toegelaat het dat voorskrifte oortree word.

196 Art. 16A(2)(f) van die Skolewet.

197 Die skoolhoof is ampshalwe ’n lid van die beheerliggaam – art. 23(1)(b) van die Skolewet.

198 Bremner (2013:170). In Jacobs v Chairman of the Governing Body of Rhodes High School 2011 1 SA 160 (WKK) par. 15 som die hof die bepaling van ’n regsplig soos volg op: “The conduct of a State functionary which is at variance with the State’s duty to protect the rights in the Bill of Rights, would be an important factor to be considered in determining whether a legal duty ought to be recognised in a particular case.”

199 Oosthuizen e.a. (2010:68).

200 Transvaal Provincial Administration v Coley 1925 AD 24: “It is not the care which the man takes in his own affairs, nor that which the ordinary or average man would take. It is higher than that.” Sien ook die bespreking deur De Waal (2000:82–4).

201 Bremner (2013:9); De Waal (2000:89).

202 Nuance Investments v Maghilda Investments 2015-9-23 saaknr. 15914/2012 (HHA) (hierna Nuance Investments).

203 S v De Blom 1977 3 SA 513 (A).

204 Nuance Investments par. 64.

205 Nuance Investments par. 65.

206 Art. 16A(2)(f) van die Skolewet.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Caveat magister! Die uitsetting van kosgangers uit koshuise van openbare skole weens onbetaalde koshuisgeld appeared first on LitNet.

The use of fiction in the development and presentation of research in the social sciences

$
0
0

Abstract

The expository essay is the most widely accepted way to report on research findings. In such an essay the researcher usually discusses the research problem, research question, background literature, methodology, data collection, implications and findings (Wade 2008:13). Most academics see this way of writing about research as the only valid way to do so. Theses and articles that explore other possibilities, such as through fiction writing, are often perceived as problematic as they do not fit the generally accepted conventional research practices. Yet the use of fiction as a research methodology is not unheard of and has, in fact, been well documented and discussed in academic literature. Narrative research is part of a larger school of poststructuralist thought and as an approach to research it has already found acceptance. Within this school of thought and practice different art forms are being tested as ways of doing research and reporting on research findings. Narrative research, which emerged from poststructuralist thought, is a well-established research approach. Within narrative research it is possible to experiment with different artistic forms and ways to approach research. In this article we focus on the genre of fiction as one such a form of expression.

The narrative approach is not concerned in the first instance with data and truth within the story, but rather with the story in and of itself, and particularly with the telling of the story as a way in which we construct our realities. The process of storytelling has meaning in and of itself, and not just the content of the story that can be broken up into fragments and analysed by means of themes, codes, and even computerised analysis. In the narrative approach no distinction is made between fact and fiction, between “story” and “history”.

This article is not an attempt at neutral or “objective” research on the question of how fiction can be used in the reporting of research. It is, rather, the unpacking of our conviction that fiction makes an enriching contribution to the process of doing research and interpreting it. This article is therefore a description of the road that both of us have already walked with fiction and research in order to reflect on the contribution that fiction, in our understanding, can make to the research process.

According to Caine, Murphy, Estefan, Clandinin, Steeves and Huber (2016:1) there are three objectives that can be achieved with “fictionalizing in narrative inquiry”: the protection of the identities of co-researchers, the creation of distance between ourselves and our experiences, and its use as an imaginative way to enrich the research space and the interpretation of research. Something that could possibly be added is that it also makes academic research more accessible to non-academic audiences.

It is interesting and important to discover that the accepted use of fictional names (pseudonyms) is, in actual fact, already a form of fiction writing. It is used out of ethical concern to protect people who participate in the research. The purpose of pseudonyms is to disguise time, place and other indicators of identity. One could also express the second objective above as “a process of creating an other to tell more” (Caine et al. 2016:3). Fiction creates the possibility of a deeper or thicker description (“more”) and at the same time also creates protection for the writer/researcher so that he/she does not become unnecessarily exposed and vulnerable.

The article is an exploration of how we have both used fiction in our research. We argue that fiction can add much value to the research process and reporting thereof through reflecting on our journey as researchers and how we have incorporated the use of fiction in our research. Julian looks specifically at the successes and challenges of using fiction as a way of reporting on a research project about ubuntu at the University of Pretoria, and Marguerite tells of her use of fiction in writing her PhD thesis on the theme of educator identity and anti-oppressive theory at the University of the Free State. Julian writes about the anxiety that many researchers have around the use of fiction as a research tool, as the perception still largely exist that research should be factual and scientific. However, he also writes about how the researchers on the ubuntu project came to use fiction to open up new research spaces and new readings of their narratives. Julian uses the example of one of his PhD students, John Eliastam, who uses auto-ethnography to create an emotionally resonating piece that shares many elements of fiction writing. This type of research reporting is shown as useful to help the researcher give expression to the emotions and feelings that usually form part of a research process, but often go unreported. It is also useful in drawing in the audience, and intentionally eliciting an emotional rather than a purely rational response from the reader.

In her thesis Marguerite creates a range of characters to tell the story of her research journey. The characters are based on real research participants and how their contributions helped the fictional narrative to take shape around academic theory. As such, fiction is used to grapple with theory, but also to bring it to life and create a text in which we can explore our understandings, and also look beyond the limits of what we understand. Fiction in this sense is used to push the boundaries of what is acceptable in academic writing and reporting, but also to push the boundaries of the researcher’s learning by bringing the what if question to the centre of the research process. The what if question propels the story forward and helps the researcher to explore unexplored territory as the story is formulated using the research theories, data and interpretations.

By reflecting on our use of fiction in our research we consider the use thereof for research practice in general and show how fiction can be used to unpack research findings; in other words, how the “facts” of research (themes, categories, cultural insights etc.) can be repackaged as fiction and how research reporting can become storytelling. This means that the so-called “facts” of research are integrated with fiction in order to create a living account of the research that demonstrates rather than tells.

Keywords: fiction; narrative; research method; research reporting

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Die gebruik van fiksie vir die ontwikkeling en optekening van navorsing in die sosiale wetenskappe

The post The use of fiction in the development and presentation of research in the social sciences appeared first on LitNet.

Caveat magister! The expulsion of boarders from public school hostels due to non-payment of hostel fees

$
0
0

Abstract

A number of public schools in South Africa indicate on their websites, on application forms and in letters to parents that a learner will be expelled from the school’s hostel if the hostel fees are not paid. In this article the legality of such expulsion is considered in view of national and provincial legislation as well as judgments of the Constitutional Court and the Supreme Court of Appeal. The legality issue is not a mere academic exercise, as is clear from media reports on the expulsion of boarders as well as a letter quoted in the article which warns parents that their children will not be readmitted to the hostel unless all arrear hostel fees have been paid.

In terms of the South African Schools Act 84 of 1996 (SASA) the administration and control of school hostels vest in the school’s governing body (SGB), which is considered to be an organ of state and is also empowered to levy school fees. However, neither the SASA nor the National guidelines for the provision of boarding facilities in public ordinary schools refers to the levying of hostel fees or the consequences of non-payment. Thus, to ascertain whether a school may legally expel a non-paying boarder, provincial legislation and court rulings must be considered.

With regard to provincial legislation, North-West regulations promulgated in 2012 deal with hostel fees and the expulsion of boarders due to non-payment. The legality of these regulations was questioned, but the Supreme Court of Appeal found in MEC: Department of Education Northwest Province v Fedsas 2016-12-1 case no.021/2016 (SCA) that they were valid. In this judgment the court referred, inter alia, to previous judgments of the Constitutional Court, including Fedsas v MEC for Education, Gauteng 2016 4 SA 546 (CC) and Governing Body of the Juma Musjid Primary School v Essay 2011 8 BCLR 761 (CC), and came to the conclusion that the right to basic education enshrined in the Constitution also includes the right to school hostels. It further held that a provincial legislature and the member of the Executive Council were entitled to regulate school hostels in their province as education is a functional area of concurrent national and provincial legislative competence.

The effect of the ruling of the Supreme Court of Appeal is that schools in North-West are explicitly prohibited from expelling boarders due to the non-payment of hostel fees, meaning that public schools that expel learners are acting illegally. With regard to the other provinces, the position is not clear. In Gauteng the provincial schools act determines that any expulsion from a school hostel must be done in accordance with legal requirements. However, both the act and regulations promulgated in terms thereof are silent on the question of non-payment of hostel fees. Although some of the other seven provinces refer (either in the provincial education acts or in regulations) to hostel fees, none deals with the issue of expulsion due to non-payment of such fees. In both the Northern Cape and the Western Cape the practice seems to be that the provincial department will engage with the SGB to come to an agreement. However, this practice is not founded on any existing legal measures.

Since, except for North-West, no provincial measures exist with regard to the expulsion of boarders due to non-payment of hostel fees, it is necessary to consider judgments to find an answer.

South African courts consider the constitutional right to a basic education as an important right which is “immediately realisable”. This right also includes the right to a hostel if necessary. Another important aspect when dealing with children is the “best interest of a child” principle which any organ of state dealing with children should always take into consideration. As an SGB is an organ of state, it follows that the best interest of the learner to be expelled from a hostel due to non-payment of hostel fees should be taken into account. Thus in Head of Department, Department of Education, Free State Province v Welkom High School 2014 4 SA 228 (CC) the court held that both the provincial department and SGB should serve the educational needs of the children involved. A further factor is the courts’ dealings with evictions in terms of the Prevention of Illegal Eviction from and Unlawful Occupation of Land Act (PIE) where children are involved. Thus in the Juma Musjid matter the Constitutional Court held that an eviction order should not be granted if the best interest of the children involved had not been canvassed.

In view of the aforementioned it seems that the expulsion of a boarder due to non-payment of hostel fees in provinces where no explicit legislation exists should not be considered, as the combination of the abovementioned rights will make it practically impossible to evict the learner.

This raises the question as to alternatives available to SGBs to recover outstanding hostel fees or to ensure that funds are available to keep non-paying learners in hostels.

In North-West, the Western Cape and Eastern Cape an SGB may apply to the provincial department for a hostel subsidy to obtain some measure of relief. However, provincial legislation in the other six provinces does not deal with this, meaning that it is not clear how the right to a hostel subsidy referred to in the Norms and standards for school funding would be realised in those provinces. A second alternative is to settle issues of outstanding hostel fees through negotiation between the school and provincial departments of education. However, this alternative is probably doomed, as the law reports contain a number of cases which indicate that there is little goodwill between schools and officials of the various departments of education. This tendency is underlined by judgments like the Welkom High School matter, where the Constitutional Court held that the “overly aggressive communication” between the parties and their losing patience with each other was not in the best interest of the children involved. A third alternative is legal action against the non-paying parent. As with the previous alternatives, this route is fraught with obstacles, with provisions of SASA and provincial legislation allowing legal action only once it has been found that the parent is able (but not willing) to pay and, in the case of North-West, a resolution to approve the school fees has been resolved through a secret ballot. These difficulties with recovery will force schools to consider other options, such as public-private partnerships, utilising the school’s property to raise funds or to obtain indemnity insurance for non-payment.

Finally, the consequences for SGBs that do proceed with expulsions should be considered. The legal position in North-West is explicit and as is evident from the discussion, in the other provinces it would probably also be illegal. Should an SGB thus proceed with expulsion it may find itself at the wrong end of a claim for damages. Although the SASA provides that the state is liable for any damage or loss caused by a public school, it has a right of recovery against the SGB or a member. Furthermore, an SGB cannot plead ignorance as it is the duty of the school principal to inform the SGB about policy and legislation. Secondly, the SGB will most probably be held to have the same duty of care towards learners that is applicable to teachers. This duty is more onerous than merely to act reasonably. Finally, the Supreme Court of Appeal held that “ignorance of the law” is indeed “no excuse” and that a person who engages in a regulated activity (like an SGB) can be expected to keep abreast of the law in that particular field.

In conclusion it is clear that schools and SGBs should appraise themselves of the legality and consequences of the practice of expelling learners due to the non-payment of hostel fees. Thus SGBs should heed the motto: Caveat magister! – Beware before you act, Master!

Keywords: best interest of the child; boarders; expulsion; hostels; public schools; right to basic education

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Caveat magister! Die uitsetting van kosgangers uit koshuise van openbare skole weens onbetaalde koshuisgeld

The post Caveat magister! The expulsion of boarders from public school hostels due to non-payment of hostel fees appeared first on LitNet.

’n Kortetjie (met erkenning) aan PG du Plessis

$
0
0

Dis die sewentigerjare, in NALN. Die twee groot manne, PJ Nienaber en PG du Plessis, gesels. Oor baie dinge praat hulle, want hulle kom ’n lang pad, dié twee: Nadat  PJ Nienaber op 1 Januarie 1970  na die RGN toe is om ’n Instituut vir Taal, Lettere en Kuns in te rig, en sy eie versameling, die Nienaber-versameling nr 21, as basis vir daardie dokumentasiesentrum geskenk het, is PG du Plessis as die eerste direkteur van die instituut aangestel. So saam-saam sit en onthou hulle daardie eerste insamelingsreis, op soek na skatte om die voorraad van die sentrum aan te vul: “’n Sewe-ton-spoorwegtrok was nodig om die duisende manuskripte (holograwe, eerste- en tweedegraadse tikskrifmanuskripte) na Pretoria te neem. Ons het ook baie boeke gekry, Pieter,” onthou prof Nienaber. Skielik leun PG effe vorentoe, die blou oë kry ’n vonkel in hulle. Iets in die gesprek het hom aan hulle vriend  Ernst van Heerden laat dink. Hy vra of Prof nou dink dat hy “so” is? Ja-nee, hulle stem saam. “Maar darem nie praktiserend nie,” sê ons gas, en sit hulle gesprek voort.

Varserig uit die universiteit, steeds dom oor wat “so” sou kon beteken, het ek daardie dag pas ’n moment beleef van gedeelde sentimente tussen leermeester en student. Iewers tussen dié twee was ’n begrip, want hulle het dieselfde liefdes gedeel: die geskiedenis, die Afrikaanse taal (“Ek is baie lief vir die ding,” het Du Plessis aan meer as een joernalis gebieg), en die belangrikheid daarvan dat historiese gebeure, en die nadraai en invloede daarvan, die standhoudende straaltjie water deur geslagte se gang deur die tyd is. “Ons mond”, ’n kortverhaal waarin Pieter Georg (sónder die e, want dis ’n Ingelse verdraaiing) dit oor die spinnerak van die gene het, vang die leser met hierdie openingsin: “In die oggend voor my spieël, my ontbrilde gesig wollerig van bruisroom, skeer ek my oupa Venter se mond oop uit die wit. Elke keer herken ek die plooie wat afloop van die mondhoeke na die weerskante van my ken – die voutjies wat ’n ou Minora safety blade kon vang om ’n bloedstrepie te laat ... Die onder- en bolip is syne, die spierwit in die baard nou ook myne.”

Ek het dit toe nog nie geweet nie, want ek sou nog ’n Du Plessis-leser moes word, maar hy’t dáárdie oggend ook te sê gehad oor prof Nienaber se skeerroomoorblyfsels hier kenlangs. Iewers het die baie menslike klein glipsies sy skrywersoog nooit ontgaan nie.

Toe hy later, ’n jaar of wat voordat hy 50 sou word, voltyds die skryfberoep aanpak, het hy verál meer begin skryf oor die stukkendes hier rondom en baie naby ’n mens. As jy van die lewe iets wil weet, praat soms met driejariges, word daar gesê. Die vertellers in PG du Plessis se  verhale volg hierdie raad dikwels, natuurlik onbepland: dié enetjie wil by hom weet of olifante elmboë het, terwyl Saar met die bruin oë vir kort wyles “moederlike dinge” met die pop Sarina doen terwyl sy ’n steekse inkopietrollie deur die winkelgange help skop. Of hy luister as Samie, “wat skeef uitgekom het”, vir hom sê hy kry ook swaar.

Sy intellektuele en emosionele internskap het hy by mense soos sy ma en pa deurloop, en later by NP Van Wyk Louw, onder wie se leiding en oor wie se werk hy sy doktorsgraad gedoen het. “Omdat ek die man so afgryslik bewonder, is ek altyd so bang ’n mens probeer, onbewus selfs, probeer jy ’n bietjie ‘reflected glory’ optel, jy weet? ... Ek het hom liefgehad. Hy was die grootste mens wat ek ooit teëgekom het.”  Van sy pa het PG die heel eerste roeringe van die denker, of eensame  intellektueel, ervaar. Met hóm kon hy praat oor sy “binnetwyfels”, oor denkers en skrywers soos Milton, Keats, Shelley, Tennyson en Dickens.

En dan kon sy ma, ’n góéie ma, dinge wat sy kwytgeraak het, so goed formuleer. “Ek het nou die dag weer ’n ding gebruik wat sy gesê het. Sy sê ‘Jong, dié’s so hoogmoedig, sy loop met haar stuitjie agter haar nek.’” Van hierdie raaksêdinge van sy ma het baie tuisgekom in Koöperasiestories,  in Mietie se dialoog. Dat hierdie stories steeds ’n lewe van hul eie het, ook op die verhoog, was seker nie in sy beplanning toe dit as Donderdagrubrieke in Die Transvaler, waarvan hy in 1978 die assistentredakteur geword het, geskryf is nie.

Dramas soos Die nag van Legio, Siener in die suburbs, Plaston: DNS-kind, Vereeniging, Vereniging en ’n Seder val in Waterkloof het ikoniese merkers in Du Plessis se oeuvre geword. Maar dis die stories wat hy “tussen die riewe” en uit die koöperasie en die diegens loop haal het wat by ’n mens bly spook lank nadat jy klaar gelees het en die lig afgesit het. Dán eers sien jy die blink steentjies wat gedistilleer is uit ’n vlymskerp brein, ’n oer-Calvinis se vermoë tot selfkennis, en die tollende werklikheid van rondom.

Tydens ’n slypskool van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, wat Du Plessis vir aspirantskrywers in 2010 opgevoer het (want hy had ’n swaar verkoue, en hy’t daardie hele lang Saterdag sy eie drama man-alleen gespeel, en vertel hoe die kuns van storieskryf soms werk), kon ’n mens hom eerstehands beleef: die romanskrywer, die dramaturg, die koerantman en tydskrifredakteur, die onderwyser, die akteur, die boer, die skrynwerker en bouer, die filmmaker, die man wat weet dat potyster nie sweis nie. Hy wou stories maak vir ’n mens wat ’n hart het, en “het probeer om vir die slimmes ook iets in te sit. Ek wil weet wat mense raak ...”

Sy bekende gesprekke saans met Beëllie, veral daar op sy plasie waar hy graag sy sit gesit het, het sy skryfvuurtjies ten goede gestook. Want Beëlsebub Satan kom gewapen, met bekende kollegas van die swartspan: Broedertwis, Wellus, Persoonlike Ambisie, Geweld, die Lieg- en Nydafdeling, en soms ook Juffrou Bellie Shataan. Dan stoot hy sy voete in die vuurtjie in, en drink van die verteller se kookwater, en laat hom, veel veel later, huis in vlug met sy gewete. Sy stories, het PG du Plessis gesê, is “outobiografiese verdigsels”, en “bygelieg”.  Vir ’n man wat óók genoem het dat skryf maar soos hek-maak is, en dat jy deur jou eie skrootwerf loop en jou eie ysters optel, was hierdie verhale sekerlik dikwels flentertjies van die eie werklikheid. Maar die slim man wat hulle geslyp het, het die grens tussen weet, vermoed en wonder netjies uitgevee, saggies, soos met ’n duim oor ’n potloodstreep.

Daar was so baie mense wat die werklike voorreg gehad het om hom goed te kon ken: sy gesin, familie, vriende, beroepsmense. Vir ons ander sal hy die skrywer moet bly wat ons ook net liefhet (sonder om nou “soppy” te raak, soos hy nie oor Van Wyk Louw wou nie). Wat hy tot stand gebring het, is groter as die gene, en sal aanloop met die geskiedenis van die Afrikaanse woord.

“Ek smous met my groot bek voor die wêreld en baie mense dink ek is arrogant. Maar dis net een van baie maskers. Selfs al lag ek vir myself, is dit ’n verdedigingsmeganisme. Niemand lag vir homself nie, behalwe miskien soms so ’n hol lag as jy met ’n fiets geval het en dink iemand kyk vir jou. In my agterhart is ek eintlik ’n half hartseer mens. Want niks is permanent nie. As jy eers die ingeboude kortstondigheid van skoonheid verstaan, verstaan jy aansienlik meer van die letterkunde en die sin van die lewe. Dan skree jy baie minder teen die gode.”

(Aanhalings uit verskeie bronne in NALN se navorsingsversameling)

The post ’n Kortetjie (met erkenning) aan PG du Plessis appeared first on LitNet.

Tyd vir ’n openlike gesprek oor vreemdheid en die ander

$
0
0

Bernard Lategan reageer op Johan Lemmer se kommentaar by Lategan se LitNet Akademies-artikel: "Vreemdheid as geleentheid. Enkele gedagtes oor die hermeneutiese potensiaal van ’n ongemaklike begrip".

Johan Lemmer lewer twee waardevolle punte van kritiek onderaan my artikel1 waarop ek graag wil reageer om moontlike misverstand uit die weg te ruim, maar ook om die gesprek oor vreemdheid verder te probeer voer.

Wat sy eerste opmerking betref: hy is reg dat ’n term soos onvolledigheid vatbaar vir verskillende interpretasies is – meer nog, dat dit die onderrok kan wees van metateoretiese voorveronderstellings (soos hy dit noem) wat hier uitsteek. Voor ons daarby kom, is dit interessant om te sien hoe die onmiddellike assosiasies wat een en dieselfde woord oproep, van mens tot mens kan verskil. Dit het aan die een kant te doen met die veelduidigheid van die woord self, maar aan die ander kant met hoe die individuele leser “gerat” is deur sy/haar agtergrond, sosialisering en persoonlike ervarings.

Onvolledigheid kan inderdaad verskillende assosiasies in mens wakker maak. Soos Johan tereg aandui, kan dit in verband gebring word met die “gebrokenheid van die wêreld”, met die oortuiging dat ons “in sonde ontvang en gebore en daarom geneig is tot alle kwaad”. Hierdie stellings vorm deel van ’n heel bepaalde metateoretiese raamwerk – in hierdie geval van ’n teologiese leerstuk, naamlik die sondeleer. Dit berus op ’n reeks teologiese voorveronderstellings wat aspekte insluit soos die sondeval, die erfsonde, die verlorenheid en inherente boosheid van die mens, die vraag na die oorsprong van die kwaad, die behoefte aan verlossing en die koms van ’n “nuwe hemel en ’n nuwe aarde”.

Johan verwys ook na ’n tweede moontlike matriks waarvan onvolledigheid deel kan vorm – ’n ander spinnerak waar die aanraak van een draadjie die hele net in beweging bring. Dit is ’n metateoretiese raamwerk wat breedweg as ’n teleologiese2 denkwyse beskryf kan word. Dit kom in sowel sekulêre as teologiese vorm voor. ’n Bekende verteenwoordiger van eersgenoemde is Ernst Bloch (Das Prinzip Hoffnung) en van laasgenoemde Jürgen Moltmann (Theologie der Hoffnung). Die basiese gedagte is dié van ontwikkeling, van ’n voortstuwende en onstuitbare proses wat op ’n einddoel afstuur. Dit is toekomsgerigte denke en in toegespitste vorm selfs “denke vanuit die einde”, dit wil sê die verwagte toekoms beïnvloed die hede en hoe mens in die hede behoort op te tree. Die mens is onderweg en kom eers aan die einde tot volle ontplooiing. Tog is die saak nie so eenvoudig nie – mens kan verskillende verwagtings van die toekoms hê en elkeen hiervan het ’n invloed op hoe mens die hede benader. ’n Pessimistiese ingesteldheid verwag niks goeds van wat nog voorlê nie en lei waarskynlik tot fatalisme. ’n Utopiese siening verwag ’n paradys aan die einde en byt daarom op die tande om die hede intussen te verduur. ’n Apokaliptiese houding is nog meer radikaal: aan hierdie wêreld is daar geen salf meer te smeer nie en dit moet totaal vernietig word om plek te maak vir die nuwe hemel en die nuwe aarde. ’n Voluit teleologiese verwagting glo dat alles op ’n voorafbepaalde einddoel afstuur en dat alles – voor- en teëspoed – ten goede meewerk (vgl Lategan 2010:151–7).

Die idee van onvoltooidheid wat in die artikel oor vreemdheid aan die orde gestel is, het egter nie sy wortels in enige van bogenoemde twee gedagterigtings nie. Laat ek probeer om beter te verduidelik watter “metateoretiese voorveronderstellings” hier ter sprake is. Dit word uit hoofsaaklik drie bronne gevoed.

Eerstens die konsep van incompleteness wat deur die sosiale antropoloog Francis Nyamnjoh in verskeie van sy publikasies ontwikkel is.3 Met incompleteness bedoel hy die diepe besef van die nie-isoleerbaarheid van ons bestaan, “that no man is an island”, dat ons onvermydelik op mekaar aangewese is. Dit is nie slegs ’n kognitiewe waarneming nie, maar ’n eksistensiële uitgangspunt wat ons verstaan van die werklikheid en wat ons gedrag beïnvloed, en wat uiteindelik etiese implikasies inhou. Vir Nyamnjoh lei die besef van onvolledigheid tot ’n praktyk van conviviality, dit wil sê die kuns van saamleef in die volle sin van die woord. Dit gaan hier om ’n ingesteldheid waarin wedersydse verbintenisse, onderlinge verhoudinge, interafhanklikheid, samewerking en meelewing benadruk word.4 Daarmee kom mens dig in die buurt van die solidariteit en onderlinge afhanklikheid wat ook deur ’n begrip soos ubuntu uitgedruk word (“ek is ’n mens deur mense”). Hierdie woord is egter al só belas en oorgebruik en vir allerlei misverstand vatbaar dat mens dit liefs vermy. Anders as wat Lemmer vermoed, was die gebruik van die woord in die artikel nie ’n (bedekte) poging om die bereiking van “volledigheid” as einddoel voor te hou nie, maar eerder om alternatiewe en aanvullende maniere van beïnvloeding te vind in plaas van die gangbare praktyke van dwang en geweld.5       

Tweedens hou die begrip onvolledigheid verband met insigte wat deur kompleksiteitsteorie6 na vore gebring is. Marturana (1975) toon aan hoe lewende sisteme die merkwaardige vermoë het om hulself voortdurend te vernuwe deur ’n hele netwerk van aaneengeskakelde prosesse wat die heeltyd plaasvind (outopoiesis). Trouens, as die proses van selfvernuwing sou stop, beteken dit terselfdertyd die einde van die sisteem en dus van lewe. Binne hierdie omvattende proses kan subsisteme (soos byvoorbeeld die senustelsel) feitlik as ’n geslote sisteem funksioneer. Die “outonomie” van hierdie subsisteem is egter relatief, omdat lewende organismes altyd in ’n wyer omgewing ingebed is, wat op sy beurt die funksionering van die organisme beïnvloed. Soos die proses van selfvernuwing voortgaan, vind daar verskuiwinge in die sisteem self plaas as gevolg van die wisselwerking tussen impulse van “binne” en “buite” en die aanhoudende proses van terugvoering. Om hierdie rede word die vasstelling van die grense wat een sisteem van die ander skei ’n belangrike kwessie (vgl Mingers 2014:65–110). Trouens, ’n sisteem word gekonstitueer eers wanneer die grens(e) daarvan bepaal word.7 Soos in die artikel reeds beklemtoon is, is hierdie grense egter altyd relatief of “poreus” in die sin dat dit sowel inkomende invloede as uitgaande impulse toelaat.

Die belangrike punt vir ons doel is dat hoewel lewende organismes skynbaar as geslote sisteme funksioneer en hulle ’n herkenbare “identiteit” in die proses behou, hulle terselfdertyd aan ’n proses van selfvernuwing en verandering onderworpe is. Hul geslotenheid is dus nooit absoluut nie.8 Trouens, die proses van selfvernuwing is sonder eksterne invloede nie moontlik nie.

