Lees ook: |
---|
• Twee jaar ná die afsterwe van Nelson Mandela |
• Ricardo: die sanger, en die tyd waarin hy geleef het |
• In memoriam: Mark Behr |
Is ons amper daar?
Ons stop voor Ockert se huis in Westdene. Dis vroeg Vrydagoggend en ysig koud. Ek klim oor na die agterste sitplek en gooi myself toe onder die duvet terwyl Andries vir Ockert help om sy dromme en kampgoed in die Condor se boot te pak. Ek was gisteraand by die Boh en het nie juis veel geslaap nie. Ek het gedink ek sal vandag in die kar slaap. Ek was verkeerd.
Ockert lyk verbaas om my te sien – oftewel die stukkie van my wat bo die duvet uitsteek. Ek het eers op die laaste nippertjie besluit om saam STRAB toe te gaan – ‘n music festival in Ponta Malongane – en toe vir Andries gevra of ek saam met hulle kan ry. Terwyl Ockert my nou so half skeef aankyk, lyk dit vir my of hy nie bewus was van die reëling nie.
Ons laai vir Drikus in Brixton op. Drikus kyk my ook vreemd aan, maar sê niks nie. Ockert skuif agter langs my in terwyl Drikus sy ou bruin tas – nog half oop – sy kitaar, duvet, skoene, koppie, tannesakkie en ‘n klomp ander los goed agter in die Condor laai. Ek bied aan dat Ockert my duvet met my deel maar hy skud sy kop – dis net bo vriespunt, maar hy kry blykbaar nie koud nie.
Toe Drikus uiteindelik al sy goed in die kar het, klim hy voor langs Andries in. Andries stuur die kar uit Brixton uit in die rigting van die M2. Ek gryp ‘n kussing agter uit die boot en skuif myself reg vir daai beplande slapie. Ons is op pad!
Ons het besluit om nie die normale pad (via Witbank) te vat nie, maar om eerder deur Standerton te ry. As ek sê “ons”, bedoel ek Andries. Die ander twee – soos wat dit oor die volgende 10 ure duidelik sal word – stel min belang in die logistiek van die trip. Baie min.
Soos wat ek daar onder my duvet lê, lyk ek seker ook nie té geïnteresseerd nie, maar ek kan ook nie aan die slaap raak nie want my kop is skielik baie besig. Om een of ander rede het die trip begin om soos ‘n road trip movie in my kop af te speel. As ek ooit ‘n road trip movie maak, sal daar ‘n karakter in wees vir wie die hele trip soos ‘n road trip movie in haar kop afspeel.
Daar sal ook ‘n karakter soos Drikus wees.
Vir die eerste twee of drie ure van die rit hou Drikus nooit op praat nie. Hy adresseer vir Andries (of dis in elk geval wat ek en Ockert verkies om te glo) en dié reageer slegs met gesigsuitdrukkings en vae instemmende geluide.
Net voor Standerton raak Drikus uiteindelik vir ‘n rukkie stil. Hy sug skielik diep: “Is ons amper daar?”
Ons het omtrent nog so sewe ure om te gaan.
***
My bed is made in the gutter
Ons ry die buitewyke van Standerton binne. Ek weet dat Drikus in hierdie deel van ons trip geïnteresseerd gaan wees, so ek hou hom vanuit my duvet dop. Dit is nog steeds koud. Drikus skud sy kop heen en weer. Hy lyk sad: “So dis dan Bacchie se hometown?” Toe niemand antwoord nie draai hy na ‘n rukkie om en kyk vir my. Ek knik.
Ek hou nogal van die Hoëveld, maar vandag moet ek toegee lyk dit besonder bleak in hierdie deel van die land. Alles is dood. Die lug is vol rook; die gras langs die pad is nog swart gebrand en daar staan ‘n klomp lelike facebrick-huisies so ’n paar meter van die pad af. Ek was al voorheen in Standerton en dis nie hoe ek dit onthou nie.
