Mense hanteer hul pyn op verskillende maniere. Sommige mense loop te koop daarmee op die sosiale media. Ander voer 'n daaglikse stryd met kanker en 'n ruimte soos Facebook is dalk 'n plek waar hul hul pyn kan verwerk. Hul lewensreis is ligter as hulle dit op Facebook deel, vertel kankerstryders, soos wat Carla van der Spuy in hierdie bydrae skryf.
Lees ook hierdie artikel deur Amanda du Preez wat in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn het – waar die kultuur van selfuitbeelding op Facebook bespreek word, asook die estetika van verskyning of van verdwyning.
***
My broer se kanker
Kort nadat my jonger broer met melanoomkanker gediagnoseer is en die helfte van sy longe in ’n operasie verwyder is om verspreiding te probeer voorkom, het sy kinders ’n foto op Facebook geplaas. Hy het nog blakend gesond in sy hospitaalbed gelyk – met ’n skitterwit glimlag, die vuis van ’n oorwinnaar in die lug.
Ek het die foto op my eie Facebook-blad gedeel en ’n magdom likes gekry. Hoewel hy terminaal siek was, en ’n jaar later oorlede is, het hy ’n paar maande ná die groot operasie vyf dae lank langs die Transkeise kus gaan stap.
Dit het behoorlik gegons op Facebook oor sy bruisende lewenslus en die feit dat hy, ondanks die swaard wat bo sy kop gehang het, steeds die dinge gedoen het wat hom gelukkig maak. Dit was asof hy deur sy avonture wou sê: “Ek is steeds hier. Wie gaan my probeer keer?”
Hy is ’n inspirasie vir ander kankerstryders, het Facebook-vriende met onverbloemde bewondering gereageer.
Ek weet hoewel hy ’n uiters privaat mens was, het sulke boodskappe sy gemoed ’n hupstoot gegee.
Almal praat uit
Ons leef in ’n era waar almal deesdae uitpraat. Op TV-programme, in die gedrukte media en op sosiale media. Glansmense doen dit, presidentsvroue doen dit en gewone sterflinge doen dit. Openhartigheid is die wagwoord. Stoom afblaas is die norm.
Tog, wanneer speel ons oop kaarte en wanneer grens hierdie onthullings aan emosionele ekshibisionisme? Is dit gesond om in hierdie elektroniese era met wildvreemdes te overshare?
Te veel?
Deel ons dalk te veel?
Glad nie, meen talle kankerstryders en mense wat ander traumatiese ervarings die kuberruim instuur.
Een Facebook-vriend wat sy hele kankerreis op Facebook gedeel het, selfs foto’s geplaas het waar hy tot die dood toe siek en uitgeteer was, het aan my vertel dat hy buite Facebook “niks” is nie. Daar is honderde Facebook-vriende, hoofsaaklik vroue, met wie hy nuus oor al sy liefdesteleurstellings, chemobehandeling en swaarkry deel. Dis hier waar hy baie aandag en empatie ontvang, erken hy ruiterlik.
Ondersteuning
Ander deel weer hul menings ten opsigte van behandelingsmetodes, of om meer inligting te bekom. Een voorbeeld hiervan is die Facebook-steungroep “Engele huil mos nie”, wat deur Lynette van der Linde bedryf word. Kankerstryders en hul familielede vind baie baat hierby, vertel sy.
Mense met kanker ontvang ook emosionele ondersteuning via die sosiale media, veral tydens die behandelingsproses, terwyl sommiges weer inligting deel met die hoop om ander by te staan en te help wat ook met kanker gediagnoseer word.
Henk Swanepoel, ’n kliniese sielkundige van Pretoria, sê daar is verskeie redes waarom mense hul kankerdiagnose op sosiale media plaas. Een van die redes is dat dit as ’n vorm van katarsis in reaksie op die skok dien; met ander woorde, dit is ’n poging om die emosionele impak te hanteer en te integreer, sê hy.
Henk sê ’n onlangse studie in Amerika toon dat 94% van mense wat met kanker gediagnoseer is, hul diagnose op sosiale media plaas in ’n poging om ander te help.
Madelein Rust
Madelein Rust, skrywer van Die dertiende kaart en Monstersaad, deel gereeld inligting oor haar stryd met borskanker op haar blog vir die tydskrif rooi rose en op haar Facebook-blad.
Sy vertel: “Ek kry ongelooflik baie steun op sosiale media. Dit is vir my ’n openbaring tot hoe ’n mate mense met kankerstryders simpatiseer. Ek dink vir baie mense is ’n kankerdiagnose nog sinoniem met 'n doodsvonnis – wat natuurlik glad nie die geval is nie. Dit was ook vir my verbasend hoe oorweldigend positief mense reageer as hulle sien jy bly positief en jy pak die stryd kaalvuis aan.
