Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

Hoe lag ek nou!

$
0
0

Twintig jaar en twee hande vol maande gelede, toe die wêreld nog wild en vry was en my borskas nie deel van my maag was nie, het ek en mevroutjie ’n troue saam met my ouers bygewoon.

Aangesien ek nie die mense kan onthou nie en die bruidspaar heel moontlik ook nie eintlik geken het nie, maar hulle wel tog my ouers sal ken en omdat ek ook nie weet of hulle nog lewe en dalk op die deurdrumpel van hierdie kusplek woon nie, sal ek vandag volstaan met die agtergrond soos volg: Die onthaal op die Weskusdorp was in ’n sportklub se saal. Die drankies moes egter langsaan by die klub se dameskroeg gekoop word. Hier het die manne met net voorname en byname daagliks ’n stowwerige keel kom afspoel.

Die aand was al goed op dreef en die kousband en die gooigoeters gedoen, toe ek en Pa stap om vir oulaas ’n ietsie by die kroeg te gaan koop. Die kroeg se houttoonbank was seker ten minste 10m lank, met ’n pasteitjie warmhou-oond op die een hoek en die opswaaideur op die ander.

Ek en Pa het langs die oondjie en ’n ouerige kroegbewoner ingeskuif om ’n gaatjie by die toonbank te kry. Terwyl my pa die drinkgoedjies bestel, kon ek nie anders as om op te merk dat die rooierige oom hier naas my iets kou wat hy sowaar nie gesluk kan kry nie; ’n eienaardige gedagte, want alhoewel hy kou, sien ek nie dat hy iets in sy mond sit om te eet nie!

Met die wegkyk om my pa op die een of ander vraag te antwoord, merk my linkeroog sommerso op sy eie ’n beweging op die kroegblad en sonder huiwering en om te wag skiet my regterhand op sy eie aandrang uit om die ongeïdentifiseerde ding te keer of te vang ...

Die rek, vat en los was egter alles in een oogwink en beweging, want met ’n slag tref die glyende onderbek met sy halfgeel pitte in ’n pienk gesette karkas die oondjie langs my Pa!

Terwyl die tandestel terughop en ’n lê wil kry, val-gryp die oom hier langsaan stil histeries hier voor my op die toonbank verby; al agter sy kosbare kouers aan!

Die opruk, insit en regskuif tot op sy stoel was een sweepslag!

Ek en Pa het kromgetrek van die lag terug gesukkel saal toe, terwyl die nou rooier as voorheen oom ongemaklik sy drankie gesluk en ver verby die kroegman en die rye kalmeerbottels die spieël ingestaar het ...

“Shame,” ek wonder of hy nog ’n gebit hét om op te byt?

Die verkeerswurm waar ek hierdie namiddag spandeer, seil saggies na die volgende verkeerslig toe ’n bakkie met bouers en kruiwaens en planke hier voor my inglip. Die kappie se deksel is oop en die passaierskoppies sit soos saamgeperste olywe in ’n ou konfytbottel.
Ek dink nog so aan die bekendheid van die een man se gesig, toe die lag weer hier by my mondhoeke verby krul ...

Tydens ’n projek op ’n naburige dorp, het ek hierdie man se dubbelganger ontmoet.

Hy was die faktotum by ’n kantoorgebou en ’n man wie se geduld nie in minute gemeet kon word nie. Die ou mense sou sê “sy lont was kort”.

Die eiendomsbestuurder by hierdie gebou, kom ons noem hom Sarel, was al geset in die jare en wanneer hy nie die faktotum, kom ons noem hom Willem, op die terrein kon opspoor nie, dan het hy vir hom gefluit. Die gefluit het so-te-sê soos hierdie vermakerige spreeus hier by ons geklink.

Ieder geval, die een oggend is ek saam met Willem in die laer grondvloer parkeergebied doenig. Die parkering is gedeeltelik oop en dus vlieg die voëls in en uit. Sommige probeer op die pype nesmaak en ander kom drink water. Die Spreeus ingesluit.

Soos die terggeeste dit wil hê ry Sarel met sy bakkie juis by die hek uit, op dieselfde oomblik wat Willem die parkeerplek binnestap. Net betyds om die agterligte van Sarel se bakkie om die draai te sien verdwyn.

Met die omdraaislag hoor Willem egter Sarel se gefluit en hy, as baie gehoorsame werker, draai net daar in sy spore om en stap in die rigting van die uitgang. Weer hoor Willem vir Sarel fluit en sy stap word ’n drafstap. Sarel se gefluit hou aan en is nou effens skriller.

Die frustrasie slaan in pêrels op Willem se gesig uit terwyl hy nou begin vinnig draf. En weer die gefluit ...

Op daardie oomblik spring Willem in die lug en uit die diepte van elke hol deel van sy binneste, gil hy tranend van bemoerdgeit: “Ek is op pad!”

Soveel so dat die arme skuldige spreeu bokant hom op die pyp, verskrik opvlieg en homself katswink teen die betondak vasplak!

Ai, as my blaas net nie so sterk was nie.

Gepraat van skater ...

Vertel ’n mater my die ander dag hierdie onskuldige staaltjie: Op ’n plattelandse dorp waar die inwoners hoofsaaklik Afrikaans is en gedurende ’n wintermaand toe verkoue erg in die omloop was, was die predikant baie omgekrap dat sy aandag gedurende eredienste onderbreek word deur die gemeentelede se hoesbuie.

Hy bespreek toe die probleem met sy koster, wat Engelssprekend is en vra hy moet ’n oplossing vind. Die koster gaan koop toe ’n groot bottel hoesstroop by die apteek.

Die volgende Sondag is hy reg en sodra iemand hoes, staan die koster op en gaan gee hy vir die persoon ’n lepel hoesstroop in, terwyl hy vir die hoesmens iets in sy oor fluister. Kort hierna, staan die persoon op en loop uit. So hou dit aan tot die kerk byna leeg is.

Na die diens vra die dominee vir die koster wat hy dan vir die mense gesê het? Die koster was self ietwat uit die veld en onder ’n onskuldig gefrons deur gemompel “I said: for cough”.

Hoe ryk is ons ou taaltjie darem!

The post Hoe lag ek nou! appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21396

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>