Sêgoed van Ena Jansen Oor Soos familie: "Dit is verhale wat ek aangryp om ’n verhaal van afstand en verbintenis te vertel, met die huiswerker as stilfiguur, tolk en ambivalente kontakpersoon tussen wit en swart, ryk en arm, stad en platteland." (Netwerk24, 17 Mei 2016) Wat was vir Ena die belangrikste aspek van die navorsing vir Soos familie en van die boek self? "Aanvanklik het ek gedink dat daar ’n groot stilte rondom bediendekarakters is, maar in stadsboek na stadsboek het ek ontsettend boeiende karakters teengekom. Selfs al is hulle rolle dikwels klein, is die teenwoordigheid van huiswerkerkarakters dikwels belangrike merkers van vrese in verband met identiteit. Tog word bitter min aandag aan hulle gegee in die kritiek." (Onderhoud met Naomi Meyer op LitNet) Of Afrika- en Afrikaanse letterkunde besig is om uit te sterf en of daar ’n tekort aan boeke in hierdie tale is: "Both African and Afrikaans writers write a lot. It is important that African writers be heard – to cover more ground from time when old literature was dominant to new where there are important opportunities and obligation to write." (Free State News, 16 Oktober 2015) "My message to budding writers is that they must listen to the writers such as author of native nostalgia, Jacob Dlamini, and revered author and professor, Njabulo Ndebele. And they must keep a diary of their daily activities. The everyday is important, write about the experiences of your family – literature is an important depository and archives of all these voices and experience." (Free State News, 16 Oktober 2015) "Soos familie is gebore uit ’n behoefte om die stories te vertel van mense wat dekades lank vir wit stedelinge – soos vir my – ’n brug was na 'die ander': ’n ander ras, ander taal, ander kultuur, ryk teenoor arm, voorstad teenoor township. Mense wat dikwels in die herinneringe beskryf word as 'soos familie'. Maar die woordjie 'soos’ spreek boekdele." (Rapport, 10 Mei 2015) Het Ena ooit ’n liefde/haat-verhouding gehad met Suid-Afrika of met Afrikaans? ’n Baie twyfelagtige: “Hmmm, nee-ee …” lei Jansen se antwoord in. “Ek was baie sterk teen apartheid gekant. Dis hoekom ek destyds nie teruggegaan het nadat ek my studie aan die Universiteit van Utrecht voltooi het nie. Al my kollegas wat saam met my studeer het, het teruggegaan, maar ek wou nie. Totdat ek ’n tydelike pos by Wits gekry het. In daardie tyd was ek saam met Johannesburgse vriende baie aktief in die politiek en kon ek ’n bydrae lewer.” (Onderhoud met Carina van der Walt op LitNet) Ervaar sy tekens van vernederlandsing in haarself? “Ek het absoluut vernederlands, maar ook definitief Afrikaans gebly. Dis lankal dat ek nie meer dink ‘óf ... óf’ nie, maar ‘én ... én’. As ek hiér is, verlang ek Suid-Afrika toe, maar as ek daar is, verlang ek nie eintlik terug Nederland toe nie. Kyk, ons woon fantasties in Amsterdam in ’n heerlike woning digby die Rijksmuseum. Ek kon nie vir ’n lekkerder plek vra om te bly nie. Ons sal maar sien waar ons ons later wil vestig. Dis nie die tipe vraag waaroor ek definitiewe uitsprake kan maak nie.” (Onderhoud met Carina van der Walt op LitNet) |
Gebore en getoë
Ena Jansen en haar tweelingsuster Christine is op 18 Maart 1951 in die hospitaal op Estcourt in Natal gebore.
Haar pa was ’n boerseun van die plaas Vlakwater in die distrik Viljoenskroon in die Vrystaat. Hy is na Stellenbosch om teologie te gaan studeer en daar het hy vir Ena (Francina) Myburgh, toe ’n skoolmeisie aan die Engelse meisieskool Rhenish, ontmoet. Ná skool het sy spraak- en dramaklasse in Kaapstad by die alombekende dosent Rita Maas geneem.
In Desember 1949 is hulle getroud en het die bloedjong predikant met sy jong bruid Natal toe vertrek, waar hy sy predikantsloopbaan begin het by die gekombineerde gemeente van Colenso (die kragstasiedorp) en Winterton aan die voet van die Drakensberge. Die tweeling is in Estcourt gebore omdat dit die naaste dorp met ’n hospitaal was.
Toe Ena en haar suster sewe jaar oud was, het die gesin na Utrecht in Noord-Natal verhuis waar haar pa vier jaar lank predikant was voordat hulle na Durban getrek het. Vanaf standerd 3 (vandag graad 5) was hulle in die Laerskool Port Natal en vanaf standerd 6 (graad 8) na die Hoërskool Port Natal. Christine was hoofmeisie van albei skole. Die jare in die klein dorpies sowel as dié in die stad was belangrik in Ena se ontwikkeling.
Ena vertel aan LitNet dat hulle as kinders baie bevoorreg was. Omdat hulle pa kapelaan van die destydse Suid-Afrikaanse Polisie was, was hulle nie so in die openbare oog soos hulle sou gewees het indien hulle in ’n tradisionele pastorie grootgeword het nie: "In die groot stad kon elkeen op haar eie manier ontwikkel."
Haar ma was ook nie ’n tradisionele predikantsvrou nie. Bo en behalwe dat sy haar eie ateljee gehad het en spraakklasse gegee het, het sy ook vir die destydse Naruk se toneelgeselskap toneel gespeel en was sy ook deel van baie radiodramas. Sy het baie wyd gelees en was met baie mense in die kunste bevriend. As kinders het die twee dogters gereeld saam met hulle ouers na toneelstukke en musiekopvoerings in Durban gegaan, en in daardie jare was daar baie, ook met internasionale kunstenaars. Haar ouers was bevriend met die bestuurder van die Alhambra-teater en hy het baie maal kaartjies vir die Jansen-gesin gereël.
