Die vernietiging van die wêreld se beroemdste kultuurskatte en argeologiese plekke deur die sogenaamde ISIS/ISIL (Islamic State of Iraq and Syria / The Levant; Islamitiese Staat van Irak en Sirië / Die Levant) in die Nabye Ooste ontvang tans groot aandag in die meer ingeligte media. Dit is opvallend dat daar nog min hieroor in ons land berig is. In ’n onderhoud met Izak (Sakkie) Cornelius van Antieke Studie, Universiteit Stellenbosch, het Pieter de Villiers hom daaroor uitgevra.
Watter tipe geboue en plekke is hier ter sprake?
’n Tyd gelede is beeldmateriaal die wêreld ingestuur dat die ou Assiriese hoofstad by Nimroed opgeblaas is in ‘n daad wat deur Unesco as ’n onuitstaanbare misdaad teen die beskawing bestempel is.
Die stad was ’n sentrum van die beroemde Assiriese ryk wat vir ses eeue (vanaf die 13de tot die 7de eeu vC) een van die groot wêreldspelers was. Dit het van die 9de tot die 7de eeu oor ’n groot area vanaf die Persiese Golf tot by die Nylrivier gestrek.
Die jongste vernietiging is van die tempelkompleks te Palmyra (“Plek van palms”) in Sirië, 235 km noordoos van Damaskus wat uit die eerste eeue nC dateer. Die kleiner tempel van Baäl Sjamin (“Heer van die hemel”) is bykans heeltemal vernietig en die veel groter een gewy aan Bel (’n ander vorm van die naam Baäl) is ernstig beskadig. Onlangse satellietbeelde wys dat die tempel feitlik totaal verwoes is, met slegs ‘n enkele pilaar of twee wat nog oorgebly het. Daarna is drie kosbare graftorings buite Palmyra se mure waarin ryk families begrawe is, ook opgeblaas.
Satellietbeelde van die verwoeste tempel te Palmyra
Daar moet ook in gedagte gehou word dat ’n magdom oudhede en kunskatte deur ISIS verkoop word om hulle koffers verder te vul. Ook op hierdie wyse gaan ongelooflike skatte verlore.
Die wêreld was voorts ook geskok oor die sinlose marteling van en moord op die 83-jarige Khalid al-Asaad, “Meneer Palmyra” genoem omdat hy sy hele lewe daaraan gewy het om die stad te bewaar. Hy is vermoor omdat hy geweier het om bekend te maak waar van die skatte weggesteek is.
Kan jy meer uitwei oor hul belangrikheid, maar ook meer inligting gee oor hul historiese plek in die wêreldgeskiedenis en oor die belangrikheid van die lande waarin hulle geleë is?
Die Ou Nabye Ooste strek van Egipte van die farao’s, deur Mesopotamië (in Irak) tot die Persiese ryk van Iran. In Mesopotamië was ou beskawings soos die Sumeriërs, Babiloniërs en Assiriërs.
Hierdie beskawings het vir latere nageslagte die wiel, skrif (spykerskrif op kleitablette), sterrekunde, die vroegste state en ryke, en geskrewe wette nagelaat. In Sirië (Levant) was daar ’n baie ou stad soos Ebla met biblioteke en argiewe en by Ugarit het die vroegste vorm van die alfabet ontwikkel. Daar is selfs by hulle tekens van ’n ontwikkeling weg van veelgodedom na ’n kleiner groepie gode en godinne wat mettertyd in die monoteïsme sou ontwikkel. Die gebied is voorwaar in vele opsigte die wieg van die moderne beskawings.
Die tempelkompleks van Palmyra self is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Palmyra, op die kruispunt van verskeie beskawings, was tot in Romeinse tye ’n belangrike handelstad met roetes wat die kusstreke deur die woestyn met Mesopotamië (Irak) en ander dele in die ooste verbind het.
