Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all 21643 articles
Browse latest View live

Darryl David se #litnetwoord2016

$
0
0

darryl_woordvdjaar

My woord van die jaar is:

Kanna

Vir Adam. En vir Jans en sy Kannaland.

Het jy geweet Kanna is ook ’n Indiese woord? ’n Tamil-woord. In my eerstejaar moes ek klas gee oor Joanie Galant. My kollega het my gedurig Kanna genoem. Dit beteken jong man.

Ek het altyd gewonder of Adam weens sy pa se Indiese afkoms hierdie woord geken het.

Of is dit dalk Kaaps?

Darryl David

The post Darryl David se #litnetwoord2016 appeared first on LitNet.


Teaterresensie: Madness: Songs of hope and despair by die Baxter-teater

$
0
0

madness_650

Madness: Songs of Hope and Despair is ’n kantate deur psigiater Sean Baumann, wat Sondagaand vir slegs een optrede in die Baxter-teater verskyn het.

Die verhaal handel oor ’n jong man, Themba, wat saam met sy ma van die Oos-Kaapse platteland na Kaapstad verhuis. Hy kry ’n beurs om argitektuur aan die Universiteit Kaapstad te studeer en slaag sy graad met lof. Ten spyte daarvan dat hy uitgestyg het bo sy omstandighede, sukses behaal het en ook ’n meisie het vir wie hy lief is, begin hy stemme hoor en glo dat hy ’n genie is, soms selfs God. Hy is konstant vreesbevange en sy toekomsplanne begin deur sy vingers glip. Wat volg, is sy opname in ’n psigiatriese hospitaal, die vervreemding van sy naasbestaandes en die uiteenlopende opinies en ondersteuning van verskillende rolspelers, soos ’n psigiater, ’n neurowetenskaplike, ’n tradisionele geneser, ’n pastoor en die hospitaalpersoneel. Uiteindelik, met die hulp van medikasie, verkry Themba insig in die staat van psigose waarin hy verkeer het, word hy ontslaan uit die hospitaal en wens die verpleërs hom sterkte toe met sy herstel.

Die ervaring van die rolspelers agter die skerms, soos regisseur Lara Foot, kunstenaar Fiona Moodie, komponiste Galina Juritz en Dizu Plaatjies en ontwerper Koeka Stander, was opvallend in die professionele, maar tog persoonlike, wyse waarop hierdie treffende verhaal na die verhoog gebring is. Foot is ’n bekroonde regisseur, en sy het met Baumann meegewerk tydens haar voorbereiding om bewus te word van die vooroordele en kwessies rondom psigiese steurnisse. Moodie se kunswerke is met dié van pasiënte in Valkenberg gekombineer ten einde ’n akkurate weerspieëling van die wroeging te verseker.

Die produksie is ’n uitsonderlike voorbeeld van hoe ’n komplekse, abstrakte ervaring met behulp van drie mediums – woord, musiek en kuns – vir die gehoor byna tasbaar gemaak kan word. Die stel bestaan uit sewe instrumentaliste op die voorgrond, ’n negestemmige ensemble in die agtergrond en ’n deursigtige skerm wat hulle van mekaar skei. Die skerm is die medium waarop die visuele kuns vertoon word – potloodsketse en animasie wat die storielyn en subjektiewe ervarings van die karakters uitbeeld. Die teks word dan ook deurlopend saam met die beelde op die skerm vertoon.

Die teks, musiek en visuele elemente is uitstekend met mekaar verbind en wissel op grond van wie aan die woord is. Tydens Themba se spreekbeurte is die beelde baie intens, met monsteragtige figure, slange en wisselende perspektiewe op die struktuur van die brein, soms ook net ’n gekrap. Die handskrif waarin sy woorde geskryf is, is baie onnet en wissel voortdurend in grootte soos die stemme in sy kop nuwe vorm aanneem. Daarmee saam is die musiek onheilspellend, met wisselende ritmes en kontrasterende note, en die solis se sang dra dringendheid en desperaatheid oor. Daarteenoor word die neurowetenskaplikes se karakterisering as ’n koue of afsydige entiteit bewerkstellig deur beelde van breinskanderings, netjies-getikte woorde en musiek met ’n reëlmatige tempo. Die pastoor se handskrif is vloeiend en die klank van ’n orrel kom sterk deur. Die aandag aan fyn besonderhede is uiters geslaagd daarin om die beelde en emosies by die gehoor tuis te bring.

’n Belangrike eienskap van die produksie is die mate waartoe dit in die Suid-Afrikaanse konteks gesetel is. Daar vertoon allerlei beelde van die platteland en ’n plakkerskamp teen die agtergrond van Tafelberg. Ek dink dit maak dit makliker om jou met die storie te vereenselwig, aangesien dit wys dat psigose nie beperk is tot ’n sekere groep nie en selfs by een van jou naasbestaandes kan voorkom. Daar woord ook kommentaar gelewer op die realiteit van ’n tekort aan plek in die staat se psigiatriese hospitale en die druk wat dokters ervaar om pasiënte so vinnig as moontlik te ontslaan. Dit roer ook die aktuele kwessie van psigiese steurnisse aan, sowel as die debatte rondom die oorsake daarvan – die subjektiewe bewussyn van die werklikheid, veranderinge in die struktuur van die brein en neurale netwerke, demoniese magte wat besit neem van jou liggaam en voorouers wat poog om met jou te kommunikeer. Verder kan jy na afloop van die vertoning voel asof jy meer geleer het oor die diagnose, verloop, behandeling en implikasies van psigose op die pasiënt en sy naasbestaandes.

Sean Baumann se ervaring met soortgelyke pasiënte en hul simptome het verseker dat die produksie omvattend genoeg is sonder om die karakters se ervarings te oordramatiseer of die gehoor ongemaklik te maak. Soms was die teks (meestal in Engels, met ’n Afrikataal hier en daar) ’n bietjie onsentimenteel en eenvoudig in vergelyking met die sterk beelde en emotiewe musiek. Die sangers, onder leiding van die bekwame Chad Hendricks, se harmonisering was onverbeterlik en hulle het daarin geslaag om die betekenis van die teks in hul stemme oor te dra. As dit egter nie vir die teks op die skerm was nie, sou ek in baie gevalle nie kon hoor wat gesing word nie, omdat die uitspraak met tye baie onduidelik was.

Hierdie produksie is propvol simboliek, en die storielyn trek die leser in en maak hom persoonlik betrokke by Themba se ervaring. As ek die dawerende applous, die trane in my medegehoorlede se oë en die gesprekke na die tyd in berekening bring, weet ek met sekerheid dat die produksie ’n blywende indruk gemaak het en hopelik gesprekke rondom psigiese steurnisse sal fasiliteer.

The post Teaterresensie: Madness: Songs of hope and despair by die Baxter-teater appeared first on LitNet.

Twee splinternuwe rieldanskampioene gekroon

$
0
0
Oorwinningsdans deur die Betjies Rooirots

Oorwinningsdans deur die Betjies Rooirots

Dit was die rieldansers van Clanwilliam, die Betjies van Betjiesfontein in die junior afdeling en die Betjies Rooirots in die senior afdeling, wat met hul vernuftige voetwerk in die stof koning gekraai het tydens die ATKV-Rieldansfinaal van 2016.

Die Senior ATKV-Rieldanskampioene: Die Betjies Rooirots

Die Senior ATKV-Rieldanskampioene: Die Betjies Rooirots

Die Junior ATKV-Rieldanskampioene: Die Betjies van Betjiesfontein

Die Junior ATKV-Rieldanskampioene: Die Betjies van Betjiesfontein

Die 11de jaarlikse ATKV-Rieldansfinaal het op 3 Desember in die Paarl plaasgevind.

16-12-03-riel-10552

Soos gewoonlik het die stof gestaan.

16-12-03-riel-20709

Daar is getrap.

16-12-03-riel-30867

Daar is gevlieg.

16-12-03-riel-10590

Daar is uitgedaag.

16-12-03-riel-10688

Daar is nog stof gemaak.

16-12-03-riel-20299

Daar is vrede gemaak.

16-12-03-riel-10713

Die riel is ’n baie ou dansvorm wat ’n oorsprong het in die danse van Khoi en die San. Later het dit onder plaaswerkers, veral in die droë Noordwestelike dele van ons land, ’n bekende dansvorm geword.

16-12-03-riel-20337

Die riel het van die 1930’s tot die vroeë 1960’s hoogty op plase, veral onder skaapskeerders, gevier. Daarna het die gewildheid begin taan.

16-12-03-riel-20149

Die skrywer en storieverteller Elias P Nel het die ATKV gevra om die riel te red. Hy het geld ontvang daarvoor en het tien jaar gelede as ATKV-projekorganiseerder die rieldans as kultuurgoed begin bevorder. In 2006 het hy ʼn rieldanskompetisie gereël waaraan sewe groepe en 105 individue deelgeneem het. In 2015 was daar 82 groepe en 1 230 deelnemers. Dit is egter nie al nie. In 2015 het ’n groep rieldansers Los Angeles verower en as wêreldkampioene na Suid-Afrika teruggekeer. LitNet het destyds daaroor berig – klik hier. Vir hierdie werk is Elias P Nel, wat nou afgetree het, Saterdagaand deur die ATKV vereer. Japie Gouws, die uitvoerende bestuurder van die ATKV-Groep, het die huldiging oorhandig.

16-12-03-riel-20159

Elias sê grappenderwys dat die rieldans toentertyd spesiaal vir mense met slap knieë, lang asems en ’n klomp speelsheid in die gene geskep is. Hy het Saterdagaand gewys hy het steeds daardie gene.

16-12-03-riel-20169

Japie Gouws het nie op hom laat wag nie en in die gees van die riel het hy nie ’n uitdaging om te dans laat verbygaan nie.

l16-12-03-riel-20128

Benjamin Bock het by Elias oorgeneem as die rieldansorganiseerder.

l16-12-03-riel-20137

Amore Bekker, die aanbieder van Tjailatyd op RSG, was die mede-aankondiger. Sy het vir Benjamin, én die skare, laat skater met haar kwinkslae. Hier sê sy: "My skarniere is geolie, my boud hang hoog en my askoek is gaar."

16-12-03-riel-10737

Die riel het veral te make met die hofmakery tussen man en vrou, en om dit uit te beeld word diere en voëls nageboots, soos byvoorbeeld in die skoenlapperdans en die vlerksleep van ʼn haan, volstruismannetjie of kalkoen.

16-12-03-riel-10481

Soos met enige dansvorm is daar konvensies en die spanne word daaraan gemeet. Gewoonlik bestaan ’n rielgroep uit vier mans en vier vroue, soos die Calvinia Sitstappers wat hier volgens een van die konvensies dans.

16-12-03-riel-20619

Die Brandvlei Stofskoppers het egter Saterdagaand verras deur sewe mans en een meisie op die baan te plaas. Hulle storie was dan ook “Die Hennetjie en die Haantjies”. Hierdie Hennetjie is behoorlik die hof gemaak!

16-12-03-riel-20294

Die riel is tradisioneel ook ’n storiedans. Dit kom uit die dae van die jagters wat hulle gesinslede vermaak het met uitbeeldings van hulle jagtogte.

16-12-03-riel-20489

Vandag word ander stories vertel. Die jongste spannetjie, die Griekwa Hiënas, het byvoorbeeld die storie van vigs vertel.

16-12-03-riel-20356

Die rieldanskompetisie het plaasgevind onder die wakende granietsuile van die Taalmonument aan die hange van die Paarlberg.

16-12-03-riel-29875

Die amfiteater was gepak.

l16-12-03-riel-20033

Heelwat bekende mense was in die gehoor. Hier is Danie van Wyk en LitNet se rubriekskrywer, Jason Lloyd.

16-12-03-riel-10537

Ander bekendes was die twee kokke van Bonteheuwel, ant Koelsoem Kamalie en ant Flori Schrikker, die skrywers van Kook saam Kaaps, uitgegee deur LAPA Uitgewers. Hulle is ontsettend gewild en talle mense het kom hallo sê en selfies neem. Die twee vroue werk geweldig hard, maar het altyd tyd vir ’n geselsie. Ook vir hulle medemens. Vrydagaand is die persfotograwe behoorlik getrakteer op pasteitjies, samoesas en pannekoeke uit dié twee se kombuise. Daar was ’n mooi oomblik toe Benjamin Bock die twee raakgesien het en hulle toe vra om op te staan. Onder luide toejuiging van die gehoor het hulle aan sy versoek gehoor gegee. Een van die mense wat die hardste geklap het, was Sunette Viljoen, Suid-Afrika se spiesgooikampioen en silwermedaljewenner in Rio (regs op die foto), wat die twee vroue onlangs tydens ’n boektoer ontmoet het.

16-12-03-riel-29896

Die riel is inderdaad vir almal.

16-12-03-riel-30906

Die spanne kan skitter.

16-12-03-riel-20654

So ook die individu.

16-12-03-riel-20647

Voorheen onbekende mense maak hulle buiging op die nasionale verhoog tydens hierdie jaarlikse finale.

16-12-03-riel-20301

Hiermee die volledige uitslae van Saterdagaand se kompetisie

Individuele pryse

Me Rieldanspersoonlikheid – seniors vir 2016: Bernadine Fortuin van Betjies Rooirots

Mnr Rieldanspersoonlikheid – seniors vir 2016: Angelo Hugo van Boesmanland Bitterbessies

Me Rieldanspersoonlikheid – juniors vir 2016: Lee-Ann van Wyk van Betjies van Betjiesfontein

Mnr Rieldanspersoonlikheid – juniors vir 2016: Jason Roberts van Calvinia Sitstappers

Beste danser – vroue in die senior afdeling: Anechia Cloete van Griekwa Ratelgat

Beste danser – mans in die senior afdeling: Abraham Willemse van Betjies Rooirots

Beste danser – vroue in die junior afdeling: Luwandri Schrader van Brandvlei Stofskoppers

Beste danser – mans in die junior afdeling: Cheslan Claaste van Betjies van Betjiesfontein

Grietjie van Garies-trofee vir die beste vordering – senior afdeling: Kammiesberg

Grietjie van Garies-trofee vir die beste vordering – junior afdeling: Net vir Pret 2

Pieter van der Westhuizen-trofee vir beste Rielkitaarknyper en opteller: Marvin Hanse van Calvinia Sitstappers

Mees dinamiese leier – junior afdeling: Peter Takelo van Net vir Pret 2

Mees dinamiese leier – senior afdeling: Elsabe Cloete van Griekwa Ratelgat

Trofee vir beste Rieldansliedjie: Gertruida Lombard van Boesmanland Bitterbessies

Trofee vir beste Rieldans-musikant: Alfred Basson van Betjies van Betjiesfontein

Spanpryse

Derde plek: Rieldansgroep – seniors: Kammiesberg

Tweede plek: Rieldansgroep – seniors: Calvinia Sitstappers

Senior Rieldanskampioene – Betjies Rooirots

Derde plek: Rieldansgroep – juniors: Net vir Pret 2

Tweede plek: Rieldansgroep – juniors: Calvinia Sitstappers 2

Junior Rieldanskampioene – Betjies van Betjiesfontein.

16-12-03-riel-10705

16-12-03-riel-20710

16-12-03-riel-20451

16-12-03-riel-10635

Fotografie: Izak de Vries

The post Twee splinternuwe rieldanskampioene gekroon appeared first on LitNet.

Teaterresensie: Annie by die Kunstekaap

$
0
0

Picture credit: Christiaan Kotze

 

orphan elopes, spends time with the homeless, captures billionare's heart, meets US president, lives happily ever after. #iloveyatomorrow 

weeskind loop weg, sing wêreldbekende lied vir hond, verower hart van miljardêr – wat haar so lief kry soos haar eie pappa. #annie

Die storie is so bekend dat mens dit in 'n twiet kan opsom. Die hoofkarakter is beroemd genoeg dat mense weet wie sy is deur slegs haar voornaam te noem.

En nou is dié rooikop in die Kunstekaap se Kerskous. Sy vertolk die hoofrol in die Pieter Toerien- en Hazel Feldman-produksie Annie. Die produksie is internasionaal, maar al die akteurs is plaaslike kunstenaars.

  1. Opsomming

Ons ontmoet vir Annie een nag toe sy uit Miss Hannigan se weeshuis wil ontsnap. Die oomblik toe die teater se ligte verdoof, ontsnap die gehoor ook dadelik aan die werklikheid.

Oor teater en ontvlugting word die hoofregisseur van die produksie, Anton Luiting, in die program aangehaal:

Despite being set in an orphanage in 1930's New York during the Great Depression, Annie proves time and again that musicals have an enduring ability to dispel any feelings of doom and gloom and to allow us to escape from the hardships of our daily lives the minute we enter the theatre.

Die verhaal is die vertroude en bekende een, die storie waarvoor die gehoor gekom het. Die kleinverhaal, die storie van die dogtertjie Annie, word geskets teen die agtergrond van 'n problematiese sosio-ekonomiese omgewing: New York tydens die Depressie. Annie wil wegkom uit 'n soort weeshuis wat herinner aan Astrid Lindgren se armhuise in die Emil van Lönneberga-boeke uit Swede. Die dronklap Miss Hannigan sorg teësinnig vir die weeskinders. Annie verlang na haar ware ouers. Sy loop weg, en sing haar bekende lied vir 'n straathond wat net soveel soos sy na 'n blinker toekoms smag.

Wanneer sy terugbesorg word aan Miss Hannigan, is daar 'n wonderbaarlike sameloop van omstandighede en kan sy tydens die Kersvakansie by die skatryk Mr Warbucks gaan bly. Mr Warbucks vind uit geld alleen veroorsaak nie blywende geluk nie, Annie vervul 'n leemte in sy lewe, en sy word uiteindelik deur hom aangeneem.

  1. Die musiek en die sang

Die gehoor het nie nét vir die toneelspel in die bekende musiekblyspel gekom nie. Toe die aand se Annie, Lilla Fleischmann, "Tomorrow" sing, kon mens aan die stil teater hóór: almal het hiervoor gewag. Niemand is teleurgesteld nie. Hoe doen sy dit, dié twaalfjarige aktrise? Sy moet sekerlik besef hoeveel druk daar op haar is om die lied wat al male sonder tal op die verhoog of op die silwerskerm gesing is, nét reg te vertolk. En sy slaag met vlieënde vaandels.

Dis nie net "Tomorrow" wat suksesvol is nie. Elke stuk musiek, en die vertolking daarvan, is van hoë gehalte. Daar is net één lied in die hele produksie wat nie reg is nie, en dis perfek. Want dis 'n doelbewuste flater. En toe die betrokke sanger lostrek met 'n vals nommer waaroor ek eerder nie nou veel moet verklap nie ingeval dit die pret bederf, het dit die gehoor veel plesier verskaf.

  1. Die toneelspel en die danse

Dit was gedurende 'n toneel in Mr Warbucks se woning dat ek besef dat ek nie net na die hoofkarakters op die voorgrond se danse moet kyk nie. In die agtergrond was Mr Warbucks se personeel en werknemers almal besig met hul eie vertonings. Hoe sou mens alles kon inneem wat op een verhoog plaasvind? Waar begin 'n mens om die randfigure uit te sonder? Elkeen van hulle verdien erkenning en applous.

