Verskroeide aarde
Fransjohan Pretorius
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624079668
Skrywers oor hul nuwe boeke: Fransjohan Pretorius oor Verskroeide aarde
Hallo Fransjohan. ’n Nuwe uitgawe van die koffietafelboek Verskroeide aarde het onlangs by Tafelberg verskyn. Dit is nou 115 jaar na die einde van die Anglo-Boereoorlog (ABO). Ondervind jy, wanneer jy met mense op straat gesels, dat daar steeds ’n behoefte is aan die lees omtrent en sien van foto’s rondom hierdie oorlog?
Die belangstelling by veral Afrikaners – maar waarskynlik nie alle Afrikaanssprekendes nie – so lank ná die oorlog en reeds 15 jaar ná afloop van die herdenking daarvan, bly verstommend groot. Ek kry ook dikwels navrae van Engelssprekende Suid-Afrikaners of buitelanders wie se oupas of oupagrootjies aan Boerekant geveg het. Foto’s trek altyd die aandag, en in hierdie hersiene uitgawe is daar 160 van die 260 foto’s en illustrasies wat nie in die eerste uitgawe van 2001 verskyn het nie. Meer as 50 hiervan is in kleur. En die gehalte van die foto’s is merkwaardig goed.
Daar was al baie oorloë in die geskiedenis. Waarom is die Anglo-Boereoorlog ’n oorlog in hierdie land wat net nie uit die psige van Suid-Afrikaners verdwyn nie?
Ek moet beklemtoon dat dit veral Afrikaners is wat hierdie gevoel ervaar. Rondom die 100-jarige herdenking van die Groot Trek in 1938 het Afrikanerleiers en -woordsmede die lyding en die heroïese van die Anglo-Boereoorlog gaan haal om Afrikanernasionalisme te bevorder. Hulle taak was maklik, want die skreiende feite van die oorlog het vanself gespreek. Hulle het die Boere net nog groter en dapperder as die lewe voorgestel en die konsentrasiekampe ten onregte as moordkampe bestempel (dit was ten minste nie die Britte se bedoeling nie). Om nasionalisme te bevorder het jy ’n vyand nodig, en die Brit was daardie maklike objek. Daarna het Afrikaners in die Nuwe Suid-Afrika pak gekry met die onthullings voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie, en toe die herdenking van die oorlog kort daarna kom, het Afrikaners skielik besef: haai, maar ons het ook gely, neem kennis julle! Moet egter nie die groot impak van skitterende historiese romans en kortverhale oor die oorlog uit die oog verloor nie – met natuurlik PG du Plessis se Fees van die ongenooides wat uittroon.
Laat ek dan dalk eerder vra: as jy nie saamstem daarmee dat Suid-Afrikaners hierdie oorlog genoeg bestudeer nie (byvoorbeeld in skole se leerplanne), waarom beskou jy dit as ’n oorlog met verreikende gevolge in hierdie land? Jy kan enige faktore bespreek: praktiese dinge soos die grootte van die bevolking, die onderdrukking van een groep wat dalk tot onderdrukking van ’n ander groep kon bydra, nasionalisme, algemene uitstyg bo omstandighede ten spyte van verlies.
Die Afrikaner het verarm uit die Anglo-Boereoorlog getree en soos wat hy geleidelik op politieke, finansiële en kulturele gebied herstel het, het hy hom voorgeneem om nooit weer deur ander oorheers te word nie. Die sentiment wat hy uit hierdie stryd met hom saamgeneem het, was ’n groeiende en aggressiewe nasionalisme. Op ’n indirekte manier was apartheid uiteindelik die gevolg daarvan. Nasionalisme is uitsluitend, en dit laat jou jou oë sluit vir die lot en lyding van ander. Swart mense weer het gevoel die Britse regering het hulle met die Vrede van Vereeniging in die steek gelaat – en die meeste swart mense het die Britse oorlogspoging gesteun omdat hulle gereken het dat ’n beter bedeling op hulle sou wag ná ’n Britse oorwinning. Daarin is hulle ontnugter, want lone op die myne was minder as voor die oorlog, en die gekwalifiseerde (gedeeltelike) stemreg van die Kaapkolonie waarvolgens ’n paar duisend swart mans stemreg gehad het, is nie na die voormalige republieke uitgebrei nie – ook nie met die toekenning van verantwoordelike bestuur in 1906 en 1907 nie, en ook nie met Uniewording in 1910 nie. Die gevolg: die swart struggle het momentum gekry met die stigting van die South African Native National Congress in 1912, wat in 1923 die naam African National Congress gekry het.
Verskroeide aarde is ’n emotiewe titel, omdat dit nie net ’n beleid wat in die oorlog aangewend is, uitstip nie, maar ook mense se verbintenis met grond en die verlies hiervan aandui. Wil jy dalk uitbrei op hierdie gebeurtenis(se) en die nalatenskap daarvan op die gemoedere van Suid-Afrikaners?