Drikus is besig om te praat oor arme Bacchus en hierdie godverlate plek wat sy hometown is. Ek probeer vir hom verduidelik dat ons van die verkeerde kant af in die dorp inry. Dat hierdie die buitewyke van die dorp is en dat Stephen heel waarskynlik nie in hierdie rokerige township – waarna Drikus besig is om te staar – grootgeword het nie. Maar Drikus het reeds sy mind opgemaak oor die plek en hy hou aan om met ‘n treurige uitdrukking op sy gesig deur die venster te staar.
Ons begin almal honger raak, maar omdat ons nie met die hoofpad deur die dorp ry nie is daar nie ‘n kans dat ons ‘n plek langs die pad gaan vind waar ons kan stop vir ontbyt nie. Daar is ook nie ‘n kans dat Andries gaan afdraai om ‘n plek te gaan soek nie.
Ek weet, want ek het gevra.
So dis eers in Volksrust wat ons uiteindelik stop vir ‘n Wimpy-ontbyt. Andries vra sommer vir die rekening saam met die bestelling. Ons doen ‘n eat-and-run.
Nadat ons vir aanwysings gevra het, vind Andries die pad Piet Retief toe en laat ons Volksrust saam met Greylingstad, Balfour, Heidelberg en Johannesburg agter ons.
Andries geniet die road trip. Andries geniet altyd ‘n road trip. Dis stil in die kar. (Drikus het na Standerton darem vir ‘n rukkie ophou praat.) Andries is besig om die landskap te waardeer en te dink oor die oorloë wat hier afgespeel het. Ockert, sou ek sê, het random gedagtes oor die landskap, vroue, Drikus, Andries, die toekoms van die band, oorloë wat hier afgespeel het, emigrasie na Kanada en lewe en dood in die algemeen.
Nadat ons vir ‘n rukkie in stilte gery het vra ek vir Andries of ons Mick Flannery kan luister – ek het die CD vir Andries gegee voor ons vanoggend uit Observatory weg is, en hy het dit in die CD shuttle gesit.
Tot my verbasing stem hy in. Wel, ek dink hy stem in, want hy begin met die radio peuter. Na ’n rukkie begin die eerste liedjie speel:
I told you before about that creak in the door,
What time do you call this?
The dog's bowl is empty and the scuttle needs coal,
so be done before your father gets in.
Where the hell is your brother?
Is he playing cards again?
Don't he love his mother?
Why can't he find some friends?
Ons ry vir ‘n baie lang ruk in stilte terwyl ons die landskap rondom ons sien verbygaan en random gedagtes deur ons koppe maal. Ek wonder waaraan die ander dink. Ek wonder waaraan ek dink.
I am such a dreamer
I am such a fool for
sending my affection
in all the wrong directions,
but why would I be bothered
why would I be bothered
when I've got a dollar
when I've got a dollar
Ek glimlag toe ek dit hoor en raak verlore in my eie gedagtes – wat iewers ook by Oppikoppi in die reën ‘n draai maak – en ek keer eers weer na die werklikheid toe terug toe die tweede laaste track begin speel.
If I go down to the tavern baby I won’t come back
If I go down to the tavern baby I won’t come back
Trying to do better
Trying to get myself together
Take my hand, you got to put me back on track
My bed is made in the gutter but I won't lie down,
My bed is made in the gutter but I won’t lie down …
Ons almal begin gelyktydig lag.
Toe ons klaar gelag het sit Andries die radio af.
Ons ry weer in stilte verder.
Na ‘n rukkie kondig Drikus aan (nie vir die eerste keer vandag nie, en ook nie vir die laaste keer nie) dat hy nooit weer gaan verlief raak nie.
Niemand vra hom hoekom nie.
Andries, omdat hy waarskynlik regtig nie omgee nie.
Ockert, omdat hy nie nie luister nie (hy is waarskynlik besig om te dink oor die meisie wat hy gisteraand in ‘n bar ontmoet het – hy het ons vroeër daarvan vertel).
En ek, wel, seker omdat ek dink die antwoord is voor die hand liggend.
Ons stop in Piet Retief vir diesel en toe ons weer wegtrek begin Drikus sing (op die maat van sy toaster shopping centre song):
“En nou weet ek presies … hoe Piet Retief gelyk het …”
***
Die sonbril
So entjie buite Piet Retief draai Ockert skielik na Andries toe: “Wat is die beste ding wat jy al ooit gekoop het?”