Die derde invloed het ook te doen met sisteme en netwerke, maar kom uit ’n heel ander hoek. In sy ontleding van die “sosiologie” van die netwerksamelewing het Manuel Castells (1996) aangetoon dat die wêreld van digitale kommunikasie sy eie kenmerke en wetmatighede vertoon. Hierdie “netwerkrealiteit” lê dwarsoor die “fisiese” werklikheid soos ons dit ken en volg sy eie logika. Hier geld die beperkinge van afstand en tydsverskille wat die “werklike” wêreld kenmerk, nie meer nie. Verder vind ’n duidelike magsverskuiwing plaas – byvoorbeeld weg van die groot sentra van die wêreld na onwaarskynlike plekke soos Silicon Valley, São Paulo, Barcelona of Djakarta en potensieel na enige node in die netwerk. Nie alleen bring dit ’n massiewe “demokratisering” van magsverhoudinge mee nie, maar dit gee aanleiding tot die desentrering van tradisionele punte van beheer. In beginsel kan enige punt ’n belangrike node word en terselfdertyd kan met enige ander punt in die netwerk geskakel word. Dit is ’n radikaal “oop” sisteem, onvoltooid en steeds vatbaar vir nuwe verbintenisse en invloede.

In die artikel gaan dit oor die “onvoltooide” aard van menswees. Dit is natuurlik onsinnig om die drie terreine wat hier bo genoem is, direk van toepassing te maak op menslike verhoudinge. Nogtans bring hulle idees, voorstellings en insigte na vore wat ons sou kon help om anders oor die mens en die samelewing te dink en ons verstek-ingesteldheid teenoor die vreemde en die ander te heroorweeg. Daar is geen manier waarop ons ons teen eksterne invloede kan verskans nie. Trouens, sonder hierdie impulse kan die proses van lewe en groei nie volgehou word nie. Dit beteken ook nie dat die self en die eie identiteit deur hierdie proses opgelos word nie. Die doel van outopoiesis is juis die voortgaande vernuwing van die self – mits ons verstaan dat hierdie voortbestaan nie op isolasie of verskansing kan berus nie, maar op die aktiewe wisselwerking met die vreemde en die ander. Ons kan nie uit ons eie vel klim en ons eie gewordenheid eensklaps vir ’n ander verruil nie. Maar ons is (gelukkig!) ook nie tot onsself beperk nie. Verder word ook duidelik op watter wyse die desentrering van die self bereik kan word.

Dit bring ons by die belangrike punt van keuse en van (morele) verantwoordelikheid. Soos reeds in die artikel beklemtoon is, is nie alle invloede van buite (of van binne) per definisie goed (of sleg) nie. Baie kan sekerlik skadelik vir die “self” wees. In hierdie opsig verskil ons as denkende mense van organismes wat skynbaar “outomaties” op impulse reageer (hoewel ons eie liggame baie van hierdie soort reaksies huisves). Solank daar egter ’n keuse is, bly die verantwoordelikheid om oor die voordele en nadele van sowel die bekende as die vreemde te besluit.

Tweedens maak Johan beswaar dat ek die vreemde en die ander as die enigste vertrekpunt neem – dit terwyl die self of die interaksie tussen die self en die ander ook geldige alternatiewe vertrekpunte is.

Laat ek daarom prontuit erken: my stuk is moedswillig eensydig. Die rede hiervoor is dat in die gesprek oor hierdie tema die perspektief van die ander en die vreemde selde, indien ooit, as vertrekpunt geneem word. Soos ek probeer aantoon het, vloei die denke (en die handeling) in die meeste gevalle in een rigting: van die self na die ander en nie omgekeerd nie. Dat dit so is, is nie vreemd nie, maar my hele poging was om hierdie verwaarlooste gesigspunt aan die orde te stel en vir een keer die implikasies wat volg en die moontlikhede wat oopgaan as die vreemde en die ander as uitgangspunt geneem word, konsekwent te deurdink.

Met dit gesê, stem ek volmondig met hom saam: al drie vertrekpunte (die Self, die Ander en Ons) is, soos hy dit stel, “afwisselend onontbeerlik noodsaaklik”.

Sy opmerking bring egter ook ’n ander belangrike punt na vore wat in al hierdie gesprekke ’n rol speel, naamlik die onmoontlikheid om ten volle van die subjektiwiteit van al ons waarnemings en uitsprake te ontsnap. Die distansiëring van onsself is altyd relatief, ten dele en tydsgebonde. Soos Johan sê, kan geen waarneming op enige ander plek plaasvind as by die self nie en ons waarneming van die ander en van ons interaksie met die ander is maar net tot ’n sekere punt wetenskaplik “objektief”.

Hierdie basiese beperking is reeds deur Marturana (1988:27) vasgevang in sy beroemde stelling: “Everything that is said is said by an observer to another observer who may be him or herself.”

Ons kan eenvoudig nie oor ons eie skaduwee spring nie – en dit is iets waarmee ons vir lief sal moet neem. Nogtans is dit ’n nuttige strategie waarmee ons vir ’n wyle afstand kan (probeer) neem en sake so objektief moontlik beskou voordat ons onvermydelik weer subjektief betrokke raak. Ricoeur het in hierdie verband duidelik gemaak hoe hierdie dialektiese afwisseling tussen die “statiese” (objektiewe) en die “dinamiese” (subjektiewe) bydra om kommunikasie te bevorder. Die “lewende” kommunikasiegebeure vind neerslag in die “statiese” vorm van ’n teks. Die statiese sin van die teks wys op sy beurt na die lewende verwysing daarvan. Die leser of ontvanger moet deur ’n statiese proses van ontleding en verklaring hierdie verwysing weer tot die lewende gebeure van verstaan bring. Hierdie opeenvolgende afwisseling van statiese en dinamiese momente vorm die kernelemente van die sogenaamde “verstaanspiraal” (vgl Lategan 2009:79–82). “Objektief” en “subjektief” bly dus altyd relatief vanuit watter perspektief mens dit ook bekyk, maar bied nogtans nuttige onderskeidings of vastrapplekke in die proses van verstaan.

Die artikel is geskryf in ’n tyd waarin ons op twee vlakke sukkel met vreemdheid en andersheid: interne samehorigheid tussen Suid-Afrikaners onderling en eksterne vreemdelinghaat. Ten spyte van talle goedbedoelde pogings die afgelope twee dekades vorder die proses van nasiebou maar traag. Die nie-aanvaarding van die ander lê nog baie vlak onder die oppervlak en gee met elke verdagte insident of twiet aanleiding tot nuwe uitbarstings van onverdraagsaamheid, haatspraak en verwyte van rassisme . En dis nie net ’n wit-swart-ding nie. Die ergste vorme van vreemdelinghaat word juis teen medeburgers uit ander Afrika-lande gerig. (Dieselfde probleme wat met migrasie in Europa, die VSA en ander dele van die wêreld gepaard gaan.)

Hierdie voortslepende onvermoë om op sowel interne as eksterne vlak tot groter menslike solidariteit te kom, het ten diepste te doen met ons ingebore of aangeleerde afkeer, argwaan of vrees vir die vreemde – die vreemde in ons, maar ook buite ons.9 My pleidooi is dat ons hierdie natuurlike neiging wat ons almal maar te goed ken, eerlik in die oë sal kyk en openlik met mekaar daaroor sal praat. Met alles wat nou in die land gebeur, is die tyd ryp daarvoor. Ons is dit aan mekaar verskuldig, want alleen kan ons dit nie doen nie – ons moet mekaar se vreemde en mekaar se bekende word. Dan eers kan wat vreemd en anders is, die katalisator word vir ons eie bevryding en verruiming.

 

Bibliografie

Castells, M. 1996. The rise of the network society. Cambridge, Oxford: Blackwell.

Chu, D, R Strand en R Fjelland 2003. Theories of complexity. Common denominators of complex systems. Complexity, 8(3):19–29.

Maturana, H. 1975. The organization of the living: A theory of the living organization. International Journal of Man-Machine Studies, 7:313–32.

— 1988. Reality: In search for objectivity or the quest for a compelling argument. The Irish Journal of Psychology, 9(1):25–82.

Mingers, J. 2014. Systems thinking, critical realism and philosophy: A confluence of ideas. Londen en New York: Routledge.

Nyamnjoh, F. 2016. #Rhodes must fall. Nibbling at resilient colonialism in South Africa. Bamenda Kameroen: Langaa Research & Publishing.

—. 2017a. Incompleteness: Frontier Africans and the currency of conviviality. Journal of Asian and African Studies, 52(3):253–70.

— 2017b. Drinking from the cosmic gourd. How Amos Tutuola can change our minds. Bamenda Kameroen: Langaa Research & Publishing.

Simmel, G. 1950. The Stranger, in Wolff (1950).

Wolff, K. 1950. The Sociology of Georg Simmel. New York: Free Press.

 

Eindnotas

1  A. Dat die "onvolledigheid” van die mens ’n metateoretiese voorveronderstelling by Lategan is wat baie klink soos "in sonde ontvang en gebore" en "op pad na ’n eindbestemming".
B. Dat Lategan se alternatiewe vertrekpunt vanaf die Ander (Vreemde) nie genoegsaam is nie. Wanneer ’n mens egter die Self en die Ander as gelykwaardighede beskou wat in ’n bipolêre spanningseenheid met mekaar in interaksie is, is daar afwisselend voortdurend drie vertrekpunte noodsaaklik, nl:

1. Die Self (geen waarneming kan enige ander plek geskied as by die Self nie). Hier bestudeer die Self die Self sover moontlik wetenskaplik "objektief".
2. Die Ander (Vreemde). Hier bestudeer die Self die Ander (Vreemde) sover moontlik wetenskaplik "objektief".
3. Die Interaksie (Ons). Hier bestudeer die Self die gemeenskaplike Ons sover moontlik wetenskaplik "objektief".

Al drie vertrekpunte is afwisselend onontbeerlik noodsaaklik.
Lategan kies die Ander (Vreemde) as (enigste?) vertrekpunt.

2 ’n Gerigtheid op die einde (telos).

3 Vgl bv. Nyamnjoh 2016; 2017a; 2017b.

4 Dit gaan hier oor “an approach to social action in which interconnections, interrelationships, interdependence, collaboration, coproduction and compassion are emphasized” (Nyamnjoh 2017a:260).

5 “Conviviality” onder mense word nie bedoel as “a ploy to becoming complete, but to make them more efficacious in their relationships and society. Frontier Africans and conviviality suggest alternative and complementary modes of influence over and above the current predominant mode of coercive violence and control” (Nyamnjoh 2017a:253).

6 ’n Belangrike plaaslike verteenwoordiger van hierdie snel-ontwikkelende veld was Paul Cilliers, wat saam met Jannie Hofmeyr en Rika Preiser die Sentrum vir Kompleksiteit op Stellenbosch begin het (sedertdien herdoop tot Centre for Complex Systems in Transition). Paul het ook ’n interdissiplinêre gespreksgroep op die been gebring wat ná sy voortydige dood deur Jannie en Rika voortgesit is en wat onder andere op die organisasie van lewende sisteme gefokus het aan die hand van die werk van baanbrekers soos Marturana, Valera en Chu.

7 “[I]n order to define a system it is necessary to define its boundary. Thus the drawing of a boundary is in fact the most primitive systemic act that one can perform” (Mingers 2014:65).

8 Chu, Strand en Fjelland (2003) praat in hierdie verband van die “radical openness” van komplekse sisteme en wys hoedat hierdie openheid saamhang met die feit dat sulke sisteme op hul beurt ingebed is in nog groter sisteme (kontekstualiteit). Hulle illustreer hoe die wedersydse beïnvloeding van “interne” en “eksterne” faktore plaasvind aan die hand van wat met die visbevolking in die Victoria-meer gebeur het. Hierdie meer (die wêreld se tweede grootste varswatermeer) was aanvanklik ryk aan inheemse vis wat as ’n belangrike voedselbron vir die plaaslike bevolking gedien het. Dit was egter nie baie geskik vir kommersiële ontginning nie. Gevolglik is nylbaars (lates niloticus) in die meer losgelaat, wat as roofvis gou die inheemse visbevolking feitlik uitgeroei het. Toe hierdie voedselbron afneem, het die nylbaars egter aanhou floreer omdat ander bronne, soos krewels, die leemte gevul het, terwyl sommige inheemse soorte ook by die nuwe omstandighede aangepas het. Die omliggende bevolking kon egter nie die duurder nylbaars bekostig nie (wat meestal uitgevoer is) en is gevolglik van ’n belangrike proteïenbron ontneem. Interne sowel as eksterne biologiese, ekonomiese en sosiale faktore het in hierdie geval dus meegewerk om ’n omvattende ekologiese verskuiwing te veroorsaak.

9 Vgl Georg Simmel (1950).

The post Tyd vir ’n openlike gesprek oor vreemdheid en die ander appeared first on LitNet.

Op die spoor van, saamgestel deur Rudie van Rensburg: ’n resensie

$
0
0

Op die spoor van
Saamgestel deur Rudie van Rensburg
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082583

Een van die belangrikste ontwikkelings in die Afrikaanse boekwêreld die afgelope dekade of wat is die geweldige opbloei van die speurverhaal. Dus het dit net ’n flinke uitgewer gekos om die gaping raak te sien vir ’n bundel kortverhale in dié genre. Die oudkoerantman Rudie van Rensburg was ’n goeie keuse as samesteller, aangesien hy self een van ons voorste speurverhaalskrywers is.

Volgens die voorwoord lê die fokus van die verhale by die uitpluis van ’n misdaad en die spoor wat gevolg word om die skuldige vas te trek (of nie). ’n Versamelbundel het altyd ’n storie, en ’n mens sou tog graag wou weet hoe hierdie spesifieke versameling gekies is – of die skrywers spesifiek gevra is om ’n verhaal te skryf, en ook of daar ’n groter aanbod was as net hierdie keur van veertien verhale. Hoe ook al, die bundel bied ’n heerlike kaleidoskoop van stories, met goeie afwisseling in tema en skryfstyl.

In die meeste van die verhale speel ’n speurder die hoofrol, wat seker bevestig dat die dun blou lyn ons grootste toeverlaat teen misdadigers bly, maak nie saak hoe onbeholpe of korrup dit soms daaraan toe gaan nie. Van onbeholpe gepraat, Rudie van Rensburg se komiese verhaal “Hond se gedagte” handel oor die sukkelende pogings van so ’n speurder (met die ongelukkige naam Fanus Fokker), met ’n openingsin wat volpunte verdien: “Debra Dicks is vermoor.” 

Martin Steyn, alom bekend vir sy speurromans, het hom met die afgelope twee Woordfeesbundels bewys as ’n bedrewe kortverhaalskrywer. Hy lewer hier ’n aangrypende verhaal, “Sprokie vir ’n Plain-kind”, met ’n gesublimeerde pa-seun-verhouding en ’n slot wat jou tref soos ’n hou in die maag. Deborah Steinmair, eweneens bekend vir haar romans en ook met puik bydraes tot die Woordfeesbundels, se verhaal “Die nebbish” getuig van haar tipies aweregse benadering met ’n amateurspeurder vir wie “die DNS-dobbelstene nie so lekker geval het nie” – overgeset synde, hy is dom.

Nog ’n speurderstorie (en my gunsteling in die bundel) is Tertius Kapp se “Bon voyage” – kaptein Dino de Wet en sy kollega Vincent Weyers verdien sommer ’n hele boek van hul eie.

Die rubriekskrywer Johan Jack Smith sorg met “Die Goudveld-mamba” vir ’n onthoubare verhaal wat wys dat ’n breë algemene kennis vir ’n speurder net so waardevol is as vir ’n teksredakteur. Karin Brynard, nog een van ons gewikste speurskrywers, se bydrae is “Begrafnis vir ’n ongelowige”, ’n verhaal wat nes haar treffer Onse Vaders in ’n rykmansbuurt op Stellenbosch afspeel, kompleet met kolonel Vuvu Quebeka as die kookwaterspeurder.

“Norooz” deur Bettina Wyngaard, met ’n Koerdiese vryheidsvegter en ’n Interpolagent as speurspan, het ’n besonder interessante agtergrond en ’n puik slot, maar die begin word bederf deur onnoukeurige fokalisering – ek moes die eerste bladsy nog ’n keer lees om die twee karakters in dialoog van mekaar te onderskei.

Interessant genoeg handel twee van die verhale oor broers: Zirk van den Berg se uitstekende “Braaiboet” en Francois Smith se “Portapool”. Laasgenoemde is ’n fyn, gedetailleerde verhaal, maar ly aan ’n te obskure slot – in die sin van Abraham H de Vries se definisie dat die slot ook ’n sleutel moet wees wat die verhaal oopsluit.

Henry Jack Cloete se oorspronklike en grieselige “Die vlieg in die salf”, Frederick J Botha se “Vryheid” en Carien Smith se “Verslag oor ’n ring” verteenwoordig die jonger garde met verhale waarin kommunikasietegnologie en sosiale media ’n sentrale rol speel. Botha en Smith het al twee gedebuteer in die Nuwe Stories-bundels en is jong skrywers om dop te hou.

Nathan Trantraal is nie net ’n uitstaande digter en rubriekskrywer nie, maar bewys hom hier ook as kortverhaalskrywer met “Winston”. Die verhaal is ’n herbesoek aan die vroeë 1990’s en gee ’n binneblik op die skrikbewind van Mitchells Plain se stasiemoordenaar.

Die bundel sluit met “Die geval van die onsigbare moordenaar” deur Kerneels Breytenbach, ’n lekker komplekse verhaal deur ’n ervare persoon in die skryfbedryf.

Op die spoor van is nommerpas vir speurstorievrate, maar behoort ook in die smaak te val van alle liefhebbers van die kortverhaal.

Foto van Rudie van Rensburg: Brenda Veldtman

The post Op die spoor van, saamgestel deur Rudie van Rensburg: ’n resensie appeared first on LitNet.

Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte

$
0
0

Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte
(9 maande kontrakaanstelling)

Die Afrikaanse Taalmuseum en-monument (ATM) nooi hiermee geskikte kandidate uit om aansoek te doen om die pos as Kommunikasiebeampte. Aanstellingsdatum: 3 Julie 2017

Vereistes:

  • ’n Nagraadse kwalifikasie in Afrikaans en/of Joernalistiek
  • Uitstekende taalvaardigheid in Afrikaans en Engels
  • Ervaring in skakelwerk, bemarking en sosiale media
  • Ervaring in taalversorging, redigering en vertaling
  • Kennis van basiese grafiese ontwerp en webwerfredigering
  • Kontakbare verwysings

Verantwoordelikhede:

  • Uitvoer van die skakelbestuurplan in oorleg met die Direkteur
  • Skakeling met die media en relevante kundiges
  • Hantering van medianavrae
  • Bemarking van die ATM se aktiwiteite en geleenthede deur onder andere: Die skryf, vertaling en verspreiding van mediavrystellings; die plaas van kennisgewings, foto’s en advertensies in die media, die opdatering van die ATM se webwerf en sosiale mediaplatforms; die ontwerp/uitleg en verspreiding van advertensies, brosjures en inligtingstukke
  • Samestelling van aansoeke om befondsing  
  • Taalversorging van amptelike dokumente

Sluitingsdatum: 23 Junie 2017
Stuur u aansoek aan: Die Direkteur, ATM, Posbus 498, Paarl 7620
Navrae:
Michelle Visagie by 021 872 3441
Indien u na ’n maand geen terugvoering ontvang nie, was u aansoek onsuksesvol.


Vacancy: Communications officer
(9 months contract appointment)

The Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) invites suitable candidates to apply for the position as Communications Officer. Appointment date: 3 July 2017

Requirements:

  • A postgraduate qualification in Afrikaans and/or Journalism
  • Excellent language skills in Afrikaans and English •
  • Experience in public relations, marketing and social media
  • Experience in language editing, proofreading and translation
  • Knowledge of basic graphic design and website editing
  • Contactable references

Responsibilities:

  • Execution of the public relations management plan in conjunction with the Director
  • Liaising with the media and relevant specialists
  • Handling media enquiries
  • Marketing of the ATM’s activities and events, including the writing, translation and distribution of media releases; the placement of notices, photos and advertisements in the media; the updating of the ATM’s website and social media platforms; and the design/layout and distribution of advertisements, brochures and information documents
  • Compiling funding/sponsorship applications
  • Language editing of official documents

Closing date: 23 June 2017
Applications must be sent to:  The Director, ATM, PO Box 498, Paarl 7620
Enquiries: Michelle Visagie at tel 021 872 3441. 
If no feedback is received after one month, application was unsuccessful.

The post Pos beskikbaar: Kommunikasiebeampte appeared first on LitNet.


Gespierde Afrikaans

$
0
0

Konklusie of gevolgtrekking? Kontradiksie of teenstrydigheid?

LitNet Akademies wil navorsers graag help om meer gespierde Afrikaans te skryf.

Links is woorde wat dikwels in voorleggings voorkom. Regs is ander voorstelle.

Help ons om hierdie lys uit te brei deur voorstelle te e-pos aan akademies@litnet.co.za. Ons sal sinvolle voorstelle plaas.

Alfabetiese lys van voorstelle

ABCDEFGHIJKL
MNOPQRSTUVWYZ 

A

aanspreek

die hoof bied, hanteer

Lariza Hoffman

 

addisioneel

bykomend, toegevoeg, aanvullend

Helena Liebenberg

 

adekwaat

toereikend, genoegsaam

 

 

admireer

bewonder

Helena Liebenberg

 

agenda

sakelys

Helena Liebenberg

 

agter dit

daaragter

Henk Boshoff

 

akkommodasie

verblyf

Jo-Ansie van Wyk

 

akkommodeer

insluit, aanpas

Jo-Ansie van Wyk

 

aktiveer

ontketen, veroorsaak, sit aan die gang, gee aanleiding tot

Henk Boshoff

 

allokasie

toewysing, toedeling

 

 

analiseer

ontleed

 

 

analiseer, analise

ontleed, ontleding

 

 

area

gebied, oppervlakte (in tegniese verband)

Pieter GR de Villiers, Stephan Oberholzer

 

arriveer

aankom, aanland, opdaag

Henk Boshoff

 

assumpsie

aanname

 

 

attent maak op

aandag vestig op

Henk Boshoff

 

 

 

B

bepunt

beoordeel

Wessel Pienaar

 

 

 

C

 

 

 

 

 

 

D

destruktief

vernietigend

Pieter GR de Villiers

 

detail

besonderhede

Helena Liebenberg

 

determinasie

vasbeslotenheid

 

 

deur dit

daardeur

Henk Boshoff

 

devalueer

geringskat, in waarde verminder/verlaag

Lariza Hoffman

 

difterie

witseerkeel

Helena Liebenberg

 

diftong

tweeklank

Helena Liebenberg

 

diskussie

gesprek(voering)

 

 

diskussie

bespreking, gedagtewisseling

Helena Liebenberg

 

distribusie

verspreiding

Helena Liebenberg

 

dispuut

geskil

Naas Steenkamp

 

diverse

uiteenlopende

 

 

domineer, dominasie

oorheers, oorheersing

 

 

 

 

E

ekonomiese indikator(e)

ekonomiese aanwyser(s)

Wessel Pienaar

 

eksisteer, eksistensie

bestaan

 

 

eksploreer

verken

 

 

ekstraordinêr

buitengewoon

Helena Liebenberg

 

ekwator

ewenaar

Helena Liebenberg

 

eleksie

verkiesing

Christo Viljoen

 

 

 

F

fenomeen

verskynsel

 

 

fokus

klem, aandag

Jo-Ansie van Wyk

 

forseer

dwing

Pieter GR de Villiers

 

 

 

G

geassosieer met

verwant aan

Pieter GR de Villiers

 

[monoloog] geëindig

afgesluit

Suzette Kotzé-Myburgh

 

gekompliseerd

ingewikkeld

 

 

[die dak] geskaal

na die dak opgeklim

Suzette Kotzé-Myburgh

 

gholfprospekte

gholfvooruitsigte

Suzette Kotzé-Myburgh

 

globaal

wêreldwyd

Christo Viljoen

 

 

 

H

herbivoor

grasvreter/graseter

Helena Liebenberg

 

histories, historikus

geskiedkundig, geskiedkundige

 

 

 

 

I

identifiseer

uitwys

Pieter GR de Villiers

 

implementeer

toepas, in werking stel, uitvoer, ten uitvoer bring

Christo Viljoen

 

indikasie

aanduiding

Helena Liebenberg

 

industrie

nywerheid, bedryf

Helena Liebeneberg

 

informeer, misinformeer

inlig, waninlig

 

 

informasie

inligting

Helena Liebenberg

 

in lyn met

in ooreenstemming met

Annemarie van Zyl

 

innoveer, innovasie, innoverend

vernuwe, vernuwing, vernuwend

 

 

insidensie

voorkoms

Wessel Pienaar

 

institusie

instelling

 

 

interpreteer

vertolk

 

 

intervensie

ingreep, ingryping

 

 

invensie, inventief

uitvinding/vonds, vindingryk/vernuftig

 

 

isolasie

afsondering

Pieter GR de Villiers

 

 

 

J

 

 

 

 

 

 

K

karnivoor

vleisvreter/vleiseter

Helena Liebenberg

 

kategorie

soort, groep

Pieter GR de Villiers

 

klandestien

ondergronds, ongesiens

Philip Calitz

 

kompakteer

saampers

Henk Boshoff

 

kompeteer, kompeterend

meeding, mededingend

 

 

kompetensie

vermoë

Pieter GR de Villiers

 

konfidensieel

vertroulik

Sarita Friguglietti-de Vaal

 

konflikterend

strydig

Jo-Ansie van Wyk

 

konklusie

gevolgtrekking

Jo-Ansie van Wyk

 

konspirerend

sameswerend

Suzette Kotzé-Myburgh

 

konstruktief

opbouend

 

 

konsulteer

raadpleeg

Christo Viljoen

 

konsultasie

raadpleging, beraadslaging

 

 

konsumpsie

verbruik

Christo Viljoen

 

konstateer

stel

Pieter GR de Villiers

 

konstitusie

grondwet

Helena Liebenberg

 

kontemporêr

eietyds

 

 

kontinent

vasteland

Helena Liebenberg

 

kontradiksie

weerspreking, teenstrydigheid

Jo-Ansie van Wyk

 

kontribusie

bydrae

Jo-Ansie van Wyk

 

kontroversie, kontroversieel

twispunt/geskil, aanvegbaar/omstrede

 

 

kriterium

maatstaf

 

 

kwaliteit

gehalte

Helena Liebenberg

 

 

 

L

landelik

plattelands

Jo-Ansie van Wyk

 

landelike gebied

platteland

Jo-Ansie van Wyk

 

langs dit

daarlangs

Henk Boshoff

 

LED (Light Emitting Diode)

GD of glimdiode

Stephan Oberholzer

 

lewendig (live)

regstreeks (uitsaai) of regstreekse uitsending

Jeanetta Clifford

 

lokaal

plaaslik

Helena Liebenberg

 

lompsom

enkelbedrag

Naas Steenkamp

 

 

 

M

meerkeusige vraag

meerkeusevraag

Wessel Pienaar

 

meriete

verdienste

Wessel Pienaar

 

met dit

daarmee

Henk Boshoff

 

 

 

N

nosie

motief, begrip

Pieter GR de Villiers

 

 

 

O

offisieel

amptelik

Suzette Kotzé-Myburgh

 

omnivoor

allesvreter/alleseter

Helena Liebenberg

 

onder dit

daaronder

Henk Boshoff

 

ongereserveerd

sonder voorbehoud

 

 

oor dit

daaroor

Henk Boshoff

 

opinie

mening

 

 

outeur

skrywer

 

 

 

 

P

periferie

rand

 

 

perpetueer

herhaal, voortduur

Jo-Ansie van Wyk

 

posisioneer

plaas, plasing, vestig

Jo-Ansie van Wyk

 

predator

roofdier

Helena Liebenberg

 

prolifereer

vermenigvuldig, vermeerder

Henk Boshoff

 

 

 

Q

 

 

 

 

 

 

R

realiteit

werklikheid

 

 

reflekteer

i) besin, nadink, oordink, dink
 ii) weerkaats, weerspieël

 

 

reformasie

hervorming

Helena Liebenberg

 

regionalisties

van die omgewing, plaaslik, streeksverband, streeksgebonde

Philip Calitz, Jo-Ansie van Wyk

 

regressie

agteruitgang

 

 

rekommendasie

aanbeveling

Jo-Ansie van Wyk

 

relatief

betreklik

Naas Steenkamp

 

relevant, relevansie

ter sake, tersaaklikheid, toepaslik(heid)

 

 

resente

onlangse

 

 

respekteer

eerbiedig

Pieter GR de Villiers

 

retrospektief

terugskouend

 

 

 

 

S

sensitief

gevoelig

Pieter GR de Villiers

 

sisteem, sistematies

stelsel, stelselmatig

 

 

siteer, sitering

aanhaal, aanhaling

 

 

situeer

plaas

 

 

stamper

buffer

Christo Viljoen

 

suggestie

voorstel

Helena Liebenberg

 

suspisie

vermoede

Christo Viljoen

 

 

 

T

tegnikaliteit

tegniese punt

Suzette Kotzé-Myburgh

 

tendensie

geneigdheid

Suzette Kotzé-Myburgh

 

tensie

spanning

Suzette Kotzé-Myburgh

 

tipeer

beskryf

Pieter GR de Villiers

 

tipies

kenmerkend

Pieter GR de Villiers

 

tipping point

draaipunt, keerpunt

Jo-Ansie van Wyk

 

tjip

skyfie (soos in mikroskyfie)

Christo Viljoen

 

transformeer

herskep, verander, omskep

Lariza Hoffman

 

 

 

U

 

 

 

 

 

 

V

van dit

daarvan

Henk Boshoff

 

verbaal

mondeling

Stephan Oberholzer

 

verbaliseer

verwoord

Pieter GR de Villiers

 

vir dit

daarvoor

Henk Boshoff

 

voor dit

daarvoor

Henk Boshoff

 

 

 

W

[in die] wild

in die natuur

Suzette Kotzé-Myburgh

 

 

 

X

 

 

 

 

 

 

Y

 

 

 

 

 

 

Z

 

 

 

The post Gespierde Afrikaans appeared first on LitNet.

