Quantcast
Viewing latest article 4
Browse Latest Browse All 21396

Waarom ek boekfeeste bywoon

Image may be NSFW.
Clik here to view.

Gedagtes oor identiteit tydens en na afloop van die 2024 Etienne van Heerden Veldsoirée

Identiteit is een kwessie wat ek keer op keer, sodra dit soos ’n ryp puisie uitstulp, probeer ignoreer. Te veel debatte en debakels poog om genealogie, geskiedenis, genetika, geite en goeters te gebruik met die doel om my/ons/hulle/julle in ’n kategorie van land/volk/spesie/genus/nasie in te boender.

Ek wil my grense kies én tog grensloos wees.
Ek wil gepor, gekneus en oopgeruk word
deur ander maniere van dink ek wil
beheer opgee, my uitkyk ontwrig, al
my sekerhede moet skipbreuk ly

– Uit Plunder (Antjie Krog)

Toe die identiteitskwessie by die Etienne van Heerden Veldsoirée op Cradock (nuwe identiteit is Nxuba – herstel – Nxuba, ou identiteit is Cradock) opduik, luister ek, want hier heers ’n ondertoon van meeluistering wanneer groot geeste gesels, maar ook medeluistering, ten spyte van potensiële verskille. Dis  hoekom ek graag ’n Bookbedonnerd-fees of ’n veldsoirée soos hierdie een bywoon: om die insigte wat gedeel word te poleer, te probeer, en ’n bietjie te plunder in, en aan, my bestaande sienings, selfs al gaan dit oor identiteit.

Tyd vir ’n oop gesprek.

Ek het lankal opgegee om te wonder wiedehel ek/ons/hulle/julle is. Daar is reeds kitsgeblikte kategorieë en assosiasies, soos generasies: van Stil, dwarsdeur X, en anderkant Z, tot by Alfa. Tydens die veldsoirée bespreek Tom Dreyer die (on)begrens(en)de sirkels waarin ons ons bevind. Sirkels waarbinne ons rolle speel, belangstellings deel, en dinge doen wat ander min, gemiddeld, of veel, skeel. Ek sien my pa wat streng was (Breytenbach se Oubaas se stil bitter krag, die oorheersende eienskap van sy generasie), en, wat deur my kinderkykoë, antwoorde geweet het, oënskynlik wysheid in pag gehad het. Pa is al jare saliger, maar ek sou hom graag wou vra of hy soms getwyfel en dikwels geweifel het – soos ek.

Kóm wees jy weer my roepman.
Kóm wys my die laaste maal die pad uit hierdie plek.

– Uit Kaartjies, asseblief (Clinton V du Plessis)

Ek weet nie wat (en of) hy sou antwoord nie. Pa, wat een aand stil teruggekom het nadat hy ons getroue hond, Seaar, moes gaan skiet omdat dié skape gevang het. Op sy rystoel gaan koerantlees. Sy moontlike trane agter ’n koerantkop verskans.

En ek?

Sy middeljarige ook pa geworde seun, wat tjank oor ’n kat wat sagkens per spuitnaald deur ’n veearts “gehelp” word om die tydelike met die ewige te verwissel.

Ek het Pa een keer sien huil: Ma met ’n bloeiende kop na sy geval het omdat sy so hard teen die siekte geveg het – haar gesig bleek op die hospitaallaken. Hy het besef sy is op pad die noute in. Daardie oggend het sy die laaste keer tee gemaak. Die water het nog nie gekook toe ons hospitaal toe is nie. Die koppies nog gereed in my onthou.

In my generasie se wentelbaan draai die kraaie van verlange na weersiens en vrees vir verweer, lank reeds oor ’n klomp Boetmans wat die bliksem in was en hulleself kon identifiseer met Chris Louw se brief. Maar toe stap Chris Louw met ’n AK-47 in sy tuin in en hoop sterf met ’n knal. Die kruis te swaar. ’n AK-47 van alle gewere. Dié van die vyand.