Ek antwoord namens Andries: “Die Condor”
Ockert gee my ‘n “bly stil ek praat nie met jou nie”-kyk.
Andries antwoord: “Die Condor.”
Ockert is weer vir ‘n ruk stil. Dan vra hy vir Drikus dieselfde vraag.
Ek antwoord weer (hey, ek is ‘n bietjie verveeld): “Daai sonbril.”
(Hy het dit nou net in Piet Retief vir R15 gekoop. Ek het saam met hom gestap, so ek weet hy dink dis die beste kopie ooit.)
Ek kry weer “die kyk” van Ockert.
Drikus se: “My fok ja – die sonbril – kan jy glo, net R15 by die Chinese shop in Piet …”
Terwyl Drikus aanhou oor die sonbril praat, begin Andries in die agtergrond sing: "My sonbril is deur vroueslawe in die verre ooste gemaak … dis nie my skuld nie."
So … Nou kyk Drikus en Ockert na my. Wat is my beste kopie ooit?
Ek sê ek weet nie regtig nie. Ek het nog nooit eintlik daaroor gedink nie. En in elk geval, dit is ‘n baie wye vraag. “Praat ons hier van ‘n winskopie – die beste prys vir ‘n random artikel? Of gaan dit oor die bruikbaarheid, emosionele waarde, nuttigheid of kwaliteit? Of praat ons van iets wat jou lewe verander het – ‘n life changing tipe kopie?”
Ek dink nie Ockert het die vraag goed deurdink nie. Hy lyk ‘n bietjie onseker.
"Die huis in Muckleneuk" se Andries.
(Snaaks genoeg kry hý nie die kyk van Ockert af omdat hy my vraag geantwoord het nie.)
Dis eintlik die enigste ding wat in my gedagtes opgekom het, so ek sê maar: “Die huis in Muckleneuk; ja … dit was ‘n goeie kopie”.
Almal raak weer stil.
Ek dink aan die huis in Muckleneuk wat intussen reeds weer verkoop is.
Andries hoop dat niemand gaan sê “maar geld kan nie geluk koop nie” (Die pad is besig om lank te raak, almal is bietjie bored; dit mag dalk opduik.)
Ockert wag vir iemand om hom te vra oor sy beste kopie.
Na ‘n rukkie se stilte sê hy so.
Drikus draai om in sy stoel. Ek en Drikus kyk albei vir Ockert – nie een van ons lyk uitermate geïnteresseerd nie.
“Vroue.” Hy knik sy kop terwyl hy dit sê. “Beslis die geld wat ek op vroue spandeer het.”
Hy glimlag. Hy is baie tevrede met sy antwoord.
Ons sug en Drikus draai weer reg in sy stoel.
Andries vat skielik drie vragmotors op een slag verby en ons verongeluk amper in ‘n kop-aan-kop-botsing met ‘n Mercedes.
Almal sug weer.
Ek dink oor die movie The Breakfast Club.
Ockert dink oor vroue, baie teleurgesteld dat ons nie verder uitgevra het nie.
Drikus skuif rusteloos in sy stoel rond. Hy wil stop vir ‘n smoke break, maar hy wil ook hê die trip moet so vinnig as moontlik tot ‘n einde kom. Hy dink oor sy “toaster shopping centre” song. Hy is so moeg om dit te sing.
Hy sê dit hardop.
Andries sê mense hou regtig van die song.
Andries is reg. Ek hou regtig van die song.
Ek sê dit nie.
In die road trip movie sal ek graag die karakters se gedagtes wou uitbeeld, maar ek is nie seker hoe ek dit gaan regkry nie. Hoe wys ‘n mens die random gedagtes wat deur mense se koppe gaan in ‘n kar op die oop pad? Is dit hoegenaamd moontlik om dit vas te vang?
Ek probeer.
Ek kry dit nie reg nie.