Suddenly the storm: ’n teaterresensie

$
0
0

Paul Slabolepszy se Suddenly the storm

Met Paul Slabolepszy, Charmaine Weir-Smith en Renate Stuurman
Regie: Bobby Heaney
Beligting: Wesley France
Stelontwerp: Greg King

Tot 8 Julie in die Baxter: The Flipside.

Ons sit links in die ouditorium. Ek kan hulle daar in die skemer langs die kant sien sit: mense wat ’n belangrike bydrae gaan lewer tot die aangrypendheid van hierdie sterk toneelopvoering. Hulle sorg vir die byklanke, musiek en beligting.

Dit herinner my aan talle aande in die Universiteit van Kaapstad se teaters, die Akademie vir Dramakuns se Die Kamer, Die Ruimte en ander eksperimentele teaters oor die Kaapse Skiereiland heen. Produksies van jare gelede waarin jy die tegnici kon sién.

Op die verhoog is daar vir jou ’n deurmekaar kantoor cum werkplek. Byna alles lyk verweerd, dalk yslik vuil. Die rusbank kom uit ’n ou motor. ’n Renosterhoring, glo waardevol, sal uit ’n wankelmoedige staalkas gehaal word. Hier ontvang Dwayne (Paul Slabolepszy) ’n “East Rand Cowboy” in sy sestigs, mense wat byvoorbeeld veiligheidshekke by hom wil bestel.

Ons sal ’n keer die sweiswerk in die aangrensende werksplek hoor en die vonke sien spat. Die stelontwerper en die versorger van die rekwisiete sorg dat alles oor en oor gebruik lyk. Dit kom beslis outentiek voor. Die beligting en die byklanke werk uitstekend saam om die donderstorm en die bewegings van voertuie te skep. En dan is daar die musiek wat jou bly herinner ons is in Suid-Afrika van nou. Dis veral Zoeloe-liedere wat al hoe dringender opklink, selfs dreigend as jy nie die taal ken nie: “Lelilungelo ngelakho” en “Noyana” byvoorbeeld, albei uitgevoer deur die Soweto Gospel Choir.

Renate Stuurman, Paul Slabolepszy en Charmaine Weir-Smith in Suddenly the storm. Foto: Eric Miller

Slabolepszy vertolk hier ’n ouer karakter. Tog herken ’n mens sy vertolkings van vroeër: energiek, selfs senuweeagtig soos daar in Saturday night at the Palace, Under the oaks of The return of Elvis du Pisani. Ek hoor hoe weerklink sy stem deur die dekor heen na ander teaterruimtes wanneer hy aggressief raak. Dit was vir my ’n opwindende gedagte dat ons weer ’n slag die teks en spel van dié ware teaterman kan ervaar, ondersteun en gelei deur ’n regisseur wat eweneens al lank voortreflike werk lewer: Bobby Heaney.

Charmaine Weir-Smith ís eenvoudig Shanell. Sy is beslis ouer as wat sy lyk in haar “prikkelende” uitrustings. Sy was sowaar eenmaal die eerste prinses in die Miss Foschini Pageant. Nou is sy glo op pad na veer... nee, vyftig. In ’n vroeë humoristiese toneel pak sy giggelend haar inkopies uit. Die houers vir die kombuis het ongewone spelling vir die inhoude: UGARS, ASLT, LOURF, ens. “Like the lady in the shop said, it’s dyslectic-proof!” Hierdie karakter met haar uitgesprokenheid soms en haar borrelende entoesiasme laat die intrige voortstu. Jy kom agter wat ’n moeilike verlede sy en Dwayne al gehad het. Sy het seker maar menige nag gaan slaap met haar “fucking vibrator”. Veral van toneel 4 laai nog ’n storm in hulle huwelik op. Woeste uitbarstings word goed deur die twee akteurs gehanteer.

Sy en Dwayne maak ruimskoots gebruik van aangepaste Afrikaans so tussen die Engels deur: gaaning-aan, tit-hot-lekker, haregat, gagga, skriks-for-niks, ens. Dit het my as Afrikaanssprekende so half “tuis” laat voel!

In talle sterk dramas daag vreemdelinge op. Hier is dit Namhla, beheerst vertolk deur Renata Stuurman. Met haar netjiese voorkoms en haar kort en saaklike spraakbeurte ontstaan ’n dramatiese kontras met die ander twee.

Met haar karakter se optrede presteer Slabolepszy as dramaturg.

Eers net verduidelik: Wits University Press het die teks vanjaar besonder netjies uitgegee met ’n boeiende inleiding deur Bobby Heaney en enkele foto’s van Suzy Bernstein. Ook ’n woordelys met aanduidings of die woorde Afrikaans, Zoeloe of Ndebele van oorsprong is en watter sleng is. Die aand van die opvoering koop ek die boek in die voorportaal.

Terwyl die opvoering aan die gang is, kom ek diep onder indruk van die drama se diepgang, maar terselfdertyd die toeganklikheid daarvan.

Toe ek die volgende dag begin lees, word die sterk subteks nóg duideliker. Jy kan oor elke uitlating of iets visueels nadink, en iets word baie duidelik. Die agtergrond is 40 jaar in Suid-Afrika. Wat het hierdie karakters met hulle verskillende agtergronde in die apartheidsjare beleef en hoe hanteer hulle die gevolge van hul optredes nou? Gebeurtenisse word vir mekaar gedramatiseerd beskryf. Dit word duidelik waarom Namhla eintlik vir Dwayne kom besoek het en waarom sy in ’n stadium ’n vuurwapen te voorskyn bring. Shanell vertel vir haar van die tragedie in Dwayne se jeug.

Sterk is die opbou. Dan, wanneer Dwayne sy weergawe van die verlede gee, toe hy nog ’n polisieman was, en Namhla hare oor ballingskap en haar familie, begin een van die sterkste en mees emosioneel gelaaide onthullings en ontknopings in ons toneelkuns.

Dit sou nie raadsaam wees as ek sou uitwei daaroor nie. In ’n televisieonderhoud het Paul Slabolepszy dit ook nie gedoen nie.

The post Suddenly the storm: ’n teaterresensie appeared first on LitNet.

Word ’n boekfluisteraar

$
0
0

Bennie Boekwurm en Louise Smith

Mense verklap hulle ouderdom wanneer hulle spontaan die kenwysie van Wieliewalie begin sing, tog is dit presies wat gebeur het toe Bennie Boekwurm hom kom tuismaak by ’n werkswinkel oor die rol van biblioteke in die onderwys. Die geleentheid het plaasgevind op 14 Junie 2017 by die Laerskool Welgemoed in die Kaap. Meer as 100 mense het dit bygewoon.

Haas Das en Louise Smith

Haas Das was ook daar, so ook die skrywer, Louise Smit, wat verantwoordelik is vir die ontstaan van hierdie twee karakters.

Die oorkoepelende tema van die geleentheid was: “Word ’n boekfluisteraar”.

Die Wes-Kaap-onderwysdepartement, die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n filiaal van die ATKV, LAPA Uitgewers en NB Uitgewers het die werkswinkel ondersteun en het deelgeneem.

Chareldine van der Merwe

“Ons glo daar is ’n boek vir elke mens,” het Chareldine van der Merwe van die VVA verduidelik. “Biblioteke is die plekke waar ’n mens daardie boek kan ontmoet. Daarom is mense wat in biblioteke werk, boekfluisteraars.”

Talle biblioteekmense het kom verduidelik hoe hulle leerders en boeke by mekaar laat uitkom. Aan die een kant is pret beklemtoon (en pizza!), maar hierdie opmerking, per e-pos ná afloop van die geleentheid, som waarskynlik die gebeure ten beste op:

My terugvoering aan die skool was dat ek besef het dat al die bibliotekarisse wat as sprekers opgetree het, die woorde “veilige hawe” gebruik het! Toe ek afgekyk het op my notas het ek ook die woorde “veilige hawe” daarin raakgelees! – Stephanie van Wyk, Laerskool Mikro

Van Wyk was een van die sprekers. Vier ander skoolbibliotekarisse het ook deelgeneem. Praktiese raad is gedeel, soos toe Janine de Villiers van die Laerskool Welgemoed verduidelik het dat ’n grootmens plat op die grond moet sit om die biblioteek te sien soos die heel jongste leerders dit ervaar.

John Nicholson, wat saam met sy vrou ’n biblioteek in hulle agterplaas gestig het om die kinders van Lavender Hill van die straat te hou, het voortborduur op die tema van ’n veilige hawe. John kon trots verwys na ’n aantal mense wat vandag geleerdheid het omdat hulle geborge gevoel het in daardie agterplaasbiblioteek en só begin lees het. Nicholson is verlede jaar vereer met ’n ATKV-Veertjie vir sy groot werk om lees in Lavender Hill te bevorder.

Bellville se openbare biblioteek het ook baie moeite gedoen om meer tienervriendelik te word. Dit het gewerk en hulle is baie trots daarop dat daar elke weeksdag 300 of meer leerders in die biblioteek kom huiswerk doen en oplees.

Sprekers van die Wes-Kaap-onderwysdepartement het beklemtoon dat dit wat by Bellville gebeur, ook elders in die Wes-Kaap plaasvind, al is dit op ’n kleiner skaal.

Die departement was baie eerlik oor die finansiële dilemmas waarmee hulle sit, maar het ook moeite gedoen om onderwysers daarop te wys dat hulle wel hulpbronne beskikbaar het. “Kom praat met ons, ons wil julle help,” was die boodskap.

Spontane applous het losgebars ná ’n kort video gespeel is oor die biblioteekbus wat 11 skole naby Rawsonville bedien. Hierdie bus, die bibliotekaris en die bestuurder, word gefinansier deur plaaswerkers op die 22 plase wat druiwe aan Du Toitskloof Kelder lewer. Dít is ’n voorbeeld van die privaatsektor wat hande vat met omliggende gemeenskappe, want Du Toitskloof Kelder het Fair Trade-akkreditasie en dit beteken dat ’n bedrag geld van elke bottel wyn wat verkoop word, teruggeploeg word na werkers.

Middagete is voorsien deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, die twee baaskokke van Bonteheuwel wie se kookboeke so suksesvol deur LAPA uitgegee is.

Ná ete het die skrywers Louise Smith, Wendy Maartens en Edyth Bulbring gesels.

Dit was ’n besonderse geleentheid waar mense wat almal lief is vir boeke, kon koppe bymekaarsit. Lana van der Westhuizen van die Parel Vallei Hoërskool in Somerset-Wes, het geskryf: “Ons almal daar was soos droë sponse wat net alles opgesuig het. Ek het soveel geleer en dit was heerlik om die ander mense in my veld te ontmoet en inligting uit te ruil. Ek hoop regtig dat dit nie die laaste keer was nie."

Foto’s van die sprekers, in volgerde van optrede

Timothy Cloete (WKOD)

Marianne Serfontein (WKOD)

Helen Johnston (WKOD)

Aubrey Africa (WKOD)

Lona Gericke (afgetrede bibliotekaresse)

Janine de Villiers (Laerskool Welgemoed)

Maryna van Zyl (Laerskool Eversdal)

Stefanie van Wyk (Laerskool Mikro)

Erika Lourens (Laerskool Eikestad)

Venessa de Beer (Hoër Meisieskool Bloemhof)

John Nicholson (’n agterplaasbiblioteek in Lavender Hill)

Christelle Connor en Christelle Lubbe (Bellville Openbare Biblioteek)

Louise Smit (skrywer)

Wendy Maartens (skrywer)

Edyth Bulbring (skrywer)

The post Word ’n boekfluisteraar appeared first on LitNet.

PG du Plessis – die hoekwoord in Afrikaans se mooiste sin

$
0
0

Hans du Plessis het tydens Pieter Georg du Plessis se gedenkdiens op 13 Junie 2017 die huldigingswoord gelewer. Dit verskyn met sy toestemming hier onder.

 

Marie-hulle het gevra dat ek iets oor Pieter se werk moet sê, en dit doen ek uit liefde vir hom en vir Marie, vir Frits en Dollie, vir Marita en die kleinkinders. Maar Pieter sal my dit verkwalik as ek vanoggend hier oor sy werk gesels met verwysing na literêre terme en teorieë. “Dis ’n oefening in futiliteit,” sou hy gesê het. “Die literati sal in elk geval oral mooi daaroor praat, mooier nou as toe ek gelewe het,” sou hy seker nog bygevoeg het.

Ek praat ook omdat hy iets reggekry het waaroor die meeste skrywers net kan droom: hy het die literati genoeg beïndruk om vir hom die heel hoogste literêre pryse te gee en ingewikkelde commendatio’s, en proefskrifte en artikels daaroor te skrywe. Terselfdertyd het skoonmakers in besemkamers skelm in werktyd Koöperasiestories gekyk. Hy het met die ganse volk gepraat.

Daarom wil ek met jou gesels oor die PG du Plessis wat nie net wóórdkunstenaar was nie, maar wat in sy hele siel ’n kunstenaar was. Ek wil met jou gesels soos wat ek en hy daaroor kon gesels. Sommer net praat. Maar daarvoor sal jy saam met my moet uitry Rysmierbult toe, want ons sal eers oor klippe moet praat.

En as ons dan by die plaashek indraai, groet groot hekpilare ons, en soos wat ons dieper inry werf toe, begin die klippe dit uitroep. Die hekke is almal klaar oop, omdat ons laat weet het ons kom.

As ons stilhou, staan Pieter en Marie vir ons en wag en Knak vroetelgroet ons groot en geweldig. Ons stap eers om studeerkamer toe om klip vir klip te groet, later verder deur die eerste klippoort onder die groot eik deur, oor die bruggie klipkroeg toe, om uiteindelik deur die kliplabirint tot in die lapa te kom. Jy staan verstom in ’n grootse uitstalling van kuns – klipkuns wat hy met sy eie twee hande help skep het. Daarom is dit nodig om eers oor klippe te praat, want elke klip lê presies. “Want klippe,” sal hy verduidelik, “spring nie vanself in ’n muur in nie; jy vra hom, luister en bou hom eers in as jy klaar met hom gepraat het. ’n Klip het ’n gesig”, en dan glimlag hy, “en ’n agterkant”, maar agterkant is nie presies sy woord nie, maar sy woord is nou nie heeltemal ’n kerkwoord nie.

’n Klip lê gesigkant vorentoe, partykeer plat, dan ’n bietjie regop, soms sommer net-net skuins dwars. Grotes en kleintjies, almal het ’n plek. Soos woorde en soos mense.

Dis hoekom die muur kuns is, en net iemand wat klippe liefhet, kan só met klip skep. Ek sal Pieter onthou as die kunsklip in Semoer se mooiste muur.

Vir hom was woorde soos klippe, en hy was die meesterbouer. Maar woorde is sagter as klippe, gladder. Eiesinnig. Die gesig is mos ook nie altyd voor nie. Soms onduidelik, omdat elkeen sy eie betekenis wil hê. En dan is daar nog die wispelturiges ook.

Nogtans het sy woorde altyd gelyk of hulle net reg in elke sin ingemessel is, soos wanneer Tjokkie vir Tiemie oor Jakes sê: “Hy’s skorriemorrie so groot as wat hy is.”

Een ding is seker: as die heel voorste professionele akteurs van jou dialoog sê dat ’n mens nooit daaraan hoef te torring nie, dan weet jy jy kán met woorde werk.

Dis net PG du Plessis wat woorde soos dié aanmekaar kon ryg: “Vrydagaande drink ek en Jan van Breda enkele slukkies brandewyn om die week te vier of te vergeet, al na gelang van omstandighede.”

“Hy ryg woorde soos ‘jollies’ en ‘smarties’ in en uit soos in ’n neklis.”

Dan is woorde nog mensliker as klippe en net iemand wat die woord liefhet, kan só talig mooi messel. As ek aan hom dink, sal ek PG du Plessis onthou as die hoekwoord in Afrikaans se mooiste sin.

Mense is kantiger as klippe en wolleriger as woorde, en tog, o so broos. Daarom moet die skrywer die sag en die hard verstaan by woord en klip verby voordat hy aan mense kan begin teken. Dan dink party mense nog ook vir hulleself, en die goed voel mos. Tog het PG du Plessis mense ongemaklik goed verstaan. Soos Tjokkie, het Pieter die gawe van sien gehad, want hy kon sien tot waar ander mense nie kon kyk nie.

In die voorhuis op die plaas staan daar ’n stomp hout op die vloer langs die bank. Dolfhout, het ek altyd geraai. Uit hierdie stomp groei daar die gesig van ’n vrou, sag gebeitel uit die harde hout. En Pieter het haar met sy eie hande uit die hout gehaal. Soos met ’n Jakes in Siener. Dis hoekom Genis en Mietie, Jan van Breda, Daantjie en die Minters so van die volk besit geneem het. Pieter se karakters is ronder as gewone mense, want hulle sê en hulle voel en hulle dink. Hulle is iemand wat jy ken en met wie jy deernis het omdat die skrywer die deernis in hulle ingeskryf het.

Om so te skep, moet jy mense ken tot anderkant die kennis. Maar dan moet jy woord en mens saam verstaan. Hy wat PG du Plessis is, kon hulle inmessel, want hy het die siel gesien. Hy het verstaan wat min onder ons verstaan, want net iemand wat mense liefhet soos wat hy mense liefgehad het, kan hulle teken soos wat hy hulle geteken het.

As ek aan Pieter Georg du Plessis dink, sal ek hom onthou as die sin in Suid-Afrika se mooiste boek.

Marie, ek weet huil en lag lê langs mekaar vandag, maar dis die lag wat vir ons sal agterbly.

Hans du Plessis, 13 Junie 2017, Potchefstroom

Foto van PG du Plessis: Izak de Villiers

The post PG du Plessis – die hoekwoord in Afrikaans se mooiste sin appeared first on LitNet.

Afrikaanse mense se links en regs

$
0
0

Die uitgerekte Spur-moles is een van daardie Swart Swaan- (Grys Swaan-?) geleenthede wat allerhande dinge hulself laat ontbloot of laat uitspeel. Aan die regterkant van die politieke spektrum het dit gewys hoe organisasies wat hoog opgee oor hul stryd vir menseregte, tog maar op die ou end die kant van rassistiese boelies sal kies. Maar die interessante reaksies was dié aan die linkerkant.

Op sosiale media het ’n paar mense hul uitgespreek teen Solidariteit se aangryp van die affêre as ’n middel om die gatvol-faktor onder sy ondersteunerskring te bearbei – of in linkse taal, die brooshede van wit mense wat nie hul bevoordeling deur ’n rassistiese stelsel kan hanteer nie. Hulle skaam hulle vir Afrikaners of Afrikaanse mense en hul organisasies, het sommige “liberale” gesê.

Die meriete van die saak daar gelaat, is die paradoks hier dat linkse mense hulle nog kan skaam vir regse Afrikaners. Wat is die verband? Dit impliseer ’n mate van identifikasie, iets wat hulle in ander omstandighede sou ontken. Baie spreek dikwels die behoefte van ’n tweede ronde verskonings vir apartheid uit, iets wat dieselfde soort identifikasie met Afrikaners vereis as regses wat meen dis Afrikaners se plig om Geloftedag te vier.

Waarmee word geïdentifiseer? Afrikaners? Baie mense huiwer om hulself so te noem – waarskynlik die meerderheid onder die rassegroep wat sal kwalifiseer: wit mense wat Afrikaans praat. Bruin sal hulle nie wees nie. Daar was die debat oor “Afrikaanses”, “Afrikaanspraters” of net “Afrikaanse mense”. Groepsgevoel is dit nie, want daar is min sprake van ’n afgebakende groep. Samehorigheidsgevoel ook nie – dis ’n propagandawoord uit die donker dae van die totale aanslag.

Is dit die Afrikaanse gedagte waarvan NP Van Wyk Louw geskryf het? Nie regtig nie – sy omskrywing is gebonde aan sy tyd. Maar miskien kan ’n mens tog die frase gebruik as vertrekpunt, juis omdat dit in vandag se tyd so lekker vaag is. ’n Mens kan dit so stel: daar is ’n snit van die Suid-Afrikaanse bevolking wat iets deel wanneer dit kom by hul gedagte aan Afrikaans.

Maar alles sluimer ondergronds onder die “linkses”, vir wie Solidariteit irrelevant is en die woord “minderheidsregte” tot grappies oor Orania lei. Dis ’n toestand wat kwaai verskil van dié van die mees prominente minderheidsbewegings elders ter wêreld, soos Katalonië, Baskeland onder die Koerde, en om nie te praat van die Palestyne nie. Onder hulle is die kwessies van outonomie, afskeiding en ’n eie tuisland diep gewortel in ’n hele spektrum van linkse diskoerse.

“Links” en “regs” is natuurlik relatiewe terme, hoogstens werksbegrippe. Onder Afrikaanse mense beteken “links” dikwels “liberaal”, terwyl onder Engelssprekendes “liberaal” veral vandag ewe dikwels ’n skelwoord vir skynheilige regses is. Maar wat ook al die term, in die breë, politieke diskoers staan “liberaal” vir ’n benadering wat vereniging en vermensliking voorstaan in die aangesig van die verdeel-en-heers-strategie van kolonialisme en apartheid en hul rassistiese verontmenslikings.

En dis natuurlik waarom minderheidsregte heel onder aan die lys kwessie vir politieke mobilisering onder Afrikaanse linkses is. Die stryd die laaste eeu, of vier, vyf geslagte was een van die onthulling en institusionalisering van onderdrukte gemeenskaplikhede oor sosiale grense heen. Die praktiese winste van openheid teenoor die uitsluitings van apartheid is legio – in my jong dae was om oorsee te gaan reis deels ’n politieke daad, want jy het geleer om ’n wêreldburger, en nie net ’n geïsoleerde Afrikaanse burger nie, te word. Nou doen jy dit net vir die plesier: om die “ander” te ontdek en te beleef is die nuwe avontuur.

Die omwentelings van 1994 het ’n diep gevoel van bevryding ook vir Afrikaanse mense meegebring. En hoewel hulle taalkwessies grootliks geïgnoreer het, was daar min terughoudendheid wanneer dit by die genieting van die ontploffing in Afrikaanse kultuurprodukte gekom het. Vir my bly die embleem van hierdie nuwe Afrikaanse boheme ’n poedelnaakte Pearly van Schalkwyk wat in Deon Opperman se Whore in Potchefstroom se stadsaal mans in die gehoor nooi om haar vagina te kom besigtig.

Die bevryding is nog verder versterk deur die infotegnologiese revolusie. Die internet was die nuwe Wilde Weste, die nuwe Transvaal anderkant die Drakensberge vir kaalvoetmeisies om oor te steek. Afrikaans en allerhande soorte Afrikaanse groepe het gedy, met al die ongebondenhede wat daarmee gepaard gaan.

Minderheidsregte? Dit was die minste van jou bekommernisse. Wanneer dit wel ’n kontensieuse saak geraak het, soos toe Julius Malema voor stok gekry is oor haatspraak, het die Grondwet doeltreffend genoeg gewerk. Een woord het opgesom waarom “linkses” nie eens veel daaraan wou dink nie: “selfbeskikking”, ’n begrip wat sentraal staan in minderheidsdiskoerse elders ter wêreld.

Hier te lande kom dit so reg uit die apartheidsverlede met sy tuislandfantasieë. Inderdaad ’n woord om oor skaam te voel, oor te “cringe”. Maar sy etimologie vertel alles omtrent die niediskoers. Daar is geen uitsluitsel waarna die “self-” verwys nie. Afrikaanse mense het goddeloos geraak, met ander rasse begin trou, oorsee verhuis en Nataniël die nuwe Emsie Schoeman gemaak.

’n Mens sou Afrikaanse wit mense as volg kon klassifiseer: Heel regs is die Verlore Seuns, steeds besig met hul veertig nagte in die woestyn. ’n Bietjie minder regs, die Christelik-Nasionale Afrikaners van Solidariteit, AfriForum, die Vryheidsfront Plus en dalk ook die Afrikanerbond, hoewel ’n mens nooit sal weet nie. Dan die groot groep in die middel, met die leuse “Afrikaners is plesierig”. Hulle kom met almal oor die weg, deel sekere rassistiese grappe met swart mense en wil net hê die Springbokke moet weer wen. Ingesluit by hulle is die nuwe armblankes, en die groeiende Boeremafia, nie die rykes van Stellenbosch nie, maar die Afrikaanse onderwêreld self, mense wat nie skrik vir kniekoppe afskiet nie. Heel links is die Opofferaars, wat steeds wil boete doen vir apartheid en wie se leuse die patriotiese “ons sal offer wat jy vra” is, en Afrikaans graag sal oorhandig as offerande. ’n Bietjie minder “links” is die Ontwaaktes, die “woke” mense wat skielik besef dat swart rassisme nou hier is en daar geen waarborg is dat Afrikaans tot sy reg sal kom nie, dat dit en ander inheemse tale inderdaad nie gelyk is aan Engels nie, en dat die empire nog steeds Engels is.

Die Afrikaanse “self” bestaan nie meer nie, of dan net as ’n spektrum. Sou jy Afrikaans as die bindingsmiddel voorstel, moet jy onmiddellik die meerderheid insluit, die sogenaamde bruin mense, met ’n heel ander verhouding met Afrikaans wat sy eie spektrum vorm (een waaroor ek my liefs nie sal uitlaat nie – ander mense is beter bevoeg). As daar ’n Afrikaanse self is, is dit ’n gesplete self, want hoewel rasseverhoudinge onder wit en bruin Afrikaanspraters verreweg die mins gespanne is en die Afrikaanse taalgroep eintlik die verste gevorder het met integrasie, is daar nog diep klowe en ongelykhede tussen Afrikaanspraters en leef hulle nog grootliks net so apart as altyd.

En die tragedie vir Afrikaans is dat wit en bruin polities in Engels mobiliseer. Afrikaans is nog te veel gekoppel aan die Groepsgebiedewet in die gemoedere van leidende bruin mense.

Maar die tweede deel van die woord “selfbeskikking” is óók ’n probleem: Wie moet beskik? In die bundel opstelle saamgestel deur Heinrich Matthee, Kultuurvryheid en selfbestuur, word die meeste aandag aan die begrip van “gebiedsongebonde selfstandigheid” gegee, en daar is veel wat belowend is daarin. ’n Mens moet dit sien in die konteks van die snelontwikkelende vierde nywerheidsrevolusie, waarin ’n al meer geglobaliseerde kommunikasie-opset in ’n robotiserende ekonomie – met die hele internet as die grootste bot – afwentelings van nuwe sosiale formasies oor politieke grense meebring. In hierdie afwentelings speel taal ’n kardinale rol.