Baie goed raakgesien, Naomi! Vanaf die oomblik dat daardie Britse patrollie by ’n Boerewoning opgedaag het, die inwoners bars behandel het, die opstal en buitegeboue afgebrand, die skape en beeste in ’n kraal gejaag en doodgeskiet of lewend verbrand het, die oeste op die lande afgebrand het, en die inwoners ongenaakbaar aangejaag het konsentrasiekamp toe, het die gebeure in die slagoffers se gemoed geskroei. Toe kom die verskriklike lyding en sterftes in die konsentrasiekampe, waar ’n kwart van die inwoners gesterf het vanweë die Britte se skokkend vrot administrasie en gebrek aan sorg. Baie van ons kan getuig hoe ’n ouma wat in so ’n kamp was, eers teen die jare sestig van die vorige eeu bereid was om daaroor te begin praat. Dit was posttraumatiese stres op sy ergste, ’n term wat hulle nie eens geken het nie. Ek besit ’n bord wat bykans ongeskonde gekom het uit die afgebrande opstal van my oorgrootjies, Dirk en Elizabeth van Rooyen van Roodebloem, noord van Harrismith. Die bord het fyn-fyn krakies in, met swart roet daarin gebrand as herinnering. Eerlikwaar, ek kyk as historikus sonder emosie daarna, maar ek begryp daardie trauma. En onthou, swart mense het dieselfde ervarings gehad, want die Britte het hulle as voedselverskaffers van die Boere óók in konsentrasiekampe gedompel, waar die versorging eweneens skokkend sleg was.
’n Onlangse besoek aan die Vrouemonument in Bloemfontein het my die geleentheid gebied om die Sol Plaatje-saal te besoek. Wil jy dalk iets vertel van hoe hierdie nuwe uitgawe van Verskroeide aarde die impak van die ABO (of die Suid-Afrikaanse Oorlog, soos dit ook soms genoem word) op die hele Suid-Afrikaanse bevolking toelig?
Twee van die hoofstukke gaan oor die swart ervaring tydens die oorlog, en meer spesifiek in die konsentrasiekampe, en ’n derde hoofstuk oor die argeologiese opspoor van ’n swart konsentrasiekamp. Stowell Kessler is sedert die eerste uitgawe oorlede, maar ek kon sy voltooide doktorale proefskrif wat deur die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein uitgegee is, benut om belangrike toevoegings tot sy hoofstuk in Verskroeide aarde te maak. Aangrypende foto’s oor swart, bruin en Indiërbetrokkenheid is opgediep en verhoog die indrukwekkende voorkoms van die boek. In die jongste tyd is gewag gemaak van swart meisies wat saam met wit gesinne in die wit kampe opgeneem is, en ’n paar van die foto’s in die hersiene uitgawe getuig daarvan. Soos die Oorlogsmuseum tereg bevestig: hierdie was almal se oorlog. In hierdie sin wás dit ’n Suid-Afrikaanse Oorlog, hoewel ek normaalweg die benaming Anglo-Boereoorlog gebruik, omdat die amptelike diplomatieke en politieke stryd tussen Brittanje en die Boere was – met ultimatum en vredesluiting en al.
Daar is in my skooldae graag aangevoer dat die ontdekking van diamante, goud en mineraalrykdomme ’n groot rol gespeel het in die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. Maar dan was daar ook sleutelfigure wat op sekere tydstippe in hul eie lewens ’n visie gehad het oor die uitbou van hul eie koninkryke – mense soos Cecil John Rhodes. As mens dink aan vandag se protesaksies en sleutelfigure wat hier rolle speel, kan mens nie anders nie as om raak te sien hoe sekere dinge eenvoudig saamwerk om ’n perfekte storm te bewerkstellig. Stem jy saam? Wil jy dalk iets vertel van hoe jy dink die Anglo-Boereoorlog ontstaan het, wat alles bygedra het tot die uitbreek daarvan?
Ja, ek wonder hoeveel LitNet-lesers onthou nog so ’n kartonboksie wat ons as kinders ’n kaleidoskoop genoem het en waarin jy gekyk het om mooi gekleurde patrone te sien? As jy die fokus gedraai het, het nuwe patrone gevorm. So amper gebeur die geskiedenis – dinge werk saam om ’n nuwe beeld en gebeure te vorm. Haal goud uit die prentjie, en hier was geen Anglo-Boereoorlog nie. Die ontdekking van ryk goudriwwe aan die Witwatersrand in 1886 het plotseling ’n sukkelende Zuid-Afrikaansche Republiek potensieel die magtigste politieke en finansiële staat in suider-Afrika gemaak, en die oorheersende posisie van die Kaapkolonie (en dus Brittanje) bedreig. Voeg daarby dat Brittanje, Frankryk en Duitsland besig was om Afrika onder hulle te verdeel, en bring ambisieuse karakters soos Cecil John Rhodes en veral Alfred Milner in die prentjie – Milner wat homself as ’n “British race patriot” bestempel het – en jy het ’n resep vir aggressie en oorlog. Mag was reg, en niks wat Paul Kruger kon doen, sou die oorlog kon verhoed het nie.