Ek dink te veel goed gelyk. ‘n Klomp los gedagtes wat saamgeweef word in ‘n soort breipatroon van … wel, van niks rêrig nie. Die gedagtes is so vlietend en hou so min verband met mekaar dat ek dit net sowel nie kon gedink het nie:
Berge wonder of Andries die oeps daai kar lyk vrees kry werk eras dink oor iets wat miskien daai boek wonder waar Stephen die kinders smile … miskien moet …
"Ek gaan nooit weer verlief raak nie" (Drikus).
Uh? Nooit gedink moontlik goeie idee die suikerriet stuur vir hom die ding? Kelso groen boomhuis wat het ek gedink vreemde naweek weird block out … het die maize gemis FLG543GP wat was dit nou weer FLF? Kan nie onthou nie. ag man daai cd... Simon en die nommers 112 22 interessant shani was daar! Alabama 3 … okay, fokus. Ek sal sing … mmmh ... “If I ever come back to the 20th century" … ag shit, "open the book of my vanishing memory with its catalogue of regrets" paul simon. Ek weet nie maar die blou deel dors …
***
“Cheers”
Ons stop voor ‘n besige drankwinkel in Jozini om bier te koop. Ockert staar gespanne by die venster uit. Hy weier om uit te klim. Hy mompel iets van doodgemaak word. So ek en Drikus gaan in. Ons kry ‘n paar biere.
En ‘n bottel brandy.
En ‘n 2 liter Coke.
“Ai,” dink ek.
"Ai," se Andries toe ons terugklim in die kar.
Ons trek weer weg. Andries en ek besluit om van hier af een van die alternatiewe roetes te vat om die potholes te vermy waaroor Gerhard (die vierde lid van die Brixton Moord en Roof Orkes, wat ‘n dag vroeër al afgery het) hom gewaarsku het. Ockert en Drikus toon geen belangstelling in die gesprek nie. Hulle staar net stip voor hulle uit.
Ek navigeer van agter af. Ek wonder skielik of Ockert en Drikus enigsins ‘n idee het waar ons is. Na ‘n kort gesprek vind ek uit hulle het nie.
Ek, Ockert en Drikus maak vir ons elkeen ‘n bier oop. Ons vind die regte pad en Andries ontspan weer so bietjie.
“Cheers.” Ockert glimlag vir my.
“Cheers.” Ek glimlag terug.
Ockert begin om deur sy boodskappe op sy selfoon te kyk. Hy vra my of my nommer 0845834334 is. Ek sê dit is. Hy glimlag weer. Ek glimlag ook. ‘n Klomp goed maak skielik weer vir my sin. Miskien vir hom ook, maar dalk glimlag hy maar net.
My gedagtes gaan terug na daai dag toe ek Ockert se nommer op my selfoon gesave het. Dit was ‘n Sondagmiddag in Januarie. Ek wou sy nommer vir Wouda stuur, maar het toe per ongeluk Wouda se nommer vir hom gestuur. Dit het so bietjie verwarring veroorsaak. Ockert en Wouda verjaar op dieselfde dag. Dit was daai dag hulle verjaarsdag.
Ek gaan in my kop deur al die goed wat ek kan onthou oor Ockert en selfone. Daar is nie veel nie, maar ek geniet dit. Dis soos om die laaste paar stukkies van ‘n legkaart in mekaar te pas al weet jy reeds waar elkeen moet kom om die prentjie te voltooi.
Drikus is weer in high spirits, so hy begin weer gesels. Maar minder koherent as vantevore.
Ek besef skielik dat ek vir Drikus nodig het om die road trip movie te maak.
Hy is ‘n meester as dit kom by random gedagtes verbaliseer!
En so ry ons voort.
Drikus saai die random gedagtes wat deur sy kop gaan, uit.
Ek en Ockert drink stil-stil ons bier en lyk happy.
Andries wonder hoe ons vir Drikus gaan keer om die bottel brandy oop te maak as sy bier klaar is. Dis omtrent 14:00 en die band moet 18:00 vanaand speel.
Ek het ook gewonder hoe ons vir Drikus gaan keer om die bottel brandy oop te maak as sy bier klaar is, so ek het die bottel agter tussen die hoop bagasie weggesteek toe ons in die kar teruggeklim het. Maar dit weet Andries nie.
Drikus vra waar die brandy is.
Andries sug.
Ek maak ‘n vae gebaar agtertoe.