Ena vertel verder aan LitNet: "Verder het my ma al die boeke van die nuwe skrywers onmiddellik gekoop: Leroux, Brink, Breytenbach, Ingrid Jonker – van standerd 6 se kant het ek alles gelees en is nooit afgeraai of ontmoedig nie. Ook was my ma baie lief vir Elisabeth Eybers, ook vir Audrey Blignault, en alle Engelse skrywers en natuurlik Shakespeare was op haar boekrakke.
"My oupa en ouma het in Durban kom aftree nadat hy jare lank Standard Bank se bestuurder op Darling in die Swartland was. My ma was ’n enigste kind en ons het baie oor en weer met my oupa-hulle gekuier. My ma het eers begin studeer toe ons ook universiteit toe is: filosofie en kommunikasiekunde. Sy het ’n hele paar jaar by Unisa en toe op Potch klas gegee. Ons was altyd ’n hegte gesin en dit het ’n groot invloed op my en my sussie gehad. Hulle eie professionele lewens het sekerlik vir ons albei ook baie selfvertroue gegee om ons eie ding te doen."
Ena onthou dat haar Afrikaanse letterkunde-onderwysers ’n baie groot rol in haar vormingsjare gespeel het . Sy onthou veral vir Louise Combrink, wat ook ’n groot vriendin van Ena se ma was en later met die taalkundige Johan Combrink getroud is. Sy het hulle geïnspireer om wyd te lees, iets wat Ena reeds gedoen het.
"Op skool was ek ook al dol oor geskiedenis. Ek het byvoorbeeld so ’n Nuusbode-boek wat dr Anna Böeseken saamgestel het, verslind. Dit was in ons boekrak. Ek was mal oor die ekstra feitjies wat ek teëgekom het in die koerantberigte waaruit die Nuusbode saamgestel is en ek dink nog steeds dit was ’n uitstekende manier om ’n oog en oor te kry vir die meer ‘gewone’ nuus en dit te betrek by groter gebeure. Hierdie boek het my ook in die rigting van joernalistiek gestuur. Op skool en tydens my eerste jare op universiteit was ek vas van plan om ’n joernalis te word. Ek was op allerlei skool- en universiteitskoerante en tydskrifte se redaksies."
Ena matrikuleer in 1968 aan die Hoërskool Port Natal.
Verdere studie en werk
Ná skool is Ena na die Universiteit Stellenbosch waar sy haar ingeskryf het vir ’n BA-graad met Afrikaans-Nederlands as hoofvak.
Oor haar universiteitsjare brei Ena ’n bietjie uit: "Ek het met fassinasie na die ou professore WEG Louw en DJ Opperman gekyk en geluister. En eintlik het ek naelskraap deur my BA-jaar gekom omdat ek meer op Bikini Beach (in Gordonsbaai) rondgelê as geswot het. Maar gelukkig het ek gelyk graad gekry saam met my sussie en kon ek inskryf vir Afrikaans en Nederlands Honneurs. Ek het seker nog nooit so hard gewerk as daardie jaar nie. Alles het op sy plek begin val.
"Ek was ook ’n student-assistent en het in absoluut alles begin belangstel, ook baie teater toe gegaan, veral na die Space in Kaapstad waarnatoe ek al van my 2de jaar saam met my goeie vriendin Annelize gegaan het. Ons het dan by haar neef Coert Smit gebly wat langs die groen moskeetjie in Langstraat ’n woonstel gehad het.
"Verder is ek met verloop van tyd ook na formeler dinge genooi, soos na die Louws op hulle plasie ‘Sondraai’ waar ek verstom was oor die ongelooflike skilderye aan hulle mure van mense soos Irma Stern en Maggie Laubscher. Ek was ook ’n paar keer by die Oppermans tuis – groter verskille as tussen dié twee huishoudings kon jy jou kwalik voorstel! WEG Louw het my tydens my MA-jaar gevra om vir ’n semester lank sy klasse waar te neem; ’n groot eer, en dis waar die byna vanselfsprekendheid ontstaan het dat ek daarna in Nederland sou gaan studeer.
"Ek het my MA-skripsie oor Karel Schoeman (Die karakterisering van hoofkarakters in die verhalende prosa, met verwysing na die werke van Karel Schoeman) wel by DJ Opperman geskryf. Ingrid Winterbach en ek het sy aan sy in woonstelletjies in Concord gewoon en aan ons skripsies gewerk. Tóé al het ek net gewéét sy gaan ’n groot skrywer word. Haar briewe was ongelooflik. En sy’t die mooiste tekeninge op so ’n geverfde Masonite bord gemaak – enigiets van goggas tot blomkole. Ons het elke dag maalvleis en groenboontjies geëet. En daai dae nog baie gerook. As ek nou daaraan terugdink – ’n wonderlike bestaan so tussen die hoogste toppe van Kerkstraat se ou platane. Met Simonsberg tussen die blare in die verte en die Moederkerk se toring en klokke net so regs van ons.” (Direkte e-poskorrespondensie met Ena Jansen)
Voordat Ena met haar MA-verhandeling oor Karel Schoeman sou begin, het sy vir twee periodes van ’n paar maande by Die Burger as verslaggewer gewerk. Die eerste keer (Desember 1972 tot April 1973) het sy saam met Cas van Rensburg en Paul Alberts in die kunsredaksie gewerk. Victor Holloway, die redakteur, was lank siek en Ena is as 21-jarige aan die diep kant ingegooi, vertel sy aan LitNet.
