Kamee
Roela Hattingh
Human & Rousseau
ISBN: 9780798169172
I
Met Kamee – wat reeds in April 2015 verskyn het – maak Roela Hattingh ’n besonder belowende debuut as kortverhaalskrywer. Soos wat dit ook met Nicole Jaekel-Strauss se Maal die geval was, lewer Hattingh se debuutbundel bewys daarvan dat die Afrikaanse kortverhaal, wat kwaliteit betref, lewenskragtig en kerngesond is. Ofskoon die verhale in Kamee heelwat korter is as dié in byvoorbeeld Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper, SJ (Fanie) Naudé se Alfabet van die voëls en Rachelle Greeff se Die naaimasjien en ander stories, is hulle op hul beste net so treffend soos die verhale in hierdie bundels. Meeste is inderdaad "kamees" in dié opsig dat hulle "kort letterkundige of dramatiese stukkies is wat die karakter van ’n persoon, ’n plek of ’n gebeurtenis in fyn en skerp reliëf bring".
Lees ook: |
---|
• Boekresensie: Die Verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten |
• Boekresensie: Icons - Imaging the Unseen deur Daniël Louw |
Maar ook ander betekenisse van die woord "kamee" word in en deur die verhale in dié bundel geaktiveer. As estetiese objek verwys "kamee" na ’n juweliersartikel, tradisioneel ’n vroueprofiel wat op ’n ovaalvormige siersteen gegraveer word sodat die agtergrond ’n ander (dikwels donkerder) kleur as die verhoofde beeld het. Maar "kamee" kan ook verwys na ’n toneel of vertolking wat tref deur die fynheid, kleinheid of harmonieuse afgerondheid daarvan.
In die titelverhaal "Kamee" word die verskillende betekenisse van die woord "kamee" op vernuftige wyse saamgetrek. Die vertellerkarakter onthou byvoorbeeld dat haar tannie Margaret ’n baie ou kamee in ’n houertjie agter in een van haar laaie weggesteek het. Hoewel sy die kamee nooit self gesien het nie, verbeel sy haar dat die kamee "een van die tipies ovaalvormige kornalynkamees (was) wat ’n vroueprofiel uitbeeld. Wit op oranjepienk. Een van daai wat mens óf as ’n borsspeld óf as hangertjie kan dra." (45) Tannie Margaret sterf egter aan kanker voor sy die storie van die kamee aan die verteller kan vertel.
[D]ie storie van die kamee het, soos die kamee en die stiefouma, verdwyn. (45)
Wanneer die verteller se ma (ook aan kanker) sterf en sy self ’n operasie moet ondergaan, besluit sy om ’n kamee van haar ma te laat maak as ’n tipe amulet teen verlies, verdriet en vergetelheid:
Ek moet by ’n kameemaker uitkom. Dringend. Ek moet nuwe begrippe en materiaal en "implemente" kry om die woorde van vreemde herkoms wat deesdae so glad op my tong kom lê, te vervang.
Karsinoom, miëloom, limfoon ... leukemie.
Fibro-, lipo-, mio-, chondro-, osterosarkoon ... karsinogenie.
Olka bolka riebietjie stolka olka bolka knor.
Êrie pêrie chiekerie chêrie, êrie chêrie tjorts.
Ek wil die krag van my ma laat kerf, ’n kamee vir haar kap, die grein van klip toelaat om haar lig vas te vang. Ek moet dinge in ivoor of skulp of glas wegwerk met bedoeling. Nie toelaat dat weefsel van ’n gewas as gevolg van onbeheerste groei ’n nuwe mutasie ondergaan nie.
Ek wil stukkie vir stukkie die agtergrond wegkrap. Nie spore laat vir metastase nie. (...)
Dis te laat vir my ma om ’n verskyning in ’n film of drama te maak; sy kan moontlik nog vasgevang word in ’n kort letterkundige bydrae ... maar dis alles tersyde. Ek moet ’n kamee van my ma agter in my laai wegsteek voor dit vir my te laat is. (46)
Uiteindelik slaag die verteller daarin om haar ma se gesig nie net letterlik op ’n kamee te verewig nie ["My ma in bruin en wit en oranje met ’n titseltjie donkergroen. Twee gesigte van haar in profiel. Die agterste een as jong meisie met hare wat wild waai, voor kaalkop, ’n Bhoeddistiese non." (52)], maar ook om haar in ’n tipe kameerol vas te vang in die kortverhaal "Kamee" wat sy skryf.