Drikus hou aan om sy gedagtes uit te saai.
Ek besef hy het nie regtig gevra vir die brandy nie hy het net daaroor gedink.
Ek begin met meer belangstelling na hom luister. Ek is verstom.
Ek wens ek kon dit opneem … moes dit neergeskryf het – vir die movie … nou te laat … shit! Ag wat … sal hom seker kan kry om dit weer te doen. Jip, behoort nie te moeilik te wees nie. Nee wat – glad nie te moeilik nie.
Ons ry nou op ‘n grondpad deur die pragtige rural KwaZulu-Natal. Drikus gaan aan oor die houtpale wat elke paar honderd meter in die bosse langs die pad geplant is. Ek het dit nie opgemerk nie, maar dit lyk vir my heeltemal onskadelik.
Drikus: "… evil ploy … mense van Gauteng …. Blah … wat voorgee … afstand …"
Ek verstaan nie die argument nie.
Ek probeer nie regtig nie.
Toe ons die teerpad slaan wat grens toe loop, begin Ockert lus raak vir gesels. Hy begin deur te kla oor die netjiese sypaadjies langs die pad: “Hoekom hou die sypaadjie elke paar honderd meter op en dan begin dit weer? Hoekom mors hulle so geld?”
Ek herinner hom daaraan dat toe ons vanoggend uit Gauteng uit gery het, hy gekla het omdat die paaie nie onderhou word nie. Nou kla hy omdat hulle wel die paaie onderhou.
Op daai oomblik is daar skielik baie mense wat langs die pad stap en hulle kan nie almal op die sypaadjie pas nie, so hier en daar stap iemand in die pad langs die sypaadjie.
Ockert: “Hoekom loop hulle nie op die sypaadjie nie?”
Die sypaadjie eindig – weer – en ek sien hoe hy sy kop geïrriteerd heen en weer skud.
Ockert is in ‘n goeie bui.
Ek sê vir hom ek dink dat hulle net die sypaadjies bou waar die grond te steil afloop langs die pad sodat mense nie daar kan loop nie. Dat hulle dit waarskynlik so doen om geld te spaar.
Hy maak nog ‘n bier oop.
Ek maak nog ‘n bier oop.
Drikus kyk rond vir die brandy.
Andries sug.
***
Hoe voel dit …
Drikus soek sy brandy. Hy sê dit nie maar hy skuif rond in sy stoel, kyk agtertoe, voel onder die sitplek, tel baadjies en bokse en hoede op. Drikus is rusteloos.
Ockert is ook onrustig. Maar vir ‘n ander rede.
“Ek moet pee” (Ockert).
“Ek ook” (Ek).
"Ons is nie meer ver van die grens af nie" (Andries).
Na ‘n rukkie tel Ockert die STRAB-gids op, wat Andries onthou het om saam te bring en begin voorlees:
"Toilets. The toilets on the South African side of the border are not well maintained and should rather be avoided. The toilets on the Mozambican side are clean and picturesque."
"Picturesque?" – ons almal kyk na Ockert.
Ockert glimlag – hy het dit opgemaak.
Ons lag.
‘n Paar minute later: “Ek moet regtig pee" (Ockert).
Ek probeer uitfigure waar ons op die kaart is.
Drikus het vir ‘n rukkie ophou soek na die brandy en is besig om stip na Andries te staar – beskuldigend.
Ockert: "Andries, kan jy asseblief net gou iewers stop”.
Andries kyk uit vir ‘n plek om te stop. Ockert se hy moet net na die groot boom daar voor stop. Ons trek net na die boom van die pad af. Ockert bly sit. Ons kyk almal verbaas na die klein spaza shop en groepe mense wat onverwags agter die boom verskyn het. Hy skud stadig sy kop. Andries trek weer weg.
Ek kan sien aan die manier wat Andries ry dat hy weer reguit vir die grens mik. Dit raak laat en hy wil nog so bietjie tyd hê om te ontspan na die lang bestuur voor hulle moet speel.
Maar Ockert skuif steeds ongemaklik rond. "Ek moet regtig pee," sê hy weer, dié keer half meer vir homself as vir Andries. Toe draai hy na my toe: “So hoe voel dit vir ‘n vrou om te knyp – is dit dieselfde as vir ‘n man?”