Vir haar was die hoogtepunt die Sestigerweek aan die Universiteit van Kaapstad waaroor sy verslag moes lewer: "Ek het elke dag langs Rykie van Reenen aan die perstafel gesit – ek en sy het albei by my tannie en haar goeie vriendin Alba Bouwer in Oranjezicht gebly. Die aand toe Breyten sy 'Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal'-toespraak gehou het, sal ek nooit vergeet nie. Hoe hy vir my die uitgeskryfde toespraak oor Die Burger se politieke joernalis se kop aangegee en ek in die koerant se Volksie afgejaag het met De Waalrylaan om die storie te gaan tik in Keeromstraat – met Piet Cillié wat oor my skouer loer. Dit het uiteraard die oggend se voorblad gehaal.
"Kort voordat ek in Augustus 1974 in Nederland gaan studeer het, het ek weer vir ’n paar maande (April 1974 tot Julie 1974) by die koerant gewerk. Ingrid Winterbach en Max du Preez en ek was toe saam in die algemene kantoor, Dene Smuts en Annelize van Rooyen was ook daar, Antjie Krog het ook begin. Dit was tye wat my in alle opsigte nuuskierig na die wêreld gemaak het."
In 1974 vertrek Ena vir die eerste maal na Nederland waar sy in 1978 haar LittDocts in teoretiese en vergelykende letterkunde (cum laude) aan die Rijksuniversiteit Utrecht in Nederland verwerf.
Terwyl sy in Nederland studeer het, was sy buitelandse korrespondent vir Suid-Afrikaanse koerante. Vanaf 1977 tot 1978 was sy assistent vir JJ Oversteegen aan die Instituut voor Theoretische Literatuurwetenskap aan die Rijksuniversiteit in Utrecht. Nadat sy haar doktorsgraad behaal het, werk sy as biblioteekassistent by die Suid-Afrikaanse Instituut in Amsterdam (1979–1981). Sy was ook vryskutverslaggewer en -resensent vir onder ander De Volkskrant, asook tydelike redakteur by Elsevier Uitgewers in Amsterdam en ook by Anthos Uitgewers in Baarn. Voor haar terugkeer na Suid-Afrika in 1984 was sy tydelike lektor in Afrikaans aan die Departement van Neerlandistieke Studies aan die Universiteit van Keulen in Duitsland.
Benewens haar werk as vryskutjoernalis het sy ook in daardie jare verder gestudeer en baie in veral Europa gereis.
In Junie 1984 aanvaar Ena ’n pos as dosent in Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy is gevra om aansoek te doen vir Anita Lindenberg se pos nadat Anita oorlede is. "Eintlik wou ek glad nie terugkom Suid-Afrika toe nie; ek het toe al ’n paar keer uitnodigings om byvoorbeeld vir André Brink in te val in Grahamstad en aansoek te doen vir iets op Stellenbosch sonder enige wroeging van my afgeskuif. Maar Johannesburg was ’n nuwe uitdaging en my ouers het aangehou dat ek tog moes probeer terugkom; al kom ek net vir ’n jaar – ek kon mos altyd teruggaan Amsterdam toe as ek regtig wou. Ek het my woonplek daar nog lank onderverhuur, maar later met my hele hart gekies vir Johannesburg.
"Dit was ’n uitstekende beslissing. Die departement was fantasties: die hoof was Ernst Lindenberg en van die ander kollegas was John Miles, Ampie Coetzee, Gerrit Olivier, die taalkundiges Edith Raidt en Anna Coetzee. Marlene van Niekerk, wat ek al goed geken het van ons Amsterdam-dae, het later bygekom. Juis oor die politiek wou ek wegbly uit Suid-Afrika, maar juis die politiek het dit so belangrik gemaak om terug te wees.
"Ek was in daardie tweede helfte van die moeilike jare 80 intens betrokke by die End Conscription Campaign wat veral met Afrikaanse posters (‘Troepies uit die Township’) ’n breër bewussyn wou skep. Ons het ook ’n Afrikaanse Demokrate-groep gehad en ek was ook betrokke by die Black Sash. En natuurlik was dit die jare van die Vrye Weekblad – toevallig het ek én in die allereerste én in die allerlaaste VW ’n resensie gehad. Ook by Die Suid-Afrikaan en De Kat se boekeblaaie was ek baie betrokke – dit was die jare van baie resensies skryf en voortdurend op ’n soort gespanne koord loop.
"Saam met vriendinne Marlene van Niekerk, Marianne de Jong, Irna van Zyl en Hanlie Malan het ons as reaksie op die noodtoestand maande aan ’n kabaret geskryf en geoefen – dis net een aand in die Black Sun in Hillbrow opgevoer – met die mees waansinnige en uittartende tekste. Een reël wat my bybly is ‘Ou Magnus lig sy rok; Tannie met die rooi, tannie met die rooi, tannie met die rooi rokkie’! Ralph Rabie het toe ook pas opgetrek Johannesburg toe en by Irna-hulle in die huis gebly. Hy was die enigste ou wat klavier kon speel – en só het hy by ons betrokke geraak. Later het hy Hillbrow toe getrek en aand na aand het ons in sy leë woonstel geoefen. Kort ná ons kabaret het hy sy werk by Rapport opgegee en voltyds musiek begin maak en as Johannes Kerkorrel beroemd geword. Op Eet Kreef (1989) is van die liedjies wat ons vir ons kabaret gemaak het, onder andere ‘Ou Ou lied van Afrika’.”
Ena was lektor tot 1992 en daarna tot 1998 senior lektor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan Wits. Van 1999 tot Januarie 2001 was sy medeprofessor en vanaf 1999 ook hoof van die departement.
In 2001 is Ena aangestel as "universitaire docent" by die Vakgroep Nederlandse Letterkunde aan die Vrije Universiteit te Amsterdam. Sy het in Februarie 2001 daar begin werk. 70% van haar tyd sou aan onderrig bestee word en die ander 30% aan navorsing. Sy sou ook ’n lid wees van die Onderzoekschool Letterkunde (Normen en waarden).