Palmyra was ook ’n buffersone tussen die Romeinse ryk en hul groot vyand, die Irannese Partiërs in die ooste.
Die lang, roemryke geskiedenis van Palmyra (Semities: Tadmor) gaan terug na die 2de millennium vC. In die 3de eeu nC was die stad deel van die Romeinse ryk. Een van die beroemde heersers van Palmyra was die krygslustige koningin Zenobia wat vooraan haar leërs gery het, die Romeine hoofbrekens besorg het en ook op ‘n stadium Egipte, Sirië, Libanon en Palestina ingeneem het. Toe een van die Romeinse amptenare haar inval in Egipte gekritiseer het, het sy hom summier laat onthoof.
Koningin Zenobia, die stryder-heerser van Palmyra
Palmyra is ’n besonderse plek, een van die bes behoue antieke stede, met verskeie indrukwekkende tempels gewy aan die god Baäl, waarvan die siervolle pilare en boë uiters goed behoue gebly het.
“Die tempel van Bel was een van die mees ikoniese monumente in die stad en verteenwoordig in die uitgekerfde plafonne, die monumentale podium en friese, ’n merkwaardige versmelting van die argitektoniese style van die Ou Nabye Ooste en die Grieks-Romeinse tradisie,” verklaar Unesco.
Die stad het ook ’n teater gehad.
Die god Baäl is baie bekend uit die Bybel, maar is nog lank na bybelse tye, tot in die Romeinse tyd, te Palmyra vereer.
Die tempel toon ook interkulturele kontak met Oosterse, Griekse en Romeinse invloede en hoe verskillende kulture kan saamkom. Die tempel met sy unieke ontwerp word deur Unesco as een van die belangrikste geboue uit die 1ste eeu nC beskou.
Unesco se webblad beskryf die stad as ’n oase in die Siriese woestyn, noordoos van Damaskus, wat die indrukwekkende ruïnes bevat van ’n beroemde stad wat een van die belangrikste sentrums van die antieke wêreld was.
Die stad bied insig in die unieke estetiese prestasie van ’n ryk oase op die karavaanroete. Die groot pilaargang is ’n tipiese voorbeeld van ’n struktuur wat op ’n belangrike artistieke ontwikkeling dui.
Die argitektuur sou later ’n beslissende bydrae tot die herlewing van klassieke argitektoniese style en tot moderne stadsontwikkeling in die Weste lewer. “Die stad vorm die volmaakte voorbeeld van ’n antieke stadskompleks met sy groot openbare monumente soos die Agora, die teater en die tempels.”
In haar reaksie op die vernietiging van die stad het die direkteur-generaal van Unesco, Irina Bokova, haar uiterste verontwaardiging uitgespreek: die daad is ’n ondraaglike misdaad teen die beskawing met ’n geskiedenis van 4 500 jaar.
Dit is ‘n stad wat diep in die kulturele geheue van moderne besoekers geëts is. Bokova merk op: “Wie ook al Palmyra gesien het, is vir ewig gevorm deur die herinnering aan die stad wat die waardigheid van die Siriese mensdom en die mensdom se edelste aspirasies beliggaam.”
Waarom blaas ISIS hierdie plekke op?
ISIS wil ’n sogenaamde kalifaat (regering onder ’n kalif, ’n politieke en godsdienstige opvolger van Mohammed) vestig met ’n spesifieke vorm van Islam. Hulle verklaar dat die rede hoekom die plekke en ook die kunswerke vernietig moet word, is dat dit antiek heidens is, toe afgode en hulle beelde vereer is. Dit druis in teen hulle siening van ’n godsdiens sonder enige beelde: hulle motiveer hul optrede met die argument dat die profeet Mohammed hulle die opdrag daartoe gegee het.
Sekere skrywers argumenteer dat hulle ’n heeltemal nuwe staat wil vestig en daarom alle vorige geskiedenis wil uitwis – of dit nou antiek heidens, Christelik, of selfs ander vorme van Islam is. Dit raak nie net antieke geboue of kerke nie; selfs die graftes van Moslemheiliges wat nie binne hulle sisteem pas nie, word verwoes.