Die begrip kan ’n “linkse ding” genoem word, want onder die voorste teoretici daarvan was die Marxisties-gegronde Karl Brenner en Otto Bauer, volgens Bertus de Villiers in Kultuurvryheid. Maar die boek wys ook, waarskynlik onbedoeld, wat die probleem in die Afrikaanse opset sou wees. Kortliks gestel behels die begrip dat lede van ’n kultuurgroep wat geografies versprei is, hul lot sal inwerp by ’n “kultuurraad” wat sekere beperkte magte sal kry om besluite te neem wat die lewens van sy lede sal verbeter, alles binne groter nasionale en internasionale verbande. Deon Geldenhuys kom met ’n hele rits voorwaardes vir so iets om hier te kan werk, en ’n mens sou hulle kon opsom as “liberale riglyne”. Die motivering vir sulke voorwaardes is natuurlik dat “kultuurrade” ’n mens onmiddellik aan die bekrompe, onderdrukkende opset van die apartheidsera laat dink. Onder baie van die skrywers van die boek is daar inderdaad ’n versugting na “regeer”, “beheer” en “bestuur”, soos in die titel.

Afrikaanse mense is vandag nie baie lus om oor beskik te word nie. Die argetipiese bestaan van die Boer as ’n dwarstrekkende alleenloper, en die volkskonsensus wat vir drie generasies vir Afrikaners soveel materiële voorregte gebring het, het nie lank na 1994 gehou nie – hier is die afvalligheid op die spits gedryf in die Boetmansage, vergestalt in die vol sale by die kultuurfeeste by Pieter Fourie se verhoogweergawe van Chris Louw se boek.

Die Voëlvrytoer som natuurlik alles op. Die gevoel onder baie lede van daardie geslag, vandag se invloedryke Afrikaanse middelklas met sy regslui, dokters, akademici en mediamense, is dat dieselfde soort mense wat so hard probeer het om die voël hok te slaan, vandag aan die stuur van die taalstryd is, en of hulle reg of verkeerd is, dis die persepsie wat tel.

’n Beter onderskeid as links teenoor regs is miskien Deleuze en Guattari s’n tussen risomatiese en hiërargiese strukture. ’n Voorbeeld van ’n risomatiese struktuur is ’n miernes wat opbreek om ’n tweede, gelyke nes in ’n lukrake rigting te vestig, en daarna verder tot ’n netwerk ontstaan; ’n boom is hiërargies, met ’n sentrale stam en ’n penwortel waarvan die res afhang. Die bevryding van Afrikaans uit die keurslywe van apartheid het baie gou uitgeloop op die spontane ontstaan van onafhanklike, selfbesturende kultuurfeeste soos die KKNK, Aardklop, die Vryfees, onderhewig aan geen (amptelike) sentrale struktuur nie. Maar hierdie bevryding het saamgeval met die vestiging van die mees uitgebreide risomatiese struktuur op die aardbol: die internet. Vandag is Afrikaanse groepe en gespreksgenote legio op sosiale media, en ek dink nie ek oordryf as ek sê daar is iets unieks, iets tipies Afrikaans aan die poste van mense soos Annelise Erasmus, Cobus Bester en Fanie de Villiers, om maar net enkele voorbeelde uit my eie kring te noem nie.

Die mees suksesvolle risomatiese struktuur is natuurlik LitNet, wat die gelukkige dubbele betekenis van “net” in Afrikaans so goed ontgin het in risomatiese afdelings soos SêNet en LêNet. Die Afrikaanse letterkunde self het sterk risomatiese neigings, hoewel daar ewe sterk dryfkragte na die hiërargiese is met sy groot klem op bemarkbaarheid, wedywering en prystoekennings.

Hiërargiese strukture en die fascisme waartoe dit lei, was nog altyd Afrikaans en Afrikaanse mense se groot probleem. ’n Mens kan ’n hipotetiese argument aanvoer dat die tuislande risomatiese strukture sou kon geword het, maar dat dit verongeluk is deur die fascisties-hiërargiese nasionaal-sosialisme wat die Nasionale Party op swart mense wou afdwing, met HF Verwoerd, toe hy in beheer van Naturellesake was, die eerste van ’n rits diktators, Lucas Mangope die laaste. Baie Afrikaanse mense se renons in Afrikaans het ontstaan weens die taalfascisme waarin hul op skool en elders blootgestel is – rassevoorskrifte oor suiwerheid (Germaanse woorde versus anglisismes) en die sensuur van skrywers soos Brink en Breytenbach.

Vir die Opofferaars is die winste van die nuwe bevryde Afrikaans so groot dat hulle die taal liewers tot landelike patois verklein sal sien as om dit weer aan die CNA’s te oorhandig – so ook baie van die Ontwaaktes, terwyl ’n groot deel van die Plesieriges veel eerder ’n Afrikaans beperk tot braaivleis, rugby en Vuisboek sal bedryf as om moeite te doen met Christelik-Nasionale Afrikaner-projekte (sogenaamde CNA-projekte).

Dis hier waar die regse Afrikaners se doodloopstraat reeds is, nie soseer weens die anti-Afrikaanse ingesteldheid of stappe van die ANC-meerderheidsregering of ander groepe nie. Tegnies gesproke is Solidariteit en AfriForum gedugte organisasies, en hoef ’n mens nie jou neus op te trek vir die werk wat hulle doen met ’n geregtigheidskultuur vestig of die ubuntu wat hulle toepas onder armblankes nie (want wie anders gaan dit doen?). Daar is ook ’n lekker kreatiwiteit in baie van hul optredes wat ’n mens kan geniet as jy jouself toelaat om uit jou politieke konformisme te tree. Maar dis min of meer die limiet – ek mag verkeerd wees, maar dit lyk nie of hulle ooit genoeg steun onder hul “eie mense” gaan kry om ’n politieke faktor te word nie.

Die CNA’s en ander konserwatiewes is hopeloos te veel gebonde aan Afrikaners se hiërargiese verlede. Om in hierdie tye te wil teruggryp na die idees van Paul Kruger of MT Steyn of die Gelofte dui op ’n diep gebrekkige begrip van wat die laaste paar dekades in hierdie land gebeur het.

Maar ook die risomatiese strukture onder die meerderheid Afrikaanspraters het sy uitdagings. Die eerste is dat hulle té los is, en nie kan bestaan sonder om ingebed in iets anders te wees nie – die grond van die miernes-voorbeeld. Kultuurfeeste loop op Chinese geld en die middelklas se beursies en is afhanklik van die ekonomiese welstand van feesgangers. En ’n mens kan ook net na sóveel eenmansvertonings op die dramaverhoog kyk. Die swakhede van Facebook – silodenke, narsisme, eggokamers, filterborrels – is ook dié van risomatiese Afrikaans.

Die instellings wat hiermee sou kon help, werk soms baie goed – ’n mens dink aan die verskeie borge en befondsingsorganisasies van allerlei kulturele inisiatiewe – maar is te dikwels onder die vaandel van die CNA’s of is besig om in duie te stort weens ekonomiese druk. Naspers het homself uitverkoop aan die mark en die kerk – wel, hoe minder ’n mens sê, hoe beter. Die enigste instansies wat werklik standhoudend lewenskragtig is, is getransformeerdes soos RSG of nuwes soos LitNet en kykNET.

Taal is inherent ’n risomatiese struktuur, en skep sy eie infrastruktuur, maar die infrastruktuur moet iewers staan. Dis waar die staat inkom. In die huidige opset is daar min begrip vir die behoeftes van tale, en nog minder hoe om te verseker dat hul risomatiese lewenskragtigheid kan gedy. Daar is bykans geen verwysing na taal in die Nasionale Ontwikkelingsplan nie. Elders is daar veel geskryf oor die gebreke van die land se taalbeleid.

Die rede hiervoor is nie moeilik om te bepaal nie. Soos ek in my resensie oor Kultuurvryheid gesê het, “in veral die Britse kolonialisme was die manipulering van minderhede – divide and rule, valse stamme en konings, opstook van faksies – ’n sleutelstrategie om bevolkings in toom te hou. Dit is natuurlik vervolmaak in die ramp van die tuislande, daardie fascistiese postkoloniale pseudostaatjies wat eintlik maar reusagtige konsentrasiekampe was.”

Taalverskille is die meeste uitgebuit. Die taalput is vir ewig vergiftig deur kolonialisme, apartheid en die tuislandbeleid. En dis die tweede rede waarom die stryders vir minderheidsregte in ’n doodloopstraat is. Afgesien van die uitdaging om Afrikaanse mense oor te haal, omgewe ’n geur van verraad teenoor die massiewe integrasiebeweging van die laaste eeu die skrille eis tot minderheidsregte. Die kanse is uiters skraal dat so ’n strategie op enige demokratiese wyse sal werk.

Maar soos taalnavorsers en denkers aantoon, is die een of ander staatsopset noodsaaklik vir ’n taal en sy afgeleide kultuurmomente om te gedy, en is volle menseregte nie moontlik daarsonder nie. ’n Federale opset help hiermee, en so ook gebiedsoutonomie. Gebiedsongebonde selfstandigheid se beperking lê daarin dat dit in die laaste instansie iewers ’n anker nodig het in die een of ander staatlike raamwerk wat op sy beurt tog wel in ’n geografiese basis gesetel moet wees. Vir Afrikaans is die voor die hand liggende oplossing outonomie vir die Wes-Kaap.

Afgesien van die behoeftes van taal, is dit wel so dat meerderheidsregering gebaseer op ’n diep historiese rassekonsensus, soos dié van die ANC en ander swart-oorheerste partye, vele sosiale gevare inhou. Die ANC is ’n uiters swak regering, en daarom het die swart rassisme wat die laaste paar jaar so wydverspreid en in sulke groot volumes uitgespreek is, nie veel van ’n effek nie, weens ’n gebrek aan kapasiteit. Maar die gerusstelling dat dit noodwendig so sal bly weens die liberale Grondwet, is op sy beurt ’n voorbeeld van rassistiese onkunde – die hoop dat swart rassiste magteloos sal bly weens hul huidige onbevoegdheid sal beskaam word.

Die misdaad van die verengelsing van Stellenbosch is reeds een voorbeeld van mag wat wel teen ’n minderheid gebruik word, so ook pogings om die nasionale demografie op staatsaanstellings in die Wes-Kaap af te dwing. Om nie te praat van die veel groter misdaad van versuim – op dieselfde vlak as Thabo Mbeki se versuim met Vigs – om nie die weermag te gebruik om bendegeweld op die Kaapse vlaktes te beveg nie. ’n Deurlopende tema, of praktyk van ekstreme profilering in die uitbarsting van swart rassisme die laaste tyd, is dat alle wit mense dieselfde is, en almal, selfs die “born-frees”, nog steeds aandadig is aan apartheid. Nou is dit nog grootliks beperk tot sosiale media en woedebuie in restaurante, en die Grondwet het ’n gedugte bolwering geword, maar daar is geen absolute waarborg dit so sal bly nie, veral nie met die EFF en ANC wat saam genoeg steun het om daardie Grondwet te verander nie.

Daar is op ten minste ’n teoretiese vlak ’n goeie saak uit te maak vir outonomie, of ’n nuwe, meer federale opset vir die land om sy geweldige diversiteit te verreken, al het sulke idees tans bitter min steun. En hoewel dit onteenseglik waar is dat dit baie moeilik sal wees om ’n nuwe bestel demokraties te verwerf, soos Lawrence Hamilton aantoon, weens die uiters konserwatiewe aard van die Suid-Afrikaanse politiek, is daar tog moontlikhede vir die toekoms om te bedink.

Politiek is die kuns van die moontlike. Die geheim is dus om die huidige tendense en strominge te aanvaar as dié waarmee jy moet werk. Soos reeds gesê, word politiek en gemeenskap onder bykans alle bevolkingsgroepe oorheers deur die wil tot globalisering en integrasie. Die ander diskoers wat in die laaste jare op sy voete gekom het, veral hier te lande, maar ook elders ter wêreld, is die antikoloniale. Daar is natuurlik baie teenstrydighede, maar eintlik val hierdie drie strominge saam vir die meerderheid van Suid-Afrikaners, veral onder jongmense van alle rasse.

Afrikaans sal tot sy reg kom net as sy stryders ook hierdie vaandels opneem. Risomatiese Afrikaans is reeds een van die sterkste middels tot integrasie, en met sy bande wat drie sterk spore volg, na minderheidskulture in Europa, na kreolisering in Afrika en na etimologieë in die nabye Verre Ooste, het dit vele globaliserende impulse, iets wat net bevorder sal word deur Brexit. En soos Neville Alexander gesê het, was die Boere die eerste antikoloniale stryders. Maar hierdie strategieë sal kan werk slegs as Afrikaanssprekendes gemene saak met swart mense maak. Dit doen jy nie deur die kant van ’n wit Afrikaanse boelie in ’n kitskosrestaurant te kies nie.

Dink ’n mens globaal, is daar vele moontlikhede op praktiese vlak. As ’n mens ernstig is oor dekolonisering, moet die kunsmatige grense van die koloniale tye aangepak word. Op kontinentale vlak lyk iets soos ’n anti-Berlynkongres hoogs onwaarskynlik, maar op streeksvlak is dit wel denkbaar. Inderdaad is daar vele dekolonialiserende momente aanwesig in die planne vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap, byvoorbeeld in die wens vir ’n vrye handelsgebied en in die onuitgesproke aanvaarding van die vrye beweging van mense oor grense heen.

Die uiteindelike doelwit is die verampteliking van hierdie vrye beweging van al die lande se burgers, soos in Amerika. In so ’n opset sal daar veel meer begrip onder die hele gebied se mense wees vir minderheidsregte en die beskerming van taal en kultuur. Daar is ’n paradoksaliteit in die Europese Unie wat in sy verenigingsdrang en menseregte-fokus ten einde ’n herhaling van apokaliptiese oorlogvoering te vermy nog die verste gevorder het om ’n geregtelike raamwerk uit te werk vir minderhede – en daar is ’n goeie behandeling daarvan in Kultuurvryheid en selfbestuur. Maar dis ’n paradoksaliteit wat aansluit by die ontgogeling met globalisering met sy imperialistiese hegemonisering rondom Amerikaanse verbruikersbehoeftes en kultuurprodukte.

Dit maak dit ook moontlik om ’n hipotese op te stel, ’n “rule of thumb”: daar waar die verband waarbinne integrasie op menseregte-grondslag plaasvind groot genoeg is, en funksionele regering onder stres raak, is afwenteling na kleiner bestelle onvermydelik. Dis hierdie dinamika wat taalstryders kan ontgin; of anders gestel, dis die énigste dinamika wat oorbly om te ontgin. In Suid-Afrika vereis dit die paradoksale beywering vir groter integrasie, nog wyer as net die Suid-Afrikaanse – waar elf tale duidelik nie kompleks genoeg is om die eenpartysindroom te ontduik nie – waarna en waartydens ’n nuwe raamwerk vir minderhede bedink en onderhandel kan word. En dan alleen as dit nie in isolasie nie, maar ook oor nasionale en kultuurgrense heen gedoen word.

Die opstel van ’n uiteindelike grondwet vir ’n Verenigde State van Suider-Afrika sal die enigste werklik realistiese kans bied om die gebreke van die Suid-Afrikaanse Grondwet die hoof te bied – want daardie dokument sal waarskynlik as riglyn gebruik word. Die gebrek aan behoorlike rugsteuning vir minderheidsregte is natuurlik die grootste van hierdie gebreke.

Alleen so ’n soort nierasgebaseerde projek – en ja, dis baie ambisieus en nog ver in die toekoms – sal die hele spektrum Afrikaanse mense met hul gedugte talente noop om verder te gaan as net gedagtes aan Afrikaans.

The post Afrikaanse mense se links en regs appeared first on LitNet.

Titus Matiyane, kartograaf en transnasionale flâneur

$
0
0

Titus Matiyane, kartograaf en transnasionale flâneur

Elfriede Dreyer, Departement Kunsgeskiedenis, Visuele Kunste en Musiekwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 14(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die stedelike panoramas van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Titus Matiyane (geb. 1964) − ’n eietydse buitestanderkunstenaar − is ’n waardevolle bron vir die bestudering van die begrippe geokartering en flânerie in eietydse Suid-Afrikaanse kuns. In hierdie artikel word die kunstenaar se panoramas geproblematiseer in terme van geokartering as ’n uitdrukking van utopie, transendensie en bemagtiging van die plaaslike Suid-Afrikaner in die lig van koloniale en apartheidsgeskiedenisse. Die kunstenaar word as ’n karterende flâneur geïnterpreteer en sy kunswerke word vertolk beide as produkte van verbeelde flânerie en, as gevolg van die groot skaal daarvan, as fisiese “plekke” wat verkenning en flânerie ontlok. In sy panoramas word die alledaagse werklikheid getransformeer in ’n globale simulakrum van utopiese eksotisme en glans waar die kunstenaar as flâneur die stad virtueel kan besoek en deurwandel. Jeremy Bentham se panoptikon en Michel Foucault se interpretasie hiervan is verdere teoretiese raamwerke wat die interpretasie van die kunswerke belig. Daar word bevind dat Matiyane ’n model vir globale, transnasionale identiteit daarstel deur middel van die oorskryding van sy eie fisiese en materiële beperkinge en sy dekonstruksie van die magshiërargieë van Eerste- en Derdewêreldstede. Matiyane word uiteindelik geïnterpreteer as ’n outentieke stem in die dekoloniale vestiging van Afrikaïese moderniteit.

Trefwoorde: buitestanderkunstenaar; dekolonialiteit; flâneur; geokartering; mag; Matiyane, Titus; panorama; solipsisme; utopie

 

Abstract

Titus Matiyane, cartographer and transnational flâneur

The urban panoramas of South African artist Titus Matiyane (b. 1964) – a contemporary outsider artist − is a valuable source in the study of the concepts of geomapping and flânerie in contemporary South African art. In this article the artist’s panoramas are problematised in terms of geomapping as an expression of utopia, transcendence and empowerment of the local South African in the light of colonial and apartheid histories. The artist is interpreted as a mapping flâneur, while his artworks are considered both as products of imagined flânerie and, due to its large scale, as physical “places” that evoke surveillance and flânerie. In his panoramas everyday reality becomes transformed into a global simulacrum of utopian exoticism and glamour where the artist as flâneur can virtually visit and stroll through the city. Jeremy Bentham’s panopticon and Michel Foucault’s interpretation of it are further theoretical frameworks that illuminate the artworks. It is concluded that Matiyane creates a model for global, transnational identity by exceeding his own physical and material limitations and by his deconstruction of the power hierarchies of First and Third World cities. Matiyane is finally interpreted as an authentic voice in the decolonial establishment of African modernity.

Keywords: decoloniality; flâneur; geomapping; Matiyane, Titus; outsider artist, panorama; power; solipsis; utopia

 

1. Titus Matiyane: ’n inleiding

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar Titus Matiyane (geb. 1964) kan met reg as ’n eietydse “outsider”-kunstenaar of buitestanderkunstenaar1 beskou word, soos byvoorbeeld ook Helen Martins (1897–1976) van die Uilhuis in Nieu-Bethesda, of Jackson Hlungwani (1923–2010) wat in Mbokota Village naby Elim geleef en gewerk het. Buitestanderkunstenaars produseer met of sonder formele kunsopleiding in afsondering van die samelewing, dus sonder beïnvloeding van die kunsmark of -bedryf; óf hulle is selfonderrig en funksioneer binne die samelewingstrukture, en is buitengewoon suksesvol as kunstenaars. Die afwesigheid van bepaalde norme vir suksesvolle kunspraktyk in die produksie van buitestanderkuns maak die werk van hierdie kunstenaars potensieel besonder insiggewend as bron vir sosiopolitieke kommentaar, vir die ontleding van die ontologie van kunsmaakstrategie, en ook vir ’n studie van die kunsmark in Suid-Afrika. Die brute direktheid en eerlikheid wat meestal met buitestanderkuns gepaard gaan, soos in die geval van Matiyane, maak dit ook besonder geskik vir ’n ondersoek na onbelemmerde, outentieke stemme in ’n dekoloniale ondersoek na Afrikaïese moderniteit.

As buitestanderkunstenaar funksioneer Matiyane binne die samelewing, maar hy het nooit formele kunsopleiding ondergaan nie; hy produseer obsessief vanuit sy persoonlike visie en hy gebruik tegnieke en prosesse waarvan hy persoonlik oortuig is. Hy het dus nooit die formele taal van kuns of die maniërismes van institusionele onderrig geabsorbeer nie en daar is ook nie begrip vir die meganismes van evaluering en goedkeuring daaraan verbonde nie. Vanuit sy werksruimte in Atteridgeville skep hy panoramas van groot wêreldstede (figuur 1) en funksioneer hy in sy eie oë as ’n tipe argivaris, ’n dokumenteerder van plek en plaaslike geskiedenis wat nie deur fotografie vasgevang kan word nie. In sy werksproses word die kunstenaar van sy alledaagse bestaan vervreem en virtueel gewerp in ’n transnasionale en globale, maar kunsmatige identiteitswenteling wat met mag en grensloosheid flankeer, en hy “reis” so deur die wêreld as ’n tipe virtuele, globale flâneur.

In hierdie artikel word daar ’n saak daarvoor uitgemaak dat die kunstenaar se skepping van panoramas as ’n verbeeldingryke vorm van flânerie eerstens as ideologies en utopies van aard beskou kan word en tweedens as ’n simptoom van ’n begeerte na wording, simulakrum en transendensie.

Figuur 1. Titus Matiyane, Panorama of Antwerp, 2014. Gemengde media op Fabriano, 140 x 600 cm. Foto: Elfriede Dreyer

 

2. Geokartering

In die geogeskiedenis van ’n kunswerk speel die plek en omgewing waaruit dit ontspring ’n sentrale rol, ook so in die geval van Matiyane se kuns, wat in ’n omgewing met ’n postkoloniale geskiedenis van magsentra en -periferieë geproduseer word. In Time and place: the geohistory of art voer Thomas DaCosta Kauffmann2 (2005:5) aan dat kartografie en kartering nog altyd een van die hoofmetodes van die geografering van kuns behels het, omdat dit die fundamentele kenmerke van die aard, karakter en identiteit van die kunswerk ontbloot, byna soos met die bestudering van aardoppervlakke.3 Sodanige kartering beteken dat die plek van kunsproduksie, die geskiedenis van die spesifieke plek en die karakter van die plek bepalend is vir die identiteit en betekenis daarvan, maar ook vir die provenansie (’n begrip vir die herkoms) van die werk. In “Mediating place-identity: Notes on Mathias Woo’s A very good city” (2008) spreek Alice Ming Wai Jim (2008:264) die mening uit dat die bevestiging van “wie ons is” dikwels intiem verband hou met “waar ons is”, ’n idee wat in die psigologiese greep van die omgewingskonsep van plek-identiteit gevange is. Geokartering is deel van sodanige plek-identiteit van die kunswerk, wat ook transmutasie van plek kan inhou.

Matiyane se kunstenaarsvisie is gegrond op die geskiedenis van die spesifieke plek en die karakter van die Suid-Afrikaanse geskiedenis van apartheid – ook gewortel in rassepolitiek – wat bepalend is vir die identiteit en interpretasie van sy werk. Om ’n kunswerk in die konteks van die geografie daarvan te interpreteer, beteken dat idees oor nasionaliteit, identiteit en rassedenke in die proses verweef raak, aangesien, soos DaCosta Kauffmann (2005:5) aanvoer, ras nog altyd die basis vir ideologiese nasieskap gevorm het, alhoewel dit ook ’n sosiale konstruksie is. Die kunstenaar woon en werk in Atteridgeville, ’n dorp langs Pretoria in Tshwane. Dorpe soos Atteridgeville wat sedert 1948 in Suid-Afrika tydens die apartheidsregime geskep is, was aanvanklik op rassebasis gedetermineer en het inwoners soos dié van Atteridgeville se operasionele beweeglikheid in ’n groot mate beperk, en ook tot in 1985 ’n bepalende invloed op die werksaamhede en uitsluiting van kunstenaars van alle rassegroepe in Suid-Afrikaanse uitstallings uitgeoefen.4

Ondanks die sosiopolitieke ommekeer en transformasie van Suid-Afrika sedert die 1990’s (en veral na 1994, toe die African National Congress aan bewind gekom het), word die impak en oorblyfsels van die segregasiebeleid nog steeds deur veral die ouer geslag van kunstenaars soos Matiyane ervaar. Alhoewel Matiyane al verskeie solo-uitstallings in van die belangrike museums in wêreldstede – soos Bamako,5 Lyon, Delft, Berlyn en Johannesburg – aangebied het, funksioneer hy as kunstenaar sonder ’n behoorlike ateljee en sonder galeryverteenwoordiging, aangesien hy gewikkel is in ’n daaglikse oorlewingstryd wat sy beweeglikheid, kommunikasiekanale en bedryfskapitaal beperk. Hy woon in ’n huis van ongeveer 25 vierkante meter saam met ’n eggenoot en verskeie kinders en produseer sedert 1990 sy monumentale panoramas op ’n klein koffietafelblad van 40 x 60 cm.

Alhoewel Matiyane afgesien van enkele internasionale besoeke dus gebonde is aan sy huis in Atteridgeville, produseer hy panoramas van verskeie dorpe en stede in Suid-Afrika en elders in die wêreld. Hierdie panoramas, wat subjektiewe dokumentasie en verbeeldingryke herkartering behels, wissel van 250 tot 4 500 cm in lineêre dwarslengte. Panorama of Pretoria (2014) is byvoorbeeld 1 800 lopende cm lank en die beeld strek van Mamelodi buite Pretoria tot by Soweto buite Johannesburg; Panorama of the Netherlands: Rotterdam to Amsterdam (2000) is 2 300 cm lank. Die vertrekpunt in Matiyane se werk is kommersiële kaarte wat deur borge of opdraggewers geskenk word of by plaaslike skryfbehoeftewinkels aangekoop word en (sedert 2008, toe hy ’n rekenaar kon aankoop met toekenningsfondse van die staat) Google-kaarte. Deur middel van die bestudering van hierdie kommersieel beskikbare kaarte en internetbeelde van wêreldstede, karteer hy stede dan as groot panoramakunswerke volgens sy eie interpretasie en visie sonder dat hy in die oorgrote meerderheid van die gevalle ooit die stad besoek of kon besigtig het. Deur middel van sy verbeelding word hy dus ’n globale, transnasionale reisiger wat uitbeeldings van die geogeskiedenis van hoofsaaklik bekende wêreldstede produseer. Só word die tuiste van die plaaslike plek-identiteit omskep in ’n proses van virtuele globalisering.

Die kunstenaar se “oorvereenvoudigde” vormgewing, sy “inkleur”-styl (in sy geval met kleurpotlode en viltpenne), sy gebruik van skematiese buitelyne, en sy insluiting van heelwat skrif toon ’n sterk ooreenkoms met die algemene styl van reisjoernale en dagboeke (figuur 2). Suid-Afrikaanse koloniale reisigers soos Thomas Baines (1820–1875) en Thomas Bowler (1812–1869) se kartografiese uitbeeldings6 het ook hoofsaaklik die geografie van die land behels en mense is grootliks uitgelaat (Huigen7 2009:209), of is proporsioneel op klein skaal binne die oorweldigende skaal van die landskap uitgebeeld, soos byvoorbeeld dié in reisjoernale van David Livingstone. Mense is merendeels as natuurverskynsels beskou en uitbeeldings het eerder op die panoramas van verlate landskappe gefokus, asof in voorbereiding vir koloniale uitbreiding en kapitalistiese uitbuiting. Hierdie reisigers het ook hulle eie teenwoordigheid probeer verbloem om so die indruk van objektiwiteit te versterk. “Where, one asks, is everybody? The landscape is written as uninhabited, unpossessed, unhistoricized, unoccupied even by the travellers themselves” (Pratt 1992:51).

