Ek’s van Brackenfell, een van die noordelike voorstede van Kaapstad en diep agter die spreekwoordelike boereworsgordyn wat die hoofsaaklik Afrikaanse Noorde van die oorwegend Engelse Suide skei. Tog is dit ook ’n plek waar Engelse woorde so gemaklik met Afrikaans vermeng word soos die brannas en Coke wat mildelik om die braaivleisvure vloei. Dis my dialek daai en ek is allermins een van die AAA (Afrikaanse Akademiese Adelstand). Maar die huis van die Taalkommissie het vele kamers en dit is eintlik maar jou vermoë om die standaardvariëteit in skryfwerk te gebruik, die werk wat jy in en vir die taal doen en jou ander relevante vaardighede (soos woordeboekmaakkundigheid) wat jou teenwoordigheid en rol op die Taalkommissie bepaal. En die Taalkommissie behou juis ook ’n gesonde balans tussen akademici (hoewel nie die stowwerige ivoortoringtipes nie) en taalpraktisyns soos ek.
Hoewel die verskyning van die spiksplinternuwe 11de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) op Donderdagaand 3 Augustus behoorlik met woord, klank en vele lekkernye op Naspers se dak in Kaapstad gevier is, was daar vroeër in die dag ’n meer bedeesde maar ook ’n uiters betekenisvolle geleentheid ’n paar vloere laer in die gebou. Oud- en huidige Taalkommissielede van heinde en verre het byeengekom om die nuwe AWS te vier en te bespreek, ja, maar ook om oor die Taalkommissie self (onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) se verlede, hede en toekoms te besin. En dit was juis by hierdie geleentheid waar die diversiteit en uiteenlopende kundigheid van die sowat 67 lede (teenwoordig, in absentia, of afgestorwe) wat al op die Taalkommissie gedien het en die dinamiese wisselwerking tussen teorie en praktyk wat in hierdie boek vergestalting vind so opvallend was.
Eers het ek met ’n effense knop in die keel geluister na Christo van Rensburg se uitstekende uitleg van die geskiedenis van die AWS en die rol van groot geeste soos Langenhoven, Totius, Malherbe en die vele ander minder besonge taalhelde op die verskeie Taalkommissies wat ons voorafgegaan het. (Ek weet dis al ’n effens geykte uitdrukking, maar dit voel werklik of ek en my kollegas op die skouers van reuse staan.) Buiten taal en woordeboeke, is my ander groot passie in die lewe die onderwys – seker daarom dat ek meestal aan skoolwoordeboeke by Oxford University Press werk. Daarom was dit vir my besonder relevant om herinner te word dat die publikasie van die eerste AWS 100 jaar gelede in 1917 eintlik aangevuur is deur Langenhoven se onblusbare wil en verbete pogings sedert 1914 om Afrikaans as volhoubare onderrigtaal te vestig. Net die dag voor die seminaar het ek en my Taalkommissiekollegas die AWS se eerste “rokuitskud” (soos kollega Sophia Kapp dit genoem het) by ’n skool in Kuilsrivier meegemaak, waar NB-Uitgewers boeke aan onderwysers vanoor die hele Skiereiland geskenk het. Die geesdrif van die onderwysers (van wie baie onder uiters moeilike omstandighede skoolhou) het my selfs ’n groter knop in die keel besorg en my herinner dat hulle die hande en monde is wat eintlik die taal se toekoms moet verseker. Min het dus eintlik sedert 1917 in die kernrol van die AWS as riglynbieder vir opvoeders verander, hoewel dit nou ook die standaardbron vir taalpraktisyns en ander taalwerskaffers is.