Ek weet eerlik nie of dit dieselfde is nie. Ek sê maar ek dink so, ja.
“Maar voel dit of jy jou vinger oor die punt van ‘n tuinslang hou?” (Ockert). Ek sien hy skuif reg vir ‘n lekker gesprek.
Ek sê dit voel nie so nie, nee.
“Maar hoe voel …” (Ockert).
Andries steun. Hy trek van die pad af.
Ockert klim uit. Drikus klim ook uit. Toe Drikus terugklim in die kar vra hy vir die brandy.
Andries sug.
Ons weet ons het dit so lank uitgestel as wat ons kon. Ek hang halflyf oor die agtersitplek en begin rondkrap tussen die bagasie, wat nou nog meer van ‘n gemors is as voorheen. Ek keer terug na my sitplek met die bottel in my hand.
Drikus stem in dat ek vir hom kan skink ("net ‘n kleintjie”), en dat ek die bottel by my kan hou. Ockert help my.
Drikus sip sy brandy en coke.
Ockert is lus vir geselsies maak. Hy het net lekker in die vorige een ingekom toe
Andries gestop het.
“Jy weet, ek kry nooit meer daai tingling gevoel in my balls nie. Ek het dit altyd gekry as mens deur ‘n dip ry of…”
Ek luister nie regtig na hom nie. Ek besef dat hy waarskynlik nie met my praat nie – nie dié keer nie.
"Ja ou Ockert, dis maar die ouderdom" (Andries).
Nou is Ockert die een wat sug: “Jip. ons moet seker begin dink aan prostaat check-ups en sulke goed.”
Drikus sug ook, maar sê niks.
“Jy weet hulle kan deesdae baie goed met bloedtoetse optel” (Andries).
"Rêrig?" (Ockert – verlig).
Drikus is skielik terug met een of ander opmerking oor die tingling feeling storie. En iets oor morning glories wat net nie meer dieselfde is nie.
"Nie dieselfde nie!?" (Ockert). "Ek kry dit nie eers meer nie. Geen morning glories nie. Niks. Kan nie eens onthou wanneer …".
Ek is nie seker waarheen die storie gegaan het nie, my gedagtes was besig om af te dwaal na ‘n jonger vriend van my. Ek het hom die ander dag hoor kla dat hy nie meer wet dreams kry nie. Hy sê dat voor hy ‘n girlfriend gehad het, het dit gereeld gebeur, maar nou nie meer nie. En hy weet dis sy eie skuld. Hy se elke keer as daar ‘n vrou in sy drome instap dan sê hy vir haar hy het ‘n girlfriend en dan loop sy weer.
Ek glimlag.
Ockert gee my ‘n baie vreemde kyk.
Ek glimlag weer terwyl ek wonder waaroor Ockert gepraat het net voor ek skielik geglimlag het.
Hy skud sy kop afkeurend.
Ek laat dit gaan.
Ons is amper by die grens. Andries begin vrae vra oor die waar en wat en geld en papiere. Ockert krap die STRAB-gids iewers uit en begin voorlees. Ernstig, gefokus:
“South African Side
Vehicles: Police will take your car details.
Have your licence papers ready.
Passports: Go to immigration, get someone in the queue as soon as you arrive at the border.
Customs: Please declare guitars and other band equipment.
Safe parking: There is safe parking available.
Mozambican side,” ensovoorts.
Hy lees dit twee keer deur. Hy wil seker maak almal weet wat om te doen. Asof dit ‘n saak van lewe en dood is. Ek begin soek vir my pen. Drikus is besig om R12 uit sy wallet te haal. Ockert staar na die STRAB-gids. Andries maak die paneelkassie oop en haal die lisensiepapiere uit. Ek moet dringend by ‘n toilet uitkom.
En daar is die grens uiteindelik voor ons. Dis 3.30.
Ek druk my paspoort in Ockert se hand en hardloop toilet toe.
Ockert vat die paspoorte om gestempel te word.
Andries stap met die karpapiere oor na die polisieman onder die afdak langs die pad.