II
Kamee bevat 23 kortverhale waarvan 6 as kortkortverhale getipeer kan word. 19 van dié verhale het oorspronklik deel gevorm van ’n bundel wat Hattingh in 2013 saam met ’n mini-verhandeling oor skuld en vergifnis in 30 nagte in Amsterdam (Etienne van Heerden) vir haar magistergraad in Kreatiewe Skryfkuns onder leiding van Henning Pieterse (UP) ingehandig het. ’n Twintigste verhaal – "Om vredeswil" – is uiteindelik nie in Kamee opgeneem nie, moontlik vanweë die lengte daarvan, maar kan wel hier gelees word.
Die eenvoudige, maar visueel treffende, omslag dien as rigtingwyser vir die uiteenlopende verhaal-"teksture", -"patrone" en -"elemente" waarop ’n leser bedag moet wees wanneer hy/sy hierdie bundel aanpak. Simbolies gesien, is daar van alles en nog wat in Kamee te vind: van bloed(plaatjies), tot bedrukte tekstiel/papier, tot spesery/verfpigment. ’n Visuele leidraad dat die leser hom/haar met groot vrug sensories kan oopstel vir die verhale in die bundel.
III
Die beste verhale in die bundel is meestal daardie (effens langer) verhale waarin Hatting vanuit die perspektief van ’n bepaalde karakter self verslag doen. En al verteenwoordig die karakters in die bundel ’n bonte verskeidenheid wat afkoms en agtergrond betref, is hulle versugtinge, drome, kwellinge en begeertes algemeen-menslik en (dus) universeel.
Talle vrouekarakters in die bundel is slagoffers van disfunksionele verhoudings. Vanweë hul belemmerende omstandighede het hulle ’n dwingende behoefte aan ontvlugting. ’n Karakter soos die eens beskimmelde boervrou, Katrien, slaag in "So lief soos sout" byvoorbeeld daarin om letterlik te ontvlug en in die proses ook wraak op haar afknouende man, Bart, te neem. In "Swem" is die moslemvrou, Naseera, egter nié in staat om soos die vet vrou op die strand haar engomskrewe vroulike ruimte geografies te ontvlug nie. Sy bly almaardeur bewus van haar man se kolonialiserende, gebiedende blik:
Naseera draai om. Sy wil kyk of haar man en seun nog naby is. Sy sien hoe hy kyk. Na die vroue. Na die gladde bene wat so mooi saamgevoeg is by die plek waar sy hand sou kon inpas. Die broekies wys uit eerder as om toe te maak. Die oop naeltjies. Die vroue se onbedekte, los hare. Sy lag skelm. Voel hoe die lang vlegsel teen haar rug tot onder haar boude hang. Net vir haarself maak sy die vlegsel los. Nie vir haar man nie, nie eens vir God nie. (25)
Wanneer Naseera aan die einde van die verhaal haar hand bo by haar purdah insteek en haar dik vlegsel losmaak sodat "die hare om haar skouers onder haar purdah sprei" (26), word dit ’n simbool van daardie intieme ruimte waartoe sy geen man toegang gee nie; ’n ruimte waarin sy net so vry is soos vet vrou wat in die diepsee swem en "deur die water sweef, dans" (26):
Dit (haar hare) golf om haar borste, naeltjie, dit raak aan haar bene. Sy maak haar oë toe. Gaan die golwe tegemoet. (26)
IV
Hoewel vrouekarakters en -belewenisse die sentrale fokus in Kamee vorm, word die ervaringswêrelde van ’n hele galery manskarakters ook sekuur onder woorde gebring. In "Trousseau" is dit dié van die bobaas-bakkieverkoper Bert van Bastion Motors op Humansdorp; in "Voorspel" die verydelde planne van kontreiboer Kobus de Korte en in "Vrylopers" die laaste gedagtes van die eienaar van ’n hardewarewinkel in Westdene.