Figuur 2. David Livingstone, handgetekende kaart van Livingstone se velddagboek. (http://oregonwin.com/ua/ncs/archives/2015/jun/scottish-explorer-david-livingstone’s-writings-drawings-now-available-through-onli)

Dit kan aangevoer word dat sodanige koloniale uitbeeldings ’n skyn van objektiwiteit onder invloed van die etnografiese en wetenskaplike impulse van die 19de eeu vertoon; Huigen (2009:77–8) voer aan dat 17de- en 18de-eeuse empiriese wetenskap hoofsaaklik op utiliteitskennis gegrond was, soos Robert Boyle (1627–1691)8 wat verwys het na die betroubaarheid van die verhale van “eenvoudige”, “eerlike” handelaars, asook na Montaigne (1533–1592), wat voor Boyle in ’n essay oor kannibale (Des Cannibales, Essays I, xxxi) aanbeveel het dat “eenvoudige” mense as betroubare waarnemers geag moet word (Huigen 2009:78).9 Volgens Huigen is die reisjoernale van handelaars as eerliker, en daarom as waardevoller, as navorsers se tesisse geag, aangesien die siening was dat laasgenoemde daarop gemik was om ’n eie standpunt of siening uit te beeld en daarom geneig was om feite te verdraai.10 Maar, soos Neville Smith (2015:80) met verwysing na Thomas Baines aanvoer, dit sal misleidend wees om koloniale uitbeeldings as eenvoudige naturalistiese uitbeelding of as “objektief” te beskou. In sy interpretasie van Baines se 1859-uitbeelding van twee slawevroue aan boord van die Britse patrollieboot HMS Lynx toon Smith aan hoe die kunstenaar “became entrapped in his own processes of representation and how the images may be seen both to serve his purpose of recording his observations and obscuring them” (Smith 2015:81). Terwyl Baines etnografiese besonderhede uitgebeeld het, het hy terselfdertyd sy eie ongemak met die vroue se situasie uitgedruk (Smith 2015:81), al is dit dan bloot deur sy keuse van onderwerpsmateriaal. Sodanige uitbeeldings was dus eerder pseudowetenskaplik, spekulatief en subjektief van aard.

Matiyane se geokartering van groot wêreldstede behels op soortgelyke wyse ’n eenduidige, “eerlike” perspektief wat gegrond is op ’n deduktiewe herverbeelding van die waargenome landskap. Volgens hom is sy panoramas gegrond op ’n feitelike dokumentering van ’n stad, maar die werke toon dikwels ’n uitlaat van besonderhede, “onakkurate” kartering en gestileerde uitbeelding. In figuur 3 beeld Matiyane byvoorbeeld die rasgebaseerde ruimtelike verdeling van stede en omliggende gebiede tydens die apartheidsregime uit met ’n omlyning van die buitedorp “Shapville” (sic, vir Sharpeville) met die dorpe Vryburg en Bloemhof weerskante daarvan;11 maar in sy uitbeelding (byvoorbeeld van die buiterandvoorstede om Pretoria, figuur 4) word die “negatiewe” besonderhede (soos tekens van armoede, verwaarlosing en onverwyderde rommel) van buitedorpe uitgelaat; huise word minimalisties en gestileerd uitgebeeld; en die “glans” van die Wonderboomlughawe en sy vliegtuie word ’n fokuspunt. Hy sluit ook slegs figuratiewe inhoud in as deel van sy uitbeelding van monumente, soos die Cristo Redentor-beeld op Berg Corcovado in sy Panorama of Rio de Janeiro (2013), figuur 5, en collage van Nelson Mandela in sommige panoramas, soos byvoorbeeld in Panorama of Gauteng (2010), figuur 6. Die landskap oorheers en die figure word oënskynlik op neutrale wyse as deel van die proses van die kartering van die landskap ingesluit.

Wat betref sy blote keuse van onderwerpsmateriaal – groot stede van die wêreld – asook die stilistiese tegniek en die rol van sy verbeelding, word ’n behoefte aan ’n identiteit wat groter en glansryker is as die plaaslike identiteit uitgedruk. As sulks ontstaan daar visuele spanning tussen die sogenaamde “korrekte” dokumentasie van die stad – waarvan die kunstenaar oortuig is − en die konseptuele implikasies onderliggend aan die gebrek aan korrektheid. Matiyane se keuses spreek van persoonlike vertolking, subjektiewe kommentaar en dikwels ’n emosionele belewing van die geografie, ’n situasie of gebeurtenis. Hy oorkom só die beperkinge van koloniale en apartheidserfenisse en -politiek wat hom weerbaar gelaat het in Atteridgeville, en op optimistiese wyse omarm hy wel sy identiteit as deel van ’n spesifieke geografie en geskiedenis, maar hy probeer hom ook doelbewus daarvan distansieer. Die kunstenaar skep sodoende ’n veelvlakkige integrasie met die geskiedenisse van apartheid in Suid-Afrika, wat nie net beheer in terme van plek en beweeglikheid behels het nie, maar ook die regte van die individu aangetas het; meer nog, karteer hy op skynbaar meganiese en neutrale wyse die argitektoniese en geografiese impak van apartheid.12

Figuur 3. Titus Matiyane, Panorama of Gauteng (detail), 2010. Gemengde media op Fabriano, 120 x 350 cm. Foto: Elfriede Dreyer

Figuur 4. Titus Matiyane, Panorama of Gauteng (detail), 2010. Gemengde media op Fabriano, 120 x 350 cm. Foto: Elfriede Dreyer

Figuur 5. Titus Matiyane, Panorama of Rio de Janeiro (detail), 2013. Gemengde media op Fabriano, 120 x 1 000 cm. Foto: Elfriede Dreyer

Figuur 6. Titus Matiyane, Panorama of Gauteng (detail), 2010. Gemengde media op Fabriano, 120 x 350 cm. Foto: Elfriede Dreyer

 

3. Utopie

Die kunstenaar se geokartering stel vrede, harmonie, orde, stelsel, struktuur en vooruitgang voor en in hierdie sin artikuleer dit utopiese sentiment. Utopie13 is essensieel ’n fiktiewe konstruksie, ’n verbeelde ontwerp in ruimte, tyd en plek (Dreyer 2001:16) en kan verwys na enige plek, staat of situasie van ideale perfeksie, of enige visionêre skema of sisteem vir ’n ideale perfekte sosiale orde (Gallagher 1964). Maar dit kan ook ’n reaksie op ’n onwenslike sosiale of politieke toestand aandui as ’n tipe manifestasie van die onvervulde hoop en drome van mense sodat “goeie” en “ideale” utopiese konstruksies oorwegend ’n immanente digotomie tussen werklike en verbeelde wêrelde bevat (Dreyer 2001:16).

Van spesifieke belang vir Matiyane se werk is die sosioloog Karl Mannheim (1936:36) se siening van utopie as ’n sisteem wat poog om die huidige situasie te verbeter deur ’n ander stelsel met “goeie” teleologiese uitkomste in die plek van die status quo te ontwerp. As kunstenaar en persoon funksioneer Matiyane binne ’n dominante en kragtige sosiopolitieke struktuur, en sy artistieke ingesteldheid en konseptuele stukrag is tekenend van ’n individu wat ondergeskik staan aan sodanige struktuur.14 In die konteks van sy daaglikse moeilike omstandighede blyk die ooglopend spektakulêr-suksesvolle karakter van groot wêreldstede se argitektuur, motors, modieuse inwoners en winkels met die nuutste produkte ’n globale utopie vir hom te wees; plekke waarheen hy kan ontvlug om van sy moeilike omstandighede en angstigheid te vergeet. Deur meestal stede uit te beeld wat hy nog nooit besoek het nie, druk Matiyane ’n begeerte en ’n verlange na die eksotiese Ander uit, sodat sy verhouding tot plek essensieel deur utopiese transmutasie gekarakteriseer word. Daar is ’n aanduibare verhouding tussen utopiese konstruksie en plesier (Dreyer 2001:26) in die daarstelling van ’n plek van ontvlugting of ’n geïdealiseerde staat van sogenaamde perfekte ontwerp wat geluk kan waarborg. In dié verband word die konsep van die groen tuin (byvoorbeeld eiland- en paradyskonstruksie) en veral streng geordende tuine (Renaissance) ook verbind aan utopie.15

Ironies genoeg is Matiyane se werk ’n reaksie op utopiese apartheidsontwerp wat (eenduidig) daarop gemik was om die geluk en harmonie in die Suid-Afrikaanse samelewing te bewerkstellig. Die kunstenaar skep ’n reaktiewe utopiese uitdrukkingsvorm wat hy in die globale sfeer, maar ook in die Suid-Afrikaanse nasionale arena van die groot stad aktiveer. Die grafiese elemente in sy werk − lyne wat kruis en dwars die ordening en bewoning van die stad, horisonne, asook die verdeling van die grond aandui − word utopiese aanwysers van plek en ruimte. Die fisiese aksie van die trek van die lyn is utopies van aard, deurdat die kunstenaar so te sê die verlede teleologies “trek” na ’n nuwe horison en ’n nuwe plek van vrede, harmonie en geluk. Tog, alhoewel die geografie van plek en die spesifieke moment in tyd in die produksie van sy werk deurslaggewend is, bly sy uitbeelding simulasie eerder as dokumentering.

 

4. ’n Magspel

Suggesties van beheer en mag speel ’n sentrale rol in die werk van Matiyane. Deur middel van die uitbeelding van ’n magtige, imposante stad bemagtig die kunstenaar homself en verkry hy “beheer” oor die stad en die geografie, veral omdat hy dit kan na eie goeddunke doen. Matiyane was nog altyd geïnteresseerd in nasieskap en die magsverhoudings wat in regerings en vennootskappe gesetel is: netwerke en strukture waarmee die kunstenaar homself vereenselwig. Op ’n onlangse uitstalling, Titus Matiyane, Panoramas of the BRICS Capitals (2015),16 het Matiyane byvoorbeeld ses panoramas van die hoofstede van die BRICS-lande uitgestal, insluitende Panorama of Moscow (2015), Panorama of New Delhi (2015), Panorama of Shanghai (2013, figuur 7), Panorama of Rio de Janeiro (2013), Panorama of Gauteng (2014) en Panorama of Africa: Cape to Cairo (2015).17 Matiyane word gefassineer deur politieke spiere en die kommersiële en kulturele masjinerie wat in die groot stede aan die werk is, soos verteenwoordig in beelde van fabrieke, tegnologie en politieke simbole in sy werk.

In die meeste van die kunstenaar se panoramas word ingewikkelde, magtige en vinnige voertuie soos vliegtuie, treine en groot skepe ingesluit wat lang afstande maklik kan oorbrug. Die verbindingslyne en roetes word aangedui, om sodoende die geografie van die aarde te omskep tot ’n globale komplekse netwerk waar gelykheid en ekwivalensie seëvier. In die panoramas is daar verder ook eenwording tussen die sogenaamde Derde en Eerste Wêrelde; ekonomieë en fasiliteite word verenig en merkbare verskille val weg. Grense is byna onsigbaar en gebiede word slegs deur plekbenoeming aangedui. Grensuitwissing vind plaas deur middel van ’n deurlopende of formulistiese styl in die hantering van die verskillende komponente van die panorama en die skep van aaneenlopendheid, byna asof die panorama net as ’n “toevallige” keuse of dwarssnit uit die groter panorama van die wêreld funksioneer. Vanweë die kunstenaar se uitwissing van hiërargieë is daar ook geen merkbare verskille of teenstellings tussen dié wat het en dié wat nie het nie, dus tussen armoede en welvaart nie; en daar is geen angs, verlies of rassediskriminasie nie. ’n Postapartheid, globale psigografie van ruimte word geskep waarin kulturele verskille gelykgemaak word in die uitbeelding van stede en omliggende gebiede. Deur middel van speelse maskerade skep Matiyane vorme van simulakrum deur middel van die uitvoering van kunsmatige, ideale identiteit en grensuitwissing.

Figuur 7. Titus Matiyane, Panorama of Shanghai (detail), 2016. Gemengde media op Fabriano, 120 x 130 cm. Foto: Elfriede Dreyer

Die kunstenaar se uitwissing van grense kan verder vertolk word as ’n bemagtigingsaksie waarin postkoloniale begrensing gedekonstrueer word en ’n nuwe, herontwerpte, gedepolitiseerde wêreld geskep word. Sy werk spreek in dié sin van ’n “ontheiliging” van ruimte in sy panoramas waar teenstellings wegval en die spore van kolonialisme, apartheid en nasiestaat-hiërargieë en die groot verskille tussen Eerste en Derde Wêrelde uitgeskakel en gedekonstrueer word; so ook die binêre verhoudinge tussen ras en plek. Volgens Michel Foucault in Of other spaces (1986:2) bly sekere eietydse ruimtes teoreties steeds “heilig”, ondanks die netwerke van kennis wat die mens in staat stel om dit te begrens of formaliseer. Hiermee bedoel Foucault dat sekere opposisies en teenstellings steeds bly bestaan, soos die verskil tussen private en openbare ruimte, tussen familie en sosiale ruimtes, en ontspanningsruimtes teenoor werksruimte. “All these are still nurtured by the hidden presence of the sacred,” skryf hy (Foucault (1986:2). Daarteenoor gaan Matiyane dissosiatief en analities te werk, byna wetenskaplik, met ’n toeristiese blik18 in die mees radikale vorm, bestaande uit die oppervlakkige indrukke van ’n volkome buitestander wat op die oog af neutraal en gedistansieerd waarneem. Hierdie houding bemagtig hom om te “ontheilig”, radikaal die koers van die geskiedenis te probeer stuur, en selfs aan die verlede te skaaf.

Matiyane se buitestanderkuns is ongeskool en brut, maar gerig op ’n gehoor. In gesprek met die kunstenaar stel hy dit keer op keer dat hy die beroemde en magtige stede as onderwerpsmateriaal kies omdat die kunsversamelaars van die uitgebeelde land, die politieke rolspelers, of die ambassades − “hulle” − daarvan sal hou en die werk sal geniet. As deel van sy kunstenaarsvryheid kies Matiyane meestal die groot en beroemde stede van die wêreld, maar hy beeld ook soms periferale plekke van identiteit uit, byvoorbeeld dorpe soos Soweto en Atteridgeville. Deur soms minder prominente Suid-Afrikaanse stede en dorpe in sy kanon van beroemde stede in te sluit, suggereer die kunstenaar ’n strategie van intervensie wat die paradigmatiese wêreldpersepsie van ’n Afrikastad soos Johannesburg as Derdewêrelds en gemarginaliseerd dekonstrueer. In ’n werk soos Johannesburg, City of Gauteng, sluit Matiyane beelde in van Mandela, die FIFA Wêreldbeker-trofee, O.R. Tambo Internasionale Lughawe en ’n inskripsie wat lees: “The Fifa executive members who hold our future in their hands”. Sy metode word daarom ’n stratageem van magmediasie om die land se instrumente van voordeel uit te lig in die globale sfeer.

In die lig van Matiyane se afhanklikheid van borgskappe en sy bewondering vir mag en magstrukture ontwikkel sy kunstenaarsidentiteit ironies genoeg in ’n konstruksie wat terugverwys na die bekende beskermheerstelsels sedert die antieke tyd waarin die kunstenaar ’n ondergeskikte posisie teenoor magshebbers en werkgewers uit die adelstand, koninklikes en die kerk (byvoorbeeld die Huis van die De Medici in Florence gedurende die 15de eeu) beklee het en die kunswerk dikwels ’n onderhandelbare kommoditeit geword het. As sodanig word die proses van dekonstruering van historiese prosesse van marginalisering en die kunstenaar se diskoers van weerstand gesedimenteer deur dieselfde magstrukture wat dit poog om te weerstaan.

Matiyane word ’n magtige nomade in sy verbeelding; verplaas en diaspories in sy soeke na roem en rykdom deur middel van sy persoonlike fusie met “beroemde” en “suksesvolle” stede. Só word hy bemagtig en verhef uit sy alledaagse bestaan tot ’n globale reisiger met keuses en op verbeelde wyse toegerus met die nodige middele tot ’n virtuele plesiervolle, vrye lewe van wêreldreise. Tog bly die kunstenaar se magspel gemoeid met ’n impotente simulasie van mag deurdat sy werk geen werklike impak op magstrukture kan hê nie, en hy ook geen werklike invloed op utopiese magstelsels kan uitoefen nie. Dit bly ’n kunsmatige verhouding en ’n persepsie met bestaansreg in die verbeelding. Maar, die kunstenaar se visie projekteer optimisme en hoop, en dekonstrueer die opvatting van historiese prosesse as kategories vas en ononderhandelbaar.

 

5. Die panoptikon

In die konstruksie van sy lang, “lopende” multiperspektiefkomposisies skep Matiyane panoptikonagtige ontwerpe waar hy funksioneer as ’n tipe “toesighouer” wat die stad van ’n enkele punt van waarneming verken − sy eie. In 1791 het die Engelse filosoof en sosiale teoretikus Jeremy Bentham, die idee van die panoptikon geformuleer as ’n spesifieke tipe institusionele gebou-ontwerp waar toesig deur ’n enkele wag dit op sodanige wyse moontlik gemaak het dat die totale instansie vanaf ’n enkele gesigspunt verken kon word.19 Bentham se argitektoniese ontwerpe was gemik op die ontwerp van instansies soos tronke of korporatiewe omgewings waar gevangenes of werkers waargeneem kon word sonder dat hulle bewus is daarvan (Bentham 1995:6).20 In sy kritiese beskouing van Bentham se idee van die panoptikon argumenteer Foucault (1995:207–8) dat die panoptikon amplifikasie ten doel gehad het:

[A]lthough it arranges power, although it is intended to make it more economic and more effective, it does so not for power itself, not for the immediate salvation of a threatened society; its aim is to strengthen the social forces − to increase production, to develop the economy, spread education, raise the level of public morality, to increase and multiply.

Foucault (1995:208) argumenteer verder dat die panoptikon hierdie prosesse slegs deur middel van die produktiewe vermeerdering van mag in die fondasies van die gemeenskap wat verband hou met dissiplinering en orde kan bewerkstellig.

Elemente van hierdie Foucaultiaanse politieke anatomie van magsontwikkeling is terug te vind in Matiyane se magsontplooiing op die vlak van stadsplan en -argitektuur as ’n simboliese ontwerp van ordening, op die oog af gedissiplineerd en geregimenteerd. Die kunstenaar poog om postapartheid toestande van demoralisasie te dekonstrueer, maar dit gaan vir hom ook oor die magsvertoon verborge in sy vermoë om ’n uitgebreide, oorsigtelike panoptikon van die stad te kan skep. Foucault (1995:208) verwys na die beroemde beeld van Bentham se sirkelvormige tronkhok, ’n “wetende” toring van mag, wat ooreenkomste toon met Matiyane se toring in sy Panorama of Shanghai, figuur 7. Vir Bentham het die toring gestaan as verbeelding van die perfekte gedissiplineerde instelling met magsimplikasies deur middel van verkenningstrategieë; vir Matiyane funksioneer dit as ’n simbool van die mag self.

Die kunstenaar se onbewuste gebruik van panoptikonperspektief bevestig sy verbeelde magsverhouding met groot wêreldmoondhede, verteenwoordig deur hul stede. Net so, voer die Nigeriese kurator Okwui Enwezor (2004:37) aan, het apartheid se ontwerp van staatsbeheer ’n karakter van panoptiese beheer vertoon, waar ’n “archival and indexical referent […] exists between norms of inscription and exposure, surveillance and disappearance”. Wanneer die utopiese sisteme van mag inskop – soos in die konteks van die panoptikon van apartheid, koloniale imperialisme of ander totalitêre stelsels – word die stelsel onderdrukkend deurdat die eenpuntperspektief en beheer verontmensliking, en in vele gevalle die afwesigheid van empatiese nuanses, veroorsaak. Insgelyks voer David Lyon in The electronic eye: The rise of surveillance society (1994) aan dat industriële omgewings (soos stede) panoptiese gemeenskappe van “toesig” (of liewer “verkenning”) (“surveillance”) geword het deur middel van die konstant vernuwende gevorderde vlakke van tegnologie, en hierby kan ook die elektroniese en digitale omgewings gevoeg word waar digitale soek, delwing en verkenning uitstaande eienskappe is, en ook grotendeels deur ontmensliking gekenmerk word.

 

6. Matiyane die flâneur

Die idee van verkenning en die panoptikon is konseptueel verwant aan die idee van die flậneur, 21 die wandelaar in die stad, wat in die 19de eeu in die Franse digter Charles Baudelaire se werk ontwikkel het, duidelik in byvoorbeeld “Paysage”(uit Les fleurs du mal, 1857),waar die digter vanuit sy soldervenster na “the chimneys, the clock towers, those masts of the city, and the great skies that make one dream of eternity” van die stad staar (Sharpe 1990:41). Meer as ’n 100 jaar later word dieselfde gesigspunt aangetref in die mistige fotografie van Parys in die werk van die kunstenaar-fotograaf Brassaï, eenmaal beskryf as die “oog van Parys”. In sy werk word die fisiese grense van die stad oorskry en word die manlike blik (“gaze”) van die fotograaf getransfikseer op die skoonheid van die stedelike argitektuur en die verborgenheid en dubbelsinnigheid daarvan. Volgens Dreyer en McDowall (2012:41) verwys die manlike blik na die idee dat mans die draers is van die blik en vrouens die onderwerpe daarvan is; manlike plesier vorm deel van hierdie proses. Hulle (2012:31) motiveer die manlike genderaard van die flâneur as volg:

[Men as flâneurs were] privy to unexpected and unplanned sensual encounters on the streets, since the only women on the streets were prostitutes and working girls. It is here that the male gaze comes to the fore, where the flâneur has the opportunity to consume the women on the streets without the necessity of a monetary transaction.

Dreyer en McDowall (2011:9) argumenteer dat die flâneur se vermoë om die stad tot skouspel te reduseer en sy vermoë vir obsessiewe waarneming van kardinale belang is vir die verstaan van die konsep van die flâneur. Hulle argumenteer verder dat die flâneur en die ontluiking van verkenning as ’n integrale deel van die eietydse sosiale lewe analoog is met die ontwikkeling van ’n verbruikersgemeenskap, aangesien verbruiksdata voortdurend deur middel van die verkenning bymekaar gemaak word (2011:6). Hulle voer aan dat soos wat die samelewing van industriële produksie na postmoderne verbruiking beweeg het, laasgenoemde die betekenisvolste kenmerk van die eietydse lewe geword het (2012:31). Die flâneur word aangetrek na die skouspel van die stad en die kommoditeite wat aangebied word en bevind homself in ’n diepgaande massamedia-gemeenskap wat uit simulasies bestaan wat nie noodwendig bevraagteken word deur diegene wat daaraan blootgestel word nie. Die inligtingsoorlading word merendeels verbruik sonder dat betekenis daaruit verhaal word, en as sodanig word die flâneur “a vicarious conqueror, self-confirmed in his mastery of the empire of the gaze while losing his own self in the commodified network of popular imperialism” (Dreyer en McDowall 2012:31).

Deur middel van kartering weerspieël Matiyane se flânerie ’n “verbruiking” van die stadsomgewing en versadig sy geokartering van die stad ’n behoefte aan besitting en oordaad. As flâneur psigoromantiseer hy die stad en swig hy voor die verleidelikheid van die skouspel van die stad as paradys. Sy blik is obsessief, maar as gevolg van sy gestileerde, “onemosionele” vorm van uitbeelding word die skyn gewek dat hy nie betrokke raak by sy gekose onderwerpsmateriaal op morele, sosiale of politieke vlak nie; hy bly skynbaar neutraal en bly niks meer as ’n waarnemende toeskouer nie. Maar Matiyane se vorm van uitbeelding moet eerder as ’n handhawing van ’n posisie van dissosiasie gesien word en as ’n proses van ontvlugting van die problematiese sosiale realiteite van postapartheid Suid-Afrika. Verder stel hy met virtualiteit betekenisvolle verhoudinge op deur sy formele en konseptuele fokus te beperk tot die piktorale ontwerp en detail van sy onderwerp, soos in sy uitbeelding van figure in sy panoramas wat beperk bly tot die dokumentering van openbare beelde soos die Cristo Redentor (figuur 5) en Nelson Mandela as ’n simbool van mag in Panorama of Africa, Cape to Cairo (figuur 8), wat as ’n god of swewende engel in ’n verhewe posisie bo die stad geplaas word. In die konsep van die kunstenaar as flâneur wat die stad uit ’n “verhewe” oorsigtelike, panoptikonposisie waarneem, word die kunstenaar een met die legendariese vorige Suid-Afrikaanse staatspresident en Nobelpryswenner en word hy só uitermate bemagtig.

Figuur 8. Titus Matiyane, Panorama of Africa, Cape to Cairo (detail), 2015. Gemengde media op Fabriano, 120 x 800 cm. Foto: Elfriede Dreyer

Alhoewel flânerie en bemagtigingsaksies in die verbeelding van die kunstenaar geskied, impliseer die aanskouing van Matiyane se panoramas tog ook fisiese flânerie van die aanskouer deurdat sommige van sy panoramas tot 4 600 cm beloop (Panorama of Pietersburg to Sasolburg, 2004) en die totale beswaarlik in ’n enkele oogopslag ingeneem kan word. Dit vereis van die kyker ’n fisiese handeling van loop langs die werk verby, byna soos die flâneur in die stadsomgewing verby ’n winkelvenster of op ’n sypaadjie loop.

Matiyane se skep van lang “loop”-panoramas behels op tweërlei wyse ’n vorm van weerstand en transformasie: eerstens vir die kunstenaar self as ’n proses waarin die feitelike onaangename werklikheid weggeromantiseer kan word in die flânerie-handeling; en tweedens as ’n proses waarin die kyker in die flânerie-handeling deel kan word van die alternatiewe geromantiseerde visie van die kunstenaar en visueel verlei en vermaak word deur die speelse en idiosinkratiese detail van die werk. Ruimtelike ordening binne die raamwerk van sy panoramas bemagtig die ontluiking van alternatiewe ruimtes as dié van die waargenome en beleefde realiteite; dit word gedekonstrueerde, verbeelde ruimtes waarin die toeskouer wegdryf en die gegewe realiteit transformeer.

 

7. Liggaamlikheid en solipsisme

Die verbintenis tussen die menslike liggaam en die beboude omgewing was nog altyd ’n gekonnekteerde en verweefde verhouding. In sy inleiding tot ’n publikasie wat handel oor die definiëring en omvang van die neerslag van die flâneur in hoofsaaklik letterkunde en film, beskryf Robert Wrigley (2014:1) een van die fundamentele eienskappe van die flâneur as ’n “embodiment of the anguished urbanity in retreat from the inhospitable environment of the city and its threatening crowds”. Vir Morris (2006:677) is flânerie ’n vorm van liggaamlike weerstand: hy verwys na Michel de Certeau se The practice of everyday life (1984) in hierdie verband, en hoe van die sleutelbydraes wat laasgenoemde tot kultuurstudies gemaak het, uit sy idee van praktyk as ’n vorm van persoonlike uitdrukking gespruit het. De Certeau se argument in dié verband is dat ruimte en plek nie merendeels neutrale eienskappe van die beboude omgewing is nie, maar dat hulle deur gebruikers en verbygangers geaktiveer word as retoriese praktyke (Morris 2006:677). De Certeau (1984:98) argumenteer soos volg:

[I]f it is true that a spatial order organizes an ensemble of possibilities (e.g. by a place in which one can move) and interdictions (e.g. by a wall that prevents one from going further), then the walker actualizes some of these possibilities. In that way, he makes them exist as well as emerge. But he also moves them about and invents others, since the crossing, drifting away, or improvisation of walking privilege, transform or abandon spatial elements.

Deurdat Matiyane sy werke beliggaam deur “loop”-panoramas te skep en flânerie in die besigtiging van sy werk instigeer, word nuwe ruimtelike verhoudings opgestel en nuwe sosiopolitieke betekenisse van plek gevind.

As liggaamlike aksie van geokartering werk flânerie solipsisties en bewerkstellig op impotente wyse die flâneur se uitgaan van en terugkeer na sy eie liggaam. Matiyane se ingesteldheid as kunstenaar is uitermate solipsisties deurdat hy die wêreld slegs vanuit sy eie standpunt verken en verstaan, en hy skep binne die raamwerk van die beperkinge van sy begrip en kennis van die wêreldstede. Sy eie liggaam skep ’n omlynde werklikheidstruktuur wat die vorm en inhoud van sy kunswerke bepaal, asook sekere interdiksies opstel. Net soos in die geval van menige ander buitestanderkunstenaar is daar in Matiyane se werk ’n elisie of uitstoting van elemente (Maclagan 2010:54) ter wille van ’n mengsel van alfabetiese en piktografiese elemente. Die menigte geografiese, argitektoniese en feitelike “foute” in die uitbeelding van ’n stad spreek van sy solipsistiese benadering, maar skep daarmee saam ook ’n besonder outentieke siening van die stedelike omgewing en die geskiedenis daarvan. In figuur 7 word groot stede soos Pretoria en Johannesburg byvoorbeeld gereduseer tot minuskule skematiese strukture as gevolg van die dramatiese verhoging in hoogte-perspektief. Elisie in hierdie werk is konseptueel gemotiveer, aangesien nuwe hiërargieë opgestel word met Mandela as regerende god vér bo die landskap as boonste vlak. Tog bly die suggestie van die kunstenaar wat as skepper en as “toesighouer” nog hoër rangorde as selfs Mandela geniet.