Dit geld die kinderhuiskinders. En Miss Hannigan (Charon Williams Ros). Die aaklige, armsalige vrou. Vir haar ontwikkel mens 'n soort empatie! 'n Juweel is ook haar broer, die glibberige Rooster (Stephen Jubber) en sy metgesel, die akrobatiese Lily (Delray Halgryn).

My jong medeteaterganger – my dogtertjie – het hierdie twee se manewales baie geniet. Hul skurwe grappies was bo-oor haar kop en begrip, maar hul boosaardighede was komies genoeg dat sy vir hulle kon lag. Annie is 'n gesinsproduksie wat groot én klein tegelykertyd bevredig.

Agter die skerms was hier baie ure se harde werk. Erkenning aan almal wat betrokke was by die aanmekaarsit van hierdie produksie: Nikolai Foster, George Dyer, Colin Richmond, Ben Cracknell, Mark Malherbe, Nick Winston, Heather Scott Martin en Bryan Schimmel.

  1. Lewende teater

Die stuk het in 1976 die eerste keer op die verhoog gespeel en baie kere daarna. Volgens die New York Times word Annie jaarliks tussen 700 en 900 keer in die VSA opgevoer. Daar is ook drie Annie-films vervaardig (in 1982, 1999 en in 2014). 

Hier is "Tomorrow" uit die 2014-film:

My jong medeteaterganger het die 2014-film gesien en ek het vooraf gewonder: Sou die teaterstuk haar soveel interesseer?

Maar sy verkyk haar aan die kuns wat voor ons oë plaasvind: die stel, die beligting, die kostuums. Die kleure, die klanke.

Ons albei is verstom deur die oëverblindery van 'n toneelstuk: toe sy wegloop, is Annie een oomblik nog op die verhoog, die volgende nie meer nie. Maar hoe dan? Ek besef ek was besig om 'n ander toneel dop te hou, en Annie het onder my neus verdwyn.

Ook: tydens lewende teater beleef mens die medegehoorlede se reaksies. Die gehoor kon nie wag om vir Annie hande te klap toe sy die eerste slag "Tomorrow" sing nie – 'n mens voel die antisipasie aan. 'n Polisieman onderbreek die lied en mense klap sommer tussendeur, met sy aankoms, wél hande. Want hulle kan dit kwalik onderdruk, hulle wíl haar toejuig.

Ek oordink 'n praktiese kwessie van lewende teater: Hoe laat gaan slaap die kinders op die verhoog? En: hoe kry hulle dit reg om nog mooi te sing en toneel te speel as hulle eintlik nou al moeg is?

Hier's 'n verskil tussen film en lewende teater. As die hond nie wil eet nie, gaan hy nie later eet nie. As die kind moeg is en nie op haar stukke is nie, is die oomblik verby. Elkeen kry net een kans. As gevolg hiervan verdien almal ekstra komplimente, want daar was geen verspeelde kanse die aand toe ek die stuk gesien het nie.

  1. Temas om uit te sonder

a) Verlange na 'n ouerfiguur en verlange na 'n kind

Anders as in 'n sprokie waar Sneeuwitjie passief lê en wag dat die onbekende prins haar soen en bevry, hou Annie net soveel van Mr Warbucks soos hy van haar, vervul hul albei 'n soort vader-kind-leemte in mekaar se lewens.

In die toneel waar Annie en Mr Warbucks met mekaar dans, wonder ek 'n oomblik lank of ek met my dogtertjie behoort te gesels oor danse met onbekende volwasse mans – maar hier is geen ondertone of suggestie dat daar rede tot benoudheid is nie. Daar is ander tye vir gesprekke hieroor. Hierdie toneelstuk is ontvlugting en dis nie nodig om dit onnodig te kompliseer nie.

b) Amerikaanse politiek

Die politieke omstandighede van die Depressiejare: Annie speel af gedurende die tydperk terwyl Roosevelt aan bewind is. Die toneel waartydens die kabinet met hom vergader en Annie hom ontmoet, bespreek hulle eers moedeloos die land se werkloosheid en armoede. Ná die gesprek met Annie sing die hele kabinet "Tomorrow" – en terwyl die gehoor pas gehoor het dat Hitler aan die verrys is in Duitsland, is hierdie lied opeens werklik hoopvol: môre gáán beter wees. Terwyl almal met vandag se kennis weet: dit was nie.

Die hedendaagse politieke omstandighede: die toneelstuk het onlangs, tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog, in Broadway gespeel. Daar is al geïmpliseer dat die stuk se krag so omvangryk is dat die musiekblyspel as 'n soort bemarking aangewend is (Mr Warbucks is 'n Republikein, maar Roosevelt 'n Demokraat). 

c) Klasseverskille en armoede

Daar was baie definitiewe klasseverskille in die tyd toe Annie geleef het. Mr Warbucks is uiteindelik nie net 'n geharde sakeman nie, maar ook 'n gawe man. Tog is daar 'n hele skare wat vir hom werk. Hulle is onsigbaar, soos wat Suid-Afrikaners se huiswerkers ook is, maar hulle is alomteenwoordig.

d) Van geld gepraat: die betekenis van die frase "bet your bottom dollar"

Niks met iemand se sitvlak te doen nie. Hierdie is 'n outydse manier om tydens 'n kaartspel jou laaste kans te vat. Verwed jou heel onderste dollarnoot, die laaste bietjie van jou geld wat oorgebly het. Vat 'n kans asof jou lewe hiervan afhang.

As Annie oor môre sing, is dit 'n versugting. Jy béter saam met Annie glo dat môre gaan beter wees as vandag. Verwed jou geld hierop, jou laaste bietjie hoop.

Hierdie produksie is wel een van hoop. Mens hoor hoedat die sin "You're always a day away" uiteindelik verander in "You're only a day away."

  1. Annie vir die Suid-Afrikaanse gehoor in 2016

Die produksie wat in die Kunstekaap te siene is, is baie getrou aan die oorspronklike Amerikaanse teaterstuk wat die eerste keer in 1976 opgevoer is.

Hoewel alles in New York en Washington afspeel, is die akteurs Suid-Afrikaans, en so ook hulle aksente. Maar vertaal die storie vir Suid-Afrikaners na hul lewensomstandighede?

Ja – jy sal sterk raakpunte kan vind tussen Suid-Afrika vandag en die New York van die 1930's: daar is heelwat armoede en groot klasseverskille.

Ek is bevoorreg om hierdie toneelstuk te kon sien, om toegang daartoe te hê. Ek weet dat alle Suid-Afrikaners dit nie beskore is nie. Die maer man wat na ons motor omgesien het in die wind, het nie in die teater gesit nie. Terselfdertyd weet ek ook dat die mense in die teater baie hard gewerk het, dat die akteurs wat skoolkinders is, laat gaan slaap het en steeds aand ná aand vir goeie vermaak gesorg het. Die mense wat die geld het om hulle te kan ondersteun, moet dit doen.

Dis droog in Afrika, maar die son mág maar môre skyn. Dit móét skyn. En die kunste is so nodig soos water – die land kan nie daarsonder nie. Die toegang tot produksies van hierdie gehalte gaan voortbestaan slegs as die kaartjies hiervoor verkoop, as mense dit ondersteun.

En gaan woon dit by gewoon omdat dit die moeite werd is om hierdie produksie te gaan beleef.

Jy kan die storie in 140 karakters opsom. En elke karakter op die verhoog het boonop 140 talente: hulle kan sing, dans en toneelspeel en al hulle harde werk so maklik laat lyk.

#annie #gaankykself

Annie speel nog tot 8 Januarie 2017 in die Kunstekaap. Hier is nog besonderhede.

The post Teaterresensie: Annie by die Kunstekaap appeared first on LitNet.

Maria gaan kuier by Elisabet en Sagaria se loflied

$
0
0

In hierdie afdeling op LitNet verskyn gedeeltes van die Bybel in Kaaps.

Lees ook: Die Geboorte van Johannes die Doper wôt voospel

Lukas 1–2

29 Maria was heel geskok oo sy woorde en sy’t gewonne hoekô hy haa soe groet en wat dit kon betieken. 30 Die engel sê toe vi haa, “Moenie bang wiesie, Maria, wan God het genade vi jou. 31 Djy sal swanger wôt en ’n seun innie wêreld in bring, en djy moet sy naam Jesus gie. 32 Hy sal groot wies ennie Seun vannie Allerhoegste geroep wôt. Die Jirre God sal hommie troon van sy voovader Dawid gie, 33 en Hy sal oo Jakob se nageslag heers tot in iewigheid. Sy koningskap sallie ’n einde hettie.” 34 Toe vra Maria vi die engel, “Hoe kan dit wies? Ek het nog nooit met ’n man gelê nie? Ek is dan nog steeds ’n maagd?” 35 Toe sê die engel vi haa, “Die Heilige Gies sal oo jou kom, en die krag vannie Allerhoegste sallie liewe in jou in wakke maak. Dis hoekô die een wat gebore gan wôt, heilig genoem sal wôt, die Seun van God. 36 Kyk dan, ’n familielid van jou, Elisabet, gan op haa ouderdom oek ’n kind kry, en amal wiet sy kon nie kinners kry nie, sy’s dan nou in haa sesde maand van swangerskap. 37 Wan niks is ontmoonlik met God ie.” 38 Toe sê Maria, “Ek wêk vi die Jirre, laat met my gebeer wat djy gesê het sal gebeer.” Toe het die engel wee vedwyn, en vi haa allien gelos.

Maria gaan kuier by Elisabet

39 Maria het toe gou klaa gemaak, en hastig na ’n dorp innie bergstreek van Judea gegan. 40 Daa het sy by Sagaria se huis in gegan, en vi Elisabet gan groet. 41 Toe Elisabet hoo dis Maria by die deur, toe skop die babietjie in haa maag, en Elisabet was gemaak mettie Heilige Gies. 42 Sy’t klip hard geskrie, “Geseënd is djy onne die vroumense, en geseënd is die kind wat djy innie wêreld sal bring. 43 Maa hoekô is ek soe geseënd lat die ma van my Jirre vi my kom kuier? 44 Toe ek jou stem in my ore hoo, toe skop die kind met heppiness hie binne in my. 45 Geseënd is sy wie gloe dat die Jirre sal doen wat Hy gesê het!”

Maria se loflied

46 Toe sê Maria,
“My siel lof en pryssie Jirre,
47 en my gies dans oo God, my verlosser, wan
48 Hy het agte my gekyk,
 Kyk net, van nou af sal elke niewe geslag my geseënd noem,
49 wan die Magtige Ene het groot dinge aan my gedoen. Heilig is sy
 naam.
50 Sy genade strek ver, van geslag tot geslag, wie bang is vi Hom.
51 Hy het kragtige dinge gedoen met sy arm;
 Hy het hulle, wie soe baie van hulle self dink, uit mekaa uit gedryf.
52 Hy het leiers van hulle trone af geruk,
 en die mense opgelig wie hulle self plat oppie grond gehou het.
53 Hy’t die armes vol gemaak met goeie dinge,
 Maa die rykes het hy weg gestuu met niks.
54 Hy het vi Israel, sy dienaar, gehelp
 wan Hy het onthou van sy genade
55 aan Abraham en sy nageslag
 tot in iewigheid, net soes hy aan ôs se voo-ouers beloewe het.”
56 Maria het vi drie maane by Elisabet gebly, en toe het sy trug gegan huis toe.

Die Geboorte van Johannes die Doper

57 Toe dit tyd was vi Elisabet om te kraam, het sy geboote gegie an ’n seunskind. 58 Die mense wie om haa gebly het en haa familie het gehoo dat die Jirre haa groot genade gewys het, en hulle het in haa blydskap gedeel. 59 Oppie agste dag het hulle gekom ommie kind te sny en hulle wou hom Sagaria noem, agte sy pa aan, 60 maa sy ma het gepraat en gesê, “Niee! Sy naam is Johannes.” 61 Hulle sê toe vi haa, “Daa is niemand in jou familie wie daai naam hettie.” 62 Hulle maak toe gebare om vi Sagaria, wie nog steedsie kon praatie, te vra wat die kind se naam moes wees. 63 Hy vra toe vi hulle vir ’n skryfbordjie om op te skryf, en hy skryf toe daaop, “Sy naam is Johannes.” En amal was toe vebaas ommat hy oek die kind se naam Johannes gegie het. 64 Iewe skielik toe’t Sagaria sy stem trug, hy’t toe begin praat en God geprys. 65 Amal wat rondom hulle gebly het, was geskok, en reg oo die bergstreek van Judea was daa baie gepraat van al die dinge. 66 Amal wat gehoorit van dit, het gewonne en gevra, “Wat gan die kind dan eendag wôt?” Wan dit was baie duidelik dat God met hom was.

Sagaria se loflied

67 Sy pa Sagaria was vol vannie Heilige Gies, en het geprofeteer:
68 “Die Jirre is goed, en Hy moet geprys wôt, die God van Israel,
 Hy’t na sy mense toe gekom en hulle kom velos.
69 Hy het vi ôs ’n velosser uit die huis van Dawid, sy
 Kneg, lat opstaan.
70 Soes Hy gesê het, deu sy heilige profete van lank geliede,
71 Ôs sal verlos wôt van ôs se vyande, en uitie hand van amal wat ôs
 haat,
72 om genade te wys aan ôs se voo-ouers
 en om sy heilige verbond te onthou.
73 Hy het die eed aan ôs se voovader Abraham gegie dat ôs,
74 Om vi ôs uit die hand van ôs se vyande te red, en
 dat ôs hom sonne vrees kan dien
75 in heiligeid en opregtigeid voo hom allie dae van ôs se liewe.
76 en djy, my kind, sal ’n proefeet vannie Allerhoegste geroep wôt;
 wan djy sal voorie Jirre uit gan ommie pad vi hom reg te gan maak,
77 om vi sy mense die vestand te gie, vannie velossing
 deu die vegifnis van hulle sondes,
78 deurie genade van ôs se God,
Soes die môresone sal opstyg,
79 om te skyn op dié wie innie donker liewe,
 en innie skadu vannie dood, om ôs se voete die pad
 na vriede toe te wys.”

80 En die kind het opgegroei, en stêk geraak deurie Gies, en hy’t gebly innie woestyne totie dag toe hy innie openbaar in Israel veskyn het.

The post Maria gaan kuier by Elisabet en Sagaria se loflied appeared first on LitNet.

Boekresensie: Maestro deur Marié Heese

$
0
0

maestro_280Maestro
Marié Heese
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798173919

Marié Heese het haarself sedert die publikasie van The Double Crown in 2009 gevestig as ’n baie produktiewe skrywer van historiese romans. Haar verhale nooi lesers om hulle te verdiep in die wêrelde van ’n verskeidenheid uiteenlopende figure uit die geskiedenis. Haar nuutste boek, Maestro: ’n Roman oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini, speel af in 17de-eeuse Rome en is ’n soort Bildungsroman wat oor die lewe van dié bekende Italiaanse beeldhouer handel.

In sommige opsigte sluit Heese se roman aan by Karel Schoeman se Titaan: ’n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (2009) deurdat dit die gegewens oor die lewe van ’n bekende figuur neem en dit gebruik as ankerpunte vir historiese fiksie waarin die biografiese blinde kolle kreatief ingekleur word. Haar werk sluit ook aan by ’n baie groter literêre tradisie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die uitstekende Cicero-trilogie deur die Britse skrywer Robert Harris (Imperium, 2007; Lustrum, 2009; en Dictator, 2015) asook Hilary Mantel se romans oor Thomas Cromwell (Wolf Hall, 2009 en Bring up the bodies, 2012). Maestro bewys weer, soos Heese se ander onlangse romans, dat sy grondige navorsing doen wanneer sy ’n historiese roman aanpak.

Ofskoon historiese figure dikwels baie interessante lewens gelei het, kom die skrywer wat so ’n persoon se storie wil vertel, onvermydelik voor ’n aantal uitdagings te staan: Welke gebeure en ervarings sluit ’n mens in die storie in, en hoe besluit jy watter een dien as die klimaks in jou verhaal? Hoeveel karakters sluit jy in, en hoeveel diepte moet jy aan elkeen gee? In Maestro is hierdie uitdagings nie altyd versigtig en eweredig genoeg benader nie.

Die roman skop af in 1638 met ’n brief van Bernini se ma, Angelica, aan die kardinaal Francesco Barberini, waarin sy die kardinaal se hulp ontbied om ’n geskil te besleg tussen twee van haar seuns, Gianlorenzo en sy jonger broer, Luigi. Die oudste seun blyk die jonger een te wil vermoor. Die narratief spring dan terug na die jaar 1599, en volg Gianlorenzo se ontwikkeling van babadae tot jong en bedrewe kunstenaar in diens van die pous, Urbanus VIII.

Die roman vertel in vier dele (en soms in verskriklike besonderhede) van talle ervarings uit Gianlorenzo se lewe oor 40 jaar. Ons volg die kind se ontwikkeling deur uitvoerige beskrywings van sy opleiding onder sy pa, Pietro, wat self ’n gerespekteerde beeldhouer is, en onder amptenare in die Vatikaan, waardeur hierdie instansie se belangrike rol in die Renaissance-kunswêreld beklemtoon word. Ons word meermale onsubtiel daaraan herinner dat die jong Bernini briljant blyk te wees, en dat groot dinge op hom wag, soos wanneer die skilder Annibale Carracci Gianlorenzo en sy vader in die toe nog leë Sint-Pietersbasiliek ontmoet en met winkende oordaad die onvolledige staat van die basiliek bespreek (43):

“En tog,” sê Carracci, “is hierdie yslike binneruimte eintlik nog nie na behore afgerond nie. Eendag, menere, glo my goed, sal hier ’n groot kunstenaar kom wat die geheel waardig sal voltooi.”

“Die oop ruimte is beslis nog te groot en te leeg,” stem Pietro saam.

“Daar by die middelpunt, by die graf van sint Pieter, behoort die een of ander uitsonderlike struktuur opgerig te word,” beduie Carracci met sy stok. “En iets anders, ook manjifiek, aan dáárdie punt, om die geheel in balans te bring.”

Jammer genoeg word hierdie gesprek boonop voorafgegaan deur die beaming van Carracci se opmerkings oor die prag van die basiliek wat te veel herinner aan die lofprysing gerig aan die keiser in Bartho Smit se Die keiser (1977): “‘Uniek, uniek,’ beaam die een. ‘Allerpragtigs,’ sê ’n ander. ‘Die kroon van basilikas!’” (43). En enkele bladsye later sê die pous dan ook nogal: “Laat ons hoop dat [Gianlorenzo] die Michelangelo van hierdie eeu gaan word” (49). Met die sosiale stand van hierdie figure in gedagte is dit seker nie geheel onmoontlik om te dink dat hulle so sou praat nie. Maar as ek as leser later in die roman dan weer herinner word aan Carracci se aanvanklike mening oor die basilika (295), en dit in tandem gelees word met die voor die hand liggende voorspelling van Bernini se toekomstige grootsheid, voel ek nogal geïrriteer met die wantroue in my begripsvermoëns.

