
Erkenning: http://the-handmaids-tale.wikia.com/wiki/Faithful
Die beeld van Christine Blasey Ford, oë toe, regterhand in die lug om die eed te neem, is vir 2018-feministe wat Rosie the Riveter vir vroue gedurende die Tweede Wereldoorlog was.
Dit was toe oorlog. Dis nou oorlog. Die verskil is, hierdie slag weet vroue dat hulle nie net ’n ondersteunende rol in die oorlogvoering speel nie. Hulle is die onderwerp daarvan. Hulle is die vyand wat ten alle koste op die knieë gebring moet word.
Maak nie saak of Ford die slagoffer was nie, sy is die een wat haar huis moes verlaat en nog steeds met gewapende wagte moet rondgaan. Haar en haar gesin se lewe is omgekeer. Anita Hill moes dieselfde deurmaak in die vroeë 1990’s. Khwezi moes die land verlaat om veilig te wees na haar aanklag teen Jacob Zuma. Ashley Judd is geswartlys toe sy aanvanklik gekla het oor Harvey Weinstein. Talle vroue se klagtes is oor die hoof gesien toe hulle Bill Cosby van seksuele misdrywe beskuldig het. By minstens twee plaaslike Afrikaanse universiteite is vroulike akademici se kontrakte beëindig toe hulle bewerings van seksuele teistering teen manlike kollegas gemaak het.
Maak nie saak hoe verskillend die verhale is nie, dis tog elke keer dieselfde. Die vrou betaal die prys. Twee keer. Een keer wanneer sy aangeval word. ’n Tweede keer wanneer sy geregtigheid probeer verkry.
Selfs wanneer dit ’n vreemdeling is wat haar aanval, wonder mense dadelik: Wat het sy aangehad? Was sy nugter? Wat het sy op daai plek gesoek? Hoekom was sy so laat op straat?
Reg van die begin af is die onus op die vrou om haar onskuld en haar reinheid te bewys. Selfs met die onlangse verkragting van die dogtertjie in die Dros-restaurant was die vraag dadelik hoekom die ma haar kind alleen laat badkamer toe gaan het. Dis altyd die vrou se skuld, nooit die man s’n nie. Selfs wanneer ’n babatjie, ’n gestremde of ’n bejaarde aangeval word, moet daar eers verskoing gesoek word vir die man se gedrag. Kyk maar hoe het die volk in oproer gegaan oor die pedofilie-bewerings teen Magnus.
In die Katolieke Kerk word priesters van parogie na parogie verskuif om hule pedofiliese bedrywighede voort te sit sonder enige kommer dat hulle tot verantwoording geroep gaan word. Ingryping van buite gebeur gewoonlik eers na dekades. Ingryping van binne ... nou ja, daar word opgetree in gevalle waar daar konsensuele seks tussen volwassenes was, maar waar die slagoffer ’n kind is? Jy’s op jou eie. Onlangs het ’n kardinaal in die kerk beweer hy’t nie geweet dis ’n misdryf om seks met kinders te hê nie.
Die Man (gesigloos, naamloos, verteenwoordigend van alle mans oral) moet jammer gekry word, want sy toekoms word deur die beweringe in die gedrang gebring. Is hy dood, soos in Magnus se geval, is die groter kommer oor sy naam en eer. Nevermind dat die vrou se toekoms ook onherroeplik verander, en in baie opsigte vernietig is. Die vrou se belange moet maar agter in die ry staan. Dis hoe die patriargie werk. Dis hoe dit nog altyd gewerk het. Die skuldige party word nou in die rol van slagoffer gewerp.
Behalwe natuurlik as die man swart is. Dan word sy gewaande primitiewe drange en sy tweederangse burgerskap teen hom gebruik. Vra maar vir Bill Cosby. Clarence Thomas se saving grace was die groter Republikeinse aanslag op die regstelsel.
Word die man regtig vernietig deur die beweringe? Clarence Thomas is nou nog op die regbank om vroueregte saak vir saak terug te stoot. Brett Kavanaugh is huilend en kermend bevestig tot die hoogste hof in die VSA. Jacob Zuma is ingesweer as president en toegelaat om die land tot op die randjie van vernietiging te bring – en steeds word hy vereer. Hierdie week is een klag teen Harvey Weinstein teruggetrek, en dit lyk asof hy besig is om sy aansien te herwin. Cosby is tronk toe, but then again ... hy is swart, en hy is nie meer ’n aktiewe rolspeler in Hollywood nie. Die sisteem was van die begin af teen hom opgestel. Het hierdie saak gekom toe hy nog op die kruin van gewildheid as Dr Huxtable was, sou die uitslag aansienlik anders gewees het.
Dis hoe mag werk. Dis hoe patriargie werk. Dis hoe vroue keer op keer op keer onder die stootskraper van manlike chauvinisme, manlike wellus, manlike gevoelloosheid beland.
Nêrens was dit duideliker as onmiddellik na Ford se getuienis nie. Trump en sy trawante het die spot gedryf met haar pyn. Politici het gestem volgens partypolitieke opdragte asof hulle nie ’n woord gehoor het nie. Brené Brown het dit miskien die duidelikste gestel toe sy op Twitter die volgende gesê het: “It is no longer a matter of whether they believe her or not. They don’t care.”
Bitter selde kom verandering van binne.
Kavanaugh se aanstelling was ’n terugslag wat potensieel vir dekades skade aan vroueregte in VSA beteken. Vroue is moeg, moeg daarvoor om nie gehoor te word nie. Moeg daarvoor dat politici nie omgee nie. Moeg.
Maar daar is ’n teenkant, ’n verposing.
Die skermutseling is dalk verloor, maar vroue maak hulle nou reg vir grootskaalse oorlog. Oorlog in die politieke arena. Oorlog in die vermaaklikheidsbedryf. Oorlog in die besigheidswêreld.
Dis nie meer lank nie, of daar gaan ook oorlog in die slaapkamer kom. ’n Koue oorlog.
Dis nie sonder presedent nie. Seksstakings het positiewe resultate in Liberië gebring, met soortgelyke vredestakings in Nigerië, die Ivoorkus, Kenia, Colombia, Italië, Suid-Soedan, Togo en die Filippyne.
Dit het tyd geword dat Westerse vroue hulle mag terugneem. Hierdie slag is daar te veel op die spel om goedsmoeds tou op te gooi. The handmaid’s tale is nie meer net ’n distopiese verhaal nie. Dis ’n waarskuwing, ’n blik op ’n potensiële toekoms, een wat vroue nie kan bekostig nie. Nie nou nie, nie ooit nie.
Nolite te bastardes carborundorum.
The post Kavanaugh, vroueregte en die toekoms van protes appeared first on LitNet.