Matiyane se solipsistiese kunsmaakproses behels ’n hoë graad van outomatisme waarin transpersoonlike faktore tot die konfigurasie van die proses toetree. Maclagan (2010:54) argumenteer dat wanneer kuns nie noodwendig gemik is op ’n toeskouer nie en eerder solipsisties funksioneer, dit wil sê, gemik is op die selfvervulling van die kunstenaar se eie doelwitte, bly dit nog steeds ’n proses van buite die self te beweeg en ’n artefak met ’n eie identiteit en outonomie te produseer. Volgens Maclagan bly daar dus ’n operasionele paradoks, omdat die werk van buitestanderkunstenaars – soos Matiyane – ondanks soms uiterse afsondering nog steeds gemik is op ’n gehoor van die een of ander aard.

 

8. Ten slotte

Deur middel van die ondersoek van verskeie van Titus Matiyane se panoramas het dit duidelik geword dat sy panoramas as ’n verbeeldingryke vorm van flânerie ideologies en utopies van aard is. In sy werksproses word Matiyane van sy alledaagse bestaan vervreem en as kunstenaar word hy virtueel gewerp in ’n transnasionale, globale maar kunsmatige identiteitswenteling wat met mag en grensloosheid flankeer. Deur die grense van die self en die plaaslike omgewing te oorskry in sy uitbeelding van stede en omliggende gebiede op verskillende vastelande, daag Matiyane die idee van puristiese identiteit uit en stel hy globale, transnasionale identiteit in die plek daarvan as ’n kenmerkende eienskap van eietydse kultuur gegrond op die tegnologiese verbruikerskultuur. Die alledaagse werklikheid verdwyn in sy panoramas in ’n reduksionistiese simulakrum van oënskynlike utopiese eksotisme en glans waarin die kunstenaar as flâneur die stad besigtig, virtueel besoek en deurwandel. Só kan Matiyane dan onomwonde as ’n virtuele flâneur van die stede van die wêreld en ’n kartograaf van verbeelde ruimte beskou word.

As ’n buitestanderkunstenaar vertolk hy op eerlike wyse die eietydse Suid-Afrikaanse sosiopolitiek en druk hy ’n begeerte na globale wording en transendensie uit; meer nog, hy skep ’n verbeelde simulakrum deur middel van sy panoramas om hierdie prosesse te realiseer. Alhoewel hy buite om die akademiese-opleidingsfeer in die visuele kunste asook buite die grootste gedeelte van beide die eietydse én die kunshandwerkbedrywe funksioneer, is sy werk konseptueel en vertoon dit ooreenkomste met dié van ander internasionale kunstenaars wie se werk nomadiese eienskappe in konsep en inhoud artikuleer. Deur die skepping van sy unieke en “heilige” ruimtes − uitbeeldings wat ander episteme, insigte en narratiewe bring – kan Matiyane dus met reg as ’n uitnemend outentieke stem in die dekoloniale vestiging van Afrikaïese moderniteit geag kan word.

 

Bibliografie

Asselin, O., J. Lamoureux en C. Ross (reds.). 2008. Precarious visualities: new perspectives on identification in contemporary art and visual culture. Montreal, Kingston, Londen, Ithaca: McGill-Queen’s University Press.

Baudrillard, J. 2001a.Simulacra and simulations. In Poster (red.) 2010.

—. 2001b. The illusion of the end. In Poster (red.) 2010.

Behrent, M.C. 2013. Foucault and technology. History and Technology, 29(1):54–104.

Bentham, J. 1890. Utilitarianism. Harvard: Progressive Publishing Company.

—. 1995. The panopticon writings (Radical thinkers). Inleiding deur M. Božovič. Gebaseer op Panopticon; or The inspection house, 1791. Londen, New York: Verso.

Bloch, E. 1986. The principle of hope. Volume 1. Vertaal deur N. Plaice e.a. Oxford: Blackwell.

Briganti, G. 1970. The view painters of Europe. Londen: Phaidon.

Brodie, D. en O. Enwezor. 2004. Personal affects. Power and poetics in contemporary South African art. New York: Museum for African Art; Kaapstad: Spier.

Colbert, B. 2004. Bibliography of British travel writing, 1780–1840: The European tour, 1814–1818 (excluding Britain and Ireland). Romantic textualities: Literature and print culture 1780–1840, 13 (Winter). http://www.romtext.org.uk/articles/cc13_n01 (18 Februarie 2016 geraadpleeg).

DaCosta Kauffmann, T.D. en E. Pilliod (reds.). 2005. Time and place: the geohistory of art. Hants, Burlington: Ashgate Publishing.

De Certeau, M. 1984. The practice of everyday life. Vertaal deur S.F. Rendall. Berkeley: University of California Press.

Dehaene, M. en L. De Cauter (reds.). 2008. Heterotopia and the city: Public space in a postcivil society. Londen, New York: Routledge.

Dreyer, E. 2001. Dystopia and artifice in late twentieth-century visual culture. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Pretoria: Unisa.

Dreyer, E. en E. McDowall. 2012. Imagining the flâneur as a woman. Communicatio, 38(1):30–44.

Enwezor, O. 2004. Contemporary South African art at the crossroads of history. In Brodie en Enwezor 2004.

Foucault, M. 1986 [1984]. Of other spaces: Utopias and heterotopias. Vertaal deur J. Miskowiec. Diacritics, 16(1):22–7.

—. 1995 [1977]. Discipline and punish. The birth of the prison. Vertaal deur A. Sheridan. New York: Vintage Books.

Gallagher, L. 1964. More's UTOPIA and its critics. Chicago: Scott Foresman.

Gates, H.L. (red.). 1986. “Race”, writing, and difference. Chicago, Londen: University of Chicago Press.

Huigen, S. 2009. Knowledge and colonialism: Eighteenth-century travellers in South Africa. Leiden, Boston: Brill.

Johnson, P. 2012. The Eden Project – Gardens, utopia and heterotopia. Heterotopian Studies. http://www.heterotopiastudies.com/wp-content/uploads/2012/05/4.2-The-Eden-Project-pdf.pdf (4 Mei geraadpleeg).

Maclagan, D. 2010. Outsider art: From the margins to the marketplace. Londen: Reaktion Books.

Mannheim, K. 1991 [1936]. Ideology and utopia. Oorspronklik in 1936 gepubliseer met ’n voorwoord deur L. Wirth. Die 1991-uitgawe se voorwoord is deur B.S. Turner. New York, Londen: Routledge.

McDowall, E. 2011. The flâneur in contemporary society with special reference to the work of Francis Alÿs. Ongepubliseerde magisterverhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

Ming Wai Jim, A. 2008. Mediating place-identity: notes on Mathias Woo’s A very good city. In Asselin e.a. 2008.

Morris, B. 2004. What we talk about when we talk about “walking in the city”. Cultural Studies,18(5):675–97.

Poster, M. (red.). 2001. Jean Baudrillard: Selected writings. Cambridge: Polity.

Pratt, M.L. 1986. Scratches on the face of the country; or, What Mr. Barrow saw in the land of the Bushmen. In Gates (red.) 1986.

—. 1992. Imperial eyes. Travel writing and transculturation. Londen: Routledge.

Sharpe, W. 1990. Unreal cities urban figuration in Wordsworth, Baudelaire, Whitman, Eliot, and Williams. Baltimore, Londen: The Johns Hopkins University Press.

Shields, R. 1994. Fancy footwork: Walter Benjamin’s notes on flânerie. In Tester (red.) 1994.

Slavery in South Africa. 2016. Iziko Slave Lodge. http://slavery.iziko.org.za/slavelodgelivingconditions (2 Oktober 2016 geraadpleeg).

Smith, N. 2015. Emancipation and "the Great Wheel of Labour": enduring liminality in Rayda Jacobs's The Slave Book (1988) and a painting of two slave women (1859) by Thomas Baines. English in Africa, 42(3):71–88.

Tester, K. (red.). 1994. The flâneur. Londen, New York: Routledge.

Urry, J. 1990. The tourist gaze: leisure and travel in contemporary societies. Londen: Sage.

Wrigley, R. (red.). 2014. The flâneur abroad: Historical and international perspectives. Newcastle upon Tyne: Cambridge Scholars Publishing.

 

Eindnotas

1 By die 2016-Outsider Art Fair in Parys (http://www.outsiderartfair.com/outsider_art) word daar in terme van buitestanderkuns terugverwys na art brut soos wat die Franse kunstenaar en kurator Jean Dubuffet dit in sy 1947-manifes geformuleer het. Hy beskryf dié kuns as werk wat deur mense gemaak is wat onaangeraak deur artistieke kultuur is; waar nabootsing geen rol speel nie; en waar kunstenaars alles uit hul eie dieptes delf en nie uit die konvensies van klassieke of modieuse kuns nie. Roger Cardinal meen in Outsider art (1972) dat ’n kritieke faktor in die bepaling van buitestanderkuns is dat daar ’n ekspressiewe impuls moet wees wat ongemonitor is in terme van konvensionele kunshistoriese kontekstualisering.

2 DaCosta Kaufmann is die Frederick Marquand-professor van kuns en argeologie aan Harvard-universiteit.

3 In Time and place: The geohistory of art verskaf DaCosta Kauffmann (2005:4) ’n breë oorsig van die ontwikkeling van kunsgeografie as ’n vertakking binne kunsgeskiedenis as dissipline. Hy verduidelik hoe kunsgeografie verweef is met die denke van die 19de eeu, soos byvoorbeeld nasieskap en positivisme, en die vestiging van talle wetenskappe. Kunsgeografie het ontstaan as Kunstgeographie, wat gepoog het om monumente te verstaan in die konteks van die fisiese, kulturele, nasionale, etniese en rasse-elemente wat die kuns en argitektuur van die tyd onderlê het. Kunstgeographie het ook verbande met Anthropogeographie getoon, soos veral in die werk van Friedrich Ratzel en sy konsep van Lebensraum (DaCosta Kauffmann 2005:4), en in die vroeë 21ste-eeuse kunsgeskiedeniskonsepte soos Kunstlandschaft en Kulturlandschaft ingesluit (DaCosta Kauffmann 2005:7). Ander merkwaardige historici in hierdie verband was Focillon, Kubler en Braudel.

4 Die Tributaries-uitstalling, gekureer deur Ricky Burnett in 1985 en deur BMW geborg, was die eerste Suid-Afrikaanse manifestasie van ’n poging om die werk van swart kunstenaars − van beide plattelandse en stedelike herkoms − in ’n nasionale, eietydse uitstalling in te sluit.

5 Matiyane het o.a. in 2007 en 2008 ’n wêreldtoer van sy werk onderneem met ’n uitstalling getiteld Cities of the World, wat vanaf Delft in Nederland tot Aedesland in Berlyn en die Nasionale Museum van Mali in Bamako plaasgevind het. Hy het ook in 2015 aan die Pretoriase Kunsbiënnaal, Cool Capital, deelgeneem en sy werk is verskeie kere in Johannesburg (by Museum Africa en die UJ-galery) asook by Fried Contemporary Kunsgalery en Studio in Pretoria uitgestal. Sy werk is in die meeste gevalle deur my gekureer.

6 Verwys byvoorbeeld na Thomas Bowler, Train crossing Berg River bridge (Western Cape) (s.j.). Versameling: Ellerman House, Kaapstad. (https://commons.wikimedia.org/wiki/File:Thomas_Bowler09.jpg).

7 Siegfried Huigen (medeprofessor van Nederlandse letterkunde en kultuurgeskiedenis in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, asook die Erasmus-voorsitter van Nederlandse filologie aan die Universiteit van Wroclaw) het wyd oor vroeg-moderne uitbeeldings van die ekstra-Europese wêreld gepubliseer.

8 Boyle was ’n Anglo-Ierse natuurfilosoof, chemikus en fisikus en een van die pioniers van die wetenskaplike metode.

9 Huigen (2009:77) staaf sy stelling soos volg:

In 1673, for example, Boyle had been willing to revise his views on the origin of ambergris on the basis of a VOC report that had been captured by English pirates. The journal stated that ambergris did not originate from the “excrements” of a whale, but from a tree of which the roots extended into the sea and secreted a resin that rose to the surface. Boyle had to admit that this report was incomplete because it did not discuss the question whether all types of ambergris were formed in this manner.

10 Om presies hierdie redes is die ekspedisiejoernale van Hendrik Hop (1716–1771), ’n “burgher-kaptein” van Simon van der Stel, as van groot waarde geag (Huigen 2009:76).

11 Op 21 Maart 1960 het ’n groep van tussen 5 000 en 10 000 inwoners van Sharpeville as ’n protesaksie by die polisiestasie vergader om hulself aan te gee aangesien hulle nie wou pasboeke dra nie.

12 In die plek van rasgebaseerde identiteitskaarte, soos wat in Suid-Afrikaanse pasboeke aangetref word, het Bataafse apartheid ook sekere kleredragkodes voorgeskryf. Soortgelyke voorskrifte word gevind in Suid-Afrikaanse koloniale uitbeeldings, byvoorbeeld in die ekstraklein slawefiguur in Train crossing Berg River bridge (Western Cape) wat uitgeken word aan sy spesifieke hoed wat vir slawe voorgeskryf was nadat hulle Hollands bemeester het (Slavery in South Africa 2016) en hy dra skoene en het ’n wandelstok, wat beteken dat hy vrygestel is. Die slaaf is op pad na ’n nuwe lewe met die landskap wat groot en oop voor hom lê. Die plek-identiteit spreek duidelik uit die spesifieke geokartering in hierdie werk waarin die geskiedenis en die mens se plek en lot daarin revisionisties ontvou kan word. Robert Cowherd (in Dehaene en De Cauter 2008:276) argumenteer dat afgesien daarvan of die Hollanders apartheid uitgedink het en of dit van die inheemse kulture wat hulle onderdruk het, “afgekyk” het, bly een van die mees ekstreme demonstrasies van ruimtelike segregasie steeds dié van 16de- en 17de-eeuse Batavia. Vir meer as ’n eeu het dié Hollandse maatskappy inheemse volke verbied om Batavia binne te kom – selfs as slawe – om sodoende rebellie te probeer voorkom. Hierdie verdelingsmetode is ook in ander kolonies gevind en het eeue later in die berugte apartheidsisteem van Suid-Afrika ontwikkel.

13 Thomas More se 1516-publikasie De optimo reipublicae statu deque nova insula utopia word algemeen beskou as die literêre oorsprong van die term utopie (Runes 1960, sv. utopia). Neologisties beteken die woord utopie beide ’n plek van geluk en perfeksie (Gr. eu-topos) en ’n plek wat nie bestaan nie (Gr. ou-topos) (Dreyer 2001:17).

14 Soos aangetref in afbeeldings en geskrifte oor Arkadië, Utopie, Elders en die Ander Wêreld, is die idee van die stad as ’n aangename skouspel in werke soos Jonathan Swift se Gulliver's travels (1726) geartikuleer. Net so het die Britse reisskrywer William Coxe (Briganti 1970:227) in 1778 geskryf: “As I walked about this metropolis I was filled with astonishment upon reflecting, that […] the views upon the banks of the Neva exhibit the most grand and lively scenes I have ever beheld.”

15 Die vormende invloed van Plato, Vitruvius en ander klassieke skrywers op Renaissance-argitekte en -stadsbeplanners dwarsdeur Europa het gemanifesteer in die ontwerp van “ideale” stede en was gebaseer op ideale menslike proporsies, orde, balans en geometrie; tuine was deel hiervan. ’n Bekende spesialis op die gebied van utopiese studie, Peter Johnson (2012:1), argumenteer dat die ontwerp van ’n tuin op sigself ’n afbeelding is van die wêreld waarin dit geskep word, en in die geval van utopie-konstruksie word dit ’n ruimte van simulasie van paradysagtige toestande, ’n plek van andersheid waar drome gerealiseer kan word in die uitdrukking van ’n beter wêreld. Johnson (2012:1) verwys na die sentrale plek van die tuin in Thomas More se geskrifte en hy haal Ernst Bloch aan in sy stelling dat in More se utopie “life is a garden” (Bloch 1986:475). Die tuin figureer sterk in Foucault (1986 [1984]:27) se filosofie, veral tuine met ’n spesifieke formasie, soos botaniese tuine as voorbeelde van Foucault se “heterochronia”.

16 Deur E. Dreyer van 7 Oktober tot 11 November 2015 by die UJ-galery gekureer.

17 BRICS is die akroniem vir die utopiese broederskap van vyf groot ontluikende nasionale ekonomieë, naamlik Brasilië, Rusland, Indië, Sjina en Suid-Afrika. Die BRICS-lande vorm ’n magsplatform deur vennoot- en bondgenootskappe, en deur 42% van die wêreldbevolking uit te maak − dus met potensieel heelwat mag ter beïnvloeding van die wêreld se stand van sake. Bilaterale verhoudinge tussen die BRICS-nasies word hoofsaaklik op die basis van geen inmenging, ekwivalensie en gemeenskaplike voordeel gesmee, en dit word algemeen geskat dat die gekombineerde GDP (BBP) van BRICS teen 2020 VSA$50 triljoen sal haal.

18 John Urry het bekendheid verwerf vir die skepping van die uitdrukking “tourist gaze” in The tourist gaze: leisure and travel in contemporary societies (1990).

19 Die term panoptikon is van Panoptes in die Griekse mitologie afgelei wat die verhaal vertel van ’n reus met ’n honderd oë en wat as ’n baie goeie bewaker bekendgestaan het. Bentham se idee van die panoptikon vorm die dominante inspirasie vir Michel Foucault se idee van mag. Foucault (1995:197–8) argumenteer soos volg:

Hence the major effect of the Panopticon: to induce in the inmate a state of conscious and permanent visibility that assures the automatic functioning of power. So to arrange things that the surveillance is permanent in its effects, even if it is discontinuous in its action; that the perfection of power should tend to render its actual exercise unnecessary; that this architectural apparatus should be a machine for creating and sustaining a power relation independent of the person who exercises it; in short, that the inmates should be caught up in a power situation of which they are themselves the bearers. To achieve this, it is at once too much and too little that the prisoner should be constantly observed by an inspector: too little, for what matters is that he knows himself to be observed; too much, because he has no need in fact of being so. In view of this, Bentham laid down the principle that power should be visible and unverifiable. Visible: the inmate will constantly have before his eyes the tall outline of the central tower from which he is spied upon. Unverifiable: the inmate must never know whether he is being looked at at any one moment; but he must be sure that he may always be so. […] The Panopticon is a machine for dissociating the see/being seen dyad: in the peripheric ring, one is totally seen, without ever seeing; in the central tower, one sees everything without ever being seen. It is an important mechanism, for it automatizes and disindividualizes power.

20 Bentham se idees het as voorloper gedien vir 20ste-eeuse tegnologie soos geslotebaan-televisie (CCTV).

21 Volgens Tester (1994:1) kan die term flâneur (van die Franse werkwoord flâner wat “wandel” beteken) as ontwykend beskryf word as gevolg van die historiese posisie daarvan tussen moderniteit en postmoderniteit. Alhoewel Walter Benjamin die begrip eers in 1983 ontwikkel het ná bestudering van Baudelaire se werk (Tester 1994:3), het die idee van die flâneur as die moderne manlike wandelaar as ’n produk van moderniteit gedurende die 1950’s in Parys verder begin ontwikkel. Laurent Turcot (in Wrigley 2014:41) handhaaf ’n puristiese standpunt met betrekking tot die flâneur en voer aan dat die flâneur uit en uit ’n Paryse verskynsel was en spesifieke betrekking op ’n kultuurhandeling van wandeling in die Franse 19de-eeuse samelewing het. Sodanige historiese ankering is korrek, maar maak nie voorsiening vir verdere mitologisering of metaflânerie of pseudoflânerie-aktiwiteite nie. Mazlish (1994:43) byvoorbeeld interpreteer die flâneur meer breedweg as “the ‘spectator’ of the modern world”.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Titus Matiyane, kartograaf en transnasionale flâneur appeared first on LitNet.

Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek

$
0
0

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl het van 8 tot 11 Mei 2017 die Noord-Kaap besoek om inwoners se stories op te teken. Janine Brown en Isabeau Botha vertel meer vir Menán van Heerden.

Waar kom die idee vir hierdie projek vandaan?

Ons wil graag ons museumversameling uitbrei om meer verteenwoordigend te wees van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se taalerfenis. Die opteken van mondelinge oorlewering speel ’n belangrike rol in die bewaring van ’n taal en sy geskiedenis, veral om voorheen onvertelde en ongedokumenteerde geskiedenisse in te sluit. Dit sluit in om aan gemeenskappe en mense wat nie voorheen ’n stem gehad het nie, die geleentheid te bied om hulle stories te vertel. Ons wil ook graag gemeenskappe en skole bewus maak van die belangrikheid van storievertelling en mondelinge erfenis as ’n navorsingsmetode. Ons het tydens ons twee navorsingstoere na die Noord-Kaap ook as deel van ons leesprojek Laat ons Lees! 200 boeke aan elk van 11 laerskole geskenk (in samewerking met Biblionef) en by sewe van die skole ’n opvoedkundige program aangebied.

 Wat is die fokus van hierdie projek?

Dit vorm deel van ’n groter mondelinge-oorlewering-projek om die Noord-Kaapse kultuur en erfenis uit te bou en te bewaar deur middel van boekstawing. Die ATM het reeds stories in die Emthanjeni-, Renosterberg-, Kamiesberg-, Siyathemba-, Gamagara-, Thembelihle- en Siyancuma-munisipaliteite, asook in Orania, versamel.

Willem Seekoei en Isabeau Botha by die Noord-Kaap Taalmuseum in Petrusville (Foto: Janine Brown)

Waarom fokus die projek op die Noord-Kaap?

Eerstens is Afrikaans die grootste moedertaal in die Noord-Kaap (53,8% van 1,1 miljoen inwoners). Ons ervaring is egter dat tweede- en derdetaalsprekers in die Noord-Kaap Afrikaans goed magtig is, dit daagliks gebruik en ’n baie positiewe verhouding met Afrikaans as taal van bemagtiging het. Tweedens is daar baie onvertelde stories in die Noord-Kaap wat nog nie opgeteken is nie – stories wat verlore gaan soos wat dorpe kwyn en verdwyn, mense wegtrek en ouer mense (tradisioneel die storievertellers) nie meer die stories oor die ou dae kan vertel nie.

Het die ATM al sulke projekte onderneem, en beplan die ATM soortgelyke projekte vir die toekoms?

Ons het reeds verskeie mondelinge-oorlewering-projekte aangepak, waaronder die opteken van stories in Drakenstein in 2013 (in samewerking met Paarl Museum), in Porterville in 2013 ter viering van dié dorp se 100-jarige bestaan (in samewerking met Jan Danckaert Museum), asook kruiestories in die Langebergstreek in 2014 (in samewerking met Montagu Museum). Ons het ’n boekie oor elke projek gepubliseer wat gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is.

In 2013 het ons ’n spesiale mondelinge-oorlewering-projek in samewerking met Esselenpark Primêr op Worcester ter viering van hul 60ste bestaansjaar onderneem. Dié projek is in 2015 by die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport se 2015-Kultuursake-toekennings as die Beste Nuwe Museumprojek bekroon.

Die skoolkurrikulum vir graad 4 sluit die saamstel van ’n museumuitstalling in. Ons het die skool se graad 4-leerders bygestaan om ’n interaktiewe museumuitstalling van alledaagse voorwerpe oor hul skool saam te stel, met byskrifte om daaraan betekenis te gee. Hulle moes verskillende vorme van inligting, waaronder foto’s, versamel. Hulle moes ook onderhoude met oudleerders en –opvoeders voer. Ons het die skool gereeld besoek om met onderhoudvoering te help en het ook ’n boekie oor die projek saamgestel (wat ook gratis op die ATM se webwerf beskikbaar is).

Ons beplan om in die toekoms mondelinge oorlewering in ander provinsies op te teken, onder andere in die Oos-Kaap. Ons wil ook ter viering van die ATM se 45-jarige bestaan in 2020 die storie van die ATM deur die oë van gewone mense, veral mense wat destyds by die oprigting en beginjare betrokke was, vertel.

Hoe gaan die stories bewaar word?

Al die stories word op video opgeneem en getranskribeer, waarna dit volgens temas ingedeel word. Alle materiaal, waaronder ook foto’s, word in die ATM se argief opgeneem. Ons het ook reeds taalverskynsels uit die Kamiesbergstreek in ons museumuitstalling en opvoedkundige programme ingesluit.

Ons beplan om temagebonde artikels op ons webwerf en op ander platforms, waaronder ons portaal op LitNet, te publiseer. Ons hoop om later ’n versamelbundel uit te gee.

Wie se stories het julle die meeste opgeval?

Die temas wat ons telkens in die Noord-Kaap raakloop, sluit in:

  • water (waaronder stories oor droogte, die waterslang, windpompe, putte, fonteine en boorgate)
  • koserfenis (waaronder disse, resepte en gaarmaakmetodes eie aan sekere dorpe en streke)
  • taalidentiteit (nuutskeppings, streekstaal en variëteite) en volkswoordkuns (byname, speletjies en gesegdes)
  • vervoer as lewensaar (hoe mense en dorpe (én spookdorpe) se wel en weë deur die spoorweë en paaie beïnvloed is).

Ons het wonderlike mense ontmoet wat elkeen ’n unieke storie te vertelle het. Soos oom Jan Mitchell van Olifantshoek wat vertel hoe hulle kleintyd tameletjie in ’n miershoop gemaak het; tannie Siena (Nannie) van Nel van Prieska met haar pa se kabaailiggie uit die myn en haar lekker lag oor haar eie vrylampie; oom Willem Olivier (oom Voël, omdat hy so vinnig kan werk) van Marydale met sy unieke posbus en deurklokkie; oom Johannes Blaauw (oorspronklik van Putsonderwater) wat verduidelik hoe ’n mens skilpad gaarmaak; en oom Flip Crouse, voormalige burgemeester van Kuruman, wat sy herinneringe aan sy ontmoeting met Nelson Mandela met ons deel. En op Orania het Joost Strydom vir ons nuwe woorde soos kiepkoepel (’n verskuifbare hoenderhok), swartbontes (Liqourice All Sorts) en flitspen (highlighter) geleer.

Siena van Nel (Nannie) van Prieska met haar pa se kabaailampie (Foto: Isabeau Botha)

Willem Olivier (Voël) van Marydale en sy tamatieblikkie deurklokkie (Foto: Isabeau Botha)

Janine Brown en Johannes Blaauw in Marydale (Foto: Isabeau Botha)

Op 8 September 2016, Wêreldgeletterdheidsdag, het Mervyn Swart ons genooi om ID du Plessis se graf te besoek op die plaas Houtkraal buite De Aar.

ID du Plessis se graf (Foto: Isabeau Botha)

Buite Philipstown op die plaas Rooipoort (waar hulle eers in 1994 krag gekry het) het ons die heerlikste ingelegde kwepers geëet en is ons huis toe met resepte vir pofadder, skaappeertjies en ystervark. Op Hanover het ons verneem dat jy ystervarkpenne moet fynmaak en die poeier in water kan drink as hulp vir pyne. 

Op Rooipoort is ons vertel van ’n weduwee wat gesê het dat sy nie weer man gaan vat nie, want “’n donkie wat deur die Here uitgespan is, mag geen mens weer inspan nie”. Regina Seekoei op Petrusville het weer vertel van Oumie Berta Cramer wat ná haar man se afsterwe gesê het: “My oorle man is dood, nou kan ek ook die askoek dans.”

Ons het baie weergawes van stories oor die waterslang opgeteken; ook op Petrusville, waar ’n regte slang (darem agter glas) die slaghuis se weergawe van ’n alarm is!

Wat ’n mens oral opval, is die vriendelikheid van mense ten spyte van groot werksloosheid, armoede en probleme soos drankmisbruik. ’n Plaasnaam soos Wet en Orde is in sterk kontras met ’n woonbuurt genaamd Vullisgat. Ons was saam hartseer oor museums en skole wat toegemaak het en skoolkoshuise wat vervalle staan terwyl plaaskinders ten duurste op die dorp moet loseer of kilometers ver elke dag taxi moet ry.