In 2002 is die leerstoel Suid-Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam heringestel nadat dit in die 1970's, toe NP Van Wyk Louw professor was, afgeskaf is. Ena het die afskaffing self beleef toe sy daardie jare in Nederland studeer het. In ’n onderhoud met haar skryf Gawie Keyser (Die Burger, 10 April 2003) dat die herinstelling van die leerstoel ’n historiese gebeurtenis is. Hy was ook van mening dat dit ’n "hoogtepunt is van die normalisering van kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland".
Ena is aangestel as "bijzondere hoogleraar Zuid-Afrikaanse letterkunde" aan die Universiteit van Amsterdam. Sy vertel aan Keyser dat die nuwe leerstoel behels dat sy ook ander Suid-Afrikaanse letterkunde bo en behalwe Afrikaanse tekste sal behandel: "Aangesien die leerstoel by die vakgroep moderne Nederlandse letterkunde hoort, sal die nadruk tog op Afrikaanse tekste val. In lesings praat ons Afrikaans en Nederlands, maar ek verduidelik wel die meeste dinge in Nederlands.
"Die belangstelling onder die studente is groot. Die volgende reeks het as tema O wye en droewe land. Dit handel oor die verhouding tussen Suid-Afrikaanse skrywers en die landskap. (...)
"Onder jong mense is daar minder belangstelling in Afrikaans en Nederlands as in my tyd. Die venster op Europa is nie meer so belangrik nie. Die venster op Amerika het belangriker geword. Ek vind dit jammer, maar vergeet nie dat daar ook ’n globalisering van Afrikaans plaasvind nie. ’n Mens kan seker daarby baat vind deur juis nie ’n laertrek-mentaliteit aan die dag te lê nie. Jy kan nou sonder enige skroom Afrikaans oor die wêreld propageer. Dis ’n heerlike tyd om met die leerstoel te begin.
"Die ontspanne atmosfeer van die laaste jare het mense daarvan bewus gemaak dat daar wel iets soos ’n gemeenskaplike taal bestaan. Die ywer van Nederlandse studente om ou tekste te lees tesame met hul perspektiewe op moderne Suid-Afrikaanse tekste is beslis ’n bate. Hul kennis van ou Nederlands is baie beter as dié van Suid-Afrikaanse navorsers.
"Dit was vir dosente hier lank onnatuurlik om hul belangstelling in Afrikaans te onderdruk. Ek het soveel interessante gesprekke met mense wat vertel dat hulle oor jare interessante werk oor Afrikaans en Nederlands in hul laai gebêre het. Nou is alles weer moontlik.
"Ek gaan nou hier bly. Ek gaan wel dikwels terug na Suid-Afrika, en sal seker nie meer Nederlands word as wat ek is nie. En die stad is nou anders, meer wêrelds. Dit laat ’n mens tuis voel."
Ena vertel aan LitNet oor haar jare in Amsterdam: "Om as ‘bijzonder hoogleraar’ Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Amsterdam te kon werk was vir my heerlik, byna 15 jaar lank van 2002 tot September 2016. Ek het ook nog vyf jaar lank promosiereg en sal dus nog betrokke bly. En ek is ontsettend lief vir die Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht 141 – ’n plek wat nou weer pragtig gemoderniseer en gerestoureer is. Corine de Maijer wat die bibliotekaris daar is het my deur my jare as hoogleraar in soveel opsigte gesteun, ook die ander mense daar. Die ZAH is naas ons eie huis naby die Rijksmuseum aan die Weteringschans my tweede tuiste in Amsterdam.
"Alhoewel ek vanaf 2001 ’n voltydse pos aan die VU by eers Nederlandse letterkunde en later die afdeling Literatuur en Samenleving gehad het, het ek enorm baie van my tyd aan die leerstoel-aktiwiteite gewy. Om in Amsterdam so betrokke by Afrikaans en Suid-Afrika te kon wees, was ’n tuiskoms, dit het wat werk betref my bestaan in Nederland nóg sinvoller gemaak as wat dit al was nadat ek agter my hart aangetrek het soontoe. En omdat my ‘partner’ Pamela Pattynama ook ’n bijzonder hoogleraar in Nederlands-Indiese letterkunde aan die UvA geword het, kon ons ook baie kongresse en onderwysreise saam aanpak na lande soos Indonesië (waarheen sy steeds dikwels gaan), Suriname en Curacao." (Direkte e-poskorrespondensie met Ena Jansen)
Vanaf 2011 het Ena ’n baie belangrike rol gespeel om te keer dat die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam nie verkoop word nie. Haar aksies het tot gevolg gehad dat Naspers by Zuid-Afrikahuis betrokke geraak het en ’n 50%-aandeel daarin verkry het en onderneem het om die gebou te restoureer.
Ena het in ’n toespraak by die Afrikaanse Taalmuseum in Augustus 2015 gesê dat sy elke jaar 20 of selfs tot 30 studente het wat die kursusse in Suid-Afrikaanse letterkunde bywoon en daarmee krediete vir hulle graadkursusse verdien. "Wanneer ek volgende jaar uittree, sal daar byna 500 Nederlandse studente wees wat op dié manier ’n wye en intensiewe kennis opgedoen het in die Suid-Afrikaanse konteks en tekste waarin dit uitgedruk word. My promovendi is veral Nederlanders, maar ook ’n uitstekende Russiese vrou, Ksenia Robbe, wat oor moederskap in die Suid-Afrikaanse letterkunde gepromoveer het. Ook Suid-Afrikaners kom soms Amsterdam toe. Ek is byvoorbeeld baie trots daarop dat die jong Hertzogprys-wenner Tertius Kapp by my sy proefskrif aan die skryf is."
In Junie 2016 moes Ena op die ouderdom van 65 jaar en ses maande aftree uit die Nederlandse akademiese wêreld en sy is sedert September 2016 met emeritaat. "Dit bied ontsettend baie herwonne vryheid: ek voel byna weer voltyds soos ’n student, vryskut. Ek kan kies of ek op die strand rondlê, reis, of navorsing doen. En ek het baie nuwe planne – die grootste werk is eers om my boek Soos familie in Engels te vertaal. Dit sal deur Wits University Press uitgegee word."