Die vyand? Wie identifiseer die vyand? Die army. Hoeveel het al stem probeer gee aan die gedienstige dienspligtiges wat eens bevele oor paradegronde kon gehoorsaam en selfs uitbulder? Die buffels het gestruikel. Amelia Heese se onlangse optekening van stotterende pa’s. Herinneringe. Marieta van der Vyver se Grensgeval(le). Vroue wat bydra om stomgeslane bosbef*kte mans se stories te vertel.

Hoe ons anyway army toe is met die “seën” van ons ouers, weet ek nie. Duidelik was hulle so bang vir die goggas van die rooi en swart gevaar dat hulle bereid was om kinders te offer – maar was daar ’n keuse?

Dana Snyman skryf in Seun oor sy kortstondige ervaring in daardie plek waar seuns mans moes word, en sommige gekonfronteer is met wrede sh*t wat nooit vir menslike ervaring geskik was nie. Generasiegenote hoor nou nog die stilgemaakte, skreeuende roepstemme van anderkant die Kaplyn. Dié wat nie die voorreg gehad het om stotterend ouer te word nie. G’n wonder Dana verkies om Seun te bly nie. Wie wil dan ’n oom of man wees teen die prys wat dit vereis. Terwyl ek dril en skiet, en my lae spiertonus uit my marsjeer word, stuur Ma briewe. Aan die een kant van my identiteit is ek ’n soldaat; aan die ander kant worry Ma of ek my pakkie gekry het. ’n Ma soos Antjie s’n:

jou witkop altyd teenwoordig op die agtergrond
Wanneer ons ons grootste stryde stry.

– Uit Plunder

Hopelik gaan baie nog gesê word oor Dominique Botha se treffende voordrag tydens die 2024-Veldsoirée. Wat ’n Orde van die windpomp-waardige kragtoer was dit nie! Ek het kort voor die geleentheid Valsrivier weer gelees. Hoeveel Pauls het ons nie verloor langs die pad nie? Sensitiewe, hardekwas rebelle teen ’n sisteem waarin jou ouers onwetend gevangenes van ’n informasie-ontnemende bestel was. Kinders wat geen perke geken het nie en deur die beperkinge kon sien. In ’n land van blindes.

Wat gebeur wanneer pa, predikant, ouderling, diaken, onderwyser en koerantman dieselfde gesensureerde algoritme gevoer word, en hulle glo, sonder om te vra, soos die polities geïnspireerde sillabus hulle geleer het? Die Pauls van die wêreld se stemme word stil:

jy is nou ’n rooigrasvlakte
in die sterfland
waar laatmiddae aan jou wei.

– Uit Donkerberg (Dominique Botha)

Daar was (en is nog) van hulle wat sterk gestaan het in die pogings-tot-oë-oopmaak-veldslae. Hulle het gesing, gedig, gedans, geskryf en die establishment aangedurf. En net toe ek vermoed dat ons uiteindelik nuwe leiers het, hang Johannes Kerkorrel homself aan ’n boom op.

Warref*k?!

Waarheen nou? ’n Generasie gehaper in die soeke na leiers bly soekende. In sport was daar hoop, kort nadat ons van ons muishondstatus bevry is. Daardie eerste Wêreldkrieketbekertoernooi met Jonty Rhodes se paaltjietekkel, Steve Tswethe se trane, en die latere oorgang van die stroewe gesig van Kepler Wessels na Hansie Cronjé. Dinge blend. Van dissipline na verhoudinge. Geklemde kake tot glimlagte. Toe val Hansie. Ons helde bly val. Die nette word wyer gespan. Dalk is daar iemand in die politiek?

Mandela, die omie wat in die tronk was en met die aantrek van ’n rugbytrui opinies swaai in 1995. Einste Mandela wat een van die oorsake was dat ons weekliks in bruin kadetklere die skoolrugbyvelde tot paradegronde moes omskep. Hoe goed was ons nie? Gestryk, gekous, gedril, gereed. Paraat. ’n Minister op Republiekdag by die skool, gewoonlik lank genoeg dat een van die brawe kadette omdônner met ’n floute. Ons hys en salueer die landsvlag wat later ’n vloek sou word. Oranje, blanje, blues, soos die Vrye Weekblad-T-hemp dit in die vroeë ‘90’s uitgedruk het. Parade, ver-dáág! Die minister en die hoof gaan drink tee. Ons waai vlaggies as die minister se swart Mercedes vertrek, so ’n begrafnisserige kar vir die man in die swart pak. ’n Voorteken van die einde van ’n era.

