Regie: David Bickerstaff
Spanje met sy ou, roemryke kunstradisie het vier van die belangrikste kunstenaars van die twintigste eeu opgelewer: Antonin Gaudí, Joan Miró, Salvador Dalí en Pablo Picasso. Hul gevierde voorganger was Diego Velázquez (1599–1660), met Francisco Goya (1746–1828) as brugfiguur tussen die Ou Meesters en die skilders van die moderne era.
Hierdie dokumentêr handel oor die onlangse Goya-uitstalling in Londen se National Gallery en fokus spesifiek op Goya se portrette, wat ongeveer ’n derde van sy werk beslaan. Goya was ’n selfopgeleide kunstenaar wat eers op ses-en-dertig sy eerste opdragwerk van ’n Spaanse koninklike ontvang het, maar danksy toewyding en brandende ambisie is hy uiteindelik aangestel as die belangrikste hofkunstenaar van koning Charles III. Goya was onteenseglik ’n rojalis, maar tussen vele hofintriges deur, wat die latere invloed van die Franse Bourbon-koninklikes sowel as die Britte met die oorlog teen Napoleon Bonaparte insluit, kon hy altyd daarin slaag om sy posisie as onafhanklike en vrydenkende kunstenaar te behou.
Hoewel die uitstalling nie Goya se bekendste – en opwindendste – werk soos die Black Paintings en Saturn devouring his son ingesluit het nie (daarvoor moet jy na die Prado in Madrid gaan), gee die film insae in sy verbluffende tegniese vermoë en geniale uitbeelding van die bloedwarm ménse van sy portretstudies.
Kunsliefhebbers moet vinnig spring om dit te sien, want daar is net vier vertonings by SterKinekor se Cinema Nouveau-teaters: komende Saterdag, Sondag, Woensdag en Donderdag.
Sterre: 4
The post Filmresensie: EXHIBITION ON SCREEN: Goya – Visions of Flesh and Blood appeared first on LitNet.