Tog het baie uiteraard in die publikasie self verander, selfs tussen die 10de uitgawe en hierdie 11de eeufeesuitgawe. Ons voorsitter, Gerhard van Huyssteen, was ná Van Rensburg aan die woord om die verskille uit te wys. Daar is baie nuwe reëls (meestal omdat daar twee nuwe hoofstukke, een oor leestekens en een oor trappe van vergelyking, bygevoeg is) en ook heelwat reëls wat verander het (byvoorbeeld oor die afstandskoppelteken). Dan het ons ook sowat 700 ou woorde geskrap en amper 2 000 nuwes bygevoeg. Die skrappings is byvoorbeeld woorde/terme waarvan die verwysingsraamwerk nie meer geldig is nie (soos st 6-klas) of woorde wat heeltemal ongebruiklik is (byvoorbeeld dartelheid, wat ons in geen ander bron kon opspoor nie). Nuwe woorde kan in ’n paar verskillende kategorieë geplaas word: 1) woorde uit die gebruiksvariëteite van Afrikaans (veral unieke benoemers) wat in die standaardtaal gevestig is, soos antie en poenankies; 2) woorde wat tegnologiese ontwikkelinge weerspieël, soos hommeltuig, meem en selfie; 3) woorde wat nuwe ontwikkelinge in die samelewing weerspieël, soos bewarea, hidrobreking en kleptokrasie; 4) leenwoorde wat in die standaardtaal gevestig is, soos venue en muffin; en 5) nuutskeppings wat in die standaardtaal gevestig is, soos nurk (die geluid wat seekoeie maak). Iets interessants waarop Van Huyssteen gewys het, is dat die woord auntie in die heel eerste AWS (1917-uitgawe) en ’n paar daarna was, toe verdwyn het en nou weer as antie ’n triomfantelike terugkeer in die 2017-uitgawe maak. Laastens is daar ook agter in die boek nuwe tekste, soos oor Oosterse geografiese eiename en elemente in die periodieke tabel. Dis regtig ’n volledig herbewerkte uitgawe.
Laaste op die seminaar se program was ’n paneelbespreking oor “Die rol van standaardtaal hedendaags” met Frank Hendricks, Tom McLachlan, Ernst Kotzé en Rufus Gouws as lede, en Wannie Carstens as die fasiliteerder. En dis juis in hierdie bespreking dat die spanning wat aan elke Taalkommissie kou, naamlik tussen behoudendheid (taalkundig gesproke, nie polities nie) en verruiming, so duidelik deurgeskemer het. Die Taalkommissie se mandaat is die beskrywing van die geskrewe vorm van die variëteit van Afrikaans (Standaardafrikaans) wat meestal in formele kontekste as hoëfunksiekommunikasiemiddel gebruik word (parafrase uit die voorwoord van AWS 11). Maar hierdie variëteit self is dinamies eerder as staties en word voortdurend gevoed deur die baie ander variëteite van Afrikaans. Die Taalkommissie (immers tog, soos ’n woordeboek, ’n produk van ’n bepaalde tyd en tydsgees) moet dus tred hou met enige veranderings, sonder om op ideologiese of ander grondslag verlei te word deur die aantrekkingskrag van nuwe woorde. In hierdie verband is die huidige en onlangse Taalkommissies aansienlik beter daaraan toe as baie van die vroeëres, weens die tegnologiese vooruitgang wat groot databasisse van geskrewe Afrikaans (koerante, tydskrifte, boeke, ens) elektronies aan ons beskikbaar stel as tekskorpora. Eerder as om te raai of persoonlike oordeel te gebruik, kan ons dus nuwe moontlike insluitings objektief beoordeel en aan die hand daarvan ons aanbevelings maak. En ons besef die verantwoordelikheid wat saamgaan daarmee om as hekwagters beskou te word – uit die seminaar en paneelbespreking blyk die ontsag waarmee elke oud- en huidige Taalkommissielid dié plig en dié voorreg aanvaar het duidelik.
Ek het op ’n persoonlike noot begin en wil ook só afsluit. My liewe seuntjie is outisties – selfs sy moedertaal is vir hom ’n vreemde taal wat met groot moeite, repetisie en dappere uithouvermoë verwerf word. Een van die gewaarwordinge wat my deur sy hortende proses bybly, is dat ons (as individue en taalgemeenskap) te maklik ons taal en uitdrukkingsvermoë as vanselfsprekend aanvaar. Elke woord wat geskep of vasgelê word, elke poëtiese of prosaïese uiting en sekerlik elke hoëre funksie wat deur die bloedsweet van vele taalstryders verwerf is, is ’n gawe en voorreg. Dit moet gekoester en beskerm word, ja, maar die voorregte moet ook ruimhartig gedeel word. Die oes is groot en die arbeiders min – daar is nie tyd of plek vir dwarstrekkery, laertrekkery of siniese uitbuiting deur mense wat eintlik maar deur roem, mag of geld (of ’n kombinasie van die drie) regeer word nie. Mag al die eerlike taalwerkers (onderwysers ingeslote) ryklik geseën word – elke Taalkommissielid dra julle belange op die hart.
The post Afrikaans se gideonsbende: die oud- en huidige Taalkommissielede se seminaar op 3 Augustus 2017 – persoonlike waarnemings appeared first on LitNet.