Ena was lid van die volgende verenigings: Maatschappij der Nederlandse Letteren (MNL); Van Riebeeck Vereniging (VRV); Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV); Suid-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN); Internationale Vereniging voor Neerlandistiek (IVN) en Suid-Afrikaanse verteenwoordiger op die uitvoerende bestuur vanaf 1997 tot 2000; Suid-Afrikaanse Vereniging vir Algemene Literatuurwetenskap (SAVAL) en Afrikaanse Letterkundevereniging (ALV).
Sy was ook aan die ontvangkant van menige beurse, onder andere die Elisabeth Eybers-beurs in 1998 wat deur die Albert Wessels-trustfonds bestuur en deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geadministreer word.
Benewens ’n paar blokboeke en tesisse word Ena se eerste boek, Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam in 1995 uitgegee. Hierdie boek is deels gegrond op Ena se doktorale proefskrif, “Elisabeth Eybers se ’nederlandse’ bundels 1962–1991”. Dit is in 1998 ook in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens en by die bekendstelling van die Nederlandse uitgawe by die Boekhandel Van Rossum was Eybers self aanwesig.
In sy toespraak het Pierre Dubois, ’n Nederlander wat ’n Eybers-kenner is, klem gelê op die besonderse rol wat sy in beide die Nederlandse en die Suid-Afrikaanse letterkunde gespeel het. "Haar Afrikaans was egter nooit vir Nederlandse kritici ’n rede om haar werk as ontoeganklik te beskou nie."
In Ena se toespraak by die bekendstelling het sy gesê: "Daar is wel ’n afstand tussen Eybers en die Nederlandse lesers, maar dit verhoog net die estetiese waarde van die poësie. Liewe Elisabeth, jy bly verbonde met Afrikaanse lesers, ondanks die afstand."
Die eerste vyf hoofstukke van die boek behandel wat Roy Pheiffer in Insig (Junie 1996) "die eksterne geskiedenis van die digter" noem: haar jeugjare en verblyf in Johannesburg, haar besluit om na Nederland te verhuis en haar toetrede tot die Nederlandse letterkundige wêreld, asook die trauma van aanpassing by ’n ander land met al sy nuwe uitdagings.
Pheiffer gaan voort: "Hoofstuk ses sal vir baie lesers die hoofbelang van die boek wees, en nie sonder rede nie, want hier word oor 75 bladsye aandag gegee aan die mens agter die boek. Uit die seldsame onderhoude wat Elisabeth Eybers toestaan, het Ena Jansen stukke wat met mekaar saamhang, gerangskik om tematies sinvolle onderafdelings te vorm , sodat dit ’n deurlopende kripto-biografie vorm, waarin belangrike sake aan die bod kom en die digter se persoonlikheid op ’n simpatieke en sensitiewe manier belig word. Rustig; en weer sonder sensasionalisering. En eerlik."
Hoofstukke 7 tot 10 bevat die meer tegniese aspek van die boek, waarin Jansen ’n ondersoek doen na Eybers se tekste om uit te vind wat die essensie was van haar digwerk wat sy beslag in Nederland gekry het. Vir Pheiffer is Afstand en verbintenis ’n bydrae tot die Afrikaanse literatuurgeskiedenis oor ’n hooffiguur oor wie daar nog nie geskryf is nie.
Op Vrouefokus wat op 10 April 1996 op die destydse Afrikaans Stereo uitgesaai is, het Chris van der Merwe gesê dat Afstand en verbintenis vir hom ’n baie lekker leeservaring was. "Dis asof Elisabeth Eybers saam met die boek my huis binnegekom het as ’n gas en ’n vriendin. Dis verpligte leesstof vir elke liefhebber van Elisabeth Eybers en van die Afrikaanse literatuur."
Zandra Bezuidenhout (Skrywers en boeke op Afrikaans Stereo, 16 Mei 1996) sê dat Afstand en verbintenis ’n pragboek is en ’n "besondere verskynsel". "Ek hou veral van die toon en aanslag van hierdie boek: sonder om aan vakkundige integriteit in te boet, vind die skrywer ’n vriendelike, warm stem waarmee sy haar besondere Eybers-verhaal vertel. En tog bly sy ’n gedissiplineerde bemiddelaar. Die leser wat hier op soek is na die sensasionele, of na ’n sentimentele soort heldeverering, sal dit nie vind nie. Dit lyk inderdaad of Jansen daardie selfde balans tussen uiterstes bewerkstellig as wat Eybers so opvallend in haar poësie bereik."
Lucas Malan (Rapport, 12 Mei 1996) noem dit ’n "praguitgawe" en ’n "besondere huldeblyk aan hierdie fassinerende figuur en haar digterskap". JC Kannemeyer het in sy bespreking (Die Burger, 1 Mei 1996) Afstand en verbintenis as "een van die belangrikste studies wat onlangs gepubliseer is" beskryf. Vir hom is dit die omvangrykste en mees insiggewende studie wat daar nog oor Eybers en haar werk verskyn het. Wat ook vir hom belangrik is, is dat daar baie belangrike biografiese besonderhede, asook ander inligting, in die teks is wat belangrik is om Eybers se werk te verstaan.
Ena se intreerede by haar aanvaarding van die pos van besondere hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde is in 2004 by Vossiuspers van die Universiteit van Amsterdam gepubliseer onder die titel “Eva, wat sê hulle?" Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste. Madeleine van Biljon het in haar bespreking (Beeld, 12 Julie 2004) Ena Jansen as ’n "top-uitvoerproduk" beskryf. Vir haar is Eva fassinerend, veral as die rol wat sy sedert Jan van Riebeeck in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het, in ag geneem word.