Die kunstenaar se vroeë studiejare in die Vatikaan illustreer hoe sy fyn waarnemingsvermoë heelwat van sy latere kunswerke beïnvloed het. Ook die invloed van sy leermeesters (hier meestal Katolieke priesters) op sy wêreldbeskouing blyk duidelik. ’n Belangrike figuur onder hulle is kardinaal Scipio Borghese, wat in een toneel vir die jong Gianlorenzo ’n aantal verbanne sketse in die argief van die Vatikaan wys. Die toneel ontaard in ’n verontrustende ervaring waartydens Borghese die klein Gianlorenzo betas. Die roman skram dus nie daarvan weg om die Rooms-Katolieke Kerk se eeue lange menseregtevergrype aan te raak nie. Ek wil nie te veel van die romangebeure aan lesers verklap nie, maar Borghese word self in hierdie toneel deur ’n ander priester misbruik (en later daarvan beskuldig dat hy een van sy katelknape keelaf gesny het), wat tot gevolg het dat pedofilie en homoseksualiteit op ontstellende wyse saam uitgebeeld word. Aanvanklik het ek hierdie toneel nog gelees as ’n samevloeiing van enersyds die poging tot historiese akkuraatheid betreffende destydse houdings jeens seksualiteit, en andersyds die endemiese kindermolestering deur Katolieke gesagsfigure, maar die stereotiepe beeld van die vuil en perverse homoseksuele man wat ook in hierdie toneel ontplooi word – deurdat die ander priester se ontbloting van sy geslagsdele met die uitwalm van ’n “suur liggaamsreuk” gepaardgaan (97) – maak dit moeilik om so ’n lesing vol te hou.

In die roman is daar verskeie vroue wat ’n duidelike invloed op Gianlorenzo (en sy kuns) het. Dit is skynbaar veral die gelowigheid en deugsaamheid van sy ma, Angelica, en sy ouer suster, Agnese, wat by die hoofkarakter ’n beeld van die ideale vrou inprent. Ander vroue wat hom beïnvloed, is ’n reeks minnaresse, onder meer die verstandelik gestremde diensmeisie Isabella, met wie ’n tienderjarige Gianlorenzo ’n seksuele verhouding het, asook Laetitia Pamphili, wat byna deur hom verkrag word. Die bipolariteit van hierdie vroue (opeens met hul “helende moederlikheid” en “veilige geborgenheid”, maar dan skielik “honger, eisend en wild” met “kloue en tande” 233), en die eenvoudige karaktereienskappe van sy handlanger Zeppi se “byslape”, soos die lys van dramatis personae hierdie vroue noem (12), het tot gevolg dat die uitbeelding van vrouekarakters taamlik binêr en oppervlakkig is. Dit is spytig dat dié swak punt van die roman – Bernini se simplisties besitlike en neerbuigende ingesteldheid teenoor vroue – uiteindelik ook is wat tot die onderweldigende klimaks lei.

Hoewel die roman daarin slaag om iets weer te gee van die verterende drif van die beeldhouer se kunstenaarskap, word dit ontsier deur herhalende geykte opvattings oor die kuns, byvoorbeeld: “‘Dit,’ sê Gianlorenzo, ‘is die wonder van kuns. Dit is hoekom elke kunstenaar ’n kulkunstenaar is. Want hy omskep die lelike in skoonheid’” (214). Lesers wat nie hierdeur en deur die ensiklopediese beskrywings van sy kunswerke en tydgenote gesteur sal word nie, en wat besonder belangstel in die lewe van Bernini, mag Maestro dalk geniet. Die chronologiese en gedetailleerde struktuur van die roman leen dit egter daartoe dat talle karakters en gebeure deur melodrama verwen word. Van sterftes tot hoofpyne, van liefdesteleurstelling tot ’n onhandige kaphou met die beitel – alles in Bernini se lewe is tot die uiterste aandoenlik. Die ongefokuste aard van die plot, die soms absurde dialoog, en die teenstellende karakterisering het die roman vir my bederf.

Oor een van sy bekendste werke, Pluto en Proserpina, dink Bernini: “Dit vereis drama, en emosie. Beweging moet daar wees, maar so ook balans. En alles lewensgroot” (238). As roman doen Maestro ongelukkig nie aan so ’n onderneming gestand nie.

The post Boekresensie: Maestro deur Marié Heese appeared first on LitNet.

Sunita Keyser se #litnetwoord2016

$
0
0

sunitakeyser_woordvdjaar

Die jaar 2016 en sy mense herinner my aan ’n ou legende. En daar is mos eintlik niks nuut onder die son nie. Die legende is: Die Fluitspeler van Hamelin. Hierin word eers al die rotte en toe al die kinders deur ’n fluitspeler van die dorpie af weggelei. Die Engelse ekwivalent heet: The Pied Piper of Hamelin. Die verklarende Webster-woordeboek beskryf 'n Pied Piper as:

  1. ’n Leier wat onverantwoordelike beloftes maak
  2. ’n Charismatiese persoon wat baie volgelinge trek.

Hiervan was in Suid Afrika en wêreldwyd in 2016 heelwat voorbeelde. Dit is asof die legende sigself wil herhaal met ’n uiteindelik onbekende lot vir diegene wat ’n fluitspeler volg. Daarom is my woord vir 2016:

Fluitspeler

Sunita Keyser

The post Sunita Keyser se #litnetwoord2016 appeared first on LitNet.

Persvrystelling: "Dans van die Vlamme" by die Taalmonument

$
0
0

Die Psychedelic Theatre is op Vrydag 30 Desember 2016 weer terug op die Tuinteater-verhoog vir hul tiende “Dans van die Vlamme”-vertoning by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Die uurlange “Dans van die Vlamme”-vertoning sluit in musiek, vuurdansers wat vlamme eet en uitblaas en onder andere met brandende hoelahoepels, palmkerse en vuurslange dans.

Marvin-Lee Beukes, akteur en stigterslid van die Psychedelic Theatre, sê dat hul tiende vertoning vanjaar ’n kaleidoskoop van verskillende vuurvertonings sal insluit, wat vergesel word met musiek deur die groep Ward 10.

“In Desember is ons terug in die Paarl met ons nuutste werk. Ons sien uit daarna om plaaslike inwoners, toeriste én vakansiegangers by die Taalmonument te ontvang vir  ’n onvergeetlike aand van pragtige uitsigte, ’n ongelooflike  sonsondergang, ’n piekniek én ’n vuurdansbelewenis.”

Die piekniek begin om 18:00. Die vertoning self begin om 20:30 in die Tuinteater op die grasperk reg aan die voet van die monument. Die hekke open reeds om 17:00. Besoekers is welkom om hul eie drankies (verkieslik geen glas) en piekniekmandjie saam te bring of een (teen R250 vir twee persone of R350 met ’n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie, ligte verversings, wyn en bier.

Kaartjies is vooraf  by Computicket en die Taalmonument te koop teen R100 vir volwassenes, R80 vir studente en R50 vir kinders onder 13 jaar. Die Tuinteater is ’n rookvrye sone en geen stoele word toegelaat nie. Bring ’n kombers of kussing en warm klere saam. Veilige parkering is beskikbaar.

Die piekniekkonsertreeks sluit ook vertonings in deur Arno Carstens en Refentse (2 Desember 2016), Coenie de Viliers, Hemelbesem en Yoma (6 Januarie 2017), The Rockets (27 Januarie 2017), ’n Valentynskonsert (met onder andere André Schwartz op 14 Februarie 2017), Bobby van Jaarsveld (24 Februarie 2017), Amanda Strydom en Jak de Priester (10 Maart 2017) en Die Heuwels Fantasties (31 Maart 2017). Vir verdere inligting, skakel 021 863 0543/4809 of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument.

The post Persvrystelling: "Dans van die Vlamme" by die Taalmonument appeared first on LitNet.


Geen plek vir logika

$
0
0
Met al die nie-plekke en liegplekke soos helle en hemels in koppe, is daar geen ruimte vir heerlikhede van werklikhede nie.
 
CM

The post Geen plek vir logika appeared first on LitNet.

In memoriam: Johan Malherbe

$
0
0

Johan Botha en Johan Malherbe (langs die bed) in 'n toneel uit die toneelstuk Faan se trein.

Hoe sleg is hierdie nuus nie. Ek moes weer en weer lees. Johnny wat nooit ophou gym nie. Johnny die superster van Kaapse verhoë in die 70’s. Johnny van Nerina Ferreira, Johnny van funny tantrums, Johnny die cowboy, die modeman, die internasionale model, die dominee in Pieter Fourie se Faan se Trein in 2005/6. Johnny se heengaan is ’n reuse verlies. ’n Reuse hartseer. Johnny is gans te yl gehuldig.

Die ou wêreld het mos bietjie verander. In die ou dae is ’n lywige huldeblyk oor so iemand geskryf. So iemand se afsterwe sou op SAUK-nuus prioriteit geniet het. Ek onthou die ou wêreld as eenvoudiger.

’n Paar gesigte doem altyd in my geestesoog op as ek dink aan my kleintyd en die mense wat ek op die verhoog sien speel het – in dae dae van NET radio, die odd film, en verhoog. En ek kan hulle opnoem – maar die lys is lank. Om net ’n paar te noem: Johan Malherbe en Pieter Joubert en Nerina Ferreira en Fitz Morley en Cobus Rossouw en Pieter Geldenhuys en Babs Laker en Paul Malherbe en Fanie Bekker en die lys gaan aan.

Johan Malherbe en Pieter Joubert was gereeld teenwigte vir mekaar se karakters, en sjarmante, interessante akteurs wat vermáák het. Die stukke het gewissel tussen erns en komedie. van Arme Moordenaar tot Hond se gedagte tot Chekhov.

Ek het met ’n hele paar van die mense gedurende daardie jare kennis gemaak – meestal by die radio. Paul en Nerina en Babs en ander name, soos Louw Verwey, Pietro Nolte en Albertus Bosman was gereelde en sterk radiospelers. Enkele name wil-wil my ontgaan. Maar dan spring hulle terug: Irmela Pakendorff wat die sexy stemmetjie in Die Heuningnes was. Die Rousseau-dame wat haar, soos Elsabé, gereeld oor my ontferm het. Ek onthou nie dat ek Johan Malherbe juis daar raakgeloop het nie.

Maar as ek nou daaraan terugdink, was hy dalk te flambojant vir ’n radioateljee. Johan, een van twee broers van Robertson se wêreld. Met serpe en leerbaadjies en styfspanbroeke, prominente belde, Paul selfs met handskoene. Maar ek dink dis omdat hy hande had soos Chris Barnard, die hartpionier. En die ongeskrewe reël – vergelyk nie die twee broers nie. Daar was kompetisie. Hulle sou dit self doen – veral Johan.

Johan sou met sy vermenging van effense plat plaasuitspraak, met ’n titsel kamp daarby, ’n paar redes kon vind om sy talent bo Paul s’n te verhef. Ironies genoeg – dalk omdat die algemene opinie andersom was – omdat Paul, die ouer broer, eerder as die meer klassieke akteur beskou is.

Ek noem bogenoemde, nie omdat dit ’n politieke bloedbad was nie. Nee wat. Juis dít was vir my oor baie jare deel van die unieke, tekstuurryke, mildelike uitdeel van talent, kwelling, lief en leed van ’n hele generasie. En Johnny was deel van die middelpunt daarvan. Johnny was ook deel van die oorgang met die koms van televisie in Suid-Afrika. Dalk was dit vir die beeldskone jong man ’n tragiese oorgang; dalk net-net te laat vir sy skoonheid.

Die verhoog het in daardie tyd vir ’n periode sy glans verloor. Later – met die nuwe, goor politiek na 1990, het alles in SA ’n verdere knou gekry. En baie akteurs het nie meer werk gehad nie. Johan kon darem aanhou werk. Nie gereeld nie, maar darem. En daar was ’n luukse Clifton woonstel en nog eiendomme – selfs in Johannesburg.

In 2005 stel ek Johan aan in die rol van die dominee in Faan se Trein. Die stuk speel vir twee jaar. Reeds gedurende die eerste jaar neem ek ’n klompie risiko’s. Ons gaan speel onder andere in Pretoria by die Staatsteater. In Pretoria voel Johnny verontreg om ’n rede wat niemand tot vandag weet nie – iets te doen met die twee dames (ek dink Hannetjie Smit en Sophia Passerini) wat oorkant hom woon. Maar niemand is juis ontsteld nie, want dis deel van die pakket. Johnny gaan eet saam en repeteer saam, maar van sosialiseer is daar min sprake. Francois Potgieter – ’n emosionele steunpilaar vir almal op toer – ken Johnny al van vorige produksies af. In die kombi op pad na die Staatsteater trek hy Johnny se siel uit. Hy hou ’n kontrepsie naby Johnny se gehoorstuk, en dan is daar kringfluit. Dan stel Johnny aan sy gehoorstukkie. Dan sê Francois: “Wie hoor ’n papegaai?” Dan lag almal, maar nie Johnny nie. Want hy het gewéét.

So drie dae later ry ons teater toe. Skielik verbreek Johnny die stilte. Met ’n “Haai, kyk! Daar stap ’n wit vrou”, som hy die politieke ervaring wat ons van Pretoria gehad het, op.

Dis ook aan die einde van hierdie speelvak –die laaste aand – toe hy en Johan Botha die curtain call amper mis. Die teater het soos die week vorder en die word of mouth versprei, voller en voller geword. Die laaste aand is dit gepak. Alles verloop klopdisselboom. Met curtain call is dit eers Paul Eilers wat buig, dan sluit die twee outoppies by hom aan, naamlik Johan en Johan Botha. Maar vanaand gebeur dit nie. Ek hoor net die twee pare voeteval soos hulle uit die kleedkamer aangehardloop kom, met groot glimlagge hier by my verbystoom, en met moeilike asems laaste op die verhoog verskyn.

Met ’n trippie tussen Potchefstroom en Kimberley wil Eilers tussen die meisies ry. Ek en Paul maak dus die voorhoede uit in die voorste voertuig. En ek en ons tegniese assistent, wat later gaan opera studeer het, trek daar los in lied! Die pad was kort, want daai kombi is deur die hele FAK, die Freddy Mercury oeuvre, en gewilde operas en operette. Toe ons anderkant uitklim sê Johnny: “Dit was sommer lekker heelpad cabaret.” Altyd die Engelse touch deur sommige woorde net so uit die Engels te gebruik.

Op ’n trip per bus tussen Johannesburg en Bloemfontein sit ek langs Johan. Daai lang pad raak net so kort. Ons raak aan sy fynste hartsdetail.

’n Paar jaar vantevore het ek met hom – gedurende opnames van ’n TV program wat ek maak – oor sy loopbaan en lewe gesels (ek het steeds die ure se materiaal, ongebruik). Ook oor hom en sy broer, Paul. Oor die dae toe hy die Kaapse verhoë verruil het vir die modewêreld in Europa. Johan was ’n baie, baie mooi jong man. Hy het vertel van die partytjies by sy huis, hulle Clifton sonsoek, stranddae.

Tydens die nuwe dae laat gaan KRUIK hulle akteurs. Akteurs word die wêreld ingestuur met ’n klein pensioentjie. Johnny is in stukke vir Marthinus Basson. Cabaret is een. Hy word op kontrak aangestel by TRUK. Ek loop die senior man raak in Johannesburg. Ek sien hom een aand by ’n partytjie staan, asof verlore. Ek ken hom sleg; gaan praat met hom, noem hom Johan en vra of hy okay is. Hy reageer met dankbaarheid en sjarme.

Maar hy kòn so verlore lyk. Ek dink daar was ’n onvervuldheid in hom. Wat hom by ’n partytjie voor die huis alleen op die sypaadjie laat beland het. Dit het so gewerk. Ek word vyftig. Ek besluit om onder meer mense te nooi wat deel was van die boublokfases van my lewe. Een so ’n gas is Johan van Jaarsveld. Tydens my radiodae as laerskoolkind moes ek saam met my pa SAUK toe ry. Hy was gereeld laat. Ek onthou ’n Johan van Jaarsveld wat vir my pa sê: “Dawie, f*&$# tog!” En vir my agter hom: “As jy ’n lisensie gehad het, was ek vir jou ook kwaad. ” Ook op my 50ste is my kunsjuffrou van skool, beste vriende – die wat nog lewe – en ook Francois, die steunpilaar van Faan se Trein. Ek berei onder andere ’n perlemoenpotjie tuis. Dit reën. Dis ’n rush. Almal is al by die restaurant as ek, twee potjies en nog ander ingewikkeldhede opdaag. Almal wens my geluk, sommer met die intrap-en-swaar-dra-slag. So sweet-sweet en steun en kreun ek verby die groepie wat uit Francois, Koos Marais, die geniale kunstenaar wat die stel van Faan se Trein geskep het en Johnny bestaan. Francois en Koos sê “Geluk”. Nie Johnny nie. “Johnny, Albert verjaar. Wens hom geluk!” sê Koos geïrriteerd. “Fok hom, hy gee nie vir my werk nie”, seg Johnny met die Robertson cum camp affektasie.

Ek dink nie Johnny het na Faan se Trein juis weer gewerk nie. Dalk was hy juis nóú reg vir radio. Vir genadebrood vir die siel. Dis ’n hartseer ding van ons landjie. My pa het baie gepraat van “fuck you Jack, I am all right”. Dis ’n mentaliteit by sommige mense hier. Ongelukkig het ’n paar van hulle invloed. En te min sin vir humor. En dalk het dit hand aan hand gegaan met karma. Maar Johnny sou nog kon werk, soos baie mense wie se name ek nou kan noem; mense wat in Faan se Trein en Faan se Stasie nog kwiksilwer werk gedoen het. En nie weer nie.

Een aand by ’n tienertoneelfunksie by die Hoërskool Jan van Riebeeck sit Johnny by ’n tafel agter my. Hy was ’n gas van die Therons, wat hom jaar in en jaar uit as vriend betrek het, en sy lewe help ophelder het. En om watter rede ook al kan ek nie onthou nie, bied Johan vir my dié opinie aan: Faan se trein was die lekkerste ervaring van sy lewe. Die lekkerste twee jaar van sy lang loopbaan.

Daarna: niks.

Omdat ons by so ’n verskeidenheid van lokale gespeel het met Faan se Trein, en later met Faan se Trein én Faan se Stasie, het ek ’n gebruik geskep. By elke lokaal sou ek die spelers en my tegniese personeel bymekaarbring met die personeel van die lokaal/teater/wat ook al. Dan sou ek elkeen ’n kans gee om homself bekend te stel. “Hallo, I am Ephraim. I am the technical boss. I have been here for 15 years.” Dit was gereeld die mees ervare persoon by ’n lokaal. Die ander sou een, twee of dalk vyf jaar ervaring hê. Dan kom Johnny een of ander tyd aan die woord: “Ek is Johan Malherbe. Ek was eers by KRUIK, daarna by elke ander streeksraad, toe by TRUK, en nou vryskut ek. Ek is al 50 jaar ’n akteur.”

