Die derde Boekejol en Filmrolfees is van 16 tot 20 Augustus in Pretoria aangebied. ’n Woordfees in die kleine, as ’n mens dit so durf vergelyk, met ’n uitgebreide program wat van boekbesprekings, werkswinkels, voorlesings, slypskole en aktuele gesprekke ingesluit het.
Dit is die gedagtekind van Dia van Staden, die organiseerder, en is aangebied by Lynnwood Bridge, as’t ware die hartklop van Atterbury Trust, een van die hoofborge.
As ’n venue is daar kwalik fout te vind met die ligging en geriewe by Lynnwood Bridge: maklik toeganklik vir die meeste Pretorianers en ander Gautengers, verskeie lokale, ’n City Lodge op die drumpel, die Alkantrant-biblioteek, en natuurlik die Atterbury-teater. Boonop is daar ’n verskeidenheid eetplekke waar ’n mens kan asem skep gedurende die program.
En wat ’n program was dit nie. As die noordelike provinsies se lesers afgeskeep voel omdat die oorwig van veral Afrikaanse skrywers in Kaapstad en omstreke is, was dit hul geleentheid om min of meer almal wat die afgelope jaar of wat ’n boek die lig laat sien het, te ontmoet.
As ek nou reg getel het, was daar 34 aanbiedings oor die vier dae. Ongelukkig het heelwat daarvan se tye oorvleuel, wat boekejollers ietwat soos afkophoenders kon laat voel het oor wat om wanneer by te woon. Hoe kies jy tussen Lerato Tshabalala en Sizwe Mpofu-Walsh se gesprek oor die uitdagings van die “reënboognasie”, Frans Cronje se verheldering van waar Suid-Afrika hom in 2030 kan bevind en Pieter-Louis Myburgh en Thandeka Gqubule se insigte oor die Guptas en Thuli Madonsela se ampstyd as openbare beskermer indien al die gesprekke in dieselfde tydgleuf val?
Dit is ongelukkig nie die enigste kwessie wat ’n klippie in die skoen is nie. Deurgaans was die bywoning teleurstellend swak – hetsy dit by die aktuele gesprekke, dié oor geskiedenis of die verskeidenheid romans was. Die uitsondering was die gesprek in Atterbury-teater tussen Etienne van Heerden (Die wêreld van Charlie Oeng) met Etienne Bloemhof van NB-uitgewers wat deur die verskillende Pretoriase boekklubs bygewoon is.
Van waar die Gautengse lesers en boekliefhebbers se trae bywoning vir dié boekgeleentheid in hul midde terwyl baie van hulle skynbaar nie skroom om jaarliks die tog Stellenbosch toe aan te pak om die Woordfees by te woon nie?
In Beeld, die Boekejol en Filmrol se mediavennoot, was egter slegs een voorafberig daaroor. Daarteenoor het Maroela Media ingeklim en heelwat aanlyn bemarking gedoen. Maar dis dalk juis hier waar die knoop lê, sê Dia self, omdat veral van die ouer lesers nie so ingestel is op sosiale media nie. Nou het sy, besig met nabetragting, reeds gesprekke aangeknoop met ander rolspelers oor ’n omvattende bemarkingstrategie vir aanstaande jaar. Daarby sal die program ook lynbevaart gemaak word met minder aanbiedings maar hopelik sonder om die verskeidenheid van genres in te boet.
Maar nou ja, klaar keel skoongemaak.
Die digmaraton in Atterbury-teater was ’n groot lekkerte. Antjie Krog, Bibi Slippers, Andries Bezuidenhout, Charl-Pierre Naudé, Corné Coetzee, Emma Bekker en Johan Myburg het sonder enige tierlantyne van hul gedigte voorgelees. Leon Gropp het ’n uittreksel uit sy program Rooidag, toonsettings van NP Van Wyk Louw se gedigte, gedoen.
Andries het ook sy hoed as arbeidskenner opgesit in ’n gesprek met dié tema (“Labour beyond Cosatu”) saam met Gideon du Plessis en Malehoko Tshoaedi – ’n baie insiggewende gesprek onder die leiding van Tim du Plessis.
Dana Snyman (Op pad) en Erns Grundling (Elders) was saam op die verhoog, met musiek deur Kevin Leo, nogal ’n ongewone keuse as pasmaat vir die twee padvatters. Dié reisskrywers is saam soos ’n petrolpedaal en ’n truspieël – die rit is beter as albei gebruik word. Die gaafste verrassing was egter Barend le Grange as gesprekleier: vaardig, empaties, skerp, belese.
Ek kon ongelukkig nie die Brave & Bold-vertoning Vrydagaand in die teater bywoon nie. Die kombinasie van Helen Zille (Not without a fight) en ’n huldeblyk aan Ella Fitzgerald deur Anna Davel en Gloria Bosman het nogal lukraak geklink, terwyl Saterdagaand se BoekBohaai, waarin onderhoude met van die feesdirekteure gevoer sou word oor “Hoekom Afrikaans? Hoekom ’n fees?”, afgestel is weens swak kaartjieverkope. Self gedink dis bietjie swa-a-ar vir ’n Saterdagaand ...
Daar was wel tyd om die geskiedenis-fix te kry tydens die gesprek oor sekere aspekte van die Anglo-Boereoorlog tussen Fransjohan Pretorius (Verskroeide aarde), Louis Changion en Lappe Laubscher met Theo de Jager as gesprekleier, bloot omdat hulle almal sulke lekker storievertellers is en telkens die heilige grond van geskiedenis met ’n skeut humor betree.
Die laaste ding wat ek wil sien gebeur, is vir die Boekejol en Filmrol om in die hek te duik. Indien Dia, soos haar voorneme reeds is, die probleme kan uitstryk, beter die Gautengers en ander noordelike lesers bietjie wakker skrik en vir ’n slag optrek soontoe.
Kyk hier na Reney Warrington se foto's en video's van die geleentheid:
BoekeJol 2017: fotoblad 1
BoekeJol 2017: fotoblad 2
The post BoekeJol 2017: ’n oorsig appeared first on LitNet.