In "Land van die lotuseters" berou die viriele rentboy Lood Liebenberg - wie se "vlees en gees altyd gewillig [is], vir enige iets of iemand ... solank hy goed betaal word" (61) – uiteindelik sy aanvanklike besluit om nie van die "perlemoenpoeiertjies" by die ou man in die grys pak te koop nie. Wanneer Lood besef dat hy die gouelotusvoete van ’n bejaarde Taiwannese kliënt met sy hande moet was en met sy mond moet afdroog, verwoord hy sy ontnugtering (en gevolglike gebrek aan koerasie) soos volg:
Die walging stoot in hom op. Die tone is soos papgedrukte nartjiesegmente wat vrot. Hoe hy daaraan gaan suig, weet hy nie. Hy sal sy kop beslis vinnig op ’n ander plek moet kry. Lood dink aan die ou man in die klub. Hy sal hom môre gaan soek om te hoor waar om daai poeiertjies te kry. Net vir alternatiewe marknavorsing, natuurlik – ’n bietjie eksperimentele aktivering. (66)
Die vermaaklike "Boomplantdag" sluit by verhale soos "So lief soos sout" en "Take-away" aan in dié opsig dat die hoofkarakter wraak neem op iemand wat hom afknou en misbruik. In hierdie geval is dit die ondernemende skoolseun Kortgat Koekemoer wat die sadistiese krieketonderwyser, Knaterknol Ferreira, se spog-kolfblad saboteer. Dit sal die skeptiese leser waarskynlik nie loon om allerlei praktiese vrae oor die vérhaal te stel nie. Hoofsaak is: Kortgat se wraak is soet en vindingryk. Hoe hy egter genoeg plek in sy "moerse rugsak" (121) gevind het vir ’n huilboom en genoeg sporaxis-, ixia- en tritonia-bolle om uiteindelik die woord "knaterblad" so groot soos ’n hele kolfblad uit te spel, is nie so maklik uit te lê nie.
Myns insiens is "Rieme" en "Eintlik" twee van die aangrypendste kamees in die bundel: een handel oor die tuinier "Nog ’n chance" wat na ’n Damaskus-ervaring met ’n "tier" (luiperd) besluit om sy rug op bende-aktiwiteite en perlemoendiefstal te keer en ’n eerliker besigheid te begin; die ander een oor ’n jong man genaamd Eintlik wat in Johannesburg plastiek en papier met sy trollie na herwinningsaanlegte vervoer en allerlei stories teen vergoeding aan ’n skrywer vertel sodat hy uiteindelik die "wiele" kan kry om sy verlamde ma rond te karwei.
In laasgenoemde verhaal word daar op baie subtiele wyse verbande tussen die onderlinge verhale in die bundel gelê. Die "skrywersantie" aan wie Eintlik sy stories smous, herinner byvoorbeeld aan die hoofkarakters in "Congratulations. You’ve won! Do you want to start again?" en (die besonder treffende) "Werk", waarin daar op metatekstuele wyse oor die skryfproses besin word. En in die storie wat hy oor die "sangomagirl met die twaalf vingers en tone wat by die sjebien gesit het" (111) vertel, erken ’n mens duidelik die basiese gegewe van die inspirerende verhaal "Tambudzai (Swaarkry)".
V
Soos in Nicole Jaekel Strauss se Maal speel kos ’n belangrike rol in Kamee. In die openingsverhaal "Alibi" word die afloop van die huweliksverhouding tussen An en haar man vindingryk aan die hand van veral die slaai-gegewe uitgebeeld. As verliefde jong studente het hulle mengelslaai gemaak wat hulle sommer met hul vingers uit die bak geëet het. As ou-getroudes dring An se man ongeduldig daarop aan dat sy ’n uitpakslaai – met duidelike skeiding tussen die onderlinge bestanddele – vir sy nuwe, gesondheidsbewuste "vriende" voorberei:
"Moet asseblief nie die blare so met jou hande skeur en dan alles deurmekaar gooi nie. Hou dit heel, asseblief, en pak die slaaigoed op hierdie nuwe bord uit, tog net nie in daai bak van jou ou tannie Margaret nie. Dan kan almal opskep wat hulle wil eet en ons mors nie kos nie." (11)
Wanneer An haar aan die einde van die verhaal na ’n skokkende ontdekking saggies van die tafel verskoon en vir haar twee seuns sê: "Kom ons gaan koop KFC" (17), druk hierdie woorde véél meer as net ’n versugting na (ongesonder) kitskos uit. Dit druk ook haar bykans moedswillige verset uit teen alles waarin haar eens gelukkige huwelik sienderoë verander het.