“Ek vermoed daar is miljoene kankerstryders daar buite wat dieselfde doen as ek – baklei. Ek kry net meer blootstelling omdat ek ’n skrywer is en ek hoop net dat dit by diegene wat nie positief is nie, tot ’n meer positiewe ingesteldheid sal lei. ’n Positiewe ingesteldheid dra by tot spoedige herstel.”
Talle mense swyg nog
Madelein sê talle pasiënte swyg oor die feit dat hulle kanker het.
“Dis so verskriklik eienaardig. Iemand met hartprobleme gee glad nie om om daaroor te praat nie. Ook nie iemand met diabetes nie. Wanneer mense uitvind ek het kanker, vra hulle gewoonlik eers toestemming om met my daaroor te praat – al is hulle jare lange vriende.
“Ek skat dit gaan oor jou persoonlike siening van die siekte. Sommige mense is dalk net meer privaat as ander. Vir my is kanker bloot selle wat abnormaal groei en daar is sekere dinge wat mens kan doen om dit te keer. Ek ondervind dat mense wat familie of vriende het wat kanker het, of gehad het, graag daaroor praat; soms in pynlike besonderhede. Pynlik, want as kankerstryder wil jy nie noodwendig hoor van iemand wat ’n lang en uitgerekte dood aan die siekte gesterf het nie.”
Om te skryf is terapeuties
Madelein is ook daarvan oortuig dat die skrywery oor haar reis met kanker wel ’n soort “joernaalterapie” is.
“Dis egter nie my hoofdoel nie. Ook nie soseer bewusmaking nie, besef ek nou. Ek praat graag met mense wat nodig het om gemotiveer te word; om, watter stryd hulle ook al stry, dit ken-in-die-lug en vuiste gebal aan te pak.
“Alles wat met mens gebeur, ongeag hoe tragies, kan in ’n oorwinning omskep word. Dis seker maar die hardegat Duitse en Ierse bloed in my are wat my so laat voel. Ek kry egter heelwat boodskappe van vroue wat sê dat hulle nou wakker geskrik het en dat gereelde mammogramme voortaan deel van hulle lewens gaan wees. Bewusmaking is beslis ’n direkte uitvloeisel. En as een ma, vrou, kind, of suster gered kan word deur die spoedige opsporing van die siekte, as gevolg van dit wat ek skryf, sal ek weer deur dit alles gaan.”
Humor
Van humor is al dikwels gesê dat dit een van die dapperste maniere is om trauma of pyn te hanteer. Madelein stem saam dat dit beslis die beste hanteringsmeganisme is.
“Net soos wat mens die positiewe in enige situasie kan raaksien, kom die absurde ook in enige situasie voor – afhangende van hoe jy daarna kyk. Ons Afrikanervolk is baie goed daarmee om die absurde of die humoristiese in situasies te sien. Ander nasies benader dinge met groot erns, maar kyk maar net wat gebeur by ons as slegte wêreldgebeure iewers groot nuus is. Binne ure begin die eerste SMS-grappies opdaag waarin humor uit die situasie humor getoor word. Jitte, ons is darem maar ’n oulike nasie. Dis geen wonder ons kon die Drakensberge kaalvoet oorsteek nie!”
Tien redes om met chemo beïndruk te wees
Een van Madelein se Facebook-inskrywings lui:
Tien redes om met chemo beïndruk te wees:
- Beenhare is iets van die verlede – tyd in die stort word met die helfte verminder.
- Onderarmhare is iets van die verlede – verdere tydbesparing.
- Skoonheidsalonbesoeke behoort tot die verlede – geen hare op my gesig om te verwyder nie.
- Ek hoef nie meer my wit wenkbroue in te kleur nie.
- Vals wimpers is donkerder, weliger en langer as my ou wittetjies.
- My dansinstrukteur gee my af na chemo, sonder om my 'n vuil kyk te gee.
- ’n Mens ontmoet die oulikste mense tydens chemo.
- ’n Mens kan chemo-geïnduseerde, kognitiewe disfunksie as verskoning misbruik as jy onnosel goed aanvang.
- Ek kan in die middel van ’n werksdag drie ure saam met Jaun [haar man] weens chemo deurbring.
- Chemo is ’n yster as dit kom by kankerselle vermoor.
Hierdie inskrywing het oorweldigende positiewe reaksie uitgelok.
Hoe dit ander raak
Daar word ook aanhalings op Facebook gedeel oor hoe kanker die geliefdes van kankerstryders raak.
Hieroor skryf Madelein: “Ek dink vir die gesinslede is dit amper erger omdat hulle so magteloos is om dit beter te maak. Vir die een wat kanker het, is dit gewoonlik baie moeilik om die gesinslede te oortuig dat ondersteuning en positiwiteit meer werd is as enigiets wat geld kan koop. Dit is vir my genoeg. Ook die bar grappies wat my vriende vir my stuur, natuurlik, soos ’n smile emoticon, veral tydens 'n chemosessie.”
