Een van die voornemens op ons bucket list was om Sutherland se SALT-teleskoop te besoek. Dit is nou afgetik.
Maar ek verwonder my aan die geheimsinnigheid oor die bedrywighede daar. Dit het byna gevoel asof ons “Area 51” besoek of altans, ’n goeie voorsmaak gekry het oor wat ’n mens sou beleef indien jy by “Area 51” sou uitkom. Eers die oggend ’n begeleide deurstap in die besoeker-ontvangsentrum waar ons oppervlakkig oor ditjies en datjies in verband met toerusting ingelig is, daarna is ons almal met ons karre (die gids het sommer by iemand ’n lift gebedel) op na die SALT-teleskoop net om verder oor beuselagtighede wysgemaak te word.
Vrae oor:
(1) die rigting van hul navorsingswerk,
(2) dit waarop daar huidig gefokus word en hoekom,
(3) wat ander die grootste belangstelling en aandag onder die wetenskaplikes wek,
(4) dit wat die mens se aandag moet verg, indien enige, is summier geïgnoreer en weggepraat.
En dit was tog waarin ons belanggestel en waarvoor ons die moeite gedoen het om te gaan kyk. Die hoogtepunt van die besoek aan die teleskoop was egter om te aanskou hoe die 80-ton, tegnologies mees gevorderde optiese “sterrekyk-struktuur” ter wêreld (Hubble is nie in die wêreld nie), met lugdruk in sakke opgelig en anti-kloksgewys gedraai word, ook maar net omdat daar toe op daardie tydstip onderhoudswerk daaraan gedoen was.
Dit het luide applous ontlok en ’n handeklap tot gevolg gehad.
Ook gehoor hoedat ’n skoonmaker soveel kennis opgedoen het dat hy deur die hoof van die kompleks in sy kantoor as ’n assistent, ’n pos wat normaalweg ’n doktoraat vereis, aangestel is - merkwaardig.
Ons was die vorige aand by ’n privaat stargazing-terrein waar ons, na ons mening, van meer relevante inligting voorsien was. Die eienaar/gids is vanselfsprekend nie so ingelig oor die kosmos soos die ouens daar op die bult nie, maar hy was meer interessant, sy toerusting meer diensbaar en ge-outomatiseer en verbind aan ’n GPS-stelsel. Hy’t ingetik waarna ons wil kyk en die teleskope het in daardie rigting gedraai. By die SAAO se “sterrekyk” het die gids sy laserflits teen die teleskoop gehou, dit in die rigting van die liggaam wat ons wou besigtig gerig en die teleskoop dan in daardie rigting gedraai. (Doen gerus navraag by die gastehuise, hulle sal jou na die privaat terrein beduie, beide terreine kyk na dieselfde voorwerpe).
Op die stoep van die mini-market loop ek byna teen die ou vas. Ons “ekskuus-man-sorry” mekaar. Hy sien die kamera in my hand en weet dadelik dat ek ‘n “toeris” is en bied aan dat die “oubaas (en hierdie aanspreekvorm het absoluut boggerol met apartheid te doen) my vir R5 kan foutou sodat wanneer oubaas weer na Sutherland kyk, ek, Gert, ook daar sal wees.”
Ek doen toe so en hy vertel my: “Ek is mos nou maar alleen, oubaas.”
“Hoekom?” gedagtig daaraan dat hy dalk erge verlies gely het.
“My pa het my geleer om nie te trou nie.”
“Maar dan neef, het jou pa jou mos verkeerd geleer. Jy’t dan nou geen kind of vrou of kraai nie en kyk hoe oud is jy en wie kyk nou na jou?” Uit die hoek van my oog sien ek iemand nader staan. Hy is ’n tingerige langerige kromgetrekte ou en dra ’n oorgroot swartraambril en verflenterde keps.
“Hy lieg! hy’s my swaer.” En ek verstaan toe dat my onderwerp ’n suster het en dat daar darem na hom omgesien word.
“Ja,” sê die vrou langs die ou, “hy’t nie vrou nie, want hy’s ’n kruppel, wie sal hom vat? Hy lieg so dat onse pa hom vertel het.”
Ek merk dat die geselskap aangroei gee Gert R20 en loop kar toe.
By ’n “verbruikerswinkel” loop ek hom later die middag weer raak waar ek die item hieronder aankoop.
“Ek is Gert Witbooi, oubaas en ek is Khoi,” en hy knipoog vir my.
Wie’t nou gedink dat op die koudste plek in SA hulle wyn kan maak? Beslis nie ek nie. Ek gaan wag vir ‘n koue aand vir dié een. (Die ‘flying saucer’ op die ‘label’ gesien?)
Koue maar warm groetnis,
Raed-na-Gael
The post Gert Witbooi en Sutherland se SAAO appeared first on LitNet.