Drikus vat skelmpies ‘n paar slukkies brandy.
Hulle stap om hulle instrumente te gaan verklaar.
Ek vat skelmpies ‘n paar slukkies brandy.
Ons is gereed om die grens oor te steek.
***
The show must go on
Nadat al die vorms ingevul en fooie betaal is, help ek vir Andries om die wiele af te blaas en ons is reg om die sandpad te vat.
Die verkeerde een.
Die Condor is nie ‘n 4x4 nie en het ook nie ‘n diff lock nie. As ons in die sand gaan vasval gaan ons nie kan uitkom sonder die hulp van ‘n 4x4 nie.
Andries weet dit.
Ek weet dit. (Ek het al gesien hoe Andries se Condor in ons inrypad in Muckleneuk vasgesit het na swaar reën. Jacob moes hom uitsleep.)
Drikus en Ockert weet dit blykbaar nie.
Hulle het tot nou toe nie belangstelling getoon in die logistiek van die trip nie, en dis duidelik dat hulle nie nou skielik geïnteresseerd gaan raak nie.
Maar die oomblik toe Andries wegtrek en ons die sandpad tref (teen wat voel soos volspoed), het ons skielik hulle aandag.
Drikus se hand (die een wat nie die brandy vashou nie) skiet uit na die dashboard waarteen hy homself probeer regop druk terwyl hy sy brandy en coke (wat hy aan die Mosambiekse kant van die grens weer volgemaak het) in een teug afsluk.
Ockert (met sy oë wydgerek) probeer hard om sy balans te hou. En sy cool.
Ek probeer om vir Andries te help bepaal watter van die twee of somtyds drie rye spore ons moet volg, terwyl ek myself probeer regop hou en terselfdertyd probeer keer dat die kitare (wat na die grenspos losweg bo-op die hoop bagasie gestapel is) nie teen die dak – of Ockert se kop – stamp nie.
Ek is totaal verstom oor die feit dat Ockert oënskynlik onbewus is van die kitare wat kort-kort rakelings by sy kop verbyskiet wanneer die chassis die sand tref, sowel as my konstante stryd om die kitare en sy kop te probeer beskerm.
Ons jaag steeds voort.
Andries weet as hy spoed verminder, gaan ons heel moontlik in die diep sand vasval.
Ek weet dat as Andries spoed verminder, gaan ons heel moontlik in die diep sand vasval.
Drikus en Ockert weet dit nie. Hulle albei kyk na Andries asof hy een of ander maniak is.
Daar is ‘n steil helling voor; ek sê vir Andries ek dink hy moet vinniger ry …
Ockert en Drikus kyk my aan asof ek ‘n erger soort maniak is.
Ons begin teen ‘n billike spoed teen die steilte uitklim.
Toe ek Drikus se oog vang, besef ek dat hy waarskynlik nie met hierdie stelling sou saamstem nie.
Andries probeer sy bes om die momentum te hou, maar die kar begin stelselmatig spoed verloor.
Ons gaan dit nie maak nie.
Andries kyk gespanne na die spoedmeter.
Ek kyk om.
Daar is ‘n plat stuk grond so entjie terug wat stewig genoeg lyk dat ons van daar af weer sal kan wegtrek.
Ek sê vir Andries so.
Andries sit die kar in neutraal en ons begin agteruit rol.
“Bietjie links,” sê ek toe ons amper daar is.
Drikus leun nog steeds teen die dashboard en staar net na die pad voor hom. Hy kyk nie een keer om nie.
Ockert lyk of hy in een of ander plek in sy kop verdwyn het, want hy staar net onsiende na die agterkant van Drikus se koprus.
Ons bereik die plat stuk grond sonder om vas te val.
Verligting. Spanning. Adrenalien. Blankness.
Nou vir die tweede aanslag. Ons kan nie bekostig om vas te sit nie. Dis 16:00 en die band moet 18:00 speel. Ons weet die mense moet seker al bekommerd wees omdat die band nog nie opgedaag het nie, maar daar is geen manier om hulle te laat weet nie.
Andries lyk gedetermineerd.
Ockert lyk bekommerd.