Dis vir hulle – hierdie pioniers – wat ek na ’n misplaaste KKNK resensie opgekom het toe ek voor twee gehore geprotesteer het teen die media se lukrake manier van omgaan met die mense in dié bedryf. Toe ek daar staan en praat – tydens pouse, van die mense agter die gordyne wie se loopbane dit is, wat ’n besondere spesie is, wat nie bang is om hulle hande vuil te kry in die nuwe, moeilike dae van teater nie – was die gesigte wat in my geestesoog my genoop het: Johnny, Paul en Johan. Johnny eerste.

Ek weet nie wie Johnny se lewenspartners was nie. Maar hy en Nerina was op ’n stadium verloof, het hy vertel. Dit vertel hy my op die bus na Bloem. Ja, hulle het soveel jare saamgewerk, en was beide so eksplisiet in hul unieke leefstyle en roem; geen wonder. Hy het vertel hoe Nerina, as hulle met ’n toerstuk die dag terugkeer na Kaapstad, reeds agter in die kombi haar grimering begin aansit het. Dan was sy reg vir aksie. Sy was ’n klubdier, en legendaries baie gesog onder die mans van ander nasionaliteite wat Kaapstad per skip besoek het. Die verlowing het nie gehou nie.

Johnny se geld blykbaar aan die einde ook nie. Hy was toendertyd bekend vir suinigheid. Op toer met Faan het ons seker altyd almal saam gaan eet. Dan moes jy weet – as Johnny in die groep is wat vroeg waai en hul geldjie vir die rekening agterlaat – jy betaal vandag in.

Ek loop Johnny in Johannesburg raak by die huis van die ewe nimlike Christine Basson. Ek het daarvan gehou om die dag so lank as moontlik te strek as ek ’n lekker tyd het. Dié aand was ek en my meisie by ’n openingsaand. Loop Christine raak. Sy nooi ons na haar huis in Mayfair. Ons drink alles onder die son, en filosofeer en vertel stories. So tweeuur die oggend verdwyn Johnny. “Waars hy?” vra ek vir Christine. “Nee, hy slaap daar en daar”. Ek's gang-af en ja – daar’s die bedjie. Johan sit op die rand. Onverbiddelik neem ek die nuutgevonde vriendskap verder deur hom terug te nooi sitkamer toe. Sy tweede escape was so 40 minute later. Toe ek by sy bedjie kom, was hy al horisontaal. Toe hy my sien, swaai hy gehoorsaam sy voetjies van die bed af en kom saam. Met die derde verdwyn het Christine en Kimmie my aangemoedig om hom maar te los. Ek het.

Uit al die kuier vra Johan daai jaar of hy saam Kaap toe kan ry Desember. Ja, graag, seg ek. Dit was die gebruik dat die saamryspan die petroluitgawes deel. Toe het ek al gehoor van Johan se suinige siekte. So, toe ek hom gaan oplaai by sy loft penthouse in Hillbrow – ja, mens kon eens daar woon, in rykdom nogal, ry ons met my Pulsartjie garage toe. Ek laat hom die eerste tenk ingooi. En moedswillig gee ek die kar ’n paar stampe. Skud hom. Dan sak die petrol en hy vat meer liters. Die frons op Johan se voorkop, en die effense prewel van “wat, huh, hônou”, was die begin van my lag en ons louter vreugde, stoppe vir koffie uit ’n fles en piekniekgoedjies langs die pad, die uitsig oor die Kaap van bo in Du Toitskloof, en ’n onverwagse pad saam verder die toekoms in.

Ek wou hom nooit Johnny noem nie. Uit respek. Maar nou ja – nou is ek amper so oud. En kan ek net sê: Johnny, die uitsig wat jy nou het, is beter. Jy’s one-up op ons. En jy het gedink jy is one-up op jou broer! Nou kan julle dit self uitklaar.

Sterkte aan sy naastes. Dankie vir Charl Theron en Barbara, Johan Oosthuizen en Marianna wat hul altyd oor hom ontferm het en die doodsberig geplaas het.

The post In memoriam: Johan Malherbe appeared first on LitNet.

Bonjour Monsieur Brel by Die Boer-restaurantteater

$
0
0

Bonjour Monsieur Brel

Die Boer-restaurantteater in Durbanville

16 Des om 20:30

Kaartjies is R120 en beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com

Jannie du Toit
Tjello: Susan Mouton
Klavier: Coenraad Rall
Regie: Juanita Swanepoel

Jacques Brel se beeldryke chansons, wat elke aspek van menswees bekyk, word in vier tale: Frans, Afrikaans, Nederlands en Engels vertolk. Danksy intrinsieke artistieke kwaliteit en universele temas is sy werk tydloos. Hy sing begeesterd oor ’n beter bestaan en skreeu vurig teen elke onreg. Hy besing sy geliefde Vlaanderenland, maar spot met volksgenote se kleinburgerlikheid. Deur die jukstaposisie van uiterstes, soos ironie en intense empatie, teerheid en woede, kry die gehoor ’n blik op Brel se hartstogtelik begeerde “onmoontlike” droom.

brel_650

Jannie du Toit, Coenraad Rall en Susan Mouton

Jannie du Toit word al dekades lank aangeprys as ’n standhoudende eksponent van uitnemendheid in liedkuns. Sy eerste vertolkings van Brel sing hy in 1988 in die produksie Van Berlyn tot Bapsfontein saam met Laurika Rauch. Brel se liedjies speel sedertdien deurgaans ’n rol in sy aanbiedinge soos De kleine man en Jannie en die Tannie saam met Christa Steyn. Sy mees onlangse vertolkings is weer saam met Laurika – met Christa by die klavier – in Brel in Brooklyn, 2010. Veral twee Nederlandse liedere, “Madeleine” en “Liefde van later”, vestig hom vroeg in die negentigerjare as Brel-vertolker, maar sy Franse weergawes van “La valse” en “Il Neige Sur Liege” in Onderweg (2011) kry ook hoë lof van kenners. Naomi Morgan se Afrikaanse vertalings wat hy in Brel in Brooklyn gesing het, bied ’n revolusionêre nuwe blik op die tekste wat ewe sterk as enige van die vertalings in ander tale staan.

Na sy uiters geslaagde eenmanvertoning, Doep is nie dood nie, wat meer as ooit tevore volledig as woordkuns aangebied is, verwesenlik Jannie ’n jarelange ideaal om Brel ook in die genre van ’n eenman literêre kabaret te ontgin. Onder die meesterlike leiding van Juanita Swanepoel word verbande tussen liedere in die bindteks gelê en kom Brel se geniale beeldende skryfwerk na vore.

Soos die werke van klassieke komponiste en die wêreld se groot operas is Jacques Brel se werk ook tydloos en sal dit vir baie lank nog weer gehoor en nuut geïnterpreteer word. In die geval van Brel is dit ’n gegewe dat die klem van tyd tot tyd weer volledig op die teks moet val en in hierdie program word dit ewe sterk in vier tale gesing – ’n getuigskrif vir die ongeëwenaarde seggingskrag van die grootste chansonnier van alle tye.

 

Foto: verskaf

The post Bonjour Monsieur Brel by Die Boer-restaurantteater appeared first on LitNet.

WAT-uitnodiging: Borg ’n woord as Kersgeskenk

$
0
0

wat_uitnodiging_600

  • Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en woord
  • Een deelnemer kan R25 000 wen in ’n prystrekking geborg deur Sanlam
  • Hoe meer woorde jy borg, hoe groter is jou wenkans
  • Jy kry gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf
    jaar as jy ’n woord koop

Stuur ’n betalingsbewys saam met jou woord of woorde, e-posadres en telefoonnommer na:
wat@sun.ac.za, of
WAT Trust, Posbus 245, Stellenbosch, 7599, of
086 558 2739 (faks), of
klik hier vir ’n kredietkaartbetaling.

Bankbesonderhede
Rekeninghouer: WAT Trust
Bank: Standard Bank
Tjekrekeningnommer: 07 22 64 578
Takkode: 05 06 10
Verwysing: B’nW en jou naam

Skakel 021 8873113 as jy R20 000 eksklusief wil SKENK vir ’n woord.
Sluiting: 17 Maart 2017
Prystrekking: 24 Mrt. 2017

bnw_600

 

The post WAT-uitnodiging: Borg ’n woord as Kersgeskenk appeared first on LitNet.

Persverklaring: Briewe uit die Tankwa deur Leti Kleyn en Dawid Slinger herdruk

$
0
0

briewe_tankwaTitel: Briewe uit die Tankwa
Outeurs: Adriaan Oosthuizen (foto’s), Leti Kleyn en Dawid Slinger
Genre: Fotografie/ Sketse
Prys: R400.00 (BTW ingesluit)
Verskyningsdatum: Desember 2016
ISBN: 978-1-4853-0655-9
Formaat:  250 x 253 mm
Hardeband/sagteband: sagteband
Foto's: Kleurfoto’s dwarsdeur die boek
Aantal bladsye: 184
Verspreiding: Wêreldwyd

 

Agtergrond

Met kaarte en geografiese grense sal mens wel kan bepaal waar lê die Tankwa-Karoo, maar vir Adriaan Oosthuizen kry jy dié streek wanneer jy die langste grondpad tussen twee dorpe in Suid-Afrika aanpak: die pad tussen Ceres en Calvinia. Saam met Adriaan se foto’s vertel Leti Kleyn van haar besoek aan hierdie geliefde stuk land en dit word aangevul deur Dawid Slinger se vertellings en skrywes. ’n Fees vir die oog, ’n lekkerleesboek en ’n inligtingsgids ineen oor die geliefde streek wat die Tankwa-Karoo heet.

Oor die outeurs

Adriaan Oosthuizen is ’n fotograaf in Kaapstad wat spesialiseer in mode, kos, dekor, portretstudies, kuns en natuur. Sy foto’s verskyn in Suid-Afrikaanse tydskrifte soos VISI, Sarie-kos en Taste. Boeke waarvoor hy die foto’s geneem het, is Suzelle DIY: Die boek en Deon Meyer se Ridders van die grondpad.

Leti Kleyn is werksaam by die Universiteit van Pretoria by die Open Scholarship Programme, en skryf leefstylartikels vir koerante en tydskrifte soos Beeld en Rapport. Sy is ook mede-outeur van Afrikaanse skryfgids (2012), uitgegee deur Penguin.

The post Persverklaring: Briewe uit die Tankwa deur Leti Kleyn en Dawid Slinger herdruk appeared first on LitNet.

Suid-Afrika: (Fiktiewe) oorsig oor die laaste 525 600 minute

$
0
0

Liewe leser

Elke jaar in die eerste week van Desember skryf ’n vriend van my ’n brief aan al sy vriende waarin hy ’n oorsig oor sy jaar gee.

Dit herinner ons almal aan die goeie en die slegte tye waardeur ons is, en dit gee hom die geleentheid om net rustig te sit en besin oor wat die afgelope jaar in sy lewe aangegaan het. Gewoonlik is daar gedeeltes oor sy werk, sy gesinslewe, sy kinders en sy troeteldiere (Bob en Maggie, vernoem na twee politici). Die laaste gedeelte is altyd ’n refleksie van sy gevoelens oor die jaar, en sy hoop vir die volgende jaar.

Dit het my laat wonder. As Suid-Afrika ’n persoon was, en boonop die briefskrywende, reflekterende, diepdenkende tipe, hoe sou haar brief lyk?

Ek het daai brief probeer skryf. Die waarheid is te depressief, het ek na die eerste paragraaf besef. ’n Fiktiewe oorsig, een met ’n gelukkige einde, is beter vir hierdie Kersgety. Hier is die resultaat.

Beste (voeg gerus jou naam hier in)

Sjoe, 2016 het verbygevlieg! Dit voel of my voete skaars grond gevat het van 2015 af.

Noudat dit rustiger begin word, het ek tyd om bietjie te dink oor die jaar wat amper verby is. Wat het in die laaste 525 600 minute gebeur?

Kom ons begin by die politiek.

My kinders is lankal diep ongelukkig met Jacob Zuma se manier van sake doen. Die ANC, omdat hulle die tipe organisasie is wat die menings van gewone Suid-Afrikaners ernstig opneem, het vroeg in Januarie ’n referendum gehou. Wou my kinders nog vir Zuma hê? Die resultaat was ’n dawerende "Nee". Zuma, as die verantwoordelike leier wat hy is, het binne 48 uur nadat die resultate bekend gemaak is, sy bedanking ingedien.

Die referendum het ook vrae gevra oor die tipe leier wat my kinders wil hê. Integriteit, in voeling wees met al die gemeenskappe, werksetiek, vermoë om onafhanklik van partypolitieke oorwegings op te tree was hoog op die lys van karaktertrekke.

’n Integriteitstoets is ingestel wat alle verkose lede, en veral presidente, moet slaag voordat hulle ingesweer kan word. Nie een van die voorgestelde kandidate kon die toets slaag nie. In ’n buitengewone stap het die parlement toe besluit om die uitgaande openbare beskermer, Thuli Madonsela, aan te stel as president.

Die rand het binne ’n week sodanig versterk dat dit nou op gelyke vlak met die Britse pond is. R1/₤1, R1/€2, R1/$4. Dis die eerste keer in my geskiedenis dat dit gebeur!

President Madonsela het ’n klomp veranderinge gebring wat buitelandse vertroue in my versterk het. ’n Deeglike oudit van alle kontrakte, politici en tenderpreneurs is gedoen met samewerking van forensiese ouditeurs en Interpol se gespesialiseerde korrupsie-eenheid.

Drie nuwe tronke moes in rekordtyd gebou word om al die skuldiges wat uitgewys is, te huisves. Vir die eerste keer, en met algehele goedkeuring van my kinders, word harde arbeid in hierdie tronke ingestel. Al drie tronke is in die Kalahari, waar die gevangenes geleer word om bakstene te maak om bouprojekte te ondersteun.

Daar is beslag gelê op Nkandla. Dit word nou gebruik as die hoofkantoor van die polisie se permanente korrupsie-eenheid.

Pres Madonsela het, in samewerking met die tesourie en die lede van parlement, ’n proses begin om staatsbesteding in te perk. Alle luukse voertuie vir ministers en senior staatsamptenare is teruggeneem en verkoop. Die opbrengs is gebruik om die bestaande infrastruktuur by skole en universiteite op te knap.

Alle amptelike vervoer vind nou plaas in Toyota Aygo, VW Up en Tata Indigo. Dis glad nie ongewoon om die president op haar bromponie te sien wanneer sy in Kaapstad tussen haar huis en werk reis nie.

Kaapstad is ook nou finaal gekies as setel van die regering. Alle ministeriële behuising in Gauteng, asook alle regeringsgeboue wat duplikasie van funksies teweegbring, is verkoop. Die opbrengs is gebruik om SASSA-gelde te verhoog na ’n bestaansloon van R4 000 per maand. Die besparings op besteding beteken dat hierdie tarief vir die volgende 5 jaar behou kan word.

Die Uniegebou is tot museum verklaar. Opbrengste uit museumbesoeke word in die SASSA-fonds geplaas.

Vyfsterhotelverblyf vir staatsamptenare is ook nou gestop. Pres Madonsela het die ministers van behuising en van openbare werke opdrag gegee om te verseker dat daar in elke dorp ’n blok HOP-huise beskikbaar gestel word vir gebruik deur ministers en ander staatsamptenare. Nie net bespaar dit geld nie, dit gee die ministers geleentheid om in kontak te kom met die lede van die gemeenskap wat hulle bedien. Om werkskepping te stimuleer, word die skoonmaak van die huise, die tuinwerk, asook voedselverskaffing uitgekontrakteer aan lede van die plaaslike gemeenskap.

Die speaker en die minister van verdediging het albei in trane uitgebars en hulle bedankings ingedien na hul eerste aand in die nuwe behuising.

Indien ministers oorsee moet reis, word net ekonomieseklaskaartjies uitgereik vir die minister en ’n maksimum van twee lede van sy of haar personeel. Behuising is in ons ambassade in die betrokke land. Enige ander uitgawes is vir die minister se persoonlike rekening.

Vir alle binnelandse reise moet ampsmotors gebruik word.

Die kabinet is ook gesny, aangesien daar te veel ministers is wat te min doen. Funksies is gekombineer. So is daar nou byvoorbeeld net een minister wat verantwoordelik is vir opvoeding van al my kinders.

Parlementslede word net betaal indien hulle vergaderings bywoon. Indien hulle betrap word dat hulle aan diens slaap, word hulle beboet met ’n dag se salaris. ’n Tweede oortreding is gronde vir ’n dissiplinêre verhoor, en ’n derde oortreding word met summiere ontslag gestraf.

Met die besparings wat bewerkstellig is, kon studente se agterstallige en uitstaande universiteitskulde kwytgeskeld word. Gratis onderwys vir alle bestaande studente vir die volgende twee jaar is ook ingestel. ’n Kommissie is aangestel om maniere te ondersoek waarop gratis onderwys permanent op alle vlakke moontlik gemaak kan word. #FeesMustFall het by die eerste vergadering van die kommissie formeel ontbind, en eksamens kon normaal voortgaan.

Daar was ook ’n indringende ondersoek na die werksaamhede van semistaatsinstellings om hulle volhoubaarheid te bepaal. UH-salarisse by SABC, Eskom en die poskantoor is met 60% gesny. Alle staatsamptenare en ministers moet prestasiekontrakte teken. In die geval van ministers moet hulle prestasie gemeet word deur ’n paneel wat altyd minstens twee lede van die publiek insluit. Die lede word met ’n lotery bepaal.

Pres Madonsela se gewildheid onder my kinders is op ’n ongekende 97%-goedkeuring. Sy is ook die eerste president wat die ondersteuning van al die politieke partye in die land geniet.

Landbou

Daar was voorspellings van droogte, maar goeie reëns dwarsdeur die jaar het daai kommer hokgeslaan. Al my damme is meer as 80% vol. Waterbeperkings is iets van die verlede. Rekordoeste word in alle sektore verwag.

In elke dorp word my kinders nou aangemoedig om oop stukke grond te gebruik om groente te plant en hoenders aan te hou. Dit gee hulle die kans om hulleself te voed, en terselfdertyd het dit ook ’n einde gemaak aan die onwettige besetting van eiendom.

Sport

Die Springbokke is onstuitbaar. Hulle het hierdie jaar nog nie een wedstryd verloor nie.

Bafana Bafana, Banyana Banyana en die Proteas het ook ongekende sukses behaal. Ons atlete slaan gereeld wêreldrekords.

Polisie en regspleging

Geweldsmisdaad het met 50% afgeneem. Die enigste misdaadstatistiek wat gestyg het, is korrupsie. Dis te verstane, met die spesiale Interpol-projek waarna ek vroeër in my verslag verwys het.