Verskeie eras.

Die post-Mandela era het vir ons Mbeki se vigsskandaal gebring, toe kom bonus-eras met Zuma se staatskaping en Cyril se frustrerende passiwiteit. Ha-la-la Phala-Phala. So much for leierskap uit die politieke arena. Toe kom Rassie en Siya, en ons wen. Maar terwyl ons wen, donner ons ekonomie en infrastruktuur inmekaar soos troepe wat te lank gestaan het, besteel en belag ’n nuwe geslag superkaders ons. Terwyl ons wen, verloor ons iewers.

Want dis wat die kaders doen in die aangesig van die ineenstorting om hulle.

Lag, met ’n verrassend uitbundige humor oor die onbeholpenheid en insidente van verlies en verdwyning, wanbestuur en wedywering om eerste by die trog te kom.

– Uit Gebeente (Etienne van Heerden)

Dis moeilik om al die teenstrydighede van identiteit bymekaar te hou. Dominique vertel van haar pa wat “man-alleen” (met 20 werkers) ’n taak verrig het. Die bouer wat op my werf werk, laai ook sy mense af, en weke later vertel hy hoe hy hier gebou het. Die neukery met Dominique se aanbieding is dat sy die waarheid so duiselingwekkend digterlik uitdruk. Sy lees uit Donkerberg voor en die verskriklike verkragting en plaasmoord waar die wreedheid sommige van die koeëldode in die Bosoorlog laat mak lyk:

haar aanvaller het getuig hoe sy gehuil het
terwyl hy haar verkrag

toe hy die volgende dag terugkeer
om haar weer te verkrag het sy nog asemgehaal

die derde dag nie meer nie.

– Uit Donkerberg (Dominique Botha)

Oombliklik is ons, wat gedink het ons is moer toe, weer die moer in – want dit hoort nie so nie. Nie na alles waarvoor ons geveg het, geKODESA het, gehoop het, gebid het, gestem het, en onsself in ons Tom Dreyer-sirkels beywer het nie. Die neukery daarvan om na ’n voordrag soos dié te luister, is dat ons teen hierdie tyd al weet dat digters profete is, sieners van die onsigbare, maar dat ons dikwels nie die kode kan breek nie.

wat is poësie as dit mens nie red nie

– Uit Plunder

Tussen voordragte deur loop ek Clinton V du Plessis raak. Clinton stap kort voor my in die ouderdomsvoetpaadjie en sy digbundels belig die (vir my nog) onsienbare en onsigbare(s) in die omgewing. Sy digbundel Kaartjies, asseblief is ’n sinjaal van assosiasies, van tussen stasies wees en die tagtigs waarin ek grootgeword het, toe uitspatstoomtreinkole dikwels die plaas aan die brand gesteek het. Toe ons almal dieselfde reekse op TV gekyk het en in die winterskoolbus van die plaas af daaroor kon gesels. My kinders sal nooit weer die ervaring deel van een of twee TV-kanale om te kyk nie. Die keuses van waar hulle hul data wil laat stroom, het eindeloos geword. Ons is nie op dieselfde golflengtes nie. Kitskommunikasie het oop gesprekke gekelder. Hulle luister eerder na ’n nuwe generasie smaakmakers (en kakmakers, soos ene Andrew Tate). Daar gaan tye wees dat ek en my kinders mekaar nie gaan ken of verstaan nie. Dis al waarborg wat ek het. Ek gaan die openheid moet handhaaf om hulle oor die grense van ons generasies in gesprek te hou; brûe te onderhou.

Van oop gesprekke gepraat: Fanie Olivier, wat gedigte destyds as kartetse teen toentertydse gebonde broederlike kaders ingespan het, het ’n wakker hardekwas gesprek oor wokeness aangeblaas. Fanie deel ons oorbluftheid oor die onsekerheid van waarvóór en waartéén mens standpunt of stelling moet inneem. Deesdae is daar nuwe woorde. Woorde soos kanselleerkultuur is geskep om gebeure om ons te beskryf. Hy het ook hierdie video gedeel.