Ena se werk as hoogleraar in Nederland het haar baie besig gehou, maar nie so besig dat sy nie tyd vir haar navorsing vir haar volgende projek gehad het nie. In 2015 word haar boek Soos familie: stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste by Protea Boekhuis gepubliseer. Op LitNet noem Naomi Meyer dit ’n "verkenning van die rol en betekenis van ongeveer ’n honderd huisbediendekarakters in stadsboek uit ’n groot deel van die twintigste eeu en daarná".
Ena vertel aan Naomi Meyer meer oor die navorsing rondom hierdie onderwerp. Die besluit om navorsing oor ’n spesifieke onderwerp te doen, het gewoonlik ’n persoonlike oorsaak. "Wat hierdie boek betref, is dit Nomahobe Cecilia Magadlela, wat 25 jaar lank op Donderdae in my huis in Melville gewerk het. Wat ek van haar lewe leer ken het, het my bewus gemaak van die geweldige spanning waaronder vroue leef wat in die stad woon, maar wat steeds noue bande behou met ’n landelike gebied. Ek het ook al hoe meer besef dat as dit nie vir haar was nie, sou ek niks persoonliks van hierdie wêreld geweet het nie. Steeds is ons betrokke by mekaar, selfs al woon ek die grootste deel van die afgelope jare in Amsterdam en selfs al is sy laas jaar met pensioen 'huis toe'. Eers toe sy afkondig dat sy wil aftree, het ek my huis verkoop. In Januarie het ek vir Cecilia in die Transkei gaan kuier: dit was ’n groot ervaring om haar by haar eie huis naby Cofimvaba mee te maak; om uiteindelik saam met haar rond te loop in die dorpie bestaande uit tipiese heldergekleurde rondawels maar ook moderner huise teen die groen heuwels; die plek wat al die jare die spil van haar bestaan is."
Vir Ena is die sentrale tema van die boek die volgende: "Skrywers en kunstenaars beeld uit wat hulle waarneem en hierdie voorstellings beïnvloed dan weer die manier waarop ons na 'die werklikheid' kyk en hoe ons ons gedra. Stuart Hall praat van die 'cycle of representation', die sirkelgang van uitbeelding. As Kobie Malan in ’n Maasdorp-boek die bediendes hiet en gebied, vind jy dit normaal juis omdat die skrywer dit so normaal aanbied. Ontwrigtende stories, geskryf deur byvoorbeeld Elsa Joubert, Kopano Matlwa, Zukiswa Wanner en Imraan Coovadia, is egter noodsaaklik omdat dit ons anders laat kyk na die per definisie troubled verhouding tussen werkgewer en huiswerker. Stories soos 'Agterplaas' kan ons leer om ons eie bevoorregting te bevraagteken en om opnuut na te dink oor menswaardigheid en medemenslikheid oor kleur- en klasgrense heen. Soos familie probeer om hierdie moeilike kwessies so onderhoudend moontlik aan die orde te stel." (Op BooksLive)
Die UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk in Afrikaans is in 2016 vir Soos familie toegeken. By die ontvangs van die prys het Ena gesê: "Onlangs het ’n Nederlandse kritikus geskryf: 'Goede non-fictie behoort tot de literatuur: ook al is er geen jota aan verzonnen.' Volgens die kritikus kan goeie niefiksie net soos ’n goeie roman ’n soektog wees wat die grense van die ek oorskry. Dit kan ’n mentaliteitsverandering teweeg bring en kan die leser ánders na bekende dinge laat kyk.
"Die keurpaneel vir die UJ-prys vir skeppende skryfwerk het vanjaar drie niefiksieboeke en twee romans vir die kortlys gekies. Dat julle my boek as wenner gekies het, ’n niefiksieboek waarin geen jota versin is nie, was vir my oorstelpende nuus. Dat julle selfs baie dieselfde kriterium as die Nederlandse kritikus hanteer, het my verras en verskriklik bly gemaak. Julle skryf immers oor Soos familie, en ek haal aan uit die kort keurverslag waarin die nuus van die pryswenners bekend gemaak is, dat Soos familie 'die Afrikaanse letterkunde sowel as die leser se bewussyn verryk, verruim en verdiep'. Dankie vir die oop gemoed waarmee julle Soos familie gelees het en gehoor het wat ek probeer sê. Dit het jare van lees gekos, van soek, van keuses maak, van kombinasies vind om die so bekende Suid-Afrikaanse verhaal wat ek wou vertel, so effektief en toeganklik moontlik oor te dra.
"Dat ek vanaand hierdie prys ontvang, beskou ek as ’n eerbetoon aan die vroue oor wie die boek gaan. Dis ’n eerbetoon aan al die vroue wat in weerwil van baie spanning tog hul kanse aangryp en in Johannesburg huiswerk doen. Dis ’n eerbetoon aan die vroue wat oor die drumpels van wit mense genooi word; in die eerste instansie omdat hulle werkkrag so gewens is, maar óók omdat hulle sulke belangrike vertrouenspersone is vir baie wit kinders, gesinne en alleenlopers. Dat hierdie verhouding uiters ambivalent is, dat daar voortdurend onderhandel moet word, besef ek steeds. Dis ’n verhaal met ’n lang geskiedenis. (...)
"Ek sou hierdie boek nie kon geskryf het as ek nie self in Johannesburg gewoon het en so intens in die stad se geskiedenis en die verhale van skrywers oor die stad begin belangstel het nie. Ook die feit dat ek self werkgewer van ’n huiswerker was, is van groot belang.