’n Samewerkingsooreenkoms is met Interpol gesluit om opleiding van die polisie oor te neem, wat hopelik daartoe sal lei dat my kinders van die beste opgelei in die wêreld sal wees.

Rasseverhoudings en nasionale trots

Sedert pres Madonsela se bewindsoorname is geen neerhalende kommentaar oor intelligensie, opvoeding, integriteit en dies meer teen die presidensie gemaak nie.

Sporadiese negatiewe rassekommentaar is elke keer in die kiem gesmoor deurdat lede van die oortreder se rasgroep spontaan protes aangeteken en die rassis uit hulle midde geban het. Ekonomiese boikotte van die rassis se besigheid, of dié van sy werkgewer, het ongekende vinnige verwerping van rassisme tot gevolg.

Sedert September is geen nuwe voorvalle van rassisme aangemeld nie.

Daar is ook ongekende trots in ons eie geskiedenis. Black Friday, Halloween, Plett Rage en ander na-apings van Amerikaanse kultuur en verbruikersfoefies het vir die eerste keer hierdie jaar nie veel aftrek geniet nie. Suid-Afrikaanse films, kultuurfeeste en literatuur beleef ’n bloeityd.

Arbeid

Minimumlone vir alle sektore is ingestel, en onderhandelinge vir beter werkstoestande is aan die gang. Vir die eerste keer vandat ek kan onthou, was daar hierdie jaar nie een werkerstaking nie.

Ekonomie

Rommelstatus is nie meer ’n bekommernis nie. Met al die besparingsmeganismes in werking, die wyse waarop korrupsie hanteer is, en hernude vertroue in my kinders se vermoë om beheer te behou, het al die agentskappe ’n positiewe aanpassing in hul uitkyk oor my gemaak.

Daar’s natuurlik nog heelwat wat gedoen kan word om my kinders ’n beter lewe te gee, maar ek is hoopvol. Saam kan ons veel vermag. 2017, glo ek, hoop ek, gaan vir my kinders ’n jaar van ongekende sukses, voorspoed en vreugde wees.

Geniet hierdie feesgety, ry veilig. Kom ons behandel mekaar met respek en deernis. Ons verdien dit.

Met liefde

Suid-Afrika

The post Suid-Afrika: (Fiktiewe) oorsig oor die laaste 525 600 minute appeared first on LitNet.

PEN Afrikaans Nuusbrief: Desember 2016

$
0
0

Beste lid van PEN Afrikaans

Dis lekker om ons Desember-nuusbrief af te skop met:

'n Groot feestelike boekbonus met die komplimente van Taalgenoot

Klik op hierdie skakel en jy kry in PDF-formaat al dié inhoud uit die laaste drie uitgawes van die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot wat relevant is vir lesers, leeskringe en skrywers. Dit sluit die volgende in:

Herfs 2016

  • Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Voor-bode deur Cas Vos, Stoffel – Die beste stories deur Christiaan Bakkes, Die naaimasjien en ander stories deur Rachelle Greeff, Voëlvry deur Piet van Rooyen, Die verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten, Portrette in my gang deur Dolf van Niekerk, Split deur Debbie Loots, Skryn deur Emma Bekker, In die blou kamp deur Dana Snyman, Donderslag deur Wilbur Smith (vertaal deur Zirk van den Berg) en Parool deur Breyten Breytenbach. Dié afdeling sluit ook ’n onderhoud met Dana Snyman in. Die volgende twee CD’s word resenseer: Drome deur Heuning en Nogtans sal ek sing deur Anneli van Rooyen.   
  • ’n Artikel oor storievertelklubs deur Elsabe Pepler
  • ’n Artikel oor die stand van ons resensiekunde deur Samantha Buitendach

 
Winter 2016

 

  • Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Die bome reusagtig soos ons was deur Hilda Smits, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva deur Sophia Kapp, Atropos deur Hendrik J. Botha, Amraal deur Marinda van Zyl, Stem in die wind deur Dina Botha, Omega oor en uit – die stories van ’n opstandige troep deur François Verster, Struisvoël deur Johan Fourie en Vlees en bloed deur Riette Rust met Eileen de Jager en Roelien Schutte. Dié afdeling sluit ook in ’n kort bespreking van William Kentridge se monumentale fries, Triumphs and Laments, op die oewer van die Tiber in Rome asook ’n onderhoud met die fotograaf Hannelie Coetzee. Die volgende drie CD’s word resenseer: Chris Else deur Chris Else, As jy weet dis liefde deur Charlise Berg en Piekniek vir twee deur TWEE.
  • ’n Profiel van Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie. Hulle gesels met Stephanie Niewoudt o.m. oor hulle sukseskookboek, Kook saam Kaaps.
  • ’n Profiel van die rymkletser Hemelbesem deur Christiaan J. de Swardt 
  • ’n Artikel oor die toekoms van Afrikaanse kunstefeeste deur Danie Marais
  • ’n Artikel oor die nuwe taalstryd vir moedertaalonderrig en die stand van ons inheemse tale deur Karien Brits

 
Lente 2016

 

  • Die Oppirak-afdeling met resensies van die volgende boeke: Broedertwis deur Albert Blake, Anderkant vergeet deur Santie van der Merwe, Vrediger deur Dibi Breytenbach, Bladspieël deur Marlise Joubert en Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen. Dié afdeling sluit ook ’n bespreking van die Ingrid Jonker-keurspel-huldeblykalbum, Die kind is nog jonger, deur Jaco Nel in.
  • ’n Profiel van die digter Joan Hambidge deur Eugene Goddard waarin Hambidge kommentaar lewer op die huidige taalstryd om die behoud van Afrikaans aan universiteite
  •  ’n Artikel oor Emily Hobhouse en Elsabé Britz se werk aan haar hoog aangeskrewe biografie oor Hobhouse deur Reza van Rooyen
  • “Die taal van ’n revolusie” – ’n uittreksel uit Deon Maas se nuwe boek, Melk die heilige koeie, oor die stryd om oorlewing en erkenning waarin Afrikaans nog altyd gewikkel was.

Indien jy wil inteken op Taalgenoot het jy twee opsies:

Teken in op die digitale weergawe van Taalgenoot by: www.mysubs.co.za/magazine/taalgenoot Jy kan dit dan op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of slimfoon aflaai. 

Teken in op die drukweergawe van Taalgenoot. Kontak Lillian Meyer by LillianM@atkv.org.za of (011) 919 9112 of volg dié skakel vir die doen-dit-self drukbare vorm en besonderhede: www.atkv.org.za/files/tg_-_intekenvorm_2015.pdf

As jy daarin belangstel om vir Taalgenoot te skryf, kan jy voorstelle en/of voorleggings direk na die redakteur, Johan Jack Smith, stuur: JohanS@atkv.org.za

Oor die jongste uitgawe van Taalgenoot, wat middel Desember verskyn, sê Smith:

"In ons Somer 2017-uitgawe is dit net flieks waar jy kyk: Ons gaan loer in by Gérard Rudolf wat op soek is na sy naam – ja, jy het reg gelees. Dis egter nie net akteurs met groot name wat van ’n rolprent 'n sukses maak nie en nadat jy die artikel oor vreemde beroepe in die fliekwêreld gelees het, sal jy twee keer dink voordat jy uit die fliek storm as die “credits” begin rol. Produkplasing in flieks is deesdae aan die orde van die dag en kom ook in dié uitgawe onder die loep. Ons gaan kyk ook wat gebeur wanneer digkuns en animasie trou en spekuleer oor die vraag: Is die Groot Afrikaanse Rolprent al gemaak?"  

PEN Afrikaans se nuwe boekrubriek

Een van PEN Afrikaans se hoofdoelwitte is die bevordering van letterkunde en spesifiek die Afrikaanse leeskultuur. Om meer ruimte vir 'n stimulerende gesprek oor en rondom boeke te help skep was dus uit die staanspoor vir ons 'n prioriteit. Dit is daarom 'n plesier om aan te kondig dat daar vanaf die Herfs 2017-uitgawe 'n nuwe rubriek onder ons vaandel in Taalgenoot verskyn – "Boeke wat skrywers laat skryf". Dié rubriek sal 'n dubbelblad in die tydskrif beslaan en sal ook later digitaal op ons webportaal beskikbaar gemaak word.

Vir hierdie gleuf sal prominente skrywers om die beurt gevra word om te skryf oor dié Afrikaanse boeke wat hom/haar a) besiel het om te begin skryf en b) dié Afrikaanse boeke wat hy/sy voel oor die hoof gesien of onderskat is, maar hom/haar geïnspireer het.

Ons hoop hierdie reeks sal nie net verdere gesprek stimuleer nie, maar ook uiteindelik 'n interessante collage van literêre invloed oor 'n wye spektrum heen word.

Tweede weergawes van Elisha Zeeman en Jaco du Plooy se kortverhale vir PEN Afrikaans se aanlyn New Voices-slypskool

In ons Oktober-nuusbrief het ons al ons lede hartlik uitgenooi om te gaan kyk na ons eerste aanlyn slypskool vir belowende jong skrywers op ons LitNet-webportaal. 

Intussen is Danie Marais en Izak de Vries se eerste leesverslae gepubliseer en nou het die twee jong skrywers wat aan dié slypskool deelneem, Elisha Zeeman en Jaco du Plooy, op hul aanbevelings gereageer met die geredigeerde tweede weergawes van hul verhale.

Klik hier vir die tweede weergawe van Zeeman se kortverhaal; hier vir die tweede weergawe van Du Plooy se verhaal. Op hierdie bladsye vind jy ook skakels na De Vries en Marais se kommentaar saam met skakels na die eerste weergawes van Zeeman en Du Plooy se verhale. 

Met aanlyn slypskole soos hierdie wil PEN Afrikaans 'n bydrae tot die ondersteuning en mentorskap van ontluikende skrywers maak. Ons is daarom baie bly om te sien dat Zeeman by die KKNK 2017 met 'n kabaret uit haar pen, Mond verby, debuteer.

Zeeman het vanjaar reeds die Kannapaneel beïndruk met haar eenvrou-vertoning by die sogenaamde Uitkampteater wat in klein tente op die feesterrein aangebied is, en sy is nou gekies vir die 2017-hoofprogram. 

Haar eenvrou-kabaretdebuut word beskryf as 'n satiriese sketskomedie met  ses uitspattige karakters wat hul ervarings oor die korporatiewe wêreld deel. Dit sluit glo ook ’n TED-talk oor die belangrikheid van lyfstraf in die werkplek in.

Elisha Zeeman

Opwindende programme vir die US Woordfees en KKNK

En van kunstefeeste gepraat: Sowel die US Woordfees en KKNK het in die afgelope maand opwindende feesprogramme vir volgende jaar bekendgestel. Die kaartjies is reeds beskikbaar en dit is raadsaam om vroeg te koop vir daardie toneelstukke, konserte of boekgesprekke wat jy beslis nie wil misloop nie.

Die volledige program vir die US Woordfees 2017 is hier beskikbaar.

Die volledige program vir die KKNK 2017 is hier beskikbaar.

Het jy vrae oor uitgewerskontrakte?

In die afgelope jaar het dit uit verskeie gesprekke met van ons lede duidelik geword dat uitgewerskontrakte vir skrywers 'n netelige kwessie bly. Aan die een kant is jy gretig vir publikasie, maar aan die ander kant is jy onseker wat redelik is ten opsigte van tantième, vertaalregte, herdrukke, film- en TV-regte ensovoorts.

Ons voorsitter, Kerneels Breytenbach, en ondervoorsitter, Marga Stoffer, het beide dekades se ervaring in die uitgewersbedryf, en hulle het albei vriendelik ingewillig om die vrae van ons lede rondom uitgewerskontrakte te beantwoord. 

Stuur asseblief jou vrae teen 15 Januarie 2017 aan penafrikaans@gmail.com en Kerneels en Marga sal hul bes doen om helder antwoorde te verskaf wat ons in 'n volgende nuusbrief met al ons lede sal deel.

Nuwe Afrikaanse boeke in Desember

Ten slotte is dit altyd 'n plesier om die lys van nuwe Afrikaanse publikasies te deel. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die Kersrakke het. Desember se publikasielys kan hier afgelaai word. 

Met vriendelike groete en feeswense
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

The post PEN Afrikaans Nuusbrief: Desember 2016 appeared first on LitNet.


Vernuwing in die bestudering van religie en religieë

$
0
0

Vernuwing in die bestudering van religie en religieë

J.M. Strijdom, Departement Godsdienswetenskap en Arabies, Universiteit van Suid-Afrika

LitNet Akademies Jaargang 13(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die doel van hierdie bydrae is om te besin oor die begrip vernuwing in die menswetenskappe in die algemeen en die vergelykende bestudering van religie en religieë in die besonder. Religie verwys hier na die generiese kategorie (genus) en religieë na die spesies van die genus. Die sosioloog Emile Durkheim se definisie van religie word aangepas deur nie net die funksie van heilige geloofsoortuigings en praktyke om ’n groep aanhangers saam te bind, te beklemtoon nie, maar ook deur die konflikpotensiaal daarvan om asimmetriese magsverhoudinge van kolonialisme, klas, geslag en ras te skep en in stand te hou, te beklemtoon. Die artikel bespreek nie net die kwessie van die betekenis van vernuwing nie, maar stel veral maniere voor wat vernuwende insigte moontlik kan maak in ’n akademiese veld wat mense en religie as ’n invloedryke krag in ons wêreld bestudeer. Die hipotese is dat nuwe insigte in die menswetenskappe en religiewetenskap moontlik gemaak kan word deur geteoretiseerde konsepte vergelykend toe te pas op spesifieke gevallestudies. Die argument is dat die skep en gebruik van kruiskulturele sleutelterme met ’n kritiese bewussyn van die genealogie van die konsepte moet gepaard gaan, en dat die vergelyking van die gevallestudies op ’n gedissiplineerde en sistematiese wyse moet geskied wat elke voorbeeld binne die spesifieke historiese en geografiese konteks van elk moet plaas. Die argument beweeg oor dissiplinêre grense heen deur voorbeelde uit die antieke Griekse taalkunde, navorsing oor die historiese Jesus en vroeë Christelike tydperk, Griekse mitologie, en vergelykende religiewetenskap te neem om die hipotese te verdedig en aan te toon hoe die hipotese in die praktyk werk. Die bydrae tot die produksie van vernuwende kennis in religiewetenskap vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief word in die artikel beklemtoon.

Trefwoorde: vernuwing; vergelyking; geteoretiseerde konsepte; religiewetenskap

 

Abstract

Innovation in the study of religion and religions

The aim of this contribution is to reflect on the notion of innovation in the human and social sciences in general and the comparative study of religion and religions in particular. Religion here refers to the generic category (genus) and religions to the species of the genus. The sociologist Emile Durkheim's definition of religion is adapted by foregrounding not only the function of sacred beliefs and practices to unify a group of adherents, but also by emphasising its conflictual potential to create and maintain asymmetrical power relations of colonialism, class, gender and race.

The article addresses the fundamental question not only of the meaning of innovation, but also of ways in which we may produce new knowledge in a field that studies human beings and religion as a powerful force in our world.

The thesis is that our best hope for producing innovative insights in the humanities and religious studies lies in experimenting with the application of theorised key concepts to specific case studies by way of comparison. It is argued that cross-cultural key concepts need to be constructed and used with a critical awareness of the genealogy of the concepts, and that the comparison of case studies must be done in a disciplined and systematic way that locates each example within its specific historical and geographic context.

The argument crosses disciplinary boundaries by taking examples from ancient Greek linguistics, historical Jesus and early Christian research, Greek mythology, and comparative religious studies to defend the thesis and to show how the thesis works in practice. The contribution to the production of innovative knowledge in religious studies from a South African perspective and location is emphasised in the article.

The following case studies and prominent scholars are selected to argue and illustrate the thesis on ways to produce innovative research in the humanities and religious studies:

(1) In the case of ancient Greek linguistics the creation and application of new linguistic concepts and theories by Johannes Louw and Eugene Nida resulted in a dictionary of semantic domains which had a huge impact on new translations of the New Testament. Not only did they create the semantic categories of objects, events and abstracts, but also showed how the transformation of events into kernel sentences could result in a dynamic-equivalent translation of Greek clauses that consist of a staggering number of nomina actionis. The fact that this method has been criticised for losing stylistic emphases and metaphors of the source text, and arguments for a direct translation that recovers these aspects, do not negate the validity of the thesis on innovation, but rather confirm it.

(2) In historical Jesus and Pauline research, John Dominic Crossan's combination in his early work of historical-critical and literary approaches to analysing the historical Jesus' parables yielded new insights in viewing them as paradoxes, while his later foregrounding of social-anthropological concepts, particularly class, in collaboration with an archaeologist to interpret the historical Jesus and Paul, resulted in a new interpretation of these founders of Christianity. If in his early work Crossan viewed Jesus as a mystic poet who by means of metaphorical paradoxes shocked the expectations of the established world, in his later work he came to see the historical Jesus in rural Galilean villages and Paul in Roman cities as initiating a movement that empowered people to share and care for each other versus an oppressing and exploitative Roman empire.

(3) In the case of Greek mythology and early Christianity, the Paris School's social-anthropological analysis of ancient Greek myths shed new light on the social role of these constructs within ancient Greek society, while Burton Mack's sociological analysis and critique of early Christian myths disclosed them as dangerous social constructs with a pernicious legacy. A comparison of Crossan’s and Mack’s assessments of the Christian legacy is called for, entailing profound ethical judgments.

(4) In comparative religious studies, Jonathan Z. Smith and David Chidester have explicitly reflected on and used theorised key concepts such as religion and comparison. They have explicitly drawn our attention to the potential of creating and applying analytical concepts to case studies in a comparative way in order to produce innovative knowledge about religion and religions. The point is illustrated by comparing examples of religious nationalism, indigeneity, materiality and sacred space from a South African historical perspective (i.e. within colonial and post-colonial, apartheid and post-apartheid contexts), emphasising throughout the imperative to consider the ethical import of these analyses.

In conclusion, the need for analytical, second-order concepts that do not fully coincide with first-order insider terms is emphasised to make innovative knowledge possible. It is, as Jonathan Z. Smith argues, precisely the gap between map and territory that creates a space for thinking and the possibility of new insights in the humanities and comparative religious studies – lest we become parrots repeating word for word the language and terms of those whom we study.

Keywords: comparison; innovation; religious studies; theorised concepts

 

1. Inleiding

Vernuwing is ’n konsep wat dikwels in die akademie as ideaal voorgehou word. ’n Soektog na onlangse literatuur oor die onderwerp toon dat die term dikwels na tegnologiese uitvindsels verwys wat vir finansiële gewin gepatenteer en bemark kan word.1 Wat onder vernuwing in die menswetenskappe bedoel word, en hoe nuwe insigte oor mense hoegenaamd moontlik is, is egter minder duidelik.