Vasti Roodt het gesels oor wanneer ons kuns kan (of durf) kanselleer. Sy verander lens en hoek. Die vraag is nie of die kunstenaar ’n tokkelossie is nie, maar of die kunstenaar getrou is aan sy of haar visie vir sy of haar kuns. Dit is een van die gevolgtrekkings wat ek maak. Maar wat word van kunstenaars wat getrou was aan hulle identiteit? Dominique se Paul. Johannes Kerkorrel. Boetman. Ook ander wat besef het dat hulle die verkeerde visie gekoop het. “Getroue” regeringsamptenare wat voor die WVK gaan pleit het omdat hulle trou gesweer het aan kulkunstenaars (wat politici mos maar is en was). Soms eindig alles stomp en opgekrop, ander kere met amnestie. Wat word gekanselleer/vergeet/vergeef deur amnestie? Keuses vs cul de sacs. Soms is daar lafaards wat die verlede ontken, ander kere helde wat ’n toekoms bou. Ons kies die betekenis wat ons toeken terwyl ons terugkyk. En elke korrelkop dink dat hy/sy/hulle/ens oopkop is.

Ek weet nie of dit my Christelik-Nasionale opvoeding by Volkskool Hoogland was wat my so verknog aan helde en heldeverhale gemaak het nie. Wolraad Woltemade (wat verrassend gedaante verwissel in Etienne van Heerden se Gebeente), en ook die plaasseun Jada inspireer in Die onsigbare. Dirkie Uys. Piet Greyling. Hansie. Paul Botha. Johannes Kerkorrel. Nelson Mandela. Siya Kolisi. Rassie Erasmus. Vir my is daar ook onbesonge helde. Digters, die sieners van die onsigbare. Skrywers, wat vir hulself en andere wêrelde kan oopverbeel of plunder totdat die gebeente van die lewenslandskap oopgevlek word. Gewone mense wat buitengewone dinge doen. Onderwysers wat met vingerstrepe onder bome in die veld somme verduidelik. Vullisverwyderaars wat opdaag (ek bly in Bloemfontein), sopkombuisskeppers, Hospice-weldoeners.

Heldeverering maak my ’n handtekeningjagter. Jinne, ek was as kind ’n lid van Herbie en Spence se bewonderaarsklub en het in die pos ’n foto en nuusflitse met hulle handtekeninge ontvang. Precious! Tasbaar. Nie digitaal nie. Ek het genoem dat ek Valsrivier voor die Veldsoirée weer gelees het. Donkerberg was ook in my rugsak met boeke wat ek graag wou laat teken. Toe ek dus vir Dominique Botha vroeg op dag een by ontvangs sien, besluit ek om die geleentheid aan te gryp en vir ’n handtekening te vra. Min wetende dat sy in ’n ernstige WhatsApp-gesprek betrokke is. Ek onderbreek. Sy plaas ’n  koel, empatiese hand op my arm, vra my om net gou te wag, want sy moet iemand vermoor. Nie goeie tydsberekening aan my kant nie. Danksy my heldeagting vir kunstenaars mis ek soms die konteks. Ek het pad gevat, en heelwat later het Dominique (Vrystaat-vriendelik en baie gaaf) my raakgesien en die boeke geteken. Ek was in die weermag, maar as daar sprake van konflik (en veral moord) is, dan verdwyn ek eerder.

Verdwyn wit mans werklik?

My generasie is op die rand van aftrede (en iewers in die noute wink afsterwe), dikwels terwyl ons omsien na verswakkende ouer ouers, getoebroodjie aan die ander kant deur ons opgeskote jong lote.

Daar is wel ’n groter verdwyning/verdwaling/wegraping wat nie ontken kan word nie: Pa’s.

