In die fantasie-genre is daar in elke verhaal gewoonlik die volgende elemente: ’n onwillige held wat eintlik maar net ’n lewe onder die radar wil lei; ’n charismatiese booswig wat bereid is om als voor hom te vertrap en die land te vernietig om sy doel te bereik; ’n geveg wat op die oog af fisies is, maar eintlik ’n stryd tussen Kwaad en Goed is; ’n epiese Soektog om die Bose teen te staan en soms, net soms, ’n bondgenoot uit ’n onverwagse oord, een wie se ware lojaliteite tot op die laaste oomblik nooit regtig duidelik is nie.
Die afgelope ruk voel Suid-Afrika asof ons deel van so ’n epog is. In die een hoek is Pravin Gordhan as die onwillige held, met sy bondgenote Makhosi Khoza, Mncebisi Jonas, Derek Hanekom. Die Geeste in hul hoekie is Kader Asmal, Oliver Tambo en Madiba. Aan die ander kant is Zuma, Mantashe, Dlamini en hul groepie, die Gekaaptes. Hulle Gees is die Guptas. Die stryd is vir die siel van Suid-Afrika.
Die Gordhan-kamp het integriteit aan hul kant, maar al meer en meer lyk dit asof die vuil taktieke, die gewilligheid van die Gekaaptes om elke en enige wapen te gebruik, die oorhand gaan kry. Integriteit alleen het nog nooit die stryd gewen nie.
Natuurlik, op enige epiese Soektog is daar goed wat langs die pad gebeur, wat struikelblokke of trapklippe kan wees. Die #GuptaLeaks, geskenk van die ridder joernaliste. Sewe mislukte mosies van wantroue. Zille-gate, waar ’n potensieel sterk bondgenoot se voete van klei ontbloot is.
En Juju, die orakel wat nie ernstig opgeneem was nie, maar wie se voorspellings keer op keer waar geword het. Juju, die onbekende faktor wat niemand kan beheer of voorspel nie. Juju, die vlymskerp lem wat sny deur murg en been, wat wond of reinig, soms al twee tegelyk.
In numerologie het elke getal groot betekenis. Die syfer 8 is die aankondiger van ’n begin, iets nuuts wat gebeur. En op die agste dag van die agste maand word die agste mosie van wantroue in die Gekaapte-in-chief, Zuma, aangehoor. Die bevolking is in oproer, optogte word dwarsoor die land gereël, chaos is aan die orde van die dag. Die lot van die land balanseer op ’n mespunt.
Die Gekaaptes het gedoen wat hulle kon, so ook die Ridders. Die volgende gedeelte hang af van die harte van die politici. Kies hulle eerbaarheid, of kies hulle korrupsie?
Want sien, dis die keuse. Dit gaan nie oor ’n persoon of ’n party nie, ten spyte van wat die Gekaaptes ons wil wysmaak. Die stryd is tussen Goed en Kwaad. Dis soos dit was aan die begin, maak nie saak watter oorsprongverhaal jy kies om te glo nie. Iewers moet die spies en die swaard neergelê word, want die finale stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen vorste van die donker. Die finale strydgrond is in die harte van feilbare mense.
In die stories wat ons lees, oorwin die Goeie altyd. Mense ondersoek hul harte en kom tot die slotsom dat die Goeie beter as die Bose is. Maar dit is altyd ’n stryd waar getalle saak maak. In hierdie geval is daar 400 LPs. Om oorwinning vir die Goeie te verseker, moet 201 kies ten gunste van die Goeie. Die party van die Gekaaptes het 248 lede, ’n geweldige getallevoordeel. Van die Gekaaptes sal vir die Goeie en teen hul eie belang moet stem. Dit veronderstel dat daar geen Gekaaptes aan die ander kant in die opposisiebanke is nie, ’n veronderstelling wat nie sonder meer gemaak kan word nie.
Soms is die werklikheid anders as die stories wat ons netjies toegedraai kry in kleurvolle geskenkpapier.
Sewe keer vantevore was ons hier. Sewe keer is ons teleurgestel. Sewe keer het die Gekaaptes gewys dat hulle hul eie belange stel voor die belange van die land en die volk. Sewe keer het ons gesien dat eerbaarheid nie genoeg is nie.
En tog het ons aangehou glo. In die vermoë van feilbare mense om die regte keuses te maak. In Reg. In Goed.
Keer op keer het ons volk gewys dat ons nie onderskat moet word nie. Ons oorwin wanneer dit lyk asof neerlaag die enigste moontlike uitkoms is. Toe almal in die aanloop na demokrasie ’n bloedbad voorspel het, het ons vrede gekies. Ons is die Reënboognasie. Keer op keer op keer bewys ons die kritici verkeerd.
Al het ons niks anders nie, is hoop die valuta waarin ons konstant handel.
En met haar besluit om ’n geheime stemming toe te laat, het Baleka Mbete daardie valuta ’n steroïedinspuiting gegee. Tree sy op in die beste belang van die land? Onwaarskynlik. Sy het politieke ambisie van haar eie, en as Zuma uit die pad is, is sy president, al is dit net vir dertig dae. Verder kan sy op die kaartjie van etiese regering haar eie kandidatuur vir ANC-president open.
Maak dit saak dat sy in eiebelang optree? Nie regtig nie. Sy is die onwaarskynlikste ridder, die een wie se lojaliteite altyd bevraagteken sal word, die anti-held met die bloedbevlekte hande. Sy is die een wat eiehandig die parlement van alle demokratiese beskerming ontneem het. Nou probeer sy dit teruggee. Haar redes maak nie saak nie. Wat saak maak, is dat sy die speelveld gelyk maak vir mense om te besluit vir die Goeie, teen die Kwaad, in een epiese veldtog.
Is dit nie gepas dat ’n vrou die gelykmaker in hierdie stryd is die dag voor Vrouedag nie?
The post 8/8/8: ’n Epog vir die nuwe Nuwe Suid-Afrika? appeared first on LitNet.