Emily Hobhouse is by die Vrouemonument begrawe, saam met drie ander leiers in die Afrikaanse gemeenskap. Dit moes seker aardskuddend gewees het dat ’n Engelse persoon daar begrawe is destyds toe die Vrouemonument opgerig is. Was Emily Hobhouse vir die Boere ’n simbool van “nie alle Britte is so sleg nie”, of op watter manier kan jy die komplekse dankbaarheid en heldeverering wat teenoor haar bestaan het toe sy daar begrawe is, beskryf?
Ons moenie vergeet dat Emily Hobhouse die skokkende lyding in die wit konsentrasiekampe aan die groot klok in Brittanje gaan hang het nie. Dit was ’n geweldige verleentheid vir die Konserwatiewe Britse regering, want niemand daar het eens geweet van die bestaan van die kampe nie. Toe die Liberale Party Emily se saak opneem, was die regering genoodsaak om op te tree. Hulle het ’n Dameskomitee onder Millicent Fawcett na Suid-Afrika gestuur, wie se bevindings en aanbevelings ten opsigte van verbetering van die situasie ooreengestem het met Emily s’n. Haar opheffingswerk ná die oorlog (weefskole, ploegspanne) het dit vir Afrikanerleiers maklik gemaak om van haar ’n heldin in die opbloei van Afrikanernasionalisme te maak. Ek dink nie die gedagte van “nie alle Britte is so sleg nie” het ’n rol gespeel nie. Sy is as “een van ons” beskou.
Daar is sommige van ons wat lewe wat voorouers geken het wat nog by die Anglo-Boereoorlog betrokke was. Dink jy dat as hierdie geslag mense sterf, daar ook warm belange en betrokkenheid by hierdie oorlog sal afsterf?
Kultuurleiers het ’n manier om sentimente oor die verlede wakker te hou, maar toegegee, daar is talle jong Afrikaners wat geen erg het aan die lyding en sterftes in die konsentrasiekampe nie. Ek dink ons almal se ervaring is egter dat soos ons ouer word, die geskiedenis vir ons belangriker word. Ek weet dat baie Afrikaanse ouers vir hul kinders van die Anglo-Boereoorlog en die konsentrasiekampe vertel en wil vertel. Hulle het egter nie altyd die feite tot hul beskikking nie, en dalk is Verskroeide aarde ’n bietjie van ’n hulp. Laat ons egter geen illusies koester nie – geskiedenis is soos om ’n klip in ’n plaasdam te gooi. Vir ’n tyd lank is daar rimpelings op die wateroppervlak, maar daardie rimpelings verdwyn ook later.
Na al die baie boeke wat jy rondom die Anglo-Boereoorlog geskryf het: wat staan vir jou uit van hierdie oorlog spesifiek, as jy iets moet uitsonder?
Die feit dat die oorlog deur ménse ervaar is – gewone mense, helde en lafaards, met ambisies en vrese, en talente en swakhede. Net wanneer ek dink ek verstaan hierdie oorlog, word ek getref deur die nuanses daarvan. Niks daarvan is net reg of verkeerd nie, net swart of wit nie, net goed of sleg nie. Christiaan de Wet het wondere verrig op die slagveld, maar soms ook lekker drooggemaak. So ook Koos de la Rey, of Louis Botha. Om nie eens van die Britse generaals te praat nie. Dit was ’n uiters komplekse oorlog met vele skakerings van menswees.
Wat kan vandag se mense uit die Anglo-Boeroorlog leer? Of is dit nodig om iets hieruit te leer met die oog op die toekoms? Kan mens nie bloot die geskiedenis en die feite leer om die impak op wie ons vandag is, te verstaan nie? Of wat is jou gevoel hieromtrent?
Kennis van die Anglo-Boereoorlog sal ons beslis help om die ontwikkeling van die geskiedenis en ook ons eie tydvak beter te verstaan. Vir my as Afrikaner is die grootste les uit die oorlog dat die deursnee-Afrikaner vandag in ’n baie beter posisie verkeer as 115 jaar gelede, of tydens die Groot Trek. Alles is ver van pluis af in die land, soos die verskrikking van plaasmoorde getuig, maar oor die algemeen was die Boere en Voortrekkers baie meer in die duister oor ’n onsekere toekoms as ons. En as ek paternalisties mag wees: ons landgenote kan ook maar afkyk hoe Afrikanerorganisasies ná die Anglo-Boereoorlog en daarna hul mense laat opstaan het uit die ellende – die Helpmekaarbeweging, die Reddingsdaadbond, Sanlam, Volkskas. ’n Gelyk pad was dit egter nie.
The post Verskroeide aarde: ’n onderhoud met Fransjohan Pretorius appeared first on LitNet.