In die tweede verhaal, "Gate uit", word die ontnugtering van die twee dogters wat huis toe stap nadat hulle gala geswem het, nié – soos wat ’n mens sou verwag – met ’n bitter of frank smaak in verband gebring nie, maar met die soet smaak van (verbeelde) sjokolade. Dit is ook eers wanneer hulle ou Bettie se soutgebraaide hoenderboutjies saam met krummelpap, botter en sheba eet, wat hulle uiteindelik tot bedaring kom.
Een van die sterkste verhale in Kamee is "Honger" – ’n verhaal wat afwisselend aangebied word uit die perspektief van die slagter, Dawid, en die tatoeërkunstenaar, Aymara. Die naalddunlyn tussen pyn en plesier, selfversiering en selfmutulasie (scarring), asook die inherente kompleksiteit van seksuele begeerte word op besonder veelseggende wyse aan die hand van die vleis-simboliek verken.
In die verhaal "Take-away" is die inrigting van hulle deeltitelkombuisie en die versigtige kosreëlings wat Roshni, ’n Hindoevrou, en Avi, haar Joodse lewensmaat, tref daarop gemik om die kultuurverskille tussen hulle liefdevol te oorbrug. Wanneer Roshni Avi egter saam met ’n ander vrou in die bed betrap, neem sy wraak deur die inhoud van die yskas drasties te herrangskik. ’n Mens sou heel letterlik kon beweer dat alles aan die einde van dié verhaal alles behalwe kosher is.
VI
’n Mens lei af dat Roela Hattingh uitgebreid navorsing moes doen vir die skryf van sommige van die verhale in die bundel – vanaf die uitstaande werksverrigting van ’n Amarok-bakkie in "Trousseau" tot by die tipe grassoorte wat vir die beste weiding sorg in "Voorspel" en die opwindende uitwerking van perlemoenpoeiertjies as seksuele stimulant in "Land van die lotuseters", om slegs enkele voorbeelde te noem. Hattingh slaag telkens daarin om dié navorsing op behendige en geloofwaardige deel van haar verhale te maak.
As skrywer beïndruk Hattingh veral met die wyse waarop sy uiteenlopende en oënskynlik onversoenbare dinge in die bestek van ’n paar bladsye op subtiele wyse met mekaar integreer. In slegs enkele gevalle kry ’n mens die indruk dat daar te doelbewus of te eksplisiet geïnterpreteer word, soos wanneer die kinderverteller in "Gate uit" opmerk "By die laaste troppie doringbome gaan die aarde oop en die dag val diep in ’n rysmiergat in" en bietjie later "Ons hardloop uit al ons stories, ensiklopedieë en kinderdrome uit" (20). Of wanneer die verteller, so as voorbereiding op die slot in "Vakansietog", dink:
Hoeveel keer het Theo nie voorspel dat hier nog ’n groot ongeluk gaan plaasvind nie. Kan die regering nie maar ’n brug bou vir die duisende mense wat hier woon nie? O ja, hierdie mense is plakkers, nie mense nie. Daar word net voor stemtyd aandag aan hulle gegee. (102)
In feitlik elkeen van die bykans tweedosyn verhale word die leser deur ’n onverwagse, meerduidige verhaalslot verras. Net in sommige gevalle – soos in byvoorbeeld "Tjoepstilte", "Weetlus" en "Vakansietog" – oorskadu die klinkende slot die (res) van die voorafgaande verhaal. Meestal dwing ’n slot die leser egter om ’n verhaal opnuut, en dan selfs met meer genot en insig, te gaan lees.
VII
Kamee is inderdaad ’n kortverhaaldebuut om oor opgewonde te raak.
The post Boekresensie: Kamee deur Roela Hattingh appeared first on LitNet.