In hierdie bydrae word op laasgenoemde vrae gefokus. ’n Hipotese word gestel wat aan die hand van voorbeelde uit die akademiese bestudering van religie en religieë beredeneer word. As analitiese kategorieë verwys religie na ’n genus, terwyl religieë na spesies of voorbeelde van die algemene konsep verwys (bv. Islam, Boeddhisme, Christendom, inheemse Afrikareligieë, Rastafarianisme, Wicca, of selfs populêre kultuurvorme wat soos religieë funksioneer). Die klassifikasie is vergelykbaar met die onderskeid tussen vrugte as algemene kategorie en piesangs, appels en lemoene as voorbeelde van die generiese kategorie.2

As werksdefinisie vir die generiese term religie neem ek ’n sosiologiese vertrekpunt: religie verwys na oortuigings en praktyke wat ’n groep mense as heilig of buitengewoon reken, en wat dien om hulle saam te bind. Die saambinding in ’n groep behels egter nie net die trek van insluitende of uitsluitende grense tussen diegene wat binne en diegene wat buite hoort nie, maar dikwels ook die skep van hiërargieë of asimmetriese magsverhoudings op grond van ras, etnisiteit, klas en geslag.3

Die hipotese is dat vernuwende insigte in die bestudering van religie en religieë moontlik word wanneer kernkonsepte teoretiese diepte gegee word, en hierdie geteoretiseerde konsepte gebruik word as lense om data te ontleed. Die argument word in die loop van die artikel verder ontwikkel deur aan te toon hoe vergelykings van gevallestudies binne historiese kontekste en die bewuste aanwending van kritiese teorieë nuwe insigte in die menswetenskappe en die bestudering van religie kan bied. Die argument word gebou op grond van voorbeelde uit die multidissiplinêre bestudering van antieke Grieks, die historiese Jesus, die vroeë Christendom, Griekse mitologie, en religie in vergelykende religiewetenskap4 as ’n akademiese veld.

 

2. Vernuwing in die bestudering van antieke Grieks

Die eerste voorbeeld ter verdediging van die hipotese word uit die bestudering van antieke Grieks aan Suid-Afrikaanse universiteite geneem. Die vernuwing word veral gekoppel aan die inisiatiewe van J.P. Louw,5 wat sy benadering op grond van strukturalistiese wendings in die taalwetenskap ontwikkel het. Volgens die nuwe paradigma moes taal sinchronies eerder as diachronies bestudeer word. In plaas daarvan om taal op die ou manier histories te bestudeer, moes taal nou strukturalisties ontleed word soos wat dit op ’n gegewe oomblik verskyn. Die doel van diskoersanalise was om die verhouding tussen woorde, sinne en groter eenhede in ’n teks duidelik te maak deur verwikkelde lyne te trek.

Veral vernuwend was die semantiese teorie wat Louw saam met die Amerikaanse taalkundige Eugene Nida6 ontwikkel het, en wat van deurslaggewende belang vir ’n nuwe vertaalteorie en -praktyk7 was. As die ou benadering die betekenis van ’n woord op grond van die oorspronklike betekenis daarvan wou vaspen, het die nuwe benadering die onsin van die etimologiese metode blootgestel. Hoe geldig is dit byvoorbeeld om te redeneer dat die Engelse woord nice afgelei is van die Latyn nescio ("ek weet nie")? Sou dit daarop dui dat ’n nice persoon eintlik onkundig is?

Volgens die nuwe semantiese teorie gebruik konsepte woorde. As woord A drie en woord B twee betekenismoontlikhede het, en die eerste betekenis van woord A met die tweede betekenis van woord B oorvleuel, kan ons hierdie oorvleuelende betekenisse in dieselfde semantiese domein groepeer en die diagnostiese of onderskeidende elemente van elke term in die semantiese domein definieer. Die teorie kan aan die hand van ’n Afrikaanse voorbeeld geïllustreer word. Die woord stoel kan onder andere verwys na ’n objek waarop iemand kan sit, of in die omgangstaal na ’n proses van gewig aansit ("hy of sy het gestoel"). Die woord bank kan verwys na ’n finansiële instelling, of na ’n voorwerp waarop een of meer persone kan sit. Aangesien die eerste betekenis van stoel en die tweede betekenis van bank oorvleuel, kan hulle geklassifiseer word onder die semantiese domein van "objekte wat bedoel is om op te sit", terwyl die onderskeidende kenmerk is dat ’n stoel vir een persoon en ’n bank vir een of meer persone bedoel is.

Op grond van hierdie teorie, toegepas op die Griekse Nuwe Testament, is ’n semantiese-domein-woordeboek voltooi. Die algemene kategorieë waaronder die semantiese domeine geklassifiseer is, was self nuut. In plaas van die tradisionele kategorieë van naamwoord, werkwoord, byvoeglike naamwoord, bywoord ens., is nuwe kategorieë geskep. Die semantiese domeine is nou geklassifiseer onder voorwerpe, gebeure en abstrakte, wat diepgaande implikasies vir vertaling ingehou het. Veral van belang was die insig dat naamwoorde wat gebeure uitdruk, in kernsinne getransformeer kan word. "Die liefde van God" kan byvoorbeeld eksplisiet gemaak word as "God het X lief", waar X dan op grond van die konteks ingevul kan word. Die waarde van hierdie benadering is veral duidelik in tekste waar naamwoorde wat gebeure of handelinge uitdruk, op mekaar gestapel word – ’n kenmerk van Paulus se briewe wat ’n letterlike vertaling in baie moderne tale moeilik verstaanbaar maak.

Die toepassing van hierdie teorie en metode, wat poog om die betekenis van die bronteks te vertaal deur dinamiese ekwivalente in die ontvangertaal te vind, het die publikasie van verskeie nuwe Bybelvertalings tot gevolg gehad – onder andere die Good News / Today’s English Version, Die gute Nachricht en die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling. Die gebeure in "die doop van bekering tot vergifnis van sondes" (’n letterlike vertaling van Markus 1:4) kon nou getransformeer word tot vier kernsinne en die verhouding tussen die sinne kon eksplisiet gemaak word in ’n dinamiese vertaling: "Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe."

Hierdie eerste voorbeeld ondersteun dus die hipotese dat vernuwing moontlik gemaak word deur nuwe konsepte en teorieë op gevallestudies toe te pas – in hierdie geval die toepassing van vernuwende taalkonsepte en ’n nuwe vertaalteorie op antieke Griekse tekste soos die Nuwe Testament. Die feit dat die dinamies-ekwivalente vertaalteorie intussen gekritiseer is, omdat stilistiese aksente en metafore in die bronteks in die 1983 Afrikaanse Bybelvertaling verlore gegaan het en ’n nuwer, direkte Afrikaanse vertaling tans gepubliseer word om reg aan hierdie aspekte in die ontvangertaal te laat geskied, onderstreep die geldigheid van die hipotese.

 

3. Vernuwing in die bestudering van die historiese Jesus en Paulus

Die tweede voorbeeld om die hipotese te verdedig, word uit die histories-kritiese navorsing oor die historiese Jesus en Paulus geneem, en fokus op die vernuwende bydraes wat die Iers-Amerikaanse John Dominic Crossan as een van die mees kreatiewe navorsers in hierdie navorsingsveld oor die afgelope 40 jaar gemaak het.8

In sy vroeë werk9 het Crossan hom toegespits op ’n ontleding van Jesus se gelykenisse en aforismes (kort, pittige segginge). Vernuwend in Crossan was ’n kombinasie van histories-kritiese en literêre benaderings om vroeg-Christelike oorlewerings van Jesus se gelykenisse te ontleed. Op grond van ’n noukeurige vergelyking van parallelle tekste binne en buite die Nuwe Testament het Crossan tot die gevolgtrekking gekom dat ’n paradoksale struktuur die oorspronklike gelykenisse gekenmerk het, wat in die oorleweringsproses dikwels verlore geraak het.

Jesus se vergelyking van God se koninkryk met ’n ete kan as voorbeeld dien. Hoe, vra die historiese Jesus, is ’n wêreld waarvan God die heerser is? Dit is soos ’n ete, sê hy, waarby uitgenooide gaste nie teenwoordig is nie, maar ongenooide gaste wel. Verwagtings word dus radikaal omgekeer in die gelykenis. As metaforiese verhaal skok dit ons verwagtings om die punt te maak dat God se heerskappy paradoksaal is. God heers totaal anders as wat ons verwag. In Mattheus word die paradoks egter in ’n allegorie verander: diegene wat nou by die maaltyd (aangepas as ’n koninklike huweliksfeesmaal) is, verwys na Mattheus se gemeente wat Jesus as Messias aanvaar het, terwyl dié wat uitgenooi is maar nie teenwoordig is nie, na mede-Jode verwys wat Hom verwerp het. In Lukas word die oorspronklike paradoks verander in ’n voorbeeldvertelling vir sy gemeente, wat moet uitreik na die armes, siekes en randfigure in die samelewing. Maar aan die begin was die uitdaging van paradoks.

In sy kartering van tipes stories redeneer Crossan dat sommige stories die wêreld bevestig, terwyl ander aan die teenoorgestelde pool dit omkeer. Om die paradoksale struktuur van laasgenoemde duidelik te maak, vergelyk Crossan – as ’n verdere vernuwende stap – Jesus se gelykenisse met dié van moderne skrywers soos Kafka en Borges, wat konvensionele genres in hulle literêre werk omver gewerp het. Hy kom tot die slotsom dat hoewel ons as mense in stories leef soos visse in die see, ons nie in paradoks alleen kan leef nie. As gelykenisse ons deur middel van hulle struktuur disoriënteer, is dit nodig dat ons onsself heroriënteer ten einde in die wêreld te kan leef – oriëntasie by wyse van disoriëntasie, soos die filosoof Paul Ricoeur dit gestel het.

Vanaf die 1990’s het Crossan se werk ’n nuwe wending10 geneem, deurdat hy nou sosiaal-antropologiese konsepte begin aanwend het om die historiese Jesus binne die konteks van die eerste-eeuse Jodedom en vroeë Romeinse imperium te verstaan. Dit was veral sy prioritisering van die konsep sosiale klas wat hom daartoe gelei het om Jesus tussen ongeletterde kleinboere, vissermanne en handwerkers in plattelandse dorpies in Laer Galilea en rondom die Galilese meer in die laat ’20’s en vroeë ’30’s van die eerste eeu te plaas. As ’n program van niegewelddadige verset teen ’n imperium wat deur middel van kliëntekonings en in samewerking met die religieuse elite plattelandse kleinboere, vissermanne en handwerkers polities onderdruk en ekonomies uitgebuit het, het Jesus hierdie laer klasse bemagtig deur maaltye met hulle in hulle huise te deel en na siekes en randfigure in die plattelandse samelewing uit te reik. Crossan se siening van Jesus het nou, weens sy aanwending van nuwe konsepte, verskuif vanaf Jesus as mistieke digter wat met paradokse speel om ons verwagtings te skok, na ’n Jesus wie se implementering van ’n egalitêre visie en program van distributiewe geregtigheid die onregverdige religieuse, politieke en ekonomiese sisteem van sy tyd omgekeer het en nuwe gemeenskappe van omgee en deel in plattelandse dorpies op voetsoolvlak ingevoer het.

In vergelyking met, en as ’n kritiek op die semantiese-domein-benadering waarna hier bo verwys is, is dit vir my duidelik wat ons inboet as ons die betekenis van konsepte nie histories kontekstualiseer nie. Crossan beklemtoon tereg: geregtigheid lyk radikaal anders as dit van die kant van die nek van die onderdrukte eerder as die stewel van ’n onderdrukkende en uitbuitende imperium gesien word.

Hierdie etiese dringendheid, wat nie net ’n saak van individuele moraliteit is nie, maar van sistemiese geregtigheid wat van volgelinge die deel van basiese lewensmiddele vereis, is volgens Crossan voortgesit in Paulus se huisgemeentes in hoofstede in die oostelike deel van die Romeinse imperium. Deur dieselfde titels en terme wat op klipinskripsies en munte en in tekste vir die keiser gebruik is (bv. Seun van God, God, Redder, goeie nuus / evangelie by die geboorte van ’n keiser), ook vir Jesus te gebruik, het vroeë Christene alternatiewe gemeenskappe in die imperium gevorm. Teenoor die geregtigheid en vrede wat Rome vir die wêreld deur die swaard wou bring, was Paulus daarvan oortuig dat klein huisgemeentes van Christusvolgelinge wat materiële en geestelike lewensmiddele onder mekaar gedeel het sodat elkeen genoeg kon hê, alreeds geregtigheid op ’n niegewelddadige manier ’n werklikheid gemaak het.

Hierdie ideaal is, soos verwag, nie altyd in Paulus se huisgemeentes geïmplementeer nie. Deur op verbeeldingryke wyse, in samewerking met ’n argeoloog,11 die uitleg van stede en huise in Paulus se tyd met die teks van 1 Korinthiërs in verband te bring, het Crossan ’n oortuigende scenario van die probleem in die huisgemeentes in Korinthe voorgestel. Hierdie Christene het ’n paar ryk weldoeners ingesluit wat as gashere of gasvrouens vir byeenkomste van huisgemeentes in hulle villas opgetree het. Die meerderheid was egter arm werkers wat winkeltjies met straataansigte aan die buitekant van die villas van die villa-eienaars gehuur het. Wat Paulus ontstel het, was dat hierdie eienaars die beste kos geëet en die beste wyn gedrink het voordat die armer lede aangekom het om Jesus as hulle Redder in hulle gemeenskaplike maaltye te herdenk. Die armes wat laat gekom het, het net die krummels gekry. Paulus het vurig hierop gereageer deur daarop aan te dring dat die gemeenskaplike maaltyd van Christusvolgelinge nie so behoort te verloop nie, aangesien die kos en wyn by hierdie vroeg-Christelike nagmaalsgeleenthede gedeel behoort te word.

Dit is dus duidelik uit hierdie voorbeeld dat Crossan se vernuwende insigte oor die historiese Jesus en Paulus moontlik gemaak is deur die toepassing van teorieë en konsepte wat ’n kreatiewe multidissiplinêre verbinding behels het, eers van histories-kritiese en literêre benaderings, en later van sosiaal-antropologiese, histories-kritiese en argeologiese benaderings.

 

4. Vernuwing in die bestudering van antieke Griekse mites en die vroeë Christendom

Die derde voorbeeld om die hipotese oor vernuwende ondersoek in die menswetenskappe in die algemeen en religie in die besonder te ondersteun, word geneem uit die Paryse skool van Grieks-Romeinse navorsers se vernuwende en verbeeldingryke bestudering van antieke Griekse mites en Burton Mack se kombinering van hulle benadering met ’n nuwe kritiese ontleding van vroeg-Christelike mites as gevaarlike sosiale konstrukte.

In plaas daarvan om te volstaan met die gebruiklike lysie van eienskappe van gode, godinne en helde, het die Paryse skool antropologiese kategorieë begin aanwend om die antieke Griekse mites te ontleed. Vergelykbaar met die beginsels vir ’n semantiese-domein-woordeboek, het hulle oorvleuelende funksies van gode, godinne en helde onder dieselfde sosiale domein herklassifiseer. As Athena die godin van oorlog en wysheid, maar ook van weefwerk en pottemakery was, Hephaistos die god van metaalwerkers sowel as die lam eggenoot van die liefdesgodin Aphrodite, en Daidalos die held van tegnologiese uitvindsels sowel as argitektuur, is dit moontlik om hulle gesamentlik onder die sosiale domein van handewerk en tegnologie te klassifiseer, en om die spesifieke funksie van elk binne hierdie domein te definieer.

Hoewel hierdie klassici vernuwend en verbeeldingryk in hulle benadering was, het hulle nie erns gemaak met kritiese teorieë soos die marxisme of feminisme om hiërargiese magsverhoudings tussen ryk en arm, mans en vroue, Grieke en barbare, wat deur hierdie mites geregverdig is, te kritiseer nie. As ons byvoorbeeld dood as sosiale domein neem, was dit volgens hulle voldoende om aan te toon dat Griekse mites ’n manlike held wat jonk op die slagveld vir sy stad of land gesterf het, geprys het, maar konsekwent vroulike figure gekies het om die skrikwekkende kant van die dood uit te beeld – soos Medusa met ’n monstergesig en slange as hare wat ’n doodsvrees moes inboesem by enigiemand wat na haar kyk, of die Sirenes met hulle verleidelike stemme wat bootmanne in ’n trans na hulle dood gelok het. ’n Kritiek van mites wat patriotisme propageer of vroue ondergeskik stel, het nie deel van hulle vernuwende ontleding van mites gevorm nie.12

Deur die Paryse skool se sosiologiese benadering tot Griekse mites en ’n kritiese benadering met mekaar te verbind, het die Amerikaanse Nuwe-Testamentikus Burton Mack ’n vernuwende sosiaal-kritiese ontleding van vroeg-Christelike mites as intellektuele produkte van subkulture in die Grieks-Romeinse oudheid gebied. Terwyl die Duitse geleerde Rudolf Bultmann, een van die belangrikste histories-kritiese navorsers van die Nuwe Testament in die 20ste eeu, vroeg-Christelike mites wat rondom Jesus se dood en opstanding geweef is, geïnterpreteer het deur dit ’n eksistensiële boodskap vir Christene van sy tyd te gee, het Mack hierdie klem op individuele ervaring as niks anders nie as ’n vroom houding afgewys. In plaas daarvan het hy ’n sosiaal-antropologiese ontleding voorgestel wat aangetoon het hoe diverse, mededingende en dikwels botsende vroeg-Christelike mites deur vroeg-Christelike groepe geskep is om die belange van elke groep te dien.

Markus se beeld van Christus as apokaliptiese held het byvoorbeeld gedien om ’n binêre hiërargie te skep tussen sy eie groep, wat uiteindelik gered, en ander wat verdoem sou word. Die vorming van die Nuwe-Testamentiese kanon self, het Mack verder gemeen, moes gekritiseer word as ’n reduksie van diversiteit toe biskoppe van die opkomende ortodokse kerk van die tweede tot vierde eeu besluit het om tekste deur gnostici en andersdenkendes wat as ketters geëtiketteer is, uit te sluit.13

Deur ’n binêre hiërargie as die grondslag van die Christelike mite te identifiseer, het Mack geredeneer dat die amptelike Christendom – met heel vroeë voorlopers, maar veral sedert Konstantyn se vereniging van sy imperium deur die afdwing van ’n enkele geloofsbelydenis – toenemend aggressief teenoor Jode opgetree het, wat uiteindelik op volskaalse anti-Semitisme uitgeloop het. Hy het verder redeneer dat die konsep van ’n Christelike nasie onder konserwatiewe Amerikaanse politici en fundamentalistiese predikers na hierdie erfenis teruggevoer kan word – ’n vernietigende erfenis, wat volgens hom onvanpas is in ons postmoderne wêreld, wat juis waardering van kulturele en religieuse diversiteit vereis.14

Mack en Crossan se oordeel oor die Christelike erfenis vra om ’n vergelyking. As Mack die Christelike erfenis met ’n binêr-hiërargiese logika as gevaarlik vir ons multikulturele wêreld beskou, is Crossan meer gedifferensieerd in sy oordeel oor Christelike tradisies deur sy konstruk van die historiese Jesus altyd as norm te neem. Aan die een kant huiwer Crossan nie om die verandering te betreur wat plaasgevind het vanaf Jesus se deel van ’n oop tafel met randfigure in plattelandse dorpies na Konstantyn se geslote nagmaal met wagte wat armes verhoed om die paleis binne te gaan om die maaltyd met hom en die biskoppe te deel nie. Eweneens skram Crossan nie daarvan weg om die uitbeelding van ’n gewelddadige God en Christus in heelwat dele van die Bybel wat geweld onder volgelinge kan aanvuur, af te wys nie (uitstekend ontleed in sy onlangse How to read the Bible and still be a Christian).15 Aan die ander kant redeneer Crossan dat vir Christene sowel as die mensdom in sy geheel, die toekoms by die historiese Jesus se niegewelddadige visie en program van distributiewe geregtigheid en gelyke sosiale verhoudings lê, in soverre as wat sy volgelinge en mense van ander tradisies meewerk om dit uit te voer.