"Daarom wil ek afsluit deur die een persoon te bedank wat my sekerlik die meeste geïnspireer het om die boek hoegenaamd te kon bedink: Cecilia Nomahobe Magadlela, wat ’n kwarteeu lank op Donderdae in my huis in Tolipstraat hier naby op die grens tussen Melville en Westdene gewerk het. Sy is een van die duisende Oos-Kaapse vroue wat om den brode Johannesburg toe gemigreer het, 'with just a little bag' onder die arm om haar eie heil te soek, maar ook om te ontvlug aan ’n opgelegde huwelik. Sy is in die stad getroud met London Banda, ’n Malawiese tuinier wat ongelukkig al in 1997 aan ’n hartaanval oorlede is. (...)
"Soos familie is ’n boek oor Suid-Afrika, maar in sy hart is dit ’n boek oor Johannesburg. Oor vroue soos Nomahobe Cecilia Magadlela en hulle dikwels veels te niksvermoedende werkgewers wat deur middel van die opteken en lees van ware én literêre stories tog kan probeer om iets meer te verstaan van die verstrengeldheid van ons almal se lewens. Baie dankie aan die Universiteit van Johannesburg dat julle vanjaar julle belangrike prys toeken aan Soos familie, dat julle Soos familie en sy verhaal wat onder meer so spesifiek oor Johannesburgse mense gaan respekteer en vereer."
Ena verduidelik aan Protea Boekhuis (op BooksLive) hoekom Soos familie vir haar so belangrik is en haar so na aan haar hart lê: "Die onderwerp het tot ’n aangrypende jarelange ontdekkingstog deur die Suid-Afrikaanse letterkunde gelei en my laat besef dat ’n vergelykende oorkoepelende benadering van literatuurgeskiedskrywing moontlik is waarin temas sentraal staan: 'oral history'-onderhoude, outobiografiese vertellinge en ernstiger letterkunde kan langs mekaar en deurmekaar ondersoek word. Alles vorm saam ’n argief van die gedeelde, maar veral verdeelde Suid-Afrikaanse leefwyse.
"Ek kon vrouekarakters wat vroeër so goed as geïgnoreer is, nou na vore skuif. Dit is ook die rede waarom onderafdelings van hoofstukke nie die titels van skrywers of boeke het nie, maar juis die huiswerker-karakters se name. Voorbeelde is Siena in Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet (1960), Adija in Elsa Joubert se verhaal 'Kaap' (1980), Faith Mbatha in Ingrid Winterbach se Landskap met vroue en slang (1996) en KC Mhaga in Eben Venter se storie 'Bettie' in Twaalf (2000).
"My passie vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis en stadsontwikkeling kon ek tydens die skryf van die boek kombineer met my liefde vir die letterkunde, en laastens, was dit belangrik om in die skryfproses my uitgangspunt bevestig te sien: dat huiswerkers vanweë hulle ambivalente posisie in die kontakgebied tussen ras en klas perfek geposisioneer is om belangrike tolke en vertalers in die Suid-Afrikaanse samelewing te wees: tussen ryk en arm, stad en platteland, wit en swart."
As Ena vyf huiswerkerfigure kan uitsonder wat haar geïnspireer het om Soos familie te skryf, is dit (a) "Nomahobe Cecilia Magadlela (gebore 1950) wat oorspronklik van die Oos-Kaap is en nou weer terug in Cofimvaba met pensioen nadat sy byna 40 jaar lank in Johannesburg gewoon en gewerk het. Sy het 25 jaar op Donderdae my Melville-huis en sy mense versorg; (b) Ou-Melitie – Alie se dierbare oppasser in Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas (1955); (c) Klein Julia – die bekkige 'Joh’burg-nuffie' oor wie Minnie Postma ’n skets geskryf het in Ek en my bediende (1955); (d) Liesbeth – die vrou oor wie Barbara Fölscher ’n aangrypende kortverhaal 'Kinders grootmaak is nie pap en melk nie' in haar bundel Reisgenoot (2002) geskryf het; (e) Eve – wat in 1992 vir die eerste keer in die Mail & Guardian verskyn het in die Madam & Eve-strokies; altyd het sy ’n weerwoord en is sy ’n hoopgewende ikoon van verandering; en dan natuurlik Poppie Nongena (Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert). En Agaat."
In Die Burger van 18 Julie 2015 skryf Jean Meiring dat Soos familie, Ena se meditasie oor huiswerkers, "meesleurend en monumentaal" is. Vir hom het dit iets te sê vir alle Suid-Afrikaners, maar veral vir daardie geslag wit Suid-Afrikaners "vir wie die nederige blikbeker en dikwels gekraakte beker onder die wasbak gemeenplaas was".
Meiring meen dat Ena Jansen gelukkig nie baie sentimenteel in haar benadering was nie en dit is ook nie ’n "waarheids-en-versoeningstranedal" nie. "Tussendeur die mildelike gebruik van tegniese begrippe, soos fokalisator en alsiende verteller, is Jansen se betoog maklik om te volg en aangrypend. (...) Soos familie is ’n gróót en onomstootlike prestasie."
Gerrit Olivier sluit sy bespreking van Soos familie op LitNet as volg af: "Een van die dinge wat literêre ontleding belangrik maak, is die vermoë om ’n mens opnuut te laat dink oor wat as vanselfsprekend geag is, om nuwe perspektiewe te open. Jansen verdien ’n wye leserskring vir die wyse waarop sy insiggewend, genuanseerd en met respek oor omstrede en emosionele aangeleenthede skryf sonder om ooit in sentiment te verval. Dit behaag my om ook te kan sê dat die uitleg en ontwerp van Soos familie, met ’n pragtige en vanpaste buiteblad en die insluiting van werk deur bekende kunstenaars, ten volle reg laat geskied aan die toewyding en sorg wat uit die teks self spreek. Protea Boekhuis se uitgawe toon dat akademiese en intellektuele boeke ook esteties voortreflik kan wees, en lekker om in die hand te hou."
Vir Ena is lees, reis, kunsgalerye en museumbesoeke hoog op haar lys van ontspanning, vertel sy aan LitNet. "Eintlik is konsentrasie en fokus op sigself so noodsaaklik dat dit vir my ontspannend is. En ek is baie lief vir rondry en die wêreld sien.
