Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2017 is pas bekend gemaak. Dit is Hilda Smits se digbundel die bome reusagtig soos ons was. Die bundel word deur een van die beoordelaars bestempel as “’n boeiende debuut” wat die leser by die hoogs persoonlike betrek en wat tegelykertyd ook betekenis aan die universele belewenis gee. “Wat die digter hier vermag het, is enorm,” skryf ’n ander beoordelaar.
Die verse beskryf die belewenis en hunkering van die expat – dit is “poësie van die diaspora wat na die vaderland terugreik, na ’n verlede en tye toe dinge eenvoudiger was”. In die beoordelaars se verslae word sterk klem gelê op die rol van die geheue en herinneringe. Die titel berei die leser reeds voor op ’n onthouproses, “op hoe dinge met die verloop van tyd anders onthou of vertolk word”. Die bundel voel vir een van die beoordelaars “soos ’n intieme gesprek waarop die leser instap, maar dit is die digter in gesprek met haarself, asof sy die deur tot haar geheue oop vergeet het”.
Die beoordelaars loof die “geweldige visualiteit” van die verse, met die oog, die kamera, foto’s en waarneming wat sentraal staan. In die rekonstruksie van die verlede ontgin die digter die visuele deur die oormekaarskuif van beelde, plekke en tye. Die gedigte word meestal as bewussynstroom aangebied, met ’n besonder sterk assosiatiewe basis; by tye selfs surreël. Die gedagtespronge wat die digter maak – gepaardgaande met verbluffende sintaktiese ontginning – is “besonder indrukwekkend”. Tyd en ruimte word hier “so goed vasgevang, dat jy voel jy stap in die strate en ry in die busse van verlange langs Hilda Smits”.
Lees Alwyn Roux se resensie van die bome reusagtig soos ons was.
Elf bundels is voorgelê en die kompetisie was straf. Die beoordelaars het groot lof gehad vir die ander twee bundels op die kortlys: Hendrik J Botha se Atropos en Bibi Slippers se Fotostaatmasjien. Die beoordelaars was Johann de Lange, Louis Esterhuizen en Nathan Trantraal. Ronel de Goede is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander komiteelede is Leon de Kock, Finuala Dowling, Vincent Oliphant en Beverly Rycroft. Danie Marais, vorige sameroeper, tree as adviseur op. Die prys word op 16 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Simone Jonker, dogter van Ingrid Jonker, sal die prys oorhandig.
Die volledige program en besonderhede oor die Tuin van Digters is op www.breytenbachsentrum.co.za en op LitNet beskikbaar.
The post Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir poësie 2017 appeared first on LitNet.