 

5. Vernuwing in die vergelykende bestudering van religie en religieë

Die laaste voorbeeld ter ondersteuning van die hipotese word uit die vergelykende religiewetenskap geneem. As ’n multidissiplinêre veld wat religieuse probleme histories kontekstualiseer en vergelykend oor religieuse grense heen ondersoek, is hierdie voorbeeld die kulminasie van die vorige refleksie. Dit is juis in hierdie veld dat prominente navorsers eksplisiet gedink het oor en aangetoon het hoe die toepassing van geteoretiseerde konsepte en vergelyking van data vernuwende insigte in die bestudering van religieë moontlik kan maak.

Die aandag is reeds hier bo op die verskil tussen die terme religie en religieë gevestig. ’n Werksdefinisie vir religie as ’n problematiese sosiale konstruk is gebied en ’n aanduiding van die tradisies wat in religiewetenskap bestudeer word, is gegee. Probleme wat oor religieuse grense heen vergelykend bestudeer word, sluit religieuse nasionalisme en geweld, die plek van vroue en homoseksuele in religieë, die etiek van inheemse religieuse aansprake en praktyke, en die nuwe nasionale beleid oor die onderrig aangaande religieë in openbare skole in.

As religie die eerste konsep is wat teoretiese diepgang gegee moet word om van analitiese waarde te wees, is vergelyking ’n tweede sleutelterm wat teoreties en metodologies ingevul moet word. Die doel van vergelyking, meen die prominente Amerikaanse religiewetenskaplike Jonathan Z. Smith, is om deur die vergelyking nuwe insigte oor ’n bepaalde saak of probleem te verkry. Die prosedure is soos volg: eers besluit die navorser oor die saak of probleem wat hy/sy wil vergelyk. Vervolgens bestudeer die navorser een geval wat die probleem illustreer deur die geval histories binne politiese, sosiale en ekonomiese konteks te interpreteer. Hy/sy doen dan dieselfde vir minstens ’n tweede geval. Daarna is die navorser in die posisie om ooreenkomste en verskille tussen die gevallestudies in terme van die pertinente saak of probleem te identifiseer. Die bedoeling, om te herhaal, is dat deur die vergelyking die een geval in terme van die ander nuut gesien sal word en nuwe insigte sodoende oor die saak of probleem self verkry sal word.16

Die punt kan aan die hand van die konsep religieuse nasionalisme geïllustreer word. Die idee van nasionalisme het sy oorsprong in die 19de-eeuse Europese romantiek, wat as reaksie op die Verligting se rasionaliteitsideaal nie net op die emosies en die oorweldigende mag van die natuur gefokus het nie, maar ook op die gemeenskaplike gees van ’n nasie of volk – elk met sy eie taal, religie en geskiedenis. Die vorming van nasiestate in Europa het konkreet uitdrukking aan die konsep van nasionalisme gegee. Weens kolonialisme het hierdie idee en die manifestasie daarvan vanaf Europa na die res van die wêreld versprei met die gevolg dat nasiestate met territoriale grense teen die einde van die 19de eeu wêreldwyd gevestig is en vandag die basiese eenhede van internasionale politiek vorm.

Die term religieuse nasionalisme verwys na ’n nasionalisme wat ontstaan wanneer nasiestate of groepe in nasiestate hulle nasionale identiteit definieer deur een religie ten koste van ander religieë te verhef. Boeddhistiese nasionalisme in Thailand of Mianmar, of Hindoe-nasionalisme in Indië wat Moslem-minderhede viktimiseer, of Islam-nasionalisme in Pakistan, Turkye of Indonesië, bied gevallestudies wat histories genuanseerd vergelyk kan word. Christen-nasionalisme in die VSA of onder apartheid-Suid-Afrika bied verdere voorbeelde vir vergelyking. Op grond van ’n gedissiplineerde vergelyking kan die gevolgtrekking gemaak word dat religieuse nasionalisme as ’n uitsluitende strategie wat rigiede grense om groepe trek, daartoe neig om onverdraagsaamheid en selfs geweld in die hand te werk.17

Alternatiewe inisiatiewe om hierdie probleem te hanteer sluit die bevordering van interreligieuse dialoog deur religieuse instellings, konstitusionele ooreenkomste van die staat teen diskriminasie op grond van religie en vir die gelyke behandeling van religieë voor die wet, en die ontwikkeling en implementering van ’n beleid van multireligieuse opvoeding in openbare skole in. Alhoewel hierdie ondernemings prysenswaardig is, kan die ontleder nie triomfantelik op sy of haar louere rus nie, aangesien hierdie inisiatiewe op verskeie fronte betwis word, wat om voortgaande vernuwende denke in religiewetenskap vra.

Die argument dat die skep van vasgelegde, uitsluitende groepsidentiteite dikwels tot onverdraagsaamheid en geweld lei, is ook op uitsluitende suiwerheidsaansprake van ’n absolute Afrikaïese identiteit of etniese identiteite van toepassing. Die vernietigende effek van postkoloniale politieke gebruike van inheemse identiteite in Kameroen, die Ivoorkus en Botswana blyk duidelik uit onlangse antropologiese studies. In Kameroen, na onafhanklikheidswording in 1960, het die diktatorskap van Ahmadou Ahidjo nasionale identiteit met behulp van stywe seremonies (of kollektiewe rituele) afgedwing en etniese lojaliteite sterk ontmoedig. Hoewel sy opvolger Paul Biya aanvanklik die beleid voortgesit het, het hy in die vroeë 1990’s weens die Internasionale Monetêre Fonds en Wêreldbank se druk om te demokratiseer, begin om inheemse begrafnisrituele te gebruik as ’n middel om stemgeregtigdes te verdeel en tot sy eie politieke voordeel te werf: die plek waar mens se voorouers begrawe is, het die gebied aangedui waar mens behoort het en waar mens as burger moes registreer om te kan stem. In die Ivoorkus het Laurent Gbagbo eweneens geëis dat mense na hulle plattelandse plekke van oorsprong moes terugkeer, wat weens ’n geskiedenis van verstedeliking en migrasies rampspoedige gevolge gehad het. Dieselfde probleem waarvolgens politiese essensialisering van inheemse identiteite fragmentasie, nuwe hiërargieë, onverdraagsaamheid en geweld aanhelp, is duidelik uit Botswana se bevoordeling van Tswana etniese identiteite (soos reeds uit die naam Botswana self blyk), ten spyte van grondwetlike ondernemings, asook die xenofobiese uitbarstings in Suid-Afrika.18

Die begrip inheems as verwysing na ’n groep of groepe wat daarop aanspraak maak dat hulle eerste in ’n bepaalde gebied was, voor die aankoms van Europese koloniste, bied dus ’n verdere sleutelterm wat van kritieke belang in die Suid-Afrikaanse konteks is. Om die veranderende nuanses en gebruike van die konsep te begryp, moet opnuut na die geskiedenis van die koloniale en apartheid-eras gekyk word. Hierdie verhaal is voortreflik nuut vertel deur die religiewetenskaplike David Chidester,19 wat in die 1980’s vanaf die VSA na Suid-Afrika migreer het om ’n akademiese pos in die vergelykende bestudering van religieë aan die Universiteit van Kaapstad op te neem.

Terwyl die begrip religie aanvanklik deur 19de-eeuse Britse koloniste op grensgebiede as ’n teenstellende term gebruik is om te ontken dat religie onder inheemse groepe in Suid-Afrika voorkom (die Christendom is as norm veronderstel, en inheemse geloofsoortuigings en praktyke is as bygelowe gereken), is die bestaan van inheemse Xhosa, Zoeloe, Sotho en Tswana religieuse sisteme later in dieselfde eeu deur hulle erken met die doel om verowerde inheemse groepe te definieer, te beheer en te administreer. Geleerdes in Europese imperiale hoofstede het die verslae wat hulle van koloniale bemiddelaars ontvang het (laasgenoemde het weer hulle data van inheemse informante ontvang), van die koloniale konteks geabstraheer om hulle gedekontekstualiseerde teorieë oor die evolusie van religie vanaf ’n sogenaamde “primitiewe” mentaliteit tot ’n rasionele Westers, Protestantse geloof en wetenskap te ontwikkel – ’n proses van teorievorming wat Chidester as ’n drieledige bemiddeling ontleed.

Chidester se hervertel van hierdie verhaal is egter nog meer vernuwend. As een van die baanbrekers in die onlangse wending in religiewetenskap om materiële aspekte van religieë te bestudeer as ’n korrektief op die eensydige fokus op geloof (’n vooroordeel wat religiewetenskap van Protestantisme geërf het), het Chidester onder andere ’n anker op die Xhosasprekende Ooskus van Suid-Afrika en Zoeloe-drome as voorbeelde geneem.20

In die geval van Zoeloe-drome, gesien as verlengstuk van die konvensionele sintuie, redeneer Chidester dat Zoeloe-voorouers in die 19de eeu dreigend in drome aan nasate verskyn het, aangesien laasgenoemde weens verplasing (hulle land is van hulle ontneem) en onteiening (hulle vee is van hulle ontneem) deur koloniste nie hulle tradisionele offers en ukubuyisa (die tuisbring van die gees van ’n afgestorwe voorsaat) rituele aan die voorouers kon uitvoer nie. Die Anglikaanse sendeling Henry Callaway het die sien van Zoeloe-voorouers in drome as ’n breinsensasie beskou (’n soort selfhipnose wat veral Zoeloe-sangomas volgens hom goed bemeester het), terwyl die antropoloog E.B. Tylor in Oxford dit as "bewysmateriaal" vir sy imperiale teorie van ’n primitiewe mentaliteit gebruik het, waarvolgens Zoeloes as kontemporêre “barbare” die beste data sou bied om afleidings te maak oor die vroegste "primitiewe" mense wat volgens hom nie tussen werklikheid en illusie kon onderskei nie. Chidester argumenteer verder dat die Zoeloe-neosjamaan Credo Mutwa, wie se visies hom geneem het van ’n ondersteuner van apartheiduitstallings van inheemse kulture tot ontmoetings met buiteaardse wesens, die opleiding van wit sangomas en uiteindelik die kuberruimte, die tradisionele offers en ukubuyisa-rituele binne die konteks van globalisering kreatief herinterpreteer het.

In die geval van die anker redeneer Chidester dat Xhosasprekers teen die einde van die 18de eeu rituele voor die anker van ’n skeepswrak uitgevoer het om waarskynlik hulle weerstand teen Europese besetting van hulle land uit te druk. Europese waarnemers het egter aan die begin van die 19de eeu die ritueel interpreteer as ’n respekvolle groet van die anker, wat sou dui op die Xhosasprekers se bygeloof in die anker as ’n besielde voorwerp met die magiese krag om hulle dood te maak. Deur die verslae verder te dekontekstualiseer het geleerdes in Europa ook hierdie data gebruik om hulle evolusionêre teorieë van ’n primitiewe mentaliteit te ondersteun. Hierdie teorie, wat inheemse religie en denke as minderwaardig in vergelyking met die Europese Christelike geloof en denke beskou het, het ’n groot invloed uitgeoefen op Werner Eiselen – die antropoloog van Stellenbosch wat ’n bepalende rol in die ontwikkeling van apartheid se onderwysbeleid gespeel het.21

As Europese onderdrukking en uitbuiting van inheemse groepe een kant van die verhaal uitmaak, vorm die kreatiwiteit van inheemse groepe ’n verdere kerndeel van Chidester se hervertel van die verhaal. In die 19de eeu het Zoeloesprekers byvoorbeeld hulle tradisionele skeppingsmites herinterpreteer om die land as hulle eie en die see as Europeërs s’n aan te dui. Aan die begin van die 20ste eeu het swart intellektuele die vloei van Europese kennisproduksie oor inheemse religie begin omkeer, met skrywers soos John Dube (Zoeloe-romanskrywer en stigter van wat die ANC sou word), Thomas Mofolo (Sotho-romanskrywer wat Shaka en Zoeloe religieuse tradisies behandel het), S.M. Molema (Tswana-geskiedkundige) en H.I.E. Dhlomo (teoretikus van Zoeloe-rituele en -drama) wat in ’n kritiese debat met Europese teorieë van religie getree het.

’n Beslissende verdere stap volg wanneer Chidester die konvensionele bespreking van teorieë wat uitsluitlik op debatte oor religie onder Europese intellektuele fokus, onderbreek deur die teorieë van antikoloniale denkers soos Gandhi, Fanon en Mondlane vergelykend te betrek. As Gandhi op grond van sy religieuse oortuiging niegewelddadige verset teen die imperium voorgestaan het, het Fanon juis geredeneer dat ’n gewelddadige strategie teenoor die sistemiese imperiale geweld ’n noodsaaklike voorwaarde vir gekoloniseerdes is om hulle menslikheid te herwin. Eduardo Mondlane in Mosambiek was nie net daarvan oortuig dat kolonialisme ware religie besmet het nie (’n essensialistiese siening wat Chidester kritiseer), maar hy het ook aangetoon hoe die gekoloniseerdes met die koloniale Christendom omgegaan het deur dit óf aan te gryp óf omver te werp. Die Makondo-houtwerkers het, as ’n voorbeeld van die tweede strategie, Christus as demoon, priesters as wilde diere, en Maria met ’n spies oor die liggaam van haar dooie seun uitgebeeld.

Die waarde van hierdie soort vernuwende ontleding vir die hersiening van kurrikula, veral in die lig van die huidige eise om ’n Eurosentriese leergang te dekolonialiseer, behoort duidelik te wees. Maar wat eweneens duidelik is, is dat Chidester, in plaas daarvan om Europese teoretici van religie van die tafel te vee, eerder oortuigend aantoon hoe ’n kritiese ontleding van hulle verhouding tot koloniale en postkoloniale, apartheid- en postapartheid narratiewe noodsaaklik bly.22

In die laaste voorbeeld om die tese oor vernuwing in die studie van religie en religieë te ondersteun, word op die religieuse kernbegrip heilige plek gefokus – een van die konsepte wat in die onlangse materiële wending in die studie van religie hernude aandag gekry het. In plaas daarvan om, soos gebruiklik, na heilige plek in die kerk, tempel, sinagoge of moskee te kyk, word die analitiese blik nou na die Voortrekkermonument en Vryheidspark as gevallestudies gewend.

Die kategorie heilige plek is hoofsaaklik op twee maniere teoretiese diepte gegee. Volgens die Nederlandse geleerde Gerardus van der Leeuw, een van die belangrikste teoretici van religie in die eerste helfte van die 20ste eeu, is ’n plek heilig waar mense verwondering weens die ingryping van ’n transendentale mag ervaar. Struktureel word ’n heilige plek volgens hom tipies deur ’n selfs heiliger sentrale plek gekenmerk, byvoorbeeld die ark in die Jerusalemtempel, die altaar in ’n katedraal, die heiligdom aan die einde van ’n pelgrimstog, die haard in ’n tradisionele Hollandse huis, en uiteindelik die hart in die menslike liggaam. As prominente verteenwoordiger van die fenomenologiese benadering in die vergelykende bestudering van religie het hy redeneer dat dit die analitikus se taak is om sy eie vooroordele oor ’n religieuse of kulturele tradisie tussen hakies te plaas en wat hy sien en hoor, met empatie te beskryf.

Toegepas op die gevallestudies is die heiligste sentrum van die Voortrekkermonument die senotaaf met die inskripsie “Ons vir jou Suid-Afrika”, waarop die son elke 16 Desember deur ’n strategies-geplaaste opening in die dak skyn. Die heiligste plek in Vryheidspark waarnatoe die paadjie lei en waar besoekers gevra word om hulle skoene uit te trek, is die isivivane-area met uitsluitlik inheemse simbole. Die fenomenoloog se taak eindig met die empatiese waardering van hierdie feite – iets wat Van der Leeuw probeer doen het in die verslae wat hy op grond van sy twee besoeke aan Suid-Afrika as verteenwoordiger van die Nederlandse regering in 1947 en 1948 geskryf het, en die toespraak wat hy by die opening van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1948 gelewer het.

Volgens die tweede teorie oor heilige plek word heiligheid nie deur transendentale openbaring gegee nie, maar histories toegeskryf deur ’n groep aanhangers om hulle te verenig en hulle spesifieke belange te dien. In die geval van die Voortrekkermonument kan die uiteenlopende funksies van die heilige verhale en die seremonies daarrondom histories nagespeur word – vanaf die opening van die monument as ’n simbool van Afrikanernasionalisme tot die huidige funksies daarvan in postapartheid Suid-Afrika. Eweneens kan die sosiale en politieke funksies van Vryheidspark histories nagespeur word – vanaf die aanvanklike voorstelle vir ’n kosmopolitiese struktuur om Suid-Afrikaners wat deur ’n traumatiese geskiedenis verdeel is, te versoen, tot die keuse vir ’n struktuur wat voorrang aan inheemse simbole gee, en die huidige omstredenheid daarrondom as verklaarde heilige plek.

Net soos die Voortrekkermonument aan kritiek onderwerp kan word, kan ook Vryheidspark geproblematiseer word. Nie net het konserwatiewe Afrikaners en Pentekostalistiese Christene (heelwat van hulle swart) al kritiek op Vryheidspark uitgespreek nie (spesifiek teen die versoek dat mense hulle skoene uittrek wanneer hulle isivivane betree), maar ook liberale persone het beklemtoon dat kulturele diversiteit die fokus van die staat in die oprigting van erfenisplekke behoort te wees. Wat meer is, as die Nasionale Beleid oor Religie en Onderwys voorskryf dat geen spesifieke religie in openbare skole bevoordeel mag word nie, en as Vryheidspark as verlengde klaskamer beskou word, behoort die prioritisering van inheemse simbole en die konflik van belange duidelik te wees, wat beslis om kritiese refleksie vra.23

 

6. Gevolgtrekking

Die argument hier bo het die stelling verdedig dat vernuwende insigte in die menswetenskappe in die algemeen, en die bestudering van religie en religieë in die besonder, waarskynlik moontlik gemaak kan word deur kruiskulturele konsepte te skep, met kritiese selfbewustheid van die genealogie van die konsepte teoretiese diepgang aan die konsepte te gee, en die konsepte vergelykend op gevallestudies toe te pas. Ter ondersteuning van die argument is oor dissiplinêre grense heen beweeg deur aan die hand van voorbeelde uit antieke Griekse taalkunde, historiese-Jesus- en vroeg-Christelike navorsing, Grieks-Romeinse mitologie en die vergelykende bestudering van religie en religieë aan te toon hoe die hipotese in die praktyk werk.