Ander beklemtoon weer die propagandawaarde daarvan: ISIS wil die wêreld wys dat hulle in beheer van die gebied is en waartoe hulle in staat is. Hulle doen sulke opsienbarende dinge om die massamedia te gebruik.
Kan jy meer vertel van hoe kennis van hierdie plekke en hul inhoud ons lewens vandag nog raak?
Daar is besonderse kunsskatte en deel van die erfenis van alle beskaafde mense wat latere kultuurskatte beïnvloed het. Indien ons dit vergeet, is ons kultureel veel armer. Die stryd is nie net polities nie, dit is ’n stryd oor kultuur en ons erfenis, en daarom ’n stryd oor menswees.
Hoe help die plekke ons om godsdienste soos die Jodedom en Christendom te verstaan?
Die Jodedom, Christendom en ook Islam het nie in ’n lugleegte ontstaan nie. Hulle het teen ’n bepaalde kultuurhistoriese agtergrond ontwikkel. Om hulle te begryp, word ou monumente en tekste bestudeer, ook besonderse plekke soos Palmyra. ‘n Mens kan die eie identiteit van die Jodedom en die Christendom goed verstaan alleen wanneer hulle binne die konteks van sulke stede en hul kultuur ondersoek word.
Vernietig ’n mens sulke geboue, vernietig jy nie net die ou geskiedenis nie, jy vernietig kultuur en daarmee iets van jouself.
Wat word gedoen om belangrike argeologiese plekke en vondste soos hierdie te bewaar?
Die probleem is dat dit uiters moeilik is om ou monumente en geboue teen die oorlog in die gebiede onder bespreking te beskerm. Hulle word eenvoudig daardeur (letterlik!) getref. Die plaaslike owerhede verantwoordelik vir oudhede is magteloos. Hulle het net nie die middele om die monumente te beskerm nie. ’n Land soos Sirië het ’n staat wat prakties nie meer funksioneer nie.
Daar is ook grootskaalse roof van kunsskatte en nou doelbewuste vernietiging deur ISIS.
Die vraag is of dit sal help om van die oudhede na veiliger gebiede te verwyder, maar dan verloor die gebiede weer hulle skatte en skep dit nuwe probleme. Dit is soortgelyk aan vorige insidente toe Europese instellings meesterstukke weggedra het.
Daar word wel deur amptenare van museums dapper probeer om sommige waardevolle stukke weg te steek deur dit na veilige plekke te bring of selfs om dit onder beton te verseël.
Wat in Sirië gebeur, is ’n tragedie, nie net wat ou kultuurskatte betref nie, maar nog erger die verlies aan menselewens. Dit is hoekom derduisende met die hoop op ’n beter lewe na Europa stroom.
Watter rol speel hierdie plekke in universiteitsonderrig vandag?
Palmyra, Ugarit en ander stede, soos Nimroed en Nineve, vorm ’n sentrale deel van onderrig in die ou kulture van die antieke wêreld. Sulke plekke word gereeld deur studiegroepe besoek.
Op Stellenbosch self is daar modules in die vak antieke kulture wat hierdie plekke insluit. Studie strek van die eerste jaar tot ’n doktorsgraad. Klem word ook gelê op die kontak (en wedersydse beïnvloeding) tussen kulture soos die (Westerse) Grieke en Romeine en dié van die Ou Nabye Ooste, waarvan Palmyra ’n sprekende voorbeeld is.
Vir heel besonderse panoramafoto’s, gaan na: http://www.kaemena360.com/360/PalmyraTour, en ook http://whc.unesco.org/en/list/23/gallery.
Foto's voorsien
The post Palmyra: die vernietiging van die tempels van die “Venesië van die Woestyn” appeared first on LitNet.