"Ek hou sowel van stede as die platteland. Swem in die Seepuntswembad is belangrik in die Kaap, terwyl fietsry in Amsterdam lekker én nuttig is. Koerantlees met sterk koffie by ’n vertroude plek ná ’n vroegoggendwandeling is sowel in Amsterdam as Kaapstad ’n voorvereiste vir ’n goeie begin van die dag. Ek werk verkieslik tuis, maar kan ook baie lekker in ’n koffieplek konsentreer. Met die klem op lekker én konsentreer. Ek het nie stokperdjies soos valskermspring of koekbak nie. Klim in die Bolandse berge en die Pireneë was vroeër hoog op my lys, nou stap ek graag op mooi plekke soos onlangs op Robberg."
In 2017 ontvang Ena ’n eredoktoraat van die Noordwes-Universiteit, asook die Prestasieprys van die Van Ewijckstigting.
Publikasies
Publikasie |
Die karakterisering van hoofkarakters in die verhalende prosa met verwysing na werke van Karel Schoeman |
Publikasiedatum |
1974 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Stellenbosch: E Jansen |
Literêre vorm |
MA-verhandeling |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
By fakkellig deur Karel Schoeman |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0949964883 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
’n Verkenning van aspekte van literatuurgeskiedskrywing – met spesifieke verwysing na dié van die Afrikaanse letterkunde. |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Utrecht: Rijksuniversiteit |
Literêre vorm |
Tesis, LittDocts |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Op ’n eiland deur Karel Schoeman |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Praktiese Nederlands. Saam met Gerrit Olivier |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
9780868742366 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Nederlandse taalkunde |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Inleiding tot De Metsiers deur Hugo Claus |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Elisabeth Eybers se "Nederlandse" bundels 1962–1991 |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand |
Literêre vorm |
PhD-proefskrif |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Amsterdam |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0627021352 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Biografies |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Nederlands 1998; vertaal deur Riet de Jong-Goossens |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
“Eva, wat sê hulle?”: Konstruksies van Krotoa in Suid-Afrikaanse tekste: rede uitgesproken bij de aanvaarding van het ambt van bijzonder hoogleraar in de Zuid-Afrikaanse letterkunde aan de UvA op 11 April 2003 |
Publikasiedatum |
2003 |
ISBN |
9056293060 (sb) |
Uitgewer |
Amsterdam: Vossiuspers UvA |
Literêre vorm |
Intreerede |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Ena Jansen as vertaler
- Hoogeveen, Jan: Briewe uit ou Transvaal. Kaapstad: Human & Rousseau, 1982 [ISBN 0798114525 (hb)]
Ena Jansen as samesteller
- Boer en Brit: Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Boere-oorlog. Saam met Wilfred Jonckheere. Pretoria: Protea Boekhuis, 1999 [ISBN 0620238313 (sb)] (Nederlandse vertaling 2001 deur Riet de Jong-Goossens en Ena Jansen)
- Eybers, Elisabeth: Uit en tuis: Afrikaanse verse uit Amsterdam. Saam met Hans Ester. Kaapstad: Human & Rousseau, 1995 [ISBN 0798133856 (hb)] (Nederlandse vertaling 2001)
- Lieve vrouw en kinders. Brieven van een Urker onderwijzer op zoek naar een toekomst in Zuid-Afrika. Baarn: Bosch & Keuning, 1983
Ena Jansen as redakteur
- Barry, Anna: Onse Japie: die Boere-oorlogdagboek van Anna Barry. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016 [ISBN 9781485306177 (sb)]
- Een rijke bron: over poëzie. Redakteur saam met Ad Zuiderent en Johan Koppenol. Groningen: Historische Uitgeverij, 2004 [ISBN 9065541934 (sb)
- My ma se ma se ma: Zuid-Afrikaanse families in verhale. Saam met Riet de Jong-Goossens en Gerrit Olivier. Amsterdam: Zuid-Afrikaanse Instituut, 2008
- Woorde open die beskouing: Huldigingsbundel opgedra aan prof Ernst Lindenberg by die geleentheid van sy sestigste verjaardag. Mederedakteur. Durban: Butterworth, 1988
Artikels oor en deur Ena Jansen beskikbaar op die internet
- Books LIVE: Vat 5 met Ena Jansen: Soos familie skuif vroeër geïgnoreerde vrouekarakters na vore
- Ena Jansen
- Ena Jansen
- Ena Jansen: Afskeidsgeleentheid byeengebring
- Ena Jansen lê tuig neer in Amsterdam
- Jansen, Ena:
- Afscheidscollege, Ena Jansen: "Van Thandi de nanny tot Thandi de madam"
- Emily Hobhouse (1860–1926) en haar biograwe: Woordfees 2016
- Ena Jansen praat oor Elisabeth Eybers: literêre dubbelburger
- Ena Jansen se toespraak by Ommietafel by die Afrikaanse taalmuseum
- Die honderdste geboorteherdenking van Elisabeth Eybers
- "ik hoop dat je mij toch verstaat": Ad Zuidernet se stemposgedig oor Venda
- Klinkbare weerbaarheid: Elisabeth Eybers (1915–2007) (’n fragment) (Dana Mouton-gedenklesing, 5 September 2008)
- Laudatio by die oorhandiging van Riet de Jong-Goossens se vertalingserepenning
- LitNet Akademies: Ena Jansen in gesprek met Marisa Botha
- Lofrede: "Krotoa/Eva"-penning voor Riet de Jong-Goossens
- POEM: a "new" literature
- UJ-pryse 2016: Ena Jansen se dankwoord by die ontvangs van die UJ-prys 2016
- Van der Walt, Carina: In gesprek met ... Ena Jansen
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
- Direkte e-poskorrespondensie met Ena Jansen
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Ena Jansen (1951–) appeared first on LitNet.