Alreeds in die eerste voorbeeld van antieke Grieks het die noodsaak vir linguistiese terme om taal vernuwend te ontleed, geblyk. Toe Chomsky gevra is hoeveel tale hy kan praat, was sy antwoord dat hy nie ’n "languist" is nie, maar ’n "linguist". Eweneens haal Jonathan Z. Smith ’n parabel van Borges aan om die noodsaak van analitiese konsepte te onderstreep. In hierdie fiktiewe vertelling besluit kartograwe om die landkaart wat hulle teken, stelselmatig te vergroot totdat die kaart uiteindelik volledig met die terrein saamval, en hulle sonder ’n werk gelaat word. Soos Smith, is ek van mening dat analitiese konsepte wat juis nie presies dieselfde as dié van lede van ’n groep is nie (in tegniese terme, na aanleiding van die onderskeid tussen foneties en fonemies, “etiese” eerder as “emiese” terme), ’n opening tussen kaart en terrein skep, wat die voorwaarde vir vernuwende denke uitmaak – tensy ons papegaaie wil word wat woord vir woord die taal en terme van diegene wat ons bestudeer, herhaal.

Deur vergelykend te eksperimenteer met die toepassing van geteoretiseerde konsepte op gevallestudies, kan ons hoop om nuwe insigte oor kernvrae in die menswetenskappe en religiewetenskap te verkry. Maar terselfdertyd is ek daarvan oortuig dat enige ontleding nie kan wegskram van ’n kritiese refleksie oor die etiese impak wat ons vernuwende insigte vir die wêreld waarin ons leef, en die Suid-Afrikaanse konteks in die besonder, kan inhou nie.

 

Bibliografie

Baregheh, A., J. Rowley en S. Sambrook. 2009. Towards a multidisciplinary definition of innovation. Management Decision 47(8):1323-39.

Bhatti, A. en D. Kimmich (reds.). 2015. Ähnlichkeit: Ein kulturtheoretisches Paradigma. Konstanz: Konstanz University Press.

Braun, W. en R.T. McCutcheon (reds.). 2000. Guide to the study of religion. Londen: Cassell.

Chidester, D. 1987. Patterns of action: Religion and ethics in a comparative perspective. Belmont, California: Wadsworth Publishing company.

—. 1994. The poetics and politics of sacred space: Towards a critical phenomenology of religion. In Tymieniecka (red.) 1994.

—. 1996. Savage systems: Colonialism and comparative religion in Southern Africa. University Press of Virginia: Charlottesville.

—. 2000a. Colonialism. In Braun en McCutcheon (reds.) 2000.

—. 2000b. Material terms for the study of religion, Journal of the American Academy of Religion, 68:367–79.

—. 2005. Authentic fakes: Religion and American popular culture. Berkeley: University of California Press.

—. 2012. Wild Religion: Tracking the sacred in South Africa. Berkeley: University of California Press.

—. 2014. Empire of religion: Imperialism and comparative religion. Chicago: University of Chicago Press.

—. 2015a. Colonialism. In Segal en Von Stuckrad (reds.) 2015.

—. 2015b. Material culture. In Segal en Von Stuckrad (reds.) 2015.

Chidester, D. en E.T. Linenthal. 1995. Introduction. In Chidester, D. en E.T. Linenthal (reds.) 1995.

Chidester, D. en E.T. Linenthal (reds.). 1995. American sacred space. Bloomington en Indianopolis: Indiana University Press.

Crossan, J.D. 1991. The historical Jesus: The life of a Mediterranean Jewish peasant. Edinburgh: T&T Clark.

—. 1994. Jesus: A revolutionary biography. San Francisco: Harper.

—. 2007. God and empire: Jesus against Rome, then and now. San Francisco: Harper.

—. 2015. How to read the Bible and still be a Christian: Struggling with divine violence from Genesis through Revelation. New York: HarperOne.

Crossan, J.D. en J. Reed. 2001. Excavating Jesus: Beneath the stones, behind the texts. San Francisco: Harper.

Crossan, J.D. en J. Reed. 2004. In search of Paul: How Jesus' apostle opposed Rome's empire with God's kingdom. San Francisco: Harper.

De la Cadena, M. en O. Starn (reds.). 2007. Indigenous experience today. Oxford en New York: Berg.

Durkheim, E. 2008 [1912]. The elementary forms of religious life. New York: Oxford University Press.

Geschiere, P. 2009. The perils of belonging: Autochthony, citizenship, and exclusion in Africa and Europe. Chicago:University of Chicago Press.

Houtman, D. en B. Meyer. 2012. Introduction. In Houtman en Meyer (reds.) 2012.

Houtman, D. en B. Meyer (reds.). 2012. Things: Religion and the question of materiality. New York: Fordham University Press.

John Dominic Crossan: Professional resume. https://www.johndominiccrossan.com/Professional%20Resume.htm (17 November 2016 geraadpleeg).

Louw, J.P. 1976. Semantiek van Nuwe Testamentiese Grieks. Pretoria: Beta Press.

Louw, J.P. en E.A. Nida. 1988. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains (2 Volumes). New York: United Bible Societies.

Mack, B.L. 1988. A myth of innocence: Mark and Christian origins. Philadelphia: Fortress.

—. 1995. Who wrote the New Testament? The making of the Christian myth. San Francisco: Harper.

—. 2008. Myth and the Christian nation: A social theory of religion. Londen: Equinox.

Nida, E.A. en C.R. Tabor. 1982. The theory and practice of translation. Leiden: Brill.

Nyamnjoh, F. 2007. "Ever-diminishing circles": The paradoxes of belonging in Botswana. In De la Cadena en Starn (reds.) 2007.

Religiewetenschap. http://www.uu.nl/onderzoek/religiewetenschap (17 November 2016 geraadpleeg).

Religiewetenschappen. http://www.rug.nl/bachelors/religious-studies (17 November 2016 geraadpleeg).

Segal, R. en K. Von Stuckrad (reds.). 2015. Vocabulary for the study of religion. Leiden: Brill.

Smith, J.Z. 1990. Drudgery divine: On the comparison of early Christianities and the religions of late antiquity. Chicago: University of Chicago Press.

—. 2004. Relating religion: Essays in the study of religion. Chicago: University of Chicago Press.

Strijdom, J.M. 1986. Progressie in die Christologie van John Dominic Crossan? Ongepubliseerde BD-skripsie, Universiteit van Pretoria.

—. 1997. Teologieë as gevaarlike mensemaaksels: Burton Mack se evaluasie van vroeg-Christelike mites. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 53(3):609-22.

—. 2007. The uses of ancient Greek myths: From social-historical description to ideological criticism. Myth and Symbol, 4(2):39–48.

—. 2009. Nationalizing religion: The violent path of religious nationalism. Alternation Special Edition, 3:254–69.

—. 2012. Problems with indigeneity: Fragmentation, discrimination and exclusion in post-colonial African states. Image and Text. Special issue: Vryheidspark and other governmonumentalities, 19:24–32.

—. 2014a. The material turn in Religious Studies and the possibility of critique: Assessing Chidester’s analysis of the fetish. HTS Teologiese Studies / Theological Studies,70(1).

—. 2014b. Uses of social theory in comparative Religious Studies: Assessing Chidester's sociological analysis of "wild religion" in post-apartheid South Africa. Journal for the Study of Religion, 27(2).

—. 2015. Klassifikation und Vergleich in der Religionswissenschaft: Das Beispiel indigener Diskurse. In Bhatti en Kimmich (reds.) 2015.

—. 2016a. Colonialism and material culture in David Chidester’s oeuvre: Key terms for teaching about religion and religions at South African universities. Religion & Theology, 23:1–17.

—. 2016b. Violence in the Christian Bible: Assessing Crossan's use of violence as a key analytical concept. HTS Teologiese Studies / Theological Studies,72(4).

—. (In voorbereiding). Materiality, phenomenology, critique: A comparison of Gerardus van der Leeuw and David Chidester's analyses of the Voortrekker Monument as sacred space.

Tymieniecka, A.-T. (red.). 1994. From the sacred to the divine: A new phenomenological approach. Analecta Husserliana: The Yearbook of Phenomenological Research, Vol XLIII. Dordrecht: Kluwer.

Van der Leeuw, G. 1986 [1933]. Religion in essence and manifestation. A study in phenomenology. Princeton: Princeton University Press.

 

Eindnotas

1 Vgl. die oorsig in Baregheh, Rowley en Sambrook (2009), waaruit die prominensie van tegnologiese en ekonomiese definisies van vernuwing vanuit ’n burokratiese bestuursoogpunt blyk.

2 Hierdie onderskeid tussen religie en religieë word algemeen deur religiewetenskaplikes aanvaar (vgl. Chidester 1987:3). Vir populêre vorme wat soos religieë funksioneer, kyk Chidester (2005).

3 Hierdie sosiologiese werksdefinisie bou op Emile Durkheim (2008 [1912]) se funksionalistiese teorie, maar pas dit ook aan deur te beklemtoon dat religie en religieë konflik en hierargieë kan skep.

4 Religiewetenskap eerder as Godsdienswetenskap word hier gebruik, aangesien laasgenoemde ’n teïstiese vooroordeel verraai. Hoewel Godsdienstwetenschap tradisioneel aan Utrecht Universiteit en die Rijksuniversiteit Groningen gebruik is, word Religiewetenschap of Religiewetenschappen tans verkies (vgl. http://www.uu.nl/onderzoek/religiewetenschap en http://www.rug.nl/bachelors/religious-studies).

5 Louw (1976) bied ’n samevatting van sy taalkundige teorie met toepassings op antieke Griekse voorbeelde.

6 Louw en Nida (1988) is die produk van die nuwe semantiese teorie wat op die Griekse Nuwe Testament toegepas is.

7 Vgl. Nida en Taber (1982) as standaardwerk vir ’n dinamies-ekwivalente benadering tot vertaling.

8 Vir toekennings en publikasies, vgl. Crossan se webwerf by https://www.johndominiccrossan.com/Professional%20Resume.htm.

9 Vir ’n oorsig van Crossan se vroeë werk, kyk Strijdom (1986).

10 Vir Crossan se belangrikste tegniese werk oor die historiese Jesus, kyk Crossan (1991). Vir ’n populêre weergawe van sy navorsing oor die historiese Jesus, kyk Crossan (1994).

11 Vgl. Crossan en Reed (2004) vir hierdie produktiewe samewerking tussen ’n deskundige in teksanalise en ’n deskundige in argeologie om die historiese Paulus opnuut te verstaan. Hulle het reeds vroeër ook ’n gesamentlike werk oor die historiese Jesus gepubliseer (kyk Crossan en Reed 2001). Crossan (2007) bied ’n samevatting van Crossan se analise van die historiese Jesus en Paulus.

12 Vir ’n bespreking van en kritiek op die Paryse skool se sosiologiese ontleding van antieke Griekse mites, kyk Strijdom (2007).

13 Vir Mack se sosiaal-kritiese ontleding van hierdie aspekte, kyk veral Mack (1988 en 1995) en Strijdom (1997).

14 Vir Mack se ontwikkeling van sy vroeëre argumente as ’n kritiek op Christelike nasionalisme in die VSA, kyk Mack (2008).

15 Vgl. Crossan (2015), asook Strijdom (2016b) vir ’n kritiese lees van Crossan se ontleding van geweld in die Christelike Bybel.

16 Smith (1990) bied ’n kritiese beoordeling van vergelykings wat ’n Christelike perspektief by voorbaat bevoordeel. Hy ontwikkel sy siening van vergelyking in verskeie artikels in Smith (2004). Vir ’n kritiese bespreking van Smith se opvatting van vergelyking in verhouding tot Chidester s’n, kyk Strijdom (2015).

17 Kyk Strijdom (2009) vir ’n bespreking van die genealogie van die begrip religieuse nasionalisme, ’n vergelykende analise van ’n seleksie van voorbeelde en ’n kritiek op die onverdraagsaamheid en geweld wat dikwels daarop volg.

18 Vir ’n bespreking van die begrip inheemsheid en ’n problematisering van die politieke gebruik van inheemse rituele en identiteite in ’n seleksie van postkoloniale Afrika-state, kyk Nyamnjoh (2007), Geschiere (2009) en Strijdom (2012).

19 Die vernaamste werke in hierdie verband is Chidester (1996) en Chidester (2014). Vir oorsigartikels, kyk Chidester (2000a, 2015b).

20 Houtman en Meyer (2012:6) gee spesifieke erkenning aan Chidester as ’n baanbreker in die materiële bestudering van religie. Kyk veral Chidester (2000b, 2012 en 2015b) vir sy teoretisering en toepassing van die konsep materialiteit op Suid-Afrikaanse gevallestudies, en Chidester (2005) vir ’n toepassing daarvan op voorbeelde uit die Amerikaanse populêre kultuur.

21 Vir ’n vollediger bespreking van Chidester se analise van objekte in religie, kyk Strijdom (2014a).

22 Kyk Strijdom (2016a) vir ’n vollediger argument oor die belang van Chidester se vernuwende werk vir die herkurrikulering van Religiestudieprogramme aan Suid-Afrikaanse universiteite in die lig van eise om die kurrikulum te “dekoloniseer”.

23 Vir die konsep heilige plek, kyk Van der Leeuw (1986 [1933]), Chidester (1994), en Chidester en Linenthal (1995). Chidester (2012) pas die konsep op die Voortrekkermonument en Vryheidspark toe, terwyl Strijdom (2014b en Strijdom in voorbereiding) in kritiese gesprek met Van der Leeuw en Chidester tree.


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


The post Vernuwing in die bestudering van religie en religieë appeared first on LitNet.

Innovation in the study of religion and religions

$
0
0

Abstract

The aim of this contribution is to reflect on the notion of innovation in the human and social sciences in general and the comparative study of religion and religions in particular. Religion here refers to the generic category (genus) and religions to the species of the genus. The sociologist Emile Durkheim's definition of religion is adapted by foregrounding not only the function of sacred beliefs and practices to unify a group of adherents, but also by emphasising its conflictual potential to create and maintain asymmetrical power relations of colonialism, class, gender and race.

The article addresses the fundamental question not only of the meaning of innovation, but also of ways in which we may produce new knowledge in a field that studies human beings and religion as a powerful force in our world.

The thesis is that our best hope for producing innovative insights in the humanities and religious studies lies in experimenting with the application of theorised key concepts to specific case studies by way of comparison. It is argued that cross-cultural key concepts need to be constructed and used with a critical awareness of the genealogy of the concepts, and that the comparison of case studies must be done in a disciplined and systematic way that locates each example within its specific historical and geographic context.

The argument crosses disciplinary boundaries by taking examples from ancient Greek linguistics, historical Jesus and early Christian research, Greek mythology, and comparative religious studies to defend the thesis and to show how the thesis works in practice. The contribution to the production of innovative knowledge in religious studies from a South African perspective and location is emphasised in the article.

The following case studies and prominent scholars are selected to argue and illustrate the thesis on ways to produce innovative research in the humanities and religious studies:

(1) In the case of ancient Greek linguistics the creation and application of new linguistic concepts and theories by Johannes Louw and Eugene Nida resulted in a dictionary of semantic domains which had a huge impact on new translations of the New Testament. Not only did they create the semantic categories of objects, events and abstracts, but also showed how the transformation of events into kernel sentences could result in a dynamic-equivalent translation of Greek clauses that consist of a staggering number of nomina actionis. The fact that this method has been criticised for losing stylistic emphases and metaphors of the source text, and arguments for a direct translation that recovers these aspects, do not negate the validity of the thesis on innovation, but rather confirm it.

(2) In historical Jesus and Pauline research, John Dominic Crossan's combination in his early work of historical-critical and literary approaches to analysing the historical Jesus' parables yielded new insights in viewing them as paradoxes, while his later foregrounding of social-anthropological concepts, particularly class, in collaboration with an archaeologist to interpret the historical Jesus and Paul, resulted in a new interpretation of these founders of Christianity. If in his early work Crossan viewed Jesus as a mystic poet who by means of metaphorical paradoxes shocked the expectations of the established world, in his later work he came to see the historical Jesus in rural Galilean villages and Paul in Roman cities as initiating a movement that empowered people to share and care for each other versus an oppressing and exploitative Roman empire.

(3) In the case of Greek mythology and early Christianity, the Paris School's social-anthropological analysis of ancient Greek myths shed new light on the social role of these constructs within ancient Greek society, while Burton Mack's sociological analysis and critique of early Christian myths disclosed them as dangerous social constructs with a pernicious legacy. A comparison of Crossan’s and Mack’s assessments of the Christian legacy is called for, entailing profound ethical judgments.

(4) In comparative religious studies, Jonathan Z. Smith and David Chidester have explicitly reflected on and used theorised key concepts such as religion and comparison. They have explicitly drawn our attention to the potential of creating and applying analytical concepts to case studies in a comparative way in order to produce innovative knowledge about religion and religions. The point is illustrated by comparing examples of religious nationalism, indigeneity, materiality and sacred space from a South African historical perspective (i.e. within colonial and post-colonial, apartheid and post-apartheid contexts), emphasising throughout the imperative to consider the ethical import of these analyses.

In conclusion, the need for analytical, second-order concepts that do not fully coincide with first-order insider terms is emphasised to make innovative knowledge possible. It is, as Jonathan Z. Smith argues, precisely the gap between map and territory that creates a space for thinking and the possibility of new insights in the humanities and comparative religious studies – lest we become parrots repeating word for word the language and terms of those whom we study.

Keywords: comparison; innovation; religious studies; theorised concepts

Lees die volledige artikel in Afrikaans: Vernuwing in die bestudering van religie en religieë

The post Innovation in the study of religion and religions appeared first on LitNet.

Video: Hermann Giliomee: Historikus –'n Outobiografie

Kortlys: LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2016

$
0
0

 

LitNet het onlangs gevra: Wat is 2016 se Afrikaanse woorde - woorde wat ontstel, prikkel, of die heersende gesprek saamvat? 

Lees besonderhede en die agtergrond van die LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2016-kompetisie.

Die wenner van die kompetisie ontvang R1000 kontant. Hier verskyn die inskrywings.

Hier onder is die LitNet-redaksie se kortlys in alfabetiese volgorde. Die wenner word volgende week aangekondig. As dieselfde woord deur verskillende mense voorgestel is, sal die wenner deur middel van 'n trekking bepaal word.

Kortlys

  1. Droogte
  2. Kampusgeweld
  3. Rommelstatus
  4. Selfdegeslagverhoudings
  5. Staatskaping

The post Kortlys: LitNet se Afrikaanse woord van die jaar 2016 appeared first on LitNet.

LitNet: Jou 525 600 minute

Viewing all 21643 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>