Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse: Stories or woorde, mense en aanhou beweeg en geraas maak
Herman Lategan
Penguin Random House
ISBN: 9781776091607
Tel hierdie boek op en kry koers na ’n woordkoninkryk.
Die eerste indruk van hierdie bundel essays was: “O asseblief, tog nie so ’n buiteblad nie!” Ek wou amper die woord “kitsch” gebruik. Toe stap ek by ’n winkelvenster verby en winkend, wel, tartend, lok die buiteblad bo al die ander heelwat stemmiger buiteblaaie nadere ondersoek. Is die blonde vrou op die blad ’n aktrise? ’n Lorelei? ’n Gesellin – of dalk ’n hoer? Met Herman Lategan se kenmerkende bril?
Maak die boek oop en nou ja, daar val Alice behoorlik die wonderwêreldgat in. Om Lategan se “prosa” te takseer is soos om ’n woer-woer te probeer stop. Satire, hartroerendheid, hartstog, spot, ironie en medemenslikheid dryf die leser van bladsy tot bladsy. Gaandeweg kom besinning. Lees stukkie vir stukkie, slukkie vir slukkie. Proe-proe.
Lategan se besigheid met die lewe is woorde. Hy flankeer, toets, daag en leef in en met woorde. Sy rubriek “Woorde wat wip” in Rapport het tot groot hoogte hierdie versameling byeengebring. Sy modus operandi is om ’n woord ewe ordentlik uit die WAT, of etimologieë, of selfs duistere woordeboeke, aan te haal – en dan te laat waai met assosiasies, verdraaiing, ekstrapolering of soms die doodgewone betekenis.
So lanterfanter die leser deur die towerwoud wat Lategan vol strikke, vol pret en dikwels met deernis skilder. Hy is die essensiële straatflaneur. Soms is hy voyeur, loer deur ’n venster van ’n woonstel in Seepunt. ’n Natgereënde weggooimatras laat hom die geskiedenis van die matras bedink. Hy laat die sieligheid van ou Jode in Seepunt leef; hy sien straatvroue, mislukte musikante en raak innig bevriend met ’n ou, ou Italiaanse toonnaelklipper.
Onder “memento mori” word in afgryslike besonderhede vertel van die oopsny en toewerk van ’n dooie liggaam. Die volgende oomblik vlieg jy met ’n “moffiepropeller” deur ’n taal genaamd gayle. Skaamteloos proprieer gays vrouename in hul geheime taal met mekaar. Wag maar tot die regte Fatimas in hierdie wêreld opstaan teen die gayle vir ’n vet man. En hoe lank gaan polisiemanne dit duld om Priscillas genoem te word? Ek laat dit aan die leser oor om te lees wie of wat ’n Ramona Rottencrotch is. (Ek sal die gays nie aankla van gendermisbruik nie.)
Wat is ’n hondekrap? Dis ’n dans, om hemelsnaam. Lategan ontleen die woord aan die kultuurhistorikus Matilda Burden se optekening van die volksdans (die WAT beskryf dit as ’n dans waar die bewegings van die voete laat dink aan dié van ’n hond wat met sy agterpote die grond agteruitskop).
In Namakwaland, skinder Lategan voort, het die mense ook gepraat van ’n hallelujagesig met jazz-voete.
Lees “skaamhare” om behoorlik lekker geskok te word, en dan intens innig die elegiese “seewier”-essay te lees en dit dan nooit te vergeet nie.
Uiteindelik wil die leser self bestek neem. Watter waarde het hierdie ryk, innemende leesstof? Satirici het immers agendas. Humoriste ook. Lesers van hierdie genres sal natuurlik dadelik aan Rabelais, Jonathan Swift of selfs Spike Milligan, en humoriste soos ons eie Trevor Noah dink. Agter die werklikheid is daar ’n ander werklikheid. Dan kom die vraag: Watter ewigheidswaarde (ekskuus vir die groot woord) het hierdie soort skrywe? Sekerlik dié van die “little history”.
Dis presies waar Lategan se essays (rubrieke of stukke of stukkies) tuishoort. Die toevallige in die groter, dalk wreder, tydsgewrig.
Dis ’n onverwagte bonus by die lekkerlees van hierdie boek met sy bedrieglike buiteblad.
Video: Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse word bekendgestel
The post <em>Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse</em> deur Herman Lategan: ’n resensie appeared first on LitNet.