Die pa’s wat veronderstel is om in omtrek van die sirkel van pa-identiteit hulle wentelbane te volg. Die vraag word gereeld gevra wat van die pa’s geword het. Ek kan getuig dat ek nooit geweet het waarvoor ek opgesign het toe ek met die pa-status se swaard geslaan is en die eersgeborene die wêreld in passeer het nie. Pa-identeit beteken dat mens soms onsigbaar moet wees, ander kere moet kan ingryp soos die arende in The Hobbit, en die wysheid om te weet wanneer om (vas) te vat en wanneer om (uit) te los. Die gaping tussen hoofrol en hoofdrol wanneer jy oor generasies heen moet verseker dat daar kos op die tafel en data in die WiFi moet wees, en besluite moet neem oor of troeteldiere uitgesit moet word, raak bitter klein. Moet ek dissiplineer soos wat my pa, my voorganger, my voorbeeld gedoen het? Sal ek myself verwyt oor my gebrek aan sensitiwiteit en empatie? Kan ek hom vra?

Pa, tel asseblief op
ek wil ’n laaste kollekteeroproep maak.                               

– Uit Kaartjies, asseblief

Ten spyte van die geraas oor toksiese, harde manlikheid, is ek bevrees ek is geseënd of vervloek met ’n empatiese persoonlikheid. En soms moet ’n pa skynbaar hard wees. Maar hóé hard? En hoe weet mens?

wat maak mens as jou land uitmekaar val?
jy draai jou rug dat jou familie kan opklim.

– Uit Plunder

Sommige het hulle rûe gedraai en verdwyn voordat die familie kon opklim. Ander dra ekstra. Probeerders.

Teen die einde van Dominique se gesprek het Darryl David aan haar genoem dat haar pa so ’n gawe oom is.

Darryl David. ’n Karakter wat jaarliks diep spore in die paadjie na Nxuba (en ander plekke) trap, as organiseerder van boekfeeste oor die hele land. Die Veldsoirée is ook een van Darryl se breinkinders. Gedurende 2023 se byeenkoms het hy sy outobiografie, Bookbedonnerd! The road to Elsewhere, bekendgestel, en in 2024 kon ek met Darryl oor sy boek Karoozing gesels. Terwyl ek voorberei vir die gesprek met Darryl, word ek deur sy skrywe tussen die foto’s in sy boek herinner aan sy pa se generasie. Indiërs wat nie toegelaat is om in die Vrystaat te oornag nie. Hoedehel het ons dit gemis? Hoekom het ons nie iets daaraan gedoen nie? Wag. Sommige het. Daar was die Pauls en Breytens en Brinks en Oliviers wat met letters en paragrawe stemme des roepende in woord-, daad-, en klankwoestyne was. Hulle was daar. Hulle het geskreeu. Hulle was wit. Die wit sirkel is darem nie so sleg nie. Dankie tog. Maar o, blind was ons vir hulle wat in die derde klas moes reis terwyl ons salig blind in die eerste klas gereis het.

Darryl se fotoboek is ’n versameling oomblikke in die natuur, in dorpe, en veral voor kerke. Die kerktorings wat hoog in elke Karoodorp troon om ons te herinner aan die geloofspronge wat hulle wat voor ons was moes maak, min wetende dat hulle bestel onkundig en hulle skoling kortsigtig was. Dalk is dit een van die redes waarom hulle bereid was om hul kinders na die potensiële slagpale in die Bos te stuur. Hulle het nie van beter geweet nie. Of hulle was bang. Bang maar mag dit nie gewys het nie. En nou is ons generasie wat oper is, oor ons vrees.

Want ek loop in my pa se skoene.

Ek loop in my pa se jas
En weet na soveel jare
’n pa het ’n hart van glas
’n Pa het lief, maar onvolmaak –
Dis dikwels krom en skeef –
En al gebeur dit veels te laat
Kom sy liefde tog op dreef.