Ons besoek landelike skole waar die skoolklok soos in die ou dae steeds met die hand gelui word, waar (amper ook soos in die ou dae) 50 kinders van vier verskillende grade in een klas is (dit wil gedoen wees!), maar, dankie tog, darem net stories oor leie en griffies!

Die Noord-Kaap voel dus omtrent soos die A tot Z van Afrikaans, amper soos oom Flippie de Bruin se optekening van hoe hy en die ander kinders op Olifantshoek tussen 1920 en 1930 die alfabet geleer het (oorvertel deur Sarah du Pisanie):

A is ’n aap
B is ’n bees
C was amper ’n sekel gewees
D is ’n donkie hy skop agter op
E is ’n eend met ’n bles voor die kop
F is Flippie met die pyp in die mond
G is ’n graaf om te spit in die grond
H is ’n huisie waar ’n vuurtjie in brand
I is ivoor ’n olifanttand
J is ’n juk vir die osse se nek
K is ’n kalfie wat nog later moet trek
L is ’n lepel
M is ’n mes
N is die naam van ’n voëltjie se nes
O is ’n oor
P is ’n perd
Q is sommer ’n o met ’n stert
R is ’n roos
S is ’n slang
T is ’n tier wat ’n kalfie wil vang
U is ’n uurwerk ons noem dit ’n klok
V is ’n varkie hy staan in die hok
W is ’n wolkie daar bo in die lug
X is ’n kruisie hy lê op sy rug
Y is ’n yster hy deug vir ’n paal
Z kry ons min in die Afrikaanse taal.

Wel, interessante stories kry ons baie in die Afrikaanse taal, veral in die Noord-Kaap! Elke dorp in die Noord-Kaap is ’n stowwerige skatkis van stories, elke grondpad lei na verrassings soos hanskoedoes, San-tekeninge en geen selfoonontvangs; elke mens wat jy ontmoet is ’n hele wêreld wat wag om ontdek te word. Soos een tannie gesê het: sy is dankbaar vir ons kuier en ons moeite met die projek, want dit “prikkel jou geheue”.

Die Noord-Kaap Taalmuseum in De Aar (Foto: Isabeau Botha)

Waterslang-stories

– Nog ’n ding van die slang: Ons was altyd bang – ons het maar net gehoor die oumense praat mens nou maar bang. Jong, die slang bly hier bo by die tweelingdam. Baie van die kinders het altyd gesê: “Jong, daar’s ’n slang, ’n waterslang.” Nou wil ek mos altyd weet hoe lyk dié waterslang. Dan sê sy: “Dis so ’n lang, dik slang met ’n menskop en dan is sy lyf soos ’n vis.”

Maar eendag is ons nou nuuskierig en wil nou die slang sien. Maar toe ons nou daar kom – jy sien maar net die water. Maar ek het nog nooit werklik die slang gesien nie, ook as ons altyd so rivier toe gaan. Eenkeer het ons daar by Vanderkloof se vakansieoord by die munisipaliteit gaan uitkamp. Toe was daar ’n jong kind ook geverdrink daar. Daar waar die bote afgaan. Toe hoor ek: “Nee, dis die slang wat hom daar so afgedruk het.”

Maar ons het hom nog nie self gesien nie. En as die water ook so onstuimig word, dan sê die mense mos: “Hy’s nou kwaad vir jou wat hom nou kom henner het en hy soek nou een van julle.”

Soos juffrou Beerwinkel sê: “In die wolke in. Dan sien ons maar die wolk wat gaan. Dan sien jy die wolk wat in die vorm van ’n stert afhang, dan sê hulle: ‘Die slang gaan nou ’n bietjie weer hier oor.’” – Maria Wilson, Petrusville

– My plaasmense wat saam met my gewerk het, was nogal bygelowig, reeds oor die fontein wat daar is. Die fontein het agt boorgate en hulle is uitgegrou. As jy nou binne die fontein staan, hy’s twee meter afgegrou tot op die bank, soos die oumense gepraat het van “op die vaalbank”. Dis op die harde ystergrensbank. En nou elke jaar val die grond in, en dan verswak die fontein, dan moet jy dit weer oopgrawe.

Toe’t my pa nou besluit tot hiertoe en nie verder nie, want dit vat omtrent veertien dae van jou tyd om dit weer oop te grawe. Toe gaan bou hy sulke sementkaste reg rondom die agt boorgate, en gooi vir hom concrete bo-oor, met ’n inspeksiegat wat jy kan inklim. En elke jaar moes ek nou daar inklim en dan loop ek en dan haal ek al die wortels uit.

Op ’n dag toe is ek en my mense nou weer daar – ons moet skoonmaak en so. Die een moet inklim, die wortels binnekant afbreek en aangee vir een, hy gee dit bo by die gat uit. Ek het die grap gemaak: “Wie klim vandag saam my hierin; jy moet net pasop vir die waterslang.” Dit was die einde gewees. In my 20 jaar wat ek daar geboer het, het ek alleen daarin geklim. Ek praat van maklik ’n 100 meter. Dit is ’n concrete-kas wat jy moet in loop. En omdat ek gesê het “Julle moet oppas vir die waterslang” en eintlik net ’n grap gemaak het, was dit my lot gewees. Vir 20 jaar het ek alleen daar ingeklim en daai wortels uitgehaal. My mense het gesê nee, hulle klim nie daarin nie, want die baas het gesê daar is ’n waterslang. – Johan van der Walt, Petrusville

In die omgewing van Petrusville het ons telkens verwysings na “dumplings” raakgeloop, ook genoem “waterbrood”, “pollekoek” en “dompeling”.

In die middae as ons uit die skool uitkom, was daar van die maats se ma wat so ’n groot pot gehad het, dan het sy geknie en dan het sy waterbrood gemaak. Wanneer ons nou gaan vir onse speletjies en dinge, dan kom vat elkeen net vir hom ’n stuk van daai waterbrood. Baie lekker.

Waterbrood

Jy kook die water en sit bietjie vet in dat die brood nie kan vasbrand nie en dan as jy hom klaar geknie het, dan vat jy vir hom bolle, sit dit in. Lekker groot bolle, sit dit in. So drie of vier sit jy in die pot in. Dan kook daai brood nou met die water. Ander het stokkies ingesit lat die brood nie kan onder vasbrand nie. En met die water dan word die deeg nou so gaargemaak. – Regina Seekoei, Petrusville

Springbokpeertjies

Ons noem dit sommer Karoo mushrooms. Ons eet hom maar. Maar as jy hom eenmaal geëet het, dan weet jy hoe dit proe. Baie ryk. Hy word baie mooi voorberei, baie mooi skoongemaak. En dan het my ma (Ina van der Walt) dit in krummels gesit en in die olie gebak. En daai Amerikaners eet vir jou, want hulle kom honger uit die veld uit. En vanaand dan, môreoggend, hoor jy maar die ou was siek gewees, so hy’s baie ryk. – Corné Stottelaar, Petrusville/Vanderkloof

Springbokpeertjies, skaapstertjies en ystervark rugvel resepte
Uit Doornfontein, Ina van der Walt se wildsvleisresepte

Springbokpeertjies
(of as die ramme te min was, kry skaappeertjies by Jurie by die slagpale)

Skil af tot dit wat jy in jou hand het, soos gemaalde varkvleis lyk! Sny in 1,5 cm-blokkies en laat lê so bietjie in koue soutwater. Die enigste metode van gaarmaak wat ek ken, het ’n Amerikaner my geleer!

Maak deeg aan: 2 koppies bruismeel, sout en swartpeper en klop dit aan met ’n blikkie bier. Die deeg moet so ’n halfuur in die yskas rus.

Doop elke blokkie in deeg en braai in warm olie. Sit voor met kaassous.

Héérlik vir só ’n pikante ding, sal Johann sê.

Sophie van Ross van Griekwastad (Foto: Isabeau Botha)

Skaapstertjies

(soos Corné daarvan hou)

Maak maar bymekaar sodat jy in die jagseisoen genoeg het. Stertjies kan met wol en al vir 20 min op die kole braai – dis vir plaaskinders heerlik! As die jagters stadsjapies is, verwyder liewer die vel, sit so 2 uur lank in die ysterpot in die Aga, braai dit dan oor die kole – onthou die Aromat of braaivleisspeserye.

Van sterte gepraat, moenie die grootwild se sterte verlore laat gaan nie – saag dit op en maak dit saam met bietjie vark gaar, of meng dit met beesstert en maak gaar.

Wenk: As jy enige snit wildsvleis vinnig sag wil kry, laat lê in vars, gerasperde pynappel. Goeie idee om pynappel in jou marinade te meng – sagte steak binne ’n uur.

Yvonne van den Berg en Meemie, die einameerkat, van Douglas (Foto: Isabeau Botha)

Ystervarkrugvel

(mits Jannie en René daarvoor sorg!)

Soos Hendrik Susan sê: “gulpooprukkende lekker ervaring”

Benodig: ystervark, pekelwater, water om in te kook, 50 ml suurlemoensap, sout, peper, Aromat en bietjie chillibite-speserye.

As jy dit self moet skoonmaak, verwyder penne deur dit in vlam te skroei, dan trek penne maklik uit. Plaas vark in baie warm water en skraap baie goed. Slag rugvel af en laat lê dit in pekelwater vir een dag. Verwyder en was in vars water. Kook vel nou in water met die suurlemoensap tot sag. Haal uit, druk droog, sprinkel met speserye en braai oor die kole tot goudbruin en bros – sny dun skyfies en eet maar ’n broodjie daarby!

The post Onvertelde stories: Noord-Kaapse mondelinge-oorlewering-projek appeared first on LitNet.


Titus Matiyane, cartographer and transnational flâneur

$
0
0

Abstract

The urban panoramas of South African artist Titus Matiyane (b. 1964) – a contemporary outsider artist − is a valuable source in the study of the concepts of geomapping and flânerie in contemporary South African art. In this article the artist’s panoramas are problematised in terms of geomapping as an expression of utopia, transcendence and empowerment of the local South African in the light of colonial and apartheid histories. The artist is interpreted as a mapping flâneur, while his artworks are considered both as products of imagined flânerie and, due to its large scale, as physical “places” that evoke surveillance and flânerie. In his panoramas everyday reality becomes transformed into a global simulacrum of utopian exoticism and glamour where the artist as flâneur can virtually visit and stroll through the city. Jeremy Bentham’s panopticon and Michel Foucault’s interpretation of it are further theoretical frameworks that illuminate the artworks. It is concluded that Matiyane creates a model for global, transnational identity by exceeding his own physical and material limitations and by his deconstruction of the power hierarchies of First and Third World cities. Matiyane is finally interpreted as an authentic voice in the decolonial establishment of African modernity.

Keywords: decoloniality; flâneur; geomapping; Matiyane, Titus; outsider artist, panorama; power; solipsis; utopia

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Titus Matiyane, kartograaf en transnasionale flâneur

The post Titus Matiyane, cartographer and transnational flâneur appeared first on LitNet.

Dis mos tante Eva se skuld innie Bybel, maa wat van oem Adam?

$
0
0

Het djy al ooit ’n meisie of vrou voogeskryf wat sy kan of moet doen? “Djy moettie daa allien loepie.” “Djy moetie soe allien staanie.” “Djy moet vesigtig wies.” En soe an en soe an. Ôs moet sieke amal uitkyk virrie volgenne ene? Het djy al ooit ’n seun of man voogeskryf wat hy kan of mag doen? Ôs is sieke amal skuldig daavan om vi anners te sê wat hulle moet doen, wan ôs warrie oo hulle. Vi al innie sameliewing wat ôs nou in liewe. Selfs dié rubriek doenit. Maa ek skryfie vedag oorie feit dat ôs amal een of anner tyd van weerspraak skuldig issie. Dit gan oo ’n diepere storie. Dieper dan die bloed wat in ôs are vloei.

Die anner dag, net toe Courtney Pieters se case warm beginne raak het, het ek toe gou by Pick n Pay in gegan, en by die til waa ek gan betaal het, sittie cashier toe. Lekke dik angetrek virrie Kaapse winter wat nog skaars was. Haa hele uitkyk laat toe my trug dink an een van my hoërskoolonnerwysers. Dit was haa hare, dit wassie selle volume, dik, en daai selle grys stuk annie linkerant van haa kop. Soes ek staan en trug dink annie jare wat lankal veby is, vetel sy die man wat sy help voo my oo: “Die arme kind wat nou dood gekry was in Epping Industrial!” Die manier hoe sy haaself in die ding in druk, kon ek sien dat dit baie naby annie huis is vi haa. Sy’t sieke self ’n meisiekind of meisiekinners, dink ek. Toe dit my beurt is, gan sy toe an en herhaal die storie wat sy nou virrie man vetel het. Ek stem saam en vetel vi haa dat die nuus sê dat die man wie Cortney doodgemaak het, is ’n familievriend. Haa mond val toe oep vir ’n kot tydjie soesie skok groot in haa oë sit. “Ôs meisiekinners issie mee safe ie.” Sê sy. Ek stem toe saam met haa en voeg by: “Die goet gebee al lankal, maa ôs praat net nooit daavan nie.” Deddies, en uncles, en nefies en nefies se tjommies wat vat wattie an hulle behoortie. Ek roep hulle die oem Adams vannie liewe.

Die cashier se oë dwaal toe trug na die groceries wat voo haa lê en sy begin die goed deurie till scan. Sy sê toe oppie toet-toet-ritme vannie till-scanner: “Ja, dis waa! Ôs kinners issie mee safe ie.”

Soes ek van daai till af wegloep, dink ek ôs kan en sal nooit kan praat oo die goed wat in ôs huise of in ôs gemeenskap gebeerie. Ôs sallie praat vannie pa, offie broer, offie nefie, offie oom langsan, offie pries innie kêk, offie stiefpa, wat vat en druk met sy hanne, en anner goed, waa dittie hoortie. Wan dan natuurlik moet ôs verantwoordelikheid vat virrie feit dat ôs by staan en sien die goed gebee. Ôs moet dan daai blame dra van ’n kind wat op drie maande oud vekrag of vemoor wôt. Of ’n tagtigjarige ouma wat deur ’n jongman vekrag wôt. Ôs moet dan daai kruis-en-kettings dra, en dis ’n swaa storie. Nou dit vestaan ek heeltemal. As ’n ding te swaa is, dan kan niemand ’n mens mos kwalik niem as djy dittie wil dra nie. Maa ôs kan sieke amal ’n handjie gie en help om die ding te dra. Soe dissie ’n veskoningie.

Die ding is dié: vroumense wôt aliewig voogeskryf wat hulle mag doen en wat hulle nie mag doen nie. Ôs moet vesigtig wies vi dié of vi daai, ôs moet dié doen en daai doen, ôs moet ôs soe gedra, ôs moet dié klere dra en dié make-up dra, ôs moet daa loep, of weg bly van daai plek af, en soe an. Ôs moet luiste na ienige man wat sy stem lig of dik maak. Ja, djy as vrou moetie saam met anner vroumense staanie, wan hulle vat netou jou man af, of jou vrou for that matter. Djy moet jou seuns hoeg hou en jou meisies afkraak. Vroumense moet hulle meisies lee dat om te praat oo vekragting, molestering of betasting is die grootste sonde oppie aarde. Wannie meisiekinners moet wiet om hulle in te hou, en gedra, wan dis mos alles tante Eva se skuld. Sy’t mossie appel gan afpluk, en oem Adam, het mossie free will gehattie.

Ek mien dis siekerlik nie manne se skuld dat vroumense, maak nou nie saak wat hulle ouderdom is, soes niks behandel wôtie. Of as dit die manne se skuld is, dan is dit mos daai jongens daa buite. Daai mans wat oppie hoeke staan. Dis mos hulle skuld dat daa soe baie gebriekte vroue innie rondte loep. Dis mos daai rowers en vekragters wat innie donker hoekies sit en wag se skuld. Nie die manne wat ôs elke dag mie liewe nie.

Vi wie proebee ôs rêrig flous?

In my eeste jaa innie Kaap toe wôt ek vekrag. Ek was siewe jaa oud. Die man, of jongman, wat my vekrag het, was my nefie se tjommie. My ma het sy ma geken. Ôs familie het sy familie geken. Soes ek opgegroei het, was daa mee as een oom-van-langsan of familievriend wat my betas het. En my hele liewe lank het ek myself blameer vi die goed wat hulle gedoen het. My lyf was te groot, ek moes dit wegstiek, soedat hulle dit nie kon sien nie. Mansmense wat deel gewies het van my elkedagse liewe het die goed gedoen, nie die manne wat op hoeke gesit hettie, of innie donker weggekruip hettie.

Al die vroumense wat ek nou al soe ver ontmoet het in my liewe, mettie vebygan, of dié wat nog steeds in my liewe in is, nientag pesent van hulle, het dieselle pad geloep as wat ek geloep het. Ek wil hie gou stop en sê dat ja, allie manne in my liewe het my nie behandel soes iets wat hulle net kan gebruikie, maa meeste van hulle het. Daai hashtag wat innie rondte in vlieg, #allmenaretrash, wel daa lê ’n storie daa, en ôs kan dittie net soe wegdruk en afskud om te sê dat well allie manne issie vullis issie, wan meeste is.

Courtney Pieters.
Rene-Tracy Roman.
Sinoxolo Mafevuka.
Iyapha Yamile.
Octavia Skippers.
Cleo Skippers.
Stacha Arendse.
Lindokuhle Kota.
Hannah Cornelius.

Som vannie vroumense wie hulle liewens veloor het innie afgelope twie maane, en daa is soe baie meer name wat deurie cracks val. Wat belangrik is hie, is die feit dat soe baie vroumense hulle liewens veloo want die mansmense in hulle liewens warrie nie watte skade hulle doen nie. Die President van Amerika het innie publiek gesê dat vroumense moet misbruik wôt.

’n Paa maande trug het ek in een van my anner artikels geskryf oo hoe die media ennie TV vi ôs vooskryf wat om te doen, hoe om met mekaa te wies ensoevoort. Maa wat het dan gebee met mense se free will? Djy wiet mos wat vekeerd is en wat reg is? Besides dit, ’n mens kan siekerie sê alles die moorde en vekragtings wat nou gebee issie TV se skuld ie! Die goed gebee mos al vir ’n baie lang tyd, nog voorie TV uitgekom het. Die ienigste veskil nou, issie feit dat die goed mos nou mee en mee innie koerante in gesit wôt. Facebook ry mos op sulke goed, en soe reportie Son ennie Voice mos maa net al an, wan die stats lyk goed. Dit gannie rêrig om ’n dialoog te begin oo hoe om die vekragtings en moorde te beëindigie. Soelank dit kan koerante vekoep, en soelank die niewe nuus sites wat oral opspring, kan besoek wôt, gan die stories gerun wôt.

Ek lies ’n berig wat sê dat alles wat nou gebee, die moorde ennie vekragtings, is Apartheid se skuld. Ek moes my woorde kee, wan hoe kry ôs dit reg om wee eens vi Apartheid skuld te gie? Dié kee is dit Apartheid se skuld virrie donkerte wat in mansmense se harte sit? Die berig praat toe van hoe mansmense hulle krag moet trug wen deur te wys hulle is monstes deur vroue en kinners te vekrag en moor. Die berig innie selle stem sê oek dat, wel vekragtings en moord issie rêrig ’n rasstorie nie, maa ...

 Is ôs dan rêrig soe niks werd en het ôs rêrig dan geen sê in ôs liewensie, dat Apartheid wee eens moet skuld kry vi twak? En ôs wiet mos amal wat gebee na Apartheid skuld kry, dan is dit wee die wit man se skuld, oubaas en oumiesies se skuld. En die never-ending storie gan an. As ôs rerig vi Apartheid skuld gie vi die moorde en vekragting van vroumense, soe jonk as ses wieke oud en soe oud soes tagtig jaar, dan sê ôs mos rêrig dat dié is maa net hoe dit is. En dat daa niks is wat ôs annie saak kan doenie, dan om te wag totdat ôs mansmense oorie kwaad ennie haat kom wat hulle in hulle harte dra.

Dan is daa rêrig mos niks hoep vi ôsie.

Dan kan al die twie-dae-kêke wat oral op-pop en hulle voo-ouers hulle deure toemaak en dit toe hou. Wan volgens my, as daa moet geblame wôt, is dit hulle skuld. Kêke is mee gewarried oo tiendes dan ienige iets anners. Die herders dra smaart en dik wolbaadjies, maa hulle skape lê kaal geskee oppie strate, dik gesuip, dik getik, sonne ’n stukkie hoep in hulle harte, sonne daai positive gedagte om hulle liewens reg te lei.

Kyk nou net vi Mortimer Saunders. Dié se pa ’n pries, maa wat het dit gebaat? Niks! Ja, hy is ’n kind vannie struggle, maa net soe is ek oek. Ek loepie innie rondte in en vat an vroumense of kinnersie. Maa ’n mens kan siekerlik mossie die kêke skuld gie nie, offie feit dat sy pa ’n pries issie, wan dis mossie hulle skuld dat daa varke onne ôs bly nie. Of hoe?

Van kleins af wôt kinners gelee van wie hulle is en wat hulle kan behaal innie liewe in.

 “Djy is ’n man! Mansmense huilie! Djy is stêk en ’n vrou is daa vi jou gebruik.” “Djy is ’n vrou! Vroumense moet kinners grootmaak en kosmaak. En djy moet onnerdanig wies an jou man!”

Kinners wôt gelee oo hoe hulle moet wies innie samelewing in. En as dit lyk soes hulle nie inpassie, dan wôt hulle na die kant toe geskyf. Ek praat nou nie net hie vannie gays ennie lettiesie. Daai is ’n gesprek vir ’n anner dag. Wan om lesbian te wies is mos nog steeds volgens baie die grootste sonde innie wêreld in. Selfs voo die geboorte van ’n kind maak ôs al klaa die pad reg vi hulle. Dis opdrans van daa af vi die kinners wat as normaal beskou wôt, en nog êger vi die kinners wat nie as normaal gesien wôt ie.

Hoe dink ôs rêrig gan dit bieter gan vi ôs amal assie liewe klaa soe begin vi jongmensies? Hoe kan die doodloepsirkel ooit stop as ôssie wil dinge differently doenie? Die pad begin en eindig by ’n mens self, maa wat van allie mense wat om jou is, wat van hulle? Wat van hoe hulle jou menswies hanteer? Wat van hoe die mense om jou jou anspoor om nog slegter of bieter te wies as wat djy klaa is? ’n Mens is mossie ’n eiland ie! Al proebee djy wat. Ek sal wiet. Ek het dit al ’n paa kee geproebee, maa daa issie ’n plek en ’n tyd op die bol waa ’n mens allien of sonne druk kan wiesie. Soe elke pesoon wie daai man Mortimer Saunders raakgeloep het, elke mens wie die liewe met hom en Courtney gedeel het, moettie skuld dra vi wat gebeerit. Nie net hy nie, of nie net Courtney se ma nie.

Ôs amal is al soe gewoond om vinger te wys dat ôs vegiet vannie vier vingers of drie vingers wat trug na ôs toe wys. Dissie swart man se skuld. Nee, issie wit man se skuld. Dan is dittie ma se skuld, offie pa se skuld, offie kinners wattie luister of hoorie se skuld. Dan is dit Apartheid se skuld, en hoe ôs geleer was se skuld. Maa ’n mens kan sieke anvoel wanne ietsie reg is? Djy kannit sieke sien! Ôs maak of ôsie goed sien voo ôsie. Ôs draai ôs oë weg mettie hoep dattie goed sal vedwyn, soedat ôs kan angan mettie liewe. Ôs bid en anbid ’n Got en anner goet, maa vegiet vannie Got binne in elkeen van ôs.

Wie proebee ôs nou rêrig flous?

Wannit lyk soes amal proebee om ’n mussie oorie volgenne pesoon se oë te trek. Zuma loep en deel duisende rande uit voorrie kameras, wan Courtney se liewe betieken niks anners vi hom dan ’n goeie PR-saakie. Die hele Elsies is nou kwaad, en ek gloe stellig baie anner mense, wan hoekom moet dié saak dan nou allienlik geld kry of voogetrek wôt? Wanne daa soe baie-baie anner vroumense en kinners is wat doodgegan het oppie selle way. Wat betieken dit nou vi Zuma om geld uit te haal in een vannie grootste kallid-areas innie Kaap? Niee man, die goed wat hie gebee, is mos rêrigie reggie.

Met alles wat ek nou al klaa gesê het, voel ek nog steeds dat dit op dié neer kom. In die samelewing in, om ’n vrou van kleur te wies is somme baie duur. Innie tyd voo ôs oumas en oupas gebore was, het die goed kla gebee. Mansmense het gemaak en doen wat hulle wil. Maak nou nie saak watte klee hulle vel wassie. Vra maa net vi ouma Sara Baartman of vi ouma Krotoa. Hulle het gedoen en maak soe hulle lus voel met alles en enige iets. Kyk maa net hoe hol geboor is die aarde. Vroumense moes maa net by staan, wan dis hulle plek, hulle moes by staan en wag vi hulle beurt wat nooit gekom hettie. Kinners, well, hulle het maa net oek deur geloep, en kon net hoep dat wanne hulle groot is, dan sal hulle oek ’n kans kry oppie liewe. Dis nog steedsie selle. Tante Eva kry vi alles skuld, maa oem Adam sit innie voohuis met sy een hand in sy broek ennie anner hand onner klein Evatjie se rok.

Dit moet stop! En dis ôs amal se plig om dit te maak stop! Soe as djy ken van ’n oem Adam, of djy sien of hoo van oem Adam ennie goed wat hy doen, niem aksie. Al is dit jou pa of jou man, offie pries, dit maakie saakie. Niem aksie! Kom ôs bou tog net ’n bietere sameliewing. ’n Sameliewing waa dittie net tante Eva se skuld issie maa dat die oem Adams van dié liewe nie bestaanie. Die tyd is nóú om op te staan en om saam te staan.

Op die oudedom van 16 was uh Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met uh mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa’vandaan hulle kom. O’s almal het oppie netbalbane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from? Heelwat op sy nerves. Ek ’it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”  

Bly te kenne!

The post Dis mos tante Eva se skuld innie Bybel, maa wat van oem Adam? appeared first on LitNet.

Beurtkrag

$
0
0

Beurtkrag

Wanneer jou lig te helder raak
moet ek myne dowwer maak
en wanneer my lig hemels skyn
moet joune stil verdwyn
want
wanneer die ligte voor die donker wyk
vra jy
het jy in die spieël gekyk?

The post Beurtkrag appeared first on LitNet.

Die WAT dokumenteer Afrikaans in sy wydste omvang

$
0
0

Navorser en mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Gerda Odendaal, het in haar LitNet Akademies-artikel (Geesteswetenskappe): "Die rol van die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie deur sy betrokkenheid by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal" ondersoek.

Sy het vir Menán van Heerden meer vertel van die verskil tussen die WAT en ’n Afrikaanse standaardwoordeboek, en hoe die verskillende variëteite van Afrikaans opgeteken word.

Hoe sou jy die Woordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf, en hoe verskil dit van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal?

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is ’n omvattende sinchroniese verklarende woordeboek. Die woordeboek is omvattend deurdat dit eerstens ten doel het om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang op te neem (maw alle variëteite van Afrikaans word opgeneem). ’n Woordeboek soos die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), daarenteen, wat ’n standaardwoordeboek is, beskryf (grootliks) een variëteit van Afrikaans, naamlik die standaardvariëteit (hoewel HAT 6 ook ’n beperkte dog groeiende versameling leksikale items uit ander variëteite insluit wat vollediger in die WAT bewerk word). Tweedens bied die WAT ook ’n groot verskeidenheid tipes inligting aan woordeboekgebruikers in die bewerking van ’n woord (oftewel lemma) (byvoorbeeld woordsoort, lettergreepverdeling, woordklem, morfologie, sinonieme, verwante woorde, gebruiksfeer, voorbeeldsinne, uitdrukkings, ens). Laastens gaan die WAT ook omvattend te werk ten opsigte van die bewerking van lemmas: al die moontlike betekenisse of betekenisonderskeidings wat ’n woord in Afrikaans kan hê, word in die WAT weerspieël, terwyl ’n woordeboek soos HAT slegs die gebruiklikste betekenisse of betekenisonderskeidings weergee. Die woord silinder het byvoorbeeld in HAT twee betekenisonderskeidings teenoor die WAT se agt betekenisonderskeidings.