’n Pruikpartytjie
Toe Madelein se lang, blonde hare weens die chemo uitgeval het, het sy dit met ’n pruikpartytjie gevier.
Sy vertel: “My vriendin, Kay Leslie, was een dag by 'n vlooimark en toe kom sy op ’n stalletjie af wat kostuumpruike verkoop. Sy het my gebel en vertel van die wilde pruike; daar het die gedagte ontstaan. Ek was van die begin af van plan om al my hare af te skeer sodra die eerste klosse begin uitval en toe neem ek dit ’n stappie verder. Terwyl sy vir my telefonies verduidelik het hoe die pruike lyk, het ek van die pruike gekies en sy het dit gekoop. My hare het op ’n Maandag begin uitval en ek het toe die pruikpartytjie vir die Dinsdagaand gereël. Ek het die Maandag en die Dinsdag met ’n kopdoek om my kop geloop omdat ek bang was daar is nie ’n haar oor om af te skeer teen Dinsdagaand nie.
“Die afskeerdery was vir my simbolies van die beheer wat ek verseg om prys te gee. Sjoe, dit was lekker. Ons het eers saam aandete geëet en toe is ons na die hoofslaapkamer toe waar ons ’n glasie wyn gedrink het. Ons het lekker upbeat musiek gespeel en grappies gemaak.
“Ek het eers die lang hare afgesny en toe het Jaun die knipper ingelê. Hy het eers vir my ’n mohawk geknip. Toe alles afgeskeer behalwe so ’n simpel kuifie. Vet pret. Daarna het ek hóm getakel. Nadat ek en Jaun kaalkop was, het ek en hy en Kay beurte gemaak om die verskillende pruike aan te pas terwyl ons foto’s geneem het. Ons het baie lekker gelag vir elke transformasie.”
De Wet Claassen
Terwyl humorterapie vir party kankerstryders werk, skroom ander weer nie om (by tye) hul swaarmoedigheid te deel nie.
Een inskrywing van De Wet Claassen, wat merendeels optimisties en positief is, waarin hy vertel dat hy agt maande gelede blind geword het as gevolg van kanker, lui:
Dit was ’n alleenweek. ’n Rebelsheid wat niks anders as oorlewingstegniek is nie.
“Jy het jou bestralingsessie gemis,” sê die dokter.
“Mmmm dis ’n feit ja.”
"Hoekom?" vra sy.
Ek lag van binne, ek kan soveel antwoorde gee. Die waarheid? “Ek wil dans,” sê ek!
Ek kan die verbasing in die stilte hoor. “Ja ek wil dans.”
Die Leviete word my voorgelees en puntsgewys word daar aan my verduidelik hoe belangrik dit is. “Ek weet en ek is jammer,” sê ek.
Maar ek het hierdie een gewen. Dus sal ek dans.
Later skryf hy: “Net vir nou wil ek nie meer veg nie. Net vir nou wil ek probeer onthou hoe alles was. Net vir nou ‘surrender’ ek.”
Hy plaas ook ’n doktersbrief wat verklaar: “He is legally blind.” Die reaksie is oorweldigend bemoedigend.
Dan skryf hy: “So staan ons elke dag met ons eie kruis. Myne nie erger of minder as joune nie. Elkeen met ons eie blindheid.”
Hy skryf ook oor sy besonderse verhouding met sy drywer, Watson, na wie hy soms verwys as “Driving Mr Daisy”.
Ondersteuning
Soos Madelein, ervaar ook De Wet baie ondersteuning op sosiale media. Vir hom lê die voordeel in die diversiteit van die mense: “Eerlike boodskappe word deurentyd vir my gestuur. Die sosiale media mag dalk ’n blikbrein wees, maar die media is deursigtig en emosies is eg. Emosionele ontlading vind plaas en ’n brug van verstaan en deernis word gebou. Dit wat ek op Facebook skryf, is ‘n oop joernaal en nie iewers in ’n laai weggesteek nie.”
Caroline Marobie
Ondersteuning via sosiale media is egter nie vir almal ’n opsie nie.
Caroline Marobie, administratiewe beampte by LAPA Uitgewers, sê sy plaas nie juis besonderhede oor haar borskankerstryd op Facebook nie, hoewel sy glad nie ’n probleem daarmee het as ander mense dit wel doen nie.
Sy het vier jaar gelede ’n mastektomie ondergaan. Sy het wel al foto’s geplaas waar sy saam met haar susterskind poseer; daarop was sy kaalkop nadat al haar hare weens chemoterapie uitgeval het.
“Ek kry baie ondersteuning, by die werk en elders. Almal wat my ken ondersteun my en ek steek dit vir niemand weg dat ek kanker gehad het nie.”
***
The post Kanker en sosiale media appeared first on LitNet.