– Uit “Hart van glas” (Coenie de Villiers)

In ’n terloopse ontmoeting gesels Etienne van Heerden met my oor leierskap. Is dit so dat die meeste leiers narsisties is? Synde al jare gemoeid met leierskap, is dit nie ’n vraag wat ek sommer antwoord nie. My generasie is, wanneer ingelig, verward, want dít wat as leierskap aan ons voorgehou is, en hulle wat ons leiers geword het, het verwagtinge ondertref. Leierskap is diensbaarheid. Om te dien moet mens trots wees op wie jy is en wat jy doen en glo. Oormatige hubris lei tot hamartia, die val van die tragiese held. So, al wat ek Etienne kan antwoord, is dat leiers in hulleself moet glo (om te glo hulle kan ’n verskil maak), maar wanneer selfgeloof egosentrisme word, word narsiste gekweek. Dan val die held(e).

Ek kon nie al die sessies op die tweede dag bywoon nie, maar was daar om te hoor hoe Jaco Jacobs weer die belangrikheid van speel beklemtoon en hoe gesagsfigure, soos afwysende onderwysers (en leiers), ons ideale kan vertroebel. Dankie tog, weer eens is daar die rebelle wat nie die oordeel glo wat oor hulle gevel word nie – wat verbeel, skryf en speel, ten spyte van onderwysers se twyfel. Soos Jaco.

Speel ons nog?

Gaan ons speels om met ons eie gedagtes, redenasies en interpretasies? Of het ons ’n klomp suurgatte geword wat die bure nouliks oor die heining groet? Jaco se boeke trek soos ’n vars bries deur die voordraglandskappe en kinders geniet dit om hulle te lees. Net daar is ek weer dankbaar vir Pa se hardegat generasie wat, toe almal die feit kritiseer en oordeel dat ek Die ruiter in swart (en ander Tiekie Terrible- en Penny Horrible-slaphandboekies) lees, sy voet neergesit het: “Laat die kind net lees.” Soms het mens ook ’n bedonnerde pa met ’n moerige morele kompas nodig om jou te beskerm.

Sondagoggend loop ons Stefaans Coetzee raak. Eertydse bomplanter. Wit Wolf. Opgestaan vir waarvan hy oortuig was. Nou versoenend. Praat van ’n  identiteitsbollemakiesie: Hier het ons ’n man wat geskuif het van ver regs tot vergifnis, op ’n ongekende skaal. Stefaans deel boeke uit. Sel 6 het pas verskyn. Kort tronkverhale. Harde leesstof. Oor die buitetronk – die tronk waar misdadigers en veroordeeldes beland. Soms bedink, belees en begeef ek myself ook in die tronk daarvan om te vergeet dat al die sirkels wat Tom Dreyer genoem het, oop eindes het. Hulle vloei inmekaar, grensloos. En tussen die ongesiene heinings waaruit ons ’n identiteit skep, vergeet ons soms dat alles deurlopend skuif, opinies verander, nuwe wêrelde oopgaan, daar is frustrasies, daar is leë treine en afgebreekte stasies; maar dit is nie wie ons is nie.

Pa het grepe uit ’n gedig van Arthur O’Shaughnessy se Ode in sy klein swart boekie met gedagtes en gedigte op sy bedkassie gelaat voor hy weg is:

We are the music makers,
And we are the dreamers of dreams,
Wandering by lone sea-breakers,
And sitting by desolate streams;
World-losers and world-forsakers
On whom the pale moon gleams
Yet we are the movers and shakers
Of the world for ever, it seems.
Dís mos wie ons is.

*

Met dankbaarheid aan al die sprekers en gaste wat die Veldsoirée op Nxuba omskep het in ’n geleentheid waar ek ’n oop gesprek met myself oor identiteit kon voer. Dit is waarom ek boek- en leesfeeste bywoon. En natuurlik ook om handtekeninge van mense wat WhatsApp-moorde oorweeg te bekom.

Lees ook:

Erns Grundling en Louis Esterhuizen: Versindaba wil “enorme spronge” van Afrikaanse digkuns vier

Tasneem Daniels: Cape Flats Book Festival was ’n vibe!

Khulile Nxumalo: Isitimela sihamba ngamalahle

Petra Müller: Wat wild is, en wat mak

Jaco Fouché: Oor die army, generasies en selfportrette

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

The post Waarom ek boekfeeste bywoon first appeared on LitNet.

The post Waarom ek boekfeeste bywoon appeared first on LitNet.


Viewing latest article 4
Browse Latest Browse All 21396

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>