Drikus is besig om te kyk hoe sy lewe voor hom verbyspeel soos ‘n movie. Hy lyk puzzled.
Ek voel hoe die bier en skelm brandy besig is om na my kop toe te gaan.
Andries meet die pad met sy oog.
“Okay!”
Die kar skiet weer vorentoe. Vinniger en vinniger … ons gaan dit maak.
‘n Kar verskyn skielik oor die rand van die koppie. Daar is net een stel spore. Ons almal snak na ons asem.
“My fok.”
“Shit.”
“Wat nou?”
Ons kyk na Andries. Andries hou net aan ry – hy hou by sy spoed. Die mense in die ander kar moes die gebrek aan huiwering opgetel het, want hulle swaai skielik van die pad af, in die bosse in, om vir ons plek te maak. Ons vlieg verby en vang net ‘n vinnige blik van twee verbaasde gesigte.
‘n Paar honderd meter verder is daar ‘n kol gras onder ‘n paar bome. Andries trek van die pad af.
Sonder ‘n woord gee ek vir hom die bottel brandy aan.
Hy vat ‘n paar slukke.
Hy stuur die bottel in die rondte.
En vir ‘n tweede keer in die rondte.
Ons vra vir iemand wat daar verbystap oor die pad na Malongane. Hy praat nie Engels nie, maar wys vaagweg na ‘n pad wat links afgaan. Hy lyk vriendelik en selfversekerd.
Ons wag vir die brandy om die adrenalienvlakke so bietjie te stabiliseer voor ons weer in die pad val. Weer teen ‘n redelike hoë spoed.
Ons weet nie wat die pad voor vir ons inhou nie, maar Andries het duidelik besluit om die bul by die horings te pak.
Ons kom van die verkeerde kant af aan, dus jaag ons reguit by die STRAB-posters aan die ander kant van die boom verby. En dus verby die afdraaipad.
Die Condor hardloop nou glad oor die sand; ons vlieg oor ‘n laagwaterbrug (weer ‘n paar vloeke en snakke) en skuur verby ‘n paar voertuie wat geen ander keuse het as om uit te swenk nie. Nog verbaasde gesigte.
Uiteindelik ry ons ‘n klein nedersetting in.
Ons is hier. Algemene verligting.
Dis 4.45. Genoeg tyd voor die show.
Ons sien geen aanwysings nie, so ons vra maar rond. Ons navrae word met verbaasde kyke begroet. “STRAB?”
“STRAB?”
Skouers word opgetrek, koppe skud heen en weer.
“Malongane?” probeer ons.
“Ah!” Kopknikke, smiles, begrip.
Hulle beduie reg na die pad waarmee ons ingekom het.
Ek sien hoe Drikus se gesig val.
Ons bedank hulle en draai om.
Ons jaag terug. Ons haal ‘n 4x4 in net voor ons weer by die laagwaterbrug kom waaroor ons netnou volspoed gejaag het. Ons kyk hoe die 4x4 spoed verminder en stadig oor die bruggie kruip. Ons bars uit van die lag.
Ons bereik die afdraai en die posters is nou darem halfpad sigbaar: “STRAB” met ‘n pyltjie.
Andries draai skerp in die aangeduide rigting en ons bereik ons bestemming in ‘n rekordtyd.
Teen die tyd wat ons by die hek ingeteken en aanwysings na ons tente toe ontvang het, is dit 16:30.
Andries – hoewel verlig – is alles behalwe ontspanne.
Die res van die band is ligtelik gerattle en effe dronk.
Toe ons by ons tente stop kom Alexa reguit op Andries afgestap. Die organiseerders was baie bekommerd. Het solank aan ‘n plan B begin werk. Sy sal hulle laat weet dat die band hier is.
Andries maak die kattebak oop – Drikus se ou bruin tas en skoene val uit. Hy druk dit terug; begin die instrumente uitlaai.
Ek kyk hulle agterna toe hulle wegstap in die rigting van die stage – kitare in die hand: Cool. Kalm. Gedetermineerd. En ek glimlag so by my self: “The show must go on!”
The post Drikus "Brixton" Barnard: Toe klim ek ook op die bandwagon appeared first on LitNet.