Wat die sinchroniese aard van die WAT betref, is dié woordeboek, net soos HAT, primêr gerig op huidige of eietydse taalgebruik in Afrikaans. Anders as HAT, beskryf die WAT egter ook die taal van die onlangse verlede. Dit beteken dat daar ook ouer Afrikaanse woorde opgeneem word. Wanneer hierdie woorde egter opgeneem word, word daar duidelik aangedui dat hulle verouderd is, asook wat die gebruikliker woord is wat tans in Afrikaans gebruik word.

Die WAT is laastens, soos HAT, ’n verklarende woordeboek: die betekenis van woorde word dus in die WAT verklaar, gedefinieer of omskryf en daar word nie, soos in vertalende woordeboeke, vertalings van Afrikaanse woorde in byvoorbeeld Engels verskaf nie.

Die WAT sluit leenwoorde van Khoi, Maleis, Arabies, Afrikatale en Engels in. Word die invloed van Engels op Afrikaans misken? Hoe verskil Engelse leenvertalings van anglisismes?

Die WAT het reeds met die eerste deel wat in 1950 verskyn het, Engelse woorde en uitdrukkings opgeneem wat in Afrikaans ingeburger is. Hierdie tipe woorde is egter tot ’n minimum beperk en by sekere woorde is daar “deur middel van ’n opmerking die aandag op foutiewe gebruik gevestig of ’n suiwer Afrikaanse idioom in die plek van ’n gebruiklike anglisisme aanbeveel”, aldus die inleiding van dié deel. ’n Anglisisme is enige woord of uitdrukking in Afrikaans wat, hoewel dit soos ’n Afrikaanse woord of uitdrukking lyk, gevorm is na die Engelse model en in stryd is met die aard of idioom (taaleie) van Afrikaans, en dus ’n woord of uitdrukking wat reeds in Afrikaans bestaan, bedreig of verdring. Voorbeelde hiervan is opbottel, wat na die patroon van die Engelse to bottle up gevorm is, in plaas van opkrop, en die idioom bloed is dikker as water, wat na die patroon van die Engelse idioom blood is thicker than water in Afrikaans gebruik word in plaas van die hemp is nader as die rok. Aangesien die WAT ten doel het om die taalgebruik van Afrikaanssprekendes te beskryf eerder as om voor te skryf, word hierdie woorde en uitdrukkings sedert die agste deel nie meer as anglisismes geëtiketteer nie. Dit word sedert deel tien met die etiket n.d. Eng. (“na die Engels”) gemerk.

Hierbenewens neem die WAT ook ruim leenvertalings uit Engels op – dit is Afrikaanse woorde wat letterlik uit Engels vertaal is, maar ’n eie Afrikaanse struktuur het, byvoorbeeld diefwering (“burglar-proofing”), kougom (“chewing gum”), middeljarig (“middle-aged”), maalvleis (“minced meat”) en rommelverkoping (“junk sale”). Hierdie woorde word ongeëtiketteer in die WAT opgeneem.

Laastens neem die WAT ook Engelse woorde op wat ’n sekere gaping in Afrikaans vul (bv muffin, punk, rocker, savvy, sexy, sheriff, shorthand en singsongs) of wat reeds tot só ’n mate in Afrikaans ingeburger is dat dit amper net soveel as, of selfs meer gereeld as, die Afrikaanse ekwivalent gebruik word (bv poster, propeller, props, radiator, ref en sirloin). Nie alle Engelse woorde wat deur Afrikaanssprekendes gebruik word, word egter opgeneem nie, aangesien die verklaring van die meeste van hierdie woorde in Engelse verklarende woordeboeke nageslaan kan word.

Afgesien van bogenoemde invloede is vroeë volumes van die WAT deur Nederlands beïnvloed. Vertel meer?

Toe daar in 1926 met die samestelling van die WAT begin is, was Afrikaans nog maar in sy kinderskoene wat standaardisering betref. Veral die beperkte en onvaste aard van die Afrikaanse vaktaal te midde van ontwikkeling op tegniese en natuurwetenskaplike gebied het die redaksie genoop om ruimer aan Nederlands te ontleen. Dit het daartoe gelei dat die redakteurs van deel I hulle nie beperk het tot die opneem van “onmisbare en onvervangbare woorde” uit Nederlands nie, maar ook “woorde wat ons in die toekoms nodig mag kry en stamwoorde waarvan die afleidings en/of samestellings in Afrikaans gangbaar is” en selfs Nederlandse argaïsmes opgeneem het, aldus die inleiding van deel 1. Ook die feit dat die redaksie ’n plek toegeken het aan “verouderde woorde wat dikwels nog sluimerende lewenskrag openbaar” of “wat uit kultuurhistoriese oogpunt belangrik is”, asook “vrygewig” was “met die opneem van vreemde woorde”, het daartoe gelei dat daar veral in die eerste drie dele heelwat Nederlandse woorde opgeneem is wat uiteindelik nie deel van die Afrikaanse woordeskat was of geword het nie. ’n Verdere problematiese aspek hiervan is dat heelwat van hierdie woorde dikwels nie as Nederlands geëtiketteer is nie, wat die indruk gewek het dat hulle gebruiklike Afrikaanse woorde is. Hierdie Nederlandse woorde het ook soms in die definisies van woorde ingesluip, en as voorbeeldmateriaal is daar soms vertaalde aanhalings uit Nederlandse bronne aangebied.

Daar is egter ook reeds sedert die eerste uitgawe by sekere woorde aangedui dat dit “meer Nederlands” of “Nederlands” is, en deesdae word eg Nederlandse woorde of betekenisonderskeidings wat nie in Afrikaans bestaan nie, nie opgeneem nie.

Die eerste volume van die WAT het in 1950 verskyn, en die nuutste volume in 2013. Hoe lank neem dit om 'n omvattende woordeboek soos die WAT te voltooi? Daarmee saam: Taal is organies – hoe gaan die WAT te werk om nuwe woorde op te teken? Word nuutskeppings soos argitekbek en Afrikaaps vir opname oorweeg? Indien wel, speel die Elektroniese WAT ’n rol hierin?

Die kort antwoord is: dit neem lank. ’n Soortgelyke woordeboek, soos die Woordenboek der Nederlandsche Taal, het 134 jaar geneem om te “voltooi”. Ek plaas “voltooi” hier tussen aanhalingstekens, want ’n omvattende woordeboek kan natuurlik nooit werklik klaar wees nie, aangesien die taal voortdurend ontwikkel en nuwe woorde gereeld tot die woordeskat toegevoeg word. Wanneer daar egter alfabeties aan ’n omvattende woordeboek gewerk word, soos in die geval van die WAT, gebeur dit dat nuwer woorde wat vroeër in die alfabet verskyn, noodgedwonge agterweë bly. ’n Woord soos emotikon het byvoorbeeld nog nie in 1955 bestaan toe daardie deel gepubliseer is nie. Om hierdie gapings enigermate te vul, het die WAT in 2016 die Aanlyn WAT aangevul met sowat 800 nuwe woorde en nuwe betekenisse van bestaande woorde, byvoorbeeld aanlyn, app (en toep), banting, beurtkrag, blog, blogger, blues, boks, bokswyn, breëband, CD, DVD, emoji, emotikon, e-tol, gay, geelkaart (en rooikaart), haatspraak, hidrobreking en hommeltuig. ’n Hiaatlys (lys met huidige “gapings”) word ook deurgaans deur redakteurs van die WAT bygehou waarin nuwe woorde, betekenisse en uitdrukkings opgeteken word sodat dit met gereelde tussenposes in die Aanlyn WAT opgeneem kan word.

Daarmee saam: Aan watter vereistes moet 'n woord – byvoorbeeld poenankies − voldoen om in die WAT opgeneem te word? Me ander woorde, hoe word die gesproke taal van Afrikaanssprekende gemeenskappe regoor Suid-Afrika tans opgeteken (en hoe is dit in die verlede opgeteken)?

Die eerste hoofredakteur van die WAT, JJ Smith, het reeds sedert 1911 aandag gegee aan die optekening van Afrikaans vir die opstel van ’n woordeboek. Toe hy in 1920 ook as die eerste dosent in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is, het hy ’n menigte woordelyste met behulp van sy studente versamel. Met die aanvang van sy werk aan die WAT in 1926 het hy ook begin om ’n netwerk van medewerkers van regoor die land te vestig wat hom verder behulpsaam was in die optekening van streek- en vaktaal. Ander dosente aan die Universiteit Stellenbosch wat Smith se voorbeeld nagevolg het deur hulle studente in te span om taalmateriaal in te samel, sluit in BA de Wet, wat self ook veral woorde en uitdrukkings uit die Karoo opgeteken het, FEJ Malherbe, M de Villiers en W Kempen. Laasgenoemde twee persone het vanaf 1947 gesamentlik meer as 32 200 kaartjies met woorde en uitdrukkings tot die WAT se versameling bygedra. Adviseurs op tegniese en vakkundige gebied, staatsdepartemente en lesers van Die Burger, Die Huisgenoot en Die Boerevrou het ook aansienlike bydraes tot die WAT se materiaalversameling gelewer.

Oor die jare het die Buro van die WAT ook besondere moeite gedoen om soveel as moontlik voorbeelde van streektaal vir sy databasis te versamel ten einde ’n omvattender en meer verteenwoordigende dekking daaraan in die WAT te kan gee. Daar is onder andere kontak gemaak met verskillende gemeenskappe ten einde streektaal op te teken, en sedert die 1990’s word daar ook toenemend op die versameling van gesproke materiaal gefokus. Die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaanse Kultuurgeskiedenis het hierin ’n belangrike rol gespeel, deurdat dosente en studente se dekades lange optekening van die gesproke taal van Afrikaanssprekende gemeenskappe regoor Suid-Afrika aan die Buro van die WAT beskikbaar gestel is.

Alhoewel die Buro van die WAT graag steeds bydraes van die publiek ontvang, stuur mense in werklikheid nie meer so gereeld woorde en uitdrukkings aan die Buro soos wat vroeër die geval was nie. Die redaksie van die WAT hou egter deurgaans hulle ore op die grond vir nuwe woorde en uitdrukkings vir opname in die WAT. Akademiese publikasies soos Kaaps in fokus en navorsingsartikels soos Elvis Saal se artikel “’n Verkenning van taalvariasie in die Afrikaanse poniekoerante Son en Sondag” wat onlangs in LitNet Akademies gepubliseer is, maar ook literêre werke soos Nathan Trantaal se Chokers en survivors, is byvoorbeeld waardevolle bronne vir die opteken van verskillende variëteite van Afrikaans. Die internet is deesdae ook ’n waardevolle bron vir die opteken van tradisioneel gesproke taal. Met verskeie blogs en soortgelyke publikasies wat aanlyn beskikbaar is, is daar ’n magdom bronne tot die redaksie se beskikking waaruit woorde en uitdrukkings uit ’n wye verskeidenheid variëteite van Afrikaans opgeteken kan word. Die minimumvereiste vir opname van enige woord of uitdrukking in die WAT is dat daar vyf verskillende voorbeelde in vyf verskillende bronne van die woord of uitdrukking se gebruik moet wees. Die bron kan geskrewe of gesproke taal verteenwoordig.

Daar is natuurlik ook gesproke taal wat nie altyd aanlyn of op papier neerslag vind nie. Dit geld veral geselstaal, streektaal en sekere variëteite van Afrikaans. Ook hiervoor hou redaksielede hulle ore op die grond. In sulke gevalle word die “vyf voorbeelde”-riglyn nie so streng nagevolg nie. Indien ’n redaksielid ’n woord of uitdrukking hoor en daar nie geskrewe bewyse is dat die woord in Afrikaans gebruik word nie, sal die redaksie adviseurs wat byvoorbeeld kennis dra van die betrokke variëteit of wat self sprekers is van die variëteit nader en vra of hulle die woord of uitdrukking ken. In hierdie opsig is sosiale media ook nuttig. Indien die gebruik van die betrokke woord of uitdrukking deur minstens twee ander persone bevestig word, sal daardie woord of uitdrukking opgeneem word.

Die WAT het reeds sedert die eerste deel die breër Afrikaanse leksikon opgeteken: gesproke en geskrewe materiaal word uit al die variëteite van Afrikaans opgeteken. Kan die WAT ’n variëteit soos Kaaps definieer?

Aangesien die WAT ’n omvattende woordeboek is en nie ’n standaardwoordeboek nie, word alle woorde en uitdrukkings in die woordeboek bloot as “Afrikaans” aangebied (behalwe waar dit om ’n leenwoord gaan, waar die oorsprong van die woord aangedui word). Woorde of uitdrukkings word dus nie as byvoorbeeld “Kaaps” of “Namakwalands” in die WAT geëtiketteer nie. Aangesien daar ook dikwels oorvleueling tussen die onderskeie variëteite van Afrikaans is, word hierdie tipe indeling nie in die WAT gemaak nie. Waar die WAT wel ’n aanduiding het dat ’n sekere woord, betekenisonderskeiding of uitdrukking tipies in ’n sekere streek of dorp gebruik word, word dit wel aangedui, byvoorbeeld “veral opgeteken in Namakwaland”. Waar ’n woord, betekenisonderskeiding of uitdrukking veral in gesproke taal voorkom, word dit aangedui met die etiket “geselstaal”, en waar dit beperk is tot ’n spesifieke gebruiksfeer, byvoorbeeld farmakologie of sport, word dit ook deur middel van etikette aangedui. Aangesien die WAT nie ’n dialekwoordeboek is nie, word daar egter nie verder uitsprake gemaak oor watter woorde of uitdrukkings tot watter variëteite van Afrikaans behoort nie.

Vertel vir ons meer oor “Woordpret van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal”: hoe dra vorige gaste soos HemelBesem en Jitsvinger as rymkletsers tot hierdie geleentheid by?

Die doel van Woordpret is om blootstelling aan Afrikaanse kunstenaars te gee en om iets terug te gee aan die ondersteuners van die WAT. Die Buro van die WAT probeer ook om aan ondersteuners van die WAT ’n beeld te gee van die wye verskeidenheid van Afrikaans soos wat dit in die woordeboek neerslag vind. Daarom word daar skrywers, akteurs, nuusmakers, sangers, rymkletsers en hip-hop-kunstenaars genooi.

Willem Botha en Hemelbesem (Foto: Liné Enslin)

Lees ook

LitNet Akademies-resensie-essay: Kaaps in fokus

Gerda Odendaal
Resensies

"Kaaps in fokus gaan ten slotte oor mense, want '[d]ie soppangheid van Kaaps is in die laaste instansie nie net ’n linguistiese kwessie nie, maar wesenlik een van die waardigheid van alle sprekers van Afrikaans' (Willemse, 81). En dit is juis hierdie kenmerk van Kaaps in fokus wat dit so ’n tydige en relevante publikasie maak."


“Jol”, “antie”, “pelle”: omgangstaal in poniekoerante

Menán van Heerden, Elvis Saal
Onderhoude

"Kodevermenging in poniekoerante dien nie net as ’n aanduider van die veranderinge in die sosiopolitieke dinamika van die Afrikaanse spraakgemeenskap nie, maar het ook die potensiaal om onder lede van die spraakgemeenskap ’n bewustheid van hierdie veranderinge te skep."


The post Die WAT dokumenteer Afrikaans in sy wydste omvang appeared first on LitNet.

Waterskaarste: Dibi Breytenbach se wenke

$
0
0

Dibi Breytenbach (foto: Izak de Vries)

Verlede week het Alta Cloete met Naomi Meyer oor waterskaarste en droogte gesels. Hierdie week deel Dibi Breytenbach haar gedagtes oor hierdie onderwerpe.

Die verskil tussen waterskaarste en droogte

Ek het grootgeword in die malse, groen heuwels van Natal. As kind was ek gelukkig genoeg gewees om beide stelle grootouers te ken. My ma se ouers het op ’n plaas net buitekant Zeerust gebly en my pa s’n op ’n wildsplaas naby die destydse Ellisras. Baie skoolvakansies is uit die aard van saak óf op die een plaas, óf op die ander deurgebring. Daar het ek destyds die begrip van waterskaarste leer ken.

Beide plase was in waterarm gebiede geleë. Daar het ’n mens nie sommer ’n kraan oopgemaak vir niks nie, want die water vir huisverbruik is diep onder uit die aarde in die groot tenks langs die huis gepomp en om water te pomp, kos geld. In die plaasdamme het jy geswem net as daar ’n wesenlike risiko bestaan het dat jy gaan beswyk van die hitte, want die diere het daardie water gedrink; en diep baddens soos by die huis het eenvoudig nie gebeur nie. As jy kon wegkom daarmee om in die bed te gaan klim sónder om te bad, was dit selfs nog beter, en dit was natuurlik hemel op aarde vir dorpskindertjies wat gewoond was aan ander standaarde van higiëne. Wanneer ons weer terug was by die huis, het my arme ma haar half doodgesukkel om ons ons (nuwe) vuilgatgewoontes weer af te leer.

Dit was egter hoe dit was: waterskaarste was iets wat geassosieer was met skoolvakansies en nie iets waaraan jy jou vreeslik gesteur het nie, want dit was van verbygaande aard. Wanneer ons weer terug by die huis was, was water volop en oorvloedig.

Die eerste keer toe ek egter met droogte te doene gekry het, was in 1983–1984 in Newcastle. Ek was toe in graad 6. Vir maande het ons die rommelinge van ’n naderende ramp gehoor. Die munisipaliteit het geleidelik al hoe meer drakoniese waterbeperkings ingestel en teen die tyd dat die sikloon Domoina die droogte gebreek het, was die maandelikse beperking iets soos ses kiloliter per huishouding. Alhoewel die krane nooit leeggeloop het nie, het daardie droogte ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Oortreding van die beperkings het jou die allerverskriklikste boetes op die hals gehaal en huisgesinne het alles binne hulle vermoë gedoen om binne die ses kiloliter te bly.

In 2016 het ek rêrige droogte leer ken. Ek bly al 20 jaar in Vryheid, Newcastle se buurdorp. Die twee dorpe is ongeveer 120 km uitmekaar in die noorde van KwaZulu-Natal. Destyds met Domoina het Vryheid en Pongola, nader aan die see, die ergste van die sikloon se skade gely. Spore van die destydse vloed is steeds te sien in omgespoelde brugpilare wat in die Pongolarivier lê en in plaaslike straatname. Na die vreeslike droogte van ’84 was daar nog nooit weer ’n tekort aan water in hierdie distrikte nie. Inteendeel. Dit is vrugbare landbougebiede met groot bees- en wildplase. En selfs in ’84 was daar nooit nié water in die krane nie.

In die winter van 2015 word ons egter vir die eerste keer bewus gemaak van ’n naderende ellende. Dit is nooit amptelik aangekondig nie, maar die storie het begin loop dat die dorpsdam besig was om leeg te loop. Mense het hulle aanvanklik nie veel daaraan gesteur nie, want die begrip van’n dorp om heeltemal sonder water te wees, was uit die aard van die saak verregaande. Geen spesifieke voorsorg is getref om ’n ramp af te weer nie. In Oktober 2015 het die mense in die boonste gedeelte van dorp begin kla dat hulle nie water het nie. Ons dorp se watervoorsieningstelsel werk met gravitasie van ’n reservoir op die heuwel waarteen die dorp genestel is na die res van die dorpsinwoners. Die algemene gevoel was dat die rykgatte op skuldbult al weer meer eis as wat hulle toekom en hulle besware is met bespotting afgemaak.

Gedurende die eerste kwartaal van 2016 het ook die onderdorp periodieke wateronderbrekings begin ondervind, maar steeds is die erns van die situasie nie na behore besef nie.

Ek het hierdie jaar dieselfde tipe ding in die Kaap teëgekom. Dit is doodeenvoudig asof die omvang van die ramp so groot is dat dit net nie tot die mense se koppe kan deurdring nie. Mense het maar aangegaan met hulle daaglikse lewens tot die water een goeie dag in Mei 2016 heeltemal opgedroog het. Ek kan onthou dat ek besig was om wasgoed te was toe die masjien ophou werk het, want daar was geen watertoevoer in die pype nie. Ek het die munisipaliteit gebel omdat ek onder die indruk was dat daar moontlik ’n gebarste pyp of ’n ding êrens was, maar ek sal nooit vergeet hoe dit gevoel het toe die persoon aan die ander kant van die lyn vir my sê die water is alles op nie.

Dit was letterlik die woorde: “Die water is alles op.”

“Wat bedoel jy die water is op?”

“Die water is alles op. Die dam is leeg.”

Hoe de hel?

Dit is moeilik om te beskryf wanneer ’n mens met so iets gekonfronteer word. Nog nooit was ek in ’n situasie waar ’n basiese lewensmiddel nie beskikbaar is nie. Dis soos wanneer ’n mens se kar in ’n vreemde dorp breek: dieselfde gevoel van ontreddering, gebrek aan beheer, ’n uitsiglose toekoms.

Ek dink van al die emosies wat ek daardie dag ervaar het, was die verlies aan beheer die ergste een gewees. En wat doen ’n mens op daardie stadium? Gelukkig kon ons intussen water aanry van vriende met boorgate af, maar op daardie spesifieke dag was daar geen hoop nie.

Waterbesparingsmaatreëls wanneer die water min is en wanneer die water heeltemal opraak?

Sjoe, dis moeilik, want ’n mens moet jou hele lewensuitkyk verander. Onthou, hierdie dinge het ek hoofsaaklik geleer toe daar niks meer water was óm te bespaar nie. Daar’s eintlik baie wat ’n mens kan doen, maar dan moet almal dit doen. Die eerste ding wat ’n mens moet leer, is dat dit ’n sonde is om water slegs een keer te gebruik. Ek het egter dié maatreëls aangeleer eers toe die water heeltemal opgeraak het.

Die munisipaliteit se oplossing vir die probleem was om groot watertenks op strategiese plekke in die dorp op te sit waaruit water onder streng toesig getap is. Daar het almal hulle water gaan haal in enige ding wat hulle kon. Ons het aanvanklik 5-liter-houers gebruik. Dertig van hulle was genoeg vir ons huishouding van vier vir vier tot vyf dae. Dit was ’n verootmoedigende ondervinding om by daardie tenk te gaan staan, want daar is nie nog so ’n gelykmaker in die wêreld nie.

Omdat ons kampeerders is, was ons gelukkig reeds in besit van ’n kampstort met ’n dompelpomp wat ons in die stort opgesit het. Elke gesinslid het ongeveer drie liter water gekry om mee te stort. Ek weet dit was ongeveer soveel, want dit was die grootte van die kastrol waarmee ons water op ’n induksieplaat warm gemaak het. Die geyser is uit die aard van die saak afgeskakel, want hy sou uitbrand sonder watertoevoer. Vir die interessantheid: wanneer daar geen water in die pype is nie, veroorsaak die deurvloei van lug dat die watermeter steeds ’n verbruik registreer. Stopkrane moet derhalwe ook toegemaak word.

Ons het ’n skottel in die stort gesit en ’n 25-liter-plastiekemmer met ’n deksel in die toilet. Wanneer ons gestort het, het ons dan die water in die skottel opgevang en in die toiletemmer gaan uitgooi. Toilette is gespoel slegs wanneer dit werklik nodig was. Dit was aanvanklik traumaties om ’n leeftyd se aangeleerde toiletmaniere opsy te skuif ter wille van oorlewing, en dit het naderhand ’n hele spotternasie in die dorp veroorsaak. Hoe weet jy iemand kom van Vryheid af? Hulle karre is vuil en hulle spoel nie die toilet as hulle klaar gepiepie het nie.

Ons het egter ook baie vinnig geleer dat ’n mens nie toiletpapier in die toilet gooi indien jy nie beoog om dit weg te spoel nie, want dit veroorsaak die allerverskriklikste blokkasies wat huweliks- en gesinsvrede tot die uiterste beproef omdat daar geen water is om mee te ontlont nie. Die oplossing daarvoor was by Checkers te vinde in sogenaamde Ecobins, ’n pikante klein asblik met ’n opwipdeksel wat dig seël. Dit was belangrik. Enige toiletpapier wat nie onmiddelik gespoel sou word nie, is daarin gegooi en dan later diskreet van ontslae geraak in die groot buite-asblik.

Klere is gewas slegs as dit werklik nodig was, want dit was ’n reuse-schlep. Ek het twee 50-liter-asblikke met roldeksels gaan koop en in my waskamer geparkeer. Hulle het ek een keer per week volgemaak. Een het ek gebruik vir waswater en die ander vir afspoelwater. Ek het steeds met my masjien gewas (’n Samsung-bolaaier), maar op sy handwasfunksie. Maandae en Dinsdae het ek witgoed gewas en die water teruggetap in die asblik en afgespoel met water uit die ander asblik. Woensdae en Donderdae het ek ligte goed gewas en Vrydae en Saterdae donker goed. Wanneer die waswater soos Coke gelyk het, is dit toilet toe en die afspoelwater, Sta-soft en al, het die volgende week se waswater geword. Ek kan tot vandag nie sien dat dit die klere enigsins beskadig het nie.

 Ek het ook Sta-soft met water gemeng en in ’n sproeibottel gesit. Voordat ek klere wat ek voorheen gedra het, weer aangetrek het, het ek dit vol Sta-soft gespuit en in die tuimeldroër gesit. Dit bly nogal lank “vars” op hierdie manier en ek doen dit nog steeds, want ek dink ek sal vir die res van my lewe watersuinig bly.

Terwyl daar water in die pype is, is dit ’n goeie idee om skottelgoed in die skottelgoedwasser te was as jy een van die nuwer skottelgoedwassers het, want jy kan baie skottelgoed met ’n bietjie water was. Wanneer die water natuurlik heeltemal opraak, is ’n skottelgoedwasser ’n nuttige plek om vuil borde te bêre tot vanaand wanneer die takie afgehandel word. Nood het ons leer bid, in hierdie geval, want skielik moes ek weer skottelgoed met die hand was.

Die waarde van foelie (ek het dit in catering-rolle gekoop) om potte en panne in dubbellae uit te voer, moenie onderskat word nie! Dit het skottelgoedwaterverbruik aansienlik verminder. Ek het twee 5-liter-skottels (onthou die kastrol!) in my kombuiswasbakke gesit en die skottelgoed met kookwater gewas en afgespoel in water waarin ek wit asyn gegooi het. Dit neutraliseer die skottelgoedseep, wat alkalies is, en veroorsaak dat jy meer skottelgoed kan afspoel in minder water. Daardie water, uit die aard van die saak, is ook toilet toe.

Ons het nooit probeer om water tuis te suiwer nie. Ek sou ook nie die kans waag nie, tensy iemand my behoorlik oplei. Om ’n omgekrapte maag te hê wanneer daar nie water is om die toilet te spoel nie, is ’n groot ellende.

Gaan water duurder word as goud?

Dit sal my nie verbaas nie. Wat in ons dorp opvallend was, was hoe vinnig die mense dissipline aangeleer het ten opsigte van waterverbruik toe die water heeltemal klaar geraak het. Ons het werklik nie ’n keuse gehad nie. Dis iets wat ons eintlik lankal moes geleer het, ter wille van oorlewing. Gedurende die tyd wat water by my huis afgelewer is om die tenk vol te maak, het dit my gemiddeld ’n addisionele R1 000–R1 300 per maand gekos. Ek kan derhalwe sê dat ek ook daardie koste aan eie bas gevoel het.

Ek wil nie ’n voorspelling waag oor die land se watertoekoms nie, maar dat klimaatsverandering aan die gebeur is, is ’n voldonge feit. Reeds kan ’n mens sien hoe dele van die land wat altyd groen was, soos die Kalahari begin lyk. Minder water, dink ek, gaan die norm word. Soos ek reeds gesê het, het ons geleer dat dit ’n sonde is om water net een keer te gebruik.

Soos wat ek hier sit en skryf, voel al hierdie dinge onwerklik, asof dit iemand anders se storie is. Ek kan aan die een kant nie glo dat dit werklik met ons gebeur het nie en aan die ander kant was dit geweldig traumaties. Ek staan nog steeds in die middel van die nag op om ’n kraan te gaan oopdraai sodat ek seker kan wees daar is water in die pype.

The post Waterskaarste: Dibi Breytenbach se wenke appeared first on LitNet.

Viewing all 21618 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>