Dark traces
Martin Steyn
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383591
Dit sit nie in elke ou se broek om met so ’n propperse klassieke polisieroman te debuteer nie. Om boonop teen sy leermeester, Wilna Adriaanse, mee te ding vir die ATKV-prys vir spanningslektuur én dit te verower wil gedoen wees. Dit is dus geen verrassing nie dat LAPA daardie debuut van drie jaar gelede (Donker spoor) gekies het as die eerste van Steyn se boeke wat in Engels vertaal word en in Amerika ’n groter mark soek.
Dark traces stel nie teleur as spanningsroman nie en met Steyn se vertaling (hy het dit self gedoen) is daar min fout te vind.
Die storie begin met ’n grusame vonds: die lyk van ’n tienermeisie wat duidelik dae lank verkrag en gemartel is en daarna gehang is. Gou-gou blyk dit dat nog ’n tiener wat vroeër vermoor gevind is, met hierdie een verbind kan word.
Ná ’n derde moord word dit vir adjudant Jan Magson (of Mags) en sy maat, adjudant Colin Menck, ’n gejaag teen tyd om die reeksmoordenaar op te spoor voordat nog tienermeisies op soortgelyke wyse om die lewe gebring word.
Die speurders maak aanvanklik nie hond haaraf nie en die aandagafleiers stapel op: van ’n verdagte onderwyser tot ’n rockband se onderskeie lede kom as verdagtes aan bod en elkeen se storie word interessant en boeiend vertel.
Maar vir my is die eintlike wenner van Dark traces die juweel van ’n speurder Jan Magson. Magson is ’n komplekse hoofkarakter wat sukkel om oor sy vrou se kankerdood te kom en in die proses vervreemd raak van hulle enigste kind, ’n seun wat in Londen sy heil gaan soek het ná die konflik met sy pa. Die bron van hierdie konflik vat ’n dappere Steyn in ’n onontginde gebied in. Dié subplot word net so belangrik soos die oplos van die moorde en skep net soveel spanning soos wat dit stukkie vir stukkie onthul word.
Daar is ook etlike ander pragtige en hartverskeurende tonele, soos die storie van die janfiskaal wat deur Mags se vrou, Emma, gevoer is en die hartroerende konneksie wat hy deur die klein vriendelike voëltjie met haar het.
Wat ’n jammerte dat Steyn vir Mags teen die einde van die boek so vroeg laat aftree het.
Die ander uitstekende ding van Steyn se romans is sy noukeurige en akkurate navorsingswerk. Min skrywers kan hulle roem op so ’n presiesheid ten opsigte van forensiese patologie en polisiëring. Dit gee inderdaad aan hierdie boek ’n realistiese inkleding en geloofwaardigheid soos min.
Ongelukkig is nie alle boeke perfek nie. Daar is ’n storie wat sê ’n mens kan met gemak minstens 10 persent van ’n boek wegsny, veral ’n debuut. Ek dink wel Steyn sou met ’n effens strenger redigeringshand wat die vele terugflitse in toom gehou het, ’n nóg beter eindproduk gehad het. Iets wat maklik in die Engelse vertaling kon gebeur het.
Andersins wens ek Steyn net alle sukses met sy Engelse vertaling toe en hoop hy kerf vir hom ’n lekker mark in die buiteland oop. En daarvoor verdien LAPA, wat namens hul skrywers hierdie markte aan die ontgin is, ook al die lof.
The post Dark Traces deur Martin Steyn: ’n resensie appeared first on LitNet.